Читать книгу Fort van die kappiedraers - Sarah du Pisanie - Страница 4

2

Оглавление

“Luister, nou wil ek nie weer een woord van julle hoor nie!”

Ouma Martha se stem is kwaai en gebiedend en dit maak die groepie verskrikte, vreesbevange mense agter haar op die wa onmiddelik stil.

“Skaam julle nie vir julle om so te sit en kerm nie? As dit nie vir ou Simon was nie, dan was ons nou almal dood! Nie een van julle was nog een oomblik dankbaar omdat hy ons vanoggend kom waarsku het nie.”

“Maar, Ma!” Die plomp vroutjie druk haar sakdoek voor haar gesig. “Hulle gaan my huis afbrand! My pragtige huis! Daar gaan niks oorbly nie, net ’n hopie as! Wat gaan Piet sê as hy dit sien?”

“Wat gaan Piet sê?” Ouma Martha is sommer woedend. “Piet moet net oppas dat ek nie vir hom ’n paar dingetjies sê nie. As hy op die plaas was, sou dit nie gebeur het nie.”

“Maar, Ma!”

“Ag! Stil tog, Anna! Jy maak my so moeg as jy so kerm. Wees dankbaar dat ons nog almal lewend is.”

Stieneke Kitshoff kruip diep agter in die ossewa in. Die vrees laat haar keel toetrek.

Is dit hoe haar drome en ideale gaan eindig? Met ’n koeël in haar liggaam of dalk nog erger, ’n assegaai! Of gaan sy dalk ’n leeu of ’n giftige slang ten prooi val?

Hierdie groot uitgestrekte land met sy bome en gras en digte bosse maak haar bang! Dit jaag die vrees in golwe deur haar.

Sy kom uit ’n ryk en vooraanstaande familie van Stellenbosch, is ’n onderwyseres wat al ’n hele jaar lank onderwys gee. Tot ’n maand gelede was haar lewe een lang onbekommerde tydperk van sonskyn en lag.

Vir Teuns Marais het sy op ’n partytjie ontmoet toe sy net begin skoolhou het. Eers was dit net vriendskap, maar so ongemerk het dinge verander, totdat haar gevoel vir hom haar hele wese gevul het.

Verlede jaar het sy sommerso sonder aankondiging alles net so gelos en besluit om terug te kom Suidwes toe. Sy ouers is skielik oorlede en het vir hom ’n plaas hier in Suidwes nagelaat. Hy was haastig en ongeduldig om te kom boer. Die twee jaar aan die universiteit waar hy hom probeer bekwaam het as prokureur, het hy net so vaarwel toegeroep en dit afgeskryf as ’n lekker tydjie en goeie onder­vinding.

Hy het haar gesoebat om saam met hom te kom. Dit was Junie en sy kon nie sommer alles net so los in die middel van die jaar nie.

’n Rukkie nadat hy weg is, het sy ’n brief van sy buurman, meneer Piet Coetzee, gekry. Hy het vier kinders en wou weet of sy nie dalk kans sien om as hul goewernante na die plaas te kom nie. Hy het genoem dat Teuns sy buurman is en hom van haar vertel het.

Die salaris was buitensporig hoog. Stieneke kon daaruit aflei dat hierdie meneer Coetzee ’n ryk man moet wees. Alles het so aantreklik en avontuurlik geklink.

Teuns se brief was ook met dieselfde pos daar. Hy het haar aangemoedig om dit aan te neem sodat sy naby hom kon wees. Hy het weer eens sy liefde vir haar verklaar. Hy was nog besig om sy plaas op te bou en hy wou vir haar ’n groot en gerieflike huis oprig voordat hy haar as sy bruid daarheen wou bring. Intussen sou hulle mekaar gereeld kon sien en ten minste net verloof raak.

Alles was net een groot heerlike droom! Die groot ongetemde Suidwes met die blouoog Teuns wat so ongeduldig in sy liefde vir haar wag, het haar hart telkens laat bons van vreugde.

Haar ouers was buite hulself van vrees. Hoe kon sy, hul enigste dogter, so iets oorweeg? Hoe kon sy weggaan en hulle alleen agterlaat? Hoe kon sy haar aan soveel gevare gaan blootstel?

Vir alles het sy in haar gelukkige toestand ’n antwoord gehad.

Haar vrees en die knaende onrus het eers begin die dag toe sy op Swakopmund se hawetjie aan wal gaan en daar niemand was om haar te verwelkom nie.

