Читать книгу 'n Juffrou vir Skurwekop - Sarah du Pisanie - Страница 4

Hoofstuk 2

Оглавление

“Wat de drommel! Meneer Brand!”

Bertus Kruger se woedende stem weerklink deur die rustige stilte. Annie se hande verstil en nog met die rok in haar hande stap sy vinnig deur toe.

“Ja, meneer Kruger?”

“Wat gaan hier aan?”

“Waar, meneer Kruger?”

“Hier in die badkamer. Moenie nou vir jou dom hou nie!”

Annie stap ongeërg tot skuins agter Bertus Kruger.

“Wie se werk is dit?” Bertus beduie woedend na die wit lakens en die rooi-en-groen gestreepte deken wat netjies met kopspelde vasgesteek is.

“E . . . e . . .” Oom Gawie maak ongemaklik keel skoon.

“Dis myne, meneer Kruger.”

Bertus swaai om en Annie begroet sy blitsende oë met ’n skynheilige glimlaggie.

“Dit behoort te werk, meneer Kruger. ’n Boer kan altyd ’n plan maak!”

“Haal dit dadelik af!” Rooi van woede sis hy die woorde afgemete uit.

“Ek dink nie dit sal wenslik wees nie, meneer Kruger. Die badkamer se deur kan wel sluit, maar as ek nou uit die badkamer kom, kan dit net wees dat van die seuns nie geklee is nie. Jy ken tog seuns . . . Ek weet, ek het drie broers.”

“Juffrou Delport . . .” Bertus stik van woede in sy woorde.

“Ja, meneer Kruger?” Haar stem is stroopsoet.

“Jy gaan nie hier bly nie!”

“Sê wie?”

“Sê ek!” Vererg sluk hy die woorde in, vies vir homself dat hy haar staan en napraat. As sy nou ’n seun was, het hy haar behoorlik gestraf.

“Dis nog altyd my skool! Verstaan jy my, juffrou Delport? Hierdie seuns is opgevoede, gedissiplineerde kinders en ek sal nie sulke . . . sulke onwelvoeglikheid hier toelaat nie.”

“Meneer Brand sê hy kan dit met ’n paar planke afskort, meneer Kruger. Dis jy wat dit nie wil toelaat nie. Dit sal baie onwelvoegliker wees as ek die badkamer net so saam met die seuns moet gebruik.”

Buite homself van woede storm Bertus Kruger by die deur uit.

In sy kantoor sit hy ’n oomblik lank met sy kop in sy hande. Wat moet hy doen? Die departement sal waaragtig nie ’n ander onderwyser vir hom stuur nie. Meneer Lindtveld en sy trawante is jaloers op hierdie skool wat so selfonderhoudend is. Hulle soek net heeldag iets teen die skool.

Hy en ou meneer Fourie het heel goed aangegaan. Ou Anton is al diep in die vyftig, maar hy is ’n toegewyde onderwyser, net so ’n bietjie aan die sukkelkant. Hy neem selde self ’n besluit. Hy wat Bertus is, het al dikwels gevoel dat dit sy taak as hoof oneindig sal vergemaklik as ou Anton tog net van die kleiner besluite op hom wil neem. Die skool het so uitgebrei dat hulle nou dringend nog ’n leerkrag nodig het. Hulle het met agt seuns begin, almal toe in standerd sewe. Die eerste jaar was dit net hy. Die volgende jaar het daar sewe nuwelinge bygekom. Toe het Anton gekom om te help. Die jaar daarna het daar ses nuwe­linge bygekom. Vanjaar verwag hulle nege nuwelinge. Daar is nou altesaam dertig leerlinge in vier verskillende standerds.

Vanjaar het hy sy eerste matriekklas. Hulle gaan soveel ekstra aandag nodig hê. Dis absoluut noodsaaklik dat hy nog ’n onderwyser kry.

