Читать книгу My hartjie, my liefie - Sarah du Pisanie - Страница 5
3
ОглавлениеAlet beskou haarself in die spieël. Haar hare glim sag in die lamplig. Sy skud die wye, liggroen rokkie effens sodat dit sag en vol om haar skraal figuurtjie vou.
’n Fyn kantsakdoekie word saam met ’n kam in haar handsakkie gedruk voordat sy die lamp doodblaas en na die sitkamertjie stap om daar op Gerhard te wag. Hierdie afgelope twee weke wat sy elke aand op haar eie geselskap aangewys was, het haar uitgehonger vir die geselskap van ander jong mense. Sy het al vroeg begin bad en haar aangetrek, gretig dat die tyd tog moet omgaan.
Daar is vanaand ’n rolprentvertoning by die ontspanningsklub en soos wat sy van tannie Grieta verstaan, is dit maar op ’n Vrydag- en Saterdagaand die algemene bymekaarkomplek van ’n ieder en ’n elk.
Verlede Saterdagaand het sy maar stoksielalleen hier in haar huisie die tyd probeer omkry. Sy het gemerk dat Louis se sitkamerlig ook heelaand gebrand het en dit het haar vreemd gerusgestel dat sy nie die enigste een is wat alleen en eensaam is nie.
Gerhard se enkele tikkie aan die deur laat haar vinnig opstaan om dit vir hom oop te maak.
“Mensig, maar die meisiekind lyk eetbaar!”
Alet is dankbaar vir die halfskemerte van die lamplig sodat hy nie die verraderlike rooi blos op haar wange kan sien nie.
“Goeienaand, meneer Steenkamp. Kom binne.”
Gerhard hou nog steeds haar hand vas, en sy oë gaan goedkeurend oor haar netjiese figuurtjie.
“Nie meneer nie . . . sommer net Gerhard. En ek weet al teen hierdie tyd dat jou naam Alet is . . . en ek hoop nie jy gee om nie, maar ek gaan jou so noem.”
“Nou goed, kom dan maar binne, Gerhard, of is jy haastig?”
“Ja, ek dink ons moet maar gaan.”
Gerhard blaas die lamp dood en sluit die deur agter hulle. Hy steek die huisie se sleutel in sy sak en hierdie eenvoudige eiegeregtige gebaar krap die fyn lagie oor Alet se hartseer en verlange met een haal oop.
Sy voel die branderigheid van trane agter haar oë en proe die sout smaak daarvan in haar mond.
Vasberade dwing sy die onwelkome gedagtes terug in die donker hoekie waar hulle hoort. Sy lig haar gesiggie op na Gerhard en glimlag vriendelik en spontaan na hom, baie toegeefliker as wat sy onder normale omstandighede met ’n eerste afspraak sou gewees het.
Gerhard sit sy hand onder haar elmboog, kyk verras af in die glimlaggende gesiggie. Die donker steek die seer en hartseer in haar oë egter goed weg. Besitlik druk Gerhard haar arm.
Die ontspanningsklub is groter en geriefliker as wat Alet aanvanklik gedink het. Die groot saal wat diens doen vir enige funksie waar ’n klomp mense bymekaar moet wees, is aan die linkerkant van die gebou. ’n Klein biblioteek is aan die regterkant, met kleedkamers en ’n lang gang wat agter twee swaaideure verdwyn. Te oordeel na die geraas en growwe manstemme wat uit daardie rigting kom, het Alet ’n goeie idee watter vertrek agter die twee swaaideure is.
Aan die voorkant van die ontspanningsklub is die algemene bymekaarkomplek. Dis ’n heerlike groot, toegeboude stoep met heelwat tafeltjies en stoele waar ’n mens rustig kan ontspan.
Gerhard sorg dat sy gemaklik sit voordat hy verskoning vra om vir haar ’n koeldrank te gaan haal. Alet ken nie veel van die mense nie en die flouerige liggies teen die mure vergemaklik ook nie juis haar taak om hulle te sien nie.
Die ontspanningsklub spog met sy eie kragopwekker, daarom dat daar ’n rolprent vertoon kan word.
Niemand skyn haastig te wees nie. Rustig drink hulle eers koeldrank en stap dan in saal toe om die vertoning te gaan geniet.
Die stoele in die saal is hard en ongemaklik, maar Alet is uitgehonger vir geselskap, al is dit net vir die geraas en gepraat van die ander mense om haar.