Sy het haarself getroos en probeer oortuig dat dit dalk die pos se skuld kon wees. Sy het egter vir Teuns baie lank-al geskryf en ná haar eerste brief het sy selfs nog een van hom ontvang, waarin hy sy blydskap oor haar besluit uitgespreek het.

Daar was egter vir haar ’n briefie by die hotel op Swakopmund. Van Piet Coetzee.

Hy het haar gevra om tog asseblief met die treintjie tot op Karibib te kom, waar hy haar sou ontmoet.

Dit was ’n warm en vermoeiende rit met die ou treintjie. Piet Coetzee was egter op Karibib se stasietjie met sy perdekar en sy twee pragtige, vet-blink karperde.

Piet was ’n gawe maar stil man. Stieneke wou so graag uitvra oor Teuns, maar iets het haar gekeer.

Nadat hulle oor allerhande onbenullighede gesels het, het Piet onverwags self van Teuns Marais gepraat: “Juffrou . . . Teuns Marais het my gevra ek moet tog vir jou sê dat hy jou ongelukkig nie kon kom haal nie. Hy sal egter alles self aan jou verduidelik.”

’n Diep vrede het skielik in haar kom nestel. Dan was hy darem nog hier in Suidwes. Dan het daar net iets onvoorsiens voorgeval. Daar sal wel ’n goeie verskoning wees. Sy het haar verniet die afgelope paar dae so gemartel.

Sy het dankbaar geglimlag en nie eens die bekommerde trek op Piet se gesig raakgesien nie. “Is hy op die plaas? Hy is mos jou buurman.”

“Nee, hy is nie op die oomblik op die plaas nie. Hy is in Ovamboland. Ek gaan ook môre juis daarheen. Ons jag vir ivoor en ons het ’n rukkie terug die berig gekry dat daar weer ’n groot trop olifante is.”

“O!” Stieneke het so iets nie verwag nie en die wind was vir ’n oomblik heeltemal uit haar seile. “Het . . . het u nou spesiaal gewag om my te kom haal?”

“Ja! Ons is u vreeslik baie dank verskuldig, juffrou. Ons het ’n onderwyseres so nodig! Ek wou u darem nie afskrik deur ongasvry te wees nie.”

Hulle het laat daardie nag eers by die huis gekom. Ouma Martha het vir haar kom koffie maak en iets gegee om te eet.

Die volgende oggend is Piet Coetzee toe weg Ovamboland toe, waar Teuns al op hom gewag het. Sy wa was reeds gelaai en alles was in gereedheid.

Stieneke was baie dankbaar dat hy tog die moeite gedoen het om haar persoonlik te kom haal. Sy was vreemd ontsteld en hartseer omdat Teuns nie bereid was om die opoffering te maak nie.

Die Coetzee-kinders het egter dadelik haar hart gesteel. Anna, Piet se vrou, was ’n klaerige en onbeholpe soort mensie. Sy het al die reëlings in die bekwame hande van haar skoonma gelaat en haar heeltemal op die agtergrond gehou.

Die Coetzees het ’n pragtige huis gehad. Groot en prakties. Die een stoepvertrek is as klaskamer ingerig.

Stieneke was dankbaar vir die groot vertrek en ook omdat dit darem so ’n bietjie eenkant is. Piet het haar laat weet hoe ver elke kind se kennis strek; dit was ongelukkig nie juis baie ver nie en Stieneke kon dus die nodige boeke saambring.

Sy wou sommer dadelik met die lesse begin, maar ouma Martha het laggend gekeer. “Ag nee wat, my hartjie! Hulle kom al jare sonder geleerdheid klaar. Dis darem nou eers Januarie. Laat hulle eers aan jou gewoond raak en raak jy eers aan ons klimaat en omgewing gewoond. Julle kan so oor ’n week met die lesse begin.”

Niemand het iets van Teuns gesê nie en Stieneke het trots geweier om uit te vra. Sy het telkens die ongemaklike gevoel gekry dat niemand bewus is van haar werklike verbintenis met Teuns nie.

Gisteroggend was Stieneke al ’n week op die plaas. Hulle het vanoggend net begin om die boeke uit te pak toe ouma Martha, asvaal geskrik, hulle almal in die eetkamer byeenroep.

