Читать книгу Sandroos uit Meob - Sarah du Pisanie - Страница 4

Hoofstuk 2

Оглавление

“Suster! Suster Theresa! Daar is iemand aan die kom!” Ansa storm teen die duin af en die sand maak vaal vlerke agter haar voete.

Suster Theresa kom uitgehardloop en ’n glimlag sprei oor haar gesig.

“Waar?”

“Nog ver, suster. Ek het hom met die verkyker gesien.”

“Is dit ’n polisiepatrollie?” Daar is ’n hoopvolle noot in suster Theresa se stem.

“Net een man. Ek kon nie sien of dit ’n polisieman is nie. Hy ry op ’n kameel.”

“Dan is dit seker ’n polisieman. Neels Dreyer het tóg woord gehou en vir hulle gaan sê dat ons nog steeds hier op Meob is.” Suster Theresa lag verlig en dis asof die spanning van die afgelope tyd soos water van haar afrol.

Sy vat Ansa se arm en haar oë is blink en gelukkig.

“Kom ons gaan maak vir hom iets lekkers om te eet. Ons hoef mos nie nou meer spaarsaam te wees nie. Hy sal nou ’n goeie bord kos kan waardeer.”

Suster Theresa drafstap behoorlik terug huis toe en Ansa kyk ’n slag om asof sy verwag dat die man al hier agter hulle moet wees. Sy voel lus om te sing toe sy die lewenslus weer in haar voel opborrel. Hierdie afgelope twee weke vandat vader Sebastiaan dood is, was vir hulle maar ’n moeilike tydjie.

Sy en suster Theresa het die saak baie bespreek en uit alle moontlike hoeke bekyk. Hulle het besluit dat dit moeilikheid soek sou wees om die woestyn alleen aan te durf. Hulle sou alles in gereedheid kry sodat hulle kon vertrek sodra hier hulp opdaag.

Die lang wag het vir hulle begin. Daar was nog kos vir omtrent ’n maand oor. Hulle het egter veiligheidshalwe vir hulle padkos eenkant gesit en die ou rolbalie wat tussen die delwershuise gelê het, gaan haal en skoongemaak. Die balie is swaar en Ansa het besluit dat sy dit sou trek. Dit was vir haar nog altyd ’n oulike patent. Aan die vaatjie het hulle twee asse vasgekap en ’n disselboom daaraan vasgesit. Die balie is vroeër agter ’n muil vasgemaak en het dan soos ’n wiel agter die pakdier aan gerol.

Selfs hul roete is klaar uitgewerk. Hulle kan al met die see langs stap. Daar is dit koeler en die moontlikheid dat hulle ’n patrollie sal teëkom, is soveel groter, aangesien dit die roete is wat hulle gewoonlik ry.

“Nou kan ons dalk ons besittings ook saamneem. Dis mos nie veel nie! Die polisieman sal dit op die kameel kan laai.” Ansa haal die aartappels uit en begin solank skil.

“Die Here is baie goed vir ons, my kind. Ons sal vanaand vir die polisieman ’n heerlike ete gee en hom goed laat uitrus. Ons behoort seker oor ’n dag of twee in die pad te kan val. Maak jy solank vir ons die groot pot vol water. ’n Reisiger geniet tog altyd ’n warm bad. Die ou woestyn bied mos nie sulke geriewe nie.”

Suster Theresa se dankbaarheid en verligting vloei soos ’n stroom water by haar mond uit. Sy praat aanmekaar en Ansa glimlag net. Dierbare mens! Sy het haar natuurlik so stilweg morsdood bekommer oor wat van hulle gaan word. Eie aan haar het sy egter nooit deur woord of daad laat blyk dat sy enigsins kommer in haar gemoed het nie.

Suster Theresa bly skielik stil en haar blik gaan opsommend oor Ansa.

Ansa kyk op en sonder om iets te sê, wag sy met ’n glimlag om haar mond. Sy raak verleë toe suster Theresa net stil na haar kyk en niks sê nie.

“Skort daar iets?” Sy kyk vraend na haar rok wat suster Theresa so ernstig beskou. Die rokkie is klein en span styf oor haar bors, maar dis silwerskoon.

“Jy moet liewer daardie rokkie gaan uittrek. Dit span te styf om jou, dit lyk nie mooi nie.”

Ansa lag ongelowig en kyk na die rok wat nou skielik vir suster Theresa aanstoot gee.

