Читать книгу 'n Nooi vir Omdraaikrans - Sarah du Pisanie - Страница 4

2

Оглавление

Mariet trek die serp reg om haar nek en borsel haar hare met nog ’n paar hale. Die los hare irriteer haar. Haar hare is te lank om so los te dra. Sy hoop tog net die ou doktor is vanoggend beskikbaar sodat hy haar kan bekyk en klaarkry.

Sy het die vorige nag omtrent middernag op Omdraaikrans aangekom. Dit voel alles ’n leeftyd ver van die Kaap met sy besige strate en baie mense af.

Sy kon nie veel van die omgewing sien nie. Dit was donker en koud en sy het maar in die een hoek van die motor gesit.

Doktor Liebenberg se chauffeur het haar op die stasie kom haal; ’n stil man wat niks onnodigs met haar gesels het nie.

By die huis was dit net mevrou Liebenberg wat haar ingewag het; ’n netjiese vrou wat daardie tyd van die nag nog onberispelik in ’n duur snyerspakkie geklee was.

Die vrou was nie onvriendelik nie, maar ook nie wat ’n mens gasvry sal noem nie. Sy het haar voorgestel as Alet Liebenberg. Baie korrek, maar sonder warmte.

Mariet wou nie eet nie en het selfs ’n koppie tee van die hand gewys. Mevrou Liebenberg het haar dus haar kamer gaan wys en haar ’n goeie nagrus toegewens.

“Jy kan môre ’n bietjie later slaap. Ek glo Kobus sal jou verskoon. Hy is baie gesteld op stiptelikheid, maar hy sal darem insien dat jy moeg is ná die treinrit.”

Mariet kon die bedekte vermaning en die krapperigheid in die vrou se stem hoor. Sy het liggies gefrons en net ’n sagte “dankie” gemompel.

Sy sal daaraan gewoond moet raak dat sy nou Hilda Cronjé is; Hilda met haar selfsugtige en selfgerigte geaardheid, wat seker nie baie liefde uitlok nie.

Hierdie doktor en sy vrou weet natuurlik alles van Hilda af. Bernard Cronjé is nie ’n man wat sal doekies omdraai om sy eie kind te beskerm nie.

Sy het hom destyds in Windhoek al so opgesom. Hy was twee keer by die koshuis om vir Hilda te kom haal. Eenkeer het hy vir haar ’n geskenkie gebring omdat sy vir Hilda saamgeneem het na haar huis toe. Hy was albei kere baie vriendelik en gaaf en Mariet het sommer baie van hom gehou.

Soos sy hom opgesom het, sou hy oop kaarte met die doktor speel. Mariet het nog die hele tyd gevoel dat Hilda se kant van die saak en haar pa s’n soos twee teenoorgestelde pole van mekaar verskil.

Sy sal glad nie verbaas wees as doktor Liebenberg opdrag gekry het om haar deeglik kort te vat nie. Tien teen een sal hy haar nog fyn dophou vir sielkundige afwykings ook.

Mariet giggel saggies. Sy gaan hulle uit hul geloof skok. Hierdie sielkundige gaan ná drie maande so deurmekaar wees dat hy self ’n psigiater nodig sal hê.

Lui was sy nog nooit nie. Sy het nog altyd haar werk terdeë geniet. Om die waarheid te sê, daar is min dinge in die lewe wat sy nie interessant en opwindend vind nie. Selfs nie eens om ’n bietjie later as gewoonlik te slaap, kan onder haar swak eienskappe gereken word nie. Hierdie doktor en sy stywenekvrou gaan nog lekker op hul neuse kyk.

Arme ou Hilda! Dit sou regtig vir haar ’n marteling gewees het. Haar hele lewe lank is sy gepamperlang en bederf en nou ewe skielik besluit haar pa om aan haar karakter te kap en te beitel. As hy al jare gelede riglyne gestel het en sy voet dwars gesit het, sou hy nie nou probleme gehad het nie.

Hilda sal in elk geval ’n baie beter model as tikster uitmaak. Dit sal ook goed wees vir haar selfbeeld as sy iets op eie houtjie kan bereik.

