Читать книгу Waar die Suiderkruis hang - Sarah du Pisanie - Страница 4

2

Оглавление

Die lewe neem ’n vaste patroon aan. Hulle trek reg wes sodat hulle by die Modderrivier kan kom. Teen die rivier langs sal daar geen probleme met water wees nie. Die Modderrivier sluit by die Grootrivier aan en hulle sal dus rivierlangs kan trek tot by Duitswes se grens.

Die osse word soveel moontlik gespaar. Hulle trek drie dae en staan dan ’n dag oor, sodat die diere ordentlik kan vreet en rus. Dit gaan ’n moordende tog wees en dis beter om stadig te begin as om halfpad tot stilstand gedwing te word.

Tien dae nadat hulle uit Winburg weg is, kom hulle by die Modderrivier. Die rivierlopie is maar dun, maar daar is water vir die diere en volop gras. Hulle het vroeg uitgespan en die mans is meer baldadig as die diere.

Die volgende oggend hoef hulle nie donker op te staan nie en almal is uitgerus en uitgelate toe die sonnetjie milddadig skyn en die beddegoed buite oopgehang kan word.

Katrien neurie saggies terwyl sy die groot skottel deeg met haar vuiste bydam. Sy moet bak vandag. Danie het al vir haar ’n lekker groot vuur en ’n gat gemaak waarin sy die brode kan sit.

By ’n opstal het hulle gister botter, vars melk en groente gekoop. Danie het die opstal gewaar en haar kom roep en hulle twee is sommer te perd soontoe sodat die waens nie hoef uit te draai nie. Martha en Aletta het hulle bestellings ook gegee en Katrien-hulle het soos pakdonkies gelyk toe hulle by die kamp aankom.

“Ek gaan darem sleg word van hierdie niksdoenery,” sê Katrien vir Kobie toe sy die skottel deeg toemaak en agter in die wa gaan sit om te rys.

“Ja, ons sal nie weet wat om te doen as ons nou weer ’n hele huishouding het nie.” Kobie druk die deeg rond in haar skottel en vou dit in die kniekombersie toe.

“Ek wil nie hê Martie moet eendag ’n swak huisvrou wees nie. Ons sal haar en Annie moet betrek by die bakkery en kokery ook.” Martha loer vinnig oor haar skouer na Helena wat eenkant sit en borduur met ’n onvergenoegde trek op haar gesig.

Die tweeling kom rem aan Katrien se rok vir iets om te eet en Katrien stap wa toe om vir hulle koekies en droëvrugte te kry.

Faan en Braam kom sak geselsend op die kampstoeltjies neer en Martha gooi vir hulle koffie in sonder om te vra. Daar kom skielik lewe in Helena en sy drentel nader.

“Kry ek nie ook ’n bietjie tee nie, Ma?” vra sy en gaan sit tussen Braam en Faan.

Aletta staan op en gaan maak vir haar tee en dit laat Martha weer hewig frons. Braam moet tog nie so simpel wees om dié vroumens te vat nie. Gelukkig is hy nie so aantreklik soos Faan nie, dink Martha en kyk vies na haar spruit wat nou die ene sjarme is. Sy gaan sowaar vir Braam onterf as hy sit en slaap en toelaat dat iemand anders vir Katrien onder sy neus wegraap.

“Waar is die seuns?” vra Martha vir niemand in die besonder nie.

“Hulle twee is teen die rivier op, Ma,” sê Braam. Piet en Gertjie het mekaar sommer die eerste dag gevind en hulle is sedertdien soos Annie en Martie altyd bymekaar.

Helena drink haar tee klaar en gee haar koppie vir Braam aan om te gaan neersit. Faan is dadelik op sy voete en hou sy hand na haar uit.

“Kom stap saam, dan wys ek vir jou die rivier,” sê hy en gee haar een van daardie skewe glimlaggies vol belofte.

“Ek gaan net gou ’n sambreel haal,” sê sy. Faan grinnik tevrede en kyk uitdagend na Braam.

Braam stap afgehaal vuur toe en Martha fluister iets by sy skouer wat hom effe laat buig sodat hy beter kan hoor. Hy knik en stap na hulle wa toe. Toe hy terugkom, hou hy sy hand na Katrien uit.

