Читать книгу Fort van die kappiedraers - Sarah du Pisanie - Страница 3

1

Оглавление

“Dit is al wat ek nog gehoor het vandat ek vanoggend hier aangekom het. Elke tweede een wat hier instap, bring berigte oor aanvalle op die boere en handelaars. Hoeveel noodlottige gevalle is daar nou al, kaptein?”

“Dit was vyftig die laaste keer dat ek getel het, majoor.”

“Almal mans?”

“Ja, majoor, met die uitsondering van een of twee.”

“Ek kan dit nie begryp nie, kaptein! Wat word van die vroue en kinders? Die berigte lui dat die mans vermoor en die huise afgebrand word.”

“Ons het al ’n hele klompie vroue en kinders in die veld gekry. Ons probeer maar die wêreld patrolleer, majoor.”

“Ek is nog nie heeltemal op die hoogte met alles wat die afgelope veertien dae hier gebeur het nie, kaptein. Dis net te veel om so op ’n mens se nugter maag in te neem. Ons het net die berig gekry dat ons so gou moontlik moet terugkom. Sit, dan gesels ons ’n slag ordentlik.”

“Majoor, sover ons kan uitmaak, het die Herero’s alles haarfyn beplan. Hulle het net gewag dat die grootste gedeelte van die beskermingstroepe weg is Warmbad toe om die opstand onder die Bondelswarts te gaan onderdruk. Toe het hulle op ’n georganiseerde manier verskillende streke en vestings gelyktydig aangeval. Hulle het in groepe verdeel en daar was dus nie kans dat die storie kon versprei na ’n ander streek toe nie. Dit was dus vir die blankes oral ’n algehele verrassing.”

“Ja! Ek moet erken dit was ’n slim stukkie werk van hulle. Ons is met die meerderheid van die troepe weg en al die forte is met die minimum mense agtergelaat.”

Majoor Leutwein vee moeg oor sy rooi gesig. Hulle was onder in die suide van Suidwes om ’n opstand daar te gaan onderdruk. Gelukkig was hulle al op pad terug toe hulle die dringende boodskap kry dat die Herero’s hier in die sentrale en noordelike dele besig is om boere en handelaars, asook verskillende forte, aan te val.

’n Ligte kloppie aan die deur laat hulle hul gesprek vir eers onderbreek.

“Majoor, ons het die kerk ingerig as ’n hospitaal. Hier is nou twee dokters en vier verpleegsters.”

Majoor Leutwein kyk fronsend na die soldaatjie. “Waar kom die ander dokter vandaan? Dit is tog net dokter Friedelingsdorf, die militêre dokter, wat hier is.”

“Dokter Haan van die sendingstasie het hom ook kom aanmeld, majoor. Hy en die twee susters wat daar was.”

“O! Wel, goed, Kurt, baie dankie. Sê eers vir my, wat maak al die boere vandag hier met hul ossewaens?”

“Ons het daarop gereken om hulle hier te kry sodat ons hulle kan werf as transportryers.” Hiermee knik Hein Schultz vir die soldaatjie dat hy maar kan gaan en beantwoord hy self die majoor se vraag.

Toe die deur agter Kurt toegaan, kyk majoor Leutwein goedkeurend na hierdie knap kaptein wat hy hier in bevel gelaat het.

“Knap gedaan, Hein! Ek is dankbaar vir die inisiatief wat jy aan die dag gelê het terwyl ek weg was. Sake vlot nou sommer. Ek kan nou die manne aan die werk laat spring.”

Hein Schultz skink vir hulle van die tee in wat op die lessenaar staan en sy hart gaan uit na die arme majoor Leutwein. Die man is doodmoeg! Hy het maar ’n uur of wat gelede hier aangekom. Hulle moet teen ’n moordende pas teruggejaag het, want hy kon nog nie behoorlik asemskep nie. Hy sit net vasgevang in ’n hele warboel van nuwe probleme.

Hy gee die majoor se tee aan en soek wild in sy gedagtes rond na waar hul laaste gesprek onderbreek is. “O! Ja! Majoor het nog gevra wat word van die vroue en kinders?”

Die ouer man vat die koppie tee aan en sit agteroor. Die moeë lyne om sy mond laat hom oud en siek lyk. “Ja! Vertel my meer. Die hele aangeleentheid slaan my dronk.”

“Die paar boere wat die moordaanslae oorleef het, sê dat hulle vroegtydig deur hul getroue Hererowerkers gewaar­sku is. Hulle het blykbaar nie kans gesien dat hul werkgewers mishandel en doodgemaak moet word nie. Die vroue . . .”

Majoor Leutwein val hom egter in die rede. “Waar is die boere nou? Dié wat die aanslae oorleef het?”

