Читать книгу Die baron van Rauenshof - Sarah du Pisanie - Страница 4
2
ОглавлениеHeidi se hart mis ’n slag toe sy die koevert met die Von Rauensteins se familiewapen in die een hoek op haar lessenaar sien lê.
Sy druk die deur stewig toe en kom dan versigtig nader asof sy bang is die koevert sal enige oomblik grom en sy tande vir haar wys.
Haar bene voel lam en sy sak stadig in die stoel neer, haar blik vasgenael op die brief, maar nog steeds ontbreek die moed haar om dit op te tel en oop te skeur.
Stadig steek sy haar hand uit en tel dit op. Dit is maar vyf weke sedert sy haar brief gepos het. So gou het sy nie ’n antwoord verwag nie. Die koevert is van duursame papier en die koningsblou-en-goue wapen laat dit aristokraties en baie deftig lyk.
Haar hand bewe terwyl sy die koevert versigtig met ’n briewemessie oopmaak. Sy bekyk eers weer die handskrif op die koevert. Dit is ’n sterk en netjiese handskrif, manlik, en dra ’n stempel van gesag.
Haar keel is droog toe sy die brief oopvou.
Geagte juffrou Kessler
Ek skryf die brief op versoek van my vader, baron Oscar Carl von Rauenstein. Hy is ongesteld en kan dit nie persoonlik doen nie. Soos u versoek het, beantwoord ek dit onmiddellik.
Ek is jammer om van u suster se ongesteldheid te verneem. Sy was egter nooit deel van hierdie familie nie.
My broer het sy toekoms en erfporsie verbeur deur met haar te trou. Sy het geen aanspraak of reg op iets van die Von Rauensteins nie.
Heidi laat die brief effens sak en snork van verontwaardiging. Arme Maria! Geen wonder sy was so beslis om nie hul hulp te vra nie. Haar nuuskierigheid kry egter die oorhand en sy lees verder.
Ek het egter ’n ander voorstel aan u en u suster. Adolf se kinders is die enigste nageslag van die Von Rauensteins. Daar sal ook waarskynlik nie nog wees nie.
Heidi kyk verdwaas na die letters op die wit papier. Sy skud haar kop onbegrypend. Adolf-hulle was tog drie seuns. As hierdie een nie kinders het nie, dan is die jongste een tog daar.
Ek sal die volle bedrag van die reiskoste en behandeling aan u stuur. Ek sal genoeg daarby voeg sodat u nie nodig sal hê om te gaan werk solank u hier is nie. U en die kinders kan hier op Rauenshof tuis gaan vir die tydperk wat u suster in die kliniek is.
Die kliniek is op Burgdorf, wat feitlik op die Switserse/Duitse grens geleë is. Dit is ook nie ver van Freiburg af nie, per trein maar ’n rit van ses uur.
Daar is egter een voorwaarde daaraan verbonde. Maria moet die oudste van haar seuns, wat sekerlik Oscar Carl gedoop is, hier op Rauenshof agterlaat wanneer sy teruggaan. Hy sal die beste opvoeding en opleiding ontvang sodat hy waardig en bevoeg sal wees om eendag Rauenshof, asook die baronskap, te kan erf.
Maria moet haar toestemming verleen en u moet aan my ’n kabelgram stuur om te bevestig dat sy die voorwaarde aanvaar. Ons kan dan verder dinge met die prokureurs reël en die geld kan binne ’n week beskikbaar wees.
Die kind moet ook bewus wees van die reëlings, sodat daar geen trane en gesanik is wanneer julle die dag vertrek nie. Ons sal u aan u woord hou en daar is geen moontlikheid dat u of u suster op die laaste oomblik van besluit kan verander nie.
Die tydperk wat u saam met die kinders hier op Rauenshof is, sal dan vir klein Oscar die geleentheid bied om aan die kasteel en personeel gewoond te raak sodat hy tuis en gemaklik hier sal wees wanneer hy alleen agterbly. Ek vertrou dat alles duidelik gestel is. Sodra ons die kabelgram ontvang, sal verdere reëlings getref word.
