Читать книгу ’n Vrou vir Herman - Sarah du Pisanie - Страница 4
2
Оглавление“Jy is verniet so vroeg op en aan die gang. Hier begin ons eers sewe-uur werk,” sê Estie as Herman klaar aangetrek, gewas en geskeer by die kombuis inkom.
“Sewe-uur? Hoe kry julle jul werk klaar?” vra hy geskok.
“Hier is baie werksmense, elkeen doen net een deel van die werk, jy hoef nie alles te doen nie.”
Sy stoot ’n beker koffie oor die tafel en Herman vat dit dankbaar aan en gaan staan in die oop kombuisdeur.
“Werk jy ook op die plaas?” vra hy fronsend.
“Ja, ek help vir Oupa.” Sy roer die meel in die water om pap te maak en staan met haar rug na hom toe.
Herman knik. “O, amper dink ek jy werk ook op die plaas soos ek.”
Estie kyk laggend om. “Ek wérk op die plaas. Ek span darem nie draad en kap hout nie. Ek help vir Oupa met die diere en veral met die afrigting van die perde.”
Herman staar haar ongelowig aan. “Wilde perde?” vra hy geskok.
“Nee, man, dit is resiesperde wat hulle aanhou.”
Sy sien die onbegrip op Herman se gesig. “Ken jy nie perderesies nie?” vra sy sag en daar is geen spot of terg in haar stem nie.
“Ja … ons en die Joostes jaag gereeld resies, maar ons rig nie perde daarvoor af nie. Ons gebruik ons eie perde.”
“Herman …” Sy kom staan by hom en kyk hom ernstig aan. “Jy weet so min van die werklike lewe. Daar waar jy vandaan kom, is alles nog so ongekunsteld en eenvoudig. Hier is dit baie anders … die mense … hulle manier van dinge doen … Ek … ek dink nie jy moet te lank hier bly nie, dalk … dalk smeer dit aan jou ook af … en … en dit sal jammer wees.” Haar oë is onnatuurlik blink en sy klink so volwasse.
“Wat gaan ek op die plaas doen?” vra Herman fronsend.
“Mevrou Vermeer sal jou vanoggend sien. Sy sal besluit.” Estie raak sommer doenig met die tafeldekkery.
“Is mevrou Vermeer nog die baas hier? Haar … e … kleindogter is seker nog te jonk, nè? Of het haar skoondogter ook ’n sê hier?” Herman vra al die vrae gelykmatig.
“Ou mevrou Vermeer, genadiglik! Anders sou nie een van ons nog hier gewees het nie.”
“Hoekom nie?” vra Herman nuuskierig.
“Ag … kyk maar vir jouself.”
“As ek hier moet kom werk, sal jy my moet inlig oor hierdie dinge. Ek is rou en uit die bos uit en sal nie eers weet daarna om te kyk nie,” terg hy.
Estie is ongemaklik as sy besef dat sy nou kleinlik was. “Mevrou Vermeer, of tant Amalia, soos ons haar noem, is ’n baie dierbare mens. Ons is baie lief vir haar.”
Herman besef dat dit nie vir die kleindogter en skoondogter geld nie, maar vra nie verder uit nie.
Hulle eet ontbyt en dan stap Herman saam met Estie en Dawid af na die stalle toe.
Die perde se voer word gemeng en elkeen kry net die regte hoeveelheid. Herman verstom hom aan die manier waarop Dawid met die diere werk, kompleet soos ou dokter Harris met mense werk.
Estie sien die bewondering in sy oë. “Oupa is ’n veearts,” sê sy as Dawid iets gaan haal en hulle twee alleen is.
“’n Dieredokter?” Herman kan die bewondering nie uit sy stem hou nie. “Hoekom is hy dan hier op die plaas? Hoekom het hy nie ’n plek in die dorp nie?”
“Oupa het altyd gehad. Hy het afgetree. Ons is maar die afgelope drie jaar hier op die plaas. Tant Amalia het vir Oupa die pos aangebied toe hy wou aftree. Ek dink dit was vir hom ’n wonderlike uitkoms. Hy moet besig bly en die praktyk het te veeleisend geword vir hom. Tant Amalia wou gehad het dat ons in die groot huis moet kom bly, maar gelukkig wou Oupa nie. Hy … e … hy het nie daarvoor kans gesien nie.”
