Читать книгу Sandroos uit Meob - Sarah du Pisanie - Страница 3

Hoofstuk 1

Оглавление

Die windjie roer die riete liggies, pluk stout aan die meisie se hare en ruk aan haar rok. Soos ’n kind wat nie genoeg aandag kry nie, waai hy die volgende oomblik haar hare baldadig in haar gesig.

Ansa lag hardop en probeer nie eens om die hare uit haar gesig te vee nie. Sy trek haar rok hoër op sodat haar knieë wit uitsteek en hardloop met haar kaal voete om die duin wat plek-plek met polgras en riete begroei is.

Sy trek die vars, skoon lug diep in haar longe in en die vrede van die natuur met sy ongeskonde skoonheid kom vou warm om haar hart.

Op hierdie oomblik is dit haar grootste wens dat hulle vir altyd en altyd net hier kan bly. Vandat die laaste delwers twee maande gelede getrek het, het hierdie verlate woestyndorp die eerste keer vir haar soos ’n tuiste begin voel.

Sy kyk na die ruwe skoonheid om haar en sug. As dit nie vir vader Sebastiaan was nie, was hulle ook nie nou meer hier nie.

“An-saa!” Haar naam kom dof op die windjie aangesweef. Traag om gehoor daaraan te gee, maak sy asof sy dit nie hoor nie.

“Ansa, kom!” Hierdie keer is daar beslis ’n noot van kommer in die stem en Ansa vee die hare uit haar gesig en skerm met haar hand bokant haar oë.

Suster Theresa se wit rok word deur die wind styf teen haar skraal lyf vasgedruk. Sy hou die wit sluier op haar kop krampagtig met haar een hand vas.

Sy roep en wink en Ansa kan die dringendheid in haar hele houding sien.

Ansa hardloop oor die dik, sagte sand en die kommer laat haar met meer krag vorentoe beur.

“Wat is dit?” skree sy van ver af, maar suster Theresa het reeds omgedraai en drafstap terug na die houtkerkie en verdwyn dan om die gebou.

Uitasem storm Ansa by die deur in. Haar oë is groot en verskrik. Sy haal ’n paar keer diep asem en knip haar oë vinnig om aan die halfskemer gewoond te raak.

Suster Theresa is nie in die voorkamer van hul woonplekkie nie. Soos een wat ’n heiligdom betree, stap sy met die kort gangetjie direk na vader Sebastiaan se kamer toe.

Suster Theresa sit voor sy bed, en met teerheid vee sy die skraal gesig met ’n nat lap af.

Vader Sebastiaan se hare maak ’n donkerder kol op die wit kussing. Sy gesig is vertrek van pyn terwyl groot sweetdruppels op sy voorkop vorm.

“Suster?” Ansa se vraende stem is net ’n fluistering.

Suster Theresa kyk op. Haar blou oë dra ’n woordelose boodskap oor en Ansa voel hoe die vrees haar stadig bekruip.

Wat gaan van hulle twee vroue alleen hier in die woestyn word? Meob het ’n spookdorp geword. Vandat daar diamante op Oranjemund ontdek is, het die delwers sommer oornag weggetrek om daar na groter rykdomme te gaan soek. Neels en Valerie Dreyer het nog gebly. Hulle wou aanvanklik nie vir haar en suster Theresa met die siek vader Sebastiaan alleen hier los nie.

Vader Sebastiaan het beter begin word en toe, skielik, het dit sommer weer slegter gegaan. Twee maande gelede het die roepstem van die blink klippies selfs vir Neels en Valerie te veel geword. Die gevolg was dat hulle ook opgepak het, en daarna kon hulle nie vir suster Theresa heeltemal in die oë kyk nie. Neels het darem belowe om die polisiepatrollie hierheen te stuur om hulle te kom haal.

Ansa staan versigtig nader en kniel voor die bed. Sy vou die maer hand waarop die blou are uitgeswel lê in hare toe.

“Vader . . . vader moet gesond word. Ons kan nie sonder u wees nie. Ons was dan juis so bly toe u hier aankom om ons te kom haal. Wat . . . gaan nou van ons word?”

Die moeë oë flikker oop en ’n glimlaggie kom lê om die droë lippe.

“Julle sal regkom. Julle is die twee wonderlikste mense wat ek nog ontmoet het.”

Ansa se trane drup op die maer hande en suster Theresa se gewoonlik bedaarde gesig vertrek van hartseer en sy byt op haar onderlip om die trane te keer.

