Читать книгу Iemand soos jy - Schalkie van Wyk - Страница 5

2

Оглавление

Skok laat Elzeri se hart pynlik in haar bors ruk en laat versteen elke spier in haar liggaam. Sy het ’n inbreker in Sonette se kombuis betrap en nou … en nou … Sy moet iets doen!

Die man gaan haar versmoor, want sy kan nie asemhaal nie. Nee, sy kan, maar sy is só bang dat sy vergeet het om asem te haal. As die man se arm nie soos ’n staalband om haar bors en arms gesluit het nie, kon sy …

“Dis vir die onverdiende skop op my maermerrie, klein pes!” sê Arendt uittartend, sy asem warm in haar oor. Hy los haar en skakel die kombuislig aan.

Sy knip haar oë, verblind deur die onverwagte helderheid van die lig, en hou aan om haar oë te knip om van die onverwagte wasigheid voor haar oë ontslae te raak.

“Klein tjankbalie! Jy het my in die grotte verseker jy is ’n supersterk meisie met bultende spiere en kennis van karate, maar nou huil jy soos ’n baba,” jou Arendt haar uit. Hy tel ’n rol handdoekpapier op en druk dit in haar hande. “Blaas jou neus en droog jou trane af, meisiemens. Sonette sal nie plasse water op haar skoon kombuisvloer waardeer nie.”

Sy was nie eens bewus daarvan dat sy huil nie, dink Elzeri verslae, want dis asof haar oë sonder haar wete en sonder snikke huil. En sy weet nie waarom sy huil nie. Dit was ’n aaklige skok om in die donker deur iemand vasgegryp te word, maar gewoonlik is sy kwaad as sy skrik.

Maar sy is nie nou kwaad nie, dink sy en staar deur haar trane na Arendt, wat haar fronsend betrag. Sy is net ontsteld en hartseer, daarom kan sy nie ophou huil nie.

“Elzeri?” Arendt vat die rol handdoekpapier uit haar hand, skeur ’n strook af en klad haar trane met versigtige vingers. “Ek is nie spyt dat ek jou laat skrik het nie, want jy het my geskop, maar ek is jammer dat jy so verskriklik huil. Genugtig, meisiemens, dis nie nodig om dit te oordryf nie! Hoe vinniger ek jou trane afdroog, hoe vinniger huil jy! My ouma sê suikerwater is goed vir skok. Wil jy suikerwater hê?”

“Ek is nie dors nie,” antwoord Elzeri troosteloos en huil onverpoos.

“Maar jy ly aan skok.”

Arendt hou haar van onder saamgetrekte wenkbroue dop en vra onbegrypend: “Wat makeer, jong? Vanmiddag was jy ’n opperste snip, maar op hierdie oomblik lyk jy soos ’n hartseer kind wat haar ma verloor het.”

“Dis andersom: sy het mý aspris verloor,” verduidelik Elzeri.

Sy besef dat dít die rede is vir haar onverklaarbare hartseer. Sy het ter wille van haar oupa voorgegee dat haar ma se hartelose optrede haar nie raak nie, maar dit was selfbedrog. Die wete dat sy ’n eie ma het, maar dat haar ma haar soos ’n ou skoen kon wegsmyt, is ’n groter hartseer as selfs haar geliefde ouma Beth se dood.

“Sê jy jou ma het jou aspris verloor?” vra Arendt terwyl hy lepels vol suiker in ’n glas water gooi en dit roer.

“Ja. Sy het my weggesmyt en my ouma …” ’n Harde hik verhoed dat sy haar sin kan voltooi en sy staar Arendt met verwytende oë aan.

“Gaaf! Jy kan nie terselfdertyd hik en huil nie. Drink nou die suikerwater sodat jy kan ophou hik,” beveel Arendt en druk die glas in haar hand.

Elzeri drink die suikerwater, was die glas onder die kraan en sit dit op die droograk neer. Sy talm voor die wasbak, ineens selfbewus oor haar onverwagte tranebui in Arendt se teenwoordigheid.

Sy ken talle mans, en een en almal behandel haar met hoflikheid – almal behalwe Arendt. Hy probéér nie eens om hoflik teenoor haar op te tree nie. Selfs toe sy so bitterlik gehuil het, was hy geensins simpatiek nie. Hy bekommer hom meer oor Sonette se skoon kombuisvloer as oor haar hartseer, dink sy gekrenk en voel ergernis in haar binneste opvlam.

“Dankie vir die suikerwater, Arendt. Aangesien jy hier kuier, sal ek liewer môre weer ’n draai kom maak,” sê sy styf.

