Читать книгу My hartjie, my liefie - Sarah du Pisanie - Страница 3

1

Оглавление

Die geskommel van die trein het ure gelede al opgehou. Alet draai vir die soveelste keer om om ’n gemakliker lêplekkie te probeer kry. Vyf dae in versengende hitte op die trein het haar vuil, moeg en moedeloos hier laat aankom.

Later staan sy stram op en skuif die venster oop. ’n Sout, nat reuk slaan teen haar vas. Ná die ondraaglike hitte die afgelope dae is dit onverwags koud en nat. Sy ril, soek in die donkerte na haar kamerjas en trek dit bo-oor haar dun nagklere aan.

Sy loer by die venster uit; iewers daar voor maak ’n paar ligte skewe, spookagtige kolle in die digte mis.

Moedeloos sak sy op die treinbank terug. Die kondukteur het haar gelukkig gisteraand al gewaarsku dat hulle vroegnag op Walvisbaai aankom. Sy sien hom nou nog daar in die deur staan. Hy het sy lang, maer lyf gemaklik teen die kosyn van die kompartement gedrapeer. Sy snor het belangrik gebewe.

“Jy moet maar slaap totdat dit lig is, juffroutjie. Niemand kom daardie tyd van die nag stasie toe nie. Die trein staan op die stasie tot omtrent so . . . agtuur, of partykeer ’n bie­tjie later.”

Die slaap het heeltemal van haar gewyk. Stil staar sy deur die oop venster. Geleidelik word meer buitelyne van voorwerpe buite sigbaar, want die son probeer sukkelend om die misgordyn oop te skuif. Die besef dring stadig tot haar deur dat dit al later moet wees as wat sy aanvanklik gedink het. Die mis is verwarrend en laat haar alle besef van tyd verloor.

Sy wens die grys mistigheid weg, sodat sy kan sien hoe lyk haar nuwe tuiste. Wat gaan hierdie uithoek van die land vir haar inhou? Gaan sy hier weer rus en vrede in haar gemoed kry, of gaan die seer en verlange, waarvan sy probeer wegvlug, hier ook nog ’n houvas op haar hê?

Sy byt haar kieste vas. Sy moet net nie vanoggend weer al die ou geraamtes uit die kas haal nie. Hierdie dorpie met sy vaal misgordyn is triestig genoeg.

Vinnig was sy haar gesig in die wasbakkie. Sy trek ’n somerrokkie aan wat sy gisteraand al uitgehang het. Dan soek sy eers in haar tas vir ’n truitjie voordat sy dit toeknip en netjies eenkant neersit.

Sy gaan staan in die nou gangetjie van die trein sodat sy die perron kan sien. Die venster is stram van die klammigheid en sy sukkel om dit oop te kry. Haar oë fynkam die verlate perron.

Meneer Erlank, die hoof van hierdie tweemanskooltjie, is die enigste mens op hierdie moedverlore dorpie wat weet dat sy vandag aankom. Die Departement van Onderwys het haar laat weet dat meneer Erlank alle verdere reëlings in verband met haar verblyf sou tref.

Die stasie is egter stil en verlate. Die moedeloosheid sak, soos die mis buite, om haar toe. Hierdie pos was vir haar ’n ware uitkoms. Sy het geprobeer om soveel kilometers moontlik tussen haar en Pieter te kry. Sy sug. Maar . . . op hierdie oomblik voel dit vir haar of sy dit darem té goed reggekry het.

Die mis verloor stadigaan sy stryd teen die son, want die vuil houtgeboutjie op die stasie is nou duidelik sigbaar. ’n Man in ’n swart uniform kom gaap-gaap om die hoek – ’n groot bos sleutels al swaaiend in sy hand.

Angstig tuur sy in die rigting skuins agter die stasiegebou toe sy die gerammel van ’n voertuig hoor. ’n Ou vragmotor met ’n ruwe houtbak kom hou omtrent bo-op die perron stil.

Alet knip haar oë . . . alles lyk so vreemd, so . . . asof iemand die horlosie vier of vyf dekades teruggeskuif het. Die vragmotor het geen dak nie en die voorste sitplekke is ook, soos die bak, net ’n ruwe houtkonstruksie. Die oorspronk­like toebehore het blykbaar lankal plek gemaak vir minder gerieflike plaasvervangers.

’n Kort, dikkerige oubasie spring rats van die saamgeflanste vragmotor af en drafstap na die stasiegeboutjie. ’n Fris werker rek hom lui uit en klim traag en stram van die vragmotor af.