“O, nee, vader Sebastiaan, u is die wonderlikste mens wat óns nog ontmoet het. U het u lewe gewaag om ons hier te kom haal. Alleen het u hierdie gevaarlike tog aangepak, en kyk net na die vreeslike gevolge. Ek háát daardie man wat dit aan u gedoen het,” sê Ansa snikkend.

“Jy mag nie haat nie, my kind. Wie hy ook al is . . . hy is en bly God se kind.” Suster Theresa se hand kom rus op haar rukkende skouers en soos gewoonlik bring haar woorde dadelik berusting in Ansa se gemoed.

Dis ’n paar oomblikke lank doodstil in die kamer en suster Theresa sit haar hand op vader Sebastiaan se voorkop.

Sy oë flikker oop en sy glimlag is sag toe hy na haar kyk.

“Jy is ’n wonderlike vrou, suster Theresa. Ek . . . het vir jou lief geword hierdie afgelope klompie weke. Liewer as wat ek ooit vir enigiemand anders in my hele lewe was.”

Ansa loer vinnig na suster Theresa en die uitdrukking op haar gesig is byna goddelik, sodat Ansa vinnig haar blik laat sak.

“Vader . . .” Die siek man hou sy hand op om suster Theresa stil te maak.

“My tyd is kort . . . ek moet praat.”

Twee blink trane loop nou oor suster Theresa se wange en Ansa kan sien hoe vader Sebastiaan met verwondering daarna kyk. Hy lig sy hand moeisaam op en vee liggies oor haar wang voordat hy dit weer moeg op die spierwit deken laat neerval.

Ansa besef dat hierdie oomblik aan suster Theresa behoort en sy mik om op te staan.

Vader Sebastiaan keer haar egter.

“Bly asseblief hier, kind. Jy . . . moet mooi na Suster Theresa kyk wanneer ek weg is. Julle was so goed vir my. Julle . . . het my laat besef dat daar nog . . . liefde in hierdie wêreld is. Selfs . . . vir my.”

“Maar hoe praat u dan nou, vader Sebastiaan? U is dan die een wat ander mense van liefde leer. Kyk net hoeveel het u vir ons twee opgeoffer! U het álles geoffer . . . U het u eie léwe vir ons geoffer.” Ansa se stem is rou. Hulle het so lief geword vir hom.

Hy het hier aangestrompel gekom met ’n koeëlwond laag in sy buik. Suster Theresa het alles gedoen wat sy kon. Sy weet meer van medisyne af as enigiemand anders hier teen die kus.

Nadat die Dreyers weg is, het dit met rukke beter gegaan. Hulle besef dat hy eintlik by ’n hospitaal moes kom, maar daar was niemand om hulle te neem nie. Maar van verlede week af het hulle besef dat hulle besig is om die stryd te verloor. Magteloos moes hulle toekyk hoe hy stadig maar seker agteruitgaan.

Suster Theresa glimlag begrypend terwyl sy weer met die nat lap oor sy gesig vee.

“Dis te verstane dat jy nederig sal wees, vader Sebastiaan. Die Meester was ook so. Ons sal jou met baie liefde onthou. Ons sal altyd onthou hoe jou onselfsugtigheid en nederigheid deel van jou menswees was.” Suster Theresa se stem is sag en baie teer.

Vader Sebastiaan se hand sluit om hare en daar is soveel liefde in sy oë dat dit ’n knop in Ansa se keel bring.

“Dalk is dit beter dat ek gaan . . . Die eerste keer in my lewe begeer ek ’n vrou en . . . daar sou vir ons geen toekoms saam kon gewees het nie.” Sy stem is so opreg en eerlik dat Ansa sommer hardop snik.

“Sal . . . jy vir oulaas vir my ’n bietjie water gaan haal . . . by die pomp?” Hy glimlag vir suster Theresa, wat dadelik opstaan.

Sy hand klem om Ansa s’n met ’n dringendheid wat haar intuïtief laat besef dat hy haar hier wil hou, dat hy vir haar iets wil sê wat suster Theresa nie mag hoor nie.

Toe suster Theresa se skraal gestalte by die deur uit is, draai sy oë na haar en daar is soveel smeking in hulle dat sy weer stil op haar knieë langs die bed neersak.

“Ansa, jy moet mooi kyk na haar. Ek . . . is eerlik wanneer ek sê dat . . . ek lief is vir haar.”

“Ek sal, vader. Ek sal. Ek . . .” Haar stem breek in ’n snik.