Sy stap na waar hy teen die deurkosyn aanleun en haar met ’n skeptiese uitdrukking op sy gesig betrag. Sy kyk misnoeg op na hom, maar hy ignoreer haar ergernis en vee met sy wysvinger onder haar linkeroog.

“Traannat wange, rooigehuilde oë en ’n rooier neus. Nee, meisiemens, jy kan dit nie aan jou bejaarde oupa Gideon doen nie. Of gaan jy ’n klikbek wees en hom vertel ek het jou in die donker gegryp en jou laat huil?” vra hy beskuldigend.

“Moenie jouself vlei nie, Arendt. Goed, ek het my lam geskrik, maar jy is beslis nie die oorsaak van my trane nie,” antwoord sy geraak.

Sy uitdrukking word sober. Sy ligbruin oë boor speurend in hare asof hy die waarheid daar soek. “Het jy bedoel wat jy gesê het, Elzeri? Het iemand jou vertel jou ma het jou weggesmyt?”

“Hoe anders?” vra sy driftig.

Sy merk sy ongemak en sug moedeloos. “Ek het klaar gehuil, en nou slaan ek katkloue uit omdat ek verward is. Ek is jammer, Arendt. Ek het gehoop ek kon my hart teenoor Sonette uitpraat, maar jy kuier by haar en … en …”

“En jy dink ’n man kan nie ook luister en verstaan nie?” vra hy, die glans van ’n glimlag in sy oë.

“Jy is nie my vriend nie,” maak sy halfhartig kapsie. Sy is nie gretig om terug te keer na die eensaamheid van haar slaapkamer om oor haar onbekende ma te tob nie.

“Dis nog beter, want vreemdelinge is die beste vertrouelinge. Jy praat vanaand met my, en môre kan jy jou verbeel jy het met ’n onpersoonlike bank in ’n park gesels, want ek is net ’n vreemdeling,” sê hy.

Hy neem haar liggies aan die boarm en loop saam met haar na die rusbank in die sitkamer. Hy skakel ’n staanlamp aan en trek haar saam met hom op die lang rusbank neer. “Sit gemaklik en vertel my van jou hartelose ma. Toe, ek hou ook van stories, al is my naam nie Sonette nie.”

Elzeri skop haar sandale uit en swaai haar bene tot op die bank, haar rug gestut teen die armleuning. Sy kyk na Arendt wat gemaklik terugleun teen die rugleuning, sy bene lank uitgestrek voor hom, sy kop in ’n luisterende houding.

“Dit was al halfnege. Waar is Sonette?” vra sy agterdogtig.

Hy kreun moedeloos. “Sy werk nagdiens om een van haar kollegas uit te help. Ek is jammer ek het jou nie eerder gesê nie, maar ek het jou oupa gebel. Hy het my vertel jy is op pad hierheen, daarom kon ek my wraak haarfyn beplan. Gaan jy nou met my rusie maak omdat ek jou laat skrik het, of gaan jy my van jou hartelose ma vertel?”

“Ek het jou klaar van my ma vertel: sy het my weggesmyt,” antwoord Elzeri met onoortuigende onverskilligheid.

“Is dit ál wat jou oupa Gideon jou vertel het? Het hy sommerso uit die bloute gesê jou ma het jou weggesmyt?” vra Arendt ongelowig.

“Ja. Nee. Ons het oor Sonette en my kuiertjie op Oggendglorie gepraat.”

“Uitstekend! Jy sal van ons kontrei hou,” kom dit ingenome van Arendt.

Sy kyk hom onvergenoeg aan. “Jy het vir my gejok. Jy het gesê jy is ’n bouer, maar ek sal wed jy is ’n skaapboer, nes Sonette se oupa. En as jou plaas naby Oggendglorie is … Jy het gesê jy is ’n vreemdeling, maar as jy gereeld by Sonette kom kuier …”

“Ek beloof jou plegtig: ek sal nie by Sonette kuier nie, daarom kan jy aan my dink as ’n vreemdeling. Ek boer soms, ja, maar as dit nodig is, bou ek ’n skuur of ’n muur of wat ook al op die plaas. Of glo jy ’n skaapboer loop van sonop tot sononder met ’n lang haakstok agter sy trop skape aan, slim meisie?” vra hy koggelend.

“Nee … seker nie. Ken jy Sonette se oupa en ouma?” vra sy teësinnig.

“Ja. Moet ek nou beloof om nie by oom Herman en tant Sannie van Breda te gaan kuier terwyl jy op Oggendglorie is nie?” vra hy onthuts.

“Moenie laf wees nie! Oupa Gideon sê Oggendglorie is ’n groot plaas. Ek kan altyd gaan stap as jy kom kuier.”

