Читать книгу Dierbare drosters - Sarah du Pisanie - Страница 3
1
Оглавление“Ek wonder darem wat is ou meneer Von Throtha se plan, Sus?”
“Ek weet nie, Pollie. Dit is nou al ’n week vandat Pappa begrawe is en daar is nog geen taal of tyding van hom nie.”
“Ja, Kerneels is vergete al terug.” Die pragtige veertienjarige Ria met haar glansende bruin hare wat amper in haar middel hang, kyk bekommerd na haar ousus. Die helderblou oë is onseker en bang.
Betsie sug en kyk deur die venster van hul huisie. Oor die myndorpie hang die kenmerkende laag wit stof en alles lyk verlate.
Sy staan stram op en gaan staan voor die venster. Hierdie probleem is te groot vir haar. Sy is ook maar nog amper ’n kind, nog nie eens behoorlik twintig nie en die wêreld se verantwoordelikheid rus die afgelope week op haar twee skouers.
Haar eie ma is dood toe sy maar vier jaar oud was. Pappa is ’n rukkie later met tannie Poulien getroud. Vandat haar stiefma – die dierbare tannie Poulien – ’n jaar gelede dood is, het sy maar die rol van ma vir hierdie vier pragtige halfsussies van haar vervul.
Sy wat Betsie is, is ’n hele ses jaar ouer as Ria, die sussie wat ná haar kom. Dan is daar Lettie en Pollie, wat onderskeidelik twaalf en tien jaar oud is. Klein Martie, die baba, vat-vat so aan die ses jaar.
Soos ’n regte ou moedertjie het sy die kleineres bederf en vertroetel. Sy was maar van kleintyd af vir hulle ’n tweede ma, en tannie Poulien het altyd gesê dat sy nooit die mas sou opkom sonder haar hulp nie.
Hulle het tien jaar gelede Suidwes-Afrika toe gekom. Plase was goedkoop en die regering het hulle baie gehelp omdat setlaars toe dringend nodig was hier.
Arme ou Paps. Hy was ’n beter onderwyser en boekhouer as wat hy ’n boer was. Die boerdery was nooit juis ’n rasende sukses nie.
Vir hulle kinders was die dae op die plaas natuurlik hemel op aarde. Vir die eerste keer het hulle hul eie wêreld, hul eie koninkryk gehad en kon hulle na hartelus baljaar.
Sy onthou nog die dag ’n bietjie meer as twee jaar gelede. Alles is nog so duidelik in haar geheue asof dit gister was.
Pappa was merkbaar senuweeagtig toe die luukse perdekar voor hul plaashuis stilhou.
Die waardige ou meneer Von Throtha met sy groot maag, waaroor die goue horlosieketting fassinerend gehang het, het tydsaam die wêreld deurgekyk voordat hy die stoep opgestap het.
Betsie het onder die sitkamervenster gaan stelling inneem. Vir die eerste keer was daar geheime wat haar ouers nie bereid was om met haar te bespreek nie. Dit het haar glad nie aangestaan nie en sy het besluit om vas te stel wat hier aangaan.
Haar pa het hom laat kom. Hy wou die mineraalregte van sy plaas aan ou Von Throtha verkoop. Die uitgeslape ou jakkals het natuurlik besef dat haar pa in ’n hoek is en geld dringend nodig gehad het.
Hy het aangebied om eerder die plaas by Pappa te koop. Volgens hom was die aanbod baie billik omdat die plaas nog so onbewerk en verwaarloos was.
Haar pa het sy trots in sy sak gesteek en die nare ou man gesoebat. Betsie kon dit nie verduur nie en het die veld ingevlug. ’n Maand later het hulle getrek, hier na die Ebony-myn toe.
Haar pa is aangestel as boekhouer en algemene administratiewe opsigter, hier waar meneer Von Throtha die besturende direkteur was.