Almal kan uit hierdie situasie leer. Hilda sal baie hierby baat. Ou Bernard Cronjé en die ou sielkundige kan leer dat elke mens sy eie lewe het om te lei; dat dit lewensbelangrik is dat elkeen homof haarself moet ontdek en vind.

Dit is met meer veerkrag en oortuiging in haar gemoed dat Mariet die kamerdeur oopstoot en in die lang gang afloer. Alles is egter nog doodstil en sy sluip behoorlik in die gang af.

Dit is ’n massiewe ou huis. Sy beste dae is lankal agter die rug. Alles is egter huislik en warm, al is van die matte al kol-kol afgetrap en die gordyne taamlik verbleik.

Mariet beweeg maar na ’n kant toe. Iewers sal sy by ’n buitedeur uitkom.

Sy loer versigtig by die vertrekke in. Die sit- en eetkamer vorm ’n eenheid. Die sitkamermeubels laat haar aan hul eie dink. Dit is groot, gemaklike stoele, oorgetrek met ’n geblomde stof. Oral in die hoeke van die vertrekke is daar groot plante, wat ’n rustige atmosfeer skep.

Die eetkamertafel is meters lank. Daar kan maklik twaalf mense aansit. Dit is ’n pragtige stel en Mariet vryf met bewondering oor die satynagtige hout.

Sy loer nuuskierig om haar rond. Die kombuis is seker hier naby. Toe sy nader kom aan die deur aan die ander kant van die vertrek, hoor sy ’n sagte geneurie.

Die deur loop uit in ’n groot kombuis. Hier is alles pragtig en modern ingerig. Dit is amper in teenstelling met die res van die huis.

“O! Hoe skrik ek nou!” ’n Groot, lywige vrou spring verskrik om.

“Môre, mevrou. Ek … ek is Hilda Cronjé, doktor Liebenberg se nuwe tikster.”

“Mens! Nou het ek my byna morsdood geskrik.” Die groot vrou druk die pan teen haar bors vas, die skrik nog koud in haar.

Mariet giggel vir die vrou se verskrikte gesig. “Hoekom skrik mevrou dan so? Lyk ek dan soos ’n spook?”

“Nee, kind. Ek was net ingedagte. Hier kom gewoonlik niemand in die kombuis voordat ek die ontbytklok lui nie.”

“Ek kom soek sommer ’n bietjie koffie, mevrou. Dit voel vir my asof ek jare laas iets oor my lippe gehad het.”

“Foei tog, kind! Kom sit. Die koffiewater kook amper.” Sy trek ’n stoel uit en beduie vir Mariet. “Hoe sê jy nou weer, wat is jou naam?”

“Hilda, mevrou.”

“Ag, moet tog nie vir my sê ‘mevrou’ nie, kindjie. Almal noem my sommer ‘tannie Mart’. Marta Diederiks, dit is nou ek. Ek is kok en huishoudster en sommer alles. Was vroeër jare matrone in die koshuis op Wellington.”

“Dan moet tannie vir my ook op my naam noem. Dit sal my meer tuis laat voel.”

“Het jy al die mense ontmoet, kind?”

“Nog net die vrou. Doktor was nie hier nie. Hy het seker al geslaap.”

“Hy gaan slaap gewoonlik baie laat. Dalk het hy aan sy boek gewerk.”

Marta skink twee koppies vol koffie en stoot een tot voor Mariet.

“Drink solank. Ek wil net gou die papwater opsit.”

Mariet kyk verbaas na die groot pot wat die vrou op die stoof sit. Dis mos ’n onnodige spul kos vir ’n paar mense.

“Hoeveel mense bly dan hier, tannie?” Vir die eerste keer dink Mariet daaraan dat Hilda iets gepraat het van kinders. Die doktor en sy vrou kan beslis nie meer klein kindertjies hê nie. Mevrou Liebenberg moet in haar vroeë sestigerjare wees.

“Het hulle dan nie vir jou gesê nie, kindjie? Doktor kry altyd gedurende die vakansies ’n klompie kinders wat hier kom bly. Dit het iets met sy werk te doen. Hy bestudeer nou die kinders en dan besluit hy allerhande dinge oor hul gedrag.”

Mariet lag vrolik. “Nee, ek dink ek verstaan, tannie. Is dit weeskinders?”