“Dit pas my, snip! Maar om voor te begin: jy en jou oupa Gideon het oor jou vakansie saam met Sonette op Oggendglorie gepraat. Wat nog?”

“My oupa het gesê ons moet praat voordat hy my toelaat om op Oggendglorie te kuier en ek die waarheid oor my ma uit vreemde mense se monde hoor,” antwoord Elzeri mymerend. Sy kyk Arendt skerp aan. “Het my oupa bedoel oom Herman en tant Sannie van Breda ken my ma?”

“Al die mense van ons kontrei ken haar, want sy het jare lank op een van die plase gewoon,” antwoord hy gelykmatig.

“En Sonette? Ken sy ook my ma?” adem Elzeri ontsteld.

Arendt skuif nader aan haar, neem albei haar hande in syne en sê nadruklik: “Jy het drie keuses, Elzeri. Jy kan glo Sonette is ’n verraderlike bedrieër en haar voortaan haat, of jy kan in trane uitbars omdat Sonette so ’n belangrike waarheid teenoor jou verswyg het. Jou derde keuse is om my te vra waarom Sonette jou nooit vertel het dat sy jou ma ken nie.”

“Hoekom het sy my nie vertel nie, Arendt?”

Elzeri voel die spanning in die groot hande wat hare styf vashou. Sy sien ’n spiertjie in sy linkerwang spring en besef dat dit vir hom moeilik is om haar vrae te beantwoord. Arendt wil nie by haar probleme betrokke wees nie, daarom lyk hy altyd so stroef en afsydig, besef sy. Sy wens sy kan ’n einde aan hulle gesprek maak.

“Omdat jou ouma Beth aan Sonette gesê het jy glo jou ma is dood, Elzeri. Sonette was ontsteld, maar jou ouma het beloof om jou die waarheid te vertel wanneer jy jou studie voltooi het. Verkwalik jy Sonette oor haar stilswye?” vra hy, sy stemtoon ingehoue.

“Natuurlik nie. Ouma Beth het Sonette aan my voorgestel, en sy het haar altyd soos ’n eie kleindogter behandel. Ek en Sonette het saam gehuil en mekaar getroos toe my ouma dood is. Nee, ek is nie kwaad vir enigiemand nie. Ek wens net ek het geweet waarom my ma my nie wou gehad het nie. Weet jy, Arendt?”

“Ek twyfel of jou ma so ’n persoonlike saak met Sonette of selfs haar beste vriendin sal bespreek,” antwoord hy, sy uitdrukking geslote.

Hy merk haar teleurstelling, druk haar hande bemoedigend en vervolg paaiend: “’n Vrou soos jou ma sou nie ligtelik van haar kind afstand gedoen het nie, Elzeri.”

“Was sy te sieklik om my te versorg?” pleit sy om ’n aanvaarbare waarheid.

’n Trae glimlag flikker om sy lippe, maar verdwyn voordat dit sy oë bereik. “Ek sou nie weet nie, want al lyk ek blykbaar horingoud, is ek net ses jaar ouer as jy. Grootmense bespreek nie hulle persoonlike probleme met kinders nie. Maar ek kan jou vertel jou ma is ’n mooi blonde vrou – ’n saggeaarde mens wat haar miskien te maklik deur ander laat oorheers. Maar dis omtrent al wat ek van haar weet. Het jy nie foto’s van haar en jou pa nie?”

“Nee.” Elzeri byt tobbend op haar onderlip, ’n ligte frons tussen haar wenkbroue. “My ouma het altyd gesê foto’s maak haar net hartseer, daarom het sy al haar foto’s van my pa en ma weggemaak. Maar dit was dan nie werklik die rede waarom sy nie eens een ou foto’tjie van my ouers gehou het nie: sy was bang ek herken my ma as ek haar êrens raakloop.”

Hoop laat verhelder haar oë en sy gaan gretig voort: “Jy het gesê my ma het jare lank in julle kontrei gewoon. Kom kuier sy nog gereeld? Dalk ontmoet ek haar terwyl ek op Oggendglorie kuier!”

Arendt huiwer en vra dan met nadruklike erns: “Is jy seker jy wil haar ontmoet, Elzeri? Op slot van sake is sy die vrou wat jou – in jou eie woorde – weggesmyt het.”

“Ek weet wat ek gesê het, maar noudat ons daaroor gepraat het … Jy het tog gesê my ma sou nie ligtelik van my afstand gedoen het nie. Sy moes ’n goeie rede gehad het, maar watter rede? Ek wil weet, anders sal ek vir die res van my lewe daaroor wonder.”