“Maar suster weet tog hulle is almal te klein.” Sy rem aan die rok se bolyf asof sy dit só groter kan maak.

“Dis ook waar. Ek wens ek kon iets aan die saak doen.”

Ansa maak dit egter met ’n handgebaar af.

“Ek hoef mos darem nie vir ’n polisieman mooi te lyk nie, suster.”

“Dis nie die ding nie, kind! Dis net . . . jy is nou ’n volwasse vrou en ’n man bly maar ’n man, of hy nou ’n polisieman is of nie.”

“Wat bedoel suster?”

“Ek bedoel maar net dat daardie rokkie te veel wys. Ek wil nie hê hulle moet besef dat jy al ’n vrou is nie. Solank hulle dink jy is nog ’n onskuldige meisietjie, is dit beter.”

Suster Theresa raak ongemaklik onder Ansa se eerlike blik en sy verander sommer die gesprek.

“Kom kyk hier na die kos, dan gaan kyk ek gou hoe naby ons reisiger al is.” Suster Theresa is reeds by die deur uit en Ansa skud haar kop onbegrypend.

Sy skrik met ’n skok uit haar drome wakker waar sy ingedagte die inhoud van die pot staan en roer toe suster Theresa asvaal geskrik by die deur instorm.

“Gaan trek een van my rokke aan. Die swarte wat ek altyd vir kerk gebruik.”

Ansa vergeet behoorlik om haar mond toe te maak terwyl sy suster Theresa onbegrypend aanstaar, heeltemal uit die veld geslaan.

“Maak gou!” Suster Theresa druk haar na die middeldeur toe.

“Maar hoekom? Wat gaan aan?” Sy rem terug, maar suster Theresa is heeltemal verwilderd en druk haar met meer krag deur se kant toe.

“Ek sal later verduidelik, maak net gou!” Sy bondel die verdwaasde Ansa by die deur in en trek eers die pot van die stoof af voordat sy haar hande afvee en dan stadig en statig op die werf uitstap.

Die skrik sit klam in Ansa vas. Iewers is ’n groot skroef los. Sy kan glad nie begryp wat aangaan nie. Suster Theresa is altyd so kalm en bedaard en nou dié vreemde optrede en die ongewone opdrag. Iets só ongehoord het sy nog nie by suster Theresa teëgekom nie. En dit nogal haar kerkrok! Haar pragtige swart mondering met die wit sluier om die gesig . . . haar nonnedrag waarop sy so trots is dat dit amper ’n soort heilige uitrusting daarvan maak.

Ansa weet egter intuïtief dat sy nie hierdie versoek moet verontagsaam nie. Maar sy klim eers op die lae bankie sodat sy deur die hoë venstertjie kan loer om te kan sien wat daar buite aangaan.

Sy sien net vir suster Theresa wat waardig en sonder die minste teken van vrees met haar rug styf en regop staan.

Ansa rek effens om beter te kan sien en dan kom ’n kameel se kop en nek in haar gesigsveld. Die ruiter gly aan die ander kant van die kameel af en dis eers toe hy om die kameel gestap kom dat Ansa besef wat aangaan.

Dis nie ’n polisieman nie!

Die man is groot en grof gebou en op sy gesig is die stoppels van seker al ’n maand oue baard. Hy is vuil en vaal van die stof en oënskynlik baie moeg.

Ansa vou haar arms styf om haar lyf. Die hoendervleis slaan op haar arms uit soos iemand wat koud kry.

Sy klim strammerig van die bankie af en staan ’n paar sekondes lank besluiteloos in die karig gemeubileerde vertrekkie rond.

Sy sien haar verskrikte beeld in die kollerige spieëltjie teen die muur en druk haar hande teen haar wange terwyl sy woordeloos bid. Liewe Vader, moet ons tog nie in die hande van ’n rower laat beland nie. Help ons tog! Die man lyk so wreed en ru!

Haar hande werk werktuiglik en sy knoop vinnig haar blou rokkie los. Met dom vingers trek sy suster Theresa se nonnegewaad aan en staar na haarself in die spieël. Haar gesig lyk so jonk en onskuldig en die vreemdheid van suster Theresa se optrede kelk soos ’n blom voor haar oop.

Die man hier buite sal geen respek aan ’n gewone jong meisie betoon nie, maar dit kan net wees dat hy die nodige respek vir hierdie amper heilige gewaad sal hê.

