Читать книгу Man van lig en skadu - Schalkie van Wyk - Страница 3

1

Оглавление

Haar groottantes Frieda en Felona is ’n fenomenale pyn, dink Petri Aucamp geïrriteerd. Met ’n plastiekglimlaggie wat haar mondhoeke lam maak, beweeg sy tussen die dansende, geselsende, drinkende partytjiegangers deur na die oopstaande dubbeldeur wat toegang verleen tot die onthaalarea langs die swembad. Sy knik groetend vir ’n paar bekendes, wuif vir ’n luidrugtige groepie langs die swembad wat na haar roep, en soek die welkome donkerte anderkant die ligkring van die onthaalarea op.

“ ’n Tweelingpyn,” sê sy hardop en gaan sit misnoeg op ’n tuinbank, half versteek agter die oorhangende takke van ’n reusewilgeboom.

“Wie? Ek?” vra ’n onthutste manstem vlak agter haar.

Petri swaai snakkend na haar asem om en kyk teen die ruwe, dik stam van die wilgeboom vas. Haar blik soek na die eienaar van die stem, maar sy gewaar niemand nie. As iemand lus voel om haar vir die gek te hou, sal sy hom in eie munt terugbetaal, besluit sy en sê ongeduldig: “Luister, boom, ek is beïndruk met jou vermoë om te kan praat, maar ek het hier kom wegkruip omdat ek sinnelose partytjies en praatsieke mense verpes. Bly stil en gedra jou soos ’n opgevoede boom.”

“Ek sal – sodra ek weet waarom jy my ’n tweelingpyn genoem het. Dis ’n onverdiende belediging. Ek kan tel: ek is net een boom. Hoekom dink jy ek is ’n tweeling?” vra die manstem gegrief.

Ek herken nie die stem nie, dink Petri, maar sy hou van die diep timbre van die stem. Sy vermoed haar pratende boom is een van Jan-Hendrik se sakevriende, moontlik ’n ouer, bedaarde man wat soos sy moeg geraak het van die oorverdowende dansmusiek en die klakkelose geklets van mense wat graag gesien en gehoor wil word.

Jan-Hendrik Markgraaff is die senior vennoot van een van die bekendste prokureursmaatskappye in die stad. Hy en sy dogter, Nicolette, se gereelde partytjies word deur ’n wye spektrum van mense bygewoon – van waardige oudregters tot platsakstudente wat ter wille van gratis kos en drank Nicolette se uitnodigings aanvaar.

“Ek het jou nie beledig nie, boom. Dis my groottantes, Frieda en Felona. Hulle is ’n tweeling,” antwoord Petri en voel hoe ’n glimlag haar mondhoeke laat lig.

“En hulle gee jou ’n tweelingpyn? Dis seker maar omdat hulle sulke groot tantes is. Groot mense ly gewoonlik aan rugpyn,” sê die manstem paaiend.

“Moenie dom speel nie, boom,” sê Petri berispend. “My groottantes is skraal en langerig soos ek, maar beslis nie groot nie. Hulle is my oupa se tweelingsusters, daarom is hulle my groottantes.”

“Hulle klink oud soos ek, nie groot nie. Hoekom is jy vies vir hulle? Raak hulle dronk op partytjies? Of het hulle jou belet om saam met jou vriende in die swembad te baljaar?” vra die onsigbare man uit die donker agter haar.

“ ’n Paar van die jonger mense se gesigte is bekend omdat ons saam op skool of universiteit was, maar hulle is Nicolette Markgraaff se vriende, nie myne nie, boom. Ek werk by Jan-Hendrik Markgraaff se prokureursfirma. Jan-Hendrik is my groottantes se prokureur en ek en Nicolette is van kleins af aangesê om vriendinne te wees, daarom dring my groottantes daarop aan dat ek altyd hulle partytjies bywoon,” vertel Petri onvergenoeg.

“Jy praat in raaisels. Hoekom laat jy jou deur jou groottantes voorsê om met Nicolette vriende te wees as jy nie van haar óf haar partytjies hou nie?”

Petri sug ongeduldig. “Dis ongeskik om so nuuskierig te wees, boom, maar aangesien hier niemand anders is om mee te praat nie … Ek staan onder ’n verpligting om Jan-Hendrik se partytjies by te woon, want hy is my werkgewer. Ek en Nicolette het so min gemeen dat ons sonder moeite uit mekaar se pad bly. Dís waarom ek hier sit en met ’n simpel boom praat.”