Hy het alles so netjies beplan. Die nuwe outjies sal ’n groep vorm, en die standerdagts en -neges sal ’n groep vorm, sodat die matrieks alleen kan wees. En nou dit!

As hy geweet het hulle beoog om vir hom ’n vroumens te stuur, sou hy self gedurende die vakansie ’n onderwyser gaan soek het. Hulle het hom egter net laat weet dat ene A.M. Delport die pos aanvaar het.

Hy gryp skielik die telefoon en draai die slinger met

mening.

Ek sal my nie laat intimideer nie! Hulle sal eenvoudig vir my ’n ander onderwyser móét stuur. As hulle nie wil nie, sal ek en Anton maar weer alleen moet aansukkel. Die sewes en agts moet dan maar ’n groep vorm en die neges en tiens een.

“Hallo, Bertus!” Martie gee kortasem antwoord.

“Ja! Martie, ek wil –”

“Bertus, neem tog net eers hierdie hooflynoproep, asse­blief.”

“Goed.” Bertus wag dat die oproep moet deurkom. Ou Lindtveld het hom seker nou bedink en iemand anders gekry. HulIe sal darem ook moet leer hy laat nie met hom speel nie.

“Meneer Kruger?” ’n Vrouestem klink in sy oor op.

“Ja, dis hy wat praat.”

“Meneer Kruger, dis mevrou Jordaan, Anton Fourie se suster.”

“Môre, mevrou. Anton is nog nie hier nie. Ek verwag hom eers teen die namiddag se kant.”

“Ek weet, meneer Kruger. Hy is nog hier by my. Hy . . . hy is siek. Ons weet nog nie wat makeer nie. Hy het die vakansie hier gekuier en die afgelope week is hy nie gesond nie. Hy wou vanoggend ry, maar hy is so siek dat ons hom in die bed gestop het. Die dokter was nou net hier en hy reken hy wil hom ’n paar dae in die hospitaal laat opneem. Hy wil ’n paar toetse doen.”

Bertus staar geskok na die gehoorbuis in sy hand, asof dit ’n slang is wat hom gaan pik.

“Maar, mevrou . . .”

“Meneer, hy is vreeslik ontsteld. Hy weier koppig om hospitaal toe te gaan. Ek is baie bekommerd oor hom. Hy sê egter hy sal net gaan as die nuwe onderwyser wel daar aangekom het, want hy kan jou nie so alleen met die seuns los nie.”

Stom staar Bertus voor hom uit.

“Het hy dalk al gekom, meneer Kruger, sodat ek Anton die versekering kan gee?”

“Ekskuus?”

“Ek vra of hy al gekom het?”

“Wie?”

“Die ander onderwyser.” Die vrou se stem klink effens geamuseerd.

“Ja . . . ja, sy is hier . . .”

“O, maar dis wonderlik! Dan kan Anton eers hospitaal toe gaan vir die toetse. Baie dankie, meneer, ek sal jou weer later bel om te sê wat die uitslae van die toetse was.”

“Ja . . . ja, dis goed so.” Verdwaas sit Bertus die gehoorbuis neer.

Wat gaan hom nog alles vandag tref? Hy staar verwilderd voor hom uit. Die telefoon lui skril: twee langes en ’n korte, twee langes en ’n korte. Asof van ver af registreer dit eers ná die derde luitoon by Bertus dat dit sy lui is. “Ja?”

Dis Martie se kortasem stemmetjie wat in sy oor opklink.

“Watter nommer wou jy gehad het, Bertus?”

“Nommer?”

“Ja, jy het mos netnou vir ’n nommer geskakel? Toe sê ek jy moet net eers die hooflyn vat.”

“O, ja! Nee . . . nee, ek wil nie meer ’n nommer hê nie.”

“Skort daar iets?”

“Nee, nee, alles is in die haak.”

Hy sit die gehoorbuis terug. Soos ’n ou man gaan staan hy voor die venster. Vandag verskaf die pragtige tuin en netjiese landerye hom geen plesier nie.