“Sou dit nie lekker gewees het om in so ’n pragtige plek te bly nie?” vra Herman ietwat uit die veld geslaan.
“Nie saam met …” Estie bly ongemaklik stil. “Nee, ek verkies ook om ons eie plek te hê, net ek en Oupa.”
Estie gaan die perd se lyf stelselmatig deur vir enige kneus- of seerplekke en Herman moet buk om haar in die gesig te kyk waar sy nou onder die perd se buik werk.
“En jy? Jy is net so goed met die diere. Gaan jy ook vir ’n veearts leer?” vra Herman.
“Oupa leer my sommer self. Ek rig die meeste van die tyd die perde af. My pa was wonderlik daarmee. Dit het ek weer by hom geleer.”
“Jy sê jou pa is dood. Wat het gebeur?” vra Herman onbeskaamd uit, want by Estie het hy al die vrymoedigheid in die wêreld om dit te doen.
“Hy was onder meer ’n ontdekkingsreisiger en het vir maande en soms jare lank op ekspedisies gegaan. Dit was op een van hulle dat hy met ’n olifant slaags geraak het en die slegste daarvan afgekom het. Hy was al meer as ’n jaar dood voordat ons die tyding gekry het.”
Herman hoor die verlange in haar stem en wens hy kan aan iets dink om te sê om haar beter te laat voel.
“Herman!” Dawid roep na hom en hy stap vinnig nader.
“Mevrou Vermeer sal jou nou sien. Sy wag vir jou. Klop maar net aan die deur. Hester, die huishoudster, sal jou na haar toe vat.”
Herman fluit saggies as hy na die groot huis toe stap. Die voordeur staan oop en die son gooi ’n blink baan oor die pragtige donker vloere. Sagte matte versier dit met koninklike grasie. Herman moet homself maan om nie soos ’n kleuter oopmond na al die prag en weelde te staar nie. Sulke goed het hy nog nie eers in die boeke in ou Morris se winkel gesien nie.
Hy klop hard aan die voordeur en loer vinnig of sy kneukels nie dalk ’n merk op die satyngladde hout gemaak het nie.
’n Middeljarige vrou met ’n swart rok en ’n spierwit valletjies-voorskoot kom geluidloos nader.
“Mevrou Vermeer …?”
Die vrou is klaarblyklik heeltemal uit die veld geslaan, want hierdie jong man met sy kakieklere aan kan nie iemand wees wat vir die Vermeers sal kom kuier nie.
Herman frons liggies as iets vir nie reg voel nie. “Is … is u nie mevrou Vermeer nie?” vra hy fronsend.
“Wie is dit, Hester?” ’n Vrouestem klink van agter af op en Herman rek sy nek om te kan sien wie dit is.
’n Jong vrou kom vinnig nader. Dit is die mooiste mens wat Herman nog in sy hele lewe gesien het. Sy is selfs mooier as Magriet! Haar hare is swart en blink, sodat die sonlig daarin weerkaats. Haar vel is sag en wit en die bruin oë wat hom nou kwaai aangluur, is fluweelagtig soos dié van ’n kalf.
“Wie is jy?” Sy kyk hom vies op en af asof hy nou net in die modder gerol het.
Herman, daarenteen, staar haar aan asof sy nou net uit die hemel geval het.
“Ek praat met jou …” Die vrou se sissende stem bring hom stadig na die werklikheid terug.
“Ekskuus … Ek is Herman van Rensburg en mevrou Vermeer wil my sien.”
“In verband met …?” Haar stem is yskoud.
“Meneer Conradie het my gestuur …”
“O! Dan is jy die nuwe afrigter. Van wanneer af kom die werkers by die voordeur in, meneer Van Rensburg?” Sy lê onnodig klem op die meneer.
“Dankie, Leana! Ek sal self verder onderhandel. Kom binne, meneer Van Rensburg.” ’n Baie waardige en netjiese ou dame staan kiertsregop agter die jong vrou.
Die een wat as Leana aangespreek is, swaai woedend om en haar skraal heupe word beklemtoon deur die netjiese rydrag wat sy aanhet.
Dan is dit die kleindogter! dink Herman, en moet sluk aan die vernedering en ongemaklikheid wat in hom opstoot maar blatant verdring word deur die bewondering wat beslis oorheers.