“Jy lyk maar net soos ’n maanligmeisie, maar jy is in werklikheid ’n geitjie. Ek is simpatiek, nie simpel nie, want ek hou jou geselskap,” mor die stem. “Geniet Frieda en Felona darem die partytjie?” vra dit belangstellend.

“My groottantes is veels te preuts en te waardig om by een van Nicolette se lawaaierige partytjies op te daag.” ’n Onkeerbare laggie glip oor Petri se lippe. “Kan jy jou iets snaakser voorstel as my groottantes in bikini’s in die swembad, boom?”

“Hoekom sal dit snaaks wees? As hulle lank en slank soos jy is …”

“Gebruik jou verstand, boom. Tant Frieda en tant Felona is vier-en-sewentig. Tant Frieda treur daagliks oor haar kurwes wat kreukels geword het. Kreukels in ’n bikini … dis tragies, nie snaaks nie.”

“Kreukels? Praat jy van plooie?”

“Ja, maar kreukels klink genadiger,” antwoord Petri en kug ’n giggellaggie weg. “Ek het nooit geweet ek sal dit geniet om met ’n boom te gesels nie. Dankie, boom. Ek hoop niemand kap jou af nie, want as Jan-Hendrik weer ’n partytjie hou, sal ek jou kom opsoek.”

“Dankie. Maar as jy en Nicolette mekaar van kleins af ken, hoef jy nie tot die volgende partytjie te wag om my te besoek nie.”

Petri wonder hoe goed die onsigbare man met Jan-Hendrik bevriend is. Sy aarsel ’n oomblik en sê dan reguit: “Jy is net ’n boom en jy mag maar weet: ek en Nicolette hou glad nie van mekaar nie. Jan-Hendrik en my pa was boesemvriende in hulle jeug, daarom aanvaar my groottantes, en selfs Jan-Hendrik, dat ek en Nicolette boesemvriendinne is. Nicolette skitter as sy die middelpunt van belangstelling is, maar sy verdra nie mededinging van enige ander meisie nie. Ek het op skool altyd baie beter as sy gevaar en het gereeld komplimente van Jan-Hendrik gekry, en dis iets wat Nicolette my nooit sal vergewe nie. Toe ons universiteit toe is, het ek hard gestudeer. Nicolette was net wat sy is en altyd sal wees: ’n sosiale vlinder wat selde of nooit klasse bygewoon het. Ons persoonlikhede is so verskillend dat ons nooit vriendinne sal kan wees nie, dis al.”

“Nicolette se rumoerige partytjies verveel jou en jou preutsheid verveel haar,” som die stem die situasie in ’n neutedop op en sug beswaard.

“Moenie beledigend raak nie, boom,” sê Petri geraak, maar gee geredelik toe: “Ek is seker asosiaal, maar ek verkies om my vrye tyd saam met my groottantes deur te bring.”

“Hoekom? Het Frieda en Felona verpleging nodig?” vra die stem besorg.

“Hoegenaamd nie, maar ek probeer om hulle te vergoed vir alles wat hulle ter wille van my opgeoffer het. As hulle my nie grootgemaak het nie, kon hulle gereeld saam met hulle vriendinne in ons land of oorsee rondgereis en hulle herfsjare geniet het. In plaas daarvan moes hulle elke dag tuis wees om my skool toe te karwei, om nie eens te praat van al my naskoolse aktiwiteite nie. En as ek siek was, het hulle dag en nag langs my bed gewaak. My eie ouers kon my nie beter versorg het nie.”

“Is jou ouers dood?”

“My ma is net ná my geboorte dood, maar moenie sê jy is jammer nie, boom, want ek het haar nooit geken nie. My groottantes het my van kleins af van haar vertel.” ’n Glimlag speel om Petri se lippe. “Ek het jare lank geglo my ma is ’n sprokiesfiguur soos Aspoestertjie, want volgens tant Frieda was sy ’n beeldskone, blonde prinses.”

“Soos jy?” vra die manstem en klink onverklaarbaar vyandig.

“Moenie knor nie, boom. Jy het gevra en ek vertel. Ek lyk soos my ma, ja, maar ek is nie ’n beeldskone, blonde prinses nie, net ’n hardwerkende meisie wat hoop om ’n prokureur te word.”

“En ’n meisie wat met bome praat,” sê die stem en klink geamuseerd. “Wat van jou pa? Is hy ook dood?”

