Читать книгу Die Suidwestertjie - Sarah du Pisanie - Страница 3

1

Оглавление

Sarie Wessels trap hard op die grond om die water van haar reënstewels af te skud terwyl sy die kappie van haar reënjas ongeërg agtertoe skuif. Reëndruppels klou blink aan die rooi reënjas vas en vorm helder straaltjies wat stadig afdrup en plonsend op die sementvloer uitmekaar spat.

Haar wange is blosend en dit lyk asof ’n tikkie kleursel van die rooi reënjas daaraan kleef. Dit vorm ’n skril kontras met die ongewoon helderblou oë wat vol lewenslus en pret om haar rondkyk.

“O, maar dit is lekker!” Haar breë glimlag sluit aan by die vrolike woorde en dit lyk asof sy van pure uitbundigheid wild kan begin dans.

“Lekker?” Die woord kom in ’n koor uit vier monde en vier paar oë staar haar ongelowig aan.

“Natuurlik is dit lekker! Reën is altyd pret!”

Die skraal vingers wat die reënjas stadig losknoop, is vol modderspatsels, maar dit hinder die blinkoogmeisie nie in die minste nie.

Sy hang haar reënjas in die ruim kleedkamer op en trek dan steunend haar reënstewels uit wat sy netjies onder die rak neersit sodat dit uit die ander se pad kan wees. ’n Vrolike laggie borrel oor haar lippe toe sy haar hande onder die kraan afspoel.

“Ek het vanoggend ’n nuwe honderdmeter-rekord opgestel. ’n Man se hoed het afgewaai en ek moes omtrent hardloop om dit te red voordat ’n yslike, gulsige modderpoel dit kon verorber.”

“Waar kry jy soggens nog tyd vir sulke dinge?” Alet Pienaar kyk ongelowig na die vrolike, lewenslustige mensie. “Die verkeer is so druk en almal is so haastig. Ek sou nie eens opgemerk het dat iemand se hoed afgewaai het nie.”

“Dit is juis omdat julle so haastig is dat die mooi in die lewe sommerso by julle verbygaan.” ’n Skraal, nat vingertjie beduie beskuldigend in die ander se rigting. “Dít is hoekom julle nie meer die reën kan geniet nie.”

Nog twee meisies kom druipnat die kleedkamer binne en die ander maak hulle vinnig uit die voete voordat die fyn sproei van die nat reënjasse op hul droë klere val.

“Al wat ek teen die Kaapse reën het, is dat ’n mens dit nie kan ruik nie.”

“Natuurlik kan ’n mens dit ruik! Alles ruik dan na nat hond.”

Sarie gooi haar kop agteroor en lag vrolik. Haar ligbruin hare is lossies in ’n bollatjie bo-op haar kop saamgevat. Die reënweer laat die fyn haartjies om haar gesig dons en dit krul sag en veeragtig teen haar wange.

“Ag, dit is nie wat ek bedoel nie, bobbejaan! Het jy al ooit die reën in Suidwes geruik? Donderweer, boeta! Dit kom aangerol en dreun en kreun; dan blits die blink strale swiepend deur die lug en val die water emmersvol uit die hemel …”

Sarie gaan staan stil in die middel van die tiksterlokaal, terwyl die ander meisies haar verbaas aangaap. Haar oë word dromerig terwyl sy teatraal met haar fyn hande beduie.

“Die reën meng dan met die grond – die rooi grond op ons plaas – en alles ruik na reën! Reën en stof en droë gras.” Sy snuif diep en Alet sien met verbasing die blink trane in die helderblou oë.

“Ag nee, kom nou, ou Saar! Netnoumaartjies huil jy en dit net omdat ons reën hier in die Kaap soos nat hond ruik.”

Die ander lag verlig toe Sarie se gesiggie weer skielik opvrolik en stap na hul lessenaars.

Sarie sug en die stil, diep verlange na haar mense en haar land – háár wêreld – kom lê swaar in haar hart. Tydsaam haal sy die tikmasjien se oortreksel af en vou dit netjies op. Sy moet nou net nie aan dié dinge dink nie, dan huil sy sommer regtig. Die plaas en die wye, groot Suidwes is deel van haar. Hierdie hoë geboue en baie mense beklem haar. Dit wil haar versmoor, maar hardkoppig weier sy om aan hierdie verlate gevoel gehoor te gee.

