Читать книгу Hard soos kameeldoringhout - Sarah du Pisanie - Страница 3
Hoofstuk 1
ОглавлениеDie son brand trillend neer op die wit seile van die watent. ’n Vlieg zoem lui en brommend, senutergend, al in die rondte.
Martie vee tam en totaal gedreineer van alle energie die hare van haar natgeswete voorkop af weg. Sy druk soos ’n ou vrou op haar kruis toe sy opstaan.
Die wa kraak kermend toe sy beweeg om agter by die opening van die tent uit te loer. Sy huiwer ’n oomblik lank in die opening voordat sy haar kop vinnig terugruk, so asof sy ’n skoot koue water in die gesig gekry het.
Ongelowig en glad nie seker of sy reg gehoor en verstaan het nie, steek sy weer versigtig haar kop uit om seker te maak.
Met groot, geskokte oë ruk sy dan haar kop terug en druk verskrik haar hande teen haar ore. Haar oë is rond en blink en die verwarde uitdrukking laat haar soos ’n vlugtende dier lyk.
Liewe aarde! Is dit waarvoor sy al twintig dae in hierdie versengende hitte wag? Is dit die antwoord op al haar gebede?
Nee! Sy prewel die woord magteloos. Dít kan sy nie aanvaar nie. Dit was haar enigste hoop. Al uitweg!
Haar bene het nie genoeg krag om haar weer tot by die smal bedjie agter in die wa te dra nie. Sy staar net stil en hygend voor haar uit, haar hande nog steeds styf om haar ore geklem.
Versigtig neem sy ná ’n paar minute haar hande weg. Die lawaai buite het nie afgeneem nie. Die vloeke het darem meer gedemp geraak namate die groot, bebaarde man verder van haar wa af beweeg het.
Asof sy ’n slang buitekant te wagte is, loer sy baie versigtig weer uit. Die groot gestalte is nou byna by die Duitser se huisie. Hy draai egter weer om om nog opdragte uit te bulder.
Martie se bene dreig om onder haar in te vou. Sy druk haar vuiste teen haar mond terwyl trane saam met die sweet oot haar wange loop.
Sy knyp haar oë styf toe en bid geluidloos: Liewe Vader, U het my gelei tot hier. Ek sal nie paniekerig raak nie. Ek verstaan nie nou u weë nie. Ek verstaan dit regtig nie. Ek weet net dat U ook die pad verder saam met my sal gaan.
Sy strompel terug na die bedjie en sak uitgeput daarop neer. Iewers sal sy nou eers krag vandaan moet kry voordat sy verdere besluite kan neem.
Alles binne-in haar is ’n warboel emosies. Vrees, paniek, algehele ongeloof en verslaentheid vermeng tot een kolkende massa.
Haar skraal liggaam pas gemaklik op die hol bedjie en sy sak terug teen die groot kussing met sy pragtige valletjiesloop wat haar nog altyd soveel plesier kon verskaf.
Die bekendheid van haar bed en haar eie kussing bring die rustigheid stadig in haar terug. Lank lê sy met geslote oë en dan soek-soek haar hand onder haar kussing totdat dit die verslete Bybeltjie raak vat. Soos ’n kind wat vertroosting by ’n geliefde speelding kry, klou sy dit krampagtig met albei hande teen haar bors vas. Dan eers kry haar gedagtes rigting.
Haar lewe was so ongekompliseerd en beskermd, eenvoudig en sonder opwinding. Toe skielik, sommer net op ’n dag . . . toe loop alles skeef!
Haar pa, Heinrich Schlage, is verbonde aan die Rynse Sendinggenootskap. Hy het dertig jaar gelede na die Paarl gekom om sendingwerk te doen.
Daar het hy haar ma, die fraaie Petronella du Toit, ontmoet.
Sy was van die eerste oomblik af dolverlief op die mooi Duitse sendeling wat sommer gou by die Du Toits kom perd afsaal het.
Hulle twee is ’n jaar nadat Heinrich daar aangekom het, getroud. Heinrich het glo gesê dat hy al aanstap veertig toe en nie onnodig wou wag nie.