“Nee, maar ek sien hom so selde … Hy is ’n ingenieur en hy werk gewoonlik êrens in Saoedi-Arabië of Doebai of Brasilië – enige plek wat ver is. Tant Frieda is ’n romantikus, daarom glo sy dis sy hartseer oor my ma se dood wat hom so rusteloos laat rondswerf. Maar tant Felona is ’n realis; sý sê my pa kon nooit langer as vyf minute stil sit nie, want hy was altyd nuuskierig om te weet wat in die vertrek langsaan of in die huis oorkant die straat gebeur. Dis waarom ek so graag my vrye tyd saam met my groottantes deurbring. Hoe kan ek hulle ooit vergoed vir al hulle liefde?”

“Deur gelukkig te wees,” antwoord die stem rustig uit die donker.

“Ekskuus?” vra Petri onbegrypend.

“Jou groottantes het alles vir jou opgeoffer omdat hulle lief is vir jou en jou gelukkig wou maak. Ek is net ’n boom, maar selfs ek kan sien jy is nie werklik gelukkig nie. Frieda en Felona hoort saam, maar jy is alleen. Kyk om jou rond: twee mense dans saam, twee mense lag en gesels saam. Net jy is alleen, daarom praat jy met ’n boom. Jy sal jou groottantes nog gelukkiger maak as jy met ’n man trou en die ma van kinders is. Of is Frieda en Felona twee selfsugtige ou drake wat daarop aandring dat jy ongetroud bly?”

“Natuurlik nie! Ek kan nie sien hoe dit jou raak nie, boom, maar ek gaan gereeld saam met mansvriende uit. Ek het ’n honneursgraad in die regte, maar ek werk nou maar eers twee maande as ingeskrewe klerk by Jan-Hendrik se prokureursfirma. Ek is glad nie oorhaastig om te trou nie. Bygesê, as ek ooit die regte man ontmoet,” antwoord Petri styf.

“Jy sal nooit die regte man ontmoet as jy met ’n boom gesels nie. Of verkies jy die geselskap van bome?” vra die stem belangstellend.

Petri glimlag ten spyte van haarself. Die warmte van haar glimlag is in haar stem toe sy antwoord: “Ek dink dis veiliger om met ’n boom te praat, want ek kan opstaan en wegstap sonder om my ooit te bekommer oor wie jy werklik is. Dit maak nie saak of jy van my rok of die kleur van my lipstiffie hou nie, ook nie of ek mooi of lelik is nie. Jy is net ’n boom.”

“Ek is ’n kieskeurige boom, want ek praat nie met enige meisie nie. Maar ek hou van ’n slanke meisie met lang, blonde hare en donker oë – donkerblou, soos die kleur van purperwinde. Jy is mooi en geleerd en dommerig.”

“Dankie! En jy is ’n ongeskikte boom, want dis die tweede maal dat jy my beledig.”

“Jy beledig my elke maal as jy my ‘boom’ noem. Kom ons kies vir my ’n naam. Uhm … Iets wat soos hout klink, sou ek sê. Wat van Hougaard? Hou jy van die naam?”

“Dis eintlik ’n van, maar dit pas by jou, boom … e … Hougaard. Ek sal vir my ook ’n naam kies, want ek verkwalik my goed bedoelende groottantes wat my na my oupa vernoem het.”

“Hoekom? Jou naam klink soos ’n troetelnaam vir iemand wat jou liefhet. Jy het mos gesê jou groottantes het jou lief, Petri,” redeneer Hougaard.

Sy ruk haar kop om na die boom en vra bitsig: “Hoe ken jy my naam? Sot! Ek moes geweet het Nicolette het jou opgesteek om my vir die gek te hou!”

“Sjuut!” sis die onsigbare Hougaard haar tot stilte. “Niemand sal glo jy maak rusie met ’n boom nie, en ek wil nie lang verduidelikings aan nuuskierige mense gee nie. Ek het gehoor toe die raserige jongklomp jou uitgenooi het om saam met hulle te swem – hulle het jou Petri genoem. En nee, ek is te oud om te deel in Nicolette se streke. Of het sy jou gevra om hier te kom sit?”

“Nee, maar Nicolette vertel graag vir haar mansvriende ek is ’n verstokte oujongnooi wat deur twee dinosourusse bewaak word. En ek staan met my mond vol tande en luister na hulle gelag, want my groottantes sal my verkwalik as ek Nicolette verkleineer.”

Petri besef sy klink selfbejammerend en sê misnoeg: “Vervlaks, boom, ek is geen verduidelikings aan jou verskuldig nie.”

“Hougaard,” herinner die stem haar. “Iemand het jou hoor rusie maak met my, want hy kom ondersoek instel. Nag, Petri. Dankie vir die geselsie.”

“Nag, Hougaard,” fluister sy. Sy voel onverklaarbaar teleurgesteld om ’n einde aan die gesprek met haar onsigbare vertroueling te maak.

