Читать книгу Man van lig en skadu - Schalkie van Wyk - Страница 4
2
ОглавлениеSy behoort briesend kwaad en verontwaardig te wees oor Hougaard se bedrog, dink Petri, maar sy is nie. Of dalk behoort sy Hougaard van allerlei duister motiewe te verdink, histeries te begin gil en haastig uit sy motor te spring. Maar sy wil nie, besef sy.
Sy staar swygend na sy profiel in die sagte, geel lig van die straatlamp. Sy hou van haar boomvriend, voel vreemd aangetrokke tot hierdie man met wie sy kon gesels asof hulle die enigste twee mense in die wêreld is.
Hy draai sy kop stadig na haar en vra met hoorbare verwondering in sy stem: “Het my bedrog jou tot stilte geskok, Petri? Of is jy so bang vir my dat jy dit nie durf waag om jou mond oop te maak nie?”
“Nee. Ek is nie kwaad of bang nie, net nuuskierig. Hoekom het jy my motorsleutels gesteel?” vra sy en wens sy kan sy gelaatstrekke duideliker sien.
“Ek het nie. Nicolette het vroeër vanaand jou sleutels vir my gegee.”
Teleurstelling skeur ’n winkelhaak in haar herinneringe aan haar gesiglose boomvriend.
“Hoekom sou sy so iets gedoen het? Jy het gesê Jan-Hendrik het jou spesiaal uitgenooi na sy partytjie sodat hy Nicolette aan jou kon voorstel. As jy ’n lid van Nicolette se bewonderaarsklub is, sal sy jou beslis nie met my wil deel nie. Om watter rede knoei jy saam met Nicolette, Hougaard?” vra sy agterdogtig.
“Ek knoei saam met niemand nie. Ek het nie geweet dis jou sleutels nie, want Nicolette het my net gevra om die sleutels vir Ian Olivier te gee. Ek het aanvaar dis sý sleutels.”
“As jou storie waar is, hoekom het jy my sleutels nie vir Ian gegee nie?” vra sy wantrouig.
“Moontlik het Nicolette nie besef jou sleutelhouer het ’n naamplaatjie met jou selfoonnommer nie. Ek het met jou bossie sleutels gespeel terwyl ek gewag het om weer met Nicolette te dans en het toevallig na die sleutelhouer gekyk. Soms is ek ook nuuskierig, want ek wou weet wie is Petri Aucamp. Een van die gaste het jou aan my uitgewys en al my nuuskierige vrae oor jou beantwoord.”
“En?” vra sy ongeduldig toe hy swyg en gemaklik terugleun teen die rugleuning van sy sitplek, sy blik op die stil straat.
Hy kyk na haar en vra met ’n tikkie ergernis in sy stemtoon: “Hoe goed ken jy Ian Olivier, Petri?”
“Jy behoort te weet. Het jy nie ons gesprek onder die wilgeboom afgeluister nie?” vra sy geraak.
“Ek het nie juis ’n keuse gehad nie. Die man stuur ruikers aan jou, wil jou uitneem vir ete en gooi jou toe onder komplimente. Jy voel gevlei, wil graag voor sy sjarme swig, maar jy is bang vir jou eie emosies. Is my afleidings korrek?” vra hy saaklik.
“Nee!” ontken sy met onnodige drif en maak só van haarself ’n leuenaar. Sy voel hoe sy bloos en sê met gedwonge waardigheid: “Ons het ’n prettige gesprek onder die wilgeboom gehad, Hougaard, maar dit beteken nie ek gaan my gevoelens vir Ian of enige ander man met jou bespreek nie.”
“Jy hoef nie, want my afleidings was korrek,” antwoord hy met sekerheid. “En jou optrede teenoor Ian was ook korrek: Sorg dat jou tweelingtantes hom behoorlik onder kruisverhoor neem voordat jy instem om saam met hom uit te gaan. Nee, ek het ’n nog beter voorstel: Nooi eers Ian se hele familie uit om met jou tantes kennis te maak, voordat jy ’n verhouding met die vent aanknoop.”
“Hoekom wantrou jy hom? Is jy jaloers op Ian omdat hy die aantreklikste man op die partytjie was?” vra sy onthuts.
“Hoekom sal ek wees? Ian is net nog ’n man, maar ek is jou enigste boomvriend,” antwoord hy onbesorg.
Hy kyk op sy polshorlosie en sug verlig. “Ek dink ons het Ian lank genoeg tyd gegee om met Nicolette rusie te maak oor jou motorsleutels en hom uit die voete te maak. Ons kan nou terugry sodat jy met jou eie motor huis toe kan ry.”