Sy sal net moet uithou en vir hulle wys dat sy op eie bene kan staan. Sy kan nie nou al, ná net ses maande, tou opgooi en teruggaan nie, al is dit ook die een ding wat sy op hierdie oomblik die graagste sal wil doen.

Verlede jaar op kollege waar sy haar as sekretaresse bekwaam het, het die verlange haar dikwels oorrompel. Maar daar was darem vier vakansies en dit was nie so ondraaglik nie. Vanjaar lê egter eindeloos uitgestrek voor haar.

Dierbare ou Paps en Mamma! Sy wonder wat doen hulle vanoggend. Sy gaan hulle net vanaand bel, Woensdag ofte nie – hul enigste ooilammetjie is vandag baie klein en verlang vreeslik huis toe. Sy sal dit nooit uithou tot Sondag nie. Droomverlore staar sy voor haar na die tikmasjien.

Hulle wou hê sy moes ná matriek huis toe kom en by hulle op die plaas kom bly, maar dit wou sy darem nie doen nie. Die seuns het reeds hul monde vol omdat sy kwansuis so bederf word; nare, dierbare vier broers van haar wat haar meer bederf as haar ouers.

O, sy verlang na hulle; na Japie wat Desember getroud is en op die buurplaas boer, na Piet en Alet en hul twee pragtige kleingoed, en na Daan wat in Windhoek werk. Hy het nooit belanggestel in die boerdery nie. Sy kop het maar van altyd af geneeskunde toe gestaan. Op drie en dertig is hy dus reeds ’n baie bekende ginekoloog in Windhoek …

Sy trek haar vingers liggies oor die toetse en sug diep. Net gister het sy ’n brief van Bertus, nou in sy finale jaar, uit Bloemfontein gekry. Dit is net sy wat so lui was vir studeer. Haar ouers kon haar nie met ’n wa en ’n span osse op universiteit kry nie. Sy wou baie liewer trou, verkieslik met ’n boer van Suidwes.

Van al haar drome het daar egter niks gekom nie. Kyk waar sit sy nou. Sy is vasgedruk in ’n piepklein woonstelletjie met nie eens ’n ou tuintjie in sig nie. Die enigste blomme wat sy ooit sien, is dié wat sy langs die pad koop. Sy gaan egter net vanjaar hier bly, sodat hulle darem net kan sien sy is nie ’n kweekhuisplantjie nie.

“Ou dromer!” Ilze gooi haar met ’n uitveër. “Jy moet liewer werk. As juffrou Van der Walt hier inkom, gooi sy jou by die venster uit.”

“Ou Blommetjie? Ag, nee wat, ou Blom lyk net kwaai, maar sy is glad nie so erg nie.”

Ilze skud haar kop laggend. “Die agbare dame sal glad nie gevlei voel as sy hoor wat jy haar noem nie.”

“Hoekom nie? Ek dink Blommetjie is pragtig.”

“Sy weet darem sy lyk nie soos ’n blom nie; nie met daardie suur trek op haar gesig en die kwaai plooie langs haar mond nie. Sy sal sommer weet jy spot met haar.”

“Ou Blommetjie eet uit my hand …” Sarie trek haar mandjie nader en begin fluks deur die werk blaai.

“Ek wonder waar is sy vanoggend. Sy is altyd voor ons hier.” Sankie neem ongevraag vanuit die ander hoek van die vertrek aan die gesprek deel.

“Sy hou seker vergadering.” Die antwoord kom van Alet, wat reeds haar werk gesorteer het en nou ’n vel wit papier behendig in haar tikmasjien draai.

“Môre, engeltjies!” Herman Brink loer eers vinnig in die vertrek rond voordat hy instap. Hy beduie met sy kop na juffrou Van der Walt se leë plek. “Waar is die vuurspuwende vulkaan?”

Sarie loer onderlangs, geamuseer na Magda Weyers, wat skielik die ene oë en wimpers is. Normaalweg is Magda ’n onvriendelike, bot mens, totdat daar ’n man in die omtrek is. Dan is sy net wit tande en kuiltjies.

Sarie draai die papier met ’n girts in die tikmasjien en beantwoord ongeërg Herman se vraag van flussies: “Wie? Blommetjie? Sy is seker by ’n vergadering.”

Herman skater dit uit van die lag. “Pragtig, Sarie! Dit is ook net jy wat die blom in haar sal raaksien. Sy is seker maar ’n wildeals.”

“Welwitschia.”

“ ’n Watse ding?” Herman kyk geamuseer na Sarie se onskuldige gesiggie.