Hoogagtend die uwe
Baronet Johann Friederich von Rauenstein
Genade! Heidi kners die woordjie onhoorbaar tussen geklemde kake deur. ’n Mens kan behoorlik die sataniese genot in die brief aanvoel. Wat ’n nare mens! Wie dink hy sal nou sy kind daar los, en dit vir ’n ou kasteel? Sy is bly Maria het net dogters . . .
’n Nare, lam gevoel van teleurstelling sypel deur haar. Hulle het verloor nog voordat hulle begin het. Dit is tog so duidelik soos daglig. Geen seun nie, geen geld nie!
Heidi laat sak die brief moedeloos op haar skoot. Hoe kan alles so geheel en al teen hulle wees? Dit is mos tog nie vir haarself wat sy die geld soek nie. Ook nie vir klere en luukse artikels nie. Dit is vir Maria wat beslis nie volgende Kersfees gaan haal as sy nie behandeling kry nie.
Heidi laat sak haar kop op haar arms, maar sy is te verslae om te huil. Heelwat later staan sy op en gaan was haar gesig. Die brief sluit sy in haar lessenaar se laai toe. Maria moet nooit hiervan weet nie.
Maria is vandag sieker as in ’n lang tyd. Sy is koorsig en haar vel het ’n grysgeel kleur. Haar asem is hortend en vlak en Heidi kan sien dat sy baie benoud is.
Sy versorg Maria en gee vir haar medisyne voordat sy die kinders gaan kos gee en bad. Hulle kwetter soos voëltjies oor die nag se gebeure en Heidi moet sukkel om haar trane te bedwing. Hulle is so dierbaar. Wat gaan van hulle word as Maria nie meer hier is nie?
Nare, arrogante baronet! Hy is seker net so hooghartig soos sy ou vader, die baron. As hy hom net die geleentheid wil gun om hulle te leer ken. Hulle sal so diep in sy hart kruip. Verwaand ook nog! Om sommer aan te neem daar sal ’n seun tussen sy broer se kinders wees. Nogal die oudste een . . . Oscar Carl! As sy Maria was, sou sy nie ’n seun van haar na hulle vernoem het nie.
Toe die kinders in die bed is, neem Heidi ’n rokkie van Gretchen wat geskeur het, en gaan sit ’n bietjie by Maria en gesels terwyl sy dit heelmaak.
Hulle gesels oor koeitjies en kalfies, maar Heidi se gedagtes bly kring om die Von Rauensteins.
“Hoe oud was julle onderskeidelik toe julle getroud is?” vra Heidi. Maria, wat altyd gewillig is om oor Adolf te gesels, se gesig helder sommer op.
“Hy was ses en twintig. Ek was toe so twee of drie en twintig; ek vergeet altyd presies hoe oud. Adolf was so aantreklik, veral in sy uniform. Van die eerste dag af het hy my heeltemal van my voete af gehad.” Maria se oë raak dromerig. “Ek wonder of ek myself sou toegelaat het om op hom verlief te raak as ek geweet het hy was die seun van ’n baron. Ek glo nie, maar hy was altyd so natuurlik . . . so opreg en lief vir die eenvoudige dinge . . .” Maria sit haar alleenspraak voort en Heidi glimlag sag.
“Ag,” terg Heidi, “dit is ook maar net jy wat so gedink het. Hy was glad nie so aantreklik nie.”
Maria wil lag, maar ’n hoesbui oorval haar. Heidi staan dadelik op, lig haar hoër teen die kussings en gee haar ’n bietjie water om te drink. Sy sal weer met Maria moet praat. Maria sal moet hospitaal toe gaan waar sy behandeling kan kry. Sy sal nie langer alleen hier by die huis kan bly met net die Hereromeisie bedags by haar nie.
“Adolf het mos twee broers gehad, of is dit nou net een?” vra Heidi.
“Nee, twee. Adolf was die middelste een. Die oudste een was heelwat ouer as Adolf, ek dink amper ses of sewe jaar.”