Hy kyk half smekend na die ouer vrou. “Het ek nou iets verkeerd gedoen?” vra hy kinderlik.
Amalia Vermeer knik liggies in sy rigting en maak of sy nie die ongemak sien nie. “Kom in. Hester, vat hom deur studeerkamer toe,” beveel sy en Herman stap gedwee agter die vrou met die swart rok aan.
Hy gaan sit ongemaklik op die een stoel en staan vinnig op as Amalia Vermeer by die vertrek inkom. Sy moet in haar laat sestigs wees, maar sy is flink en regop en ’n mens sal jou maklik met haar ouderdom misgis.
Sy skuif agter die groot lessenaar in en beduie vir hom om te sit.
“Dawid sê jy kom van Duitswes af en soek werk.”
“Ja, tan- … mevrou.”
Amalia moet die glimlag wat om haar mond wil kruip, met mening verwyder. “Dawid sê ook dat jy ’n natuurlike aanvoeling vir diere het.”
Herman antwoord haar nie. Sy hele wese is nou daarop ingestel om hier te kan bly. Die noodlot sou hom nie verniet hier na Meerlust gelei het nie. Hy moet eenvoudig daardie pragtige meisie beter leer ken. Ten spyte van haar houding is sy voete geheel en al onder hom uitgeslaan.
“Ek verstaan jy boer daar, maar het ’n taak om hier te kom verrig?” probeer sy meer van hierdie aantreklike jong man te wete kom.
“Ja, mevrou. My plaas is nog onbewerk en dit is hoekom ek nou maar hierdie ou takie wil kom afhandel.”
“Mag ek weet wat die taak is?”
Herman is ongemaklik. Hoe op aarde kan hy vir haar sê dat hy vir hom ’n vrou kom soek en dat hy seker daarvan is dat hy haar nou net gekry het?
Amalia sien sy ongemak en verander die onderwerp. “Dawid word oud en ek wil nie hê hy moet so hard werk nie. Laat hy jou alles leer wat nodig is. Dalk hou jy van hierdie wêreld en besluit om permanent hier te bly.”
“Ek … ek glo nie, mevrou …”
“Is jy getroud?” vra sy. Daar was iets in Leana se houding netnou … iets wat haar laat wonder. Haar woorde en oë het twee verskillende dinge gesê. Hierdie aantreklike, ongekunstelde man is dalk net wat sy nodig het.
“Nee, mevrou.”
“Daar is nie iemand spesiaals wat vir jou wag nie?” vra sy as daar skielik baie moontlikhede voor haar opduik.
“Nee, mevrou.” Hy lag verleë. “Daar by ons is vrouens skaars. Dit is …” Hy bly stil as hy besef wat hy nou wou sê.
“Hester sal jou wys waar jou kamer is. Dit is hier onder …” Sy beduie met haar hand in ’n rigting. “Jy kan jou maaltye saam met die ander huispersoneel neem.”
“Ek … ek kan nie dalk by meneer Conradie bly nie?” vra hy ongemaklik om nie ondankbaar te klink nie.
Sy kyk hom peinsend aan en sug dan liggies. “Dit lyk my julle is uit dieselfde hout gekap,” sê sy dubbelsinnig.
“Bo-op die stalle is ’n volledige huisie. Die vorige afrigter het daar gebly. Trek dan eers daar in. Hester kook vir die personeel en daar is ’n eetvertrek waar julle kan eet.”
Herman kyk vinnig na haar omdat sy dan nou so seergemaak klink.
“Ek is nie ondankbaar nie, mevrou, ek … ek is net rou en kom uit die bos uit. Ek doen verkeerde dinge en dan gee ek aanstoot.”
“Ek verstaan, my kind. Ons is egter nie almal koud en hovaardig nie. Onthou dit net!”
“Wat is my pligte, mevrou?”
“Dawid en Estie sal jou inlig. Dawid sal ook jou salaris en sulke goed reël. Ek … ek hoop jy sal gelukkig wees hier en ek hoop jou taak hou jou ’n rukkie hier by ons,” sê sy vriendelik. Sy lui ’n silwerklokkie op die tafel en na ’n paar minute kom Hester vinnig in.
“Hester, meneer Van Rensburg is nou in ons diens. Maak hom bietjie touwys. Hy gaan eers in Clive se huis bly. Hy neem sy maaltye saam met die ander personeel.”
