Читать книгу Liefde per dosyn - Sarah du Pisanie - Страница 5
3
ОглавлениеChrista kyk ondersoekend na die elf gesigte hier voor haar. Hulle is ordelik en stil maar die onrustigheid knaag aan haar. Die geslote gesiggies is net te maskeragtig en die stilte net te onheilspellend. Haar jare in die onderwys het haar geleer dat onder daardie gedissiplineerde houdinkies dikwels ’n duisend duiwels ronddraai.
Adolf draai al om die klaskamer rond en het al twee keer net stil in die deur kom staan. Sy nabyheid is al wat hierdie kruitvat weerhou van ’n ontploffing. Telkens wanneer hy stil voor die klas kom staan, is dit asof die kinders ophou asemhaal.
Christa probeer hard om hulle name te memoriseer. Sy vat dus nou weer die stukkie papier waarop sy dit afgeskryf het en probeer elke naam aan die gesig koppel.
Die oudste een is Gustav Kraft. Hy is sestien jaar oud, nors en in homself gekeer. Hy is onteenseglik die leier. Sy kan die aggressie in hom aanvoel en daardie blou oë van hom is kil en beredeneerd. Hy is tans in standerd agt, in ’n groep van sy eie.
Dan is daar Peter Strauss. Hy is veertien jaar oud en nes sy naamgenoot baie jare gelede, ’n groot pianis in wording. Hy is lank en skraal met ’n ronde brilletjie wat sy oë groot en uilagtig laat vertoon. In dieselfde ouderdomsgroep is daar nog twee, Heinz von Eckenberger en Johann Enke. Hulle moet in standerd ses geplaas word.
In die standerdvyf-groep is daar net twee seuns en hulle is die spreekwoordelike Dawid en Jonathan, onafskeidbaar. Hulle is Carel Leichtner en Niklaus Schultz. Blond, soos die meeste van hierdie Duitse seuns, met groot blou oë. Ondeund staan egter in groot vet letters oor hierdie twee maskergesiggies geskryf, en Christa weet dat hierdie front wat hulle voorhou, nie baie lank sal duur nie.
Daar is vier seuns in die standerddrie-groep. Hulle ouderdomme wissel van tien tot elf jaar. Daar is Jurgen en Stefan von Brandis, ’n tweeling wat lyk soos twee ertjies in ’n dop. Dan is daar Klaus Knake en anders as die ander seuns is sy hare bruin van kleur en sy oë meer groengrys. Hy is maer en seningrig. Die baron se seuntjie is altyd by hom, so asof hy die kleintjie se beskermengel is. Die laaste een in hierdie groep is ’n vet seuntjie. Sy wangetjies is rooi en sy blonde hare krul guitig om sy koppie sodat hy soos ’n groot kabouter lyk. Hy is Udo Sneider en sy naam sal sy nie maklik vergeet nie, want dit klink vir haar net so rond soos sy postuurtjie.
Christa loer onderlangs na die jongste van die klomp. Sy gee ’n verlate suggie as sy in die groot blou oë kyk. Hy lyk so baie soos Kurt. Sy naam is nie op die lys nie, en dit versterk haar vermoede van gisteraand.
“Wat is jou naam?” vra sy in ’n vriendelike stemtoon.
“Kurt von Leipsig,” sê hy vinnig en loer skrams na Gustav.
Daar is ’n bewing in haar binneste. Dan … dan ís hy die baron se kind! Hy lyk nes sy oom Kurt, besluit sy, en sy moet vinnig die trane wegknip wat onverwags in haar oë opdam.
Haar blik gaan oor die elf kinders en sy sien die uitdaging in hul oë blink. Haar waaksaamheid verskerp – sy sal nie ’n oomblik lank kan verslap nie.
Sy dwing haar gedagtes na meer rasionele denke om haar selfbeheer terug te kry. Sy sal die baron moet vra of sy vir klein Kurt ook moet klasgee. Hy kan nie ouer as vyf wees nie en is beslis nog nie skoolgereed nie. Daar is ook nie vir hom ’n lêer nie. Sy neem dus aan dat hy hierheen kom net om tussen die ander te wees. Sy sal hom maar laat prentjies inkleur en hom ’n bietjie leer lees en skryf, dat hy nie te verveeld raak nie.