Alet voel asof sy die misgordyn kan oopskuif. Sy hoop regtig nie meneer Erlank laat haar te lank wag nie. Sy is moeg en honger en vuil.

Die swart roet klou aan alles vas en daar is fyn stukkies steenkool in haar klere en hare.

Sy pak haar bagasie in die gang, knyp haar handsak onder haar arm vas en spring dan op die lae perron uit.

Die stasiemeester beskou haar nuuskierig deur sy vuil venstertjie. Hy beduie iets aan die oubaas van die vragmotor en stap dan uit na haar toe.

“Goeiemôre, juffrou!” Hy steek ’n slap hand na haar uit.

“Goeiemôre, meneer!” Alet glimlag hom dankbaar toe.

“U is seker die nuwe skooljuffrou?”

“Ja, ek is. Meneer Erlank . . . hy sou my hier kom kry . . .ek weet nie waarheen om te gaan nie.”

“Meneer Erlank!” Die stasiemeester beskou haar skepties. “Dit is vandag Vrydag, juffrou, en die skole begin eers Maandag.”

Alet staar hom onnosel aan, sy kan glad nie die kloutjie by die oor bring nie.

“Maar . . . ek verstaan nie . . . dit is die enigste trein waarmee ek kon kom . . . die volgende trein kom eers Dinsdag en . . . aarde, ek sal darem graag eers my dinge agtermekaar wil kry voordat die skole begin!”

’n Stadige glimlag van begrip trek oor die stasiemeester se gesig.

“Ag, ekskuus tog, juffrou! Hoe sal jy ook nou weet . . . meneer Erlank is nie vakansietye in Walvisbaai nie . . . hy . . . hy boer naby Usakos se wêreld.” Die stasiemeester raak baie belangrik, hy weet mos darem nou dinge wat hierdie nuwe juffroutjie nie weet nie.

“Nou sien . . . vakansies en naweke, dan gaan hy gewoonlik na sy plaas toe. Hy sal beslis nie hier wees voor Sondagaand nie.”

Alet staar hom verslae aan.

“Meneer . . . u weet nie dalk wie my dan sal kan help nie . . . as ek net weet waarheen om te gaan of waar om my huisie se sleutel te kry . . . hier is blykbaar ’n huisie vir my beskikbaar.”

Die verontwaardiging maak haar stram. Meneer Erlank kon darem maar net die ordentlikheid gehad het om iemand te vra om haar hier te kom ontmoet, of darem net vroeër iets met haar gereël het.

Alet loer om haar rond. Alles is vuil en nat sand kleef aan alles denkbaar. Nêrens is ’n groenigheidjie te bespeur nie. Die stasie is so besig soos wat ’n stasie maar kan wees waar net een passasier afklim. Daar is darem die oubasie wat die vrag wat van die trein afgelaai word met die hulp van sy werker behendig op die vragmotor laai.

“Hm . . . meneer?” Alet keer vinnig dat die stasiemeester nie moet terugstap na sy kantoortjie nie. “Hier is nie dalk so iets soos ’n taxi nie?”

Die stasiemeester gaap haar eers aan voordat hy sy kop agteroor gooi en bulderend lag.

“Nee, juffrou, al is dit 1940 . . . ou Walvisbaai . . .” Hy lag weer lekker. “Ou Walvisbaai is so vyftig jaar ná die tyd . . . ek is jammer, maar wag so ’n bietjie, miskien kan hulle jou help.”

Hy draai vinnig om en stap in die rigting van die oubasie. Sy stem klink hard en skril oor die verlate stasietjie.

“Frau Wolf! Kan julle die juffrou saamvat? Jy kan haar sommer by Grieta Visser aflaai. Sy sal weet wat om met haar te maak.”

Alet staar verbaas na die oubaas van die vragmotor wat vinnig nader kom en sy hand na haar uitsteek.

“Guten Morgen! Ek is Frau Wolf . . . jy kan met die grootste graagte saamry . . . as jy nie omgee om op die ou oop vragmotor te ry nie.”

Stomme ongeloof maak dat Alet die histeriese giggel met moeite onderdruk. Die kort, dikkerige oubasie is toe ’n kort, dikkerige Duitse tannie.

Alet knik net; sy vertrou haar stem glad nie. Haar humorsin verdryf al haar gebelgdheid teenoor die onbekende meneer Erlank. Vinnig draai sy om en klim terug in die trein. As die ou tannie die vrag van die trein op haar vragmotor kan oorlaai, kan sy wat Alet is seker haar eie bagasie aangee en dra.

Behendig, asof sy dit al jare self doen, gee sy haar bagasie aan en spring weer van die trein af.