Ongelukkig was hulle ’n hele paar jaar getroud voordat sy wat Martie is haar verskyning gemaak het. Vir Heinrich, wat altyd ’n “olyfboord” om sy tafel wou gehad het, was dit ’n groot teleurstelling dat daar vir hulle net een spruit gegee is.
Namate die besef dat sy hul enigste gaan wees vir hulle ’n werklikheid geword het, het haar ouers net nader aan mekaar gegroei.
Hulle drie was hartstogtelik lief vir mekaar. Hulle het geen behoefte aan ander se geselskap gehad nie. Hulle het jaloers gewaak oor hul kosbare alleentydjies.
Die lewe was mooi en goed vir haar. Haar ouers het haar oorlaai met liefde, maar ook met dissipline. Hul liefde vir mekaar, die natuur en vir hul Skepper het hulle ook aan haar oorgedra.
Martie ontspan stadig terwyl haar gedagtes terugvloei op die ou, bekende paaie. Sy voel weer die wind in haar gesig terwyl sy hoog op haar pa se skouers sit waar hulle in die veld ronddwaal. Pappa sou dan Mamma se hand styf in syne toevou en die hele wêreld het net aan hulle drie behoort.
Die reuk van die veld is so kennelik by haar dat dit in haar neus kriewel. Sy sien in haar geestesoog die oorvloed kleur en milddadigheid van die Boland.
Soveel lesse het sy daar in die veld gekry. Pappa sou haar van sy skouers aftel en hulle sou haar dan van die plante en die diere leer, van die wind en die reën, van water en grond.
Petronella, skraal en fyn, het seker maar ’n knou gekry met Martie se geboorte. Sy het nooit besef dat haar ma nie gesond is nie. Pappa het altyd alles op hom geneem en sy het dit as vanselfsprekend aanvaar.
Mamma was ’n geleerde vrou – ’n onderwyseres. Saam met die kinders op die sendingstasie het sy Martie ook sommer geleer. Die naaste skool was ver en hulle het nie kans gesien om haar, hul enigste, so ver weg kosskool toe te stuur nie.
Haar ouers het aangebied dat sy ná skool vir ’n jaar se verdere opleiding moes weggaan. Sy het egter botweg geweier. Haar plek was by hulle op die sendingstasie.
Aangesien sy altyd ’n groot voorliefde vir verpleging gehad het, het sy elke oggend omtrent twee kilometer na die sendinghospitaaltjie gestap en daar haar opleiding onder ou suster Heidie voltooi.
Wat ’n heerlike sendingspan kon hulle drie nie nou gemaak het nie: Pappa die sendeling, Mamma die onderwyseres en sy die verpleegster!
Sy het egter skaars haar opleiding by die hospitaaltjie begin toe die breuk in hul hegte gesinsband onverwags gekom het.
Daar was ’n brief van Duitsland af vir Pappa. Die sendingowerheid wou hê hy moes ’n sendingstasie bo in die noorde van Suidwes-Afrika gaan begin. Hulle het oral geprobeer om geskikte mense te kry om daarheen te gaan, maar niemand was beskikbaar nie.
Aangesien Pappa van Duitse afkoms is en daar heelwat Duitssprekendes in Suidwes is, was hy die aangewese persoon om so ’n groot guns van te vra. Voorts het hulle gevra dat hy eers alleen moes gaan en die sendingstasie gaan opbou voordat hy sy gesin daarheen laat kom.
Hulle was verslae en heeltemal ontwrig. Pappa het dae aanmekaar buite in die veld rondgedwaal. Martie het hom telkens op sy knieë aangetref waar hy besig was om hierdie ernstige saak met ’n Hoër Gesag uit te maak.
Sy onthou nog goed die verwese trek op sy gesig toe hy haar en Mamma van sy besluit verwittig het.
“Ek sal móét gaan. Ek het nie ’n keuse nie.”
“Ons gaan saam, my man.” Mamma het beslis opgestaan asof sy die saak as afgehandel beskou het.
Pappa het egter sy kop hartseer geskud.
