Читать книгу Liefde per dosyn - Sarah du Pisanie - Страница 4
2
ОглавлениеChrista kyk verras na die imposante gebou wat so skielik vanuit die niet verskyn. Hulle is al by die hek voordat sy dit van die omgewing kan onderskei. Dit vertoon fortagtig met ’n hoë bruin klipmuur reg rondom. ’n Mens verwag nie so iets hier in die middel van nêrens nie. Dit lyk soos iets uit ’n droom.
Die trein wat gisteraand uit Swakopmund vertrek het, het haar teen nege-uur vanoggend by die haltetjie, wat nie veel meer as ’n naambord is nie, afgelaai.
’n Groot, stil man het nader gestaan en haar goedjies op ’n netjiese, nog feitlik nuwe, bakkie gelaai. Hy het homself kortaf voorgestel. “Simon … Simon Cloete, plaasvoorman op Ruigte.”
Christa het sy hand geskud en hom dadelik opgesom as iemand wat nie veel te sê het nie. Sy het hard probeer om ’n gesprek aan te knoop om die pad korter te maak, maar kon nie veel meer as ’n “ja” of “nee” uit hom kry nie.
Christa se oë blink as sy na die prentjie hier voor haar staar. “O! Maar dit is mooi!” sug sy dit in verwondering uit.
Daar is egter ’n ontevrede plooi op Simon Cloete se gesig as hy kyk na die groen grasperke, omsoom met veelkleurige blomakkers, en trosse rooi malvas wat teen die muur oprank.
“Dit is simpel … ’n vermorsing van water en kos vir die diere … ’n bees of ’n skaap kan dit nie vreet nie …” Simon praat sy eerste volsin met haar en Christa lag skaterend.
Dit is asof Simon effens meer in haar geselskap ontspan. “Die swetterjoel kinders sal dit in elk geval binne ’n maand alles platgetrap hê. Ek ken kinders! … self vyf grootgemaak.”
Christa lag vir sy verontwaardiging. “Wie is nog almal hier, buiten die kinders?” vra sy.
“Hier is baie werksmense … te veel as jy my vra. Ons het mos maar die plaas vir ou meneer Von Leipsig opgepas. Toe’t hulle kom kamers aanbou en vragte goed aangery … en net daarna kom die kinders!”
“Het daar nuwe personeel saam met die kinders ook gekom?” vra Christa vinnig voordat sy geselsbui weer opdroog.
“Ja, nog ’n vrou en so ’n ou stywenek Duitser,” antwoord hy bruusk.
Christa sug van verligting. So die gehate Adolf von Leipsig is nie hier nie. Nie dat sy gedink het hy sal hom verwerdig om ’n klomp weeskinders te kom oppas nie. Daarvoor huur ’n mens ander mense. Sy vrees net daardie enkele dae wanneer hy seker sal kom kyk of alles nog reg is.
’n Jong Herero-seun maak vir hulle die hek oop en Simon laai sonder ’n verdere woord haar bagasie op die groot stoep af en ry agterom die huis met die bakkie.
Christa trek haar asem diep in. Sy klop aan die groot houtdeur en luister hoe die geluid van die koperklingel deur die huis weergalm. Dit is eers wanneer sy ’n tweede keer klop dat die deur oopgaan. Simon se “stywenek Duitser” staan kiertsregop en korrek in die deur. Hy is die ekwivalent van ’n Engelse butler, met streepbroek, swart baadjie, stywe wit kraag en strikdas. Hy is ’n bejaarde man, seker al sestig of meer jare oud en dit lyk asof hy per ongeluk saam met die tafeldoeke en servette gestywe is.
Hy kyk haar stil en uit die hoogte aan sonder om ’n woord te sê. Christa weet nie of sy hom met die hand moet groet of nie. Sy besluit egter daarteen en trek haar skouers meer reguit.
“Goeiemôre! Ek is Christa van Graan, die nuwe onderwyseres,” sê sy, ook nou baie professioneel.
“Bitte.” Hy uiter die een woordjie met stywe lippe en kyk haar onbegrypend aan.
“Ag, genade tog!” mompel Christa vies. Dan kry sy skaam vir haarself as sy besef dat hy geen woord sal verstaan nie, en slaan liewer oor na Duits.
