Читать книгу Iemand soos jy - Schalkie van Wyk - Страница 4
1
ОглавлениеOudregter Gideon Odendaal kyk met ’n gevoel van innerlike trots na sy kleindogter wat oorkant hom by ’n tafeltjie in die opelugkafeteria sit. Met die strooitjie van haar koeldrank vergete in haar hand staar sy droomverlore voor haar uit.
Elzeri is op byna twee-en-twintig die ewebeeld van sy destydse bruid, die beeldskone Beth, met wie hy ses-en-veertig jaar lank getroud was. Hy maak ’n afwerende handgebaar en sluit sy oë momenteel, asof hy die traumatiese herinnering aan Beth se dood wil uitwis.
“Voel Oupa sleg?” vra Elzeri vinnig en merk besorg die flitsende pyntrek om sy lippe.
Gideon se oë vonkellag gerusstellend in hare. “Sooibrand. Trots gee my sooibrand,” skerts hy.
“Ouma Beth het altyd gesê trots is selfrespek, en ’n goeie eienskap. Trots is nie ydelheid nie, Oupa,” sê Elzeri en proe aan haar koeldrank.
“Vanselfsprekend. Beth was die enigste dogter van die trotse Elizabeth Fitzpatrick – die enigste afstammeling van geslagte trotse, en soms hooghartige, Elizabeths voor haar. Trots was deel van Beth, net soos haar besonderse groen oë en digte, swart hare met ’n sagte krul – oë en hare soos joune. Jy het baie aan die Elizabeths te danke, Elzeri: jou vleklose vel, hoë wangbene en hartvormige gesiggie, selfs jou fyn beenstelsel. En ek moenie van jou parmantige kennetjie vergeet nie, want jy laat jou nie weerspreek nie,” sê Gideon, sy stemtoon wisselend tussen humor en erns.
“Goed, Oupa, as Oupa so sê. Maar dis nie werklik ’n voorreg om soos die klomp Elizabeths te lyk nie. Soms voel ek net soos ’n vyfling,” antwoord Elzeri bedees, en glimlag onnutsig toe hy haar onthuts aankyk.
“En hierdie snipperige kind was reeds mondig,” kom dit kamma misnoeg van hom. “Het jy geen waardering vir my komplimente nie, Elzeri? Dis nie my gewoonte om jong meisies te vertel hulle is mooi nie.”
“Net mooi, Oupa?” vra Elzeri gekrenk. “Ek sal liewer ’n meisie met ’n sterk persoonlikheid of ’n innemende geaardheid wil wees. Mooi meisies, Oupa, is alledaags en oninteressant.” Sy pers haar lippe saam, skreef haar oë en betrag hom nadenkend voordat sy doodernstig versoek: “Sal Oupa nou asseblief sê ek is asemrowend mooi en buitensporig beeldskoon?”
Gideon se groot hand sluit oor hare op die tafelblad, terwyl gedempte lag sy skouers laat skud. “Jý, kleinding, is moontlik beeldskoon, maar ongetwyfeld astrant. Maar dis hoe dit moet wees: jou astrantheid het my en my Beth jonk gehou. Die afgelope ses maande was jy die enigste stukkie sonskyn in die duisternis wat op Beth se skielike heengaan gevolg het. Jy was goed vir my, Elzeri.” Hy druk haar hand waarderend en leun terug in sy stoel.
“Ek het geglo Oupa sal ook doodgaan as ek dit nie kon regkry om Oupa te laat lag nie,” sê sy eerlik en kyk hom krities aan. “Ek is bly Oupa lyk weer soos my oupa, nie soos ’n siek ou oom met ’n grys gesig nie.”
“Ek was bleek, Elzeri, nie grys in my gesig nie,” sê hy geraak.
Sy wriemel haar neusie en skud haar kop ontkennend. “Nee, Oupa speel te veel gholf om bleek te kan wees. Selfs Sonette het gesê Oupa se velkleur was grys. Sy sal weet, want sy is ’n verpleegster.”
Elzeri kyk vinnig op haar polshorlosie en vervolg ontsteld: “Dis al twintig voor een! Die staptoer na die Sterkfonteingrotte begin oor twintig minute en Sonette is nog nie hier nie. Wat nou, Oupa? Sal Oupa saam met my gaan? Oupa weet hoe bang is ek vir die donker. Ek sal baie stadig loop en Oupa se hand styf vashou. Toe, sê nou ja, Oupa.”
“My liewe kind, ek is sewentig, nie sewentien nie! Toe ek en Beth jou tien jaar gelede hierheen gebring het, het my dyspiere so gepyn dat …” Sy sin rafel uit, sy blik op iets of iemand skuins agter haar.