“Dít, my liefling, was my grootste stryd. Julle sal nie kan saamgaan nie. Jou gesondheid is baie swak, jy weet dit tog. Ek kan nie my twee rosies na daardie wilde, ongetemde land neem nie.”
Haar ma het smekend by hom gaan kniel en hy het teer oor haar wange gevee.
“Ek wil julle so bitter, bitter graag saamneem. Ek moet egter ’n stasie gaan bou. Sodra hulle iemand anders beskikbaar het, kom ek terug. Ek sal hulle so laat weet. Ek hoop om op die langste drie jaar weg te wees.”
Die drie jaar het ses geword.
Hulle het darem so elke twee of drie maande ’n lekker lang brief van hom ontvang. Volgens hom het dit altyd goed gegaan. Hy was net altyd bekommerd oor hulle.
Intussen het sy pal by die hospitaal gewerk nadat sy haar opleiding daar voltooi het. Toe haar ma dus drie jaar ná haar pa se vertrek baie siek word, was sy in staat om haar self te versorg.
Petronella was egter baie beslis: haar man mag nie weet dat sy siek is nie. Martie het eers hewig kapsie gemaak en met haar geredeneer. Later het sy darem haar ma se standpunt begryp. Hy sal niks daaraan kan doen nie; hy sal hom net siek bekommer. Teen die tyd dat hy die brief gekry en met die ossewa die hele ent pad teruggesukkel het, was haar ma dalk lankal weer gesond.
Die volgende twee jaar het Petronella elke winter siek geword en dit het elke keer langer en langer geneem om te genees. Die laaste jaar was sy omtrent pal aan haar bed gekluister. Die dae dat sy nie sleg gevoel het nie, was baie minder as die ander.
So saam met haar ma se gesondheidsprobleme het die jare en haar jong lewe ook verbygevlieg. Hendrik le Roux het later moeg geword vir wag. Hy kon net nie verstaan dat sy nie haar ma alleen kon los nie. Nog minder wou hy verstaan dat sy haar ook nie kon saamneem Oosgrens toe nie.
Ses maande gelede is haar ma een nag net stil-stil weg. Soos wat sy geleef het, so het sy ook gegaan: stil, vreedsaam, altyd bedag op die goeie.
Martie staar na die wit seil bokant haar en vee die trane met die agterkant van haar hand van haar wange af. Sy voel hoe die neerdrukkende moedeloosheid van destyds weer om haar wil toevou. Vandat hulle die dag vir Petronella in die ryk, vrugbare aarde weggebêre het, daar waar die blomme nou al weelderig groei, woed hierdie begeerte in haar: sy wil by haar pa kom!
Sy het nagte omgeworstel met die probleem. Sy wou self vir haar pa van sy groot verlies gaan vertel. Sy wou daar wees om hom te troos wanneer hy van sy verlies hoor. Sy weet hoe ’n groot skok dit vir hom gaan wees. Hy was dan nie eens daarvan bewus dat haar ma se gesondheid die afgelope drie jaar so agteruitgegaan het nie.
Soos die Groot Voorsiener egter altyd voorsien, was daar hierdie keer ook uitkoms. ’n Jong sendingpaar, Hans en Ilze Frieling, moes van die Kaap af Walvisbaai toe gaan.
Apools en sy kleinseun, Chrisjan, Martie-hulle se twee getroue handlangers, het sonder om vrae te vra net eenvoudig hul goed begin pak. As sy gaan, moet hulle saamgaan. Daar is niemand anders wat na haar kan kyk nie.
Op die ou wa, wat beslis al beter dae geken het, het sy al haar aardse besittings gelaai en met die bietjie geld wat sy gehad het, moes sy ’n ordentlike span osse koop. Daar het dus nie veel oorgebly nie.
Hulle het stadig en rus-rus gevorder, sonder noemenswaardige teëspoed. Hans is ’n knap man. Sy twee hande staan vir niks verkeerd nie. Die paar probleme wat daar was, kon hy met gemak hanteer.
Oral langs die pad was daar boere wat hulle vriendelik gehelp het. Selfs deur die suide van Suidwes-Afrika het hulle ’n paar boeregesinne teëgekom. Hulle was maar min, maar darem genoeg sodat die reisigers nie heeltemal afgesonder gevoel het nie.