Hy staan opsy en maak die deur wyer oop. Christa buk om van die bagasie op te tel, maar hy keer haar. “Ek sal dit nou laat haal,” sê hy met ’n uitdrukkinglose gesig.
Christa weet sy gedra haar soos ’n agie, maar die bewondering lê oop en bloot op haar gesig as sy stadig in die rondte draai om alles in te neem. Soveel weelde en luuksheid verwag ’n mens nie op ’n plaas nie, nie eens op ’n Von Leipsig se plaas nie. Alles, die houtvloere, die koperbakke en kristalornamente wat oral rondstaan, is skitterblink gepoleer en glinster in die son.
Ou Stywenek stap voor haar uit en af met ’n lang gang. In ’n korter gangetjie draai hy links en maak die tweede deur oop.
Christa probeer met mening om nie soos ’n kleuter aan alles te vat nie. Die kamer vertoon dieselfde luuksheid as die groot ingangsportaal. Die naaswit gordyne hang tot op die grond en raak liggies aan die liggroen wolmat, wat sag onder haar voete meegee en enige geluid demp. Oor die pragtige groot bed met blink geelkoperstyle is ’n naaswit deken en ’n stapel kussings wat wissel van lig- tot donkergroen. In die een hoek van die massiewe vertrek is ’n skryftafel van stinkhout en teen die oorkantste muur is ’n bank wat oorgetrek is met groen fluweel.
“Ek sal u ete hierheen stuur.” Stywenek stap waardig by die kamer uit en trek die deur sag agter hom toe.
’n Jong seun bring haar tasse en sy pak haar goedjies in die enorme hangkas uit, dankbaar vir iets om te doen.
’n Kloppie aan haar deur laat haar vinnig opstaan. Dit is weer Stywenek. Hierdie keer dra hy ’n skinkbord wat netjies gedek is vir tee. Hy sit dit op die lae tafeltjie neer en kom eers stadig regop voordat hy hom verwerdig om in haar rigting te kyk.
“Die baron sal u oor vyftien minute in die studeerkamer spreek.”
“Die baron?” Christa kyk geskok na hom. “Is hy dan hier?”
Stywenek kyk haar aan asof sy verstandelik vertraag is. “Ja, juffrou!” Hy klink taamlik sarkasties. “Hy woon hier …”
Christa voel benoud en druk haar hand op haar bors waar haar hart nou wild en angstig klop. “Goed … ek … ek sal gereed wees,” stotter sy. Haar keel is droog van skok.
“Ek sal u oor vyftien minute kom haal sodat ek u kan wys waar die studeerkamer is.” Christa is so ontsteld dat sy nie eens agterkom Stywenek maak weer die deur agter hom toe nie.
Stiptelik ’n kwartier later is daar ’n kloppie aan haar deur. Hulle stap met die lang donker gang af en Christa moet haarself streng vermaan om kalm te bly. Hy sal haar tog nooit herken nie! Hy het nie genoeg belanggestel om haar naam tot die volgende dag te onthou nie, probeer sy haarself troos.
Haar gedagtes gryp hier en los daar. Sy probeer alles onthou wat ou Oelofse haar vertel het. Hy het haar darem die aand stasie toe geneem. Hy was so oorstelp oor die eer wat sy skool te beurt geval het en het onophoudelik oor die baron gepraat. Die ou baron Von Leipsig is ’n paar jaar gelede oorlede en die jong baron het sy plek ingeneem. Adolf von Leipsig was dus die ongekroonde koning van die Von Leipsig-koninkryk.
Oelofse het haar vertel Adolf en Kurt is halfbroers. Adolf se ma is op ’n vroeë ouderdom dood en die ou baron Von Leipsig is toe weer getroud. Kurt se ma was egter ’n prima donna. Met haar talentvolle stem het sy die hele Europa aan haar voete gehad. Die baron het kort na hulle troue vir sy vrou ’n musiekskool op hulle gronde laat oprig. Daar het hulle seuns opgelei in sang en musiek. Die skooltjie was egter net vir besonder begaafde kinders en hulle is baie streng gekeur. Hierdie koor, bekend as die Abendruhe-seunskoor, het oral in Europa bekendheid verwerf.
Hierdie nuus het haar vir die eerste keer die afgelope twee dae geïnteresseerd na Oelofse laat luister. “Leef sy nog? Die sangeres?” het sy gevra en Jan Oelofse het geblom oor haar skielike belangstelling.