Frau Wolf het reeds die tasse op die vragmotor gelaai voordat Alet nog kan help.

“Is hier nog van jou goed in die pakwa?”

“Ja, daar is drie kiste. My boeke, breekgoed en linne.”

Alet draai onseker rond terwyl die vragmotor gelaai word. Sy sal glad nie verbaas wees as sy dalk nog agterop die vragmotor moet ry nie.

Dit word haar darem gespaar. Haar nousluitende rokkie besorg haar egter baie meer verleentheid. Die trap is hoog en sy probeer twee, drie keer. Met ’n vinnige blik oor haar skouer trek sy vererg die rokkie tot bo haar knieë en met ’n trap, wat die reus met die sewemylstewels sy oë sou laat knip, beland sy bo-op die vragmotor.

’n Dowwe, rooi gloed styg stadig na haar wange toe sy die geamuseerde blik van die stasiemeester onderskep.

Frau Wolf praat nie veel nie en Alet kan ook nie eintlik ’n geselsie aanknoop nie. Sy het al haar krag nodig om vas te hou en bo te bly. Frau Wolf vat die stuurwiel vas, trap die brandstofpedaal onder in die hoek vas en die vragmotortjie kletter en kraak soos dit sukkel om by te hou.

Die mis lig skielik en die sonnetjie skyn vrolik en vriendelik. Maar selfs nie eens die sonnetjie kan die barheid van die snaakse, ouwêreldse dorpie verbloem nie.

Die geboue wat sy tot dusver gesien het, is van hout en op pale gebou, seker goed ’n meter van die grond af. Nêrens is ’n enkele boom of grassprietjie te sien nie . . . net sand . . . vaal, bruin sand wat plek-plek duine in die dorpie vorm en die hele natuurtoneel oorheers.

Die meeste van die huisies lyk eenders, party is ’n bie­tjie groter as ander. Hulle het egter almal een ding gemeen . . . almal is aan die buitekant oordek met vaal sand. Selfs die huise se vensters is vuil en wek ’n onbewoonde indruk. Hier en daar blink ’n venster in die oggendson en dit verander die hele voorkoms van die huisie.

Frau Wolf ry deur die hoofstraat om ’n paar artikels by verskillende winkels af te lewer.

Die dorpie bestaan uit ’n hotel, twee algemene handelaars en ’n verskepingsmaatskappy. ’n Groot steengebou staan omtrent in die middel van die dorpie. Frau Wolf verduidelik bo die geraas van die vragmotor dat dit die ontspanningsklub is, en dié, sou sy later agterkom, is die hartklop van die gemeenskap.

Nuuskierig staar die mense haar aan sover hulle ry. Haar rug is egter styf en regop en sy maak asof sy glad nie bewus is van die nuuskierige blikke nie.

Voor ’n blinkvenster-huisie hou Frau Wolf stil.

“Wel, hier moet jy afklim, Fräulein!”

Sy wip van die vragmotor af en sonder om te klop, draai sy die voordeur oop en roep met haar vrolike, harde stem na binne: “Grieta! Ek het die nuwe juffrou vir jou saamgebring!”

’n Vriendelike, gesette vroutjie van so ongeveer vyf-en-vyftig of sestig jaar skarrel vinnig by die deur uit.

Sy steek albei haar hande na Alet uit en hou hare styf vas.

“Haai! Kindjie, en jy kom so onverwags hier aan sonder om vir iemand te laat weet . . .”

“Meneer Erlank het geweet ek kom vandag, mevrou . . . eh . . . ek het gedink hy sou my op die stasie kom ontmoet.”

“Gmpf! Daardie Louis! Eendag gaan ek my nog bloedig vir hom vererg!”

Sy druk Alet voor haar uit, die huisie in.

“Kom, kindjie, kom ek gaan maak vir jou ’n lekker koppie koffie.”

Sy praat-beduie vir Frau Wolf sommerso oor haar skouer om die bagasie eers net op haar stoepie neer te sit.

Die huisie is blinkskoon binne. Alles lyk so vrolik en huislik. Die Duitse atmosfeer het hier baie diep ingekruip. Die kombuisie spog met vrolike, rooi geruite gordyntjies en kussinkies van dieselfde materiaal op die stoele. In die vensterbank pryk die eerste groenigheidjie wat Alet nog gesien het vandat sy hier afgeklim het – ’n langwerpige bak waarin Usambara-viooltjies welig groei.

Die heerlike geur van varsgemaakte koffie verhoog die huislikheid van die skatlike sprokieshuisie. Die gryskop­vroutjie gesels aanmekaar, asof hulle mekaar al jare ken.