Op hierdie oomblik is sy en suster Theresa uitgelewer aan die genade van hierdie man.

Die stemme kom dofweg na haar toe aan deur die plankmuur en sy lig haar ken beslis. Sy sal vir suster Theresa moet gaan help. Statig soos wat suster Theresa altyd beweeg, lig sy die rok se soom effens op en stap uit op die werf. Daar daal ’n doodse stilte oor die twee mense toe sy uitkom. Suster Theresa draai na Ansa en daar is ’n goedkeurende lig in haar oë.

“Dit is suster Ansa. Dis net ons twee wat hier op Meob is. Vader Sebastiaan was baie siek en ons kon nie saam met die ander delwers vertrek nie. Neels en Valerie Dreyer sou egter gereël het dat ’n patrollie ons kom haal.” Suster Theresa verduidelik breedvoerig, want sy kry al meer die gevoel dat hierdie vuil, bebaarde man haar nie glo nie.

Sy stem is sag maar half sissend toe hy praat.

“Vader Sebastiaan? Ek dog dan jy sê dis net julle twee wat hier is.”

Ansa gee ’n treetjie nader en haar stem is sag en kalm toe sy hom antwoord.

“Dit is net ons. Vader Sebastiaan is twee weke gelede oorlede.”

Daar verskyn ’n skewe glimlag om die man se mond en sy stem is snydend sarkasties.

“Jammer, ou pikkewyntjie, maar ek glo jou nie.” Hy druk haar sonder ontsag uit die pad en stap sonder uitnodiging na die kerkie toe.

Die man trek ’n rewolwer uit sy gordel en sy liggaam is snaarstyf gespan. Ansa voel hoe die skrik haar lam maak tot onder in haar tone.

Suster Theresa herwin eerste haar teenwoordigheid van gees. Met ’n paar lang treë is sy by hom. Sy sal nie toelaat dat hy hul heiligdom so sonder respek betree nie.

’n Groot hand sluit egter ferm om suster Theresa se maer arm.

“As hier niemand is nie, hoef julle mos nie te vrees nie.” Sy stem is snydend sarkasties.

Ansa is nou ook by. Sy haal ’n paar keer diep asem sodat die man nie moet agterkom hoe bang sy is nie.

“Los haar arm, jy maak haar seer. Jy het geen reg om hier in te storm en ons soos . . . gevangenes te kom behandel nie.”

Sy mond plooi in ’n glimlag, maar daar flits tog iets soos respek in sy oë toe hy suster Theresa se arm los.

“Laat ons mekaar net eers mooi verstaan. Julle sê vir my wat ek wil weet, dan kry niemand seer nie.” Hy staan ’n entjie terug sodat hy hulle beter kan sien, maar die waaksaamheid verlaat nie sy lyf nie.

“Vra dan wat jy wil weet en los ons in vrede. Ons sal bly wees as jy jou ry sal kry. Ek voel duidelik hier is nie plek vir ons én vir jou op Meob nie.” Ansa se stem is vas en daar is geen teken van die vrees wat haar wil versmoor nie. Suster Theresa het altyd gesê ’n mens kry krag in ’n krisis en nou ervaar sy dit self.

“Wie is dan nog almal hier op Meob?” Die man se stem sny deur Ansa se oomblik van selfvoldaanheid.

“Suster Theresa het mos al vir jou gesê dis net ons. As jy agter om die kerk stap, sal jy vader Sebastiaan se graf daar kry.”Ansa staar hom uitdagend aan.

Die ongelowige trekkie verskyn weer om sy mond en weerkaats in sy oë en haar bloed begin kook.

“Dis nie een van ons se tydverdryf om leuens te vertel nie, meneer . . . e . . .Wat het jy gesê is jou naam?” Sy probeer so waardig moontlik wees.

“Ek het nie gesê nie, suster.” Hy lê onnodig klem op die laaste woord en Ansa het lus en bespring hom en grawe vore met haar naels deur die sarkastiese grinnik op sy gesig.

Suster Theresa ken Ansa al ’n hele paar jaar en sy sien dat dinge nou-nou gaan skeefloop. Sy staan vinnig nader sodat sy tussen Ansa en die man staan.

“Wie soek jy, meneer? Die delwers is almal Oranjemund toe. Die eerstes is al omtrent ses maande gelede weg. Daarna is die res streep-streep agterna.”

Die man frons diep en hy lyk boos en gevaarlik.

