Читать книгу Boerumoer - Sarel Pieterse - Страница 4
die woltjek
Оглавление“Kyk hoe lê en slaap dié Brut met sy steekbaardgevreet onder die bank,” sê oom Gysbert. “Hy’s ’n goeie hond oor ek hom van kleins af reg geleer het volgens die raad wat oorle Koos Gwarrievlei my gegee het.”
Die heel eerste en allerbelangrikste ding wat jy vir ’n hond leer, is: voertsek. Daardie bevel moet hy van dag een af ken, beter as sy eie naam. Daarna kan jy hom allerhande ander toertjies en goed leer tot jy met hom sirkus kan hou, solank hy weet om te voertsek as jy so sê.
Brut se pa, Brutus, was ’n pure vuilgoed van ’n hond oor hy nie geweet het van voertsek nie. Hy was ’n plaashond, oor ek daai tyd nog geboer het, maar ek het seker te laat in sy lewe met die voertsek-ding begin. Moontlik het hy dit nie gesnap nie of hy was net moedswillig. Ek moes altyd eers die sambok vat, wat vir my baie moeite was, voor hy hoor. Maar die woorde “Kom hier, jou bliksem”, het hy goed verstaan. En dan kom hy juis nie. Hy het hom eerder flink uit die voete gemaak.
Kyk, dié Brutus was so lief om die oorle antie se hoenders te versondig, selfs al is hulle agter die ogiesdraad in die kampie. Hy sal hulle eers ’n paar dae lank gerus maak en nevermaaind by hulle hok verbydwaal. Dan, op ’n dag wanneer daar twee of drie henne met mening teen die draad staan en skrop, sal hy hulle skielik bestorm en hier deur die ogiesdraad teen hulle koppe sy vrekbytblaf blaf. Vir hom moes dit vreeslik lekker gewees het om te sien hoe daai henne hulle uit hul vere uit skrik.
En kom daar van die hoenders uit, was dit eers erg. Hy het van die goed letterlik doodgespeel. Nooit een gebyt nie, net van lekkerte aanhou skrikmaak tot kiep se hart gedaan is.
Oor die hoenderspelery het ek hom in sy lewe ’n paar goeie pakke gegee. Dit was net mooi in die tyd toe ons nog ewe vinnig was. As hy nog so rooitong met sy spelery besig is, sien hy skielik ek is op hom en dan knyp hy sy stert en vlug dat dit so vrek. Maar ek kon op my dae self uithaal. En terwyl ons so hardloop, streep ek hom, en ek vertel hom skandelike goed oor homself en sy voorgeslagte en noem hom name waarop hy agterna nooit trots was nie. En hy hol net vir een plek en dis sy houthok onder die akkerboom. Ek en die antie het jare terug al ooreengekom dat selfs ’n hond ’n veilige hawe moet hê. As hy eers in sy hok is, maak ek hom niks, want daar moet hy onaantasbaar voel, al is ek ook hoe moerig.
Man, maar Brutus het die Afrikaans, wat ek hom in die hardloop toegevoeg het, goed verstaan. Dit het ek eendag sommer so terloops uitgevind.
Ek staan en braai een Sondag daar in die koelte vir my en die antie vleis en Brutus lê sommer hier by my uitgestrek en slaap. En die braaitang glip uit my hand en val op die grond, maar elke keer dat ek buk, is dit nie laag genoeg nie. En die derde keer vererg ek my en toe ek buk, sê ek vir die tang: “Kom hier, jou bliksem!”
Jong, daar herken Brutus, uit pynlike ondervinding, daardie einste woorde en stemtoon. Terwyl hy nog lê, grou sy pote al in die grond vir hol en by voorbaat los hy ’n paar fyn tjanke. Hy was heilig oortuig sy agterwêreld gaan enige oomblik brand, om watter duistere rede ook al, en sy kop sein net een boodskap – hok toe. Dat ek stomverbaas eenkant sy manewales staan en betrag, was vir hom totale bysaak. Op volle vaart duik hy met ’n doef by daai houtkas in laat die antie glad uit die huis kom om te kyk wat ek die arme hond nou weer aangedoen het.