’n Middeljarige vrou met netjiese donkerbruin hare, wat sy in ’n groot bolla agter haar nek vasgebind het, speel die klavier in die hoek van die verhoog, terwyl die rolprentvertoning aan die gang is. Die mense gil en skree hul pret uit, terwyl Charlie Chaplin met sy skewe voetjies allerhande manewales op die doek uithaal.
Alet geniet die mense om haar meer as die vertoning, wat vir haar maar taamlik verspot is. In Kaapstad kon sy na die pragtigste opvoerings en toneelstukke gaan kyk . . . en . . . wel, hierdie komediantjie met sy groot broek is nie juis haar nommer-een-held nie.
Sy lag egter vrolik saam en Gerhard kan sy oë nie van haar afhou nie. Sy is sag en vroulik en die blou oë glim vriendelik in die dowwe lig.
Gerhard se hand druk saggies agter haar rug toe hy haar pousetyd tussen die mense deur vergesel na die stoep, sodat hulle nog ’n koeldrank kan gaan drink.
Alet kyk skielik op, vas in Louis Erlank se oë waar hy by die punt van ’n ry banke wag sodat sy kan verbykom. Sy wenkbroue is sinies gelig terwyl hy na Gerhard agter haar kyk en dan weer terug na haar. Hy knik styf en formeel in haar rigting voordat hy ’n pragtige meisie met vlasblonde hare voor hom laat verbykom. Die lang meisie glimlag besitlik op na hom en haar hand soek agter haar rug totdat sy syne raakvat.
Alet neem alles in een oogopslag waar. Sy wonder wie die meisie kan wees; sy het haar nog nie hier rond gesien nie.
Gerhard groet joviaal toe hy vir Louis en sy metgesel opmerk.
“Kom sit by ons. Ek gaan kry net gou vir ons koeldrank . . . of . . . wil jy liewer ’n bier drink, Louis?”
“Ja, dankie. Ek sal ’n bier drink.” Louis klink styf en onvriendelik.
Dit is Gerhard wat eerste daaraan dink dat sy nog nie die blonde meisie ontmoet het nie.
Die luggie is heerlik vars en koel op die stoep ná die bedompige saal.
“Alet, jy ken seker nie vir Ilze Friedelingsdorf nie?” Gerhard staan effens opsy sodat sy kan verbykom.
“Alet Fourie en Ilze,” stel Gerhard hulle gemaklik aan mekaar voor.
Alet hou van die vriendelike, spontane Ilze, maar sy kan tog aanvoel dat Ilze nie so ingenome is met die gedagte dat sy en Louis heeldag in mekaar se geselskap is nie.
Uit die gesprek kan Alet aflei dat Ilze se ouers Louis se bure op die plaas is en dat Ilze blykbaar kort-kort hier by haar oom op Walvisbaai kom kuier. In haar enigheid wonder Alet of dit nie maar is om naby Louis te wees nie.
Dit krap aan Alet dat Louis nooit direk met haar praat nie. Hulle was die afgelope twee weke nooit juis haaks nie, maar hulle is nou ook nie juis groot vriende nie. Alet voel darem dat hy in die openbaar nie so ooglopend sy afkeer moet wys nie.
Ilze vra verskoning om na die kleedkamer te gaan en Gerhard is in ’n druk gesprek met ’n Duitse oubaas met ’n weglê-snor.
Alet en Louis is alleen by die tafeltjie. Die stilte rek tussen hulle. Alet voel hoe die ongemak in rooi kolle op haar uitslaan. Sy sit haar koeldrank vinnig neer, neem haar handsakkie en met ’n gemompelde verskoning staan sy vinnig op – net om haar ’n tree verder trompop te loop teen ’n skraal, slordige man wat taamlik onvas op sy voete is.
Hy gryp na haar, sy hande omklem haar skouers. Alet probeer vinnig loskom, maar sy greep verslap nie. Sy rooi, wellustige oë gaan soekend oor haar.
“Wel! Wel! Dit is mos die nuwe skoolmies!”
Alet is baie na aan trane. Die walglike mansmens is dronk en sy warm asem is hier naby haar gesig.
Sy rem agtertoe, vas teen ’n breë bors. Twee groot hande met netjiese, kortgeknipte naels kom van agter af en maak die maer, seningrige vingers om haar skouers beslis los.
“Dit is genoeg, Venter!” Louis se stem klap soos ’n sweep hier by Alet se oor. “Ek dink jy moet liewer gaan!”
Alet ril. Louis se hande druk ’n oomblik lank gerusstellend op haar skouers voordat hy sy hand tussen haar blaaie druk en haar liggies in die rigting van die kleedkamer stoot.