“ ’n Welwitschia … dit is ’n oerplant.”

Herman en die meisies kraai dit luidrugtig uit van die lag.

Alet sluk vinnig haar lag en kyk bekommerd van Herman na die deur. Sy is tweede in bevel net ná juffrou Van der Walt, en Herman, wat hom nou ewe gemaklik op Magda se lessenaar tuis gemaak het, is vir haar ’n bron van kommer.

“Jy moet liewer loop, Herman. Ek is nie onvriendelik nie, maar as Blommetjie nou terugkom, ontgeld ons dit weer.”

“Nou ja, as ek nie eens hier welkom is nie …” Hy is die ene gemaakte veronregting, maar niemand steur hulle verder aan hom nie.

“Nee, jy is nie.” Alet staan op en druk hom sonder ontsag deur se kant toe.

Hy rem terug en wuif eers vir die ander ’n soentjie voordat Alet hom laggend by die deur uitstoot.

Die gekletter van die tikmasjiene oorheers alle ander geluide in die tiksterkantoor en het ’n vreemd rustige uitwerking op Sarie se onstuimige gemoed.

“Ek wens dit is al teetyd.” Sarie rek haar onvroulik uit en gaap van lekkerkry.

“Dit is amper halfelf.” Alet kyk bekommerd na die ander. “Is Blommetjie nie dalk siek nie? Sy was nog nooit so lank by ’n vergadering nie.”

“Nee, daar hang haar jas.” Ilze beduie na die oudmodiese bruin jas aan die kapstok.

“Wel, dit is darem heerlik ontspanne sonder haar.” Magda loer vinnig in haar handspieëltjie om te sien of haar kapsel nog netjies lyk. Vinnig vee sy oor haar lippe met die lipstiffie. ’n Mens weet nooit wanneer hier dalk weer onverwags ’n man kan inkom nie.

Sankie kom vinnig by die deur in met ’n mandjie vol tikwerk wat sy in die rekenmeester se kantoor gaan haal het.

“Julle sal nooit raai wie vereer vanoggend die firma met ’n besoek nie.”

“Die pous,” raai Ilze ongeërg. Sy is ’n kort, donker meisietjie met ’n groot, blink diamant aan haar linkerhand en stel weinig belang in vreemde besoekers.

“Haar Hoogheid mejuffrou Alice Sullivan.”

Sarie leun ver agteroor op haar stoel en sê gemaak ernstig: “Die blonde meisie in die gondel.”

“Sarie! Sarie! Waar kom jy aan alles? Daardie hooghartige dame se hare is dan so swart soos die nag.” Alet kraai van plesier en die ander lag vrolik saam. Alice Sullivan is ’n hoogmoedige mens wat nie een van hulle nog ooit raakgesien het nie.

“Juis! Daardie swart, Aletjie, kom alles uit ’n botteltjie. Daarvoor sal ek my voortande verwed.”

“Ek verstaan dat sy en die baas binnekort verloof gaan raak.”

Sankie bly staan sodat sy belangrik kan lyk wanneer sy die stukkie gewigtige nuus vertel.

Magda vyl haar naels energiek en loer bot na Sankie, die vriendelikheid van netnou nou nêrens op die ronde gesiggie te bespeur nie.

“Ag, ek glo dit nie. Almal skinder sommer net van Hugo Kritzinger en soek heeldag vir hom vrou net omdat hy so ’n aantreklike man is.”

“Ag, Magda, vir jou is al wat man is aantreklik,” brom Ilze van agter haar tikmasjien sonder om op te kyk.

“Wel, Alice Sullivan ís ’n baie aantreklike meisie en sy is skatryk,” ondersteun Sankie onverwags vir Magda. Sy gaan darem nie toelaat dat hulle haar nuus as minderwaardig beskou nie.

“Nee, ons stry nie, Sankie. Haar pa is ryk en haar hare is swart …”

Sankie lag en stap kopskuddend na haar lessenaar. Niemand kan tog vir Sarie kwaad word nie. Sy is ’n oop, sprankelende mens wat met die kostelikste sêgoed vorendag kan kom.

Die gerinkel van teekoppies in die gang werk soos ’n towerspreuk en almal stoot hul tikmasjiene terug en hou die deur afwagtend dop.

Sarie gaan staan voor die venster met die koppie lou tee in haar hande. Sy tuur ver oor die nat strate en die hoë geboue wat haar nors en koud aanstaar. Die reëndruppels pak saam aan die buitekant van die venster en loop in vinnige stroompies teen die ruit af.

