Читать книгу Waar die Suiderkruis hang - Sarah du Pisanie - Страница 3
1
ОглавлениеAlles ingereken, is dit toe agtien maande voordat hulle op Maandagoggend 3 Augustus 1895 die deure van Kommetjie finaal sluit en die eerste swepe klap.
Katrien Kruger bly omkyk na die opstal wat kleiner en kleiner word in die oggendskemer wat nou ligroos oor die veld oopmaak. Hierdie ses jaar wat sy op Kommetjie was, het soos ’n droom verbygegaan. Die tweeling is al ses en Annie word binnekort twaalf. Sy self was met haar laaste verjaardag al agtien.
Hier by Stefaans Liebenberg en die kinders het sy weer ’n heel mens geword. Hulle het haar in hulle familie opgeneem asof sy een van hulle is.
Danie en Faan Liebenberg is so opgewonde soos twee seuntjies en kom ry alkante langs die wa waarop sy en die kleintjies ry.
“’n Mens sal seker verlang, of hoe dink jy, Katrien?” vra die twintigjarige Danie.
Hulle twee is vandat sy die eerste keer op Kommetjie aangekom het feitlik onafskeidbaar. Hy was ’n bietjie goor aan die begin, maar sy het hom vinnig reggesien en sy respek afgedwing. Sedertdien is hulle twee die beste vriende; as kinders het hulle saam kwaadgedoen en is saam gestraf.
“Natuurlik sal ons verlang. Dit was ons huis, hier het ons grootgeword,” sê Katrien asof sy haar hele lewe lank ’n deel van die huishouding was.
Faan kap sy perd liggies met sy hakke sodat hy voor langs Stefaans en Karl, die oudste, kan gaan ry en Danie volg hom.
Hulle kom eers teen skemer op Winburg aan, waar die ander trekkers al buitekant die dorp uitgespan het en opgewonde vir hulle wag.
Die Coetzees, Martha en Dirk, en hulle kinders is reeds daar. Hulle is ’n groot gesin.
Andries, die oudste, is al getroud met Kobie en hulle het twee seuns, Dirkie, wat so oud is soos die tweeling, Pollie en Mia, en dan die tweejarige Driesie. Salome, Martha se oudste dogter, gaan nie saam nie en dit laat Martha kort-kort trane afvee, veral as een van die kleinkinders op haar skoot kom klim. Salome is net verlede jaar met Piet van Tonder getroud en hy sien nie kans om nou sy ankers op te trek en die onbewoonde en onbewerkte Duitswes aan te durf nie.
Dan is daar nog Braam. Hy en Faan Liebenberg is een ouderdom, hulle was verlede jaar twee en twintig. Piet is nou ’n knaap van sestien en Martie is so oud soos Annie, ’n baie giggelrige twaalf.
Die Coetzees en Liebenbergs was vir baie jare bure en groot vriende. Hulle was daar vir mekaar in tye van lag en vrolik wees, maar ook in tye van nood en hartseer. Dis dus nie vreemd dat hulle hierdie avontuur saam aanpak nie.
Die gedagte om te verkoop en Duitswes toe te trek het oorspronklik van Andries Coetzee, wat ’n handelaar is, gekom. Nie dat die Liebenberg-seuns veel oorreding nodig gehad het nie.
“Ons dog julle het verdwaal!” lag Martha en kom vinnig en doelgerig met haar skraal, seningrige lyf na die wa toe aan. Katrien tel vir Mia af en Martha hou haar onder haar arms vas en gee haar eers ’n klapsoen voordat sy haar op die grond neersit en haar arms uithou na Pollie.
Annie spring ligvoets af en soen almal wat in die nabyheid is, voordat sy vinnig Martie se hand vat en hulle agter een van die waens verdwyn.
Braam is so uitgelate soos ’n kalf wat die reën ruik en Piet, sy jonger broer wat nooit ’n woord sê nie, kan nie die glimlag van sy mond afkry nie.