Daar was nie tyd om doekies om te draai nie. Ouma Martha het net gewag totdat almal daar is voordat sy met die deur in die huis geval het. “Luister, mense! Daar is nie tyd om doekies om te draai of om histeries te word nie. Simon het my nou net kom waarsku. Die Herero’s is besig om die plaashuise aan te val. Hulle het alles blykbaar tot in die fynste besonderhede uitgewerk. Hulle verdeel in groepe en val dan verskillende plase gelyktydig aan sodat die een nie die ander kan waarsku nie. Hulle het net gewag totdat die Beskermingstroepe weg is om die opstand op Warmbad te gaan onderdruk. Blykbaar is ons van die laastes om deur te loop.

“Simon sê hy het gehoop dat ons sou vryspring omdat hulle nog niks weer gehoor het nie. Maar hulle is nou op pad hiernatoe.”

Anna het histeries aan die gil gegaan en was die situasie nie so swanger van vrees nie, sou Stieneke gelag het. Ouma Martha het, sonder om haar relaas te onderbreek, vir Anna ’n taai klap gegee en verder met die kinders gepraat.

“Ons moet die wa laai en voor sononder weg wees van die plaas af. Elkeen pak sy eie klere in. Julle kan goedjies wat vir julle belangrik is, ook inpak. Ons moet sorg dat die wa so gou moontlik gereed is. Ek sal sorg vir kos en eetgerei.”

“Ouma!” Die kinders het in ’n stywe bondeltjie om haar kom saamdrom toe die implikasies van haar woorde tot hul verstandjies deurdring.

“Toe maar, hartjies! Ouma is mos hier!” Die kinders was vreemd gerusgestel deur hierdie woorde en het stil-stil verdwyn om hul goedjies in te pak.

“Anna, gaan kyk jy na die kinders se goed en kry vir ons medisyne ook. Ek sal die kombuis behartig.”

“Maar, Ma! My huis! My pragtige huis!” Dit was asof Anna se verstand nie verder wou dink as die hier en nou nie.

“Anna, ons kan nie die huis op die wa kry nie!”

Anna het verwese omgedraai en agter die kinders aangeloop en Stieneke en ouma Martha het alleen agtergebly.

“Jy kan al jou goedjies inlaai, kind. Ons kan nie verwag dat jy van jou goed hier moet agterlaat nie.”

“Nee wat, tannie. Ek sal net die nodige neem. Ek sal graag die kinders se boeke ook wil inpak.”

“Luister!” Ouma Martha het haar lip ingedagte gekou. “Ons neem liewer kos en klere saam, dis belangriker. Ek sal Simon vra om vir ons ’n klompie waardevolle goed te gaan wegsteek. Anna! Antjie!” Ouma Martha is al klaar weer jammer vir arme Anna.

“Ja, Ma!”

“Kom ons pak vinnig van die kosbaarste goed in, dan stuur ons Simon met die donkiekar om dit daar agter die kop by die holkrans te gaan wegsteek.”

Anna het skielik deur die trane geglimlag en haar arms om ouma Martha geslaan en haar styf vasgedruk.

“Dankie, Mamma!”

Simon het koorsagtig gehelp en twee vragte wegsteekgoed weggery terwyl hulle die wa gelaai het.

Hy het hulle aldeur aangejaag terwyl hy die omgewing soos ’n arend bespied het. Later het hy emmers en houers vol water oral in die huis kom neersit.

“En nou, Simon?” Ouma Martha het verbaas na hom gekyk.

“Wanneer ek sien hulle is naby, sal ek die goed in die huis natgooi, dan sal dit nie so maklik brand nie. Hulle vlug dadelik weer en dalk kry ek die vlamme sommer gou dood. Ek gaan hier naby wegkruip.”

“Simon, jy is dan ook ’n Herero, hoekom vertel jy vir ons hiervan?” Ouma Martha het onbegrypend na Simon gekyk.

Simon het verleë voor hulle gestaan en daar was onverwags trane op sy verrimpelde wange. “Julle was goed vir my. Julle was goed vir my vrou en kinders. Ons het nog altyd genoeg gehad hier by julle. Piet moes net vir my geluister het toe ek hom gewaarsku het. Hy moes nie gedink het dit is sommer bangmaakstories nie! Hy het gesê ek moenie vir julle sê nie, want julle sal bang word, maar die moeilikheid is hier. Ek gaan nie langer wag nie.”

Ouma Martha het verskrik na Anna gekyk. Stieneke kon die ongeloof op hul albei se gesigte sien. Ouma Martha het haar arm stil-stil om Anna se skouer geslaan en hulle het verdwaas na Simon gekyk.