“Kom stap saam, Ma soek ’n bietjie water,” sê hy.

“Nee, man, ek het geknie,” stribbel sy teë, maar haar oë volg Helena en Faan wat nou agter die bosse verdwyn.

“Ons sal nie lank weg wees nie,” sê Braam en trek haar aan haar hand op.

Katrien meet die son met haar oë en besef dat sy darem nog ’n uur het voordat sy die deeg hoef af te knie.

“Kobie, sal jy na die kinders kyk?” vra sy en Kobie beduie dat dit reg is.

Katrien voel die lewenslus deur haar are bruis en hardloop laggend vooruit net om van haar energie ontslae te raak. Braam storm agter haar aan, vang haar aan haar hand en hou haar laggend terug.

“Waarheen is jy so haastig?” vra hy en kyk af in die skoon, onskuldige gesiggie wat nou so vrolik is.

“Dis sommer net lekker om weer te kan hardloop en die wind in jou gesig te kan voel,” lag Katrien.

Helena gil skielik hoog en benoud en Braam los haar hand en hardloop in die rigting van die geluid. Faan se skaterlag slaan teen die kranse vas en die angstigheid in Katrien se binneste verdamp vinnig terwyl sy ook agter Braam aanhardloop.

Toe hulle om die bosse kom, is die prentjie voor hulle so komieklik dat Katrien haar kieste moet vasbyt om dit nie ook uit te skater van die lag nie. Faan probeer ’n druipnat Helena optel, sy moet op ’n klip gegly het en het pens en pootjies in die water beland.

Braam en Katrien loop vinnig nader terwyl Faan Helena versigtig op die grond neersit. Sy ruk haar los uit sy arms wat haar nog stut en haar stem is hoog en histeries.

“Los my, jou ongepoetste ding! Hoe durf jy vir my staan en lag?” snou sy hom toe.

“Ek is jammer, maar dit was so snaaks!” Die Liebenbergs is ongeneeslike terggeeste en Faan kan met die beste wil in die wêreld nie die lag keer wat in hom opborrel nie.

Helena se lippe trek ’n dun lyn en sy stap kop in die lug weg terwyl haar moeselienrokkie styf aan haar vol rondings vasklou.

“Katrien, gaan haal gou ’n handdoek,” beveel Faan en draf agter Helena aan.

Katrien draai om en stap terug na die waens toe, maar sy moet hard sluk aan die verontwaardiging wat nou kookpunt in haar binneste bereik. Helena stap met kort, versigtige treetjies en Katrien kom met die handdoek aan net toe Helena by die waens is. Sy gee die handdoek aan terwyl die lag vir die druipnat, verontwaardigde meisie in haar opborrel.

Helena gryp die handdoek uit haar hande en sonder ’n woord van dank gaan klim sy in die wa en ruk die watent met geweld toe.

“Waar draai jy so lank?” Faan kyk vies na Katrien asof dit háár skuld is dat hy nou in onguns by Helena is.

Katrien kyk verbaas na Faan en moet skielik sluk aan die trane wat in haar keel brand. In haar binneste is daar ’n verlatenheid soos die eerste paar dae wat sy op Kommetjie was.

“Wat is dit nou?” vra Karl en kom haastig nader.

“Helena het in die water geval, maar Katrien vat ure om vir haar ’n handdoek te bring,” sê Faan vererg en gee vir Katrien ’n vuil kyk.

“Maar jy kan dit mos self doen, Katrien het haar mos nie in die water gegooi nie,” sê Karl kortaf. Katrien kyk dankbaar na hom en hy frons liggies toe hy die blink trane in haar mooi groen oë sien wat so helder afsteek teen haar donkerbruin hare.

Sy kyk Faan verslae agterna toe hy omdraai en wegstap.

“Nee, man, vir wat sal jy nou oor so iets huil? Gee hom ’n opstopper soos jy destyds met ou Daan gemaak het,” sê Karl ongevoelig en kyk verbaas na die mondjie wat liggies bewe.

“Ag, ek huil glad nie. Ek gaan na my brood kyk.” Katrien draai vinnig om en ontsnap, dankbaar vir die verskoning.

Die dae se rus het almal goed gedoen en teen die aand is hulle lus vir ’n bietjie plesier.