Petri kyk verras na Ian Olivier wat die oorhangende wilgetakke eenkant toe druk en triomfantelik glimlag toe hy haar op die tuinbank sien sit.

“Eindelik! Ek soek al die hele aand na jou, my pragtige meisie, maar voordat ek nou net jou stem herken het, het ek gedink jy’s reeds huis toe. Met wie het jy rusie gemaak?” vra hy en kyk om hom rond.

“Die boom,” antwoord sy kortaf, bang dat Hougaard nog binne hoorafstand is.

Sy voel aangetrokke tot die lang, donker en uiters aantreklike Ian, maar hy is deel van Nicolette se bewonderaarsklub, daarom hou sy hom al die afgelope twee maande op ’n afstand.

Hy lag betekenisvol en neem op die bank langs haar plaas. “Die boom, of ’n man wat nie tevrede was om net te kyk en te bewonder nie?” vra hy skertsend.

“Glo wat jy wil,” antwoord sy onbesorg, nog bang dat haar en Ian se gesprek nie werklik privaat is nie.

“Kom nou, Petri, wees ’n bietjie toegankliker,” versoek hy paaiend. Hy skuif nader aan haar en vervolg vleiend: “Ek bewonder al maande lank die beeldskone Sneeuprinses van Markgraaff en Vennote, maar selfs al werk ons elke dag saam, behandel jy my nog soos ’n vreemdeling. Gelukkig het Nicolette my verseker jy geniet dit om elke Vrydag ’n ruiker rose van my te ontvang.”

Petri staar hom ontsteld aan; sy weet dat haar gesig van verleentheid gloei.

“Jy! Ek het nie geweet dis jý wat gereeld die rose vir my stuur nie. Hoekom het jy my nie gesê nie?”

“As jy geweet het ek stuur die ruikers, sou jy hulle nog steeds elke maal aan ons ontvangsdame gegee het?”

Hy merk haar ongemak en lag sag, gerusstellend. “Ek verkwalik jou nie, mooi meisie. Miskien is dit juis jou afsydigheid wat jou so onweerstaanbaar vir my maak. Of dalk het ek my hart verloor die eerste maal toe ek in jou oë kyk.”

“Jy is te oud om soos ’n verliefde tiener te klink, Ian,” sê Petri gelykmatig. Sy voel gevlei om te weet Ian is haar geheime bewonderaar, maar terselfdertyd teleurgesteld dat Nicolette daarvan bewus is.

“Het Nicolette voorgestel dat jy elke Vrydag ’n ruiker aan my stuur?” vra sy.

“Ek twyfel of Nicolette enige ander meisie ’n ruiker rose of die bewondering van ’n man gun,” antwoord Ian reguit. “Maar aangesien sy haar pa se persoonlike assistent is en gewoonlik net vir kwaadgeld in die kantoor rondsit, het ek haar gevra om my te vertel wat jou reaksie is wanneer jy my ruiker ontvang.”

“Oulik,” spot Petri. “Wat het jy verwag? Dat ek teenoor Nicolette sou erken ek weet jy is my geheime bewonderaar en dat ek dolverlief is op jou? Liewe land, ons werk saam, maar ek ken jou nouliks.”

“Nee, maar ek moes êrens ’n begin maak, want jy weier al my vriendelike uitnodigings. Ek vra jou minstens drie maal per week om saam met my te gaan eet, maar jy het altyd ’n verskoning. Nicolette het my vertel jy hou meer van perde as van mans, maar ek glo dit eenvoudig nie. Jy weet ek dink jy is verleidelik mooi, Petri. Kan jy nie probeer om ’n bietjie vriendeliker teenoor my op te tree nie?”

Hy kyk haar afwagtend aan en glimlag met ’n sjarme wat hom onweerstaanbaar maak.

Dit sal maklik wees om deur Ian se glimlag betower te word, dink Petri, bewus van die vinnige geklop van haar hart in haar bors. As sy net seker was Hougaard het hom reeds uit die voete gemaak, kon sy toegeefliker teenoor Ian gewees het, maar dis asof Hougaard werklik deel is van die boomtakke wat haar omring.

Sy antwoord afsydig: “Jy weet waarom ek nie jou uitnodigings aanvaar nie, Ian. Ek het my groottantes beloof dat –”

“Dis absolute snert!” val hy haar ergerlik in die rede. “Ek gee nie om watter lawwe beloftes jy aan jou groottantes gemaak het nie. Genugtig, Petri, ons leef in die een-en-twintigste eeu. Ek gaan nie deur twee stokou hekse onder kruisverhoor geneem word bloot omdat ek jou wil uitneem vir ete nie. Ek is seker geen ander man sal instem om dit te doen nie.”