Dit was al laatmiddag toe Simon hulle sonder ontsag op die wa kom bondel en hulle behoorlik van die werf af gedryf het. Dit is ’n gewone wa met ’n tentdak soos ’n ossewa, maar voor hierdie wa is vier perde ingespan, wat aansienlik vinniger beweeg as die osse.

Ouma Martha sit voor en het die leisels stewig in haar hande vas. Vandat die son gesak en die donker om hulle toegevou het, sak die vrees ook met klam vingers om die verskrikte groepie mense toe.

Anna het haar gekerm oor haar huis gestaak en sit nou net stil agter by die kinders. Sy druk Pietie, die jongste enetjie, styf teen haar vas en trek Annatjie, die naasjongste, met haar ander hand teen haar vas. Hierdie tweetjies is onder­skeidelik ses en agt jaar oud. Daar is nog twee dogters. Martie is tien en Lettie behoort seker nou dertien of veertien te wees.

“Waarheen gaan ons, Ma?” Anna het ’n bietjie beheer oor haarself gekry en klink nie meer so verskrik nie.

“Ek dink nie ons moet Omaruru se kant toe gaan nie. Simon sê hulle konsentreer nou op hierdie kol – Omaruru, Okandjira, Oviombo . . .”

“Dink Ma nie ons moet maar probeer om by daardie klein fortjie op Ovikokorero uit te kom nie?”

“Ja, weet jy, Anna! Dis ’n briljante plan. Daar behoort darem ’n paar soldate te wees wat ons kan help.”

Stieneke kan aanvoel hoe hierdie paar woorde Anna krag en selfvertroue gee.

“Stieneke!”

“Ja, tannie Martha?”

“Hoe voel jy?”

“Ek is bang, tannie.”

“Ja, jy sal seker wees. Dis maar ’n wilde land en jy is dit nie gewoond nie. Moenie bang wees nie, my kind. Ons sal veilig hier uitkom.”

“Ja, tannie.” Stieneke se stemmetjie klink maar verlore en baie bang hier agter in die wa.

“Kom sit hier voor by my.”

Die vrees maak Stieneke se keel droog. Sy wil nie daar voor op die bankie gaan sit nie. Daar is sy ’n teiken vir elke vyandige koeël of assegaai.

Sy skraap egter haar moed bymekaar en gaan sit voor op die bankie langs tannie Martha.

“Tannie Martha, die . . . Wat is die stamgroep se naam nou weer?”

“Herero’s!”

“Het hulle gewere . . . of . . .”

“Ongelukkig, ja, my kind. Hier was ’n vreeslike gesmokkel met die goed. Hulle het heelwat gewere en ammunisie.”

Lank ry hulle in doodse stilte, met net die geklap van die perdepote op die grondpad wat hoorbaar is.

Dis doodstil agter in die wa en Stieneke loer om. Die kinders het een vir een omgeval op die matrassies agter in die wa en lê styf ingeryg langs mekaar. Anna stut haar rug teen die kant van die wa en Stieneke sien hoe haar kop ook knik.

“Snaaks dat hulle aan die slaap kan raak.” Stieneke leun oor sodat sy naby ouma Martha kan praat.

Ouma Martha loer oor haar skouer en ’n sagte glimlaggie speel om haar mond. “Ja, ’n kind is mos ’n vreeslike aanpasbare ding. Arme ou Antjie! Sies tog! Ek praat soms so hard met haar, maar in hierdie land kan ’n mens nie sag en pieperig wees nie. Sy kom reg. Sy luister altyd as ek praat en leer gou. Ek is net woedend vir my seun, Piet. Hy sal darem ’n paar dingetjies te verduidelik hê wanneer ek hom weer in die hande kry. Dis te sê as ons lewend hier uitkom.”

Stieneke loer verskrik rond. Ouma Martha se woorde het weer al die vrees in haar wakker gemaak.

Die donker veld lê spookagtig en onheilspellend om hulle. Die hol geklap van die perdepote en die veraf naggeluide laat haar ril van angs.

Die bosse kraak skielik hier langs hulle. Stieneke versteen op die bankie en gooi haar lyf agtertoe.

Ouma Martha sit verskrik meer regop. Sy behou egter haar teenwoordigheid van gees en klap met die sweep terwyl sy die perde met ’n harde stem aanjaag.