Katrien soen al die lippe wat vir haar aangebied word en die opgewondenheid en lewenslus hang soos ’n kleed om die klompie mense wat gesellig saamdrom.
Hulle het al klaar uitgespan en sit elkeen met ’n beker koffie toe die Pretoriusse se twee waens aankom. Die Liebenbergs het drie waens en Dirk en Martha ook. Andries, wat al ’n familie op sy eie is, het ook drie waens. Hy gaan as handelaar en het van hulle vol gelaai met voorraad. Saam met die Pretoriusse se twee is dit elf. Elf waens en vir elkeen ’n span osse laat dit na ’n grootskaalse uittog lyk.
“Waar het die mense geboer, Andries?” vra Stefaans Liebenberg toe hy die Pretorius-waens sien aankom. “Al wat ek van die man af weet, is dat hy gevra het of hulle saam met ons kan trek.”
“Gert werk vir ’n groothandelsaak, hy bestuur die kantore en doen die boeke. Die firma wil nou ’n tak in Duitswes begin en hulle het toe vir Gert gevra om daarheen te gaan en dit op die been te bring,” verduidelik Andries en staan op om hulle tegemoet te loop. Hulle groet en kom al geselsend nader.
Andries groet joviaal en help die vrou van die voorste wa af. Hy kyk half verskonend na die klomp gesigte wat gasvry nader staan.
“Ons twee gesinne is soos familie, ons bly al geslagte lank langs mekaar. Dit sal julle ’n tydjie neem om uit te vind wie pas by watter familie, maar ons het mos darem tyd,” grinnik hy ondeund.
“Mense, dis Aletta en Gert Pretorius,” stel hy die nuwelinge aan die kring gesigte voor.
Aletta is ’n mollige vroutjie, ’n stil maar waardige mens. Sy is in haar middel- na laat-veertigs en heelwat jonger as Martha. Gert is een van daardie lang, maer, seningrige mense wie se oë by die hoeke opkreukel van lewenslus.
Hulle skud hand en glimlag breed en dan trek Aletta ’n opgeskote seun aan sy hand nader.
“Dis Gertjie, ons jongste,” sê sy trots en die seun met sy maer bene en groot knieknoppe druk sy hoed skaam voor sy bors toe hy almal met die hand groet en dan vinnig probeer wegkom. Katrien skat hom so vyftien, sestien; hy sal ’n heerlike maat vir Piet Coetzee wees.
“En dis ons dogter Helena!” Daar is onmiskenbare trots in Aletta se stem toe sy opsy staan.
Katrien sien uit die hoek van haar oog hoe Faan en Braam skielik op hulle voete is en dan vinnig nader kom.
Helena is ’n dametjie van die punte van haar tone tot by haar kroontjie. Sy was onmiskenbaar by ’n “afrondingskool” vir jong meisies. Sy steek haar hand fyntjies uit na almal en toe Braam en Faan nader kom, fladder haar lang wimpers liggies en word haar oë neergeslaan, sodat dit sag en syagtig op haar spierwit vel lê. Haar blonde hare is in ’n kapsel opgekam met los krulle wat in haar nek hang en haar groot blou oë blink geheimsinnig.
Andries stel vir Karl aan haar voor en Katrien sien hoe Helena vinnig na die vrouens kyk om te sien wie se man hy kan wees.
Nou kyk, die Liebenberg-mans maak enige vrou se knieë lam, of sy nou sestien of sestig is. Die vier en twintigjarige Karl is groot soos sy pa en sy skouers sit ’n kakiehemp vol. Faan is ook lank, maar meer atleties gebou. Hy is nie baie lief vir die boerdery nie en is ook die verste geleer van die broers. Katrien was al ses maande op die plaas voordat sy hom die eerste keer gesien het. Hy het by sy oupa en ouma op Bloemfontein gebly en daar skoolgegaan en later by sy oupa se besigheid opleiding in die administrasie daarvan gekry. Sy het ’n sterk vermoede dat Faan saam met Andries ’n groot rol in die afronding van die trekplan gehad het.