“Nee, sy is al ’n geruime tydjie dood. Haar seun was blykbaar so vyftien of sestien. Hy … dis nou die baron se broer, het ook daar skoolgegaan. Hy het, nes sy ma, ’n pragtige stem gehad. Na haar dood het die skool bly voortbestaan, selfs deur die oorlogsjare. Hulle het puik onderwysers gehad want geld is mos nie ’n probleem by die Von Leipsigs nie.”
Christa word hard tot die hede teruggeruk toe Stywenek voor ’n deur tot stilstand kom. Hy klop saggies en maak die deur versigtig oop. Christa word weer bewus van die Duitse presiesheid en dissipline en haar keel wil-wil toetrek.
Sy haal diep asem en voel soos ’n kind wat verbrou het. Sy moet haarself dwing om die een voet voor die ander te sit en die kamer binne te gaan. Sy lig haar kop op. Hý is die een wat verleë is, nie sy nie, gryp sy na ’n strooihalm. As hy haar terugstuur, het sy darem ’n verskoning …
Daar is net ’n paar ekstra lyne om sy mondhoeke as toe sy hom die laaste keer gesien het. Die gesig lyk nog steeds of dit uit klip gekap is en sy oë is nog net so koud en veroordelend.
“Sit, juffrou! … e …” Hy kyk eers op die papier voor hom. “Van Graan …!”
Hy kyk stadig op en daar is iets bekends aan haar. Hy delf egter nie dieper op hierdie gedagte nie, kyk haar net opsommend aan asof hy haar weeg vir die pos en wil-wil te lig vind.
Christa sluk aan die droogheid in haar keel. ’n Vreemde seer gedagte flits deur haar koorsige verstand as sy besef dat hy haar nie herken nie. Daardie aand het hoegenaamd geen indruk op hom gemaak nie en tog het dit so diep in haar menswees ingevreet dat dit voel soos permanente skade.
“Juffrou, u weet natuurlik dat ons liewer ’n mansmens wou gehad het. Dit is net seuns wat hier onderrig word. Meneer Oelofse verseker my egter dat u die enigste persoon in hierdie land is wat kwalifiseer.” Sy stem is neerhalend, asof hy nie veel dink van hierdie land se potensiaal nie.
Christa se ken wip ’n aks. Genadiglik voel sy hoe senuweeagtigheid plek maak vir verergdheid en frustrasie.
Adolf von Leipsig merk niks op nie en gaan koud en onpersoonlik voort. “Ek wil dit baie duidelik stel: sodra ons ’n manspersoon kry om oor te neem sal u dienste nie meer nodig wees nie.” Hy tik met sy pen op die tafel en sy kan die ongeduld in sy stem hoor. “Hierdie is dus ’n noodreëling.”
Ja, dink Christa vererg. Julle kan die deuntjie speel en ons moet dans al is dit ook hoe vals. Sy kry lekker as sy besef dat hy in hierdie ylbevolkte land sal moet vat wat hy kry. Hy is darem al lank genoeg hier om te weet dat jy nie die hemel met kaal hande kan skeur nie.
Adolf kyk vinnig op en sien die flits van minagting in haar oë, en dan skuif die gordyn stadig weg. Hy sluk aan die verbasing wat in hom opstoot toe hy besef wie dit is wat hier voor hom sit. Sou sy werklik so dikvellig wees? Of … of het sy gedink dat dit dalk Kurt is wat hier op die plaas is …? wonder hy geskok.
Hy sien hoe sy vinnig afkyk. ’n Oomblik lank is hy van stryk gebring en moet hy hom terugdwing na die hede toe.
“Daar is tien seuns wat onderrig moet ontvang. Die oudste een is sestien jaar oud. Die ander wissel …” Hy praat en praat maar Christa neem min in. Sy sal môre alles op haar tyd uitsorteer.
“Van hul musiekagtergrond weet ek min. Alles sal egter op hulle lêers wees. Daar word slegs van jou verwag om hul musiek op standaard te hou … jy hoef nie meesters te kweek nie,” sê hy en Christa weet dat hy haar bekwaamheid sterk in twyfel trek.