Petri glimlag ongesteurd. “Ander mans doen dit gereeld, en ek weet my groottantes waardeer hulle hoflikheid. Nicolette maak ’n yslike grap van my groottantes se oujongnooiskap en ouderwetsheid, maar hulle het my grootgemaak vandat ek gebore is en het my al die liefde gegee wat enige kind kan kry. Dis vir hulle belangrik om die mans wat my uitneem persoonlik te ontmoet, maar hulle is te lief vir my om eise te stel. Verstaan jy nie, Ian? Ek stel my mansvriende aan hulle voor omdat ek lief is vir hulle, nie omdat hulle dit van my verwag nie.”

“En jou ou tantes se geluk is belangriker vir jou as wat ek is?” vra hy misnoeg.

Petri glimlag onwillekeurig. “Ja, want hulle is tot dusver die belangrikste mense in my lewe.”

“En ek is nie …”

Ian kreun soos ’n gewonde en sug oorwonne. “Goed dan, my hartelose meisie. Ek sal jou huis toe neem en jou waghonde ontmoet. En moenie vir my sê dis te laat nie. Ek wed die ou fossiele sit nog penregop in julle sitkamer en wag dat jy veilig huis toe kom.”

Petri kyk op haar polshorlosie en staan vinnig op. “Dis reeds twintig oor elf. Dankie vir jou aanbod, Ian, maar ek is met my eie motor hier. Ek moet dadelik ry, want my groottantes verkies om teen middernag in die bed te wees.”

“Nog ’n bloutjie!” sê hy met ’n oordrewe sug.

Hy staan op en neem haar hand in syne. “Mag ek die voorreg hê om jou na jou motor te vergesel, my ontwykende Sneeuprinses?”

Sy draai na hom, intens bewus van die warmte van sy hand wat hare vashou, en sê waarskuwend: “Behalwe vir Nicolette se jong vriende, is die meeste gaste lede van ons personeel, Ian. Jan-Hendrik is moontlik net so verkramp soos my groottantes, want hy keur verhoudings tussen sy personeellede ten sterkste af. Jy is ’n knap prokureur, maar ek is net ’n ingeskrewe klerk. Wil jy die rede wees dat ek my pos verloor?”

“Geen intimiteite tussen personeellede nie?” vra Ian en lag wrang. “Ek is bewus van Jan-Hendrik se verkramptheid, daarom loop ek draaie om sy bedorwe Nicolette. Maar ons staan nog veilig onder die takke van hierdie groot ou wilgeboom, my bekoorlike meisie. As ek jou net een maal soen … Bome verklap nie geheime nie.”

Hougaard! onthou Petri en ruk haar hand haastig uit dié van Ian. “Dis wat jy dink! Hierdie boom is ’n regte klikbek,” sê sy onnodig hard en hoop Hougaard het haar gehoor. Sy stap onder die takke deur na die ligkring.

“Ek sien Jan-Hendrik nêrens nie. Sal ek dit waag om saam met jou na jou motor te loop?” vra Ian tergend toe hy by haar aansluit.

“Solank jy nie my hand vashou nie. Ek het buite in die straat geparkeer,” antwoord sy en wonder fronsend oor Hougaard. Hy is heel waarskynlik net so ’n verkrampte ou oom soos Jan-Hendrik. Want as dit nie vir hom was nie, sou sy toegelaat het dat Ian haar soen – of sou sy?

Nicolette het haar vertel Ian is drie-en-dertig – ’n hele elf jaar ouer as sy. Nie dat sy ouderdom haar pla nie, redeneer sy met haarself, maar Ian skep die indruk van ’n ervare man wat ten volle bewus is van sy eie aantreklikheid en sy vermoë om elke meisie wat hy ontmoet te bekoor. Is haar terughoudendheid die enigste rede waarom Ian in haar belang stel? Is hy die soort man wat nie kan aanvaar dat ’n meisie nie voor sy sjarme swig nie?

“My motor staan ook in die straat. As jy my beloof jy sal my vanaand aan jou groottantes voorstel, sal ek al die pad agter jou aanry, Petri,” sê Ian toe hulle die enkele trappe van die terras opklim na die oopstaande dubbeldeur van die huis.

“Ek dink dis al effens laat daarvoor. As jy my sal verskoon – ek het my aandsakkie met my motorsleutels in Nicolette se slaapkamer gelaat,” antwoord sy.