Hulle het ’n heel ordentlike huis gekry hier by die myn. Gebrek het hulle nie gely nie. Dit … dit is net dat dit so eensaam was.
Pappa het hulle nie toegelaat om met die ander te meng nie. Die jongeres het soggens skool toe gegaan en het darem maatjies daar gehad. Maar sy moes meestal in die huis bly en saans wanneer die myners huis toe gekom het, is sy nie toegelaat om haar voete by die deur uit te sit nie.
Haar pa het die myners, wat haar met honger oë aangestaar het, met brute krag van haar af weggehou. Hy het een vrypostige jong man die loesing van sy lewe gegee en dit het as waarskuwing vir die ander gedien.
Wat Pappa juis die dag met die ongeluk in die myn gaan soek het, weet sy nie. Hy het so af en toe afgegaan net om te kyk wat daar aangaan. Juis daardie dag moes een van die skagte ingee. Hulle het die groot man daar uitgedra en die dood was reeds in sy oë toe sy by hom kom.
Met bomenslike inspanning en sy laaste kragte het hy nog eers vir oulaas vir sy dogters geveg.
Sukkelend en stotterend het hy ’n brief aan Betsie gedikteer waarin hy meneer Von Throtha smeek om sy kinders hier te kom haal en weg te neem van die myn af. Hy kon hulle net nie alleen hier agterlaat nie. Daar was nou niks wat hierdie klomp wilde mans sou keer nie.
Betsie het die trane van vernedering afgesluk. Dat haar pa die ongenaakbare man so moes soebat om sy kinders se ontwil …
Haar pa kon die weersin op haar gesig sien en het sy hand sukkelend op hare neergesit.
“Betsie … kindjie! As daar ’n ander uitweg was, sou ek dit gekies het. Julle … julle moet tog bymekaar bly. Ek het so gesê … vir Von Throtha. Hulle moet julle nie van mekaar af wegneem nie.”
“Maar ek kan mos self na hulle kyk, Pappa. Dan is ons mos almal saam.”
“Jy is ook maar nog net ’n ou dogtertjie, my kind. Die verantwoordelikheid is … te groot. Von Throtha moet alles reël. Bly julle net by mekaar. Al my goedjies is in die bank op Omaruru. Daar is nog geld … van die plaas …”
“Alles sal regkom, Pappa. Rus nou liewer eers.”
“Die donkerte … dit kom so vinnig nader. Ek … ek moet nog so baie doen. Julle moenie hier bly nie … dit is te gevaarlik. Het ons dit alles in die brief gesê?”
“Ja, Pappa.” Betsie lees vir hom die brief voor waarin hy vir meneer Von Throtha soebat om sy dogters so gou moontlik hier van die myn af te kom wegneem en hulle te versorg. Hy moet dit persoonlik doen. Hier is niemand anders wat hy met hierdie groot opdrag kan vertrou nie.
Hy het eers moeg teruggeleun en sy oë gesluit toe Kerneels met die brief by die deur uit is.
Die dood het nie eens gewag om te sien of sy opdragte uitgevoer word nie. Die volgende oggend, nog voordat die son opgekom het, was hy dood.
Met sy laaste asem het hy hulle vermaan om in die huis te bly totdat meneer Von Throtha kom. Hy sal hulle persoonlik kom haal en na ’n veiliger plek neem. Hy het dit weer eens beklemtoon dat hulle slegs saam met meneer Von Throtha moes gaan. Hier was niemand wat hy genoeg vertrou het om hulle te vergesel nie.
“Nannie!” Klein Martie kom druk haar koppie teen Betsie se been. “Hoekom huil jy dan, Nannie?” Betsie tel haar op en druk haar styf teen haar vas. “Nannie dink sommer net, blommekind.”
“Sus, kom ons gaan hoor wat sê mevrou Visagie. Haar man is mos die mynkaptein. Hy sal eerste hoor as daar iets skeefloop.” Ria se voorstel klink heel prakties en darem beter as hierdie vreeslike gewag. Martie snik saggies teen Betsie se skouer en sy druk haar koppie styf vas.