Elzeri draai haar kop en sien ’n onbekende jong man, geklee in ’n liggroen gholfhemp, ’n kakiekortbroek en gemaklike stapskoene. Hy loop na ’n tafeltjie toe, ’n skinkbord met tee en ’n bord toebroodjies in sy hande. Die man is lank en breedgeskouer en sy songebruinde, gespierde liggaam weerspieël sy fisieke krag. Sy fiere houding en die gemak en grasie waarmee hy beweeg, straal selfversekerdheid uit.
Hy het donkerbruin hare wat koperrooi weerkaats toe hy deur ’n sonstreep beweeg, merk sy, en kyk hoe hy op ’n stoel gaan sit en vir hom tee inskink. Miskien was hy eenmaal ’n rooikopseuntjie met sproete op sy neus, mymer sy, maar verwerp onmiddellik dié moontlikheid. Die man se hoekige ken, sterk gelaatstrekke en die ferm lyn van sy mond wis die beeld van ’n onnutsige seuntjie dadelik uit. Hy lyk knorrig, want sy digte, geboë wenkbroue keep saam in ’n frons. Daar is ongeduld in die wyse waarop hy kort-kort sy polshorlosie raadpleeg en herhaaldelik na die kafeteria se ingang kyk.
“Jy gaan ’n aaklige kramp in jou nek kry, Elzeri,” waarsku Gideon, sy stem warm van ingehoue lag.
Sy swaai terug na hom en antwoord selfverdedigend: “Oupa het hom eerste aangestaar … en toe kyk ek ook.” Dan kry haar nuuskierigheid die oorhand en sy vra gedemp: “Wie is hy? Ken Oupa hom?”
Gideon glimlag geamuseerd en antwoord tergend: “My liewe kind, as jy soveel jare soos ek op die regbank gesit het, glo jy later jy ken almal – en dat almal wat jy ken misdadigers is.”
“Dink Oupa hý is ’n misdadiger?” vra sy geskok.
Sy swaai om en kyk vas in die grimmige oë van die vreemde man, wat juis op daardie oomblik opkyk. Sulke koue, gevoellose oë – wrede oë soos dié van ’n roofvoël, dink sy.
Sy draai rillend terug na Gideon en sê: “Hy is definitief ’n misdadiger, Oupa. Hy lyk soos ’n aasvoël wat op my wil afduik en my wil opvreet.”
“Biologie was altyd jou swakste vak, Elzeri. Aasvoëls is hoflike voëls, want hulle wag totdat jy dood is voordat hulle op jou aas. Uile en arende is roofvoëls. Herinner hierdie jong man jou aan ’n uil?”
“Met ’n neus soos syne?” vra sy geniepsig. Sy voel soos ’n katterige kind en vervolg vinnig: “Ouma Beth het altyd gesê ’n man met ’n aristokratiese neus soos Oupa s’n is uiters aantreklik. Ek dink Oupa is baie aantreklik.”
“Bedoel jy ek en jou uil-man het albei groot krom neuse, my ondiplomatiese kleindogter?” vra Gideon kamtig ernstig.
Elzeri kyk onwillekeurig weer oor haar skouer na die vreemde jong man. Sy leun nader oor die tafeltjie en antwoord vertroulik: “Hy lyk soos ’n arend, Oupa, nie ’n uil nie. En sy neus is nie groot en krom nie. Sy neus is effens geboë en sy neusvleuels is fyn afgeëts. As hy nie sulke wrede oë gehad het nie, sou hy aantreklik gewees het. Dink Oupa nie ook so nie?”
Gideon glimlag hoofskuddend. “Jy verstom my, kleinding. Jy het op nege jaar besluit jy gaan met Dawie trou, en as ek reg onthou, is julle twee van plan om af te haak sodra hy sy gemeenskapsdiens voltooi het. Beth het my al die jare verseker as ’n vrou ’n man liefhet, sien sy geen ander man raak nie. Hoe lief is jy vir Dawie as jy jou verkyk aan dié arend-man?”
“Ouma Beth het dit net gesê omdat Oupa so maklik jaloers kon wees, maar ek en sy het gereeld na mans gekyk en besluit of hulle aantreklik is of nie,” antwoord Elzeri onverskillig.
Sy merk die ongeloof op Gideon se gesig en gaan onthuts voort: “Ek het reeds vir Oupa gesê ek het na die man gekyk omdat Oupa hom eerste aangestaar het. Ons was nog besig om oor Sonette … Sonette! O, grieseltjies, Oupa, wat gaan ek doen? Ons is ter wille van Sonette hier, maar nou daag sy nie op nie.”