Hierdie skooltjie is gebou op ’n deel van sy plaas. Hy het dit afgestaan vir die skool. Sy plaashuis is ongeveer twee kilometer hiervandaan.

Vanjaar wou hy weer in sy eie huis gaan woon het. Hier sou twee onderwysers gewees het om na die seuns in die koshuis om te sien. Hy sou meer aandag aan sy eie boerdery kon gee, want sy middae sou nie meer so geheel en al deur die seuns se bedrywighede in beslag geneem word nie. En nou dit!

Oom Brand kyk maar dat alles op sy plaas reg gaan. Hy het goeie werkers en sy plaas is ’n pronkstuk hier in die kontrei. Hy wou egter vanjaar rustiger leef, dinge ietwat afskaal. En hy wou ekstra tyd aan sy eerste matriekklas bestee.

’n Ligte, huiwerige tikkie aan sy deur laat hom met ’n sug omdraai.

“Ja?”

Oom Gawie staan effens verleë voor hom.

“Meneer Kruger, die juffrou – wat nou van haar?”

“Ek weet nie, oom Gawie. Anton Fourie is ook nog siek. Hulle het hom in die hospitaal opgeneem.”

“Haai, meneer Kruger, en nou?”

“Nou weet ek nie, oom Gawie. Nou weet ek regtig nie meer nie.”

“Moet ek die juffrou maar terugneem dorp toe?”

Bertus Kruger kyk by oom Gawie verby. As hy haar nou terugstuur, sal die departement sommer uit pure moedswilligheid nie vir hom ’n ander onderwyser stuur nie. En sê nou net Anton kan dalk nie hierdie kwartaal al terugkom nie? Wat maak hy dan?

“Skort tog maar die badkamer met ’n paar planke af, oom Gawie. Daardie lapgedoentes sal nie werk nie.”

Oom Gawie moet sukkel om die glimlag van sy gesig af te hou.

“Goed, meneer Kruger.”

Hy verdwyn vinnig en Bertus sien hoe hy behoorlik wegdraf met sy kort beentjies. Hy is natuurlik vreeslik haastig om vir haar te gaan vertel dat Bertus Kruger vandag sy moses teëgekom het.

Annie glimlag toe sy ’n rukkie later die gekap en getimmer in die badkamer hoor.

“Hy moet darem dink hy kan my sommer wegjaag soos ’n brandsiek hond,” praat sy saggies met haar spieëlbeeld. Dis al amper twee-uur en sy voel rasend honger. Sy wens iemand wil haar kom roep vir ete. Peinsend stap sy later uit en gaan staan op die stoep. Dan stap sy met besliste treë kombuis toe. As dit sy idee is om van haar ontslae te raak deur haar uit te honger, ken hy haar nog sleg.

“Goeiemôre, of liewer, goeiemiddag.” Sy groet vriendelik toe Filemon nader kom.

“Hoe laat eet die mense hier? Ek is so honger soos ’n wolf.”

“Gewoonlik eenuur wanneer die seuns hier is. As meneer Kruger alleen hier is, soos vandag, eet hy maar wanneer hy kom.”

Annie staan besluiteloos rond. Sy wonder of sy ook nou sonder kos moet bly omdat meneer Kruger nie hier is om te eet nie.

Filemon kyk half verbouereerd rond.

“Maar . . . die kos is klaar as juffrou dalk wil eet.”

“Dankie, Filemon, dit sal lekker wees. Die trein het vroeg op die stasie gekom en ek het dus nie ontbyt op die trein gekry nie. Die hongerpyne knaag nou behoorlik.”

Filemon glimlag breed en Annie stap deur na die eet­kamer waar net een tafel gedek is.

Dis goeie kos – heerlike, vars groente en baie lekker vleis, maar alles is net opgekook. Die vleis is effens gebraai, maar Annie voel dat hulle darem baie beter kan doen met dit wat tot hulle beskikking is.