“Jy het nie my vraag beantwoord nie, Hougaard. Hoekom wantrou jy Ian?” hou sy vol terwyl hy die motor in beweging bring.
“Ek kan aan baie redes dink, maar een is genoeg: Hoekom het hy met Nicolette gekonkel dat sy jou motorsleutels vir hom moet gee?” vra hy bruusk.
Hougaard klink soos ’n befoeterde pa, besef sy met ’n gevoel van teleurstelling. Dit was romanties om ’n boomvriend te hê, want daar was ’n vreemde bekoring in die diep timbre van sy welluidende stem, en sy humorsin en begrip het van hom ’n gesiglose vertroueling gemaak. Toe sy hom die eerste maal in die lig van die straatlamp sien, het sy van sy sterk gelaatstrekke gehou en aanhou wonder oor die kleur van sy oë, maar nou …
Hougaard is omtrent so romanties soos ’n boom, dink sy beledig en voel ’n blos van ergernis oor haar gesig sprei. Hy is net ’n inmengerige ouer man wat hom ontferm het oor haar omdat hy glo sy is ’n naïewe, onervare meisietjie wat deur Ian se sjarme oorrompel sal word.
“Jou besorgdheid oor my beweeg my byna tot trane,” sê sy met snydende sarkasme, “maar as ek geweet het jy speel net kinderoppasser, sou ek nie met jou onder die boom gepraat het of in jou motor geklim het nie. Jou rol van sekuriteitswag was heeltemal oorbodig!”
Hy trap die rempedaal weg en bring die motor met skreeuende bande tot stilstand, skakel die enjin af en vra ru: “Oorbodig? Ek, my liewe, vreeslose Petri, is fisiek soveel groter en sterker as jy dat ek jou met gemak kan oorrompel voordat jy sou kans kry om om hulp te roep. En wie gaan jou dié tyd van die nag te hulp snel in die stil strate van ’n slapende voorstad? Jy het regtig die naïewe vertroue van ’n kleuter. Ek is ’n wildvreemde man, maar jy het sonder teëspraak in my motor geklim. Watter waarborg het jy gehad dat ek jou veilig by jou huis sou besorg? Watter waarborg het jy op hierdie oomblik dat jy veilig is by my?”
Hy klink so kwaad dat sy ’n oomblik wonder of sy moet bang wees vir hom, maar dan antwoord sy met rustige sekerheid: “Jy is my boomvriend en ek weet ek kan jou vertrou. As ek so naïef is, waarom het ek geweier dat Ian my met sý motor huis toe neem?”
Hy kreun sag, stut sy elmboë op die stuurwiel en bedek sy gesig met sy hande.
“Bid jy?” vra sy toe sy hom fluisterend hoor praat.
Hy ruk sy kop op, en sy kan selfs in die dowwe lig van die straatlampe sy donker oë sien blits.
“Nee, ek vloek!” bulder hy met onverwagte volume en gaan toornig voort: “In watter eeu is jy gebore, Petri? Verduiwels, ek ken sestienjariges wat meer lewenservaring as jy het. Goed, jy was wonderlik slim om nie in Ian se motor te klim nie, maar as jy geweier het om in mý motor te klim, sou ek jou motorsleutels vir jou gegee het. Net ’n dom meisie klim in ’n vreemde man se motor!”
“Jy is my boomvriend, nie ’n onbekende man nie. Ek dink dis omdat jy so oud … e … ouer as ek is dat ek so veilig by jou voel. En groot. My pa is lank en groot, maar jy is nog langer,” antwoord sy ongesteurd.
“Ek is nie jou pa nie!” bulder hy weer.
“Ek weet. My pa is veels te besig om my boomvriend te wees. As hy onthou om my te bel, vra hy net of ek nog gesond is. Dan sê hy dis vrek jammer ek is nie ’n seun en ’n ingenieur nie, want dan kon ek saam met hom gewerk het. Maar hy dink nie aan werk nie. Ek wed hy wil net ’n seun hê om saam met hom te drink en te … e … te loer en te koer-koer.”
“Te wát?” vra Hougaard oorbluf.
“Te loer en te koer-koer. Tant Frieda sê dis wat alle mans doen, maar tant Felona sê tant Frieda weet nie waarvan sy praat nie. Weet jy?” vra sy hoopvol.
Hy vryf tydsaam met sy hand oor sy mond, kug en antwoord met die warmte van ingehoue lag in sy stem: “Ek stem saam met tant Felona: jou tant Frieda weet nie waarvan sy praat nie. Selfs op die hoë ouderdom van een-en-dertig het ek nog nooit daardie uitdrukking gehoor nie.”