Dan sien Stieneke hoe ouma Martha se hele liggaam weer ontspan saam met die harde uitblaas van haar asem.

“Dit was net ’n koedoe. Kyk, daar hardloop hy!”

Stieneke sien egter niks nie. Dis te donker en haar oë sal in elk geval eers aan die veld gewoond moet raak. Ouma Martha sal nou haar vinger in die koedoe se oog moet steek voordat sy hom sal sien.

Stieneke kyk na ouma Martha en sien die spanning op die maer, seningrige gesig. Ouma Martha is ’n lang, skraal vrou met ’n stywe bolla agter haar nek. Dit laat haar streng en onverbiddellik lyk – en niks kan verder van die waarheid af wees nie. Sy is ’n steunpilaar en die spil waarom hierdie familie draai, maar daar skuil onmeetbare liefde en deernis agter die doelgerigte bekwaamheid.

Anna se stem klink sag agter haar. “Kom sit jy hier agter by die kinders. Hulle slaap nou. Probeer jy ook ’n bietjie slaap. Ek sal voor by my ma sit. As ’n mens slaap, vergeet ’n mens van die vrees en spanning.”

Dankbaar skuif Stieneke agter by die kinders in. Sy druk haar kop op haar opgetrekte knieë en dan gee al die onsekerheid, al die opgekropte frustrasies skielik pad sodat die warm trane hul walle oorstroom en in blink voortjies oor haar wange rol. Haar liggaam ruk en die snikke laat haar in ’n stywe bondeltjie opkrul.

“Ag, my hartjie!” Anna is langs haar en vryf liggies oor die blonde hare. “Wat is dit dan? Sies tog! Jy is so ver van jou mense af en dan gebeur hierdie vreeslike ding ook nog met jou.”

“Dis goed as sy huil, Anna. Los haar maar so ’n bietjie. Huil maar, my kind! Weet net een ding. Tannie Martha sal sorg dat jy veilig hier uitkom.”

Anna klim weer stil terug op die bankie langs ouma Martha. Stieneke kan met die beste wil in die wêreld nie die snikke keer nie. Sy huil haar moeg en leeg. Sy huil oor haar drome wat so in die lug hang soos ’n seepbel wat elke oomblik kan bars. Sy verlang na Teuns en sy wil hom hier by haar hê. As hy net hier was, dan sou sy gerus en tevrede gevoel het.

Sy moet tóg ingesluimer het, want toe sy wakker skrik, begin die dag al grys in die ooste breek.

Stieneke kyk bekommerd na ouma Martha, wat nog steeds met die leisels in haar hande sit.

Haar oë voel dik en sy is dankbaar dat niemand vanoggend na hul voorkoms sal kyk nie. Die kinders lê nog stil, maar Stieneke weet dat hulle al wakker is. Elkeen worstel seker maar met sy eie vrese en bekommernis.

“Is tannie nie al baie moeg nie?” Stieneke vee die hare wat wanordelik langs haar gesig hang agtertoe en probeer dit weer by die rol agter haar kop indruk.

“Ek kan hou, my kind. Die perde sal egter nou eers moet rus.”

“Maar, Ma!”

“Ek weet, Anna. Dis hoekom ek maar aangehou het totdat dit lig is.”

Stieneke kyk na die perde en sien die sweetskuim op hul lywe. Van hierdie soort goed weet sy niks nie. Dit het nog nie een keer by haar opgekom dat die diere ook moeg is nie. Haar pa is ’n professor in tale aan die universiteit. Hulle woon haar lewe lank nog op Stellenbosch. Sy ken nie eens die verskil tussen ’n perd en ’n muil nie.

Ouma Martha soek ’n plekkie uit waar hulle aan die een kant deur ’n klompie rotse beskut is en aan die ander kant oor ’n goeie uitsig voor hulle beskik.

Ouma Martha span dadelik die perde uit en roep Lettie en Martie nader. “Lei hulle solank koud, ek wil net gaan kyk of alles veilig is daar onder by die water.”

Stieneke kyk in alle rigtings, maar sy sien geen water nie. Eers toe ouma Martha om ’n blinkerige kol ’n ent van hulle af stap, besef Stieneke dat dit die water is.

Ouma Martha kom met ’n lang tree nader. “Dit lyk heel veilig. Daar is nie vreemde spore nie. Anna, vat die een geweer en laai dit. Hou dit byderhand sodat jy vir jou en die kinders kan verdedig. Stieneke, kom saam met my sodat ons gou die perde kan laat suip.”