Ná die ete gaan lê sy ’n bietjie op haar bed. Vir Bertus Kruger het sy nog nie weer met ’n oog gesien nie.

Eers teen vieruur se kant hoor Annie gedempte stemme buite. Dit moet die seuns wees wat nou begin aankom. Hulle is egter baie stil en stemmig. Aarde, dis onnatuurlik! Seuns is raserige, lawaaierige goed. Sy het mos darem self drie broers.

Alles is baie streng en formeel hier. Bertus Kruger regeer die seuns natuurlik met ’n ysterhand. Dit lyk beslis so! Sy sal maar liewer ’n paar briewe huis toe skryf. Sy sal haarself nie nou al aan die seuns gaan bekendstel nie. Dit gaan in elk geval chaos wees.

’n Ligte tikkie aan haar deur laat haar vinnig regop sit en voordat sy kan antwoord, loer iemand met ’n rooi seunskuif om die deur. Hy sien haar nie dadelik raak nie, maar stoot net die deur met sy voet oop en skuif ’n groot tas by die deur in. Annie glimlag. Dis natuurlik Kobus Snyman, die hoofseun.

“Hallo.” Annie staan op en sy kan die giggeltjie vir die verbaasde uitdrukking op die seun se gesig net nie keer nie.

“Ek- . . . ekskuus!” Die seun staan verbouereerd rond en sy hande en voete voel skielik uit verhouding uit groot sodat hy nie weet wat om daarmee te maak nie.

“Ek is juffrou Annie Delport. Jy is seker Kobus Snyman?”

Die rooikop knik net ongelowig sy kop op en af, heeltemal uit die veld geslaan.

“Daar was so ’n klein misverstand, Kobus. Blykbaar het hulle sommer aangeneem dat die nuwe onderwyser ’n man is. Jy slaap van nou af in die kamer aan die ander kant van die badkamer. Jy en die onderhoofseun sal ’n kamer deel.”

Die seun kry geen woord uit nie en sluk swaar aan die knop in sy keel.

Annie lag lekker.

“Dis nie nodig om so verbaas te wees nie. Ek dink jy sal dit ook meer geniet. Ek kan nie dink dat dit lekker is om saam met ’n onderwyser in een kamer te slaap nie.”

“Nee, meneer . . . ek bedoel, ja . . . nee, juffrou, ek . . .”

“Kamer nommer vier is jou kamer, Kobus. Ek is jammer vir die ongerief. Maar dis darem seker nie te erg nie, nè?”

“Nee, me- . . . nee, juffrou.”

Vinnig gryp hy sy tas en verdwyn heeltemal deur die wind by die deur uit.

Annie loer versigtig deur die skrefie van die deur. Oor vyf minute sal al die inwoners van die koshuis seker weet dat hier ’n juffrou in plaas van ’n meneer is.

Haar skatting is heeltemal uit! Dit duur net drie minute voordat die laaste deur oopgaan en nuuskierige oë uit alle rigtings na haar kamerdeur staar.

Oënskynlik baie ongeërg kom die seuns op die stoep uit en drentel daar rond. Hulle loer egter kort-kort na die toe kamerdeur, doodnuuskierig om die nuwe juffrou te sien.

“En toe, wat staan julle so rond? Julle weet jul tasse moet uitgepak wees voor aandete!” Bertus Kruger se harde, nors stem laat die seuns vinnig in hul kamers verdwyn.

“Ongeskikte ding!” Annie se woorde slaan vas teen die groen geverfde deur.

Hy het natuurlik die meeste van hulle nog nie eens gesien of gegroet nie. Nou raas hy sommer. Hy gaan seker nog al sy frustrasies oor haar ook op die seuns uithaal.

Sy wens meneer Fourie wil kom. Dalk is hy vriendeliker en behulpsamer en sal sy by hom kan vasstel wat daar alles van haar verwag word.