“Nee. Dit is kinders met geskeide ouers. Foei tog! ’n Mens se hart gaan uit na die goedjies. So … anders, kind. Heeltemal anders. Ag, maar jy sal tog weet. Doktor het vir my gesê dat jou ouers ook geskei is voordat jou ma dood is. Foei tog!”

Mart draai om en bekyk vir Mariet onbeskaamd van kop tot tone. “Maar …” Sy bly skielik stil en Mariet loer onderlangs na haar.

“Maar wat, tannie?”

“Jy lyk heeltemal anders as wat ek my jou voorgestel het.”

“Hoe bedoel tannie nou?”

“Jy moet my tog maar verskoon, my kind. Ek het eerlikwaar gedink jy sal aanstellerig en vol giere wees, soos die meeste rykmanskinders.”

“Dalk is ek.”

“Nee, ek dink ons het te vinnig geoordeel. ’n Jong meisie wat so vroeg opstaan en self kom koffie soek, kan darem nie te sleg wees nie.”

Mariet drink haar koffie en stap dan uit op die groot werf. Alles is skoon en baie netjies. Sy voel tuis toe die groot ruimte haar begroet. Hulle Suidwesters kan tog nie vasgedruk word nie.

Sy trek die vars lug diep in haar longe in en staar met verwondering na die pragtige landskap om haar. Dit behoort ’n toevlugsoord en rusplek vir daardie arme ontwrigte kinders se siele te wees. Die gelui van ’n klok ruk haar tot die hede terug. Met lang treë stap sy huis toe. Haar wange is rooi van die fris oggendluggie toe sy weer by die kombuis kom inloer.

“Is dit die ontbytklok, tannie?”

“Nee, dit is nou eers die opstaanklok. Die kinders moet maar lank voor die tyd wakker gemaak word. Doktor is baie gesteld daarop dat almal aan die ontbyttafel moet wees.”

“Waarmee kan ek vir tannie help?” Mariet stoot haar trui se moue op en swaai haar serp se punt agtertoe.

Die verbasing en ongeloof lê uitgespel op Mart se breë gesig. “Wel, slaan dood en sleep weg!”

Mariet druk haar hand voor haar mond om die skaterlag te demp. “Ag, kom nou, tannie Mart. Al die vreeslike stories wat julle van rykmanskinders hoor, is darem nie waar nie. Natuurlik kan ek ontbyt maak.”

Mart is nog steeds die ene ongeloof. Sy stoot egter die brood na Mariet se kant toe. “Die broodsnyer is daar agter jou op die rak. Ek sal baie graag doktor se gesig wil sien as hy jou nou moet sien.”

“Hoekom, tannie?” Mariet hou haar onskuldig om meer uit te vis. Sy sal graag wil weet wat hulle presies van Hilda verwag.

“Nee, ek praat al weer te veel.” Sy draai om en buk steunend om die eiers uit die kas te haal.

“Tannie Mart moet nou nie by hom gaan skinder nie. Hy kan maar die goedjies self te wete kom. Dalk krap ons net al sy sielkunde deurmekaar.”

“Jy is te kostelik!” Mart se groot liggaam begin stadig skud soos sy lag. “Dít sal nou die moeite werd wees om te aanskou. Al hierdie sielkunde raak te veel vir my.”

Mariet probeer vrolik en opgewek wees. Dit is eers toe Mart die klok lui dat sy besef hoe gespanne sy regtig is.

Mariet is eerste in die eetkamer en sy staan verlore rond. Sy haal ’n paar keer diep asem en gaan besigtig dan die skilderye teen die muur.

“Goeiemôre!” ’n Diep, welluidende stem klink skielik kort agter haar op en Mariet swaai vinnig om.

’n Lang, aantreklike man van om en by die dertig jaar staar haar half uit die veld geslaan aan. Sy weet dat hy haar op hierdie oomblik glad nie kan plaas nie.

“Goeiemôre, meneer. Ek is nuut hier. Ek is Hilda Cronjé, doktor Liebenberg se nuwe tikster.”

“Hilda Cronjé! My aarde! Ek … e … het my jou anders voorgestel.”