Vier lange maande is hulle al op pad. Volgens Hans het hulle besonder goed gevorder. Hulle het dit juis so beplan om voor die reëntyd by hul onderskeie bestemmings te wees.
Hier op Karibib moes haar en die Frielings se paaie egter skei. Hulle gaan Shepmansdorp toe. Dis ’n sendingstasie naby Walvisbaai en hulle moet nou wes draai. Hiervandaan moet sy nou noord gaan om by haar pa te kom. Volgens wat sy verstaan, is dit nog ’n groot afstand – maklik nog ’n maand of meer se trek met die ossewa.
Hierdie gevaarlike, woeste wêreld sal sy onmoontlik vrou-alleen kan aandurf. Apools is nie meer jonk nie en die omgewing is vir hom net so onbekend soos vir haar. Sy moes noodgedwonge wag totdat hier iemand verbykom wat noord gaan sodat sy saam met hulle kan trek.
Hier op Karibib, wat eintlik maar net ’n proviandpos is, wag sy nou al twintig dae lank. Sy het haar wa ’n entjie van Klaus Stolz se huis-winkel-hotel getrek en so wag en wens sy die warm, droë dae om. Die Stolze is vriendelike, gasvrye mense. Hulle het egter ’n swetterjoel kleingoed. Martie kon dit nog nie regkry om hulle te tel nie. Hulle was nog nooit almal gelyktydig bymekaar nie en die een lyk net soos die ander.
Sy het dadelik besef dat dit vir hulle vreeslik ongerieflik moet wees om nog ’n gas ook in die kleine huisie te huisves. Sy slaap dus in haar wa en berei vir haarself etes voor. Sy kon darem haar voorrade hier aanvul.
Dis ook die joviale Klaus wat daarop aangedring het dat sy hier moet wag totdat een van die transportryers weer hierlangs kom.
“Jy is gedoriewaar gelukkig, juffrou.” Sy geradbraakte Afrikaans was vir Martie soos musiek in haar ore. Sy kan heelwat Duits praat en verstaan, maar dit klink vir haar vreemd op haar eie tong.
“Hoe so, meneer Stolz?” Sy het angstig nader gestaan.
“Braam Potgieter is ’n paar weke gelede hier verby Walvisbaai toe. Hy is met drie waens vol velle en ivoor op pad – hy verkoop dit daar. Wanneer hy terugkom, laai hy altyd die waens vol voorrade, wat hy dan so streep-streep langs die pad aflaai.”
“Gaan hy noordwaarts?”
“Ja, hy is tans ons enigste transportryer vir daardie deel. Die ander manne wil nie meer ry nie. Hy boer sommer daar naby jou pa se sendingstasie.”
Sy kon huil van dankbaarheid. Dat alles so goed sou uitwerk, sou sy nooit kon droom nie. Skaam vir haar kleingelowigheid kon sy net stil-stil ’n dankgebed opstuur. Met ’n ligter hart kon sy ’n paar dae later van Hans en Ilze afskeid neem.
Die dae was vir haar eindeloos lank. Die afgelope week al stuur sy elke oggend vir Apools met die perd in die rigting van waar die waens moet kom. As sy net weet dat hulle aan die kom is, sal hierdie vreeslike angstigheid in haar bedaar.
Haar ongeduld spruit uit haar haas om by haar pa te kom. In haar verbeelding sien sy al die plooitjies om sy oë saamtrek van skone verbasing. Sy kan al sy verraste uitroep hoor en sien hoe hy sy arms vir haar oophou. Hy sal haar vasgryp en styf teen hom vasdruk.
Haar oë is sag as sy aan haar pa dink en ’n sagte glimlag plooi stadig om haar mond. Hy sal haar natuurlik nie meer kan oplig en in die rondte swaai nie – sy is darem nou al te groot! Sy is al . . . ja, laat sy dit maar aan haarself erken: sy is ’n oujongnooi! Ander meisies van vyf en twintig is lankal getroud en het al ’n hele string kinders.