Sy wag vir Herman en lei hom deur die huis tot in die kombuis. Sy beduie na die stoel. “Drink eers koffie, dan sal ek jou gaan wys waar alles is.” Sy wag nie vir ’n antwoord nie maar stoot die koffie oor die witgeskropte kombuistafel.
“Ek is jammer oor die onaangenaamheid netnou,” maak Herman verskoning. “Ek weet nie van sulke goed nie. By ons is almal by die voordeur welkom. ’n Mens sal dink ek het in die kraal rondgerol.”
“Ag, moenie jou aan haar steur nie, ek dink haar ma het geskrik toe sy klein was en sy moes toe suur melk drink, sy het nog nooit weer reggekom nie.” Hester klink so ernstig dat Herman dit uitskater van die lag en dan vinnig sy hand voor sy mond druk.
“Ek verstaan jy kom van Duitswes af. Dit is anders hier, kind. Hier tel status en geld baie. Ons is net werksmense en ons moet ons plek ken. Jy sal maar in die vervolg van die agterdeur gebruik moet maak.” Hester stoot die bord beskuit tot voor Herman. “Eet, kind, jy is so groot!” sê sy moederlik.
Na ’n rukkie stoot Herman sy leë koppie terug en staan op. “Dankie, tannie … e … Hester, nè?”
Sy knik en druk sy arm goedig as hy by haar verbykom.
Sy kyk hom diep ingedagte agterna. Sal die Goeie Vader nie gee dat hy verlief raak op Estie nie. Hulle is tog almal so lief vir die kind wat haar oupa met soveel liefde versorg. Sy sal ’n wonderlike vrou uitmaak vir enige man.
Op die boonste verdieping staan ’n ander vrou met presies dieselfde gedagtes toe Herman se groot gestalte in haar gesigsveld kom. Hy stap met lang, gemaklike treë oor die werf, en daar is iets so natuurlik en bekend in die beweging van sy liggaam, dat haar gedagtes sommer hul eie koers neem.
Die verlede is besig om homself te herhaal! Vandag toe sy hom daar in die voordeur sien, en die lig in Leana se oë, was dit soos ’n helder flits in haar verstand.
Hierdie keer sal sy veg vir die liefde! Hierdie keer sal sy geen steen onaangeroer laat nie. Sy sal al die sosiale norme en argumente doodeenvoudig verwerp en dit sal haar ’n bietjie troos vir al die eensame, vermorste jare.
Sy sug diep en vandag voel sy haar volle ag en sestig jaar. O, Dawid Conradie, jou hardkoppige, hardkoppige mens! ween haar hart. Dit kon so anders gewees het vir my en vir jou!
Amalia gaan sit op die stoel wat voor die venster staan sodat sy ver oor die wingerde kan uitkyk. Haar gedagtes hardloop soos gewoonlik terug op die ou uitgetrapte paadjie van vyftig jaar gelede. Vyftig lange jare.
Hulle het in die oestyd ontmoet. Die jaarlikse Druiwefees op Bordeaux. Dawid het net die vorige week teruggekom van Engeland af waar hy vir veearts gestudeer het, en sy was die mees gesogte en rykste meisie aan die Kaap.
Met die voortvarendheid van die jeug het niks anders saak gemaak nie. Hulle was van die eerste oomblik af verlief. Halsoorkop en hopeloos verlore.
Dawid het ’n sukkelende praktyk op die dorp begin. Al die geld wat hy geërf het, het hy gebruik om te gaan studeer en hy kon net die nodigste koop om hom toe te rus. Hy was egter so begeester en het so ’n natuurlike liefde vir die diere gehad dat niks harde werk of armoede sy geesdrif kon demp nie.
Sy het al hoe meer geleenthede gesoek om dorp toe te gaan en het dikwels onverwags daar gaan inloer. Die blydskap en verrassing op sy gesig was altyd genoeg beloning vir al die moeite wat sy moes doen om daar uit te kom.
Amalia het gou besef dat dit nie haar ouers se goedkeuring gaan wegdra nie. Sy kon kies en keur tussen die room van die Kaap en hulle het ander planne vir haar gehad.
Sy het onverwags ondersteuning van haar enigste broer gekry. Hy het haar oral heen saamgesleep en haar dan by Dawid se spreekkamer gaan aflaai.