“Hier is ’n paar op Okahandja. By die ander forte ook. Hulle help sommer om die plekke te beman en te beskerm. Waar daar nie genoeg plek in die fort was nie, het ons sommer tente opgeslaan. Hulle vlug maar na die naaste fort vir beskerming.”

“En die vroue en kinders? Waar is dié?”

“Die paar boere wat hier aangekom het, het hul gesinne by hulle gehad. Die boere wat wel omgekom het, se vroue en kinders word net eenvoudig die veld in gejaag en die huise word agter hulle afgebrand.”

“Dis eienaardig. Hoekom sou hulle die vroue en kinders spaar?”

“Ja, majoor, dit is vreemd. Die vroue en kinders word net eenvoudig aan die natuur en die elemente oorgelewer.”

“Ons probleem lê in die feit dat ons nie weet of hulle nou verder, ná die eerste aanval, nog in groepe gaan werk en of hulle ’n verenigde aanvalslinie gaan vorm nie.” Majoor Leutwein klink moedeloos en bekommerd.

Hierdie land is so groot en uitgestrek en hulle is maar ’n handjie vol Duitse soldate op wie se skouers die veiligheid van die hele land rus.

“Majoor, die Habicht het in Swakopmund geland en kaptein Gudeman en kaptein Gygas het met hul manne aangekom.”

“Ek weet reeds van hulle, Hein, maar hulle het ’n hulpkorps gevorm wat die treinspoor vanuit Swakopmund tot in die Karibib moet bewaak en die vernielde treinspoor oral moet regmaak. Ons het die ammunisie wat met die trein moet kom tot op Karibib so dringend nodig.”

Kaptein Schultz sug en kyk deur die venster na die helder blou lug daar buite.

“Kaptein Schultz!” Majoor Leutwein se militêre verstand werk egter al weer in hoogste versnelling nadat hy die omvang van die situasie opgesom het. “Ons sal moet patrollies uitstuur sodat ons kan gaan kyk of daar nie nog van die vroue en kinders in die veld rondswerf nie.”

“Ons manne is min, majoor.”

“Ek besef dit maar te goed, kaptein. Ons sal in elk geval nie sommer blindelings kan opruk teen die Herero’s nie. Die patrollies sal moet vasstel waar hul vestings is, en ook of hulle nog in groepe rondtrek.”

Hein Schultz kom vinnig op aandag voor die lessenaar en wag op verdere opdragte.

“Gaan maak asseblief vir my ’n opname van al die bruikbare manne. Hier moet genoeg agterbly om hierdie fort te beman en ook om ’n magseenheid te vorm wat ons kan uitstuur sodra ons van ’n groep hoor.”

“Ja, majoor.”

“En kaptein . . . Nee, toe maar, ek sal die opdragte regstreeks aan die verskillende patrollies gee. My manne wat weg was Warmbad toe, moet almal hier bly. Hulle sal net eers vir ’n dag of wat moet rus voordat hulle weer op gereedheidsgrondslag kan kom.”

“Ja, majoor!” Flink kap die kaptein sy hakke teen mekaar en stap styf en militêr by die deur uit.

Majoor Leutwein druk sy kop in sy hande. Sy arme manne! Hulle is al so moeg. Dis Januarie en kokend warm. Hulle kom nou net van ’n moordende tog uit die suide. Hierdie land is so groot en yl bevolk. Die blote gedagte aan die vroue en kinders wat dalk nog in die veld rondswerf te midde van ’n duisternis gevare, laat die kommersweet klam op sy voorkop uitslaan.

Hy trek ’n papier met ’n aantal name voor hom nader en kyk dan na die naam van kaptein Franke. Hy en sy manne beman die Omaruru-fort en hulle was ook in die suide om daar te help. Hulle behoort darem ook nou binnekort terug te wees by hul eie fort, dan is dit een plek minder waaroor hy hom moet kwel.

Sy groot kopseer op hierdie oomblik is die kleiner forte, waar daar net vier en vyf manne gestasioneer is.

Majoor Leutwein wens hy kan net slaap. Hy is so moeg! Om hierdie groot land met so min mense te probeer be­skerm voel al meer na ’n onbegonne taak.

Sistematies sorteer hy egter die manne op die lys en doen indelings by die verskillende forte. Dit is ’n goeie twee uur later voordat Hein Schultz weer aan sy deur klop.

“Majoor!”

“Ja, Hein, kom maar binne. Ek gaan net gou al die verslae deur sodat ek ’n bietjie meer op die hoogte van sake kan kom.”

“Ek het nie veel manne gekry nie, majoor.”

“Hoeveel?”

“Twintig.”

“Dis baie min, Hein.”

“Ek weet, majoor. Ons sal maar vyf patrollies moet maak, met vier man elk.”

“Ja! Waar is hulle?”