“Die waarheid is nie altyd aangenaam nie, Elzeri. Jy gaan jou ma haat as jy besluit haar redes was net oppervlakkige verskonings om van ’n lastige baba ontslae te raak. Is dit nie beter om haar nooit te ontmoet nie?” vra Arendt waarskuwend.

“Hoe kan ek oordeel as ek nie weet nie? Ek dink … Nee, ek is seker my oupa het gesê my ma is gretig om my te ontmoet. Dalk kan ek haar sommer nog vanaand bel en ’n afspraak met haar maak!” sê sy opgewonde.

Sy spring op, maar Arendt hou haar hande vas en trek haar weer op die rusbank langs hom neer. Sy kyk hom ergerlik aan en vra onvergenoeg: “Wat is dit nou weer? En hou op om my aan te gluur asof jy vermoed ek beplan ’n terroristeaanval! Hoekom lyk jy altyd kwaad as jy na my kyk?”

“Ek is bekommerd, nie kwaad nie,” antwoord hy bruusk. “Eers verdrink jy in jou eie trane omdat jou ma jou weggesmyt het, en nou kan jy nie wag om haar te ontmoet nie. En jy wil haar ná nege in die aand bel. Jou oupa sal nie vir jou haar telefoonnommer kan gee nie, want hy is heel waarskynlik al in die bed. Laat jou oupa en jou ma met rus tot môreoggend, meisiemens. Gesels eers môre met Sonette en hoor wat dink sy van jou ma. Daarna kan jy met jou ma in verbinding tree.”

“Jy is verskriklik geduldig, maar dis omdat dit nie jóú ma is nie,” sê Elzeri dikmond.

Sy gaap dat haar oë traan en voel haarself bloos. “Gee jy om as ek vir ons gaan koffie maak? Ek voel vaak ná die lang, warm dag op Maropeng.”

“Ek het ’n beter voorstel: ek sal vir ons aandete en koffie maak. Of het jy reeds aandete gehad?” vra hy en staan op.

“Ek was nie vroeër honger nie. En ek weet al as ek en Sonette saam kuier, maak ons altyd iets lekkers te ete. Moet ek kom help?”

“In ’n beknopte woonstelkombuis? Asseblief nie! Hier, hou die kussing vas en droom oor jou Dawie. Ek is nou-nou terug met ons koffie en ons ete.”

Hy druk ’n roomkleurige stoelkussing in haar arms en loop kombuis toe.

Dawie … onthou Elzeri. Sy leun met haar kop teen die rugleuning van die bank en sluit haar oë. Weet Dawie dat sy ’n weggooikind is? Nee, Dawie-hulle woon al die afgelope twintig jaar in die buurhuis. En al is hy drie jaar ouer as sy, sou hy nie haar ma geken het nie. Of sou hy? Hoe oud was sy toe haar ma weggegaan het?

Sy moet onthou om haar oupa te vra, maar nie vanaand nie. Sy is so moeg van dink en wonder, so moeg van die tergende vrae wat deur haar brein warrel, dat sy net vir ’n paar oomblikke wil afskakel en van alles wil vergeet. Vreemd hoe lekker koffie ruik as dit geperkoleer word …

Elzeri hoor deur newels van slaap die naderende gerinkel van eetgerei. Sy wonder waarom hulle huishoudster vir haar ontbyt in die bed aandra, en skrik haar oë oop toe Arendt vlak langs haar praat.

“Koffie en ontbyt vir my kuiergas. Goeiemôre, meisiemens. Plak ’n kussing op jou skoot sodat ek die skinkbord kan neersit.”

“Maar jy het aandete …” protesteer sy.

Sy besef dat sy onder ’n ligte duvet lê en vra verward: “Het ek die hele nag op die bank geslaap? Is dit al oggend?”

“Lyk so,” terg hy en beduie na die venster waardeur ’n streep sonlig val. “Toe nou, meisiemens. Sit jou kopkussing op jou skoot neer.”

“Ja …” sê sy, nie seker of sy droom of wakker is nie, en voldoen aan sy versoek. “Alles is onderstebo. Jy sou vir ons aandete en koffie gemaak het, en nou is dit al oggend en –”

“En jy praat in jou slaap,” val hy haar in die rede en sit die skinkbord op haar skoot neer. “Drink jou koffie sodat jy behoorlik kan wakker raak.”

Sy drink ’n paar slukkies koffie en plak dan die beker hard op die skinkbord neer, haar oë rond van kommer. “My oupa! My arme oupa sal dink ek het verongeluk en dat ek dood of ernstig beseer in ’n hospitaal lê! Waar is my selfoon? Ek moet hom dadelik bel, voordat hy beroerte of iets kry. Help my, Arendt! Vat die ellendige skinkbord sodat ek na my selfoon kan soek.”