Vanoggend het Apools hier aangejaag gekom met die perd. Hy het uitgelate afgespring en sy hoed in die lug geswaai. Martie het vinnig nader gehardloop.
“Hulle is aan die kom, juffrou Martie. Daar is drie waens.”
Sy het al haar goed nagegaan. Alles is egter skoon en netjies. Om die dae om te kry, het sy die hele wa uitgepak en uitgeskrop. Die seil van die watent is ook weer wit geskrop, die potte is blink geskuur en elke dingetjie is net reg. Die man moet tog nie nodig hê om vir haar te wag nie.
Volgens Klaus vertoef Braam Potgieter nooit lank hier op Karibib nie, want hy hou daarvan om vinnig te trek. Hy sal uiters vir ’n dag of twee oorstaan.
Met ’n vinnig kloppende hart vol verwagting het sy die waens sien aankom. Sy het haar oë skrefies getrek teen die skerp sonlig. Die man het geleidelik in haar gesigsveld verskyn. Sy het haar oë ’n paar keer geknip en gewag dat hy nader moes kom. Met haar hand bokant haar oë as skerm, kon sy nie glo wat sy sien nie. Dit was die grootste mens met die weligste swart baard wat sy al ooit in haar lewe gesien het.
Van ver af kon sy sy bulderende stem hoor soos hy op die osse en die touleiers skree. Dit was eers toe hy nader kom dat sy kon hoor dat die bulderende woorde deurspek is met vloekwoorde.
In haar vyf en twintigjarige bestaan het sy nog nooit iemand so wild en ongetem, so na aan ’n barbaar soos hierdie man gesien nie.
Haar hande bewe liggies en sy vat die Bybeltjie stywer vas. Sy maak haar oë toe om kalmte in haar gemoed te kry, want net om weer aan die man te dink, laat haar bewe.
Sy maak die Bybel sommer hier voorlangs oop. Dit kalmeer haar altyd om sommer net te lees. Later onthou sy wel party van die dinge wat sy nou so gedagteloos lees. Dit help haar darem om van die verskrikking daar buite te vergeet.
Die lettertjies dans voor haar oë in die skemerte van die watent.
En die Here het vir Abraham gesê: Gaan uit jou land en uit jou familie en uit jou vader se huis, na die land wat ek jou sal wys.
Haar angstigheid verdwyn geleidelik en dit voel of sy weer vry kan asemhaal. Sy sluit haar oë sodat die betekenis van die woorde diep in haar deurmekaar gemoed kan indring.
Abraham het in die geloof getrek. Hy het ook nie geweet waarheen hy gaan of wat verder van hom sal word nie. Hy het net geglo.
Met ’n effense sug maak sy die Bybeltjie toe en sonder om haar oë te sluit, prewel sy saggies: “Here, is dit dan geloof wat ek kortkom?”
Sy staan op, maak haar lang hare los en borsel dit vinnig uit. Die bolla word behendig agter haar kop vasgedraai sonder dat sy eintlik besef wat sy doen. Sy vee met haar hande oor haar netjiese grys rok en rol die moue af. Die wit, gestyfde kragie word reggetrek en dan eers voel sy netjies genoeg om na buite te gaan.
Besluiteloos draai sy rond. Sy moet nou besluit. Sy moet nou aan die Here en aan haarself erken of sy ook bereid is om in die geloof te trek, soos Abraham.
Sy strengel haar vingers inmekaar en knyp haar oë styf toe voordat sy geluidloos bid: Ja; Here, ek glo! Ek sal gaan. Ek sal soos ’n Abraham die onbekende ingaan, want, Here . . . ek . . . ek het nêrens anders om heen te gaan nie.
Sy voel tog beter en selfs haar hart is effens ligter toe sy agter by die wa uitklim.
Buite staan sy eers ’n oomblik stil en luister. Alles is egter rustig. Sy het langer daar in die watent gelê en droom as wat sy besef het. Die man se osse is al uitgespan en weggelei. Verder weg kan sy die gedempte stemme van sy handlangers hoor.
Sy haal diep asem en probeer haar gedagtes skoonmaak van die skrik van vroeër vanmiddag. Sy moet kalm en heeltemal op haar gemak lyk wanneer sy die groot man met die swart baard in die oë kyk. Haar hele toekoms hang van hom af.
