Читать книгу Boerumoer - Sarel Pieterse - Страница 6

lewe ná die dood

Оглавление

“Jong, as jy dood is, is jy dood,” sê oom Gysbert. “Niks van bietjie dood of halfpad dood of heeltemal dood nie. Daar’s net een ding en dit is morsdood vrek.”

Vir ’n oomblik kyk hy my skewekop aan net om seker te maak ek wil nie altemit debat voer oor sy stelling nie. Toe vertel hy:

Ek het nog altyd gedink almal verstaan die dood is finaal, maar ek het my misreken. Was dit nie dat hy ’n stappie te ver gegaan het nie, het ou Peet my sweerlik tot sy beskouing bekeer en amper het ek ook die drumpel oorgesteek na kens wees.

Ou Peet is al ’n ou man, by die negentig, maar tot vandag toe lewe hy nog dat dit so vrek. Jare terug het hy die boerdery aan sy oudste seun oorgegee, maar toe sy kleinseun later die grond oorvat, het hy eerder hier by sy dogter op die dorp kom bly.

Drie geslagte onder een dak werk nooit uit nie.

Terwyl ek anderdag nog so op die stoep sit, staan ou Peet skielik met so dik boek vol notas en papiere by die tuinhek en ek sien sommer daar’s ’n bedruktheid oor hom. En ek maak die hekkie oop en ons groet en ek vra of hy dan nou met daai klomp papiere kom verkiesing veg hier by my. My politiek is reg, plaas ek hom klaar op die agtervoet. Nee, sê hy, hy’t gekom oor ’n baie belangrike saak en ek is die enigste mens wat hy daarmee sal vertrou.

Kyk, as iemand só praat, vermoed ek twee dinge – geld- of ’n hofgedoente. Van die een het ek min en van die ander bly ek so ver as moontlik weg.

Maar ou Peet sê toe hy tref die finale reëlings vir sy begrafnis. Hy voel al jare lank die tyd haal hom in. Daarom het hy gaan sit en alles opgeteken oor hoe dinge moet gebeur en nou lig hy almal wat ’n rol moet speel oor hulle funksies in. Hy sê die ding wat hom daartoe gedryf het, was die breekspul wat ons met ou Willem Dassiekraal se weglê moes aanskou.

Op die kerktreetjies het die draers mos onklaar getrap en daar is Willem teen die skuinste af en hy val met sy dik lyf sommer die kis van binne af flenters. Ná ons vir Willem teruggepak en die kis se een sykant weer stewig vasgekap het, toe is dit plaas toe vir die teraardebestelling. Maar ’n ystervark het deur die nag in die graf geval en toe ons daar kom, dreig die gedierte ons almal en ons moes net koes toe hy wil penne skiet.

“Só,” sê ou Peet, “moet dit nie by my begrafnis gaan nie.”

Jong, ek nooi vir Peet stoep toe en laat hom sit en ek skink eers daar vir ons elkeen ’n fris dop dat ons nugter oor die saak kan dink. Is dit nie onkristelik om die dood sommer so vooruit te wil loop nie? Om voorsiening te maak, is een ding …

Maar ou Peet byt soos ’n snoek aan ’n hoek. “Gysbert,” is hy plegtig, “dit is my laaste wens dat jy die owerste moet wees om toe te sien dat dinge presies gebeur soos ek dit vandag vir jou uitlê.”

Ek probeer nog hierdie kant verbyglip en daardie kant toe keer en om sy aandag weg te lei, klink ek sommer glasies met hom, asof ons die okkasie vier, en ek vat ’n lekker sluk sodat hy moet volg, maar Peet het net een gedagte – rigting noord …

“Hier,” sê hy, en gee my die boek met los papiere aan. “Daar het ek alles neergeskryf oor hoe en wat moet plaasvind. My dogter, Susarah, sal alles reël, maar jy is die enigste man wat ek sal vertrou om toe te sien dat dit so gebeur. Ek het besluit daardie eer kom jou toe.” En soos hy my die boek aangee, bly sit hy sommer so vooroor of hy wil hê ek moet dadelik wegval sodat hy my kan help lees en interpreteer, waar nodig.

“Dankie, Peet,” sê ek, en vat die boek, “ek sal daardeur werk en waar ek vrae het, sal ek kom vra.” En ek sit die boek op die stoeptafeltjie neer en dag by myself: eer nogal. Soos dit vir jou ’n eer moet wees as ek jou kommandeer om my tuin te kom omspit.