“Aangesien ek reeds twee kaartjies gekoop het, kan jy net sowel weer die grotte besigtig. Ek sal rustig hier sit, my middagete geniet en my koerant lees. En terselfdertyd my oë oophou vir ingeval Sonette betyds opdaag om by julle stapgroep aan te sluit. Toe, loop nou, kind. Daar sal hope mense wees om te verhoed dat jy bang sal wees as die ligte skielik afgeskakel word.”
“Ek is nie bang nie, Oupa … nie vreeslik nie. Ek en Dawie het verlede jaar ’n hele dag hier by die Wieg van die Mensdom deurgebring. Die liggies in die grotte is klein en ver van mekaar af, en hulle het minstens drie maal uitgegaan, maar Dawie kon my hand vashou. As Sonette nie betyds opdaag nie … Ek sal haar weer op haar selfoon bel en hoop ek kry dié keer nie weer die simpel antwoorddiens nie. Ek ken die grotte, Oupa, en as Sonette laat gaan wees, kan ons liewer huis toe gaan.”
Gideon kom orent en sê met ’n skewe glimlaggie: “Jou oupa is ’n gierige man wat nie onnodig twee kaartjies koop nie. Bel jy solank, Elzeri. Verskoon my, ek is nou weer terug.”
“Goed, Oupa,” mompel sy, reeds besig om Sonette se nommer te skakel. Sy luister na die gelui van Sonette se selfoon terwyl sy Gideon met haar oë volg.
Haar oupa is die grootste leuenaar wat sy ken, dink sy snakkend na asem toe sy hom langs die vreemde jong man se tafeltjie sien staan. Die jong man kom orent en hulle skud hand, glimlag en gesels soos ou bekendes. Toe kyk hulle na haar terwyl sy nog verontwaardig na haar asem soek. Sy prop haar selfoon in haar skouersak, staan op en kyk met ’n beskuldigende uitdrukking in haar oë na Gideon, wat vergesel van die jong man terugkeer na hulle tafel.
“Ek het hierdie man lanklaas gesien, maar ek ken sy ouers en sy grootouers, Elzeri. Sy metgesel het nie opgedaag nie, dus sal hy jou op die staptoer na die grotte vergesel,” sê Gideon met soveel gemoedelikheid dat Elzeri vlamme van ergernis op haar wange voel brand.
Hy ignoreer egter haar blitsende oë en draai na die jong man toe hy weer praat: “Arendt, ontmoet my kleindogter, Elzeri.”
“Bly te kenne,” sê Arendt hoflik en knik sy kop afsydig.
Sy ignoreer hom en vra boos vir Gideon: “Hoekom nie ‘Uil’ nie, Oupa?”
“Hy dra nie ’n bril nie, kleinding,” antwoord Gideon logies. Hy draai om en loop sonder meer weg om sy bestelling vir sy middagete te gaan plaas.
Haar oupa is ’n leuenaar met ’n skewe humorsin, want eers gee hy voor dat hy die jong man nie ken nie, en toe gee hy die arme man ’n bynaam, dink sy onstuimig.
Sy kyk onwillig teen die man se ken vas en sê verskonend: “My oupa ly aan Alzheimers, daarom kies hy byname vir mense. Ek weet jy is nie ’n arend of ’n uil of ’n aasvoël nie.”
“Dankie. My naam is Arendt, gespel met ’n -dt,” antwoord die man kortaf.
Hy vervolg saaklik: “Die mense stroom al na die museum toe waar die toergids wag. Jou oupa het die kaartjies vir my gegee. Hier, plak die blou strokie om jou pols, anders sal jy toegang geweier word. Kom ons stap.”
Sy stem is diep en donker en net so selfversekerd soos sy voorkoms, dink sy misnoeg terwyl sy woordeloos die strokie by hom neem en dit tydsaam om haar linkerpols plak.
Sy wil nie saam met die Arendt-man die grotte besigtig nie, want sy opsigtelike onwilligheid om haar te vergesel laat haar nog ’n groter gek voel omdat sy geglo het haar oupa het hom ’n bynaam gegee. Maar kan die man nie net effentjies glimlag en haar verseker dat hy begryp sy ongewone naam is die rede vir die misverstand nie? Liewe land, die vent is so humorloos soos ’n vullisblik!
“Kom nou, Elzeri!” beveel Arendt ongeduldig. “Ek het reeds vergeefs op een meisiemens gewag. Op my ouderdom moes ek al geleer het om my nie deur wispelturige vroumense aan die neus te laat rondlei nie.”