Wat haar die meeste van die kind fassineer, is die feit dat hy hom so een voel met die ander seuns. Hy sit ver van sy pa aan tafel en sy het ’n vermoede dat hy ook by die res van hulle in die slaapsaal wat agter die huis aangebou is, slaap.
Christa kyk met waardering om haar rond. Dié deel is splinternuut aangebou en hier is alles wat ’n mens mag nodig hê en nog meer. Langs hierdie klaskamer is ’n groot musiekkamer met ’n verskeidenheid instrumente en alles is in ’n puik kondisie.
Daar is skielik ’n onrustigheid in die klas. Christa sien hoe Carel amper ongemerk aan Niklaus stamp en liggies met sy kop beduie. Met ’n sinkende gevoel in haar binneste sien Christa hoe Adolf op ’n groot blink swart perd wegry.
Sy maan haarself tot kalmte. Nou sal sy vinnig moet optree want sonder sy teenwoordigheid in die nabyheid sal hierdie klas in ’n oogwenk in chaos omskep word.
“Kom ons gesels eers ’n bietjie sodat ek julle beter kan leer ken. Julle het nou al julle boeke en ek weet naastenby wie julle is.” Sy praat vinnig voordat hulle ’n kans kry om haar te onderbreek.
Gustav staan op en kom staan voor in die klas. “U kan vir my vra wat u wil weet, Fräulein. Ek sal almal se vrae beantwoord.” Hy kyk haar uitdagend aan en Christa voel hoe die naarheid in haar opstoot.
“Gaan sit op jou plek, Gustav. Ek kan heeltemal goed hoor.” Haar oë wyk nie ’n oomblik voor syne nie en daar verskyn ’n smalende trek om sy mond.
“Hulle moes ’n man gestuur het. Wat weet ’n vroumens van musiek af?” Hy klink aggressief en sy hoor ’n onderdrukte gegiggel by die ander. Hy slenter luiweg terug na sy sitplek maar Christa weet dat hy nou gevaarliker is as ’n gewonde tier.
Christa wag totdat hy weer sit. “Aangesien jy die oudste is, Gustav, kan jy my gerus meer van jouself vertel. Waar het jy gebly? Het jy nog familie in Duitsland?” Christa se stem is opreg belangstellend.
“Hoekom? Wat wil jy maak as jy weet? Jy is veronderstel om ons te onderrig, nie om met ons te gesels oor ons families nie,” sê hy astrant en loer onderlangs na die ander om te sien of hulle dit goedkeur.
Christa kners op haar tande. Sy ignoreer Gustav se onbeskofte antwoord en draai na klein Kurt.
“Kurt …” Hy sit en blaai deur een van Klaus se boeke en Klaus stamp aan hom as hy nie dadelik opkyk nie.
Christa glimlag met hom as hy verbaas na haar kyk. Sy groot blou oë lyk net so onskuldig soos Kurt s’n destyds en toe hy terugglimlag, sien sy ’n gaping tussen sy voortandjies, wat hom stout en dierbaar laat lyk.
“Hoe oud is jy, Kurt?” vra sy vriendelik.
“Vyf jaar … ek –” Klaus stamp aan hom en beduie iets met sy oë. Kurt bly ongemaklik stil.
Christa sug liggies en haar blik skuif oor die hele klas. “Goed, dan sal ek maar praat. Ek weet dat julle almal weeskinders is en dat julle aan die musiekskool op Abendruhe gestudeer het.”
Sy kyk die kinders deur en soek dan een van die minder aggressiewes uit. “Niklaus, vertel jy vir ons meer van die skool op Abendruhe. Hoe oud moes julle wees voordat julle daarheen kon gaan?”
“Niklaus! Niklaus!” Die kinders lag dawerend en Carel herhaal dit met groot vertoon.
“Dit klink soos Sinterklaus,” giggel hy.
“Stilte!” Christa hou al lank genoeg skool om te weet dat sy nie kan bekostig om die leisels een oomblik af te gee nie.
Gustav het weer vorentoe geslenter en sit nou eenkant op haar lessenaar.
“Gaan sit dadelik op jou plek, Gustav. Ek sal sulke ongedissiplineerdheid nie in my klas duld nie.” Sy probeer so streng en kwaai moontlik klink.
“Wat gaan Fräulein doen as ek weier?” vra hy spottend.