As daar iewers ’n rok in die wind fladder, is Faan by. Op twee en twintig lê daar al ’n streep gebroke harte agter hom. Hy het verrassende helderblou oë terwyl Karl en Danie bruin oë soos hulle pa het, en Katrien het lankal besluit dis die rede hoekom die meisies soos klei in sy hande is.
Danie is die grootste en frisste van die drie seuns en is in sy wese nog ’n uitgelate seun. Vroulike geselskap beperk hy tot Katrien, wat hy soos ’n maat behandel. Maar deesdae raas oom Stefaans met hom as hy haar kop onder sy arm druk of vir haar allerhande goed sê. Oom Stefaans sê sy is nou ’n dame en ’n mens behandel nie ’n dame so nie, wat hom gewoonlik skaterend laat lag.
Katrien se oë val dus amper uit haar kop toe Danie saam met Braam, Faan en selfs die jong Piet so vinnig nader staan aan hierdie blonde feestelikheid vir die oog. Sy self voel soos ’n vaal muis en knyp Danie in sy rib toe sy haar uit die kring losmaak en by hom verbyloop. Die ergernis sit soos ’n asma op haar bors. Mansmense is darem simpel, dink sy gebelg.
Sy loer darem oor haar skouer om te kan sien wat aangaan en sug verlig toe Helena haar volle aandag aan Karl gee en die ander effe verleë terugstaan.
Katrien se skouertjies trek meer regop. Karl staan met sy twee voete baie plat op die aarde. Hy aard so reg na sy pa, ’n boer in murg en been en nie ’n lui haar op sy kop nie. Vandat sy die eerste dag op Kommetjie aangekom het, was Karl vir haar ’n grootmens. Hy was toe reeds agtien en het al by meisies gaan kuier, of soos Danie haar ingelig het, gaan vry! Hy het op ’n stadium ook by Salome, die Coetzees se dogter, gekuier. Maar toe sy getroud is, het dit nie juis gelyk of hy gebroke is daaroor nie.
Hy gaan kuier wel so af en toe by iemand, maar sy dink nie daar is een wat al sy hartsnare geroer het nie. Wie weet, dalk kry mejuffrou Koringaar dit reg.
“Ons het genoeg kos gemaak sodat julle saam kan eet,” sê Martha vir die Pretoriusse en vat vir Katrien aan die arm sodat hulle na die kos kan gaan kyk.
Al die seuns is nou by die Pretoriusse se waens en help vir Gertjie uitspan. Kobie, Martha se skoondogter, knipoog fyntjies vir Katrien.
“Dis darem een voordeel vir ’n seun as hy ’n mooi suster het,” fluister sy tergend en Katrien lag sag.
Die feit dat Karl hom met ’n kopknik verskoon en wegstap, maak dat Katrien se ergernis ’n bietjie sak. Genadiglik is hy darem al volwasse genoeg. Dit sou darem baie vernederend gewees het as Karl ook soos die ander in die stof gaan rondrol het soos ’n hond wat toertjies maak.
“Waarvoor was die knyp netnou?”
Katrien swaai om en kyk vas in Danie se vrolike seunsgesig.
“Omdat jy soos ’n ou skoolseuntjie is, kwylend en oopmond. Asof jy nou ’n kans teen Faan het … en Karl,” sê Katrien en beduie met die lepel hier onder sy neus. Danie lag sy bulderende Liebenberg-lag.
“Daag jy my uit?” vra hy en Katrien kyk verbaas na hom. Sy het verwag dat hy dit hewig sou ontken en nou slaan hy haar voete heeltemal onder haar uit.