Man, ek het gedink ek kan ou Peet se attensies afmaak deur die boek uit die oog te sit sodat ons meer aandag aan die brandewyn kan gee, maar daar raak hy sommer ongeduldig met my. “Gaan jy nie nou lees nie?”

“Nee,” keer ek ewe uit die veld. “Ons kuier mos nou ’n bietjie, en brandewyn en gewigtige sake is nie maters nie.” Maar ek sien sommer hy wantrou my motiewe en toe voeg ek kastig by: “Dis al skemer. Ek kan net by helder daglig lees.”

Daar sug die ou dat dit klink hy blaas sy laaste asem uit en hy sit agteroor en hy proe-proe aan sy glas voor ’n gedagte hom te binne skiet: “Maar in daardie geval vertel ek jou sommer.” Jong, en daar trek hy weg laat ek voel of ek skaars grondvat.

“Kyk, jou werk begint eers as die kis uit die kerk gedra word. Die orrel sal dan daardie ding speel wat ek vir hulle gesê het. Dis ’n marsbesigheid. Ja, die trou- … Nee, man, die dodemars of iets. Los jy dit maar. Ek het klaar gereël.

“Nou kyk, my seuns Lodewyk en Theuns dra voor en Petrus regs agter. Hotagter dra my kleinseun, Klaas. Hy’s sterk. In die middel dra my neefs Gawie en Dries, maak nie saak watter kant nie. Nee, laat Dries eerder met sy linkerhand dra, want hy kla hoeka hy kan nie meer met sy regterhand skryf nie oor die jig hom so opkeil. En Gawie dink nie aldag meer helder nie. Keer hom as hy sommer self voor wil vat, want vir al wat ek weet, beur hy met my slagpale se kant toe.

“En as die kis nou veilig in die lykswa gelaai is, moet jy solank vooruit ry plaas toe voor die lykstoet daar aankom. Daar moet jy kyk dat die werksmense se honde vasgemaak is soos ek hulle aangesê het om te doen. Ek wil nie ’n geblaffery om my ore hê by my eie begrafnis nie. Erger nog, sê maar een brak kry die kans om teen my kis te kom been lig. Dink net hoe gaan dit nie later daar onder die grond stink nie. En dis nie julle wat dit tot in die hiernamaals moet lê en ruik nie.”

Jong, ek proes van die lag, maar ou Peet is so begeesterd aan’t vertel laat hy skaars notisie neem.

“Kyk, Apools weet ook hy moet daai tyd al die perdekar onder die akkerboom getrek hê. Ek ry nog vir oulaas agterop in die kis tot by ons familiebegraafplaas. Maak jy net seker hy het orals en onder die sitplek ook skoongevee laat ek my nie moet lê en skaam vir sy laksheid nie. En voor die stoet nog kom, moet jy kyk dat hy vir Poljon en Karnols bring laat hy hulle kan inspan. Karnols hotvoor, want hy is geneig om bietjie buitentoe te trek.”

Ou Peet praat laat daar sommer so skuimpie in sy mondhoek kom. Ek vat-vat so na my pyp en vuurhoutjies en toe ek dit nie dadelik bykom nie, staan ek op, maar Peet laat hom nie so maklik lomp nie. “Sit, man, sit,” keer hy my. “Jy moet aandag gee,” hou hy hom ewe kontant.

Waar sal ’n man my sommer hier op my eie stoep kom order? En ek vat die pyp en voor ek brand maak, sê ek vir Peet hy moet eers bietjie halt. Hy gaan te vinnig. Ek sal dit tog alles in sy doodsakte op die tafel lees. Maar net toe ek die vuurhoutjie by die pyp bring en begin suig, trek hy weer weg of hy nooit onderbreek is nie.

“Nou, Gysbert, as die stoet kom, moet jy kyk laat die mense agter die huis parkeer. Die perde hou nie van so baie karre en stof om hulle nie. Maar wys vir die lykswa om stadig te ry en naby die perdekar te stop sodat julle my nie ver hoef te dra nie. Hulle sê so ’n geskommel in ’n kis, wat mense dra, kan jou gou seesiek maak. En uit ondervinding weet ek ek is nogal geneig tot so iets. Dan, as hulle die kis op die perdekar laai, moet jy kyk dat Apools tog die toue styf om die kis vasknoop. Ek wil my nie halfpad graf toe nog boonop vrek val nie. En as jy sien alles is reg, moet jy die leisels vat. Ek het mos by die landbouskou gesien hoe jy met ’n perdekar kan ry. Lodewyk sal voor by jou sit, maar ek vertrou nie die leisels in sy hande nie. Hy’s ’n haastige kêrel. Ek moes hom al baie aanpraat om nie die bakkie so heluit te ry nie.”