Alet was haar gesig met die koel water. Sy druk die fyn kantsakdoekie teen haar wange en voorkop om dit af te droog. Sy draai onnodig lank om vir Louis en Ilze kans te gee om reeds in die saal te wees voordat sy uitkom.
Gerhard is duidelik verlig toe sy haar by hom aansluit.
“Skort daar iets?” Hy klink opreg bekommerd.
“Nee . . . ek . . . ek was net ’n bietjie duiselig . . . Ek dink dit is maar ’n bietjie bedompig in die saal.”
Die tweede deel van die vertoning verskil nie veel van die eerste nie en Alet is half bly toe dit verby is.
Sy nooi Gerhard vir koffie. Sy speel ’n paar mooi plate op haar grammofoon en geleidelik verlaat die onstuimigheid en skrik van vroeër die aand haar. Sy wil hom graag uitvra oor die nare mansmens, maar sy sien nie kans om die hele episode aan hom te vertel nie.
Dit is al ná middernag toe Gerhard traag opstaan om huis toe te gaan.
Lank lê en kyk Alet nog na die flou skynsel van die maan. Sy wonder wat maak Pieter vanaand. Sou hy soms na haar ook verlang . . . of dink hy nooit meer aan haar nie? Is hy te besig met sy eie dinge? Sou Marie hom gelukkig maak . . . of was dit maar net ’n obsessie om hom te besit wat gemaak het dat sy hom in ’n oomblik van swakheid oorrompel het?
Die warm trane loop stadig oor haar wange. ’n Mens kan nie iemand se ring ses maande lank dra en dan ongeskonde uit so ’n verkleinerende situasie tree nie.
As hulle tog maar net eerste vir haar kom sê het! Maar sy was die heel laaste wat daarvan gehoor het . . . eers toe hulle al klaar getroud is . . . en sy . . . arme gek! Sy het nog steeds sy ring aangehad toe hy met die skoknuus daar aangekom het.
Die pyn in sy oë . . . die selfveragting . . . Alet druk haar hande voor haar oë om die beeld te probeer uitwis. As sy net nie daardie oë onthou nie . . . dan sou sy hom kon haat en dit sou die pyn en vernedering draagliker maak. Maar daardie groot, bruin kalfie-oë het baie meer gesê as sy woorde. Dit het haar hart gekneus en saggemaak, baie meer as sy wurgende: “Alet . . . Lettatjie . . . ag, my liefling . . . ek was ’n swakkeling. . . Ag, Let, ek moes met haar trou, ek kon nie anders nie . . . die baba . . .” Sy droë, harde snik klink nog helder in haar ore. Sy het haar ore toegedruk en gehardloop, net gehardloop. Sy wou tot verby die einde van die aarde hardloop.
Die volgende dag het sy die skoolhoof laat weet dat sy siek is. Die dierbare, verstandige ou man wat vir hulle almal soos ’n pa was, het gekom sodat sy die hele storie, wat hy reeds geken het, teen sy skouer kon uitsnik. Hy het gereël dat sy nie die laaste paar dae van die kwartaal hoef terug te kom skool toe nie. Dit was ook hy wat gereël het dat sy dié pos kry; hierdie pionierspos aan die uithoek van hierdie barre land met sy sandgolwe.
Die son skyn vrolik toe Alet wakker word. Die ou spinnerakke is weg . . . vir eers weer diep gebêre.
Sy haal ’n netjiese ligroos rokkie met ’n bypassende hoedjie uit die kas en sprei dit op die bed oop. Sy bad en trek die pragtige rokkie, wit skoene en fyn kouse aan voordat sy die hoedjie versigtig op haar blonde hare sit.
Die kerk begin om negeuur en Alet sal nog die entjie na die ontspanningsklub, wat ook as kerk dien, moet stap. Hier is nie gereeld ’n predikant nie. Vanoggend sal daar egter een wees wat van Omaruru af kom. Verder hou die ouderlinge maar kerk.
Sy maak gou klaar, want sy wil stadig stap. Sy wil die rustigheid van die Sondag in haar siel opvang en bêre, bêre vir die dae wanneer sy voel dat alles weer vir haar te veel word . . . sodat sy dan reserwekrag kan hê om op te teer.
Stadig stap sy aan kerk toe, half skeef trappend teen die sand sodat dit nie in haar skoene moet kom nie.
Die saaltjie is nie naastenby so vol soos gisteraand tydens die rolprentvertoning nie. Die mense sit naby mekaar in die voorste paar rye banke. Op die verhoog is ’n tafel en ’n stoel reggesit en aan albei kante van die verhogie is vier stoele in ’n ry. Alet veronderstel dat dit vir die diakens en ouderlinge bedoel is.