“Jan, kom help jy en Oswald my gou! Ek sal weer van my goed hiernatoe moet bring. Meneer Fourie is siek en sal nie nou al terugkom nie. Ek sal eers weer my ou kamer betrek totdat hy terug is.” Bertus Kruger blaf die woorde sonder ’n tikkie vriendelikheid uit terwyl hy wegstap.

Twee seuns kom vinnig nader gedraf. Die skraalste een steek sy hand na Bertus toe uit en groet beleef.

“Goeiemiddag, meneer.”

“Middag, Jan. Het julle lekker vakansie gehou?” Bertus skud die seun se hand afgetrokke en dit lyk nie juis asof hy op ’n antwoord wag nie.

“Ja, dankie, meneer.”

Annie giggel saggies. Dis snaaks dat die seun hom nie salueer nie. Hy is so styf en militaristies. Sy sal haar mooiste aandrok verwed dat hy ’n militaristiese bynaam het.

Met lang treë stap Bertus voor die seuns uit sonder om verder aandag aan hulle te skenk. Dis doodstil in die koshuis totdat die wit bakkie se dreuning gehoor word en dit om die koshuis verdwyn.

“Ek het gedink ou Zeus sal darem ’n bietjie vriendeliker wees ná die vakansie. Maar die miere byt! Dit byyyt!”

Die vrolike stem hier naby haar kamerdeur laat Annie vinnig haar hand voor haar mond druk. Sy het hul humorsin onderskat. Hy is dus nie ’n sersant-majoor soos wat sy hom sou doop nie; nee, hy is Zeus, die hoof van die Griekse gode.

“Haai, jy moet saggies, Persephone hoor vir jou.”

“Wie is dit?” Die stem is nou beslis gedemp.

“Ou Kobus sê ons het ’n vroumens hier in Jan Salie se kamer.”

“Ek wil weet wie Persephone is, Pieter. Ek is nie so op die hoogte met die Grieke nie.”

“Persephone was die mooi dogter van die godin van landbou.”

’n Gedempte gelag bars los en Annie giggel saam.

“Wie was die een met die klomp slange op die kop?”

“Ou Medusa.”

“Wel, dalk lyk sy so! Geen regdenkende mens sal hier kom skoolhou nie, veral nie ’n mooi, jong juffrou nie.”

Annie wens sy kan die stemme se eienaars sien.

“Ou Kobus het haar mos gesien. Hoe sê hy, hoe lyk sy?”

“Hy het te groot geskrik. Hy sê hy het nie nog tyd gehad om te kyk ook nie.”

Annie stap na die spieël toe en kam haar hare. Sy trek haar rok se kraag reg en smeer ’n bietjie lipstiffie aan haar lippe.

By die deur haal sy eers ’n slag diep asem. Sy het nou wel drie broers, maar dis darem nie heeltemal dieselfde as om dertig seuns gelyktydig aan te durf nie. Haar handpalms is klam toe sy die deurknop draai en uitstap op die stoep. Die geselskap droog eensklaps op en al die seunsgesigte draai stadig na haar kant toe. Daar is net omtrent tien van hulle, maar vir Annie voel dit soos ’n see van gesigte wat haar aanstaar. “Ek is juffrou Delport, jul nuwe onderwyseres.” Sy steek haar hand na die een naaste aan haar uit. ’n Kuiltjie kom speel wegkruipertjie in haar wang toe sy na die verdwaasde, ongelowige gesig kyk. “Wat is jou naam? Jy lyk of jy ’n spook gesien het.”

“Pieter. Pieter van Greunen, juffrou.”

“Goeiemiddag, Pieter.” Sy skud sy hand en hou dit dan uit na die een langs hom.

“Org van Rensburg, juffrou.” Annie kan dadelik hoor dat dit die vrolike stem van netnou is.

Sy groet die hele groep seuns met die hand en probeer om soveel name moontlik te onthou.

“Kry ’n mens nie smiddae hier ’n bietjie koffie nie?” Sy kyk verlangend na die kombuis se kant toe.