“Jy moet haar veilig hier wegkry. Wees versigtig . . . pas­op vir . . .” Sy stem raak horterig en Ansa spring verskrik op.

“My . . . Bybel . . .”

Haar oë soek wild na sy Bybel op die tafeltjie.

“Joune . . . vat dit vir jou . . . kyk . . .”

Suster Theresa kom vinnig in en Ansa weet dat sy die entjie na die pomp toe gehardloop het. Sy weet presies hóé kort sy tydjie regtig is.

Ansa skuif op sodat suster Theresa weer langs vader Sebastiaan kan staan. Suster Theresa lig hom versigtig op en hou die beker met die koel water teen sy lippe.

Sy asem is gejaag en baie vlak. Hy lê eers ’n rukkie lank met sy oë toe en dan, met bomenslike inspanning, maak hy dit oop en beduie na die Bybel.

“Joune.” Die woord vorm net op sy lippe en Ansa knik instemmend terwyl sy die Bybel styf teen haar bors vasdruk.

Vader Sebastiaan voel-voel na die kruis wat hy om sy nek gedra het en Ansa tel dit dadelik van die tafeltjie op en hou dit na hom toe uit. Met dowwe oë waarin die dood reeds skuil, kyk hy na suster Theresa, wat dit eerbiedig by Ansa vat.

Sy mond vertrek en hy knik baie liggies.

Suster Theresa druk die kruis teen haar lippe en haar blou oë is blink van die trane.

“Dit sal van nou af my kosbaarste besitting wees. Want sien, vader Sebastiaan, ek het vir jou ook lief geword. Eendag sal ons weer ontmoet en dan . . . sal daar niks wees wat ons verhinder om vir ewig aan mekaar te behoort nie.”

Die uitdrukking van tevredenheid wat oor vader Sebastiaan se gesig kom, is die mooiste en skoonste iets wat Ansa nog aanskou het.

Die ligte deining van sy bors raak stil. Die vrede en heiligheid van suster Theresa se woorde bly oor hom hang terwyl sy haar hand uitsteek en dit op sy bors druk.

Ansa kyk na die twee mense hier voor haar. Daar is geen skrik of vrees op suster Theresa se gesig te bespeur nie. Dis met verwondering dat Ansa besef haar eie gemoed is ook stil en kalm. Hoe mooi is die dood nie vir die mens wat weet waar sy eindbestemming is nie!

Die wind waai die trane op haar wange droog terwyl Ansa al met die lae duine langs stap. Die verslete Bybel is steeds styf teen haar bors vasgedruk.

Hulle het hom so ’n kort rukkie geken, en tog het hy so diep in hul harte ingekruip. Arme suster Theresa, wat haar eerste en enigste liefdesverklaring op só ’n manier moes kry.

Ansa kan die trane wat nou vinniger kom, nie keer nie. Sy huil oor vader Sebastiaan en sy huil oor suster Theresa, die enigste moeder wat sy die afgelope klompie jare gehad het.

Haar pa was ook ’n delwer soos die meeste ander mense hier rond. Toe diamante op Kolmanskop ontdek is, het hulle sak en pak van die Transvaal af verhuis. Sy was toe vier jaar oud. Die eerste jaar het dit taamlik goed gegaan. Sy en haar ma het in weelde gelewe, want op Kolmanskop was oorgenoeg om van te leef. Eie aan die delwers het die dag van môre nie bestaan nie.

Met haar sussie se geboorte is haar ma en die baba dood. Net sy en haar pa het oorgebly. Op tienjarige ouderdom het sy ’n ma bitter nodig gehad.

Haar pa kon nooit haar ma se dood verwerk nie. Hy het al meer na die bottel gegryp om sy hartseer en verlange weg te drink. Hy het nie meer gelewe nie, net probeer om te bestaan.

Toe diamante hier op Meob ontdek is, was hy een van die eerstes wat hierheen gekom het. Hy wou seker maar ontvlug van al die bekende dinge.

Hier op Meob, die onherbergsame dorpie ’n ent van die kus af, het dit tog beter gegaan. Dit was asof die woestyn en die see hom uitgedaag het. Met hernude ywer het hy sy kragte teen die elemente ingespan. Maar ses jaar gelede het hy sommer skielik net siek geword. Dalk was dit die harde lewe en die ontberings wat hul tol geëis het. Tien dae later was sy alleen en sonder familie op die aarde.