“Heet hy ook Oscar Carl, soos sy pa?” vra Heidi.
“Ja . . . Ek wonder of hulle al kinders het? Hulle sal ook hul oudste seun Oscar Carl noem. Ek het altyd vir Adolf gesê as ons ’n seun het, moet ons hom sy oupa se naam gee, maar ons moet hom Carl noem,” gesels Maria en haar stem is hartseer en vol verlange.
“Sou jy regtig jou seun na sy oupa vernoem het ná alles wat hy jou aangedoen het?” vra Heidi ongelowig.
“Ag . . . eintlik het hulle my niks aangedoen nie. Ek was net altyd jammer vir Adolf. Hy het so na hulle verlang. Hy het altyd gesê sodra daar die dag ’n klein Oscar Carl was, sou hy sy seun vir sy vader gaan wys. Ek dink hy wou dit as ’n soort soenoffer gebruik.” Sy sug liggies. “En toe het ons net dogters. Dit was darem baie eienaardig.”
“Hoekom?” Heidi kyk verbaas na haar. “Baie mense het net kinders van een geslag. Kyk maar vir ons. Ons was net twee dogters.” Sy laat die naaldwerk op haar skoot sak en kyk laggend na Maria.
“Nie die Von Rauensteins nie! Adolf sê hulle was geslagte lank, sover hy kon nagaan, net seuns.”
“Ag, jy jok!” sê Heidi susterlik blatant.
“Is waar.” Maria grinnik oor die ongeloof op Heidi se gesig. “Hulle het vas geglo ’n Von Rauenstein bring net seuns voort.”
“Ook maar verwaand,” sê Heidi en Maria lag sag.
“Ek sal jou sê, die dag toe Annie gebore is, wou Adolf dit nie glo nie. As daar ’n ander vrou in die hospitaal was wat ’n seun gehad het, sou hy tot die dag van sy dood gestry het dat hulle babas omgeruil het.”
“Het hulle regtig geslagte lank net seuns gehad?” vra Heidi. Die brief van vanoggend word skielik vir haar duideliker. “Ja, Adolf het gepraat van vier, vyf geslagte terug.”
“En Adolf se broers . . . het hulle ook net seuns?” vra Heidi.
“Ek weet nie. Oscar-hulle het nog nie kinders gehad toe ons getroud is nie. Nou ja, daarna het ons alle kontak met hulle verloor.”
“En die jonger broer, was hy al getroud toe julle . . .?”
“Nee, hy is weer ’n hele paar jaar jonger as Adolf. Hy was nog op universiteit. En hulle trou mos maar laat in hul lewe. Hulle was so geskok toe Adolf op ses en twintig getroud is,” sê Maria.
“En toe nog met ’n boeremeisie ver benede hul stand,” sê Heidi laggend, maar toe sy die seer in Maria se oë sien, verander sy sommer die gesprek. “Wat was die jongste broer se naam?” vra Heidi, al is sy baie bewus van die feit dat dit hy moet wees wat die brief geskryf het.
“Jóhann.” Maria speek die naam anders uit as gewoonlik deur die klem op die eerste lettergreep te lê. “Hy het nog ’n naam gehad, maar ek het dit nou vergeet. Dit was Ferdinand of Friederich of so iets.”
“As jy net seuns gehad het,” vra Heidi, “sou . . . sou jy die oudste een, die een met die familienaam, toegelaat het om terug te gaan as die ou baron dit sou verlang?”
“Na Rauenshof?”
“Ja, sê nou maar die ander twee broers het nie kinders gehad nie en jy het die enigste ander Von Rauensteins gehad? Sê nou maar die seun kon die baronskap en die kasteel en alles erf?”
Maria trek haar neus op sodat dit fyn plooitjies maak en dink kastig diep, maar haar oë vonkel ondeund. “Dit sou nie onaardig gewees het nie. Dan was ek die baron se ma . . .” speel sy saam. “So af en toe sou hy darem seker iets na ons kant toe gestoot het, en ons sou in die kasteel kon woon. Dink net aan al daardie weelde! Dit sou nogal lekker gewees het, Didi. Dink jy nie so nie?”