“Ja . . . ja, juffrou. Hulle sit dit altyd daar op die tafeltjie neer. Moet ek vir juffrou gaan haal?”

“Ek sal dit self gaan kry, dankie, Org. Ek het net nie geweet of hier koffie is nie.”

Hulle tou agter haar aan tot by die tafeltjie.

“Gaan juffrou hier bly? Ek bedoel . . . hier in die koshuis?”

“Ja, dit lyk nie juis of ek ’n keuse het nie.”

Annie glimlag vir die seun met die mooi, bruin oë. Sy sal later hulle almal se name weer vra. Hierdie groep is seker nie van die matrieks nie. Hulle moet jonger wees. En hulle is beslis nie nuwelinge nie – daarvoor is hulle te bekend met die omgewing.

Die seuns skink vir hulle ook koffie in en gaan sit saam met Annie onder die boom.

“In watter standerd is julle?”

Sy blyk toe reg te wees. Ses van hulle is in standerd agt en vier is in standerd nege.

“Waar is al die matrieks dan? Ek het nog net vir Kobus, die hoofseun, ontmoet.”

“Hulle is by die skool om die nuwelinge welkom te heet en so ’n bietjie rond te wys. Hulle sal nou-nou hier wees, juffrou.”

“Ek het netnou gehoor meneer Kruger sê dat meneer Fourie siek is. Weet julle iets daarvan?”

“Nee, juffrou, dis die eerste woord wat ons daarvan

gehoor het en dis ook maar al . . . Maar meneer Kruger sal –”

Annie kyk na die onnutsige gesiggie. As sy hom nou ’n halwe kans gee, sal hy allerhande goed oor Bertus Kruger kwytraak. Sy weet hulle wil haar toets en kyk aan wie se kant sy is.

Haar lojaliteit kry egter die oorhand en sy praat hom vinnig dood.

“Ja, siestog, nou gaan meneer Kruger baie sukkel, want ek is ook nog rou hier. Ek hoop maar net dat ek hom soveel moontlik sal kan help. Julle sal my tog maar moet bystaan.”

Sy sien hoe hulle toeklap. Dis jammer. Maar sy kan nie dislojaal wees teenoor die skoolhoof nie. Dit maak nie saak wat haar gevoelens oor hom is nie. Sy en hy behoort ’n span te vorm. Sy voel baie sterk oor sekere dinge wat nie vir haar reg lyk hier nie, maar dis nie in haar aard om iemand agter sy rug te bespreek nie.

“Lui daar saans ’n etensklok?”

“Ja, juffrou.”

“Nog ander klokke? Wat moet julle alles saans doen? Ek was nog nie vantevore by ’n landbouskool nie en beslis nog nooit in ’n seunskoshuis nie.”

Die seuns lag. Hierdie juffroutjie lyk heeltemal hanteerbaar. Hulle sien vir haar kans. Hulle sal haar net moet toets en kyk hoe ver ’n mens met haar kan gaan. Sy sal moet oorgehaal word na hul kant toe.

“Ons eet gewoonlik saans halfsewe, juffrou. Daar lui net een klok. Van halfagt af studeer ons in die eetsaal tot halftien.”

Sy wil nie die seuns ophou nie, dalk is daar nog dinge wat hulle moet doen. Sy verdwyn dus gou weer na haar kamer toe. Met beklemming sien sy hoe hulle saamkoek om haar te bespreek toe die deur agter haar toegaan. Hierdie klompie gaan moeilik wees. Hulle gaan haar toets en sy sal net moet sorg dat sy die toets slaag. Sy sal graag wil sien dat die seuns meer ontspanne is en dat hier ’n bietjie meer vrolikheid heers, maar darem nie ten koste van alle reëls en dissipline nie. Sy sal maar geduldig moet wag en kyk wat die toekoms vir haar inhou hier op Skurwekop.

'n Juffrou vir Skurwekop

Подняться наверх