“Ek en Pollie sal gaan.” Die twaalfjarige Lettie, met die sproetjies oor haar neus, neem haar jonger sussie aan die hand. Hulle twee verskil net twee jaar en is gewoonlik onafskeidbaar.
“Ria moet liewer saamgaan. Sy is ouer en sal ’n beter boodskap kan oordra. Julle kan al drie gaan,” stel Betsie voor.
“Ek dink jy moet maar liewer bly, Pollie,” sê Lettie en kyk bekommerd na Betsie. Pollie knik bevestigend en Ria trek ’n kam deur haar hare en bind dit weer netjies agter haar kop vas.
“Ria, vra net of daar nie ’n boodskap van meneer Von Throtha is nie.”
Betsie sak in die stoel neer en druk haar kop teen die kleinding s’n vas. Haar gedagtes verander vanself in ’n gebed en krampagtig klou sy die kind vas.
Asseblief, Here, moet hulle tog nie van my af wegneem nie.
Nie hulle ook nie. Ek sal goed na hulle kyk … asseblief!
Betsie skrik na die werklikheid terug toe die deur van die sitkamer oopgaan en ’n laag wit stof warrelend oor die spieëlblink vloer waai.
“Nannie!” Ria se oë is groot en starend van skok en Betsie weet dat wanneer sý ook terugval op die naam wat hulle vir haar in hul kleintyd gehad het, dan is haar probleem nou baie groot.
“Wat is dit?” Betsie laat vir Martie stadig van haar skoot afgly terwyl sy opstaan, en druk dan net die koppie met die blink donker haartjies styf teen haar heup vas.
Lettie druk die deur toe en leun met haar rug daarteen terwyl hulle verskrik na Betsie staar.
Die opgewekte Lettie, wat nooit iets vir haarself kan hou nie, is dus ook die een wat eerste soos ’n melkpot oorkook. “Hulle … hulle gaan ons weeshuis toe stuur!” Haar stemmetjie is hoog en histeries.
“Weeshuis! Maar dit is onmoontlik. Ek is al te oud vir ’n weeshuis en Pappa het gesê ons moet niemand toelaat om ons te skei nie.”
Ria gee ’n treetjie nader en haar stemmetjie is hees. “Sy het ook so gesê, en …”
Betsie druk die verslae Ria op ’n stoel neer en stap kombuis toe, om met ’n glas water terug te kom. “Drink eers hiervan en dan vertel jy my alles.”
Ria drink die water en gee dan die glas vir Lettie aan.
“Ria, wie het gesê ons moet weeshuis toe gaan? Is meneer Von Throtha hier?”
“Nannie, daar is ’n man. Hy sê –”
“Lettie, bly jy nou eers stil. Ria …?”
“Sus, daar is ’n magistraat by mevrou Visagie. Ons sien die perdekar en wil toe net bly word. Ons dink toe dit is meneer Von Throtha se kar.”
Ria sluk swaar en voordat sy woorde kan vind, borrel Lettie al weer oor.
“Toe ons op die stoep kom, toe hoor ons hulle gesels. Ek … hoor toe hulle praat van ons en ek hou toe vir Ria terug toe sy wil aanklop. Die man sê toe hy sal ons wegneem en sorg dat ons in ’n weeshuis kom. Toe … toe sê mevrou Visagie maar die oudste een is al ’n groot meisie, sy sal nie meer opgeneem word in ’n weeshuis nie. En toe sê –”
Ria het nou haar emosies onder beheer en op haar besadigde manier vat sy haar storie terug. Sy val ’n verergde Lettie summier in die rede.