“Ja.” Heidi lag sag. “Heeldag moet ek hoor ek is ’n dromer en nou lê en dink jy allerhande stories uit.”
“Wel, jy het met die storie begin, nie ek nie. Maar dit sou lekker gewees het . . . geen bekommernis oor geld nie. Jy sou vir jou die mooiste klere kon koop en dalk ’n ryk, jong baronet kon losslaan . . .” droom Maria heerlik voort.
“En sê nou maar hulle wou net die kind hê? Hulle het dalk gevoel jy moet die kind daar los sodat hulle hom kan grootmaak,” pols Heidi haar versigtig. “Wat dan?”
Maria lag sag en druk haar hand teen haar bors.“Nee, man, nou kom bederf jy die hele speletjie. ’n Storie werk nie so nie; in ’n storie werk alles ten goede mee.”
“Sou jy?” vra Heidi en sit angstig vorentoe.
“Nee, man. Wie sal nou sy kind daar los? Ek sal dit mos nooit doen nie. Buitendien sal niemand so wreed wees om ’n kind van sy ma af weg te skeur nie.”
“Sê nou maar die seun was ouer, so oud soos Annie, byvoorbeeld, en hulle het verwag dat hy dan in die kasteel moes kom bly?” hou Heidi egter koppig vol.
“Ek weet nie . . . Dit sou ’n onreg teenoor die kind gewees het as ’n mens sou weier. Ek . . . e . . . ek praat seker maklik omdat so iets nie met my sal gebeur nie, maar ek dink tog ek sou dit met die kind bespreek het en as hy gewillig was, sou ek hom daar gelos het.” Sy lag ondeund.“Ek sou maar daar naby iewers vir my ’n huis gekry het sodat ek darem my kind soms kan sien. Of dalk . . . dalk kon ek in die kombuis gewerk het,” spot sy verder voort.
Heidi se hande lê stil op haar skoot. Stadig, soos die blare van ’n blom, vou die plan in haar binneste oop. Skielik weet sy wat om te doen, en haar hart klop wild en onstuimig in haar binneste.
Sy vou haar naaldwerk tydsaam op. “Ek gaan vir ons tee maak en dan moet jy tot ruste kom,” sê sy sag.
“Ag, sit nog ’n bietjie. Dit is so lekker om sommerso te gesels. Die dae in die bed is so lank,” pleit Maria.
“Jy moet jou kragte ’n bietjie spaar. Ons gaan een van die dae Switserland toe vir daardie behandeling,” sê Heidi en hou haar stem lig en tergerig.
Maria lag sag en verdraagsaam. “Waarmee gaan ons dit betaal, ou juffrou slim?”
“Dalk met ons drome,” sê Heidi dubbelsinnig terwyl sy uitstap.
Net môre gaan sy daardie kabelgram stuur, besluit Heidi toe sy die kastrolletjie water op die stofie in die kombuis sit. Sy gaan leun eenkant teen die tafel. Sy hét mos die saak met Maria bespreek en Maria sóú die seun daar gelaat het, as sy ’n seun gehad het, probeer sy haarself oortuig.
Hy gaan woedend wees, maan haar verstand. Wel, sit haar hart die redenasie voort, sy sal eers vir Maria by die kliniek gaan besorg en dan met die kinders Rauenshof toe gaan. Hy sal dit nie oor sy hart kry om Maria se dogters en haar op straat uit te gooi nie, nog minder Maria uit die kliniek. Hy sal nog sy waardigheid moet hê om aan te dink. Sy sug liggies en haal haar skouers op. Hy sal my net kan vermoor . . . dit is al! Dan is Maria darem al versorg. So troos sy haarself.
Sy gooi ingedagte die water oor die teeblare. Geen wonder die arrogante Von Rauensteins het geslagte lank net seuns gehad nie.