Hy kug weer en sy sien hom frons voordat hy saaklik voortgaan: “Dis laat en my mense wag vir my. Ek sal jou by jou motor gaan aflaai. Ek kan nie aan jou voorskryf nie, Petri, maar moenie oorhaastig jou volgende boomvriend kies nie.”
Sy mense wag op hom – watter mense? Sy vrou en kinders?
Maar … sy kan nie haar boomvriend met ’n onbekende vrou en ’n spul kinders deel nie, dink sy met ’n gevoel van teleurstelling wat ’n seer knop van hartseer in haar keel laat vorm. Nee, nou redeneer sy werklik soos ’n naïewe kind, want daar is nie ’n enkele rede waarom sy Hougaard ooit weer in die toekoms sal sien nie, besef sy en soek skuiling agter ergernis.
“Glo jy nog steeds ek is ’n dom meisietjie wat mans te maklik vertrou?” vra sy geraak terwyl hy die motor aanskakel en wegtrek.
“Nie dom nie, net goedgelowig. Ek is ’n man, nie ’n boom nie, daarom kan ek begryp waarom Ian jou so graag wil uitneem. Onthou net my waarskuwing: Sorg dat hy sy hele familie aan jou groottantes voorgestel het voordat jy instem om saam met hom uit te gaan.”
Wat weet ek eintlik van Ian Olivier? vra sy haarself onrustig af. Op kantoor weet die hele personeel Ian is ’n knap prokureur wat tot ’n paar maande gelede in Kaapstad – of was dit Durban? – gewerk het. Sy vermoed hy het ’n woonstel, of moontlik besit hy ’n eie huis. Sy aanvaar hy is nog ongetroud, want sy persoonlike assistent vertel graag hoe dikwels sy plek vir hom en een van sy talle meisies by ’n restaurant moet bespreek.
Sy sug. As sy eerlik met haarself is, moet sy toegee: sy weet niks van Ian se privaat lewe nie. Dalk kan sy daarin slaag om Hougaard so vies te maak dat hy bereid is om haar nuuskierigheid oor Ian te bevredig.
“Jou talle waarskuwings teen Ian maak my net gretiger om hom beter te leer ken, Hougaard. Wat weet jy van hom wat so verskriklik is? Het hy ’n duistere verlede?” vra sy uittartend terwyl hulle Jan-Hendrik se helder verligte woning nader.
“Ek bekommer my meer oor jou duistere toekoms as jy nie jou ore oopmaak en luister nie. Ek waarsku jou nie teen Ian omdat ek jou wil amuseer nie, Petri. Onthou dit voordat jy soos ’n ryp pruim in sy arms val,” antwoord hy grimmig.
Hy parkeer sy motor langs hare en gee haar motorsleutels vir haar.
“Hemel, maar jy is ongeskik! Verbeel jou: ’n ryp pruim! Nag, ou suurpruim,” groet sy koggelend en klim uit die motor.
“Ry versigtig, Petri. Nag,” groet hy kortaf. Hy wag dat sy die passasiersdeur toemaak en ry onmiddellik weg.
En ek het van hom gehou! dink sy ontnugter terwyl sy agter die stuurwiel van haar motor inskuif. Sy moes nie in Hougaard se motor geklim het nie, want dan het sy net haar mooi herinneringe aan haar gesiglose boomvriend gehad. Nou sal sy altyd onthou hy is ’n verkrampte ou oom wat die rol van haar beskermengel gespeel het omdat hy besluit het sy is dom en onervare. Vreemd hoe hartseer sy voel omdat sy nooit sal weet wat die kleur van sy oë is nie.
Sy ry huis toe met ’n gevoel van ongekende onrus in haar binneste.
Petri het nog nooit daaraan getwyfel dat Nicolette ’n besonder mooi meisie met haar lang, raafswart hare en groot, donker oë is nie, maar ná ’n partytjie wat heel waarskynlik tot die vroegoggendure geduur het, herinner Nicolette se gelaatskleur aan ’n wit vadoek wat te lank in bleikmiddel geweek is.
“Hoekom het jy toegelaat dat ’n wildvreemde man jou huis toe neem, Petri?” blaf Nicolette soos ’n aanvallende terriër toe sy die kantoor binnestorm. Sy kom met haar hande in haar sye geplant voor Petri se lessenaar tot stilstand.
Petri lees die onbedekte afguns in Nicolette se oë en antwoord met ’n onderdrukte glimlag: “Jy moes groen oë gehad het. Groen is jou kleur, Nicolette.”