Mariet gee ’n tree nader en steek haar hand na hom uit. “Ek is doktor Liebenberg, juffrou, jou nuwe werkgewer.”

Dit is nou haar beurt om hom verbaas aan te staar. Sy skud haar kop liggies asof sy die ongeloof wil wegkry. Toe sy egter die vreemde trekkie om sy mond sien, ruk sy haar vinnig reg.

“Ek … e … is jammer! Ek het my u ook anders voorgestel.”

“O! Hoe het jy jou my voorgestel? Soos Bloubaard?”

“Nee!” Mariet lag senuweeagtig. “Maar beslis ouer. Die mevrou Liebenberg wat ek gisteraand ontmoet het … dit is dus nie u vrou nie … of is dit?”

“Nee! Ek is nog nie so gelukkig nie. Die enigste ander Liebenberg wat hier is, is my tante en sy is juffrou Liebenberg. Om die waarheid te sê, hierdie huis behoort aan haar. Sy woon nie meer permanent hier nie, maar wanneer ek met die kinders hierheen kom, sluit sy haar by ons aan en hou ’n ogie oor alles.”

“O!” Mariet glimlag stralend. As sy egter moes weet hoe sinies haar glimlag en spontaneïteit ontvang word, sou sy verbaas gewees het.

“Goeiemôre, Kobus. Môre, juffrou Cronjé. Ek sien julle het mekaar al ontmoet.” Alet Liebenberg kom perfek geklee by die eetkamer in en beweeg statig soos ’n vorstin tot by haar plek aan die tafel.

“Ja, dankie … ek bedoel, ja, ons het mekaar al ontmoet en … goeiemôre, me… juffrou Liebenberg.” Mariet kan haarself skop omdat sy soos ’n skaam skoolmeisie staan en kleitrap.

’n Geskarrel en lawaai laat Mariet vinnig omswaai. Dit lyk asof die skool uitgekom het. ’n Hele bondel kinders storm op een slag by die deur in. Mariet knip haar oë vinnig en staan effens terug. Sy kyk verskrik op na Kobus Liebenberg, wat haar met ’n vreemde, siniese glimlaggie staan en bekyk.

“Dit is net die kinders, juffrou. Hulle sal nie byt nie. Jy kan maar kom sit.”

Hy kom trek haar stoel galant vir haar uit en gaan sit aan die kop van die tafel. Sy tante sit aan die regterkant en Mariet het nou die ereplek aan sy linkerkant. Die lang tafel raak voller van jong gesiggies wat haar nuuskierig bekyk.

Kobus Liebenberg klop met die agterkant van sy mes op die tafel en onmiddellik is daar ’n doodse stilte. Toe hy die tafelgebed klaar gedoen het, glimlag hy lui vir die kinders. Mariet het hulle intussen getel en daar is ses.

“Dit is juffrou Cronjé. Haar naam is Hilda en sy is my nuwe tikster. Juffrou, die enetjie daar langs tannie Alet is Ria van Eeden. Sy is tans die oudste hier.” Hy glimlag na die stil, skamerige meisie wat effens oorgewig is; dié feit maak haar selfbewus. “Ria sal volgende maand sestien wees. Nè, Ria?”

“Ja, oom Kobus.”

“Wel, daar langs haar is Brenda Kotze.”

Mariet kyk na die skraal meisie met die groot blou oë. Sy kan omtrent veertien jaar oud wees. Te oordeel na die pruil van haar mondjie en die rol van haar oë, is sy baie bewus van haarself en seker ’n bedorwe brokkie.

“Daardie ou lange is Jan Jonker. Hy is ook al ’n man met harde baard. Hy is al vyftien en net so ’n kortkop agter Ria.”

Kobus stel die kinders op die ry af aan Mariet voor.

“Dié ene is Danie van Eeden, Ria se boetie. Sy maat langs hom is Flip van Niekerk.”

Mariet kan die versoeking nie weerstaan nie. Hulle lyk net soos haar twee kleinboeties en sy knipoog fyntjies vir die twee ondeunde gesiggies.

Hulle proes en stamp aan mekaar, maar Kobus se blik het reeds na die volgende een verskuif en hy sien dit nie eens raak nie.

“Die ou kleintjie daar langs jou is Gretha Smit. Sy is tans ons baba.”