“Foei tog,” sê sy stroopsoet. “Ek wag op my beste vriendin, en ek weet reeds die toer begin nie stiptelik om eenuur nie. Stap gerus. Ek ken die pad na die grotte toe.”
Sy kyk vir die eerste maal weer in sy oë en wens dan sy het nie, want van naderby herinner sy taankleurige kykers haar nog meer as tevore aan die spiedende, ongenaakbare oë van ’n arend.
“Ons mors net tyd. Jou oupa het vir die kaartjies betaal en ek het hom beloof ek sal jou vergesel. Sonette sal nie betyds hier wees nie. Kom!” antwoord hy met kille beslistheid. Sy groot hand sluit om haar elmboog en hy sleep haar letterlik saam met hom na die ingang van die museum.
“Wag!” protesteer sy. Sy rem tevergeefs terug om hom tot stilstand te dwing en wens sy was drie maal haar gewig. “Hoe weet jy ek en my oupa het op Sonette gewag? Wat het hy alles aan jou uitgeblaker terwyl julle gesels het? Ek het nie verwag dat ’n waardige man soos my oupa oor sy eie kleindogter sal skinder nie!”
“Jý skinder, nie jou oupa nie. Of gee hy nie om dat jy aan vreemdelinge vertel hy ly aan Alzheimer-sindroom nie?” vra Arendt afkeurend.
“Hy sal verstaan dat ek so desperaat was dat ek doodeenvoudig moes jok. Eintlik is dit jóú skuld. Dis jou ongewone naam. Ek bedoel, mense noem nie hulle kinders na roofvoëls nie, selfs al lyk hulle soos …”
Sy voel Arendt se greep om haar arm verstewig, besef wat sy besig is om te sê en skrik haar tot stilswye. Sy gebrek aan reaksie laat haar naarstig kug en sy vervolg: “U-hum! Ekskuus. Hier is ons nou. Jy kan maar my arm los, Arendt. Ek het jou reeds verseker ek ken die pad.”
Hulle bly staan toe hulle die groepie besoekers bereik wat deur die toergids toegespreek word. Elzeri lig haar ken en probeer om die indruk te skep dat sy gretig na elke woord van die toergids luister terwyl sy ongemerk poog om haar regterarm uit Arendt se hand te wurm.
Hy leun nader aan haar en sê gedemp in haar oor: “Sonette het my gewaarsku teen meisies soos jy. Noudat ek jou ontmoet het, sal ek haar waarskuwing ter harte neem.”
Hy ken Sonette, tref die besef Elzeri soos ’n onverwagte vuishou in die maag. Haar vriendin ontken altyd dat daar ’n spesiale man in haar lewe is, maar as sy met Arendt bevriend is …
Moontlik het Sonette hom onlangs ontmoet. As hulle ’n verhouding gehad het, sou Sonette haar lankal daarvan vertel het, want hulle het die afgelope vier jaar boesemvriendinne geword en deel al hulle geheime. Wat Sonette ook al oor haar vir Arendt gesê het, sou niks negatiefs gewees het nie, want lojaliteit is deel van haar en Sonette se vriendskap. Moontlik is die Arendt-vent jaloers op haar en Sonette se vriendskap, daarom insinueer hy dat Sonette oor haar geskinder het.
“Hoe bedagsaam van Sonette om jou teen my te waarsku. Maar dalk het sy jou nie genoeg gewaarsku nie, Arendt,” antwoord sy liefies, beweeg effens voor hom in en kap hard met die hak van haar stapskoen op sy maermerrie.
“Klein pes!” sis hy.
Sy wag nie om die res van sy tirade te hoor nie, maar glip uit sy greep toe hy sy houvas op haar arm verslap. Sy beweeg blitsvinnig tussen die besoekers deur totdat sy voor die toergids staan.
Vandag draf sy die klam trappe en rubbermatbedekte steiltes van die Sterkfonteingrotte op en af, want in die skemerdonker van die grotte sal dit veels te maklik vir Arendt wees om wraak te neem, dink sy en volg die toergids gretig na die ingang.
Dis nie ’n staptoer nie, dis ’n tydren, dink Elzeri uitasem en moeg toe die toergids langs die swart water van die ondergrondse meer bly staan om te wag dat die res van die groep by hulle aansluit. As die son geskyn het, sou sy op die toergids se skaduwee getrap het, want sy is te bang om deel te word van die binnelandse besoekers en buitelandse toeriste wat in klein groepies tydsaam die trappe afklim of kort-kort bly staan om ’n stalaktiet of stalagmiet te bewonder en foto’s te neem. En sy is nog banger om om te kyk om te sien waar Arendt is.