“Sy sê toe vir die man dat ons nog vir meneer Von Throtha wag. Hy … e … hy sê volgens wet is die staat nou vir ons verantwoordelik. Buitendien was dit ’n baie vrypostige versoek van Pappa om so iets van meneer Von Throtha te verwag. Dit is nie ’n grap om iemand se vyf dogters te versorg nie. Hy sal vir meneer Von Throtha laat weet dat hy die saak sal hanteer en oplos en dat hy hom nie daarmee hoef te vermoei nie.”
“Ja, Nannie … en ek weet dat hy hom maklik laat omkoop. Koos het vir ons by die skool vertel dat sy pa hom ’n paar pond in die hand gestop het toe hulle hom met diamante gevang het. Hy het niks oorgekom nie. Hy slyp natuurlik nou sy tande vir ’n lekker fooitjie van meneer Von Throtha af.” Lettie is behoorlik kortasem van verontwaardiging.
Dit is doodstil en Betsie voel hoe die spanning in haar saamtrek. Hulle sal nou baie vinnig ’n besluit moet neem.
Die haat wat nog altyd sluimerend in haar was teenoor ou Von Throtha is nou skielik gloeiend. Hy het hulle op ’n slinkse manier destyds van die plaas af gekry. Nou daag hy nie eens op nie. As hy net ’n slag van sy troontjie wil afklim en sy hand na ’n medemens wil uitsteek! Deur sy laksheid en gebrek aan belangstelling skep hy geleenthede vir ander skelm mense om munt uit hul nood te slaan.
“Nannie!” Pollie gaan staan aan haar ander kant en slaan haar armpies styf om Betsie. Lettie en Ria kom ook nader sodat hulle ’n klein, geslote kringetjie vorm.
“Jy moenie van ons af weggaan nie, Nannie. Jy … jy is dan nou al wat ons het.” Lettie se lip bewe en Ria se oë is ook vol trane. Betsie is nou hul enigste anker in ’n deurmekaar en verwarrende wêreld.
Martie begin droewig huil en vir die eerste keer besef hulle dat hulle die hele drama voor die kleinding laat afspeel het. Hulle kon háár dit maar gespaar het.
“Nee! Nee, ek sal julle nooit afstaan nie. Aan niemand nie!”
“Maar hy sal ons dwing, Sus. Jy is nog nie een en twintig nie.
Hulle … hulle sal jou nie toelaat om na ons te kyk nie.” Ria is die briljante een wat haar dae met allerhande boeke deurbring. Sy weet gewoonlik al hierdie dinge.
Die ander luister met ontsag en Betsie sak stadig op die stoel agter haar neer.
Geluidloos sak die ander op die vloer neer en agt blou oë kyk bekommerd na twee ander wat net soos hulle s’n lyk. Die oë wat na hulle terugstaar, is egter baie ongelukkig en geweldig ontsteld.
“Nannie?” Pollie met haar ronde gesiggie kan die verslaentheid en kommer op hierdie geliefde suster se gesig nie langer verduur nie. “Ons kan mos maar net vir die mense sê ons wil by jou bly.” Sy loer bekommerd na die ander om te sien of die voorstel enigsins indruk maak.
’n Glimlag trek stadig om Lettie se mond. “Ja … jy sorg tog nog altyd vir ons, Nannie. Hoekom kan ons nie net aangaan soos nou nie? In die trommel is nog geld.” Lettie sien ’n skrale moontlikheid vir Pollie se plan. Elkeen gryp nou wild na ’n strooihalmpie.
“As die geld op is, kan jy mos gaan werk, Sus. Ek sal dan na die kinders en die huis kyk. Ons … ons twee sal hulle mos kan versorg, nè, Nannie?” Ria se stemmetjie is dun van angstigheid en sy vergeet skoon dat sy vaneffe die een was wat die probleem uitgelig het.
Betsie kyk liefdevol na die gesiggies om haar. Dit gaan darem meer as ’n magistraat verg om hulle van haar af weg te vat!
“Natuurlik sal ons twee na hulle kan kyk, Ria. Ons probleem is nou net om die ander mense te oortuig dat ons dit wel kan doen.”