Dieselfde vrou wat gisteraand die klavier tydens die vertoning gespeel het, het weer haar plek ingeneem.
Verbaas kyk Alet op toe Louis langs haar inskuif. Hy is styf en gespanne en Alet verbaas haar dat ’n mens met soveel bitterheid en opstandigheid soos wat sy in Louis kan aanvoel, nog na die huis van die Here kom. Nuuskierig wonder sy of hy altyd so was en of daar iets in sy lewe gebeur het wat sy vertroue in die mensdom ’n knou gegee het.
Alet se mooi, soet stem klink helder bo dié van die ander gemeentelede uit. Sy sing met volle oorgawe en al haar dankbaarheid teenoor haar Skepper laat haar stem lewe van emosie.
Verras loer Louis na haar kant toe hy die helder stem hoor. Sy interesseer hom. Hoekom sou sy uit die pragtige Boland hierheen gevlug het? Iets moet haar gedwing het . . . Maar ’n mens wat so ontspanne en met oorgawe kan luister na die Woord en met soveel oorgawe kan sing, het niks waaroor hy of sy God kan verwyt nie. Hy gee die stryd gewonne. Hy kan nie glo dat dit is omdat sy self seergekry het nie . . . of sy moet ’n groot huigelaar wees, want geen mens kan iets soos wat met hom gebeur het, sommer net aanvaar nie . . . Die opstandigheid vroetel en woel in hom en maak hom kriewelrig. Die rooi duiweltjie fluister hard hier by sy oor. Of . . . was dit dalk . . . is sy nie dalk die party wat die pyn uitdeel, soos wat Elsa was nie . . .?
Die Sabbatsvrede omvou Alet se hele wese. Stadig stap sy terug huis toe, diep ingedagte, die mooi boodskap wat die predikant met soveel oortuiging gebring het, nog vasgevang in haar gedagtes.
“Juffrou Fourie!” Louis se stem klink hier kort agter haar. So ingedagte is sy dat sy hom glad nie hoor aankom het nie.
“Mag ek maar saamstap?”
“Seker.” Alet is effens senuweeagtig. Sy moet nog eers hierdie sy van sy geaardheid probeer verstaan. Gisteraand het hy haar so onverwags te hulp gekom en vanoggend is hy in die kerk . . . teësinnig miskien . . . meer uit gewoonte dalk, maar dit is en bly ’n goeie gewoonte. Sy het dit in elk geval nie van die siniese Louis Erlank verwag nie.
“Dit lyk vir my ons ergste wind is darem nou eers verby.” Louis is beslis van plan om geselliger te wees.
“Hoe weet julle dit?” Alet is opreg nuuskierig. “Tannie Grieta voorspel ook altyd wanneer die wind gaan waai en wanneer nie, en sy is omtrent altyd reg.”
Louis lag.
“Dit is maar iets wat ’n mens by die ou Walvisbaaiers leer.” Hy krimp sy treë om by hare aan te pas. “Hulle sê gewoonlik as die son in die oggend skyn, dan waai die wind in die middag en as dit soggens mistig is, dan waai hy nie . . . maar dit werk nie altyd so nie, hoor! Soms is dit in die oggend mistig en namiddae waai die wind die duiwel uit sy nes uit. Maar ons windmaande is darem eintlik hier van Julie tot November. Verder het ons lekker weer; dit word nooit juis vreeslik warm nie, behalwe as die oostewind waai.”
Die stilte is rustig tussen hulle terwyl hulle aanstap.
Alet probeer die geselskap weer aan die gang kry.
“Die preek was mooi vanoggend . . .”
“Hmm . . .” Louis lewer geen kommentaar daarop nie.
“Wil jy nie ’n koppie tee kom drink nie . . .?” Alet klink half onseker.
“Ja, dankie. Ek het gehoop jy sal my nooi. Ek kan tog nie tee maak nie en Elias is ook vandag kerk toe.”
Alet sluit die huisie oop. Louis gaan sit in die sitkamer terwyl sy water op die stofie kook.
Sy haal haar hoed af en skud eers haar hare los voordat sy dit handig in ’n rol agter haar kop draai en vassteek.
Louis sit rustig agteroor in die diep gemakstoel toe sy inkom met die tee. Die digbundel wat Pieter vir haar met haar laaste verjaardag gegee het, lê oop op sy skoot. Stilweg wonder Alet of hy die woorde voor in die boekie gelees het. Die ironie daarvan draai soos ’n fisieke seer binne-in haar.