Sy glimlag halfhartig vir Nicolette wat gretig naderkom en groet haastig: “Dankie vir die gesels. Nag, Ian.”

“Ek loop solank na jou motor toe,” antwoord Ian gedemp en draai weg na die voordeur.

Petri kyk met gevoelens wat wissel tussen frustrasie en ergernis na Nicolette, wat met ’n glasie sjampanje in haar hand haar slaapkamer op onsekere voete binnestrompel. Met struikelende bewegings drapeer sy haar oor die rugleuning van ’n stoel.

Wanneer gaan Nicolette besef haar kinderagtige jaloesie is onnodig? wonder Petri. Sy trek die onderste laai in Nicolette se ingeboude klerekas oop en klap dit dan onnodig hard toe.

“Jou grappie was vanuit die staanspoor nie snaaks nie, Nicolette, maar op hierdie oomblik is dit nog minder snaaks. Wat het jy met my motorsleutels aangevang?” vra Petri onvergenoeg.

Nicolette giggellag. Sy lek die enkele druppels sjampanje wat uit haar glasie gespat het van haar hand af en kyk met halftoe oë na Petri. “Weet nie. Wil ok nie weet nie. Ek is dronk en jy is slim.”

“Dis reg, Nicolette: ek is te slim om te glo jy het werklik te veel sjampanje gedrink, want jy sal dit nie waag om jou in jou pa se huis aan drank te vergryp nie. Ek weet ook hoe jy optree as jy werklik te veel gedrink het: jy maak met almal rusie, verseker almal oor en oor dat jy nie dronk is nie, en jy glo niemand is slimmer as jy nie. Wat is jou speletjie? My motorsleutels het uit my aandsakkie verdwyn. Wat het jy daarmee aangevang?”

Nicolette gluur haar nydig aan, kom orent en haal haar skouers onverskillig op. “Jy het jou motorsleutels langs jou aandsakkie op my spieëltafel laat lê, jou mislike meisiemens, en ek het een van ons gaste gevra om die sleutels vir jou te gee. Dalk was dit die lieflike Ian Olivier …”

Sy glimlag uittartend en vervolg vermakerig: “Of dalk nie. As jý hom nie wil hê nie, stuur hom na my toe. Miskien kan ek hom oortuig dis nie teen my pa se goue reël om met die baas se dogter uit te gaan nie. Sien jou môre as jy die nag saam met Ian oorleef, my maatjie.”

Nicolette lag triomfantelik toe Petri haar ontsteld aanstaar en loop die vertrek haastig uit.

“Wag eers, Nicolette!” roep Petri.

Sy stap enkele treë agter Nicolette aan en bly dan staan. Ek gaan Nicolette beslis nie die genoegdoening gee om by haar te pleit nie, dink sy misnoeg. Maar as Ian my sleutels het …

Ian en Nicolette … Nicolette weet van die ruikers wat Ian die afgelope ses weke aan haar gestuur het. Dis vanselfsprekend dat Nicolette haar motorsleutels vir Ian gegee het, maar as dit die geval is, waarom het Ian nie die sleutels vir haar, Petri, gegee nie? Omdat Ian haar huis toe wil neem om haar groottantes te ontmoet?

Dan beantwoord sy self haar vraag: ’n Man vergesel nie ’n meisie om middernag huis toe om haar mense te ontmoet nie. En ’n eerbare man steel nie ’n meisie se motorsleutels nie. Hougaard sou nooit …

Wat kom lol Hougaard in haar gedagtes? wonder sy onthuts terwyl sy die kamer vinnig uitstap. Hougaard is ’n boom … ’n boom met ’n stem. Maar wat haar betref, net ’n boom. Sy sal vergeet van Hougaard en onthou van Ian wat by haar motor wag met haar motorsleutels in sy broeksak.

Maar sy wens nogtans sy weet wie Hougaard is, hoe hy lyk en of hy ook hulle vreemde ontmoeting geniet het. Sy sal nooit die klank van sy diep, welluidende stem vergeet nie, mymer sy droomverlore en bly ’n oomblik in die trapportaal staan.

Ruk jou reg, Petri, maan sy haarself. Hougaard is ’n mooi herinnering, maar Ian … Haar mansvriende is gewoonlik haar ouderdom, dalk ’n jaar of twee ouer as sy, maar hoe graag sy dit ook al wil ontken: sy het gevlei gevoel oor die aantreklike, ouer Ian se belangstelling in haar. Hy kan haar mooi en begeerlik laat voel deur net na haar te kyk, onthou sy, maar as hy en Nicolette saamknoei …

Vreemd dat Nicolette altyd daarin slaag om iets wat mooi is te bederf, dink sy wrang. Sy bereik die ontvangsportaal en glip ongemerk by die voordeur uit. Gelukkig hoef sy Jan-Hendrik nie te groet of vir sy gasvryheid te bedank nie, want hy en sy groepie vriende het hulle reeds vroegaand na sy studeerkamer onttrek.