Dawid het sommer die eerste jaar al op sy voete gekom en sy praktyk het gegroei. Hy het baie werk gehad maar min geld, want hy sou nooit aandring op betaling nie en dit het hom meer geliefd in haar oë gemaak. Sy was bereid om alles waaraan sy gewoond was op te offer en saam met hom te werk en sy kinders in die lewe te bring.
Siegfried, haar broer, het Dawid ’n paar keer uitgebring Bordeaux toe, gewoonlik saam met ander gaste sodat haar ouers nie suspisieus moes word nie. Dit was ook hy wat besluit het dat die tyd nou ryp is dat sy en Dawid haar ouers moet gaan sien.
Amalia bewe liggies as sy weer aan daardie aand dink, die verslaentheid op Dawid se gesig, die vernedering, soos vanoggend in Herman se oë.
“Dit is verregaande vermetelheid,” het haar vader getier. “Wat het jy om vir my dogter aan te bied? As jy dink jy gaan in ’n vet erfporsie instap om jou brandsiek praktyk aan die gang te hou, het jy dit baie ver verkeerd, jong man. Sy kan nie sonder my toestemming trou voordat sy een en twintig is nie en intussen verbied ek jou om haar te sien, en as sy dit sal waag om jou weer te sien, sal ek haar onterf en dit sal vir die res van jou lewe op jou gewete rus.”
Dawid het omgedraai en by die deur uitgestrompel en sy het huilend agterna gehardloop.
“Ek is lief vir jou …” het sy gesmeek. “Asseblief, moet my net nie alleen hier los nie. Ek sal saam met jou werk, en ek sal alles doen.”
Hy het haar styf teen hom vasgedruk. “Jy is nog nie eers een en twintig nie, my lief. Hulle sal jou kom haal en my in die tronk sit.”
“Ek sal vir jou wag … ek belowe …” Sy het snikkend aan hom vasgeklou. “Ek weet net nie hoe ek sal kan aanhou lewe as ek jou nie kan sien nie.” Sy moes toe al geweet het wat gaan gebeur. Dawid is so trots en so koppig!
Hy het haar styf teen hom vasgedruk en haar twee, drie keer gesoen voordat hy omgedraai het en ’n rukkie later het sy die perd se hoefslae gehoor.
Haar ouers het haar opgepas asof sy in ’n tronk was. Siegfried is nie meer vertrou om haar iewers heen te vat nie en sy was ’n gevangene in hulle huis.
Sy het darem briefies deurgesmokkel gekry deur Siegfried, maar nooit ’n antwoord ontvang nie.
Drie maande het so verloop voordat sy weer toegelaat is om dorp toe te gaan. Haar hart het so wild tekere gegaan dat sy bang was haar ma gaan dit hoor. Hulle het die oggend inkopies gedoen en Amalia was later bang dat sy gaan flou word van die spanning. Haar ma het die middag bietjie gaan lê en sy het haar kans waargeneem en behoorlik na sy spreekkamer gehardloop.
Daar was egter ’n ouer man … ’n dokter Vermeulen. Hy het Dawid se praktyk gekoop en Dawid is weg … hy weet nie waar hy is nie.
Die woede was kolkend in haar. Dan is dit hoekom sy vandag bietjie uit haar sel kon kom. Haar ma het dit so beplan!
Sy het vasbeslote by haar ma se slaapkamer ingestap en die dodelike, yskoue woede het haar krag gegee. “Waar is hy? Dit is ma-hulle se werk hierdie.”
“Van wie praat jy, kindjie?” het haar ma onskuldig probeer wees, maar Amalia het nader gestaan en daar was iets so gedetermineerd in haar houding dat haar ma haar rug styf teen die bed se styl gedruk het om verder van haar af weg te kom.
“Ma moet luister en mooi luister ook! Ek gaan met Dawid Conradie trou sodra ek die dag een en twintig is en niks en niemand gaan my keer nie. Ek is liewer arm saam met hom as wat ek ’n huwelik soos Ma en Pa het, met al julle geld.”
Of haar ouers iets met die volgende verwikkelinge te doen gehad het, wou sy nooit probeer uitvind nie. Deur hulle te blameer het die pyn draagliker geraak.