Hier op Meob was suster Theresa alles. Sy was dokter en predikant, sieketrooster en ook ’n moeder vir die arme weeskind. Hier aan die agterkant van die houtkerkie het Ansa maar haar intrek by Suster Theresa kom neem. Gelukkig is hier vir elkeen ’n kamer, ook een vir vader Ferdinand wat gereeld elke derde maand saam met die polisiepatrollie gekom het.

Hy het gewoonlik ’n week lank gebly. In dié tyd het hy dan gepreek, mense getrou, kinders gedoop en Nagmaal gehou.

Vir haar was dit geensins lekker jare nie. Hier was te veel wilde, ruwe mans. Suster Theresa het haar nie toegelaat om alleen buite rond te loop nie. Veral die afgelope paar jaar, vandat sy in ’n jong vrou ontwikkel het, is sy strenger opgepas. Vir haar vrolike, spontane gees was dit ’n pyniging.

Vader Ferdinand het aan die begin van die jaar afgetree en sal seker terug Duitsland toe gaan. Vader Sebastiaan het intussen in sy plek gekom. Hierdie besoek was sy eerste en ook sy laaste aan hulle.

Toe die delwers agter groener weivelde aan begin trek het, het vader Sebastiaan besluit dat hulle ook moet teruggaan Lüderitz toe. Hy het saam met die polisie laat weet dat hulle hulle solank moes begin voorberei sodat hulle saam met hom kon teruggaan.

Hulle was so opgewonde oor die nuus. Veral sy. Op Lüderitz is meer mense, en sy sou meer vryheid hê. Suster Theresa het reeds begin planne beraam om haar Windhoek toe te stuur sodat sy op haar eie bene kon staan.

Sy sou gaan verpleeg het. Alles wat suster Theresa haar moontlik kon leer, het sy haar geleer. Sy is dus nie heeltemal onkundig wat verpleging betref nie.

Ansa gaan sit teen die duin en kyk peinsend na die rooibruin woestyn wat so in die oneindigheid versmelt.

Wat ’n lewe van kontraste was dit nie die afgelope jare nie. ’n Wêreld van ruwe delwers en die ongenaakbare woestyn met sy onvoorspelbaarheid.

Elke stukkie kos wat hulle eet, moet eers met die boot van Walvisbaai of Lüderitz af kom. Met platboomskuite word die kos tot by die land gebring. Dan eers begin die proses om die goedere die hele ent deur die woestyn na Meob te vervoer.

Gelukkig kon hulle darem water kry hier op Meob. Dis iets wat baie skaars is in hierdie droë geweste. Sy onthou nog hoe bly almal was die eerste dag toe hier ’n pomp opgesit is en die water in ’n blink straal begin uitloop het.

Die delwers het daardie aand tot wie weet watter tyd gedrink en geraas. Dit was een van die min kere dat Ansa vir suster Theresa moedeloos en verslae gesien het.

Ansa onthou nog hoe haar stem gebewe het toe sy hardop vra: “Hoe kan ’n mens op só ’n manier dankie sê vir so ’n groot gawe? Ek verstaan die mense nie, Ansa. Party dae voel dit vir my asof al my werk niks oplewer nie. Bring so iets dan nie die mens nader aan sy Skepper nie?”

Ansa was ’n oomblik lank verslae en het nie geweet wat om te sê nie. Soos altyd het sy maar net haar kop styf teen suster Theresa se skouer gedruk.

“Jou werk hier op Meob was darem nie heeltemal sinloos nie, suster Theresa. Jy het jou oor my ontferm en jy het my al soveel dinge van die lewe geleer. Ek is so lief vir jou en ek sal altyd dankbaar wees vir alles wat jy vir my gedoen het.”

Suster Theresa het ’n soentjie op haar hare gedruk, diep gesug en opgestaan.

Omtrent ’n jaar gelede het suster Theresa met haar fyn aanvoeling vir dinge ’n sakie geopper wat haar baie na aan die hart lê. Sy het Ansa ’n rukkie peinsend dopgehou voordat sy gepraat het. “Ons sal jou hier moet wegkry, Ansa. Jy word nou te groot en jy is baie, baie mooi. Hierdie mans sal hulle nie langer laat keer nie. Ek gaan net vanaand vir vader Ferdinand skryf en sê hy moet jou kom haal.”

“Ek gaan nie sonder jou nie, suster Theresa,” het sy walgegooi.

Daar het ’n glimlaggie in suster Theresa se oë kom skuil toe sy praat.