Terwyl sy vinnig oor die sypaadjie na haar motor toe loop, is sy net half bewus van die sekuriteitswagte en enkele ander partytjiegangers wat ook op pad is na hulle motors.

“Eindelik!” groet Ian haar met ’n kamma moeë glimlaggie. “Is dit deel van vrouwees om altyd ’n man te laat wag?”

“As ek ander vervoer gehad het, het ek jou tot dagbreek laat wag,” antwoord Petri verontwaardig. “Nicolette het my motorsleutels vir jou gegee. Ha-ha, baie snaaks, maar ek lag nie. My sleutels, asseblief, Ian.”

“Ekskuus?” vra hy verward.

“Nicolette het my sleutels vir jou gegee. Gee hulle asseblief nou vir my,” versoek sy ysig en hou haar hand gebiedend na hom uit.

“Ek het nie jou motorsleutels nie, Petri! Ek weet nie waarom Nicolette vir jou gelieg het nie, maar ek verseker jou ek het nie jou sleutels nie,” ontken hy met soveel erns dat Petri vir ’n oomblik wonder of hy nie tog onskuldig is nie.

“Nicolette weet van die ruikers wat jy vir my gestuur het, en ek vermoed jy het haar vertel van jou gereelde uitnodigings aan my. Sy het my motorsleutels vir jou gegee, Ian, maar as jy hoop ek sal in jou motor klim: Vergeet dit! Ek loop liewer huis toe as om ’n man te vertrou wat saam met Nicolette konkel,” sê sy met finaliteit.

“Moenie laf wees nie, Petri. Ek is ’n professionele man wat besef hoe belangrik my goeie naam is – nie ’n aanrander van weerlose meisies nie. As jy werklik jou sleutels verloor het, sal ek jou met my motor huis toe neem.”

“Ek het nie my sleutels verloor nie!” skree sy, besef dan dat sy skree en gaan sagter voort: “Luister mooi, Ian: Ek klim nie in jou motor nie. Gee my sleutels. Of so nie, loop ek nou huis toe.”

“Koppige entjie mens! As jy nie so mooi was nie …”

Hy sug ergerlik en betrag haar oorwonne. “Goed, jy kan loop en ek sal jou met my motor volg, net om te sorg dat jy veilig is. Of om jou op te laai as jy jou enkel swik.”

“Kom saam, Petri. Ek sal jou huis toe neem,” sê Hougaard se bekende, donker stem vlak langs haar. ’n Groot hand skuif onder haar voorarm in en hou haar liggies vas.

Haar hart ruk met ’n ongekende blydskap in haar bors, maar sy antwoord beheers: “Baie dankie.”

Sy werp Ian ’n ysige blik toe en gaan kil voort: “Nag, Ian. Parkeer asseblief my motor in Jan-Hendrik se erf en bring my motorsleutels môre werk toe.”

“Ek het nie jou verduiwelse sleutels nie!” grom Ian verwoed. Hy swaai om en loop met lang hale weg.

“Is jy bang om na my te kyk, Petri?” vra Hougaard terwyl hulle die straat oorsteek om sy motor te bereik.

“Ek weet hoe jy lyk,” antwoord sy. Besef dan dat sy aan ’n wilgeboom dink en kyk met ’n selfbewuste glimlaggie op na hom toe hy die passasiersdeur van sy motor oopsluit en die deur vir haar oophou.

Donker hare en oë, sy sterk gelaatstrekke vlakke van lig en skadu in die sagte gloed van die straatlamp, neem sy vinnig waar voordat sy in die motor klim. Hy lyk nie oud nie – ouer as sy, maar beslis nie so oud soos Jan-Hendrik nie. Maar hy is ’n vreemdeling, nie een van Nicolette se bekende vriende nie. Was sy dom om in ’n wildvreemde man se motor te klim? wonder sy en ervaar ’n prikkie vrees in haar binneste.

Hy skuif agter die stuurwiel in, skakel sy motor aan en bring dit in beweging. “My tant Irma vertel my gereeld my aristokratiese neus en my groot mond is die rede waarom mooi meisies wegkyk wanneer ek na hulle kyk. Is ek lelik, Petri?”

“Ek kyk nog,” antwoord sy.