Mariet glimlag breed met die kinders. Die glimlag wat fyn plooitjies om haar oë maak, is so blink en stralend dat Kobus en sy tante verbaas na mekaar kyk. Kobus lig sy wenkbroue en haal sy skouers liggies op om sodoende woordeloos met sy tante te kommunikeer.

Die kinders is ’n paar minute lank stil en skaam, maar dan begin hulle saggies onderlangs gesels en nog voordat hulle hul papborde terugstoot, is daar geen skugterheid meer te bespeur nie.

Doktor Liebenberg en sy tante is vriendelik en goed vir die kinders, maar dit voel net vir Mariet asof daar nie werklik warmte in hul verhouding met die kinders is nie.

Ná ete staan die kinders op en elkeen neem sy eetgerei kombuis toe. Mariet hoor hoe hulle lag en skerts daar binne. Dit klink vir haar asof hulle nou besig is om hul eie borde te was. Sy staan besluiteloos rond. Kobus Liebenberg het saam met die kinders kombuis toe gestap.

Alet Liebenberg het haar eetgerei by haar eie gepak en so vir Mariet stilswyend laat verstaan dat sy ander pligte het.

“Ekskuus, juffrou. Ek het ’n oomblik lank vergeet dat jy vreemd is hier. Kom maar saam met my, dan gaan wys ek jou waar die studeerkamer is en wat jy alles moet doen,” sê Kobus toe hy terugkom.

Dankbaar stap Mariet agter die lang man aan.

Hy druk die deur stewig agter hom toe voordat hy agter sy lessenaar gaan sit.

Hier, soos in die res van die huis, is karakter en huislikheid, eerder as weelde en gemak die stempel.

“Sit, juffrou Cronjé. Daar is eers ’n paar dingetjies waaroor ons moet gesels.”

Mariet sak stadig in die stoel neer. Sy stem is beslis nou baie onvriendeliker as netnou daar in die eetkamer waar die kinders by was.

“Ek moet sê, ek is baie verbaas dat jy toe wel hier uitgekom het. Toe jy eergister gebel het om te sê jy sal laat wees, was ek feitlik seker dat jy nie sou opdaag nie.”

“Maar, doktor …!” Mariet vervies haar vir die man wat so eiegeregtig kan besluit wat ’n ander mens gaan doen en wat nie.

“Juffrou Cronjé, daar is een ding wat jy baie, baie goed moet verstaan. Ek en jou pa is kennisse, niks meer nie! Hy het my genader oor hierdie betrekking vir jou. Ek verstaan sy probleem en ek het begrip daarvoor. Vir my gaan jy egter net ’n werknemer wees. Hier is jy nie Bernard Cronjé se dogter nie. Dit is soos hy dit wil hê en dit is soos ek jou gaan behandel. Geen voorkeurbehandeling nie. Is dit duidelik?”

Mariet se ken wip effens, maar haar stem is heeltemal gedwee. “Ja, doktor.”

“Daar is nog ’n ding. As jy wil wegloop, is jy welkom om dit te doen. Die feit dat jy sonder ’n motor moes kom, is ’n goeie ding. Ek twyfel of jy, wat so gemaksugtig is, die twintig kilometer tot by Omdraaikrans sal stap. Wat ek egter by jou wil tuisbring, juffrou Cronjé, is dít: moenie eens probeer om my motor te steel nie. Jou rybewys is ingetrek vir ses maande. Ek sal geen genade hê nie. Ek sal jou summier by die polisie aanmeld. Ek het dit baie duidelik aan jou pa gestel.”

Mariet sluk aan die droogheid in haar keel. Waarvan praat die man? Hilda het niks van so iets gesê nie. Stommerik wat sy was! Sy moes geweet het daar steek meer agter. O, as sy haar hande om Hilda se keel kan sluit, sal iemand haar moet keer! Sy sal die laaste druppel lewe uit haar wurg!

“Ek hoop ons verstaan mekaar wat dit betref.”

Mariet knik net liggies terwyl haar verstand oortyd werk.

“Verder het jou pa opdrag gegee dat net die helfte van jou salaris elke maand aan jou uitbetaal moet word. Die ander helfte moet ek aan die Brand-gesin stuur, vir enige uitgawes wat hulle nog mag hê.”