Betsie se woorde sak weer versmorend soos ’n nat kombers oor die toehoorders neer. Sy probeer haar stem lighartig hou, maar dit is ’n powere poging.
“Ons sal vinnig moet dink aan ’n plan. Kom julle … nou moet ons dink.”
“Waar bly die ou meneer Von Throtha tog? As hy net wil kom; dalk sal ons hom kan oortuig …” Ria sluk die res van haar sin toe sy na Betsie se geslote gesig kyk.
“Ek weet nie, Ria. Ek wil nie hê julle moet valse hoop koester nie. Ek vertrou hom glad nie. Ek het nog nooit vir julle vertel nie: Pappa het hom destyds gesoebat om net die mineraalregte van ons plaas te koop. Hy wou nie! Hy het sy kans gesien en dit deeglik benut. Hy het gesorg dat sy brood aan albei kante gebotter is. Hy het ons plaas vir ’n appel en ’n ei gekoop en toe nog vir Pappa op die koop toe as boekhouer gekry hier by sy myn.”
“So ’n gemene ou … ou …” Lettie soek wild in haar gedagtes na nog woorde. Betsie druk saggies haar vinger op Lettie se mond.
“Dit is genoeg dat ek sulke nare gedagtes omtrent hom koester. Dit is nie nodig dat julle ook vergiftig raak nie.”
Vyf paar blou oë rek groot en staar dan verskrik na die deur, waar nou ’n dringende klop opklink.
Ria kry eerste lewe in haar lam ledemate en spring op. Sy beweeg tot by die venster en loer versigtig uit. Met groot oë draai sy om en beduie wild vir Betsie.
“Dit is hy! Die magistraat! O, Nannie …”
Dit is eers toe die tweede klop deur die huis weergalm dat Betsie opstaan en nog sonder plan of woorde vorentoe beweeg.
Die magistraat is ’n lang, skraal man en ’n breë, aangeplakte glimlag haak om sy mondhoeke toe hy sy hand na Betsie uitsteek.
“Klopper is die van, juffrou. U is seker een van die Viljoendogters.”
“Ja, ek is Betsie Viljoen. Kan … kan ek u met iets help, meneer Klopper?”
“Ek is magistraat Klopper van Swakopmund, juffrou. Sal u omgee as ek inkom?”
Betsie hou die deur traag wyer oop en die man glimlag breed asof hy verstaan hoekom sy so versigtig is.
“Dit is heeltemal reg om so versigtig te wees, juffrou. Ek weet jou pa het sy dogters altyd baie, baie goed opgepas. Dit was, om die waarheid te sê, altyd ’n groot grap hier onder die manne …”
Hy bly vinnig stil toe hy die frons op Betsie se voorkop sien en merk hoe haar ken effens wip.
“Juffrou Viljoen, u is seker die oudste, as ek die ander so bekyk. Ek dink ons twee moet maar die bespreking namens julle almal waarneem.”
Betsie loer paniekerig na haar susters en beduie met haar oë.
Hulle moet haar net nie alleen by hierdie man los nie.
“U kan maar voor hulle praat, meneer Klopper. Ek neem aan dit raak ons almal.”
“Ja, juffrou; sien, dit gaan oor jul toekoms.”
“Ek dink nie daar is juis iets wat ons kan bespreek nie, meneer Klopper. Sien … e … my pa het alles in meneer Von Throtha se hande oorgelaat. Hy het hom as ’t ware as voog oor ons aangestel.”
“So verstaan ek van mevrou Visagie, juffrou. Ek is bly dat sy dit juis aan my genoem het, want streng gesproke is dit ’n aangeleentheid vir my. Ek kan sommer die sakie afhandel en dan spaar ek vir meneer Von Throtha baie moeite en erns. Hy is ’n baie, baie besige man, juffrou. Aangesien die sakie tog maar later in my hande sal val, kan ek dit net sowel direk afhandel.”