“Moenie jouself vlei nie, jou arme ding!” kap Nicolette nydig terug.
Sy gooi haar lang hare met ’n rukbeweging van haar kop oor haar skouer en vervolg neerhalend: “Wat laat jou dink ek is jaloers op jou ou honneursgraadjie in die regte? My pa sê ’n beeldskone meisie soos ek het nie die sekuriteit van ’n professionele loopbaan nodig nie, want dis vanselfsprekend dat ek binnekort met ’n skatryk man sal trou. En daarby is ek my skatryk pa se enigste erfgenaam.”
“Ook waar. Gelukkig is ons armes gewoonlik slim en hardwerkend, daarom werk ons vir jou pa,” antwoord Petri droog.
“Dis net omdat jy nie ’n sosiale lewe het nie dat jy akademies so goed gepresteer het. En my pa het jou altyd net uit jammerte geprys omdat jou eie pa nie ’n flenter vir jou omgee nie. Hy het nie eens verlede November jou gradeplegtigheid bygewoon nie. Jy is werklik bejammerenswaardig, jou arme mens,” kom dit neerhalend van Nicolette.
“Dankie. As jy beter voel ná al die gal wat jy gebraak het, sal ek graag wil voortgaan met my werk,” antwoord Petri met ’n ongeduldige suggie.
“Ek sal loop wanneer dit mý pas,” sê Nicolette en betrag Petri met geskreefde oë, ’n uitdrukking van agterdog op haar gesig. “Ek ken jou, Petri Aucamp. Jy is ’n lang, maer ding soos jou twee ou tantes, en jy aard ook na hulle: so verkramp en preuts dat jy my en al my vriende ’n pyn gee. Jy sou nooit toegelaat het dat ’n vreemde man jou laatnag huis toe neem nie. Hoe lank ken jy al vir Hougaard Reyneke?”
“Hougaard Reyneke?” herhaal Ian uit die deur. Hy aarsel ’n oomblik en kom dan die kantoor fronsend binne. Hy bly langs Nicolette staan, slaan sy arm om haar skouers en kyk beskuldigend na Petri, wat hom stom aanstaar.
“Dis presies wat ek ook wil weet. Presies hoe lank en hoe goed ken jy die man, Petri?” vra hy bruusk.
“Jy is aanmatigend, Ian. Ek kan nie sien hoe my vriendskap met Hougaard jou óf Nicolette raak nie,” antwoord Petri gelykmatig.
“Vriendskap?” vra Nicolette met skrille minagting. “Hougaard het nie eens geweet wie jy is nie, ellendige leuenaar! Hy het mý gevra of jy een van my vriendinne is toe ons twee gedans het.”
“Jy en daardie Hougaard-vent is die oorsaak dat ek en Nicolette gisteraand ’n hewige rusie gehad het, Petri. Ek hoop jy kan vir ons ’n goeie verduideliking gee,” kom dit verwytend van Ian.
“Goeiste toggie, julle laat my voel asof ek in die beskuldigdebank staan,” sê Petri onthuts en kyk met ’n verskonende glimlaggie na Ian. “Ek is jammer ek het jou gisteraand van diefstal beskuldig, Ian. Ek het aanvaar Nicolette het my motorsleutels vir jou gegee omdat jy so gereeld ruikers vir my gestuur het. Ek kan nie aan ’n enkele rede dink waarom Nicolette my sleutels vir Hougaard gegee het nie – dalk kan sy die saak vir ons opklaar.”
Ian neem sy arm vinnig weg van Nicolette se skouers. “Jy het vir my gelieg, Nicolette,” sê hy beskuldigend.
“Ek het nie!” ontken Nicolette heftig. “Ek was op pad om die vervlakste sleutels vir jou te gee, maar toe kom my pa onverwags uit sy studeerkamer en stel Hougaard Reyneke aan my voor. Hougaard het my gevra om te dans en vanselfsprekend wou ek, maar ek kon nie met ’n spul sleutels in my hand dans nie. Dis waarom ek hom gevra het om die sleutels in sy sak te hou en dan vir jou te gee, Ian. Hougaard het nie eens geweet dis Petri se sleutels nie.”
“Maar hoekom het Hougaard …?” begin Ian en staar Petri met fronsende onbegrip aan.
“Hoekom het Hougaard my huis toe geneem?” voltooi Petri sy vraag en glimlag met sonnige onskuld. “Hy het my en jou hoor rusie maak langs my motor en hy het baie galant aangebied om my huis toe te neem.”