“Genugtig, meisiemens, bedaar! Jou verbeeldingsvlugte is genoeg om mý ’n beroerteaanval te gee,” sê hy geïrriteerd. “Ek het gisteraand toe jy soos ’n soet kind op die bank geslaap het jou oupa gebel. Ons het saam besluit dat jy die rus nodig het ná ’n lang dag van fisieke en emosionele uitputting. Jy het so vas geslaap dat jy nie eens wakker geword het toe ek jou nagklere vir jou aangetrek het nie.”

“Wát?” krys Elzeri kortasem van verontwaardiging. Sy kyk af en merk met verligting dat sy nog haar bloesie en denimbroek aanhet.

Sy hoor hom lag en gluur met moord in haar oë na hom. “Jy het ’n siek sin vir humor, Arendt … Arendt Watsenaam!” vaar sy uit, en sê dan verras: “Ek ken nie jou van nie.”

“Dalk is Arendt my van. Jy het self gesê mense noem nie hulle kinders na voëls nie. Toe, eet nou jou ontbyt voordat dit koud is.”

“Ek eet,” mompel sy, hap ’n happie spek en eier en vergeet dan om verder oor Arendt se van te wonder. Geen wonder sy het so maklik aan die slaap geraak nie: sy was halfdood van die honger. Sy kou en sluk asof sy ’n week lank gevas het.

“Elke krummeltjie,” sê Arendt oorbluf toe hy die skinkbord van haar skoot verwyder. “Jy lyk soos ’n tinktinkie, maar jy eet soos ’n honger hiëna. Jy gaan die arme oom Herman en tant Sannie bankrot eet daar op Oggendglorie. Ek hoop jy besef oom Herman is jou plaasbestuurder, nie ’n skatryk boer wat uitgehongerde gaste kan bekostig nie.”

“Jy sê die mooiste dinge, skattige Arendt,” antwoord sy sarkasties. “Toevallig weet ek Sonette se pa, Ruan, besit ’n yslike skaapplaas in Nieu-Seeland. Oom Herman kan nie te arm wees nie, want hy het Ruan gehelp om sy plaas te koop.”

“Slaap onder my dak en eet my kos en raak weer snipperig,” grom Arendt. “Die rooi tandeborsel is myne. Jy kan dit leen as jy rêrig wil.”

“Dankie, maar ek kuier so dikwels by Sonette dat ek van ’n tandeborsel tot ’n haarborsel in haar badkamer bêre,” antwoord sy vermakerig.

“Gaaf! Gaan maak klaar en kry jou ry, meisiemens. Of sal dit jou nie pla as jou Dawie hoor jy het die hele nag by my geslaap nie?”

As die vent nie soveel groter as sy was nie, het sy hom nou ’n dwarsklap gegee, dink sy smoorkwaad, haar wange gloeiend van verleentheid. Gisteraand het sy haar skok en ontsteltenis oor haar ma met hom gedeel, maar vanoggend is hy weer die uittartende, arrogante Arendt wat haar so teësinnig deur die grotte vergesel het.

Sy kyk hom met hooghartige misnoeë aan en antwoord selfversekerd: “Dawie ken my te goed om hom aan jou onsmaaklike insinuasies te steur. En ek het in Sonette se woonstel geslaap, nie by jou nie.”

“Mý woonstel, meerderwaardige meisietjie. Dink jy werklik dat ’n arm student soos wat Sonette die afgelope vier jaar was ’n ruim woonstel met twee slaapkamers kan bekostig?”

“O …” mompel Elzeri afgehaal. “Sonette het my vertel die woonstel behoort aan goeie vriende. Is dit jy en jou vrou?”

“Ek en my vrou …” begin Arendt, en swyg toe die voordeur agter hom oopgaan.

“Hallo, al die gesonde mense!” groet Sonette van Breda sonnig uit die deur.

Sy trek die gapende Dawie Coetzer die vertrek binne. “Maak jou mond toe en jou oë oop, Dawie, en groet vir Elzeri en Arendt.”

Elzeri glimlag onwillekeurig toe die lang, atleties geboude Dawie sy arms moeg strek asof hy hoop om só wakker te skrik, en dan opnuut agter sy hand gaap. Dawie werk so hard tydens sy hospitaaljaar dat hy voortdurend te min slaap kry, dink sy simpatiek. Maar vaak of wakker, hy is haar Dawie – haar vriend en broer en beste maat vandat sy kan onthou.