Christa kyk hom magteloos aan en hy lag uittartend. “Vir my ’n pak slae gee?” Hy staan op en gee ’n tree tot reg langs haar. Hy is amper ’n kop langer as sy.
“As jy langer so aanhou, sal ek geen keuse hê as om jou by die baron te rapporteer nie,” sê sy kil.
“Jy sal dit nie doen nie.” Gustav klink baie seker van sy saak.
“O, ja, ek sal!” Sy kyk hom reg in die oë.
“Hoekom het jy dan nie gisteraand vir hom gesê van die sout nie? Jy is net so bang vir hom! Dalk banger as hulle …” Hy beduie met sy kop na die klas.
Christa trek haar so waardig moontlik regop sodat sy langer kan vertoon. “Ek hardloop nie met kleinighede na ’n hoër gesag nie. Sulke sake hanteer ek self.”
Gustav lag egter smalend en knik vir Heinz von Eckenberger wat ook nou opgestaan het en langs hom voor in die klas kom staan.
“Ek dink … Fräulein is bang hy sal jou terugstuur as jy nie dissipline kan handhaaf nie!” Christa besef waarheen hy nou mik en haar moed sak tot in haar skoene.
“Jy dink jy is baie slim, Gustav. Hier is niemand anders wat julle kan onderrig nie. Ek wou nie kom nie. Ek het ’n wonderlike pos op Swakopmund gehad. Maar ongelukkig was ek die enigste een wat vir dié werk gekwalifiseer het. Óf julle vat my soos ek is … óf julle het geen onderwyser nie,” sê sy kalm terwyl haar hart in haar keel klop.
“Ons wil nie ’n onderwyser hê nie,” sê Heinz. “As hier nie ’n onderwyser is nie, hoef ons nie skool te gaan nie. Reg, manne?” Die ander klap hande en juig hom luidkeels toe.
“Achtung! Die kommandant!” Johann Enke, wat by die venster sit, blaf die woorde uit en dadelik is almal op hulle plekke en kan suiker nie in een se mond smelt nie.
’n Lang seningrige vrou kom van die kombuis se kant af nader en Christa het skielik lus en lag hardop. Dit moet die matrone wees. ’n Beter naam sou niemand vir haar kon uitdink nie! Die vrou stap met lang treë verby na die hoenderhokke toe en haar lang swart rok swiep om haar enkels. Die kinders bly steeds tjoepstil sit en Christa besef dat sy hierdie geleentheid moet aangryp.
“Haal asseblief julle leesboeke uit. Gustav, lees solank die eerste hoofstuk van jou voorgeskrewe werk. Ek sal dit later met jou behandel. Die res van julle, maak oop by bladsy een. Carel, begin jy.”
Daar daal ’n rustigheid oor die klas en Christa kan weer asemhaal. Haar aandag is egter net gedeeltelik by wat die kinders lees. Sy wonder waar is die baron se vrou. Hier is geen teken van haar nie en dit sal nie eers help sy probeer iemand uitvra nie – niemand sal haar antwoord nie.
Sy kyk na Kurt met sy digte blonde haartjies. Hy is so dierbaar! Hy kyk op en sy glimlag vir hom. Hy wil-wil terugglimlag, maar Klaus pomp hom vinnig in die ribbe en beduie met sy oë na Gustav. Christa skud haar kop liggies. Dit is natuurlik afgespreek dat niemand met haar mag praat nie.
Die kommandant kom verby met ’n mandjie eiers en dadelik is die onrustigheid weer terug in die klas.
Niklaus lyk vir haar na die onskuldigste van die klomp. Sy rig haar tot hom. “Niklaus, wat noem die ander kinders jou?”
“Niko, Fräulein,” antwoord hy en kyk dan weer vinnig voor hom op die bank.
“Wat is die matrone se naam, Niko?” vra sy en sien hoe hy vinnig onderlangs na Gustav loer.
Woede blits in haar oë. “Niko, ek het jou ’n vraag gevra en ek verwag ’n antwoord.” Daar is soveel outoriteit in haar stem dat dit dadelik die gewenste uitwerking het. Hierdie kinders ken net geharde dissipline en dit is al wat hulle sal aanvaar, besef sy.
“Frau Maria!” sê hy kop onderstebo.
“Wat doen sy alles hier, Carel?” vra sy een van die ander en dwing hulle doelbewus om met haar te praat.