“Genade, Daan, julle het nie ’n ma gehad om vir julle die fynere dingetjies oor ’n vrou te leer nie. Ek het nooit daaraan gedink nie en besef nou dat ek lelik gefaal het met jou opvoeding,” sê Katrien kwaai.
“Ag, toemaar, Katrientjie, moenie jou daaroor ontstel nie. Jy het ook nie ’n ma gehad nie – waar moes jy dit nou leer? Nie eers Kittie Swanepoel, ons hoofbron van sulke inligting, het ’n ma gehad nie.” Danie sit sy arm om haar skouers en gee haar ’n druk voordat hy laggend wegstap.
“Wie is Kittie Swanepoel?” vra Kobie en Martha staan ook nader om te hoor. Katrien lag verleë.
“Dit was ’n meisie wat saam met my in die weeshuis was. Sy het vier ouer susters wat destyds al gewerk het en sy was die een wat alles van liefde en vry geweet het.” Haar oë begin vonkel en Kobie gaan sit op die veldstoeltjie en stut haar elmboë op die tafel. Aletta is nog besig met die waens en hulle kos is klaar, daar is tyd om na ’n lekker storie te luister.
“Ek het vir Daan as ’t ware aan Kittie Swanepoel voorgestel kort nadat ek op Kommetjie aangekom het. Faan was vir die vakansie op die plaas en hy het vir iemand gaan kuier – Danie het gesê hy gaan vry. Ek wou toe weet of hy dan al gekatkiseer het, want Kittie Swanepoel sê ’n mens mag nie vry voordat jy gekatkiseer het nie. Dit was vir Daan nuus en hy het daarna gereeld kom uitvind wat Kittie Swanepoel se uitspraak oor sulke sake was,” sê Katrien en haar oë vonkel van pret.
Die twee ander vrouens lag. “Vertel ons nog van Kittie Swanepoel,” sê Kobie.
“Ek kan nie meer alles onthou nie. Maar het ek julle al ooit vertel van die dag wat Daantjie vir my gesê het dat Karl na Salome gevry het, maar toe het Piet van Tonder hom uitgesit? Nie een van ons het geweet wat dit beteken om uitgesit te word nie. Daan het toe besluit dat as twee ouens by ’n meisie kuier, dan kyk hulle wie kan die langste sit en die een wat wen, kry die meisie,” sê sy met ’n sedige gesiggie.
Kobie proes dit onvroulik uit van die lag en Martha vee die trane uit haar oë met haar voorskoot se punt. “Wat was Kittie Swanepoel se raad toe?” vra Martha laggend.
“Nee, daar is nooit vir Kittie Swanepoel se susters gesit nie – op daardie een kon sy ons nie help nie,” sê Katrien gemaak ernstig.
“O, julle twee was darem stout. Stefaans kon ons vir ure vermaak met julle twee se manewales. Maar duidelik het hy niks van Kittie Swanepoel geweet nie,” sê Martha en gaan roer weer in die groot pot op die vuur.
“Oom Stefaans?” vra Katrien verbaas. “Ons het nooit iets aangevang as hy of Karl by die huis was nie.”
“Grootmense is nie so dom nie. Julle dink maar net ons weet nie wat aangaan nie,” lag Martha.
Met etenstyd skuif Faan en Braam hulle stoele weerskante van Helena en sy is net kuiltjies en wapperende wimpertjies. Katrien hou haar met die kinders besig en skuif haar stoel moedswillig so dat sy nie in hulle rigting hoef te kyk nie. Sy skaam haar behoorlik vir Faan. Hier kan sy darem haar hande in onskuld was, hy was nooit haar verantwoordelikheid nie.
Helena is vir Faan en seker vir Braam ook ’n yslike bonus. As hulle maar net wil kyk hoe doen Karl dit. Om nie oor jou voete te val en soos ’n hond met ’n uithangtong te sit en bedel vir aandag nie, sal die meisie meer geïnteresseerd maak. Katrien is sommer vies vir die mans wat so kinderagtig kan wees.