“Ek verstaan nie, meneer Klopper. Wat wil u nou afhandel?” Betsie probeer tyd wen terwyl haar verstand oortyd werk.
“Sien, juffrou …” Die man se stem is stroperig en seker veronderstel om begrypend te klink. “Julle … jou sussies sal in ’n weeshuis opgeneem word en jy –”
“Nee!” Betsie kan die ontsteltenis nie langer keer nie, maar gaan dan so kalm moontlik voort. “Nee, meneer Klopper, daar is nie sprake van so iets nie. Die saak is reeds afgehandel. Ons het ’n boodskap van meneer Von Throtha gekry. Hy … e … het … e …” Betsie soek naarstiglik na nog woorde, maar daar waar haar verstand behoort te wees, is nou net ’n vaal kol.
“Hy het pampoentjies, meneer. Dit is hoekom hy nog nie hier is nie.” Dit is al siekte waaraan Lettie vinnig genoeg kan dink op hierdie oomblik.
Betsie lag senuweeagtig van verligting toe sy die ongeloof op die magistraat se gesig sien.
Dierbare Lettie! Pampoentjies of nou nie pampoentjies nie, maar dit is ’n verduideliking. Goed genoeg vir hierdie oomblik.
“O …!” Die magistraat se wind is heeltemal uit sy seile.
“Ja, sien, meneer, ons is juis op pad na hom toe.” Lettie besluit dit is tyd dat sy die sakie oorneem. Haar susters staan soos skape wat ter slagting gelei word en sal so oopmond van verbasing staan totdat hulle almal in die weeshuis sit.
“Maar … maar wanneer het u dan die boodskap gekry? Niemand weet dan van ’n vreemdeling wat hier was nie.”
Betsie het sommer lus om vir Lettie te soen omdat sy so vinnig kan dink. Dadelik is hulle weer ’n verenigde front in hierdie oorlewingsprojek. Haar verstand funksioneer weer en haar stem klink heel oortuigend.
“Dit was ’n swart man, meneer Klopper. Hy was gisteraand laat hier. Meneer Von Throtha maak vreeslik verskoning en vra dat ons hom tog moet vergewe. Hy sê …” Betsie lag kastig asof dit vir haar ook ’n grap is. “Hy sê ons moet seker baie min van hom dink. Hy is so skaam dat so ’n kinderagtige siekte hom hier moet weghou terwyl ons hom so dringend nodig het. Hy … e … het gesê ons moet ons solank gereed hou …”
Lettie frons en stamp liggies aan Betsie. Sy moet die pap dikker aanmaak. Hierdie man met sy lang, maer nek soos ’n aasvoël moet ’n mens nie die minste kans gee nie. Hy krap sommer weer alles deurmekaar.
“Ja, meneer Von Throtha stuur iemand om ons solank langs die pad te ontmoet.” Lettie praat hierdie keer te vinnig en dit maak nie veel sin uit nie.
“Maar julle kan tog nie alleen nie –”
Betsie druk dadelik ’n klip in die gat. “Sien, meneer Von Throtha se sekretaris is reeds op pad. Ons wil maar ry, dan ontmoet ons hom op Usakos.”
“Wel … ek wonder of ek julle dan nie maar moet vergesel tot daar nie.”
“O, nee! Nee, dit is regtig nie nodig nie.” Betsie glimlag bewerig.
“Ons wag nog tot môre. Dalk is die sekretaris al nader as wat ons dink. Ons sal tog vir meneer Von Throtha van u aanbod sê, meneer Klopper. Ons sal vir hom sê hoe gaaf u was en dat u nie die moeite ontsien het nie. Ons sal regkom, dit is regtig nie nodig dat u nou so ’n draai moet ry nie.”
Dit stel hom blykbaar tevrede en hy glimlag stroperig. “Wel, ja … dit sou glad nie moeite gewees het nie. Ek sou dit met graagte doen. Sê maar as julle nog hulp nodig het. Ek is nog ’n dag of wat hier.”