“Het hier dalk enige vreemdelinge die afgelope paar maande opgedaag?” Hy praat met Suster Theresa en ignoreer Ansa heeltemal.

Sy het ongemerk nader aan suster Theresa geskuif en hulle staan nou styf teen die muur. Vrees is besig om deur die korsie bravade te breek.

“Vreemdelinge?” Suster Theresa dink diep. Dan skud sy haar kop beslis. “Nee, hier was geen vreemdelinge nie.”

“Dink, suster . . . dink ’n paar maande terug. Drie, vier, ses . . . Enigeen, ’n polisieman, ’n delwer of ’n handelaar . . . was hier niemand nie?”

“Nee, hier was niemand nie. Toe die eerste delwers begin trek, het ek vir vader Sebastiaan laat weet om ons ook te kom haal. Ek het geweet hulle sal almal soos vlieë agter die diamante aantrek.”

“Is jy seker, suster? Was hier nie iemand wat net ’n nag oorgebly het of ’n week of wat nie?” Die groot man leun behoorlik vorentoe van gretigheid.

“Nee. Vandat die delwers weggetrek het, weet almal dat Meob ’n spookdorp geword het. Wie sal nou hierheen wil kom?”

“Maar julle is dan nog hier.” Die man lyk skepties.

“Neels Dreyer het gereël dat die polisiepatrollie ons moet kom haal. Ek het mos reeds verduidelik dat vader Sebastiaan siek was. Ons kon nie saam met die ander gegaan het nie.”

“Ek sal nie daarop reken dat die polisiepatrollie een van die dae sal kom as ek jy is nie, suster. Die polisie is salig onder die indruk dat hier geen sterfling meer is nie. Ek is bevrees jou boodskap het nooit daar uitgekom nie.”

Ansa loer onderlangs na suster Theresa. Die vrees maak haar sprakeloos. Hierdie man weet blykbaar meer as hulle. Daar is nie eens meer hoop oor nie! Hy weet nou ook dat dit net hulle hier is, met geen lewende wese om hulle te beskerm nie.

Die man beduie met sy rewolwer na die kerk.

“Stap voor my uit. Ek wil sien of hier nie dalk nog iemand is nie.”

“Maar ons sê dan –” begin Ansa vererg, maar sonder ontsag druk hy die rewolwer in haar ribbes sodat sy vinnig padgee.

“Stap stadig en moenie iets waag nie. Ek sal julle sonder die minste gewetenswroeging skiet.”

Die man kyk oral in die kerk en hul wooneenheid. Sonder om weer met hulle te praat, bondel hy hulle in die beknopte pakkamertjie in en sluit die deur.

Sy stem dra duidelik deur die houtmuur.

“Ek gaan net gou die dorp deursoek om te kyk of daar nie iemand wegkruip nie. Ek sal julle later kom uithaal.”

Suster Theresa slaan haar arms om Ansa en druk haar styf teen haar vas.

“Alles is reg, my ou kleintjie. Ons twee is mos nie bang nie. Hy sal ons niks aandoen nie, jy sal sien. Ons wag net ons kans af en dan verdwyn ons. Ons goed is mos alles reggesit. Dis beslis vir ons ’n teken dat ons vinnig hier moet wegkom.”

Suster Theresa se nabyheid kalmeer Ansa en daar is ’n ongewone veglus in haar oë toe die vuil, bebaarde man hulle heelwat later kom oopsluit.

Sy stap kop in die lug by hom verby en haar oë is koud toe sy hom kopskuddend aankyk.

Suster Theresa kyk na die man se moeë gesig. Dis vir haar duidelik dat hy baie uitgeput is. Nou is hy vir haar ’n mens in nood en dit sal nie gevaarlik wees om hom te help nie.

“Ons het kos gemaak. Kom eet. Jy is moeg en honger.” Haar stem is sag en simpatiek en met genoegdoening sien Ansa hoe dit die man heeltemal onkant betrap.

Sonder ’n woord stap hy agter hulle aan. Hy sak langs die tafel neer, maar sy amper swart oë verloor nie hul waaksaamheid nie. Hy beduie met die rewolwer vir Ansa om regoor hom te kom sit terwyl suster Theresa die kos opskep.

Ansa loer onderlangs na hom en sien hoe hy hongerig die kos verorber. Hy moet seker dae laas ordentlik geëet het. Hulle sal hul kans goed afwag. Sodra hy gaan slaap, sal hulle ’n plan moet maak om hier weg te kom.