Na ete staan Aletta op en kom help om die paar skottelgoedjies te was, terwyl Helena glimlaggend met die mans sit en gesels en geen poging aanwend om ook nader te staan nie.
“Gee vir my.” Aletta vat die vadoek uit Katrien se hand. “Gaan doen jy iets anders,” beveel sy met haar mooi, sagte stem. “Ek het gedink jy is een van Stefaans se dogters, maar ek hoor jy sê vir hom oom. Hoe pas jy hier in?” vra sy opreg.
Katrien lag en beduie met haar kop na Martha. “Vra vir tannie Martha om vir tannie te vertel, dan gaan bad ek solank die kinders,” sê sy en roep na Pollie en Mia.
“Is die kleintjies … die dogtertjies ook Stefaans s’n?” vra Aletta en beduie met haar kop na Stefaans, wat met die tweeling op sy skoot sit.
“Ja, hy was twee keer getroud. Fransie, sy eerste vrou, het die drie seuns gehad, maar met Annie se geboorte was daar groot komplikasies en sy is met die geboorte dood,” sê Martha en hou ’n nat bord na Aletta uit.
“Ag foeitog! Wat maak hy toe met die kleine dingetjie?” vra Aletta simpatiek.
“Stefaans se suster het toe eers vir Annie gevat, hulle was Stefaans se bure aan die ander kant. Toe Annie egter ’n jaar oud was, verkoop hulle die plaas en trek Kaap toe. Annie het huis toe gekom en ou Mieta, hulle bediende, het haar verder grootgemaak. Ek het ook gehelp – ek het in dieselfde tyd vir Martie gehad, sy en Annie is ewe oud. Die seuns was toe darem al groot en van die hand af. Danie, die jongste, was toe al nege, Faan was so elf, en Karl moes al dertien gewees het.” Martha se stem is sag en vol simpatie.
“Stefaans was eensaam en het baie gesukkel en toe kom kuier Frederika, Fransie se niggie. Sy was al amper dertig en dringend op soek na ’n man. Sy het haar rol reg gespeel en ses maande later is hulle getroud,” vertel Martha en vir die eerste keer is daar bitterheid in haar stem.
“Dit klink of jy nie van haar gehou het nie,” sê Aletta.
Martha skud haar kop. “Sy was ’n snaakse mens. Sy het geensins soos ’n ma vir die kinders opgetree nie. Annie was so vyf of ses toe sy die tweeling het. Hulle was ’n paar maande oud toe sy besluit om ’n kindermeisie te kry en Stefaans het vir Katrien uit die weeshuis gekry.” Martha se stem word ligter asof die dag deurgebreek het vir die mense op Kommetjie.
“Katrien se pa was ’n sendeling op die Oosgrens en hy en sy vrou is in ’n aanval dood. Katrien is toe na die weeshuis op Bloemfontein, gelukkig darem net vir so ’n bietjie meer as ’n jaar. Sy is baie intelligent – toe sy op Kommetjie kom, was sy verder geleer as Danie, wat ’n jaar en ’n half ouer as sy is. Stefaans het vir hulle boeke gekry en hulle het twee keer in ’n jaar op die dorp gaan eksamen skryf. Daantjie het op ’n stadium besluit dis genoeg, maar Katrien het nog ’n jaar aangegaan en klaargemaak. Daardie kind lees alles waarop sy haar hande kan lê, tot die Duitse boeke wat van haar pa oorgebly het. Ons is nou éérs bly dat sy Duits kan praat, ons sal dit nodig kry in Duitswes.”
Martha is besig om heeltemal van die oorspronklike storie af te dwaal en Aletta met haar fyner sosiale maniertjies bring haar gemaklik terug na die onderwerp. “Is mevrou Liebenberg dan ook hier op die trek? Ek het haar nog nie gesien nie?”