“Ek het hulle al hier voor laat aantree, majoor.”

Majoor Leutwein staan op en sug swaar soos ’n ou man. Dit is gevaarlik om die manne in sulke klein groepies uit te stuur. Maar wat anders? Sy manne moet hier bly om die gevegseenheid te vorm wat sal aanval sodra daar van die bendes opgespoor is.

Die twintig manne kom vinnig op aandag toe hulle die majoor sien.

“Manne, ek wil hê julle moet gaan regmaak vir ’n patrollie van minstens agt dae. Kom meld julle dan oor twee uur by my aan vir verdere opdragte.”

Die manne staan doodstil en wag op die bevel om te kan verdaag.

“Julle kan maar gaan.”

Majoor Leutwein kyk hulle agterna. Die moegheid en dalk die feit dat hy begin oud word, maak hom week en opstandig. Hoekom moet daar tog altyd sulke onsinnige bloedvergieting plaasvind?

“Môre! Môre! Dit lyk vandag soos ’n slagveld hier op Okahandja.” ’n Groot, fris man kom vinnig nader en groet van ver af. “Hoe gaan dit, majoor?”

Vir die eerste keer vandag glimlag majoor Leutwein. “Sleg, Jaap, man! Hoe gaan dit met jou?”

“Altyd goed, majoortjie! Altyd goed!”

Majoor Leutwein wag vir hom op die stoep en nooi joviaal. “Kom in, Jaap! Kom ons gaan drink ’n bier. Ek is nou so moeg vir probleme!”

“Vir bier sê ek nooit nee nie. Om die waarheid te sê, dit is hoekom ek altyd hier kom groet. Ek weet hier is altyd koue bier.”

“Dit is ’n skande, Jaap. Ek nooi jou sommer vir tee.”

“Tee! Ag nee, majoor, dan drink ek liewer water.”

Die majoor lag vir Jaap se bulderende verontwaardiging.

Jaap Venter pas by hierdie land van hom. Hy is groot en wild en ongetem. Maar daar is ook ’n diepgewortelde eerlikheid en goedheid diep onder in sy menswees, iets wat hom ’n eenheid laat vorm met die vlaktes en berge en die blou lug daarbo.

Jaap groet een van die soldate aan die ander kant van die fort luidrugtig en majoor Leutwein lag innerlik.

Hierdie groot Jaap Venter kan tog met die beste wil in die wêreld nie sag praat nie. ’n Komiese toneeltjie van ’n ruk gelede speel hom so helder weer in die majoor se geheue af, dat hy breed staan en glimlag.

Jaap was eendag by toe een van die manskappe begrawe is wat noodlottig in ’n ongeluk beseer is. Tussendeur die plegtige en emosiebelaaide begrafnisseremonie het Jaap die persoon langs hom op ’n harde fluistertoon uitgevra na die ongeluk.

Hulle het vir die kaptein beduie om Jaap stil te maak en dié het ook ewe saggies by Jaap se oor gefluister dat hy sagter moet praat.

Majoor Leutwein lag sommer kliphard as hy aan Jaap se harde, verleë fluisterstem dink toe hy vir die kaptein sê: “Kapteintjie, ek kán nie sag praat nie!”

“En as jy nou so met jouself loop en lag, majoor? Was die suideson te veel vir jou?”

“Nee, ek loop sommer aan een van jou skandes en dink en nou lag ek daaroor.”

“Ek sal maar liewer nie vra watter een nie. Ek trap tog altyd in al die slaggate.”

Hulle gaan sit in die ontspanningsvertrek waar ’n biervaatjie op ’n ruwe houttoonbank die vertrek gesellig laat vertoon.

Een van die soldate bring vir hulle twee bekers skuimende bier.

Jaap Venter blaas die wit skuimkop af en drink omtrent die helfte met die eerste teug uit.

“Lekker! Dit is darem een ding wat julle Duitsers goed kan doen. Julle kan bier maak!”

“En drink!”

Jaap lag bulderend, sodat die majoor saam glimlag vir sy eie grappie.

“Is jy op pad huis toe, Jaap?”

“Ja, ek is op pad terug. Ek het met vier waens gekom. Die mense daar in die noorde sukkel, man. Hulle sal darem nou maar die spoorlyn moet bou tot bo in die noorde. Niemand wil transport ry soontoe nie.”

“Ja, dis maar ’n yslike probleem. Die ouens is nou bang om so diep in te gaan hier in die noorde. Ek wil juis by jou hoor, Jaap. Hoe lyk dinge vir jou?”

“Toe ek afgekom het, was alles rustig. Ek hoor nou maar eers van alles wat daar aangaan. Hulle het darem alles baie stil georganiseer.”

“Is daar iemand op jou plaas?”