Katrien het haar hare gewas en laat dit los hang. Sy trek vir haar een van haar nuwer rokkies aan wat sag om haar lyf vou. Sy gaan haar nie deur Helena laat afskrik nie en ook nie deur Faan nie, besluit sy.

Na ete trek die seuns ’n bokseil oop. Danie gaan haal sy kitaar en Gert bring sy konsertina. Klein Gertjie kom ook al heel goed reg met die konsertina, en daar is dus niks fout met die musiek nie. Braam het Faan voorgespring en vir Helena gevra. Die grootmense dans ook almal terwyl die jongeres in vervoering sit en kyk.

Faan se oë is die hele tyd op Helena, wat hom nog straf oor vanoggend se storie en hom blatant ignoreer. Katrien probeer dieper in die skaduwees inskuif toe sy besef dat hy haar nie gaan vra om te dans nie en net wag dat die musiek moet ophou sodat hy vir Helena kan vra.

Stefaans, wat uit die ligkol van die vuur sit, sien die verlate trek op Katrien se gesig en sug liggies.

“En as Pa nou so sug?” vra Karl en kyk verbaas na sy pa.

“Gaan dans jy met Katrien. Kyk net hoe verleë lyk die arme ding. Ek wens Faan wil grootword en trou sodat hy tot ruste kan kom.” Stefaans klink omgekrap.

“Dis darem nie Faan se skuld dat Katrien nog al die jare so ’n bietjie verlief is op hom nie. Dit sal oorwaai, alle kinders gaan deur sulke fases,” sê Karl en kyk nadenkend na Katrien se gesiggie in die vlamme se flikkerlig.

“Katrien is een van die dae negentien, Karl, so oud soos jou ma was toe ons getroud is. Katrien is al van haar tiende jaar, toe haar ouers dood is, ’n grootmens,” sê Stefaans sag en half verwytend. “En ons klomp Liebenbergs het haar kinderlewe van haar gesteel met al die verantwoordelikhede wat ons op haar twee skouertjies gelaai het. Die Vader weet, elke keer wat ek haar sien, kan ek my nie indink wat ons ooit sonder haar sou gedoen het nie. En dan wens ek so dat dit anders kon gewees het en dat sy ’n vol en gelukkige kinderlewe kon gehad het.” Stefaans beduie met sy kop na Katrien om Karl weer aan sy versoek te herinner en Karl staan met ’n grinnik op.

“Ja, die man wat haar wil hê, sal vir Pa en Daan moet kom ouers vra. Dalk sal hy nog by Pa verbykom, maar ek weet nie so lekker van ou Daan nie.” Hy lag en stap dan nader aan die ligkring van die vuur.

Toe Katrien die hand op haar skouer voel, kyk sy vinnig op.

“Sal jy ’n kans vat en met my probeer?” vra Karl en hou sy hand na haar uit.

“Dankie, Karl,” sê sy sag en daar is ’n hartseer trek om haar mond toe sy opstaan en in sy arms skuif.

“Vir wat?” vra hy verbaas.

“Omdat jy jou oor my ontferm,” sê sy en haar oë is groot en eerlik toe sy opkyk na hom.

“Dis ’n plesier om met jou te dans, Katrien, jy dans heerlik. Het Kittie Swanepoel jou geleer?” vra hy tergend.

“Wat weet jy van Kittie Swanepoel?” vra sy verbaas.

“Ek het gehoor toe jy vir tannie Martha en Kobie vertel het. Ek dink Kittie Swanepoel het vir jou en Danie meer dinge geleer as wat ek en Faan geken het,” terg hy en Katrien lag vrolik, sodat haar seer en vernedering vinnig op die agtergrond skuif.

“Kom dans julle ook,” nooi Martha die groter kinders en hulle laat nie op hulle wag nie. Gertjie vat vir Annie, maar Piet vat haar af en beduie na Martie.

“Ek gaan nie met my eie suster dans nie.”

Katrien ontspan; Karl voel so bekend en gemaklik hier by haar met sy gespierde arm om haar middel. Hy is soos al die Liebenbergs so groot dat sy haar kop agteroor moet buig om sy gesig te sien.