Alet drink twee koppies koffie en eet van die heerlike varsgebakte brood. Sy voel weer mens toe sy klaar is en sien sommer weer kans vir die lewe.

“As mevrou tog net vir my kan verduidelik waar ek my woonplekkie se sleutel kan kry, dan kan ek solank my goedjies begin uitpak.”

Die onvergenoegdheid van die oggend kom sit weer dwars op haar bors.

“Ek was onder die indruk dat meneer Erlank al hierdie dinge sou reël, anders sou ek sommer self die mense by die Departement gebel het . . . om die waarheid te sê, ek het dit as vanselfsprekend aanvaar dat hy my darem op die stasie sou kom ontmoet.”

“My kindjie, met Louis Erlank weet ’n mens nooit nie.” Sy sug effens. “Ek is vir hom so jammer, maar party dae het ek lus en skud hom . . . Hy . . . hy kan party dae vreeslik moedswillig wees.”

Alet se moed sak stadig tot in haar skoene. Dit is al wat sy nou nodig het . . . ’n moedswillige skoolhoof, wat geskud moet word! Net asof sy nie probeer om sover moontlik van probleme af weg te kom nie, wil dit mos nou al vir haar lyk of sy kop eerste in ’n ander turksvybos beland het.

“Ons sal moet spring as ons nog jou huisie ’n bietjie wil skoonmaak en jou goedjies uitpak. Die wind gaan vanmiddag waai en dan is dit baie onsmaaklik.”

Alet sluk swaar en staan gelate op. Sy kan haar goed voorstel hoe hierdie dorpie lyk as die wind in stofvlae uit die woestyn aankom.

Tannie Grieta kry die sleutel van Alet se huisie op die een of ander manier in die hande en al Alet se teenkanting dat sy self kan gaan skoonmaak, maak geen indruk op tannie Grieta nie.

Die huisie verskil nie veel van tannie Grieta s’n nie. Dit is net twee huise daarvandaan en direk langs die skool.

Die skool is net ’n langer weergawe van die bestaande vorm van al die huise. Dit is ook van hout. Twee lang vertrekke en ’n kantoortjie maak die hele opset uit.

Soos die res van die geboue staan haar huisie en die skoolgebou ook kersregop op pale en bespied die wêreld uit die hoogte. Daar is geen omheinings om die verskillende geboue nie. Blykbaar stel niemand belang om sy eie erf afgebaken te hê nie, want oral is in elk geval net sand. Of dit nou my sand of jou sand of die wind se sand is, daarin stel niemand belang nie.

Die sand lê sentimeters dik op haar stoep. Dit is darem te verstane, want daar het maande lank niemand in hierdie huisie gewoon nie.

Tannie Grieta neem egter baie gou beheer oor. Sy laat kom die man wat in haar huis werk, en keer nog twee aan wat daar verbyslenter. In ’n ommesientjie is die plek omskep tot ’n slagveld van bedrywighede.

Die vensters en mure word gewas. Die meubels word uitgedra en buite skoon geskrop en daar gelaat sodat hulle ’n bietjie lug kan kry. Teen middagete is alles silwerskoon en netjies.

Die ou huisie is maar baie klein en bestaan net uit ’n slaapkamer, sitkamer, kombuisie en badkamer. Alles lyk maar kaal en oninteressant in vergelyking met tannie Grieta se pophuisie. Alet het haar voorgeneem om die volgende dag ’n paar matjies en ander mooi goed te gaan koop om die ou plekkie ’n bietjie op te vrolik.

Tannie Grieta nooi haar vir middagete. Sy eet heerlik en stilweg wonder sy hoe sy sake kan reël sodat sy darem smiddae ’n gesonde bord kos kan kry. In die huisie is ’n koolstofie wat maar tydrowend is en op die primus kan sy tog nie ’n hele ete kook nie.

Tannie Grieta is baie tegemoetkomend toe sy hierdie sakie met haar bespreek en teen ’n baie billike tarief is sy bereid om smiddae genoeg kos te kook sodat sy ook daar kan eet.

Die middag is lank en vervelig. Tannie Grieta gaan ’n bietjie rus en Alet is opgeskeep met haarself.

Die huisie is aan die kant en al die goedjies wat sy saamgebring het, is uitgepak en op hul plekke reggesit. Buite waai die wind met reëlmatige eentonigheid al om die huis se hoeke. Die hele wêreld is vaal van die stof. Sy kry weer eens daardie beklemmende gevoel soos vanoggend in die mis. ’n Mens kry die gevoel dat Walvisbaai altyd in die een of ander sluier gehul is, want as die missluiers weg is, dan kom neem die stof oor.