“My tyd is ook verstreke hier, Ansatjie. Die mense praat van diamante wat op Oranjemund ontdek is. Hulle sal soos vlieë agter die aas aantrek. Ek ken die delwers. Hulle hoop altyd op ’n beter môre. Môre bring groot rykdom en groter kleims.”

Dit was toe ook soos sy voorspel het. Van die twintig gesinne het tien dadelik getrek. Toe nog vyf, en ’n maand later die ander vier. Die Dreyers het nog gewag, maar toe dit vir hulle begin lyk asof dit slegter gaan met vader Sebastiaan, het hulle ook maar geswig voor die versoeking van rykdom.

Nou is dit net hulle twee en die elemente van hierdie wrede, ongenaakbare wêreld. Twee vroue alleen met ’n sukkelende groentetuintjie en ingemaakte en gedroogde kos wat baie min word.

Ansa druk die Bybel stywer teen haar vas. Sy sal nie nou daarin kan lees nie. Die wind sal die blaaie skeur. Die Bybel in haar hande bring tog vertroosting en berusting. Hulle weet tog waar hul hulp vandaan kom! Hoekom sal sy nou paniekerig word?

Sy sug diep en kyk na die sagte buitelyne van die duine. Hulle sal dadelik moet begin planne beraam om hier weg te kom. Veel langer sal hulle nie hier kan bly nie. Op hierdie oomblik is daar egter ’n groter bekommernis: hulle sal vader Sebastiaan moet begrawe. Daarna sal die tyd maar verder moet leer.

Traag en onwillig om die morbiede atmosfeer te betree, stap Ansa ’n rukkie later terug.

Suster Theresa is in die kerkie en Ansa gaan sit ook stil agter in die kerk op ’n bankie. Daar brand kerse en suster Theresa staan op haar knieë, haar hande voor haar saamgevou in gebed. Dierbare mens met haar groot geloof! Haar liefde vir die edel mens hier voor haar hang ’n oomblik salwend om Ansa.

Sy laat haar kop sak en suster Theresa se geluidlose gebede vind aanklank in haar hart. Saam dra sy vir vader Sebastiaan aan die Hoër Hand op. Sy weet dat hy nou afkyk na hulle en sy sien voor haar geestesoog die sagte lig van liefde in sy oë. Net soos vroeër toe hy na suster Theresa gekyk het.

Alles gebeur tog maar met ’n doel, al verstaan die mens dit nie altyd nie. Vir vader Sebastiaan en suster Theresa sou daar nooit ’n toekoms saam kon gewees het nie. Nou het suster Theresa darem mooi herinneringe wat later in ’n droom verweef sal word. ’n Droom wat dikwels baie mooier as die werklikheid is, omdat dit met net die mooiste gevul word.

Ansa sug liggies. Sy weet tog goed hoe hard die werklikheid kan wees. In haar twintig jaar het sy al te veel daarmee kennis gemaak.

’n Hand druk liggies op Ansa se skouer en haar oë fladder oop. Suster Theresa staan stil langs haar. ’n Sagte glimlaggie huiwer om haar mond en haar oë is neergeslaan.

“Kom, ons sal moet regmaak vir die begrafnis.”

Ansa staan op en stap saam met suster Theresa by die deur uit.

“Ek sal eerste grawe. Gelukkig is die sandgrond sag.” Ansa rol solank haar rok se moue op.

Suster Theresa keer haar egter met ’n besliste hand.

“Ek sal liewer eerste grawe.” Sy glimlag verskonend. “Jy kan die laaste stuk grawe. Ek sal nie meer uit die gat kan klim nie.”

Ansa slaan haar arm om suster Theresa se skouer en druk haar styf teen haar vas.

“Hier is mos twee grawe. Ons sal saam grawe en die laaste stukkie sal ek alleen doen. Daar is mos geen haas nie.” Haar stem is so sag en vol begrip dat suster Theresa vinnig wegdraai sodat Ansa nie die blink trane in haar oë moet sien nie.

“Ons sal dit ongelukkig diep moet maak. Hier gaan niemand wees om daarna te kyk nie. Die strandjutte sal die graf kom oopgrawe. Ons . . . sal ook eersdaags moet gaan.” Suster Theresa se stem is bewerig en Ansa weet dat sy nou bomenslike inspanning gebruik om dit nie te laat breek nie.

“Die strandjutte kan maar vergeet, ons sal die gat diep genoeg maak sodat geen wolf daar sal kan kwaad doen nie,” troos Ansa.