Ouma Martha druk twee van die perde se halters in haar hande, en Stieneke staan verbouereerd rond. Dis die naaste wat sy nog ooit in haar lewe aan ’n perd was.

“Kom!”

Sy kyk egter vinnig wat ouma Martha doen, vat die halters stewig vas en stap met lang treë saam.

Haar rok swiep om haar enkels en haar fyn skoentjies trap skeef op die klippe en laat haar kort-kort swik.

Ouma Martha gee sulke lang treë dat sy elke nou en dan ’n paar vinnige drafpassies moet inkry om by te hou. Ouma Martha het nog ’n geweer ook oor haar skouer, maar dit lyk nie of dit haar beweeglikheid enigsins strem nie.

Toe hulle by die rotskoppie terugkom, het Anna al ’n vuurtjie aangesteek en vir hulle koffie gemaak.

Die koffie en beskuit smaak soos manna uit die hemel.

Lettie sit soos ’n brandwag-bobbejaan hoog bo-op ’n rots om die wêreld te kan bespied.

“Ouma! Ouma kom kyk!”

Met ’n paar lang treë is ouma Martha bo-op die rotse langs Lettie.

“Wat?”

“Daar, Ouma. Kyk!”

“Sowaar!” Ouma Martha hou haar hand voor haar oë om beter te kan sien.

“Anna! Daar anderkant kom ’n ossewa aan. Ons moet eers wag totdat hy nader is, sodat ons kan sien wie dit is. Die Herero’s kon dit dalk buitgemaak het.” Ouma Martha is dadelik weer prakties en Stieneke voel die blydskap wat so vinnig in haar opgespring het, stadig wegsypel soos water in droë sandgrond.

“Lettie, Martie! Maak julle solank die vuur dood. Stieneke, laai jy die ander gewere sodat jy en Lettie ook elkeen ’n geweer kan hê. Die wa staan agter die kop. Hulle sal dit nie dadelik sien nie. Kom, neem almal hier agter die klippe stelling in.”

Stieneke staan verleë rond. Sy ken nie die verskil tussen ’n geweer se voor- en agterkant nie.

“Toe! Toe! Roer jou.” Ouma Martha druk haastig die geweer in haar hand en hou een na Lettie uit.

Anna is besig om haar geweer oor te haal en die twee kleintjies word vinnig voor haar in ’n gleuf tussen die rotse ingedruk.

“Julle sit doodstil! Hoor!”

Ouma Martha glimlag en knik goedkeurend na Anna, wat nog steeds opdragte gee. “Martie, gaan staan by Ouma sodat sy jou kan beskerm. Lettie!”

“Ja, Ma!”

“Kom skuil hier by hierdie groot rots hier naby my, waar ek jou kan sien.”

Ouma Martha druk goedkeurend Anna se skouer, toe sy by haar verbykom. “Ek het altyd geweet as die nood die dag druk, gaan jy jou eie krag leer ken, Antjie, my kind!”

“Dankie, Ma!” Anna glimlag skeefweg, maar tog ook met ’n bietjie trots in haar hele houding.

“Stieneke!” Ouma Martha druk vir klein Martie agter die rots plat en is met twee lang treë weer by Stieneke. “Jy kan nie so staan en ginnegaap nie. Daardie wa is nou hier. Laai die geweer en kom hier agter die rotse in. Waar is Lettie?”

“Hier is ek, Ouma!” Lettie loer agter die rots uit en hou die geweer effens in die lug.

“Tannie Martha, ek . . . kan nie ’n geweer laai nie!”

Stieneke wens die aarde wil onder haar oopgaan en haar insluk. Ses geskokte gesigte loer agter die rotse uit. Tot klein Pietie met sy haasbekkie gaap haar aan.

“My grote genugtig! Gaan jy nou oorlog toe en jy kan nie eens ’n geweer laai nie?” Ouma Martha gryp die geweer uit haar hande en voordat Stieneke behoorlik kon sien wat sy doen, is die geweer gelaai en terug in haar hande.

“Toe nou! Toe nou! Waarvoor wag jy?” Ouma Martha jaag haar agter die rotse in.

“Lettie, wys net gou vir die juffrou hoe sy moet skiet. Sy moet net anderkant toe skiet, nie hier na die kinders se kant toe nie.”