Christa se bene is lam en bewerig as sy terugstap na haar kamer. Die woede en vernedering is weer so deel van haar soos destyds. Sy kalmeer haarself egter met die gedagte dat hy haar tog nooit sal herken nie. Hy onthou nie eens meer die voorval nie.
Teen sesuur is daar ’n klop aan haar deur en dit is weer ou Stywenek. “Ete word om sewe-uur in die eetkamer bedien.” Sy stem is koud en pas by sy vaalblou oë. Christa ril liggies. Hier sal ’n mens darem in jou spoor moet trap om nie te hard asem te haal nie, besluit sy grimmig.
Sy staan half verleë in die deur as die man haar stil op en af bekyk en sy mondhoeke effe minagtend aftrek. “Stiptelik! Die kinders se opvoeding vereis dissipline en stiptelikheid is een van die reëls.” Hy kyk haar uit die hoogte aan, asof hy verwag dat sy hom gaan weerspreek.
“Wel, slaan dood en sleep weg!” sê sy hardop in Afrikaans, welwetende dat hy nie ’n woord sal verstaan nie.
Hy draai om en sy manelpunte wip belangrik op en af as hy wegstap. “Herr …!” Christa roep hom terug. “Wat moet ek u noem?” vra sy en die onsekerheid slaan deur in haar stem.
“Bernard!” sê hy kortaf en stap vinnig weg.
Christa trek vir hom skewemond en steek haar tong vir hom uit, voordat sy haar kamerdeur toemaak.
’n Minuut of twee voor sewe stap sy af eetkamer toe. Sy maak al die deure oop om te kyk of dit die eetkamer is en dis eers ná sewe dat sy by die regte deur instap.
Die groot vertrek word oorheers deur ’n enorme tafel. Op hierdie oomblik voel dit vir haar soos ’n see van seunsgesigte wat haar aanstaar. Aan die kop van hierdie ellelange tafel sit baron Adolf von Leipsig, adellik en arrogant.
Hy kyk haar afkeurend aan. “Ons wag net vir u, Fräulein! Bernard het vir u gesê stiptelik sewe-uur! En dit beteken stiptelik!”
Die bloed kook in Christa se are. “As iemand net genoeg maniere gehad het om my te wys waar die eetkamer is, sou ek betyds gewees het,” sê sy met haar ken in die lug en gaan sit styf en regop op die stoel wat Bernard vir haar uittrek.
Die baron wag met groot ongeduld totdat sy plaasgeneem het en Bernard weer op sy pos teen die muur staan voordat hy praat.
“Dit is Fräulein Van Graan. Sy sal julle leerkrag wees totdat ons ’n man van Duitsland af kan kry. Sy is Duits ten volle magtig en julle sal julle onderrig in Duits ontvang. Sy sal ook julle musieklesse waarneem. Lesse begin soggens stiptelik om agtuur.” Adolf von Leipsig kyk direk na haar as hy die laaste sin uitblaf.
Christa wens sy kan opspring en kamer toe vlug. Sy is bereid om die res van haar lewe sonder kos te bly. Hierdie skare seunsgesigte wat elke beweging van haar dophou, ontsenu haar heeltemal.
Aan haar regterkant sit ’n lang blonde seun. Hy moet die oudste een van die lot wees, want volgens Adolf is hy sestien jaar oud. Die ander skat sy tussen agt en veertien jaar. Oorkant haar sit egter ’n kleintjie. Hy kan nie ouer as vier of vyf jaar wees nie.
Christa tel hulle onderlangs. Elf saam met die kleintjie. Dit kan net die arrogante baron Von Leipsig se kind wees. Sy wonder waar is sy vrou want hier is geen plek oop aan tafel nie.
Christa grinnik skaapagtig vir die see van gesigte, maar daar is geen reaksie van hulle kant af nie.
Adolf tik teen sy glas en indien moontlik, raak die stilte nog groter. Hulle buig hulle hoofde en hy rammel iets soos ’n gebed af.
Christa staar ongelowig na die militaristiese gedissiplineerdheid van die seuns. So iets het sy in al die jare wat sy skoolhou nog nooit gesien nie. Die arme goed!
Bernard knik liggies met sy kop en dan kom twee bediendes met skinkborde die eetkamer binne.
Al wat hoorbaar is, is die geskraap van eetgerei op porselein, en paniek stoot soos ’n vloedgolf in Christa op. Hoe op aarde gaan sy hierdie standaard van dissipline gehandhaaf kry?