“Maar hoekom?” Mariet praat voordat sy dink.

“Nee, ek het nie verwag dat jy dit sal verstaan nie, juffrou Cronjé. Bedorwe skepsels soos jy verstaan nie sulke dinge nie. Jou pa het wel die kind se hospitaalkoste betaal en vir die gesin geld gegee, maar hy wil hê jy moet ook voel hoe dit voel om met die minimum klaar te kom. Hy wil hê jy moet ’n slag besef die lewe is nie net vir jóú gemaak nie. Hy wil hê jy moet leer dat daar meer vreugde is in gee as in ontvang!”

Mariet staar in afgryse na die man hier voor haar.

Hy het ’n bruin fluweelbroek en -baadjie aan en die baadjie se sakke hang effens oop van baie dra. Hy lyk glad nie soos ’n hoogs geleerde man nie. Hy lyk baie meer huislik en soos een van daardie mense, soos haar pa, wat van binne af goed is en alles haat wat oneerlik en vuil is.

Sy gesig weerspieël die minagting wat hy vir haar voel en Mariet voel klein en baie, baie gemeen.

Hilda het haar lieflik om die bos gelei. Hier moet sy nou hierdie man se smaad verdra en Hilda gaan net voort met haar rykmanslewe asof sy niks verkeerds gedoen het nie.

“Goed! Ek verstaan. Ek … e … sal dit doen.”

Haar woorde betrap hom onverhoeds en hy kyk haar stil en peinsend aan. Bernard het hom gewaarsku dat sy soos ’n engeltjie kan word wanneer sy haar sin wil hê. Elke sintuig in sy liggaam is dus gespanne en waaksaam. Sy gaan hom nie aan die neus rondlei nie.

“Luister, juffrou Cronjé, jy hoef nie een van jou truuks met my te waag nie. Ek lees jou soos ’n oop boek. Jy gaan hier werk en jou plig deeglik doen. Ek aanvaar geen verantwoordelikheid vir jou nie. Jou en jou pa se sake is jul eie. Die oomblik dat jy egter iets aanvang wat my nie aanstaan nie, laat ek hom weet en hy moet sorg dat jy hier wegkom. Ek het dit baie duidelik aan hom gestel. Ek het ’n vol program en ek gaan dit nie deur jou laat omkrap nie.”

Mariet, wat darem ook vir Hilda ken, weet waarop die man nou sinspeel en sy kan hom nie eens kwalik neem oor sy harde woorde nie. Sy laat dus maar net haar kop sak en wag dat hy verder moet praat.

“Goed! Die werk sal ek dus nou vir jou wys.”

Hy staan op en stap na ’n staalkabinet in die hoek van die vertrek toe.

“Die kinders wat vakansies hierheen kom, word baie noukeurig uitgekies. Hierdie inligting in die lêers is baie vertroulik en jy sal vir my jou woord van eer moet gee, vir wat dit werd is, dat jy nie hierdie inligting oral sal rondstrooi nie.”

Verontwaardiging vlam in Mariet se wange. “Ek is nie …” Sy bedink haar egter en sluk die kwaai woorde terug. “Ek sal nie uitpraat nie.”

“Goed. Ek aanvaar jou woord daarvoor. Soos ek reeds gesê het, word die kinders baie streng gekeur. Elkeen verteenwoordig ander huislike omstandighede. Ek bring hulle twee keer per jaar hierheen, en sodra ek hulle vier vakansies gehad het, vervang ek hulle. Gewoonlik so twee op ’n keer.”

Mariet luister grootoog, terwyl sy die nuwe verwikkeling probeer verwerk.

“ ’n Bietjie meer in verband met hul omstandighede … Daar is kinders wat ’n enigste kind is, soos Brenda. Dan is daar kinders wat twee in die gesin is en albei by hul ma inwoon, soos Ria en Danie. Hulle tweetjies vorm saam ’n groepie. Jan kom uit ’n groot gesin. Hulle is vier kinders en hy is die oudste. Hulle woon by hul ma en sy moet bedags werk om die gesin te onderhou. Die pa dra niks of baie min by vir die kinders se onderhoud.”