“Ja, ou Jakob is daar. My pa het hom destyds saamgebring uit die Karoo uit. Toe was hy sommer nog ’n kind. Toe ek na my eie plaas toe trek, het ek hom saamgevat. Hy is so betroubaar.”

“Is jy nie bang om jou plaas so onbeskermd te laat lê nie?”

“Daar is nog nie te veel wat juis beskerming nodig het nie. Ek is nog besig om my huis te bou. Dis maar net my beeste en die krale en so aan.”

“Maar jy weet tog hoe verdwyn die beeste net tussen hemel en aarde!”

Jaap Venter skud eintlik van sy growwe bulderlag. “Hulle sal dit nie sommer weer waag om my beeste te kom vat nie. Hulle het al geprobeer en ek het dit net eenvoudig gaan terughaal en sommer ’n goeie klomp van hulle s’n gevat vir skadevergoeding. Ek het hulle laat weet dat ek volgende keer myne dubbel sal terugvat.”

“Jy kan tog nie alleen ’n hele bende van hulle aandurf nie?”

“Kan ek nie? Wie het so gesê?”

Die majoor kyk kopskuddend na Jaap. Hy is woes en gevrees, maar almal hou nogtans van hom. Hy sal geen mens kwaad aandoen nie; hulle moet net nie met hom sukkel nie. Die inboorlinge het ’n heilige ontsag vir hom. “Seun van die donder” noem hulle hom. Dit is vir majoor Leutwein altyd so ’n goeie beskrywing van Jaap met sy harde stem en sy vreeslose geaardheid.

“Het jy nog nie tot dusver moeilikheid met jou werkers op die pad gehad nie, Jaap?”

“Nee wat, ek het mos die Bergdamaras wat my help met die transportryery. Hulle beskou my as hul opperhoof.”

“Dis mos die verarmde nasie wat as slawe vir die Herero’s en die Namas gewerk het?”

“Ja. En hulle werk eerder vir my as vir die Herero’s.”

“Hulle voel natuurlik veiliger by jou en jy betaal hulle ook beter. Wanneer gaan jy terug?”

“Môreoggend vroeg. Ek wil my osse net vandag so ’n bietjie laat rus. Dis darem ’n moordende stuk pad vir ’n os hier van Swakopmund af. Party skofte is vier-en-twintig uur lank, voordat ’n mens weer water kry vir hulle. Wanneer ons hier kom, gee ek hulle altyd so ’n ou blaaskansie.”

“Trek jy weer jou ou roete, hier om die Wilhelmsberg?”

“Ja! Die een wa het ek op Otjimbingwe gelos en een bly hier op Okahandja. Jul goed en ou Matty s’n daarin. Ek wil juis vir jou ’n guns vra.”

“Ja, seker! Ek help graag as ek kan.”

“Die een wa moet deurgaan Ovikokorero toe. Ek wil my een wa wat noorde toe moet gaan, so ’n rukkie hier los. Dis nou onveilig in die veld met so ’n lomp trek. Sal jy so gaaf wees om volgende Donderdag vir my mense te sê om hiervandaan te begin trek? Dan sal ek hulle op pad kry nadat ek die wa op Ovikokorero besorg het.”

“Seker, Jaap. Jy kan die wa in die fort trek, dan is jou goed sommer veilig ook.”

“Dankie, majoortjie! Ek het gehoop jy sal dit aanbied. Daar is belangrike goedjies in daardie wa. Ek het my huis al so halfpad gebou en nou die laaste benodigdhede gaan oplaai, sodat ek my blyplek kan begin klaarmaak.”

“Jaap! Ek wonder . . . Kan ’n paar van my manne nie sommer saam met jou ry nie? Ons wil ’n patrollie uitstuur in daardie rigting ook. Dan kan ons mos daardie groep ’n bietjie verminder?”

“Ja, natuurlik! Maar ek kan ook mos maar vir jou die patrolliewerkie doen. Soek julle na die Herero-bendes?”

Majoor Leutwein verduidelik breedvoerig wat die hele opset is en wat die patrollie alles behels.

Jaap luister diep ingedagte. “Jy kan net een man saamstuur, majoortjie. Dan kan hy vir jou die inligting terugbring. Ek het vier mense by my en hulle kan al vier skiet.”

“Dankie, Jaap! Ek maak met graagte van die aanbod gebruik. Ons verwag nie juis moeilikheid in daardie rigting nie. Die fort daar is maar klein. Daar is mos nie veel plase in daardie rigting nie. So! Daar is dus ook nie juis beeste wat hulle kan buitmaak nie.”

“Nee, reg! As jy my nog ’n bier aanbied, dan doen ek sommer vir jou al die patrolliewerk tot bo in die noorde.”

Die majoor lag en wink die soldaat nader.

Fort van die kappiedraers

Подняться наверх