“Nee, vrou. Die tweeling het net begin loop en Katrientjie was seker so ses maande op die plaas, toe Frederika vir haar suster in Johannesburg gaan kuier en vir Katrien en ou Mieta net so met die kleintjies gelos. Om ’n lang storie kort te maak: die volgende wat Stefaans hoor, toe is sy dood. Agterna hoor hy maar sy was weer swanger en is Johannesburg toe om daarvan ontslae te raak en daar was komplikasies.” Martha kyk vinnig op en daar is ’n ongemaklike trek op haar gesig.
“Ek moes dit seker nie vir jou vertel het nie, dit het nou onverwags uitgeglip. Ons het vir die kinders gesê sy het siek geword. Niemand behalwe ek en Stefaans ken daardie deel van die storie nie.”
Aletta knik begrypend. “Dis beter so, veral vir haar eie kinders. Jy hoef nie bang te wees nie, ek sal niks sê nie.” Haar stem is so opreg dat Martha dankbaar glimlag.
“Wat het toe van die twee babas geword?” vra Aletta besorg. “Volgens jou moes hulle ongeveer ’n jaar of wat gewees het?”
“Katrien het hulle grootgemaak.” Martha se oë is sag en trots. “In daardie skraal lyfie skuil staal. Sy was ’n beter ma vir daardie twee kleingoed en vir Annie as wat ek vir my eie kinders was. Dis hoekom Stefaans so lief is vir haar. Voordat hulle kon besluit of hulle gaan trek, moes Katrien eers sê of sy sal saamgaan, anders sou hy nie gegaan het nie.”
“Maar sy was dan nog ’n kind! Twaalf, dertien is nie veel ouer as daardie tweetjies nie,” sê Aletta geskok en beduie na Annie en Martie, wat in een van hul giggelende fluistergesprekke is.
“Wel, ek sê vir jou, Aletta, sy maak tot haar en die kinders se klere. Stefaans het vir haar op haar agtiende verjaardag ’n naaimasjien present gegee. Jy kan maar haar naaldwerk omdop en kyk.” Martha trek haar mond op ’n belangrike plooi en kyk na Aletta asof sy haar uitdaag om presies dit te doen.
Aletta lag sag en druk Martha se arm.
“Hoeveel het jy daarmee te doen gehad?” vra sy en kruip met dié paar woordjies diep in Martha se hart.
“Ek sal vir jou dít sê: sy is enige skoonma se droom. Ou Braam loer kort-kort half verbaas na haar. Ek het deesdae net een gebed en dis dat hy sal sien wat ek sien. Maar die kinders het almal saam grootgeword, en hulle sien haar as ’n sussie. Ek hoop egter van harte dat Braam se oë eerste sal oopgaan.” Martha knipoog vir Aletta, wat vrolik lag.
Katrien bad die kinders in die wa in ’n klein badjie en trek weer hulle skoentjies by hulle nagrokkies aan sodat hulle vir Stefaans en hulle broers kan gaan nagsê.
“Is julle ook handelaars?” vra Gert Pretorius vir Stefaans waar hulle langs die vuur sit. Karl, wat effe eenkant sit, kyk op. Hy hou van Gert met sy oop, eerlike gesig.
“Nee …” Stefaans tel vir Pollie wat langs hom kom staan het op sy skoot en maak sy bene effe oop sodat Mia op die ander been kan klim.
“Nee, ons is boere.” Dis Karl wat antwoord terwyl sy pa nog eers met die kinders doenig is.
“Nou wat gaan julle in Duitswes maak? Ek het gedink hulle soek handelaars en ambagsmense,” sê Gert en sit effens vorentoe soos iemand wat ’n interessante storie voel aankom.