Dawie stoot die vingers van sy regterhand deur sy kort, blonde kuif en glimlag verskonend. “Jammer, julle, maar dinge het vannag mal gegaan in die hospitaal. Bly te kenne, Arendt,” groet hy met ’n vriendelike kopknik.

Hy loop na Elzeri en druk ’n soen op haar hare. “Hallo, my pop. Trek jou sandale aan en laat ons weg wees. Sonette vertel my julle ry oor ’n uur Oggendglorie toe.”

“Is nie,” protesteer Elzeri terwyl sy haar sandale aantrek.

“Is,” kom dit nadruklik van Arendt. “Dis ’n lang pad Noord-Kaap toe, en die plaaspaaie het nie genade met klein motortjies nie. Jou selfoon en sleutels lê op die muurtafeltjie, Elzeri. Jy kan maar jou hare en tande by die huis gaan borsel. Ons laai jou stiptelik om halfnege op.”

Elzeri ignoreer hom en kyk pleitend na Sonette. “Ek kan nie vanoggend reeds vertrek nie, Sonette. Oupa Gideon het my gisteraand van my ma vertel en daar is nog ’n duisend dinge wat ek wil weet. Ek sal oor ’n dag of twee met my eie motor kom.”

“Alleen?” vra Arendt afkeurend.

Elzeri kyk in sy ligbruin oë, wat haar met die waaksaamheid van ’n roofvoël betrag, en knyp haar oë styf toe. “Vat hom weg, Sonette. Asseblief, vat hom net weg!” pleit sy desperaat.

Sy kyk verwytend na haar oorblufte vriendin. “Ek veronderstel julle is goeie vriende as hy en sy vrou hulle woonstel vir jou leen, maar ná vandag wil ek hom nooit weer sien nie. Hy is arrogant, onbeskof en befoeterd, en hy behandel my asof ek net nog ’n skaap is. Ek kan heeltemal verstaan waarom jy my nooit van hom vertel het nie. Ek sou ook skaam gewees het om oor hom te praat as hy my vriend was.”

“Wat het jy met haar aangevang, Arendt?” vra Sonette en draai beskuldigend na hom.

“Op die aarde niks nie, maar nou wens ek ek het!” antwoord hy onstuimig.

“Toe nou maar, Elzeri,” kom dit paaiend van Dawie terwyl hy sy arm om haar skouers slaan en haar ’n drukkie gee.

“My meisie is altyd omgekrap as sy nie in haar eie bed geslaap het nie,” verduidelik hy partydig en kyk krities na die rusbank. “Geen mens kan op so ’n smal bank slaap nie. Jy het Sonette gebel om te sê Elzeri het op die bank aan die slaap geraak, Arendt. Kon jy haar nie na ’n bed toe dra nie?”

“Nee. My skape slaap waar hulle gaan lê,” snou Arendt hom toe.

Hy draai na Sonette. “En nou gaan ek my tande borsel en in die badkamer wegkruip totdat jy van jou lastige kuiergaste ontslae geraak het, Sonette. En sê vir jou oupa en ouma ek sit nie my voete in hulle opstal terwyl hierdie snipperige meisiemens daar kuier nie!”

Sonette staar hom verdwaas agterna toe hy met lang hale die sitkamer uitstap.

Sy draai verward na Elzeri. “Wat het jy gedoen om van Arendt ’n vyand te maak, Elzeri? Hy is die verdraagsaamste mens wat ek ken, maar as hy as gevolg van jou nie by my oupa-hulle wil kuier nie …” Nuuskierigheid laat verhelder haar gesig. “Vertel, mens! Waaroor het julle rusie gehad?”

“Dalk is dit my swart hare en my groen oë,” antwoord Elzeri misnoeg. “Ek wed sy vrou is ’n lang, slanke rooikop met blou oë soos jy, want Arendt het my aangegluur nog voordat oupa Gideon hom aan my voorgestel het. Sal jou oupa-hulle vies wees as Arendt ter wille van my wegbly van Oggendglorie af?”

“Natuurlik nie. En as jy werklik nie saam met my en Arendt wil ry nie, verwag ons jou voor die naweek op Oggendglorie,” antwoord Sonette, en vergesel Elzeri en Dawie geselsend na hulle motors.

Gideon laat sak sy koerant en kyk met vonkelende oë na Elzeri, wat ná ’n vinnige stort sy studeerkamer binnekom.

“Jy lyk silwerskoon en splinternuut, kleinding. Het dit gehelp om gisteraand met Arendt oor jou onbekende ma te gesels?” vra hy en poog om met ’n glimlag sy kommer te verberg.