Sy wend haar met ’n ongeduldige suggie tot Nicolette. “Dis alles jou skuld, Nicolette. As jy vir Hougaard gesê het dis mý sleutels wat jy vir hom gegee het, was dit nie vir hom nodig om my huis toe te neem sodat ek my spaarsleutels kon gaan haal nie.” Sy sit haar hande vinnig op haar wange en hoop haar skuldige blos verraai nie haar leuen nie.
“Ek glo jou nie!” snou Nicolette haar toe. “Hougaard sou saam met my geswem het, maar toe verdwyn hy net skielik. Ek weet jy het hom weggelok, jou ellendige onderkruiper. Jy doen dit al jare lank: speel die onskuldige, hulpelose meisietjie en laat al die aantreklike mans agter jou aandraf. As my pa moet hoor daar is ’n verhouding tussen jou en Hougaard, kan jy maar elders ’n pos gaan soek – onthou dit!”
“Hoekom? Het jou pa en Hougaard dan ’n verhouding?” vra Petri kamma bekommerd.
Ian bars uit van die lag, maar smoor dit haastig met sy hand toe Nicolette hom ’n verskroeiende blik toewerp.
“Jammer, Nicolette, maar jou rusie met Petri het niks met haar professionele werk te doen nie. Jou pa weet dit ook. Wees vies vir jouself, want jy is die oorsaak dat Hougaard Petri gisteraand huis toe geneem het. Hoekom bel jy hom nie en herinner hom daaraan dat hy vergeet het om die sleutels vir my te gee nie?” stel hy diplomaties voor.
Nicolette glimlag stralend. “Ek sal! Ek sal Hougaard vra om die sleutels vir my te bring en hom sommer uitnooi vir ete Vrydagaand. As hy eers hier is, sal ek sorg dat hy die hele naweek by ons kuier!” antwoord Nicolette verruk en dans die kantoor opgewonde uit.
“En daarvoor betaal haar pa haar ’n vet salaris: om sy besige personeel se kosbare tyd te mors, of om ure lank op die foon te lê en met al haar kêrels te gesels. Selfs ’n slim man soos Jan-Hendrik kan dom wees,” merk Ian wrang op.
“Is Hougaard ook ’n prokureur?” Petri hoop sy klink belangstellend en nie nuuskierig nie.
Ian haal sy skouers op. “Ek weet nie. Ek ken die vent nie. Nicolette het my gisteraand vertel hy en haar pa stel albei belang in die industriële eiendomsmark – ontwikkeling en so aan. Hulle is manne met geld. Geen wonder Jan-Hendrik het besluit Hougaard is sy aanstaande skoonseun nie,” vertel hy met gedwonge belangeloosheid, maar slaag nie daarin om die afguns uit sy stem te hou nie.
“Jy verdien oorgenoeg om aan beleggings te dink,” sê Petri vinnig, vreemd onwillig om aan Hougaard as Nicolette se toekomstige bruidegom te dink.
“Ek is gelukkig om in my ouerhuis te kan tuisgaan, want ek verdien net genoeg om my en my afhanklikes – my twee katte – te onderhou,” spot hy.
Sy kyk hom verras aan. “Ek het gedink jy het jou eie huis of ’n woonstel. Ek kan my nie voorstel dat jy nog saam met jou ouers woon nie.”
“Dis net tydelik. Ek pas hulle huis sedert Desember op, want hulle kuier by my suster in Australië. Sodra hulle terugkom, sal ek ’n eie woonplek aanskaf,” antwoord hy en glimlag vrolik vir haar. “Ek is bly Hougaard het voor Nicolette se skoonheid en Jan-Hendrik se indrukwekkende bankrekening geswig, want nou kan ek weer hoop. Of het Hougaard jou ook met sy manlikheid en sjarme oorrompel, Petri?”
“Watter sjarme?” vra sy oorbluf en glimlag saam met Ian toe hy uitbars van die lag.
“Ek voel al gelukkiger,” skerts hy.
Hy druk met sy handpalms op haar lessenaar en leun nader aan haar. “As ek baie mooi vra, sal jy saam met my gaan middagete eet, Petri? Sommer in die restaurant oorkant die straat. Ek beloof jou plegtig: ek sal jou nie weer vra om in my motor te klim voordat ek jou groottantes ontmoet het nie. En terwyl jy gisteraand so kliphard met my rusie gemaak het: ek sou jou sleutels vir jou gegee het as ek hulle gehad het.”
“Ek kan jou amper glo,” spot sy.