Die voordeur se klikgeluid hang lank in die lug voordat iemand iets sê.
“Nanna?” Ria se oë is groot. Diep binne-in elkeen lê die wete dat hulle nou ’n verkeerde perd opgeklim het.
“Luister, julle … dit gaan ons niks help om by ou Von Throtha uit te kom nie.” Betsie se stem is beslis. “Hy stel dan nie eens genoeg belang om net te kom kyk wat hier aangaan nie. Ons … ons gaan terug plaas toe!”
“Maar, Nanna, dit is mos nie meer ons plaas nie.” Pollie kyk geskok na haar.
“Wel … dit is ou Von Throtha s’n en Pappa het hom gevra om na ons om te sien.” Betsie se kennetjie wip en daar kom sit ’n stywigheid in haar nekkie wat niks goeds voorspel nie.
“Maar hy sal ons mos daar kry! Ek bedoel, ons kan mos nie sommer net daar gaan bly nie. Hy sal ons net daar kom haal en ons weeshuis toe vat.”
“Daar bly niemand op die plaas nie, Ria. Die huis staan leeg. Buitendien kom hy seker nooit op die plaas nie en dit gee ons tyd. Tyd is wat ons nou nodig het!”
Daar is ’n hele paar minute lank ’n verbaasde, geskokte stilte.
“Die hut! Sus, onthou jy die ou prospekteerdershut daar indie berg? Ons moet daar gaan bly. Niemand sal ons ooit daar gaan soek nie.” Ria spring regop en haar oë gloei en dadelik is daar meer lewe in die verslae groepie.
“Natuurlik, Ria! Dit is die ideale wegkruipplek. Al kan ons net daar skuil totdat ek een en twintig is.”
Lettie en Pollie spring op en druk elkeen ’n soen op Betsie se wang en draai dan uitgelate in die rondte.
“Luister, kinders, ons moet dadelik die wa begin laai. As meneer Klopper dit sien, sal hy niks vreemds vind daaromtrent nie. Vanaand, wanneer dit donker is, span ons die donkies in. Teen die tyd dat hulle na ons begin soek, is ons al baie ver weg. Nou moet ons net bid dat ou Von Throtha nie vandag nog hier opdaag nie.”
“Nannie … gaan onth nou by jou bly?” Martie kom druk haar koppie styf teen Betsie vas.
“Ja, blommekind. Nannie sal julle nooit laat weggaan nie. Pollie, jy en Lettie moet gaan kyk waar die donkies is en bring hulle so ongemerk moontlik nader aan die huis. Gelukkig lê ons huis so half eenkant. Dit is vandag iets om oor dankbaar te wees.”
Betsie besef dat hier nou baie vinnig georganiseer moet word. Die son sit al reg bokant hulle en hulle sal alles moet uithaal om vanaand gereed te wees. Hulle moet kos inpak. Al die klere van die kinders. Meubels wat hulle sal nodig hê. Komberse, matrasse, potte …
“Lettie, jy en Pollie moet na die hoenderfuike gaan kyk en dit gou regmaak terwyl ek en Ria inpak. Hierdie paar hoenders moet saamgaan.”
Hulle maak twee takke agter aan die wa vas om die spore dood te vee en beweeg soveel moontlik oor die klipperige grond. Die wa is hoogvol gelaai toe hulle teen donker so stil moontlik wegry.
Martie lê en slaap op die matrassie tussen al die bagasie. ’n Primitiewe vegtersinstink kom maak nes in Betsie se binneste. Meneer Von Throtha, ek en jy gaan mekaar weer eendag ontmoet. Mag dit wees wanneer ek al oud genoeg is om op my regte te staan! Dit gaan beslis nie ’n aangename ontmoeting wees nie. Nie vir my nie en ook nie vir jou nie …