“Ek was so simpel, Oupa. Ek het soos ’n baba gehuil, selfs al weet ek nou nog nie waarom ek gehuil het nie,” vertel sy afgehaal terwyl sy op ’n donkerbruin leerstoel voor sy lessenaar gaan sit. “Dalk was dit die skok om te hoor my ma leef nog, of die hartseer omdat sy my nie wou gehad het nie. Dit was so ’n deurmekaar aand en Arendt …”

Sy swyg fronsend, haar oë nikssiende op die tapyt. Dan kyk sy op en sê venynig: “Hy is die dominerendste man wat ek ken! Oupa weet mos: daar is mense wat ’n mens kriewelrig laat voel. Arendt laat my kriewelrig voel, so asof ek nie in my eie vel pas nie.”

“E … ja, as jy so sê.” Gideon verbloem ’n glimlag met ’n kuggie agter sy hand en vra belangstellend: “Kon Arendt jou enigiets oor jou ma vertel?”

“Net dat sy ’n mooi blonde vrou is en dat sy haar maklik deur ander mense laat voorskryf – of so iets. Is my ma ’n swakkeling, Oupa?”

“Allermins. Jou pa, Dandus, en jou ma, Riana Benadé, het soos jy en Dawie saam as buurkinders grootgeword. Riana was –”

“Ek onthou nou!” val Elzeri hom in die rede. “Leon Benadé was oupa se vennoot, totdat hy en sy vrou na Nieu-Seeland geëmigreer het. Hy is my oupa! En Oupa gaan volgende week by hom kuier. Hoekom kan ek nie saamgaan nie, Oupa?”

“Stadig, Elzeri, stadig. Leon Benadé is ’n neef van jou oupa Gerhard Benadé. Riana se ouers was meer as twintig jaar ouer as ek en Beth, en Riana was hulle enigste kind en ’n laatlammetjie. Jou oupa en ouma Benadé is albei reeds oorlede, kleinding,” verduidelik Gideon, sy stemtoon paaiend.

“O … Ek het darem nog vir Oupa,” troos sy haarself en vra nuuskierig: “Was Oupa en ouma Beth bly toe my pa en ma getroud is? Het Oupa-hulle van my ma gehou?”

“Ons was baie lief vir Riana, maar hulle huwelik … Nee, ons was nie gelukkig oor hulle besluit om op een-en-twintig te trou nie. Riana was volwasse genoeg vir so ’n belangrike stap, maar Dandus?” Gideon skud sy kop. “Dandus was ’n intelligente, talentvolle jong man, met die klem op jonk. Beth … ek en jou ouma het te maklik aan Dandus se versoeke toegegee, en hom moontlik tot in die afgrond bederf omdat hy so kosbaar vir ons albei was.”

“Maar Oupa bederf my ook,” kom dit onbegrypend van Elzeri.

“Nie soos ons Dandus bederf het nie. Hy was veronderstel om op universiteit te wees, om soos Riana sy graad binne vier jaar te verwerf, maar Dandus het vir avontuur geleef. Hy was dol oor bergklim, diepseeduik en gereelde skivakansies in Switserland. Ek het soms my stem dik gemaak, maar Beth het my altyd daaraan herinner dat Dandus jonk is, dat hy die reg het om sy jeug te geniet, en dat daar oorgenoeg tyd was vir studie en die verantwoordelikheid van ’n volwassene.”

“Maar waarom was hy so haastig om te trou as hy soveel van ’n avontuurlike lewe gehou het, Oupa?”

Gideon glimlag wrang. “Wat sy motivering was, kan ek jou nie sê nie, maar ek weet wat ons kant van die saak was. Ek het jou gister so te sê gedwing om saam met Arendt die Sterkfonteingrotte te besigtig omdat ek reeds vir twee kaartjies betaal het. Ek en Beth het jou geleer om nie geld te mors nie, en ons het ook geleer om nee te sê vir jou. Wat Dandus gevra het, het hy gekry. Daarom het ek en Beth ná enkele halfhartige besware ingestem dat hy en Riana trou. Moontlik het ons albei heimlik gehoop dat ’n huwelik Dandus verantwoordelikheid sou leer en groter bestendigheid in sy lewe sou bring. Ongelukkig het dit nie gebeur nie.”

Elzeri sien die uitdrukking van teleurstelling en selfverwyt op Gideon se gelaat en sê aarselend: “My ma was nie gelukkig nie, want ek wed my pa was liewer vir sy lewe van avontuur as vir haar. Dis waar, nè, Oupa?”