Stadig stap sy met die uitgetrapte voetpaadjie af na Klaus Stolz se huis. Klaus se growwe stem kom laggend deur die oop deur na haar toe aangesweef: “Jy kan darem bier drink soos water, Braam. Jy is die enigste mens wat ek ken wat die goed so kan wegsluk!”
Braam lag bulderend.
“Enige mens wat deur hierdie woestyn gekom het, kan maar bo ingooi. Al die bene en holtes in jou liggaam is uitgedroog. Toe-toe, Duitser, ek is al meer as ’n uur hier en ek het nog net vyf bekers bier in. Hoe is dit dan vandag met jou?”
Martie se moed begewe haar. Sy draai vinnig om en stap eers ’n wye draai op die werf. Sy probeer diep en egalig asemhaal. Sy weet nie wat sy nou die meeste vrees nie – hierdie wilde, onbekende land of hierdie woeste mansmens!
Dis al sterk skemer toe sy doelgerig terugstap na die huis toe. Sy stap sommer by die agterdeur in. Die voorkant, wat dien as winkel en kroeg, is net met ’n gordyn van die kombuis geskei.
Sy hoor hoe die mans nog sonder ophou gesels. Dan steek sy egter in haar spore vas en luister onbeskaamd af.
Klaus se stem klink rustig en dit laat die bekommernis ’n oomblik uit haar gemoed wyk.
“Sy sal nie ’n probleem wees nie, Braam. Sy is op pad na ou sendeling Schlage toe. Hy is daar naby jou, as ek reg onthou. Sy wag al amper drie weke lank vir jou. Sy ken nie die wêreld nie. Dis darem nie ’n land waarin ’n vrou alleen kan rondtrek nie. Sy weet ook nie waar die drinkplekke is nie.”
Martie gee ’n tree nader aan die gordyn en wag angstig op sy antwoord. Toe hy egter praat, is dit so hard dat sy maar in haar wa kon gewag het. Sy sou in elk geval alles kon hoor.
“Nee wat, dankie! Ek is haastig en wil by my huis kom voordat die reëntyd aanbreek. Dis al klaar September. Daar kan nou enige tyd buie begin uitsak.”
“Maar, Braam, luister nou . . .”
Dit klink of hy Klaus nie eens hoor nie. Sy stem is ’n paar tone laer toe hy weer praat.
“Ek is nou klaar met transport ry, ou Klaus. My pa is mos verlede jaar dood en die plaas staan nou alleen. Daar is te veel wilde goed en ’n mens kry te veel skade. Dit sal lekker wees om net te boer. Hierdie maande op die wapad is nie ’n lewe nie. Ek het my huis verbreek en groter gemaak. Op my wa is nog boumateriaal wat ek saamvat. Met die geld wat ek vir die velle en ivoor gekry het, gaan ek vir my mooi koeie en kalwers koop. Spoggoed! Ou Vaal Jaap wil syne verkoop. Hy wil mos trek. Simpel! Waar wil jy nou ’n beter en mooier wêreld kry as daar bo by ons in die Noorde? Die man is getik, sê ek jou! Maar hy is hoeka al so snaaks vandat sy ou vrou dood is. Ek sê nog altyd . . .”
Met ’n sinkende gevoel staan Martie weer terug. Hy oorweeg nie eens die versoek nie! Hy is ook nou besig om heeltemal van die punt af te dwaal. Dankbaar hoor sy hoe Klaus hom in die rede val.
“Haar osse is mooi vet, Braam, en sy sal jou nie hinder nie. Sy sal net so vinnig soos jy kan trek. Sy wil ook graag voor die reëntyd op Grootfontein wees.”
“Hoe het sy hier gekom?” Braam se stem is driftig en verskrik druk Martie haar hand voor haar mond.
“Sy het saam met ’n sendingpaar wat Walvisbaai toe is van die Kaap af tot hier gekom. Hulle moes natuurlik nou wegdraai en sy moet noordwaarts gaan.”