Daar was ’n kort briefie van Dawid. Hy is getroud, met ’n eenvoudige boeremeisietjie wat by hom gepas het. Sy moet hom vergewe, maar hy kon nie haar lewe so verwoes nie, daarvoor was hy te lief vir haar.
Iets het in haar geknak. Sy het alle belang in die lewe verloor. Haar ouers het al wat hubare man is oorgenooi, maar vir haar was hulle soos skaduwees wat rondbeweeg het.
Sy weet dat Christiaan Vermeer, wat twintig jaar ouer as sy was, ook altyd iewers op die agtergrond was in daardie tyd. Wat haar betref, het hy egter vir haar ouers kom kuier, so min het sy belanggestel.
Haar pa het haar een aand laat roep. Hulle was almal daar. Haar pa en ma en Christiaan.
“Christiaan het ons gevra of jy … e … jy met hom sal trou?” Haar pa was ’n oomblik ongemaklik maar het homself gou reggeruk.
“Christiaan is ’n gevestigde man met groot sakebelange en die mooiste plaas in die distrik. Hy sal mooi na jou kan kyk, kindjie.” Haar ma het moederlik en liefdevol probeer wees.
Amalia het haar ma se hand ongeërg van haar arm afgeskud. “Weet Christiaan dat ek vir Dawid Conradie sal lief wees totdat ek die dag sterf?” het sy uitdagend gesê en vir Christiaan Vermeer vol in die oë gekyk.
As sy gehoop het dat sy hom sou skok, was sy verkeerd.
“Ek is ’n groot man, Amalia,” het Christiaan met ’n verdraagsame grinnik gesê. “Ek was reeds voorheen getroud, maar my vrou is vyf jaar gelede dood. Ek glo nie meer aan vreeslike onsterflike liefde en sulke onsin nie. Ek soek ’n vrou om vir my ’n erfgenaam in die lewe te bring, want ek het geen kinders uit my vorige huwelik gehad nie.”
Sy het hom met leë oë aangekyk en geknik. “Goed … solank ons mekaar net verstaan.” Daar was nie ’n greintjie gevoel in haar binneste nie.
Hulle is twee maande later getroud en Amalia het met genoegdoening die bekommernis en verwyt in haar ouers begin raaksien.
Christiaan was ’n gemaklike mens om mee oor die weg te kom. Hy was belese en interessant en sy perde was iets besonders. Hy het haar leer perdry en sy het gehelp met die afrigting van die diere en dit het tog haar dae weer bietjie meer lewe gegee.
Die volgende jaar is Anton, haar enigste kind, gebore. Hy was ’n sieklike kind wat nie eers sy dertigste verjaardag gehaal het nie. Hy het egter haar dae vol en mooi gemaak en al die liefde wat so in haar opgekrop het, het sy op hom uitgestort.
Anton is gelukkig vroeg getroud en kon darem vir Leana verwek. Sy vrou, Magda, was egter alles wat Amalia verwag het. Geldgierig en hoogmoedig!
Die teleurstelling is sommer weer brandend in Amalia. Leana aard so baie na haar ma! As sy tog maar liewer soos Estie kon gewees het! Hoeveel kere die afgelope drie jaar het sy dit nie al gewens nie.
Sy is egter lief vir Leana, want sy is bloed en haar bloed. Vanoggend toe sy omdraai, het sy die lig van belangstelling in Leana se oë gesien en het hierdie idee in haar begin ontkiem.
As Leana sinnigheid in die mannetjie kry en sy kan dit bewimpel dat hulle trou, sal Dawid weet dat sy nooit deel van daardie plan was nie. Dat sy bereid was om vir hom te wag en saam met hom swaar te kry. Hy is so koppig en so ordentlik! Sy kap vererg met haar hand op die stoel se leuning. Hy glo nou hy het dit alles vir haar beswil gedoen en sal nooit iets doen of sê sodat sy kan verduidelik nie.
Anton was seker al tien jaar oud toe sy Dawid weer vir die eerste keer gesien het. Hy het sy ou praktyk kom terugkoop en het weer hier naby haar kom bly. Sy voel nou nog die wilde klopping van haar hart toe sy hom weer van aangesig tot aangesig gesien het.
Sy vroutjie was ’n nederige soort mens, wat hard kon werk en haar nie veel aan dinge soos onsterflike liefde sou steur nie. Hulle het ook net een seun gehad wat so ’n bietjie ouer as Anton was.