Tannie Grieta het meneer Erlank se huisie aan haar uitgewys; dit is net aan die ander kant van die skool. Die huisie is effens groter as hare. Alles is egter ook toe onder die stof en sand, die onmiskenbare teken van onbewoonheid, al is dit net ses weke lank.

Skielik is sy nuuskierig omtrent meneer Erlank. Hy moet seker al naby aftree-ouderdom wees. Soos wat sy verstaan, is onderwysers geweldig skaars in hierdie deel van die land. Dit is ook blykbaar die rede hoekom meneer Erlank, wat dus eintlik ’n boer is, nog sy gewig hier ingooi. Sy wonder of sy vrou nog leef en of sy dalk op die plaas bly gedurende die kwartaal. Niemand het nog iets van haar gepraat nie. Sy twyfel darem of ’n man sy vrou alleen op die plaas sal laat agterbly terwyl hy skoolhou . . . maar met hierdie Suidwesters weet ’n mens ook nooit nie . . . hulle doen die snaaksste dinge.

Alet durf die volgende oggend die sanderige paadjie na die winkels aan. Die sand kruip in haar skoene en kouse en is skurf tussen haar tone. Sy is vies en iesegrimmig toe sy terugkom.

Die huisie lyk darem heelwat beter met die paar goedjies wat sy gekoop het.

Sy maak haar koskaste vol en bestel steenkool vir die ou swart stofie wat blink en pronkerig in die popkombuisie staan.

Sy besluit ook om naweke vir haarself te kook. Die winkel kom alles aflewer en bied ook aan om soggens hul afleweringsbode te stuur met ’n boekie waarin sy haar bestelling kan plaas vir enigiets wat sy nodig het. Hulle sal sommer soggens die bestelling by die skool kom neem en dan kan hulle dit in die namiddag aflewer. Alet is baie dankbaar oor hierdie behulpsaamheid, want die ent se stap in die sagte sand is nie baie aangenaam nie.

Sy is bedruk en hartseer en wens die res van die naweek om. As dit tog net Maandag wil word sodat sy iets konstruktiefs kan doen.

Tannie Grieta kom haal haar vir etes en tee en so hier en daar ontmoet sy iemand, maar dit is meestal mense van tannie Grieta se ouderdom.

Hier naby die skool is net ’n paar huise, die res lê verder op in ’n kol. Sy wens sy kan met die kinders en hul ouers kennis maak. Dit is vir haar vreemd dat niemand uit hul eie kom kennis maak nie. Die hele dorpie weet tog al dat sy hier is.

Sy sien omtrent geen kinders nie. Toe sy tannie Grieta hieromtrent uitvra, lag sy net en sê sy sal maar moet wag totdat die skool begin. Hier is darem sewe-en-dertig kinders in die skool.

“Hier is die heerlikste speelplek vir die kinders, juffrou . . . jy moet darem weet hier is ’n see . . . en daar onder by die see is nog ou ammunisieforte van vroeër jare. Die kinders speel so lekker dat ’n mens hulle moet gaan soek.”

Alet dink met hartseer verlange terug aan haar eie kinderdae. Hoe kon hulle nie ook speel tot lank ná sononder nie . . . Soms moes hulle lelik bontstaan om by haar ma verby te kom as hulle hul tyd so verspeel het.

Die wind waai Saterdag- en Sondagmiddag. Soggens is dit nogal lekker buite, maar van ongeveer twaalfuur af waai die wind met ’n woeste felheid. Die inwoners skuil maar stil-stil agter toe deure en deur Alet se sitkamervenstertjie lyk die dorpie vaal en verlate.

Die verlatenheid kom diep binne-in haar skuil. Sy probeer hard om al die verlangens en deurmekaar gedagtes op die agtergrond te druk. Moedswillig kry hulle egter kort-kort ’n deurkruipplek. Die trane kom sommerso vanself; as sy weer sien, is hulle maar daar.

Snikkend gee sy haar oor aan die diep seer hier binne-in haar.

Ure later fluister sy verlore vir die houtmure: “Pieter Combrinck, daar is baie dinge wat ek jou moet vergewe, maar vir hierdie eensaamheid op hierdie verlate spookagtige sanddorpie . . . Ek weet nie . . . ou matie . . . daar sal eers baie water in die see moet loop, baie meer as die trane wat ek al gestort het, voordat ek jou hiervoor sal vergewe.”

My hartjie, my liefie

Подняться наверх