Maar dit laat dink my aan ou Ossie Wynfontein se pa, oom Poen. Hy het ook op ’n baie interessante oomblik gesê: “Kom hier, jou bliksem!” In hierdie geweste word daardie storie nog gereeld vertel.
So groot en dik soos ou Ossie, so maer was oom Poen. En oor hy altyd ’n breërandhoed gedra het, het van die boere opgemerk sy skaduwee lyk soos ’n sampioen. In kort word hy toe Poen.
Ossie was nog daai tyd op skool en oom Poen is die Vrydag dorp toe om vir hom by die skool op te laai. En by die poskantoor het hy deur die pos gekyk om te sien of sy woltjek nie gekom het nie. Daai tyd het jy nog die tjek oor die pos gekry. Dis nie soos deesdae in jou rekening inbetaal nie.
En met dié dat hy so haastig is, omdat hy nog by die drankwinkel ook wil uitkom, kyk hy die koevert met die tjek mis. Dis eers by die huis dat hy en sy vrou die tjek opmerk. En daar’s net een ding wat mens met ’n woltjek doen, behalwe om daarna te kyk en meewarig te lag, en dit is om dit by die bank in te betaal. En die Saterdagmôre vat oom Poen die pad dorp toe om die tjek te deponeer.
Maar deur die nag het daar ’n oostewind opgesteek en teen die oggend waai hy dat die klippe in die pad sommer so kaal sit. En oom Poen ry en naby die dorp gaan hy nog ’n donkiekar verby en so entjie verder voel hy om eers water af te slaan voor hy by die bank aandoen. Oor daar geen ander karre of mense in sig is nie, stop hy om uit te klim. Maar die wind waai. Terwyl hy so teen ’n bos staan, pluk daai wind aan sy broekspype en hemp en die volgende oomblik vlieg sy hoed van sy kop af soos die wind dit skep. En hy gryp, maar te laat. En dis nog ’n nuwerige hoed. Daar knyp oom Poen kort af en hy jaag sy hoed, want die ding lyk of hy padlangs wil terug plaas toe.
In die pad hol die hoed toe behoorlik soos die gemmerbroodmannetjie. Hy haal glad ’n waaiende tolbos in en gaan dié verby. En oom Poen skarrel agterna, want sonder hoed voel hy altyd halfgeklee.
Soos die storie dit wil hê, was oom Poen se gulp nog oop. Met een hand uitgestrek agter die hoed aan, pluk sy ander hand aan die ritsie, maar om de dood kry hy dit nie in die hardloop opgetrek nie. Mens wil mos betaamlik voor die skape in die veld wees as jy so onwaardig agter ’n waaiende hoed aan hol. Gelukkig vir hom is die ding se sporing bietjie uit en hy begin skeef rol, uit die pad uit, en teen die draad vas. Daar kry oom Poen toe die hoed gevang. Maar oor hy so stokflou is, staan hy daar hande op die knieë, wind in, om sy asem terug te kry.
Jong, so ’n oostewind kan vir jou waai. En moedswillig. Toe oom Poen nog so gebukkend staan, gryp die wind die woltjek uit sy hemp se bosak en daar vlieg die tjek ene skoenlapper pad- af. Toe’s dit nou éérs ’n ding.
Vertwyfeld kyk oom Poen nog terug bakkie toe en oorweeg of hy die tjek met die voertuig moet probeer injaag. Hy was klaar swak van die moeg. Maar die bakkie staan doer en verder besef hy as hy die tjek uit die oog verloor, is dit straks vir ewig weg en moet dit eers geskrap word voor hy ’n nuwe tjek kan kry. Daarom skraap hy eerder die tjek.
Die Prediker sê mos “Alles is ’n gejaag na wind”, maar ek dink daai teks was ver van oom Poen se gedagtes. Hoed in die hand jaag sy voete skaamteloos agter geld aan.