Kobus Liebenberg se stem versag terwyl hy verder oor die kinders uitbrei. “Ou Flippie kom uit ’n gesin van drie kinders. Die ander twee kinders woon by hul ma en Flippie alleen by sy pa. Gretha is ook ’n enigste kind, maar sy bly by haar pa. Hy is ’n arm, maar baie hardwerkende man en ’n baie goeie pa. Gretha is soggens in die skool en smiddae by ’n bewaarskool. Haar ma het met ’n ander man weggeloop en sy besoek nooit vir Gretha nie.”

Mariet sluk effens aan die knop in haar keel. Hoe bevoorreg is sy tog! As sy net dink aan haar sorgelose kinderlewe …

“Soos jy dus kan sien, het ons vyf verskillende groepe. Ons werk nou aan opnames van hul gedrag in verskillende omstandighede, wat ons so natuurlik moontlik vir hulle aanbied. Dan eers word hulle in verskillende kategorieë ingedeel volgens hul gedrag. Daar is vyf kategorieë, van A tot E.”

Mariet voel die jammerte in haar opstoot. Arme, ongelukkige kinders wat al die pret en warmte van kindwees misloop.

“Ek moet dus noodgedwonge baie tyd saam met die kinders deurbring om my waarnemings te kan verfyn. Tannie Alet help my baie, veral met die meisies. Saans voltooi ons die vorms oor die dag se waarnemings. Ons het nie baie tyd nie. Hierdie wintervakansie is net ’n maand lank en daar is geweldig baie inligting wat verwerk moet word.”

“Wat is my plig, doktor?”

“Al die gegewens wat ons saans invul, moet die volgende dag netjies oorgetik word. Ek werk aan ’n boek in hierdie verband en daar is baie tikwerk. Sodra jy dus bedags met die vorms klaar is, kan jy van die bande begin oortik sodat ek dit kan nasien.”

“Goed.” Mariet se oë soek rond na die tikmasjien. Sy hoop tog nie dit is nog van daardie outydse soort waarop jy jou vinger tot by die middelste lid moet wegslaan nie.

“Die tikmasjien is daar in die hoek voor die venster. Die papier en ander benodigdhede is in daardie kas.”

Mariet haal die oortreksel van die tikmasjien af en sug dankbaar toe sy sien dat dit ’n netjiese tikmasjien is wat haar staan en inwag, die heel nuutste model op die mark.

“Kom, dan wys ek jou wat alles op die vorms gedoen moet word.”

Mariet gaan staan langs hom by die lessenaar en kyk na die swart hare hier by haar waarin daar al so hier en daar ’n grys haar sigbaar is.

Hy verduidelik alles breedvoerig aan haar, soos wat ’n mens met ’n kind sal maak, voordat hy dit vir haar aangee.

“Sal jy regkom?”

“Ja, dankie, doktor.”

Die beterweterige glimlaggie om sy lippe maak haar skielik woedend en sy kners op haar tande. Die los bruin hare wip parmantig toe sy met ’n stywe rug na haar tikmasjien toe stap.

“O, ja, nog ’n ding, juffrou Cronjé, geen gerook voor die kinders of hier in die studeerkamer nie.”

“Maar ek … rook nie!” Mariet swaai vererg om.

Sy een wenkbrou lig sarkasties. “Nie?” Hy lag ongelowig. “Eienaardig dat jou pa dit spesiaal gemeld het. Hy sê jy is besig om jou gesondheid te benadeel.”

Mariet swaai bloedrooi van verleentheid om. Sy onthou nou dat Hilda se rokery haar net so gehinder het toe hulle die vorige oggend gesels het. Dit is lank stil agter haar en sy draai versigtig om. Hy staan nog in die deur met sy hande diep in sy baadjiesakke en sy kan sien dat hy diep ingedagte is.

“Is daar nog iets, doktor?”

“Ek wonder net …”

“Ja, doktor?”

“Nee … ek is sommer besig om jou in een van my kategorieë te plaas. Ek ys egter wanneer ek daaraan dink dat een van hierdie kinders dalk eendag soos jy sal uitdraai.”

'n Nooi vir Omdraaikrans

Подняться наверх