Ouma Martha verdwyn agter ’n rots in en dan praat sy hier van onder af. “Stieneke, skiet net as dit absoluut nodig is. Dit kan dalk gevaarlik wees vir ons. Ek sal jou later leer.”

“Goed, tannie Martha.”

Stieneke bewe soos ’n riet met die groot geweer in haar hande. Wat haar betref, kon dit net sowel ’n pofadder gewees het. Sy is vir hulle ewe bang!

Tergend stadig kom die wa nader. Die sweet is klam in Stieneke se handpalms. Sy vee met die agterkant van haar arm oor haar voorkop. Die son is nog nie eens behoorlik op nie en tog is sy papnat gesweet.

Sy kan Lettie sien van waar sy skuil. Lettie lê met haar bolyf oor die rots, haar arms gemaklik gestut met die geweer vas teen haar skouer.

Stieneke haal diep asem en gaan sit plat agter die lae rotsie. Sy stut haar arms soos Lettie s’n en druk die geweer teen haar skouer. Sy loer langs die loop af, maar waarna sy kyk, dit weet sy nie! Sy weet net een ding – as sy haar vinger om hierdie sneller gaan krul, dan gaan sy ’n skoot afvuur.

Ver agter die wa slaan ’n stoffie op en dan kom dit vinnig nader. ’n Groot man, met ’n groot bruin hoed op sy kop, sit gemaklik op die perd.

Wanneer hy naby die wa kom, weergalm sy stem bulderend oor die stil veld. “Komaan! Komaan! Hoe is dit dan vanmôre? Die son is nog nie eens op nie en jul koppe hang al. Komaan! Komaan!”

“Dis oom Jaap!” Lettie fluister hard hier agter die rots uit.

“Ouma!” Sy roep gedemp. “Dit klink soos oom Jaap!”

“Ja, dit klink so! Maar ek kan nog nie mooi sien nie. Wag maar eers totdat hy nader is.”

Stieneke kan behoorlik aanvoel hoe die spanning verslap. Almal wag egter stil en geduldig dat die wa moet nader kom.

Asof ’n sesde sintuig hom waarsku, hou die groot man sy perd ’n entjie van die rotskoppie af in en bespied die wêreld behoedsaam.

Hy beduie iets aan die touleier en dié verdwyn stil agter die wa in.

Stieneke sien hoe hy sy geweer uithaal en oorhaal voordat hy versigtig nader kom.

Nou eers kan ouma Martha hom behoorlik sien. “Dit ís Jaap.”

Stieneke hoor die verligting in Anna se stem wanneer die groot figuur hier naby die kop is.

Stieneke se oë is vasgenael op die naderende figuur. Skielik spring ouma Martha ’n entjie voor haar op en swaai wild met haar arms terwyl sy hard roep:

“Jaap! Jaap! Dit is ons!”

Stieneke skrik haar boeglam en al die spiere in haar liggaam ruk styf. Sy ruk die geweer in die lug op en dan gaan die skoot donderend af en ruk haar heeltemal onderstebo.

Sy weet nie wat alles gebeur het nie. Eers toe Anna haar aan haar skouers gryp en haar wild heen en weer skud, kom sy regop en kyk verdwaas om haar rond.

“Is jy dan gek! Ons sê dan vir jou dis Jaap!” Anna besef nie eens dat sy nog steeds vir Stieneke skud nie.

“Het . . . ek hom doodgeskiet?” Stieneke stotter verbouereerd.

Sy loer versigtig oor die rots wanneer die groot man met sy donderende stem hard uit die weer uit vloek. Hy kyk half ongelowig na die wit gesiggie wat oor die rots loer.

“Jaap! Mens, maar ons is bly om jou te sien!” Tannie Martha staan op haar tone om hom met ’n klapsoen te groet.

“Dit lyk nie of julle bly is nie. Julle skiet dan na ’n mens.”

“Dit was net ’n ongelukkig, Jaap . . .”

Jaap kyk weer oor sy skouer na Stieneke, wat nog steeds met groot verskrikte oë na hom staar.

“Wie is dié spektakel, tannie Martha?”

Die groot man praat so hard dat sy stem tussen die rotse vasslaan en koggelend na Stieneke toe terug weergalm.

Vir die tweede keer vanoggend bid sy dat die aarde tog asseblief moet oopgaan en haar heel moet insluk. Daar moet nie eens ’n haartjie of ’n toonnael oorbly nie.

Fort van die kappiedraers

Подняться наверх