Nee, hy sal niks aan haar doen nie. Haar oupa Gideon vertrou hom, en hy ken boonop Arendt se ouers en grootouers. Maar hoe goed ken haar oupa Arendt werklik? Hulle is nie huisvriende van oupa Gideon nie – nie deel van die mense wat sy sedert haar kleuterjare ken nie, want dan sou sy lankal van Arendt gehoor het.
Sy het hom geskop – hard geskop, opsetlik geskop. As hy haar in die donker bekruip en sy skielik sy warm asem in haar nek voel …
“Nee!” krys sy toe die enkele klein liggies teen die grotwande onverwags afgeskakel word en die grot in volkome duisternis gehul is. Sy swaai impulsief om, gryp die naaste persoon vreesbevange vas en druk haar gesig teen sy bors, haar oë styf toegeknyp, haar hart hamerend in haar bors – te oorweldig deur haar histeriese vrees om te besef dat haar onbekende beskermer haar in sy arms toevou.
“Die ligte brand weer, bangjan,” waarsku ’n onsimpatieke stem in haar oor.
Arendt! Sy ken daardie besonderse diep timbre van sy stem, selfs al praat hy sag, of dalk herken sy die gevoel van sy sterk hande op haar kaal boarms. Dawie se hande is sag en goed versorg, want hy is ’n mediese dokter, maar Arendt het geëelte werkershande, dink sy.
Sy maak haar oë oop en kyk onwillig op in sy gesig. Vir ’n breukdeel van ’n sekonde kan sy haar in die onsekere lig verbeel dat daar ’n glinstering van ingehoue lag in sy oë is. Maar sy lippe is ’n ferm streep, sy hoekige gelaat ’n stroewe wisseling van lig en skadu.
“Ek is jammer ek het jou vasgeklou,” sê sy met intense verleentheid en laat sak haar hande.
“En dat jy my geskop het?” vra hy grimmig en hou haar nog in sy arms vas.
Sy lig haar ken onwillekeurig en antwoord reguit: “Nee, want jy wou nie my arm los nie.”
Hy laat sak sy regterarm, maar die vingers van sy linkerhand sluit terselfdertyd om haar regterhand. “Ek klou jou nie vas uit vrye wil nie, Elzeri; ek voer net jou oupa se bevele uit. Hy het my gewaarsku jy is bang vir die donker en my gevra om by jou te bly. Ek het hom beloof ek sal na jou omsien. As jy my toegelaat het om jou hand vas te hou, sou jy nie so groot geskrik het toe die ligte skielik uitgedoof is nie,” verduidelik hy, sy stemtoon koud en afsydig soos die uitdrukking op sy gesig.
Elzeri kyk na hom in die halfdonker. Sy sien hom frons toe sy hom aanstaar asof hy net nog ’n besienswaardigheid in die grotte is en sê eindelik: “Jy haat dit om kinderoppasser te speel, want jy dink ek is ’n oorlas en ’n irritasie. Of is jy so gebore?”
“Hoe gebore?” vra hy onkant gevang.
“Knorrig en ongeskik – sommer doodgewoon befoeterd. Of weet jy nie eens dat jy ’n ou knorpot is nie?” vra sy verwonderd.
Hy staan oomblikke lank roerloos, sy lippe weer hard saamgestreep. Dan antwoord hy ergerlik: “Jy is ’n snipperige, astrante meisietjie wat opsigtelik deur jou oupa en ouma tot in die afgrond bederf is. Kom, ons moet die groep volg, anders slaap ons vannag hier.”
Sy stap gewillig saam met hom en sê met ’n spytige suggie: “Dis jammer jy aard nie meer na my oupa en my Dawie nie, Arendt. Hulle hou van my juis omdat ek snipperig en astrant is.”
Die klank wat oor sy lippe plof, klink soos ’n gesmoorde verwensing, maar sy vra hoflik: “Ekskuus? Ek kon nie mooi hoor nie.”
“Is jy werklik so oud soos Sonette?” vra hy ongelowig.
“’n Hele drie maande ouer – ek sal net voor Kersfees twee-en-twintig wees. Ek lyk net jonger as Sonette omdat ek so fyn gebou is. My ouma Beth het my altyd haar vlinderkind genoem, maar my oupa het gesorg dat ek karatelesse neem, en ek gaan gereeld gim toe. Ek is eintlik baie sterk, al lyk ek so pieperig.”
“Ek begryp. Jou bultende spiere is nogal opsigtelik,” spot hy.
“Jy sukkel verskriklik om vriendelik te wees, Arendt. As jy liewer nie met my wil praat nie, kan jy my hand los en voor my loop. Ek sal op jou hakke loop en jou vasgryp as die ligte weer uitgaan,” sê sy tegemoetkomend.