Die dae het weer vir haar ’n kleur gekry. Elke keer as sy ingaan dorp toe, was die verwagting tog daar dat sy hom dalk sal sien. Sy lang, skraal gestalte het altyd vir haar uitgestaan in die grootste groep mense.
Hulle het nooit oor iets anders as die weer en alledaagse dingetjies gepraat nie. Toe Anton dood is, was Dawid ook by die begrafnis, maar het sommer daar van die begraafplaas af weer teruggegaan huis toe. Net haar hand styf in syne vasgehou vir een wonderlike oomblik en toe stil omgedraai.
Hy was daar toe Christiaan met die perd verongeluk het. Hy het die perd kom uitsit wat baie seergekry het, en net sy stille nabyheid het haar deur die hele wrede episode gedra.
Dit is eers vyf jaar gelede toe sy vrou dood is dat sy ernstig daaraan begin dink het om hom hier op Meerlust te kry. Twee jaar later was daar stories in omloop dat hy nou gaan aftree en sy praktyk gaan verkoop. Sy het gedetermineerd dorp toe gery, en by sy spreekkamer ingestap.
“Môre, Dawid.” Sy het beslis die deur agter haar toegedruk.
“Mevrou Vermeer!” Dawid het regop gekom en styf in haar rigting geknik.
“Jy moet vir jou belaglik hou, hoor!” Sy was sommer onredelik kwaad vir sy kastige edelheid.
Hy het haar verbaas aangekyk en daardie bekende vonkeltjies was skielik in sy oë en dit het haar moed gegee om aan te gaan.
“Sê weer vir my mevrou Vermeer en ek slaan jou met hierdie sambreel oor jou kop,” het sy dodelik ernstig gedreig.
Dawid het probeer ernstig wees maar toe uitgebars van die lag. “Wat kan ek vir jou doen, Amalia?” het hy vriendelik gevra en haar hart het soos ’n jong meisie s’n gebokspring.
“Ek verstaan jy tree af,” het sy sommer met die deur in die huis geval.
Hy het geknik en Amalia het liggies gebloos terwyl sy oë stadig en teer oor haar gesig en persoon gegaan het, asof hy elke lyn in sy gedagtes wou graveer.
“Ek soek iemand om na die perde se welstand te kom omsien. Jou kleindogter staan bekend as een van die beste afrigters in die kontrei. Asseblief, Dawid … ek het julle albei bitter nodig.” Sy het openlik gepleit en sy weet dat Dawid Conradie op daardie oomblik die bietjie geluk wat daar nog vir hulle oor kan wees, met albei hande vasgegryp het toe hy bevestigend knik en sonder ’n woord haar aanbod aanvaar.
Sy wou hulle so bitter graag by haar in die huis laat bly. Sy weet nie of dit Leana se houding is wat hom afgeskrik het en of dit maar weer net die Conradie-koppigheid was nie. Hy het egter op ’n plek van sy eie aangedring.
Net om hom hier naby haar te hê, is meer as wat sy voor kon gehoop het. Dit is wonderlik om hom hier te sien rondbeweeg. Sy dring daarop aan dat hy al die boerderysake met haar kom bespreek, al weet sy dat daar geen probleem sal kom nie, net om hom vir daardie paar minute alleen vir haarself te hê.
Sy weet hy geniet dit ook. Dit is sulke kosbare oomblikke. Daardie sekonde wat hulle oë mekaar langer gevange hou. Die ligte beweging van sy vingers teen hare as hy iets by haar aanvat. Die bekommernis in sy oë as sy siekerig is. Sy sluit haar oë en ervaar die saligheid daarvan.
Vandat Magda weer getroud is en in Switserland woon, het haar lewe ook weer normaal geword. Sy sou dit nooit gewaag het om vir Dawid hierheen te bring as Magda nog hier was nie. Sy sou hom met haar snobisme binne die eerste week verdryf het.
Magda is wreed in haar hoogmoed en sy het haar stempel op Leana afgedruk.
As Leana tog op hierdie mooi jong man met sy eerlike gesig wil verlief raak … Sy sal alles in haar vermoë doen dat hulle kan trou en dit sal haar weer ’n bietjie gemoedsrus gee. Sy sal voel sy het weer iets goed en reg in die lewe teruggeploeg. Iets wat die eensame, verlore jare die moeite werd kan maak.