Sy wonder of Nicolette besig is om telefonies met Hougaard te gesels en ervaar ’n sinkende gevoel in haar binneste. Sy is seker honger. Nee, sy is siek met ’n ongekende seer, ’n skrynende hartseer omdat haar Hougaard …
Nee, hy is en was nooit haar Hougaard nie. Maar hy was darem haar boomvriend. Vreemd hoe veilig en gelukkig sy was toe sy met haar boomvriend gesels het – maar dit was voor sy geweet het hy en Nicolette het trouplanne.
Nee, nee, Hougaard het nie gisteraand soos ’n toekomstige bruidegom geklink toe hy van Nicolette gepraat het nie, herinner sy haarself. Hy het gesê Jan-Hendrik het van haar ’n bedorwe, egoïstiese meisie gemaak. Maar as Hougaard Nicolette liefhet of van geld hou … Dis jammer sy het vergeet om Hougaard te vertel haar tweelinggroottantes is skandelik ryk.
“Petri!” roep Ian en skud haar liggies aan die skouer, sodat sy verbaas opkyk na hom. “Genugtig, meisiemens, het jy skielik in ’n marmerstandbeeld verander? Ek praat my stembande lam, maar jy beantwoord nie een van my vrae nie. Waarom weier jy om met my te praat?”
“Ek het net gedink … e … dit oorweeg of …” begin sy stamelend en swyg verlig toe sy vinnig naderende voetstappe in die gang hoor.
“Hy kom kuier, julle!” jubel Nicolette en trippel soos ’n uitgelate kind op een plek rond. “Is dit nie wonderlik nie? My Hougaard het my uitnodiging aanvaar!”
“Net ’n baie dom man sal die uitnodiging van ’n beeldskone meisie met ’n skatryk pa van die hand wys,” merk Ian droog op.
As Nicolette breër glimlag, gaan haar wange oopskeur en bloei, dink Petri en sê met oortuigende hartlikheid: “Dis vanselfsprekend dat jou toekomstige bruidegom jou uitnodiging sal aanvaar, Nicolette. Ek is seker julle sal die naweek saam geniet.”
Die glimlag om Nicolette se lippe versteen ’n oomblik, maar dan lag sy met haar gebruiklike selfvertroue.
“Dan het Hougaard jou van ons planne vertel, Petri? Ek is seker hy het, want ek kon dit in sy oë sien toe hy gisteraand die eerste maal na my gekyk het. Dit was liefde met die eerste oogopslag,” sê sy selfvoldaan.
Sy draai na Ian en streel met die vingers van haar regterhand oor sy wang. “Jy is die aantreklikste man wat ek ken, Ian, maar al my vriendinne sê Hougaard is die manlikste man wat hulle nog gesien het.”
“Jy bedoel die man is so lelik dat hy eintlik mooi is,” grom Ian en knipoog vir Petri. “Gaan ons saameet?”
“Aangesien jy minder manlik is in Nicolette se oë – hoekom nie?” Petri weet dis net trots wat verhoed dat sy uit loutere jaloesie Nicolette se oë uitkrap … of in trane van teleurstelling uitbars.
Ian glimlag geamuseerd toe ’n tienermeisie op pad na ’n tafel in die restaurant oor ’n stoel struikel in ’n poging om hom beter te kan sien.
“A, dit laat my beter voel! Die twee lummels regs van ons staar jou al tien minute lank oopmond aan en vergeet om hulle monde toe te maak as hulle eet,” sê hy gedemp aan Petri.
“Mans staar altyd meisies aan – ek neem aan dis ’n ingebore gedragspatroon,” antwoord sy onbeïndruk.
“Weet jy sowaar nie jy is baie mooier as Nicolette nie?” vra hy ongelowig.
Sy lag hom goedig uit. “Jammer, Ian, maar dis ook deel van jou ingebore gedragspatroon om die meisie wat jy uitneem met komplimente te oorlaai. Ek het al gehoor hoe komplimenteer jy jou persoonlike assistent – en sy is sewe-en-vyftig en opsigtelik oorgewig.”
“Mirrie floreer op my vleitaal,” erken hy met ’n onnutsige glimlaggie en vervolg dan kamma ernstig: “Maar dink net, Petri, ’n vrou soos Mirrie kry selde indien ooit komplimente, daarom is dit my plig om haar mooi en jonk en verleidelik te laat voel. Dis my klein hartjie wat my so skaamteloos laat lieg.”
“Jy gebruik jou sjarme en vleitaal om van Mirrie jou getroue slavin te maak, want sy sal oor haar voete val om al jou instruksies uit te voer. Gelukkig is ek jonk, slank en mooi, daarom beïndruk jou vleitaal my nie,” sê sy, haar stemtoon stroopsoet.