“Ek durf nie, want jy skop. En om na jou te luister is ’n ervaring. Jy is een-en-twintig, maar jy beskou dit nie as ’n belediging om snipperig en astrant genoem te word nie. En jy vererg jou nie as ek jou oor jou kamtige spiere spot nie. Is jy werklik dom, of hou jy my vir die gek, meisiemens?” vra hy agterdogtig.
“Ek het grootgeword met mense wat my vertel het ek is snipperig, astrant en ’n bedorwe brokkie. My oupa Gideon het my jare gelede geleer dis makliker om vrede te maak met wie en wat jy is as om elke maal kwaad te word of gekrenk te voel. Dis meer volwasse om ander mense se opinie oor my te respekteer as om in ’n argument betrokke te raak,” antwoord sy en glimlag dierbaar op in sy gesig.
“Ek sien,” sê hy, maar klink nie oortuig nie. “Dink jy nie jy is te oud om ’n astrante snip te wees nie?”
“Glad nie. Ek dink dis in my gene, want my ouma Beth was tot voor haar laaste siekbed astrant en snipperig. Aard jy na jou oupa?” vra sy belangstellend.
“Nee,” antwoord hy bot.
“Dan kan ek verstaan waarom oupa Gideon en hy vriende is. Ek wed hy is ’n vriendelike man,” sê sy en sug weer spytig.
Arendt gryp haar hand stywer vas en beveel bruusk: “Hou op praat en stap vinniger, meisiemens. Ek wil luister na wat die toergids te sê het.”
Elzeri drafstap om by hom te bly toe hy sy treë rek. Sy struikel oor die rubbermat wat die ongelyke rotsvloer van die grotte bedek en word regop gepluk toe sy byna val.
“Ja, toe, breek jou nek sodat jou oupa my van nalatigheid kan beskuldig,” grom Arendt. Hy bly staan en vra misnoeg: “Het jy jou enkel geswik?”
“Nee, maar ek wens ek het! Ek sal liewer hier sit en wag tot die ambulans kom as om deur jou rondgesleep te word, jou aaklige man! Ek kan nie glo Sonette is vriende met jou nie,” antwoord sy boos en gaan sit op die mat om haar enkel te vryf.
“Pyn jou enkel?” vra hy en laat dit soos ’n aanklag klink.
“Net ’n bietjie. Loop nou, Arendt. Ons is by die trap wat na die uitgang lei; ek sal self my pad terugvind na die kafeteria en die museum. En ek sal Sonette waarsku teen jou,” maak sy rusie met sy gespierde kuite.
Hy hurk voor haar en antwoord ongesteurd: “Niks wat jy sê, sal Sonette se goeie opinie oor my verander nie, klein klikbek. Ek is in haar oë volmaak.”
“O ja? Hoe lank ken my goedgelowige vriendin jou?” vra sy vyandig.
“Haar lewe lank – amper soos jy en jou Dawie Coetzer,” antwoord hy met hoorbare genoegdoening.
“Ek glo jou nie. Sonette sou my vertel het as julle twee trouplanne het. Sy het nog nooit eens van jou gepraat nie!” protesteer Elzeri gegrief.
“Ek, vriendelike Elzeri, is die geheime man in Sonette se lewe, doodeenvoudig te kosbaar om met enigiemand te deel. Kom ons kyk of jy op jou enkel kan trap.”
Hy wag nie op haar toestemming nie, maar help haar vinnig orent.
“Hoekom het jy sulke kliphande?” vra sy toe hy weer haar hand vat. “Is jy ’n bouer?”
“So iets, ja. En hou nou op met jou nuuskierige vrae en kyk waar jy trap. Ek sien nie kans om jou die lang pad terug teen die heuwel af oor my skouer te dra nie.”
“Oor jou skouer? Soos ’n sak mielies?” vra sy onthuts.
“Hoe anders? Ek sal dit aan jou Dawie oorlaat om jou ewe romanties in sy arms te dra,” spot hy.
“Dawie sal ’n ambulans bel. Ons is te oud om soos verliefde tieners op te tree,” antwoord Elzeri, onbewus van die meerderwaardige ondertoon in haar stem.
Hy reageer nie op haar woorde nie, en sy wag totdat hulle in die helder daglig uitstap voordat sy opkyk na hom. Sy trek haar asem onwillekeurig in, want hy kyk na haar en glimlag met ’n warmte wat sy oë deel maak van die goue somerson.