“Sy maak kos en kyk na ons kamers en was ons wasgoed,” sê hy, erg ongemaklik.
“En sy het ’n swart boekie waarin sy alles opskryf …” begin klein Kurt, maar Klaus ruk hom vinnig terug in die bank en die arme ou seuntjie krimp ineen onder die verwytende blikke van die ander.
Christa loer ongemerk na Gustav. Hy sit agteroor met sy hande oor sy bors gevou en sy boeke lê onaangeraak op sy lessenaar. Sy sug liggies. Die arme ontwrigte kinders het soveel trauma in hul jong lewens beleef. Sy sal net eenvoudig meer geduldig en liefdevol moet wees.
Skielik hoor sy dawerende perdepote en dan raak die stilte weer tasbaar in die klas. Dit moet Adolf wees wat op pad terug is, want dit is slegs sy teenwoordigheid wat hierdie uitwerking op die kinders het. Selfs Gustav maak ’n boek oop en dit is met verligting dat Christa sien hoe gou hy hom in die leesstof verdiep. Dit is soos ’n groot helder lig wat skielik deur haar verstand flits. Sy moet hom net besig hou!
Halfeen pak hulle op want middagete is stiptelik om eenuur. Die kinders stap in netjiese rye by die klaskamer uit en die gewone gelag en gejil aan die einde van ’n skooldag is hier afwesig. Christa kyk hulle met ’n beklemming in haar binneste aan. Dit is so verkeerd … so onnatuurlik. Hoe op aarde gaan sy die baron dit aan die verstand bring? Sy is vir hom dan net so bang soos die kinders!
Die ete is weer ’n stywe stil okkasie en Christa wonder of ’n mens se kos kan verteer te midde van soveel gespannenheid. Adolf mompel ’n dankgebed en Christa staan vinnig op om weg van die gelaaide atmosfeer te kom. Al die kinders bly egter sit en Christa sak verleë terug in haar stoel.
Adolf lui die silwerklokkie en Christa moet vinnig haar kieste vasbyt om nie hardop te lag nie wanneer die Kommandant kiertsregop ingestap kom met ’n swart boek stewig in haar hande.
Sy is ’n groot growwe vrou en Christa weet dat Gustav nie met haar sal skoor soek nie. Sy kom staan regs langs Adolf en oorhandig die boek aan hom sonder enige uitdrukking op haar gesig.
Die swanger stilte raak nog swaarder wanneer Adolf die boek tydsaam oopmaak.
“Stefan!” Adolf se koue blou oë soek na Stefan om die tafel. “Jy het vuil skoene in jou kas teruggesit.”
Christa sien hoe die kind vinnig sluk en dan strak voor hom kyk. Adolf gaan voort sonder om op ’n verduideliking te wag.
“Udo … daar was krummels in jou kas. Kry jy nie genoeg aan tafel nie? Jy weet daar mag nie in die kamers geëet word nie.” Sy stem is kwaai en beskuldigend en hy laat dit klink na ’n vreeslike oortreding. Ou Udo laat sy kop verleë sak en ’n spiertjie spring in die vet wangetjie.
“Carel en Niko … julle handdoeke was vanoggend nie netjies opgehang nie.” Hy maak die boek toe en oorhandig dit aan die Kommandant wat gretig staan en wag om die seuns se straf aan te hoor.
“Almal na my kantoor … behalwe Udo. Frau Maria, gaan sny vir hom vier snye brood, sonder enige botter of iets anders daarop. Hy moet dit in die kombuis opeet.”
Christa se mond sak in stomme ongeloof oop en voor sy haar kan keer staan sy op haar voete. “Maar dit is onmenslik! Udo het nou net ’n yslike bord kos opgeëet!” Daar is twee rooi kolle van verontwaardiging op haar wange.
Adolf se stem sny soos ’n mes deur die vertrek. “Om hom dit vanmiddag vieruur te laat eet sal geen straf wees nie. Ek wil u na die seuns in my kantoor spreek, juffrou Van Graan.”
Sy sien die grinnik van tevredenheid op Frau Maria se gesig en daar is ’n trek van genoegdoening op Gustav s’n. Die ander seuns kyk oral behalwe na haar en lyk erg ongemaklik. Net uit Udo se traanblink ogies straal daar dankbaarheid.