“Slim – dís jou probleem, Petri. Jy het te veel intelligensie, want jy kyk my met jou pragtige persblou oë aan en in plaas daarvan om verlief te lyk, kyk jy dwarsdeur my. Geniet jy darem jou ete en my sprankelende geselskap?”
Sy eet kos wat soos papier smaak, en om na hom te luister, verg al haar konsentrasievermoë. Want haar verraderlike gedagtes dwing heeltyd weg na haar boomvriend wat skielik Nicolette se aanstaande bruidegom geword het. Dank die hemel vir Ian, want hy verhoed dat ek in selfbejammering verval, dink sy en glimlag met opregte dankbaarheid vir hom.
“A, die meisie hou van my geselskap!” maak Ian sy eie afleiding. Hy bring sy kop nader aan haar en vra hoopvol: “Ons weet wat Nicolette se planne is, maar het jy al enige planne vir die eerskomende naweek gemaak?”
“Nee, maar ek en my groottantes gaan Saterdae gewoonlik vir ’n middagvertoning teater toe om ’n drama of ’n opera of ’n balletopvoering te sien. As jy wil saamkom, sal ons vir jou ook ’n kaartjie kry,” antwoord sy tegemoetkomend, maar haar oë lag hom uit.
Hy gluur haar kamma vies aan en skud sy kop. “Dankie vir niks! Ek het ’n beter voorstel: my jonger broer en sy vrou is albei dokters en besig met hulle gemeenskapsdiens. As ek hulle vanaand na jou huis bring om jou groottantes te ontmoet, sal jy inwillig om die naweek saam met ons in ons vakansiehuis langs die Oranjerivier deur te bring? Ek beloof jou: dis ’n groot huis en al die slaapkamerdeure het sleutels.”
“Ek kan dit moontlik waag as …” begin sy tergend en byt dan spytig op haar onderlip. “Nie vanaand nie, Ian. My groottantes speel Donderdagaande brug saam met hulle twee beste vriendinne. Dis ’n jare lange instelling en hulle sal my verkwalik as ek vanaand gaste oornooi.” Sy frons lig toe sy voortgaan: “Nicolette sê graag my tantes is twee ou hekse wat Donderdagaande die toekoms met tarotkaarte voorspel. Het sy jou nog nie daarvan vertel nie?”
Hy frons en skud sy kop ontkennend. “As Nicolette nie lofsange oor haar eie skoonheid sing nie, skinder sy gewoonlik oor haar vriendinne. Ek het al geleer om af te skakel. Maar oorweeg my uitnodiging, Petri. Ek en my broer-hulle vertrek Vrydagoggend net ná agt, maar ek sal vir jou ’n padkaart teken. As jy lus is om te kom inloer, sal ons drie jou met ope arms ontvang.” Hy glimlag tergend. “Dit was figuurlik gesproke, ingeval my ope arms jou afgeskrik het.”
“ ’n Naweek weg uit die stad – miskien moet ek dit oorweeg,” antwoord sy ingedagte. Maar sy weet dis nie van die stad wat sy wil wegkom nie, maar van haar herinneringe aan Hougaard.
Petri bring haar motor voor die helder verligte vakansiewoning op die rivieroewer tot stilstand, skakel die dakliggie aan en raadpleeg weer die kaart wat Ian vir haar geteken het. Dit moet hierdie huis wees, maar sy sal nooit met sekerheid weet as sy nie gaan aanklop nie, dink sy en staar rillend na die donker sluier reën wat die uitsig deur haar windskerm belemmer en oorverdowend op die motor se dak neerstort.
Sy het soos ’n impulsiewe idioot opgetree – nee, nie impulsief nie. Sy het nooit Ian se uitnodiging ernstig oorweeg nie, want op slot van sake is hy ’n vreemdeling vir haar. Sy het vanoggend rustig in haar kantoor gesit en werk totdat Nicolette haar met triomfantelike leedvermaak ingelig het dat sy dadelik huis toe moet gaan. Hougaard het haar glo gebel en gesê sy kan hom oor ’n uur verwag.
“Ek is ’n jaloerse heks,” fluister Petri. Sy skrik vir die klank van haar eie stem en skakel haastig die dakliggie af. Dís wat Hougaard aan haar doen: laat haar met haarself praat asof sy skielik ’n tydgenoot van haar stokou groottantes geword het.
Maar Hougaard is haar boomvriend en sy kan nie, wíl hom nie met enigiemand deel nie. Veral nie met die vermakerige Nicolette nie.