Met moeite onderdruk sy die begeerte om haar reënjas aan te trek en net te gaan stap, ver te stap, tot daar waar sy die geboue en teerstrate kan agterlaat en weer die reën en die nat grond kan ruik. Sy wil die sagte blaartjies van die bome onder haar vingerpunte voel en dit liggies kneus sodat sy die vars geur kan inasem.

Sy kyk op en probeer die grys hemel sien, maar die groot geboue aan alkante versper haar uitsig. Sy wens sy kan weer die donderwolke wit op die horison sien saampak en dreigend nader kom, die helderblou van die hemel wanneer dit klaar gereën het. Sy wil die vet, rooi Afrikaners sien huis toe kom, herkouend en tevrede. Kalftyd wil sy die wit brahmaantjies met hul hangoortjies styf teen haar vasdruk en hul soet reuk in haar neusgate voel kriewel …

Vaagweg hoor sy die telefoon lui en dan Alet se stem: “Ja, seker, ek sal net gou hoor … Sarie!”

’n Nat voëltjie op die vensterbank hou Sarie se aandag gevange en sy draai nie dadelik om nie.

“Sarie!” Alet se dringende stem dring stadig tot haar deur. “Meneer Kritzinger wil jou in sy kantoor spreek.”

“Ou Blouwildebees? Wat wil hý met my maak?”

Sarie draai vinnig om om Alet se geskokte gesig oor die wit gehoorbuis na haar te sien staar. Die meisie beduie wild na die telefoon voordat sy so bedaard moontlik antwoord: “Ja, meneer, sy kom dadelik.”

Alet sit die telefoon neer en kom vinnig om die lessenaar gestap. “Sarie, hoe kon jy? Meneer Kritzinger het jou natuurlik gehoor – hy kon nie anders nie.”

Sarie staar verskrik na Alet se ontstelde gesig. Haar vingers met die ligroos naels is verslae oor haar mond gedruk. Sy kou ongemaklik aan haar lip sodat die kuiltjie in haar wang wegkruipertjie speel, maar dan verdwyn die skrik stadig uit haar oë en begin hulle ondeund vonkel.

“Ag, miskien weet hy nie hoe lyk ’n blouwildebees nie.” “Maar hoekom noem jy hom so, Sarie?” Die ander drie kom drom nuuskierig om hulle saam.

“ ’n Blouwildebees, ou Sankie, is ’n nors, lelike ding. Dit lyk altyd asof hy kwaad is: krom horings … kop onderstebo … hy staan altyd met sy kop tussen sy knieë wanneer hy ’n mens sien.”

Sarie beduie met haar skraal hande wat sy soos twee horings bokant haar kop hou en storm skielik op Sankie af wat skaterend padgee.

“Ai, Sarie, jy gaan nog in vreeslike moeilikheid beland. Almal sien nie altyd die komiese in die situasie raak nie. Die baas mag nou wel nors en onvriendelik wees, maar wie sê dat hy nie dalk baie probleme het nie?”

“Jy is ’n liewe mens, Alet, altyd so ernstig en bekommerd.” Sarie vee liggies met haar hand teen Alet se wang. “Hou maar vir my duim vas dat ek nie sonder werk by die baas se kantoor uitkom nie.”

Vinnig soek sy na ’n notaboekie en ’n potlood – net vir morele ondersteuning. Magda druk ’n paar los haartjies vinnig terug in Sarie se bollatjie, terwyl Sankie die kreukels agter uit haar romp stryk. Alet trek bekommerd ’n rafeltjie van haar truitjie af en stof dan liefderik die los haartjies van haar skouers af.

“Lyk ek mooi genoeg?” Sarie glimlag breed.

“Toe, loop nou, voordat die baas jou nek omdraai.” Alet stoot haar vinnig deur toe.

Sarie draf deur toe, net om weer bekommerd om te draai. “Ouens! Hy … hy het dan nog nooit een van ons laat roep nie … Hy sê sommer altyd sy sê vir Blommetjie.”

“Wel … ek kan aan niks dink wat jy verkeerd gedoen het nie … en … en ou Blommetjie is nogal lief vir jou; sy sou nie nuus aangedra het nie. Sy het dit nog nooit gedoen nie.” Alet staar ongelukkig in die helderblou oë en byt senuweeagtig aan haar lip.