Kyk, ek het daai pad dorp toe baie gery. Ek weet presies waar die plek is waar oom Poen die tjek so gejaag het. En elke keer as ek daar ry, vernaam as die wind waai, dink ek aan oom Poen. Net so entjie verder is daar so ’n effense afdraandetjie.
Toe die tjek die afdraande vat, toe is oom Poen so vyftien tree agter. Maar voor in die pad sien hy een van die vrouens wat by ou Gert en Helmien Grootgeluk werk. Ek het later gehoor haar naam is Dora. Sy staan toe daar in die wind en kopdoek vashou oor sy vir die donkiekar wag wat ’n ent verder aankom.
En oom Poen hol, maar die tjek waai net nog verder voor hom uit. Uit pure desperaatheid skree hy vir die vrou laat sy die tjek moet vang voor dit by haar verbywaai, maar die wind blaas al sy woorde deurmekaar.
Jong, die storie het geloop. Die hele kontrei vol. Ou Jannewarie het my een dag, toe ons besig was om skaap te dip, sy weergawe van die storie vertel.
Toe daai Dora weer kyk, sien sy hier kom ’n man teen die afdraande reg op haar af. En hy skree iets en beduie vir haar dat sy net daar moet bly staan en toe kom hy met mening. En sy sien hy vat-vat na sy broek en daar is sy gulp al klaar oop. En alles aan hom wys net een ding – hy is lus vir haar. Hy hardloop eintlik om hom aan haar te kom vergryp. Sy hoed het hy klaar afgehaal, en uit pure wellus laat val hy dit sommer in die pad.
Daar los sy die kopdoek. Al gedagte was om ylings te vlug alvorens haar vrugbaarheid op die proef gestel word. En sy lig ewe haar kuitrok op om haar bene spasie te gee vir hardloop.
Toe’s dit vir jou ’n vreemde reisies in daai stofpad en elkeen hol om persoonlike redes. Sy vlug om haar vrouedele se onthalwe en hy hardloop vir geld.
Jong, toe sy voel hy haal haar in en haar ergste vrees gaan bewaarheid word, skop sy doodsbenoud haar skoene uit en sy skree laat sy vinnigter kan wegkom.
Maar op daai oomblik haak die woltjek genadiglik ’n oomblik aan ’n klip vas. En net toe oom Poen buk en sy hand uitsteek om die tjek te gryp, pluk die wind dit weer los en daar gaat die geld.
Ek kan my indink hoe erg dit vir hom moes wees. Uit pure moeg en frustrasie skree hy wanhopig agter die tjek aan.
Dora hoor nog hoe skree die man agter haar: “Kom hier, jou bliksem!” Toe los sy die rok dat sy al twee arms kan gebruik vir hardloop en daar is sy los onder ou Poen uit.
’n Entjie verder daag hulp darem toe op in die vorm van die donkiekar en toe dié stilhou, gaan skuil Dora agter die donkies en vertel hygend vir die drywer hoe die man probeer om haar uit haar rok te kry. Op die donkiekar kan Kerneels skaars sy ore glo. En toe Poen nader strompel, klim hy af en begin dreigend met die sweep na Poen beduie.
Maar die hortende storie wat hy by ou Poen hoor, verskil radikaal van Dora s’n. En net toe hy amper oortuig is, skree Dora: “Kyk, sy gulp is nog oop.” En ja wragtag, sy gulp is oop.
Daar lig Kerneels die sweep om die bevange Dora se eer te beskerm, maar op daai oomblik moes al oom Poen se kragte meegegee het. Terwyl hy langs die een wiel op sy knieë val, pleit hy ontroosbaar: “My tjek … My geld,” en hy lig sy arms wanhopig agter die fladderende tjek aan.
Dis toe Kerneels agterdogtig omkyk dat hy die waaiende papiertjie in die pad opmerk en ’n lig gaan vir hom op. Daar kommandeer hy sy twee opgeskote seuns dadelik: “Loop vang die oubie se papier, magtag! Sal julle nou hier sit en konsert kyk.”
En toe is hy sommer onthuts met Dora ook: “Sies vir jou, Dora. Jy kan mos maar gelê het. Die man wil jou dan betaal.”