Jong, aan ou Peet was daar nie meer keer nie. Net om bietjie ’n asemskepkans te kry, onderbreek ek hom en vra of dit nie veiliger sal wees as ons die kis eerder agterop die bakkie begraafplaas toe vervoer nie.

“Oor my dooie liggaam!” is hy geskok. “Wil jy nou hê my oorle pa moet in sy graf omdraai? Op sy sterfbed het hy my nog maak belowe dat ek nooit met hierdie nuwerwetse rygoed wat so dreun naby sy laaste rusplek sal kom nie. Hy is ’n man vir stilte. En onthou, ek moet tot in der ewigheid in die graf langs hom lê. Hy sal my mos nooit vergewe en ’n tweede kans gee nie.”

Ek sien ou Peet vat darem ’n slukkie brandewyn om weer sy gedagterigting te kry, maar voor ek aan iets kan dink om te sê, trek hy weer los.

“Nou kyk, dis nie ver van die opstal af daar na die begraafplasie toe nie en die meeste mense sal kan stap. Die ander wat te oud en kranklik is, kan ry, maar net tot by die sipresbome. Jy ry natuurlik voor die optog met die perdekar. Praat maar gedurig met Poljon, want hy is geneig om nie gelyk met Karnols te trek nie. Die ongemaklikste gedeelte is deur die droë lopie. Daar moet jy baie stadig. En hou links, want daar’s minder klippe. Dan, as jy so in die middel is, dis baie sanderig daar, moet jy die perde met die swepie aandruk …”

“Wat as daar water is,” probeer ek nog vir Peet van balans af kry, want my kop sing al. “Sê maar daar was ’n reënbui en die stroom loop?”

“O?” wonder hy ook toe. “Daaraan het ek nie gedink nie. Kyk, ek dink wat ons dan moet doen, is dat jy eers moet stilhou. Ek sal dan daar uit die kis uit vir ons luister hoe sterk die stroom is. Poljon is nogal skrikkerig vir water. So, as die stroom redelik vloei, gaan hy steeks wees om in te gaan. Maar los dit eers. Ek sal nog daaroor gaan dink en ’n plan vir ons maak. Ons sê vir eers die driffie is droog. Dan moet jy stadig met die perde ry, al aan die linkerkant, tot so in die middel van die driffie. As jy sien die perde wil-wil die opdraandetjie aan die ander kant vat, dan moet jy hulle aanpraat en met die swepie roer laat hulle weet hulle moet sterk en aanhoudend trek. Net bokant die opdraande swaai die pad skerp regs en daar moet jy baie versigtig wees. Ek dink dis die beste as jy vir Poljon bietjie intrek en vir Karnols … Nee, wag, druk al twee stewig aan, dan raps jy eerder vir Karnols as jy vir Poljon intrek … Jong, dis ’n dêm moeilike plek daardie. Daar het ek self al baie gesukkel. Ek dink as ons daar kom, moet jy eers vir my die leisels gee laat ek ons net om die draai vat …” en hy dink so bietjie of dit die beste plan sal wees.

Ek sê vir hom: “Peet, hoor wat praat jy? In daai stadium is jy dood. Hoe kan jy die leisels wil vat?”

“Ja …” val sy mond oop soos die waarheid hom tref. “Jy’s reg. Ek sal wragtig nie die leisels kan vat nie. Ek is dood.”

Ek dag nog by myself: bokker, daar het ek jou nou, en ek sien ou Peet bring die glasie brandewyn na sy mond toe terwyl hy doer na niks in die aandskemer staar. Aan die manier hoe hy die drankie slurp, hoor ek sommer hoe gly sy ou kop se ratte soos hy probeer uitwerk hoe mens dan nou moet maak.

“Ja,” sug hy. “Ek is dood … Maar as jy daar kom, hoor maar net. Miskien is ek nog nie heeltemal morsdood nie.”

Boerumoer

Подняться наверх