Daar is in elkeen van die vroue se hart ’n groot dankbaarheid oor hierdie groot taak wat vir hulle voorlê; hierdie eis wat aan hul beperkte krag gestel word. Dit hou ten minste hul gedagtes besig en help dat hulle nie aanhou tob oor ’n ander probleem nie – ’n probleem wat groot en ontstellend op die agtergrond huiwer.

Dié aand versorg suster Theresa vader Sebastiaan se liggaam en saam plaas sy en Ansa hom in die ruwe houtkis wat nog in die pakkamer is.

Die graf is eers teen laat die volgende middag klaar.

Ansa se spiere is styf en seer en haar gesig vuil van die sand toe sy saam met suster Theresa afkyk in die sandgraf.

“Ons . . . sal maar die diens vanaand hou, Ansa. Jy kan nou gaan bad en jou klere aantrek. Ek sal solank alles regmaak.”

“Goed, suster. Ek sal gou maak sodat ons dit nog voor donker kan doen.” Ansa sit die graaf eenkant neer en stap na haar kamer toe.

Haar kerkrokkie is al hopeloos te klein. Suster Theresa het nou die dag belowe om vir haar klere te laat maak sodra hulle in Lüderitz kom. Die rokkie span styf om haar bors en sit net-net onder haar knie. Die swart kouse wat onder die wit rokkie uitsteek, is dik gestop, maar dit sien Ansa nie eens raak nie.

Sy was haar hare om van die stof ontslae te raak en vryf dit sommer met die handdoek droog. Dis nog klam toe sy dit vleg en om haar kop draai.

Suster Theresa wag al vir haar in die kerk.

Ansa sit stil voor haar en kyk. Soos altyd in die verlede is hier ’n rustigheid en vrede wat jy nêrens anders ervaar nie.

Stadig bedaar die onrus in haar binneste en vloei die moegheid uit haar stram ledemate.

Hulle twee kan nie die kis alleen dra nie en is genoodsaak om dit op ’n kombers te sit en tot teenaan die graf te sleep. Ansa kyk met groot oë na suster Theresa toe hulle uitasem langs die oop graf tot stilstand kom. “Ons . . . kan nie anders nie, Ansa. Ons . . . sal maar die kis hier moet inrol.” Suster Theresa vermy haar oë.

“Nee! Nee, ons kan dit nie doen nie!”Ansa se stem is beslis. Sy is jonk en sterk. Sy kan nie toelaat dat vader Sebastiaan op so ’n hardhandige manier tot rus kom nie.

“Ek sal ’n tou gaan haal, dan laat sak ons die kis daarmee.”

Suster Theresa kyk bekommerd na Ansa en byt op haar onderlip.

“Ons kan probeer, maar . . . ek dink nie ons is sterk genoeg nie.”

Ansa kom terug met die tou en skuif dit onder die kis deur. Die tou is gelukkig lank en hulle kan dit twee keer deursit sodat hulle dit met albei hande kan vasvat. "Goed, kom ons probeer.” Ansa probeer optimisties klink en span al haar krag in.

Hulle lig die kis stadig en met groot moeite tot oor die gat, maar skaars ’n meter van bo af moet suster Theresa die stryd gewonne gee en glip die tou uit haar hande.

Toe die kis met ’n dowwe geluid die bodem van die graf tref, is sy langs Ansa en druk sy haar styf teen haar vas. Sy wieg die snikkende jong vrou liggies heen en weer asof sy nog ’n baba is.

“Hy . . . sal verstaan, Ansatjie. Ons . . . het net nie die krag gehad nie.” Toe die snikke effens bedaar, los sy haar en sonder ’n verdere woord tel sy die een graaf op en begin die graf toegooi.

Suster Theresa se gedagtes bly by Ansa wat nog steeds met haar hande voor haar gesig staan. Arme kind! Die lewe het haar tot dusver maar stief behandel. Hulle moet hier wegkom voordat groter ellende hulle tref. Wat gaan van die kind word as sy ook iets moet oorkom?

Die felheid van hierdie nuwe probleem maak haar knieë lam en magteloosheid wil-wil oor haar toesak.

Sy sug diep toe Ansa se graaf hier langs haar in die donker flits.

In stilte skep en gooi hulle – twee vroue wat al geleer het om saam met die ongenaakbare elemente van hierdie harde land te leef. Skep en gooi. Skep en gooi totdat die sand ’n bultjie stoot in die bleek maanskyn.

Sandroos uit Meob

Подняться наверх