“Jou oupa Gideon het jou slim geleer, Elzeri, maar jy weet nog nie alles nie. As jy ooit op ’n waarheid afkom waaroor jy wonder, kom vra vir my,” sê hy enigmaties. Dan draai hy weg van haar om ’n fooitjie in die geldkissie vir die toergids te sit.
Sy weet nie wat hy bedoel nie en sy wíl ook nie weet nie, want sy voel skielik onseker van haarself, besef Elzeri. Sy beweeg vinnig vooruit agter die besoekers aan, wat die voetpaadjie teen die heuwel af na die museum volg. Dis die helder sonlig en Arendt se onverwagte glimlag wat haar ineens so verleë in sy teenwoordigheid laat voel het, besluit sy tobbend.
Nee, sy is nie verleë nie. Sy voel dom – en dis sy glimlag wat haar dom laat voel. Want sy glimlag het haar vertel dat hy haar al die pad in sy arms sou gedra het sonder om te glo hy tree soos ’n verliefde tiener op.
Gideon gaan die sitkamer van sy stadswoning binne en sien Elzeri opgekrul op ’n gestoffeerde stoel sit, ’n boek oop in haar hande, haar oë starend na die vuurlose kaggel.
“En nou, kleinding? Jy is vanaand ongewoon stil. Het Arendt se geselskap jou vanmiddag só verveel dat jy nooit weer met my gaan praat nie?” vra hy skertsend en gaan sit op ’n stoel skuins oorkant haar.
“Ek het reeds vir Oupa gesê: Arendt het gedink ek is ’n oorlas. Maar dis nie wat my pla nie. Sonette het uiteindelik vir my ’n boodskap op my selfoon gestuur om te sê sy sal teen halfnege by haar woonstel wees en dat ek dringend moet kom kuier. Maar toe ek haar bel, het ek weer net ’n stemboodskap gekry. Hoekom wil sy nie met my praat nie, Oupa?” vra Elzeri afgehaal.
“Omdat sy heel waarskynlik hard besig is om haar klere in te pak vir julle kuiertjie op Oggendglorie,” antwoord Gideon gerusstellend. Dan vervolg hy met ’n tikkie kommer in sy stem: “Van Oggendglorie gepraat: is jy nog van plan om saam met Sonette by haar grootouers te gaan kuier?”
“O ja, Oupa. Oupa weet net nie hoe bly ek is dat Sonette my na hulle plaas uitgenooi het nie, want om saam met Oupa by nog ’n emeritusregter in Nieu-Seeland te gaan kuier …”
’n Glimlag van verleentheid verf ’n sagte blos op haar wange en sy gaan verskonend voort: “Ek bedoel dit nie beledigend nie, Oupa. Maar ek wil nie maande lank op ’n yslike skaapplaas saam met twee oudregters en een tannie kuier nie.”
“Een ou tannie en duisende skape,” terg hy. “Solank jy onthou Oggendglorie is ook ’n skaapplaas. Maar daar is ’n verskil: dis jóú skaapplaas.”
“Oupa se skaapplaas. Ek weet ek gaan Oggendglorie eendag erf, maar Oupa sal nooit doodgaan nie – nie voordat ek ook stokoud is nie,” antwoord sy. Die vrees wat op haar ouma se dood gevolg het, is weer vars in haar geheue.
“Ek dink nie jy luister altyd wanneer ek praat nie, Elzeri,” verwyt Gideon.
Hy kyk haar oomblikke lank swygend aan en verduidelik dan: “Jy weet tog reeds: jou pa is kort ná jou geboorte dood, en vanselfsprekend het jy jou ouma Beth se erfgenaam geword. Oggendglorie was haar erfplaas, en dis nou joune. Vreemd, ná die eerste Elizabeth – vir wie die skaapboer Hendrik Weidemann die pragtige ou opstal gebou het – was daar altyd net dogters. En dit was altyd ’n Elizabeth wat die plaas geërf het. Jou pa, Dandus, was die eerste seun wat Oggendglorie sou erf. En jou ma …”
Elzeri hoor die huiwering in sy stem, sien die onsekerheid in sy oë en sê vinnig: “My pa en ma het saam in ’n sneeustorting in Switserland gesterf, maar ek en Oupa praat nie oor die dood nie. Nie meer nie, want ons is moeg van hartseer wees. Oupa het beloof!”
Gideon sug hoofskuddend en sê met ongewone erns: “Ons moet praat, Elzeri, anders durf ek jou nie op Oggendglorie laat kuier nie. Ek kan nie toelaat dat jy die waarheid oor jou ma uit die monde van vreemdelinge hoor nie.”
“Die waarheid oor my ma? Maar sy is dood, Oupa! Dis wat Ouma gesê het. As mense oor my ma wil skinder, kan hulle maar. Dis nie nodig dat ek alles oor haar moet weet nie. Sy is dood … en dis al,” protesteer Elzeri.