“Nou wil jy hê ék moet met die ou kerkgeraamte aansukkel! Vir dae en weke moet ek alleen saam met die ou fossiel in die veld wees. Klaus, jy ken tog die Noorde. Jy weet dis ruig en bebos. Die ou ding sal haar flou skrik vir elke voël wat voor haar opvlieg. Ek sê nou vir jou, sy kry haar eerste hartaanval voor ons op Omaruru is.”
Martie hoor hoe hy driftig sy bier opslurp voordat hy weer praat.
“Sy is in elk geval simpel om iets in die Noorde te gaan soek.”
“Ag, Braam, man, jy is nou sommer onnodig moeilik. Ek sê mos vir jou sy is op pad na ou sendeling Schlage toe. Jy ken tog die ou, sy sendingstasie is op jou pad. Ek het al gesien dat jy vir hom goed saamneem.”
“Ja, die ou siel ken ek. Hy is seker by die honderd en tagtig jaar oud. Die laaste keer wat ek hom gesien het, was hy ellendig siek van koors. Hy het nie eens geweet ek was daar nie. Ek het nooit gehoor of hy dit toe oorlewe het nie.”
“Braam, luister nou net ’n slag na my –”
“Nee, Klaus, jy kan na mý luister! Ek is die een wat met haar gaan sukkel. Wat gebeur as die ou sendeling intussen die emmer geskop het en ons kom daar op ’n verlate sendingstasie aan? Wat maak ek dán met haar?”
Daar is ’n kort stiltetjie en Martie is so geskok dat sy glad nie haar gedagtes kan formuleer nie.
Dan tier Braam voort: “Nee wat, dankie, ou Klaus. As jy aangebied het dat die ou ding hier kan bly, is sy jou verantwoordelikheid. Jy gaan haar sowaar nie op my afskuif nie. Ek sal vir ou Schlage gaan sê dat hier ’n ou plooigesig vir hom wag. Hy kan haar self kom haal.”
Martie hoor hoe hy verontwaardig snork. “Verbeel jou! Ék moet nou weke lank met die ou pikkewyn op die wapad wees!”
Klaus se stem is ook nou driftig.
“Braam, wees net redelik. Teen die tyd dat die sendeling die boodskap kry, is dit reëntyd en dan is dit maande voordat hy kan trek. Jy weet tog ek het nie plek hier vir ’n gas nie. Sy kan mos darem nie maande lank en dwarsdeur die reënseisoen in die wa bly nie.”
“Ag, Duitser, gooi vir my liewer nog ’n bier in. Ek vererg my sommer vir jou! Is dit haar ou wa wat daar onder die boom staan?”
“Ja, dit is. Hoekom vra jy?”
“Ek sal nie van my agterdeur af skuur toe trek daarmee nie. Dis dan net ’n bondel planke. Die Noorde is nie gemaak vir sulke mankoliekerige goed nie. Die ou wa sal ook nie Omaruru haal nie.”
“Braam, sy wil nie hê jy moet haar help nie. Sy wil net saam met jou trek sodat sy kan sien waar die uitspanplekke en drinkplekke vir die diere is.”
Braam vloek grof en die hoendervleis slaan op Martie se arms uit.
“Klaus, jy ken my tog – ek kan vloek dat die son stilstaan. Moenie dat een van my waens vasval of breek nie, dan gaan kruip die son weg. Jy weet ook hoe kan ek bier drink. Die ou plooigesig sal heeldag vir my loop en preek oor my sondigheid. Ek het tog nie lus daarvoor nie en ek sal haar dalk ’n paar woorde toevoeg wat haar hart sal laat staan.”
Martie staan verslae en vasgenael op een plek. Sy hoor nie meer die helfte van wat Braam so gekleurd kwytraak nie.
Een sinnetjie bly by haar maal: “Hy was ellendig siek van koors.” Haar pa is siek! Dalk is sy te laat, dalk leef hy nie eens meer nie! Bekommernis en vrees meng met die ongeduld in haar.
Sy draai sag om en stap kop onderstebo terug na haar wa toe. Die wa kraak kermend toe sy inklim. Haar gedagtes registreer egter nie sulke alledaagse dinge nie. Alles maal en kolk onstuimig binne-in haar. Sy sal nou baie vinnig ’n besluit moet neem. Sy moet eenvoudig so gou moontlik by haar pa kom.