Gideon sug diep en maak ’n afwerende handgebaar. “Dandus was ’n mens wat vir die oomblik geleef het, Elzeri. As hy by Riana was, was hy lief vir haar, maar ander mense en vreemde horisonne het hom altyd weggelok. Soms maak ek myself wys dat hy onbewustelik geweet het dat hy nooit oud sou word nie, daarom moes hy soveel moontlik sien en ervaar voor sy dood.”

“Maar wat van my ma, Oupa? Moes sy altyd alleen agterbly?”

“Jou ma was bewus van Dandus se liefde vir avontuur, van sy volkome selfsug en onverantwoordelikheid teenoor andere as sy geluk in die gedrang was. Sy het hom so goed geken soos wat jy vir Dawie ken, daarom kon sy Dandus nie ná hulle troue verwyt oor sy leefwyse nie,” antwoord Gideon gelykmatig.

“Was my pa darem bly toe ek gebore is, Oupa?” vra sy onwillig, bewus van ’n hinderlike gevoel van vyandigheid teenoor haar onbekende pa.

Gideon se oë soek hare en hou haar blik oomblikke lank gevange, voordat hy stroef antwoord: “Jou pa het ’n paar dae voor jou geboorte in die sneeustorting op St. Moritz in Switserland gesterf, Elzeri. Ek speel nie regter oor my eie seun nie, maar noudat jy die feite ken, sal jy makliker kan verstaan en oordeel as jy jou ma ontmoet. Sien jy nog kans om haar te leer ken, kleinding?”

Sy aarsel, skud dan haar kop en antwoord verslae: “Nie nou nie, Oupa. Miskien nooit nie. Ek moet nog eers gewoond raak aan die gedagte dat my ma my weggegee het, en dat my pa nie eens tuis wou wees vir my geboorte nie.”

Elzeri het haar oupa plegtig beloof dat sy nie in die donker sal bestuur nie, maar dit was voordat nagswart reënwolke skielik die son ontvoer en die Karooland-skap in ’n sinistere skemerwêreld omskep het. Sy konsentreer met oë wat effens geskreef is op die teerpad, wat glinsternat in die kopligte van haar motor voor haar uitkronkel.

Miskien moes sy op Victoria-Wes oornag het, tob sy, maar Strachanville is die naaste dorp aan Oggendglorie, daarom het sy besluit om deur te druk. Sy slaak ’n sug van verligting toe sy deur die klein Karoodorpie ry en draai regs op ’n grondpad.

Sonette wag op Oggendglorie. Sonette sal haar vrae oor haar ouers kan beantwoord – Sonette en die ander mense wat haar ma ken. Selfs Arendt.

Nee, beslis nie Arendt nie, dink sy. Hy het reeds beloof om nie sy voete op Oggendglorie te sit terwyl sy daar kuier nie. Hoekom hou Arendt nie van haar nie?

Sy klap haar tong ergerlik. Sy is duidelik oormoeg, daarom wonder sy waarom ’n getroude man nie van haar hou nie. Sy vrou is heel waarskynlik net so onaangenaam soos hy, besluit sy. Tog voel dit asof sy iets kosbaars verloor het.

Die eerste groot reëndruppels spat teen haar windskerm en val eers stadig, ploffend, en dan in ’n druisende dans op die dak van haar motor. Haar avontuurlustige pa sou hierdie situasie geniet het, maar sy is Elzeri en sy is bang vir die donker en banger vir die dreunende donderslae en verblindende weerligstrale.

Sy sien net betyds die indrukwekkende klipingang na Oggendglorie, draai regs en ry deur die oopstaande gegote ysterhekke. Met haar kneukels wit om die stuurwiel geklem, kruip haar motortjie glyend en plassend oor die glibberige modderpad teen ’n hoogte uit.

“Stop! Halt! Hou stil!” skreeu ’n grys gevaarte wat asof van nêrens in die pad voor haar opdoem en haar met wuiwende arms tot stilstand probeer dwing.

Elzeri dink nie en trap die rempedaal weg. Sy voel hoe haar motor in die rondte tol voordat die buffer ’n grondwal tref en die motor tot stilstand dwing.

“Dankie … ek leef nog,” prewel sy en stoot haar motordeur versigtig oop.

Langs haar word die motordeur uit haar hand geruk en ’n bulderende stem snou haar toe: “Die Ongersrivier is in vloed, onnosele meisiemens! Vyftig meter verder, en die water het jou van die laagwaterbrug af see toe gespoel!”

“Jy!” hyg sy, kortasem van skok toe sy Arendt se sterk gelaatstrekke in die gloed van die dakliggie herken. “Trap van my grond af, jou ellendige plakker!”

“Mý grond, snip! Klim uit en stap!” antwoord hy gebiedend en help haar uit die motor.

Iemand soos jy

Подняться наверх