Die skuldiges stap kantoor toe en die ander verdwyn blitsig. Christa staan besluiteloos rond. Sy wil nie te naby die kantoor wees as die seuns gestraf word nie, maar sy kan ook nie te ver weg wees nie, want stiptelikheid is hier evangelie.
’n Klein handjie glip sag in hare en sy kyk af in Kurt se onskuldige blou ogies. “Die kantoor is daar, Fräulein.” Hy beduie met sy hand.
“Ek weet, dankie, Kurt. Ek wag net dat die ander uitkom.”
“Gaan die baron vir Fräulein ook pak gee?” vra hy ernstig.
Christa glimlag gerusstellend met hom en vryf sy haartjies deurmekaar. “Ek glo darem nie, Kurt. Jy moet seker nou ook kamer toe gaan. Julle rus mos tot twee-uur toe.”
Hy knik en hardloop die gang af en Christa frons bekommerd. Hoekom praat hy van sy pa as die baron? Genade, hoe ver wil hulle hierdie kinders se gedissiplineerde opvoeding dryf? wonder sy vererg.
Skielik verdwyn haar angstigheid en frustrasie met hierdie klomp ongeskikte weeskinders. Hulle soek net liefde! Kan die baron dit nie in sy dik kop kry nie? Dit voel vir haarself vreemd maar sy is meteens dankbaar dat sy hier is. Sy wil vir hulle wys wat liefde is … weer ’n bietjie sonskyn in hul jong lewens bring.
Carel en Niko kom by die kantoor uitgestap. Hulle oë is onnatuurlik blink en Carel vryf sy sitvlak. Christa wens sy kan hom styf vasdruk en op sy wipneus soen.
Ou Stefan hou galant vir haar die deur oop as hy uitkom en daar is beslis simpatie in sy oë. Christa kners op haar tande. Adolf is ’n ongevoelige bees! Sy het lus en bind hom en die ou Kommandant aan mekaar vas, soos Simson met die jakkalse gemaak het. Arme Udo!
Adolf nooi haar nie om te sit nie. Sy moet soos een van die kinders voor sy lessenaar staan totdat hy hom verwerdig om aan haar aandag te gee.
“Fräulein!” Hy kners die woord afgemete uit. “Ek sal so iets nooit weer duld nie. Hier is elf seuns. As die strengste dissipline nie toegepas word nie, sal alles binne ’n week in chaos verander. Ek verwag van jou dieselfde lojaliteit as Frau Maria en Bernard. Moet dit nooit weer waag om my besluite teen te gaan nie. Is dit duidelik …?” sis hy wanneer dit lyk of sy nie verstaan nie.
Christa frons maar dan kry haar humeur die oorhand. “Hulle is net kinders, baron. Hulle is nie soldate nie. Ek dink die straf wat u vir klein Udo gegee het, is wreed en onmenslik!”
Adolf spring op en daar is ’n yskoue woede in sy oë. Sy donker hare, so heeltemal anders as die van Kurt, is sag en los om sy kop en verbreek die hardheid om sy mond en oë. Hy kap woedend met sy vuis op die tafel.
“Moenie vir een oomblik dink jy is onmisbaar nie! As ek niemand anders in hierdie godverlate land kan kry nie, sal ek eenvoudig hierdie kinders op die eerste die beste skip terugstuur Duitsland toe sodat hulle daar in oorvol staatsweeshuise kan gaan krepeer. Die verseker ek jou – daar kry hulle nie die behandeling en voorregte wat hulle hier kry nie. Hulle is ’n klomp ondankbare goed wat nie besef dat hulle hul brood aan albei kante gebotter het nie.”
Christa kyk hom geskok aan. Daar is ’n ongetemde woede in hom wat haar bang maak. Hoekom sou hy hulle hierheen laat bring het as hy só oor hulle voel? Dit is baie duidelik dat dit nie uit jammerte of uit die goedheid van sy hart was nie.
Hy stap driftig by haar verby en maak die deur oop. Christa het baie lus en skop hom op sy skeen toe sy kop in die lug by hom verbystap. Ongevoelige, nare ding! Sy blaas haar asem stadig uit wanneer sy in die gang afstap, maar dit is vreemd genoeg ’n gevoel van jammerte vir die kinders wat alles in haar oorheers.