Faan kyk verbaas na Karl en Katrien wat so vrolik lag en gesels. ’n Mens is gewoond daaraan om Katrien en Danie saam te sien. Vanaand lyk Katrien so anders. Sy was nog altyd ’n bietjie verlief op hom en dit het hom aan die begin in die verleentheid gestel as Braam hom terg, maar vanaand is daar soveel potensiaal in dié moontlikheid.

Die musiek hou op en Danie drink eers ’n bietjie lemoenstroop terwyl die ander al skertsende weer gaan sit. Helena ignoreer Faan nog steeds en gee haar volle aandag aan Braam. Tussendeur probeer knoop sy geselsies met Karl aan.

Katrien maak van die geleentheid gebruik om na die tweeling te gaan kyk. Hulle twee speel bedags só dat hulle saans saam met die son sou gaan slaap het as Katrien dit sou toelaat.

Alles is rustig en toe Katrien terugkom, staan Helena by Karl, wat haar liggies koel waai. Katrien grinnik effens. ’n Mens behoort eintlik by Helena te leer – sy speel hierdie klomp verliefde mans op meesterlike wyse teen mekaar af.

Katrien kyk na Faan se profiel in die flou lig van die lantern. Hy sit diep ingedagte asof hy baie ver dink, en sy skrik en bloos toe hy skielik opkyk en haar blik vir ’n breukdeel van ’n sekonde vasvang.

Sy kyk vinnig weg en hou haar besig met Annie, wat hier voor haar op die grond kom sit het, se hare. Sy sien uit die hoek van haar oog hoe Faan opstaan toe Danie en Gertjie weer begin speel.

“Kom ons dans, Katrien,” sê hy toe hy voor haar staan en sy hand na haar uithou.

Katrien se hart slaan tamboer in haar borskas en sy moet sluk aan die droogheid in haar keel. Sy staan egter op, dankbaar vir die swak lig sodat hy nie die blos op haar wange kan sien nie, en sit haar hand in syne.

“Jy lyk pragtig vanaand. Jy lyk so volwasse,” sê Faan geselserig en sy stem is so anders as wat sy dit gewoond is.

“Ek behoort te wees, Faan. Ek is net so oud soos Helena. Ek is net klein gebou, dis al,” sê sy en ontwyk sy oë.

Katrien sien hoe Braam weer vir Helena vra om te dans en die onvergenoegde uitdrukking op haar gesig gee Katrien oneindig plesier.

Piet kom vat vir Katrien vir die volgende dans en nog steeds gaan vra Faan nie vir Helena nie. Hy gee Piet nog ’n rukkie kans, kom tik hom dan op die skouer en vat weer vir Katrien. Katrien loer blosend na hom en ’n vreemde magteloosheid kom nestel op die krop van haar maag. Faan se aandag is glad nie by haar nie, maar hy dans só dat Helena elke beweging kan sien wat hy maak.

Katrien loer vinnig na Helena en sien die frustrasie op haar gesig. Faan speel nou háár speletjie en dis glad nie lekker om aan die ontvangkant daarvan te wees nie.

Al die plesier is skielik vir Katrien uit die dans en sy voel vuil en misbruik. Sy het lus en skop vir Faan op sy skeen en los hom net daar in die middel van die bokseil.

Halfpad deur die dans is Helena moeg en sy gaan sit op die stoel langs Karl. Braam staan effe verleë rond, maar Katrien kry hom nie eens jammer nie. Toe die dans klaar is, gaan sit Katrien langs Danie, wat bekommerd afkyk in haar gesiggie wat vanaand ongelukkig en hartseer lyk.

“Is iets verkeerd?” vra hy sag en broederlik.

“Nee, ek is sommer moeg,” sê sy ontwykend.

Die oumense besluit dit was ’n lang dag en hulle verdwyn na hulle waens sodat die jongklomp nog ’n bietjie plesier kan hê. Gertjie gaan haal ’n kombers wat hy op die bokseil oopgooi en hulle gaan sit om Danie sodat hulle kan sing. Die oumense het die lanterns wat aan die bome gehang het, gevat en dis net die laaste gloeiende kole van die vuur wat ’n bietjie lig verskaf.

Helena, wat besef dat sy besig is om haar hand te oorspeel, kom skuif tussen Katrien en Braam in.