Pieter het sy onsterflike liefde in ’n paar sinne voor in hierdie digbundel aan haar verklaar, ’n liefde wat hy self in daardie stadium geglo het alle aanslae van buite sou weerstaan. Dit het net ses maande gehou . . . en nou sit hierdie siniese man daarmee in sy hande.
Louis staan vinnig op en neem die skinkbord by haar. Met waardering kyk hy na die netjiese skinkbord. Die teekoppies is van fyn porselein en die silwerteegerei dateer seker van ’n vorige geslag. Selfs die bakkie waarin ’n paar fyn teekoekies pronkerig lê, pas by die silwerstel.
Met meer respek beskou hy haar onderlangs. Sy pas by haar huisie. Alles is netjies en smaakvol en die eenvoudige ou houthuisie met sy gewone Administrasie-meubels vertoon anders met netjies gehekelde lappies, kleurvolle kussings, nuwe gordyne en los matte. ’n Paar pragtige beeldjies en ou koperlampe voltooi die smaakvolle prentjie en hang ’n rustige etiket aan die binnekant van hierdie vertrek.
Sy behoort uit ’n gegoede huis te kom, alles getuig daarvan. Hy wonder wie die Pieter is wat met soveel liefde voor in die bundeltjie geskryf het.
“Jy sê jou ouers boer naby die Paarl? Is dit ’n groot plaas?”
Louis klink gesellig en belangstellend.
“Ja, dit is nogal, gemeet aan die ander plase daar in die omgewing en . . . dit is eintlik ’n erfplaas, dit dateer nog van die negentiende eeu.”
“Is jy die enigste kind of het jy nog broers en susters?”
“Ek het nog ’n broer. Hy is ouer as ek. Hy is eintlik die boer. My pa se gesondheid laat maar veel te wense oor . . .”
“Nou hoekom . . .?” Louis bly ongemaklik stil. Hy wil nie graag die goeie verhouding wat daar vanoggend tussen hulle heers weer bederf nie, maar hy sal darem graag wil weet wat haar laat besluit het om daar weg te gaan, veral as haar pa nog siek is ook . . . Sy is ooglopend lief vir hulle; trots en eerbied straal uit elke word wat sy van hulle sê.
Alet wag gespanne vir die res van die vraag. Hy moet nou net nie weer kom torring aan haar nie . . .
Hy merk die stywe trek van die skouers en met verbasing sien hy die hartseer liggie dof agter in haar oë. ’n Vreemde jammerte neem van hom besit. Dit moet darem iets groots wees wat ’n mooi jong meisie so ver van haar geliefdes af sal laat weggaan.
Hy verander behendig die gesprek.
“Ek sien jy is ook ’n liefhebber van Beethoven!”
“Hou jy ook van sy musiek?”
Die gesprek raak algemeen. Louis aanvaar ’n tweede koppie tee en maak kort daarna verskoning.
Alet is rusteloos nadat Louis weg is. Sy het nie lus om vir haarself te kook nie en is maar te dankbaar toe tannie Grieta haar kom nooi vir ete.
Die middag is lank en vol verlange. Sy skryf briewe aan haar ouers en vriende, lang geselsbriewe oor al die snaakse en vreemde dinge, maar die eensaamheid en verlange laat sy glad nie deurskemer nie.
Sy neem haar voor om van Maandag af elke middag een of twee van haar skoolkroos se ouers by hul huise te gaan besoek. Sy sal briefies uitstuur sodat die ouers haar te wagte kan wees. So sal sy dan met die mense kennis maak en kan sy die lang, vervelige Sondagmiddae vir hulle gaan kuier.
Die wind waai baie liggies en net ná vieruur bind Alet ’n doekie om haar hare en gaan stap in die rigting van die see.
Die water is spieëlglad en groot swerms flaminke kleur die lug ligroos. Lomp pelikane hobbel in die vlak water rond op soek na kossies wat hulle met een gulsige sluk in hul sakbakke laat verdwyn.
Moeg maar meer tevrede met haarself, die ou deurmekaar gedagtes meer georden en rustiger, stap sy later terug huis toe.
Sy bad en trek ’n skoon rokkie aan. Met ’n koppie tee en ’n toebroodjie maak sy haar heel gemaklik in die sitkamer. Sy is net besig om die eerste plaat om te draai, toe sy Gerhard se ligte tikkie aan die voordeur hoor. Dankbaar vir die afleiding nooi sy hom glimlaggend en verwelkomend in.