Vinnig sit sy regop toe ’n idee haar skielik te binne skiet. As hy moet weet sy is die sendeling se dogter en glad nie so oud as wat hy dink nie, sal hy dan bereid wees om haar saam te neem? Ingedagte byt sy op haar lip. As sy aan die bebaarde man dink, maak die vrees haar lam en gedagteloos. So ’n woestaard wat soveel bier kan drink en so vreeslik kan vloek – tot wat is hy nie nog alles in staat nie?
Moedeloosheid dwing haar op haar knieë. Lank staan sy so voor die kampbedjie – sonder raad of hoop. Haar gedagtes wil nie vorm aanneem nie en haar denke is net ’n warboel van skokke. Sy staan later op. As sy rustiger is, sal sy weer probeer bid. Nou is dit hopeloos.
Sy gaan sit in die opening van die watent. ’n Ligte bries stoot soos ’n asemteug teen haar wange. Die werf raak stil en die aandgeluide meng met die stilte binne-in die wa.
Sy eet ’n stukkie en begin haar aandwerkies afhandel. Haar hande werk stil en sommer vanself, terwyl haar gedagtes koorsagtig ’n opening uit die doolhof soek.
Vasberade stoot sy haar probleem later op die agtergrond. Tyd bring raad. Vannag as sy rustiger is, sal sy die probleem weer uithaal en probeer orden.
Die wit linnenagrok vou los en sag om die skraal lyfie. Haar hare hang in twee dik vlegsels oor haar skouers en dit laat haar jonk en weerloos lyk.
Heelwat later klim sy bo-op die kampbedjie en vou haar bene onder haar in. Haar hande klem om die verslete ou Bybeltjie waaruit sy al soveel leiding en vertroosting geput het. Sy sluit haar oë en toe sy hierdie keer bid vir leiding, is dit stil en afwagtend binne-in haar.
Vanaand sal sy uit Rut lees: Rut wat ook eens na ’n vreemde land moes gaan; Rut wat ook sonder heenkome was. Sy lees die hele boek deur en dan val haar blik weer op ’n stukkie wat sy reeds gelees het – hoofstuk drie, van vers sewe af. Dis asof die flikkerliggie van die kers dié gedeelte spesiaal uitsonder.
Nadat Boas geëet en gedrink het, en sy hart vrolik was, en hy gaan slaap het by die ent van die hoop, het sy stilletjies gekom en sy voetenent oopgemaak en gaan lê. En die man het teen middernag geskrik en vooroor gebuig en gesien daar lê ’n vrou aan sy voetenent. En hy vra: “Wie is jy?” Toe antwoord sy: “Ek is Rut, u dienares, brei dan u vleuel oor u dienares uit, want u is die losser.”
Ingedagte bêre Martie haar Bybel onder haar kussing en lê agteroor. Sy vou haar hande onder haar kop en staar peinsend na die skrefie naghemel wat deur die opening van die seil sigbaar is.
Boas se hart was ook vrolik. Dit maak seker nie nou saak of dit van wyn of van bier was nie. Tog . . . Rut het in hom ’n oplossing vir haar probleem gesien.
Sy sug. Sy glo nie Boas kon vloek soos hierdie man nie. Hy sê dit in rympies op, en met soveel smaak dat dit seker vir hom lekker is! Wel, van een ding is sy amper seker en dis dat Boas ook so ’n nare swart baard moes gehad het. Ten spyte van alles het Rut egter haar toekoms in Boas se hande geplaas.
Martie trek haar skraal skouers agteroor toe sy haar op haar elmboog lig om die kers dood te blaas. Wel, as Rut kans gesien het . . . wie is sy dan om terug te deins?
Die reuk van die vetkers hang gesellig in die tent toe sy teen die kussing teruglê. Sy glimlag wrang en fluister dan in die donker stilte: “Slaap rustig, ou Boas met jou vrolike hart. Sodra jy die wapad vat, slaap Rut by jou voetenent!”