“Skuif op dat ek ook ’n plek kan kry.” Faan kom druk tussen Katrien en Helena in en sy liggaam voel sterk en warm hier teen Katrien. Sy weet hy doen dit om naby Helena te wees en tog is haar ontroue hart tevrede om net die soetheid van sy nabyheid te koester.

Karl kom skuif aan haar ander kant in en druk met sy een arm skuins agter haar sodat sy lyf effe oorhel na haar kant toe. Dankbaar vir sy bekendheid en beskerming skuif Katrien nader aan hom. Hy het haar vanaand uit ’n verleentheid gered én hy het nie een keer met Helena gedans nie.

Sag en dromerig klink hulle stemme in die stil nag op terwyl hulle liedjies van liefde vol sonskyn en reën sing. Veral Katrien sing met diepe gevoel.

Faan besef dat hy sy nuwe strategie moet handhaaf en skuif ’n bietjie weg van Helena sodat hy nader aan Katrien sit. “Ek het nie geweet jy sing so mooi nie,” sê hy hard genoeg vir haar dat Helena dit ook kan hoor.

“Is daar dan iets wat jy van my weet?” vra sy dubbelsinnig toe sy opkyk in Faan se gesig wat so naby aan hare is. Haar hart gaan wild te kere, maar sy klop haarself op die skouer dat haar stem sonder enige bewing is.

Faan kyk verbaas na haar. Die ander begin weer sing en dit weerhou hom van ’n antwoord, maar haar woorde steek in sy gedagtes vas, sodat hy kort-kort op ’n vreemde manier na haar kyk.

Helena leun stywer teen Faan aan en hy glimlag tevrede. Dit werk! Sy moenie dink dat sy hom en Braam teen mekaar kan afspeel nie.

Dis vir Katrien ’n vreemde aand toe sy dit later in die wa oordink. Daar was soveel teenstrydige emosies dat sy dit glad nie uitgesorteer kry nie. Sy gee die stryd later sugtend gewonne en die slaap druk haar oë sag toe.

Hulle is die volgende oggend vroeg aan die gang, want dis ’n taamlike lang trek wat voorlê. Katrien is dankbaar om besig te bly, want in haar binneste is dinge deurmekaar en dit ontsenu haar, veral omdat sy dit nie eens met Danie kan bespreek nie.

Gelukkig is hulle saans so moeg dat elkeen net spook om geëet en gewas te kom sodat hulle kan gaan slaap, en daar is nie geleentheid vir verdere onderstrominge nie.

Die Pretoriusse is die vreemdelinge in die kamp en ook nie gewoond aan hierdie soort lewe nie. Gert het hulle die eerste dag al gevra om hom tog raad te gee, want van osse en waens weet hy niks. Martha en Kobie doen moeite om hulle tuis en gemaklik te laat voel.

Katrien voel skuldig omdat sy hulle probeer vermy, en een stukkie klaarheid wat sy uit al haar bepeinsinge kry, is dat Aletta nie verantwoordelik is vir haar dogter se optrede nie. Aletta blyk ’n baasnaaldwerkster te wees en dadelik het sy en Katrien iets gemeen. Katrien gaan soek dikwels by haar raad, wat sy met groot liefde gee.

Helena is soos die aandster, skitter op haar blinkste as dit donker is. Faan se strategie om haar te ignoreer en aandag aan Katrien te gee het die regte uitwerking gehad en hy is nou weer herstel tot “hofnar”.

Wat egter vir Katrien baie duidelik is, is dat Helena haar toenemend op Karl toespits. Dit behoort vir haar, Katrien, ’n verligting te wees, want dit beteken dat Helena nie ernstig in Faan belangstel nie. Maar snaaks genoeg, sy wat altyd so dankbaar was vir enige aalmoesies van Faan se kant af, voel nou dat dit nie genoeg is nie. Sy sal eendag iewers moet gaan stilsit waar sy alleen kan wees en hierdie dinge kan oordink.

Hulle staan vandag weer oor en Katrien besluit dat die kinders moet aangaan met hulle skoolwerk. Die tweeling en Dirkie moet eintlik eers volgende jaar begin, maar dit hou hulle besig terwyl sy met Annie en Martie besig is.

“Ek het nie geweet jy kan lees en skryf nie.” Helena het van agter af gekom en staan nou en kyk hoe sy vir Pollie en Mia leer om ’n A te maak.