Gelate haal Sarie haar skouers op en stap met ’n regop rug deur toe. “Wel!” Sy wuif met haar hand na die vier bekommerde gesigte. “Hou duim vas!”

Juffrou Van der Walt staan met ’n lywige lêer in haar hande in meneer Kritzinger se ontvangskantoor. Haar blik gaan soekend deur die vertrek en dan stap sy beslis na ’n staalkabinet.

“Juffrou …” Sarie se stemmetjie is dun van angstigheid.

“O, hier is jy, Sarie. Jy kan maar ingaan. Meneer Kritzinger wil jou spreek.”

“Juffrou … is hy kwaad?”

Juffrou Van der Walt loer verstrooid oor haar brilletjie. Met verbasing sien Sarie hoe die swart ogies skielik sag word. Sy sit die lêer vinnig neer en stap na haar toe.

“Het jy dan ’n skuldige gewete, Sarie-kind? Jy ís soms onmoontlik en dit sal goed wees as iemand jou ’n slag skrik maak.”

Sarie sug van verligting toe sy besef dat sy darem nie vir ’n oortreding ingeroep word nie. Sy sit haar arm om die skraal skouers in die netjiese, maar oudmodiese baadjiepak en gee die ouer vrou ’n vinnige drukkie.

“Dankie, juffrou, jy is dierbaar.” Sy soen haar skrams op die wang en stap dan beslis na die toe deur.

Juffrou Van der Walt se oë is sag en as Sarie nou moes omdraai, sou sy die sagtheid agter die dik brillense gesien het.

Sy tik liggies aan die deur en vee dan senuweeagtig haar hand aan haar heup af voordat sy die deur oopstoot en instap. ’n Oomblik leun sy eers met haar rug teen die deur wat sy sag agter haar toedruk en haal diep asem.

Hy is groot en stewig gebou en lyk tuis agter die enorme lessenaar. Sy hare is donker, amper swart, en lê los en blink op sy kop. Sy skouers is breed en pas die grys pak ordentlik vol.

“Kom maar binne.” Hy kyk nie op nie, hou net aan met skryf.

Sarie sluip saggies nader en gaan staan styf en regop voor die lessenaar. Haar blik dwaal ondersoekend deur die vertrek. Alles is weelderig en smaakvol, soos in die res van die gebou, maar hier is heelwat meer luukse artikels as in die ander kantore.

Haar blik volg die sterk hand wat die pen oor die papier skuif en haar aktiewe verbeelding neem stadig met haar die loop.

Sy wonder wat hy sal doen as sy skielik sy kop afdruk sodat sy neus aan die papier raak. Sy het dit dikwels met haar broers gedoen wanneer hulle so diep ingedagte gesit en skryf het. Hulle het haar natuurlik gevang en oor hul skoot getrek, maar dit het meestal in ’n spelery ontaard … Of sal sy liewer haar vingers in haar ore steek en haar mond met haar duime skeef trek? Wanneer hy hom dan verwerdig om op te kyk, steek sy haar tong uit en draai haar oë skeel.

Sy keer die giggeltjie met mening en byt haar kieste styf vas, want wanneer hierdie histeriese gegiggel kop uitsteek, kan al die kwaai oë en fronse dit nie meer keer nie.

“Sit tog, juffrou.” Hy klink ongeduldig en kyk fronsend op. Sy oë is donkerbruin, amper swart en sy voorkop is in ’n ontsierende plooi saamgetrek.

Gelate sak Sarie in die stoel neer. Luister, ou Blouwildebesie, ek is nie sommer ’n hierjy nie, praat sy haarself moed in. As ek my sonde nie ontsien nie, skop ek jou op jou skeen en hardloop weg.

Sy kruis haar lang, skraal bene netjies en sit styf en regop in die sagte stoel met haar notaboekie en potlood in die hand. Ongemerk lig sy haar ken. As hy nou suur wil wees net omdat sy hom ’n blouwildebees genoem het, moet hy dit nou maar regtig wees. Haar broers het haar al baie erger dinge as dit genoem. Hul geliefkoosde naam vir haar is dan glad Patrys en dit net oor die paar sproete op haar neus! ’n Mens moenie so liggeraak wees nie. Hý moet ’n slag tussen die klomp Suidwesters kom; hulle sal hom gou genees.

“Juffrou!”

Sarie wip soos sy skrik. Sy het nooit eens opgemerk dat hy sy skrywery gestaak het en haar ernstig, fronsend sit en dophou nie.

Die Suidwestertjie

Подняться наверх