Sy voel ineens vreemd onveilig en pleit met haar oë dat Gideon die ou waarheid sal bevestig.
“Nee, Elzeri, jou ouma het jou nooit van jou ma se dood vertel nie. Toe jy die eerste maal besef het dat ander kinders deur ’n pa en ’n ma grootgemaak word, het jy jou ouma oor jou ouers uitgevra. Sy het jou van jou pa se dood in die sneeustorting vertel en jy het aanvaar dat jou ouers saam gesterf het. In daardie stadium was dit makliker om jou te laat glo dat hulle albei dood is, want jy was te klein om ’n verwarrende volwasse wêreld te verstaan.”
Elzeri staar hom oomblikke lank onbegrypend aan. Sy voel vrees vir ’n onaanvaarbare waarheid soos ’n klam, versmorende duisternis om haar vou en vra skor: “Wat insinueer Oupa? Lewe my ma nog?”
Gideon knik stom sy kop, sy gelaat ineens grysbleek. Hy strek sy hand met ’n hulpelose gebaar na haar uit. Hy maak sy mond herhaalde male oop, asof hy wil praat, maar laat sak weer sy hand, sy hele houding sprekend van verslae onmag.
Elzeri kyk met liefdevolle kommer na hom. Sy merk die strakheid van sy sterk gelaatstrekke, die pyn in sy donker oë, en krimp innerlik ineen. Haar oupa lyk weer soos die dag toe haar ouma dood is: so verskriklik oud en alleen, so hulpeloos en verlore. Asof hy nie langer die moed het om voort te gaan met die lewe nie. Maar hy mag nie doodgaan nie! Niks in die wêreld is belangriker as dat hy gesond en gelukkig moet wees nie.
“Oupatjie …” pleit sy. Sy spring op en gaan kniel aan sy voete. Sy sit haar hande weerskante van sy gesig en sê dringend: “Moenie hartseer wees nie, Oupa. Ons hoef nie oor my ma te praat nie, want ek ken haar in elk geval nie. Asseblief, Oupa, moenie so ongelukkig lyk nie!”
“My liefkind,” sê Gideon, ’n skaduglimlag om sy lippe. “Ons het al die jare besef ons doen jou ’n onreg aan, maar jy was so ’n gelukkige, gebalanseerde kind dat ons verkies het om die waarheid te verswyg. Met jou mondigwording het ek en Beth afgespreek om jou van jou ma te vertel sodra jy jou universiteitstudie voltooi het. Jy het verlede week jou finale eksamen afgelê en nou –”
“Nou weet ek my ma is nie dood nie. Kon sy my nie versorg nie, Oupa? Sy is nie dalk … kranksinnig of … of ’n misdadiger nie?” vra Elzeri ontsteld.
Gideon vee met sy regterhand oor sy mond, maar sy oë verraai sy glimlag. “My liewe kind, jou ryke verbeelding haal die angel uit die donkerste oomblikke van my lewe. Nee, Elzeri, jou ma is ’n normale vrou.”
“Maar sy het my weggesmyt?” sê Elzeri reguit. Sy ervaar ’n oomblik van bitterheid, maar haal dan haar skouers op. “Dis háár verlies, Oupa. Ek is bly ouma Beth het my grootgemaak.”
“Nee, Elzeri, jou ma het jou nie weggegooi nie. Sy sal die situasie beter as ek kan verduidelik – sy wil jou graag ontmoet. Sal jy haar ontmoet, kleinding?”
Elzeri kom orent, ’n kwelfrons tussen haar wenkbroue.
“Ek weet nie, Oupa. Ek dink ek sal solank na Sonette se woonstel toe ry. Ek het ’n sleutel en ek sal daar op haar wag. Dalk sal dit help as ek met Sonette oor my onbekende ma kan praat,” antwoord sy afgetrokke en soengroet Gideon.
Elzeri stoot Sonette se woonsteldeur oop. Sy merk dat die kombuislig brand en druk die voordeur agter haar toe.
“Haai, Sonette! Ek kan nie glo ek het jou eindelik opgespoor nie!” roep sy terwyl sy deur die donker sitkamer na die kombuis draf.
Die kombuislig word afgeskakel toe sy die deur bereik en sy ruk in haar spore tot stilstand. “Moenie laf …” begin sy onthuts, en snak na haar asem toe sy ’n donker gestalte voor haar gewaar.
Sy maak haar mond instinktief oop om te gil, maar ’n sterk arm gryp haar vas en ’n hand smoor die beangste gil op haar lippe.