“Darem ’n bietjie. Ek sal hulle deur hulle eerste paar standerds kry,” sê Katrien sarkasties.

“Sê maar net as ek moet help,” sê Helena en toe sy omdraai, sien Katrien vir Faan skuins agter haar staan. Hy vat Helena se arm en stap al geselsend weg sonder om die nare vroumens reg te help.

Toe die kinders se lesse klaar is, vat Katrien haar hoed en ’n boek en stap af rivier toe. Sy het ’n tydjie alleen nou nodiger as kos. Sy kry ’n heerlike beskutte plek en leun met haar rug teen die boomstam. Sy drink die volheid van die natuur in totdat sy voel hoe dit ’n rustigheid deur haar hele wese laat kruip.

Hierdie gevoel wat sy al die jare vir Faan gekoester het, moet sy vandag ontleed. Al die jare was dit ’n droom ver buite haar bereik. Sy het altyd vir hom verskonings gesoek. Dit waarmee hy egter nou besig is, is nie te verskoon nie. Hy gebruik haar vir sy simpel vermaakspeletjies met Helena.

En dit maak oneindig seer! Maar hierdie liefde is al so ’n deel van haar dat sy nie weet waar fantasie ophou en waar die werklikheid begin nie.

Sy wens sy kan dit met iemand bespreek. Daan sal flou word en Annie is te klein. Soos soveel kere tevore wens sy dat sy net vir een dag ’n ma kan hê. Haar gedagtes skarrel rond soos herfsblare in die wind en teen die tyd dat sy moet teruggaan, is sy niks nader aan ’n oplossing nie. Sy gaan was haar gesig in die koue rivierwater en droog dit met haar voorskoot af voordat sy terugstap kamp toe.

Helena hang aan Faan se arm toe hulle twee ’n rukkie later by die kamp aankom. Sy loer onderlangs na Katrien, wat haarself moet beteuel om haar nie storm te loop en bo-op haar te gaan sit nie.

Die jonger mans het ’n bok geskiet en dit hou hulle besig om die vleis te bewerk.

“Katrien!” Stefaans, wat haar al ’n rukkie dophou, roep haar nader waar hy onder ’n koelteboom sit.

“Is iets verkeerd?” vra hy bekommerd. “Jy lyk hartseer,” en hy vee liggies oor haar wang.

“Nee, oom Stefaans, dis sommer die hitte. Oom sal sien, as die son sak, is ek weer ’n mot,” lag sy kastig en probeer so oortuigend as moontlik klink.

“Jy moet vir my kom sê as die seuns jou nie reg behandel nie, ek sal hulle stertveertjies vir hulle uittrek,” sê hy en Katrien draai vinnig weg sodat hy nie verder moet uitvra nie.

Ná die aandete maak sy haar werkies vinnig klaar en verdwyn na haar wa toe.

“Waarheen is Katrien so haastig?” vra Faan, wat haar nog kon gebruik. Helena eet uit sy hand vanaand noudat hy ’n bietjie aandag aan Katrien gee.

“Sy voel nie lekker nie,” sê Stefaans, maar daar is ’n styfheid in sy stem wat Faan se ore nie ontgaan nie.

Vanaand het Katrien egter behoefte aan Annabelle en sy haal die dagboekie uit die wakis.

15 September 1895

Liefste Annabelle,

Ek wil nie groot wees nie, dis te seer! Ek wens ek was nog so klein soos Mia en Pollie.

Ek hou niks van Helena nie. Sy is gemeen en agteraf en ek gaan nie eens probeer om van haar te hou nie. As Faan haar wil hê, dan moet hy haar vat. Ek gaan my nie langer deur hulle laat misbruik nie.

Ek sal trou met die eerste man wat my vra sodat ek kan wegkom, al sal ek my siek na die kinders verlang.

Ek gaan nie toelaat dat hierdie liefde my so pap en ruggraatloos maak nie. Ek gaan Faan uit my gedagtes en my hart uit sit.

Moenie vanaand met my oor vergewe praat nie. Ek wil nie vergewe nie! Ek wil kwaad wees, want die Here vergewe my nooit. Hy hou dinge teen my deur my so te straf en ek weet nie wat ek verkeerd doen nie.

Nag, Annabelle.

Waar die Suiderkruis hang

Подняться наверх