Sy sien ’n glimlag aan sy mondhoeke pluk en weet dat sy bloos. “Ek sal liewer wegkyk en my verbeel jy is nog my boom. Dit voel net … e …”

“Veiliger?” vra hy met skielike begrip.

“Ja … Veiliger, en meer bekend. Ek bedoel, ek het van my boomvriend gehou, want ek het intuïtief geweet ek kan hom vertrou,” verduidelik sy en voel dan soos ’n yslike gek.

Sy kyk vlugtig na sy profiel, maar hy konsentreer op die pad. “Jy moet regs draai by die tweede verkeerslig en dan –”

“Ek weet. Ek het kort gelede vir Jan-Hendrik gesê my tant Irma het ’n klompie foto’s vir tant Frieda en tant Felona Aucamp gestuur, maar ek het ongelukkig hulle adres verloor. Hy was so gretig om my te help dat hy selfs ’n straatkaart opgediep het.”

“Ken jou tant Irma my groottantes?” vra sy verras.

’n Glimlag pluk weer aan sy mondhoeke. “Nee, maar Jan-Hendrik glo hulle ken mekaar. Jan-Hendrik glo graag wat hy wil glo. Hy glo selfs ek weet nie dat tant Frieda en tant Felona se kleinniggie vanaand op sy partytjie was nie. Die arme Jan-Hendrik het my spesiaal na sy partytjie uitgenooi sodat ek sy kosbare Nicolette kon ontmoet – en toe verander ek in ’n boom.”

“Arme jy. Gebeur dit elke keer as jy hoop om ’n beeldskone meisie te ontmoet?” vra Petri met oordrewe simpatie.

Hy kyk na haar en sê onthuts: “Besef jou groottantes jy is ’n astrante snip?”

“Ek dink so, maar hulle woordkeuse is net hofliker: hulle sê ek is ’n uitgesproke jong dame. Maar jy was nog besig om my te vertel: Hoekom het jy in ’n boom verander?”

“Omdat ek net soos jy ’n wegkruipplek gesoek het. Ek het laat by die partytjie opgedaag en saam met Jan-Hendrik en sy vriende in sy studeerkamer gekuier, totdat hy my aan sy voortreflike dogter voorgestel het. Ek en Nicolette het ’n halfuur lank gedans en gesels en toe het sy besluit dat ek saam met haar en haar luidrugtige jong vriende in die swembad moet baljaar. Ek is na die verkleehokkie en daarna was dit maklik om ongemerk weg te glip en agter die wilgeboom skuiling te soek.”

“Hou jy nie van partytjies nie?”

“Ek verkies gesellige kuiertjies saam met goeie vriende, maar dalk hou ek meer van perde,” korswel hy.

“Ek ook. Ek gesels net so lekker met ’n perd soos met ’n boom,” antwoord sy sonder om te dink.

“Dankie. Jy is die ene komplimente,” sê hy droog.

“Dit wás ’n kompliment, want ek is dol op my perde,” verseker sy hom.

Sy wonder of hy sal aflei sy is ook dol op hom en verduidelik vinnig: “Ek praat met bome, maar … e … ek weet jy is nie ’n boom nie.”

“Wat ’n verligting! Dit moet my aristokratiese neus en my groot mond wees wat jou laat besef het ek lyk effens anders as ’n boom,” skerts hy. “Hou jy ’n ryperd in julle motorhuis aan?”

“Nee, by ’n perdryskool buitekant die stad. En op Diphoofolo, my pa se wildplaas,” antwoord sy en vervolg skuldig: “Ek is jammer ek het jou aand saam met Nicolette bederf, Hougaard.”

“Jy het nie. Jan-Hendrik het my vertel sy ontroue vrou het meer as twintig jaar gelede saam met sy beste vriend en vennoot weggeloop en die hulpelose klein Nicolette in sy sorg gelaat. Hy het manalleen daarin geslaag om van Nicolette ’n bedorwe, egoïstiese meisie te maak, maar hy is te trots op sy vaderskap om dit te besef.”

“Nicolette is … e … is net Nicolette,” sê Petri en byt spytig op haar onderlip. “Ek wens net Ian het nie saam met haar geknoei nie. Ek het van hom gehou voordat hy ontken het dat hy my motorsleutels het.”

“In daardie geval … Ék het geknoei, nie Ian nie. Ek loop al ’n paar uur lank met jou motorsleutels in my broeksak rond. Hou jy nou minder van jou boomvriend, Petri?” vra hy en bring sy motor tot stilstand.

Man van lig en skadu

Подняться наверх