“Wil jy nie gaan rus nie? Jy lyk moeg.” Sy probeer haar stem op dieselfde simpatieke noot kry as suster Theresa s’n. Sy sien egter met ’n bang gevoel hoe ’n fyn, sarkastiese laggie om sy mond kom lê.

Hy antwoord haar nie eens nie, hou net sy bord na suster Theresa uit vir nog. Die twee vroue sit doodstil en wag dat hy moet klaar eet. Hulle probeer nie eens om ’n gesprek aan te knoop nie.

Eindelik stoot hy sy bord terug en tel sy rewolwer op. Hy kyk na suster Theresa toe hy praat. “Jammer, ou suster, maar ek sal julle weer moet toesluit terwyl ek ’n bietjie slaap. Ek is doodmoeg; ek het twee dae laas gerus.”

Suster Theresa sug net gelate en knik.

“Dis regtig nie nodig nie. Ons kan nêrens heen gaan nie.” Haar stem klink so eerlik en opreg dat die mansmens sowaar ’n verleë grinnik op sy gesig kry.

“Ek kan ongelukkig nie die kans waag nie.” Hy beduie met die rewolwer na die oop agterdeur.

“Buffel!” Ansa kan haarself nie meer keer nie. “Wat wil jy van ons hê? Hoekom moet ons gevangenes in ons eie huis wees?”

“Omdat ek jóú nie regtig vertrou nie, suster. Ek het so ’n vermoede dat julle iets vir my wegsteek. Die leidraad was te duidelik dat Braam Venter hierheen gevlug het. Ek dink . . . hy is nog altyd hier.”

“Braam Venter?” Suster Theresa skud haar kop onbegrypend en kyk na Ansa. “Hier was nooit iemand met die naam Braam Venter nie. Nie waar nie, Ansa?”

Die man beduie weer met sy kop na die agterdeur. “Ons sal môre die sakie uitpluis. Ek is nou te moeg om helder te kan dink.”

Suster Theresa draai om en druk die rewolwer se loop wat hy op hulle gerig het eenkant toe.

“Bêre die ding. Jy het tog nie ’n rewolwer nodig om jou teen twee weerlose vroue te verdedig nie. Sluit ons liewer in een van die kamers toe. Die pakkamer is te stowwerig en beknop. My kamer het net ’n hoë venstertjie wat jy van buite af kan toemaak.” Haar stem dra soveel gesag dat Louw Greyling haar sonder ’n verdere woord laat begaan. Sy druk by hom verby en stap in die skemer gangetjie af.

Ansa gaan sit styf teen suster Theresa op die bed. Dis eers toe hulle die man se luide snorke deur die plankmure hoor dat suster Theresa fluisterend praat.

“Ons sal ’n plan moet maak om hier weg te kom, kind­jie.”

“Suster Theresa . . .” Ansa sit skielik regop toe ’n plan begin vorm aanneem.

“Ons moet hóm gebruik om ons hier weg te kry. Hy het ’n kameel en hy is groot en sterk.”

“Maar hy sal ons mos nooit saam met hom vat nie!”

“Hoe het hy gesê, na wie soek hy?”Ansa byt ingedagte op haar onderlip.

“Ene Venter . . . dink ek.” Suster Theresa kan glad nie die kloutjie by die oor bririg nie.

“Dis reg, Braam Venter. Ons moet dié Braam Venter gebruik om hom te oorreed om ons saam te vat.”

“Maar ons ken dan nie ’n Braam Venter nie!” Suster Theresa is nou heeltemal uit die veld geslaan en Ansa giggel saggies.

“Ag, vergeet dit! Dit was in elk geval ’n simpel plan.” Sy strek haar op die bed uit, maar intussen werk haar verstand kliphard soos sy planne beraam.

Sy sal hierdie plan alleen moet deurvoer. Suster Theresa se eerlike geaardheid sal maak dat ’n mens met ’n stok kan aanvoel dat sy die waarheid so ’n bietjie verdraai.

Sy sug liggies en maak haar oë toe. As hulle net op Walvisbaai of Lüderitz kan kom! Hier sal hulle die dood sit en inwag. Die polisie weet dan nie eens dat hulle nog hier is nie.

Ja-nee! Hierdie woestaard met sy bebaarde gesig en rewolwer is hul enigste hoop op oorlewing.

Sandroos uit Meob

Подняться наверх