“Nee, setlaars eintlik. Die land is groot en dun bevolk. Ons kry plase feitlik verniet, maar dan moet ons ’n sekere persentasie van ons oes teen ’n spesiale prys aan die Duitse Beskermingstroepe verkoop. Die mense wat al daar was, sê dis die mooiste wêreld. Ons plaas sou ons nie almal kon dra nie, ons is drie broers. En die kleintjies is nog te klein, Pa sal nie nou al kan aftree nie,” sê Karl en beduie met sy kop na Stefaans wat die kleingoed in hulle nekkies soen sodat hulle verspot giggel.
“Wat maar eintlik die deurslag gegee het, neef, is die feit dat die Engelse weer met hulle streke begin.” Stefaans vat die gesprek terug en tel die kinders van sy skoot af sodat hulle vir Karl kan gaan nagsê. “Ná die Jameson-inval is dinge maar nie lekker nie. Nou met dié dat hulle goud ontdek het, sal hulle nie rus nie. Hier is dinge aan die kom.”
Die geselskap langs die vuur begin een-een nagsê en hul waens opsoek. Hulle wil môre vroeg begin sodat hulle vroeg kan uitspan. Die diere moet geleidelik aan die trekkery gewoond raak.
Almal is die volgende oggend teen dagbreek op en daar word ingespan. Dit gaan ’n paar dae neem om aan die roetine gewoond te raak. Gisteraand is die reëlings vir die kamp breedvoerig bespreek. Elke familie sorg vir homself gedurende die dag, want dan is dit nie sulke groot potte kos en water wat gekook moet word nie. Saans kan die vrouens op dieselfde vuur kos maak, maar elkeen gebruik sy eie voorraad. Vir privaatheid sal elke familie effe op sy eie uitspan, en die binnekant van die laertjie sal dan as bymekaarkomplek dien.
Daar is ’n vrolike uitbundigheid in die lug en van die inwoners van Winburg kom waai vir hulle toe die trek in beweging kom.
Helena was vroegoggend nêrens te sien toe hulle ontbyt geëet het nie. Katrien het net gesien hoe Aletta met ’n bordjie beskuit na die een wa toe stap. Dis eers teen tienuur dat Katrien haar voor op die wakis van een van hulle waens sien sit. Netjies aangetrek, nie ’n haartjie uit sy plek nie, en met ’n sambreeltjie om haar teen die son te beskerm.
Faan kom op sy perd verby en toe Katrien later uitloer, sien sy hoe hy langs Helena se wa ry.
Hulle hou vir middagete stil en maak koffie en elkeen gee vir sy gesin iets om te eet.
Braam is dadelik by toe die Pretoriusse intrek en help Helena galant van die wa af. Met haar hand op Braam se arm kom sy nadergesweef en Faan vou vir haar ’n stoeltjie oop. Hy vat haar hand toe sy nader kom en laat haar versigtig op die stoel plaasneem.
Katrien kyk na Danie en skud haar kop in ongeloof vir dié geklike kinderagtigheid.
“Sal dit liewer nie ook waag nie, netnou kry ek weer ’n knyp.” Danie proes van die lag, draai vinnig om en vat kastig aan sy sy.
Laatmiddag toe hulle uitspan, is Faan weer soos ’n hommelby al om Helena se wa en hy haal hulle waterbalie af om te gaan vol maak. Stefaans vang hom egter aan die arm toe hy verbykom.
“Julle doen eers óns werk. Kry eers vir Katrien water sodat sy kan aangaan en dan kan jy jou soos ’n verliefde skoolseuntjie gedra. My magtie, mannetjie, jy is al twee en twintig!” Stefaans is sommer kwaad en Katrien kry lekker tot in haar siel.
Faan kyk vinnig na Katrien, wat elke woord gehoor het, en kyk dan vererg en tog effe verleë weg. Hy gee egter die balie vir Danie toe dié verbykom.
“Vat solank hierdie een, ek wil net gou die ander balie ook kry.” Hy is ongemaklik en vererg hom toe Danie fyntjies vir Katrien oogknip.