Christa proe aan haar sop en haar oë soek na die soutpot. Dit is egter buite haar bereik en sy buig oor na die groot seun langs haar en vra saggies vir die sout.
Hy vat die potjie onskuldig vas en loer dan vinnig onderlangs na Adolf. Hy is egter besig met die kos op sy bord. So ongemerk moontlik lig die seun die soutpot oor Christa se bord sodat ’n wit straal sout in haar sop uitloop.
Christa staar hom sprakeloos aan en sy sien die ander se goedkeurende blikke.
Die seun se hand beweeg so suutjies, en voordat Christa mooi besef, staan die potjie langs haar bord.
Christa loer ook nou vinnig na Adolf, nes die seun vroeër. Hy kyk direk na haar en sy is genoodsaak om die soutpot te vat en nog sout in die alreeds salpetersop te gooi.
Sy wurg die nare sop af en verwens die groot blonde seun hier langs haar. Sy is reeds so honger!
Sy besef dat hierdie klomp stil gedissiplineerde seuns haar met alles tot hul beskikking gaan toets. Hulle wil sien of sy hulle by Adolf gaan verkla. En soos sy seuns ken, sal hulle nie ophou voordat hulle iets bewys het nie. As hulle maar kon weet dat sy vir die arrogante Adolf von Leipsig banger is as vir al die poetse wat hulle op haar kan bak, maak nie saak hoe gruwelik nie.
Die ete verloop stil en ordentlik en die seuns verlaat die vertrek amper geluidloos. Dit is eers wanneer hulle aan die onderpunt van die gang kom dat sy ’n sagte gemurmel van stemme hoor.
“Juffrou Van Graan …” Adolf praat hier skuins agter en sy wip van die skrik. “Kom asseblief na my studeerkamer. Daar is nog ’n paar sake wat ons moet bespreek.”
Christa knik en stap agter hom aan.
Hy druk die deur agter hulle toe en kyk haar fronsend op en af. Christa voel hoe die spanning in haar bou as sy besef dit is sy manier om haar minderwaardig te laat voel.
“Eerstens … ons trek saans formeel aan vir ete. Dit is deel van hierdie seuns se opvoeding.” Hy kyk vies na die rok wat sy aanhet.
Christa se ken wip en die woede flits in haar oë maar sy uiter geen woord nie en kyk hom net vreesloos aan. Sy sien hoe hy ’n oomblik lank huiwer maar dan gaan hy ongeërg voort asof daar geen onderbreking was nie.
“Hierdie seuns kom uit ’n baie hoë stand. Hulle opvoeding vereis etiket en dissipline sodat hulle hul eendag op ’n hoë vlak in die samelewing sal kan handhaaf. Daar moet dus te alle tye korrek opgetree word. As u twyfel aan die regte manier, vra gerus vir Bernard …”
Die bloed stoot in Christa se wange op as sy besef wat hy bedoel, maar sy byt haar woorde, dat sy nie seker is of sy régtig die korrekte maniere ken nie, met mening terug.
“Kan u my asseblief meer inligting omtrent die seuns gee?” Sy verander die gesprek voordat sy heeltemal ontsenu word. “Ek verstaan van meneer Oelofse dat hulle almal weeskinders is en …”
Hy kyk vinnig op. “Juffrou Van Graan, ek wil geen sentimentele snert hê nie. Die seuns aanvaar die feit dat hulle nie ouers het nie. Hulle word goed versorg. Ons handhaaf dieselfde standaard as waaraan hulle in hulle eie huise gewoond was.”
Christa wil weer iets sê maar sy hele houding sê vir haar dat hierdie gesprek verby is.
“Ek sal vir Bernard stuur met die kinders se lêers sodat jy dit vanaand nog kan deurwerk. Ontbyt is soggens stiptelik om sewe-uur en die klasse begin om agtuur,” beveel hy kortaf.
“Waar word die klasse waargeneem?”
“Dit is aan die agterkant van die gebou. Ons sal jou môreoggend daarheen vergesel.” Met genoegdoening besef sy dat hy vanaand die boodskap hard en duidelik gekry het.
Christa hou haar kop omhoog as sy die kamer uitstap. Haar hele liggaam bewe. Woede, seer en simpatie vir die arme seuns, dit alles prut in haar binneste.