Heidi se besluit lê vas in haar binneste toe sy met die tee by Maria kom.
“Sus . . .” Sy lig Maria effens op teen die kussings. Sy gee haar tee aan en gaan sit dan weer op die stoel voor die bed. “Ek moet eers bieg. Jy moenie vir my kwaad wees nie, hoor,” sê Heidi tog ietwat skuldig.
“Wat het jy nou weer aangevang, my varings laat vrek?” vra Maria en ’n breë glimlag verskyn om haar mond.
“Ek het ’n maand of wat gelede aan baron Von Rauenstein geskryf . . .”
“Wat?” Maria kyk geskok na haar.
“Moenie jou ontstel nie. Ek het hom gesê jy weet niks van die brief af nie. Ek het alles verduidelik. Ons kan niks verloor nie, sus. Hy kan net nee sê. Dis al.”
Maria glimlag onverwags en leun terug teen die kussings. “Hy sal nie eens die moeite doen om te antwoord nie. Jy kon jou maar die moeite gespaar het.”
“Ons sal maar wag en kyk.” Heidi trek die laken teen Maria se skouer op en haar oë is sag.“Dit is soos jy sê: kry ek geen antwoord nie, dan . . . dan het ek dit darem gewaag. Ons kan niks verloor nie.” Maria sit haar hand op Heidi s’n en haar oë blink sag en teer.
“Jy is ’n goeie suster. Vergeet van die Von Rauensteins en moenie jou hoop op daardie brief bou nie. Dinge sal regkom, ek weet dit.”
Heidi werk haar planne baie netjies uit. Maria moet nooit kan uitvra oor besonderhede nie. Sy skryf die kabelgram uit en vra dokter Stolze om dit vir haar in Windhoek weg te stuur. Die kabelgram is kort en bondig: Saak bespreek soos voorgestel. Stop. Aanvaar voorwaardes. Stop. Heidi Kessler. Stop.
So ongemerk moontlik reël sy hul sakies en sien die kinders se kleertjies na.
Heidi bespreek die saak in breë trekke met dokter Winkler. “As . . . as ons dalk kan regkom met geld, sal ek graag saam met Maria wil gaan. Sal dokter my betrekking kan hou totdat ek terug is?”
“Natuurlik, kind, jy weet mos ek sal.”
Heidi is opreg verbaas toe sy ’n week later eendag na haar kantoor ontbied word en ’n wildvreemde man vir haar wag. Hy is netjies aangetrek, sy skoene blink en sy hare is met ’n middelpaadjie gekam.
“Juffrou Kessler?” Hy steek sy hand uit. “Ek is Herman Müller van die prokureurskantoor Müller en Grundleger. Dit is op versoek van ons kliënt, baron Von Rauenstein van Freiburg, dat ek hier is.”
Heidi se knieë word lam en sy sak in die stoel neer terwyl sy haar asem stadig uitblaas.
Die man is baie professioneel. Hy maak sy tassie oop en haal ’n paar papiere uit. “U kan net vir ons sê met watter boot u wil reis en ons sal verder alle reëlings vir u tref. Die behandeling is alles gereël by die kliniek op Burgdorf in Switserland. U kan u van die eerste Oktober af daar aanmeld. Dokter Stolze sal weer met hulle kontak maak sodra die finale reëlings getref is. Hier is geld, indien u dit nodig kry. U moet net asseblief hier teken dat u dit ontvang het.”
Heidi voel soos een wat in haar slaap beweeg. Sy is nog heeltemal oorbluf toe die deur agter die prokureurtjie toegaan.
Heidi kyk na die geld in haar hande. Soveel note het sy nog nooit eens bymekaar gesien nie. Sy skud haar kop effens, maar die koevert bly daar en laat haar besef dat dit die werklikheid dié is.
Sy vou haar hande voor haar bors. Dankie, Here . . . sug sy. Aan al die gevolge sal sy later dink. Op hierdie oomblik is daar net ’n nederige dankbaarheid in haar binneste dat daar vir Maria weer hoop vir die toekoms is.