Die vleis is nog lekker vars en die heerlike reuk van kos hang oor die kamp. Helena skitter in haar afwesigheid as daar kos gemaak of gewerk word en Aletta vind dit geensins vreemd nie. Sy bedien haar hand en voet, maar Martha brom onderlangs: “Dis glad nie ’n goeie voorbeeld vir Martie en Annie nie, Katrien. Ons sal ons meisiekinders sommer van die eerste dag af moet laat werk op hierdie trek. Hulle twee gaan van vanaand af die skottelgoed was,” sê sy beslis.
“Hulle kom help darem, tannie Martha, ons het hulle reg grootgemaak. Dis darem nie nodig dat hulle dit alleen moet doen nie.” Katrien klink so moederlik dat Martha haar kop skud en haar ’n vinnige drukkie gee.
Faan is ’n bietjie skaam om Helena sommer dadelik weer op te eis en Braam sit styf langs haar teen die tyd dat Faan ’n plek soek om te gaan sit en eet. Helena weet seker teen hierdie tyd dat Karl nie getroud is nie, want sy loer kort-kort onderlangs na hom en fladder haar lang wimpers. Karl kom dit blykbaar nie agter nie, want hy gesels met Dirk en Gert en beduie met sy groot hande dat die spiere op sy boarms bult.
Toe hulle klaar geëet het en die vrouens elkeen haar skottelgoed begin bymekaarmaak, sien Katrien hoe Helena nader aan Karl slenter. Sy kyk vinnig na Faan, wat oorgehaal soos ’n resiesperd staan vir enige opening om nader aan die bron van lig te kom.
“Ek het nie gisteraand gehoor wat jou naam is nie,” sê Helena toe sy voor Karl kom staan en pruil haar onderlippie.
“Karl Liebenberg,” sê Karl en staan ’n bietjie weg sodat sy ook in die kring kan kom.
Dis ook Faan se opening en hy skuif vinnig tot langs Helena met sy beker koffie in sy hand. Karl maak van die geleentheid gebruik om homself te verskoon en stap weg.
Katrien is vreemd stil en verskoon haar vroegaand. Die kleintjies slaap al en sy kan die lamp opsteek. Onder uit haar bladsak haal sy haar dagboekie. Sy ruik aan die leer en die bekendheid daarvan maak haar rustig en tevrede.
Sy glimlag by haarself toe sy die eerste inskrywing ses jaar gelede lees. Hoe kinderlik en naïef was sy nie toe nog nie. Sy het vir haar dagboek ’n naam gegee, want dit was vir haar makliker om só daarmee te kommunikeer. Sy stut die boek op haar opgetrekte knie.
4 Augustus 1895
Annabelle,
Ek is so dankbaar dat jy ook kon saamkom, anders sou dit baie eensaam gewees het.
Jy weet seker al dat ek vreeslik teleurgesteld is dat Helena ook op hierdie trek is. Diep in my hart het ek seker maar gehoop dat daar anderkant nie iemand soos sy sou wees nie, hulle sê mos daar is nie eintlik vrouens nie. Dalk sou hy dan met my getrou het.
Ek het hom so oneindig lief, van die eerste dag dat ek hom gesien het. Hy is die aantreklikste man en al die ander meisies dink ook so.
Gelukkig het ek nog vir Annie, Mia en Pollie en natuurlik vir ou Daan. Hy is ’n dierbare broer en vriend. ’n Beter pa as oom Stefaans sou ek ook nie kon kry nie. Ek is lelik om te kla. Dan is daar nog Karl ook, hy is soos ’n tweede pa, net jonger.
Ek sal eenvoudig moet leer om hierdie liefde vir Faan uit my binneste te sny, maar ek weet nie hoe nie.
Jy is die enigste een wat my geheim met my deel, Annabelle, en dis al geleentheid wat ek het om dit soms uit te haal en net daarna te kyk.
Nag, Annabelle.