Sy kan huil van jaloesie, maar eintlik wil sy huil van ’n hartseer wat sy nie kan verklaar nie. Sy is beslis nie verlief op Hougaard nie, want sy wil nie dans en sing en almal om haar ’n drukkie gee nie. Sy voel so besitlik oor Hougaard soos oor haar ou eenoogteddiebeer wat sy jare lank aan ’n arm of ’n been saam met haar rondgesleep het toe sy ’n kleuter was.
Maar sy is lankal nie meer ’n kleuter nie en Hougaard is beslis nie ’n teddiebeer nie. Hougaard het vergeet hy is haar boomvriend. Hy is net ’n geldgierige man wat ter wille van Jan-Hendrik se stywe bankrekening met sy bedorwe dogter gaan trou. Sy haat Hougaard Reyneke, daarom is sy hier om die naweek saam met Ian en sy broer en sy skoonsuster deur te bring.
Sy talm nie langer nie, ruk die motordeur oop en storm plassend deur die stortende reën na die stoep van die vakansiewoning. Sy bly uitasem voor die voordeur staan, besef dat sy druipnat is. Sy vee ongeduldig ’n nat sliert hare uit haar oë voordat sy aan die deur klop.
Die voordeur gaan oop en Ian se gulle verwelkoming is soos ’n tweede wolkbreuk wat oor haar losbars.
“Petri! A, my beeldskone waternimfie het kom kuier! Ek kan met eerlikheid sê ek was nog nooit blyer om ’n meisie te sien nie, want toe jy teen negeuur nog nie opgedaag het nie, het ek moed opgegee. Kom binne, kom binne!”
Sy snuif hard en vra agterdogtig: “Hoeveel drankies het jy vanaand al gedrink, Ian?”
Hy staar na die glas brandewyn in sy hand asof hy nie weet hoe dit daar gekom het nie. “O … dié? Wat anders kan ’n man op ’n koel reënnag doen as hy nie geselskap het nie?”
Hy tree links na die wit tuintafel en plak die glas daarop neer. Hy draai om na haar en betrag haar met ’n uitdrukking in sy oë wat Petri laat besef dat haar nat langbroek en T-hemp soos ’n tweede vel aan haar kleef.
Asof hy bewus is van haar ongemak, kom hy nader en sê bedagsaam: “Maar jy is deurnat, my meisie. Kom ons gaan maak jou warm voor die kaggelvuur en skink vir jou ook ’n drankie. Dis óns nag, my Petri, want ons is eindelik saam. Kom nou, my liefste,” nooi hy weer en probeer om haar in sy arms te neem, maar sy tree vinnig weg van hom.
“Moenie eens probeer nie, Ian! Waar is jou broer en skoonsuster?” vra sy, haar kake skielik stram van ’n innerlike koue.
“My broer en …” Hy skud sy kop asof hy wakker skrik. Vir ’n breukdeel van ’n sekonde sien sy die onbedekte wellus in sy oë en dan glimlag hy sjarmant.
“Hulle moes laat werk, maar hulle sal binnekort hier wees. Hulle het my minstens gebel, maar jý het nie, my lieflike Petri, daarom is ek so bly om jou te sien. Sal ons binnetoe gaan?”
Wat het Hougaard nou die aand in sy motor gesê? Hy is fisiek soveel groter en sterker as sy dat hy haar met gemak sal kan oorrompel voordat sy om hulp kan roep. Sy is ’n naïewe kleuter …
Petri kyk onwillekeurig om haar rond en besef dat haar situasie nog meer benard is as die aand saam met Hougaard, want sy is stoksielalleen saam met ’n man wat sy tot dusver intuïtief gewantrou het. Ian is nie so lank en breedgeskouer soos Hougaard nie, maar hy is fisiek beslis haar meerdere.
“Ek is nie ’n naïewe kleuter nie, Ian,” sê sy nydig en besef dat sy in haar gedagtes met Hougaard rusie maak. Sy sien die vasberadenheid op sy gesig en beweeg pratend nader aan die tuintafel. “My motor het ’n verwarmer. Ek sal in my motor wag totdat jou broer en skoonsuster opdaag.”
“En ek verkies om saam met jou te wag, my begeerlike Petri,” sê Ian skor, die drankwalm op sy asem verstikkend in haar gesig.
Hy gryp met uitgestrekte arms na haar. Sy lig die glas brandewyn blitssnel op, skiet die drank in sy oë en storm weg deur die stortende reën na haar motor, doof vir Ian se verwoede geswets en dreigemente agter haar.