Читать книгу Ruiter van my drome - Schalkie van Wyk - Страница 3
Оглавление1
Zandri de Klerk glimlag onwillekeurig terwyl sy voor die toonbank van die Springbok Kafee wag dat die tydsame tant Breggie Toerien met haar wat Zandri is se hamtoebroodjie uit die kombuis terugkeer. Dis so tipies van dié plattelandse dorpie, nes Zandri dit onthou: Almal op Wyedraai het hope tyd, en om haastig of ongeduldig te wees word beskou as ’n gebrek aan goeie maniere.
“Met of sonder mosterd, Zandri?” roep Breggie uit die kombuis, haar vraag so tydsaam soos haar hande.
“Net ham en tamatie, tannie, sonder mosterd, asseblief.” Zandri sien haarself in die lang spieël agter die toonbank, half versteek tussen pakkies kougom, suigstokkies en boksies vuurhoutjies, en sy wriemel haar neus afkeurend. Sy lyk soos sy voel, dink sy: warm en verlep. Sy vee ’n sliert goudblonde hare uit haar oë.
Sewe jaar gelede het sy tydig en ontydig hier by die kafee ingeloer, bloot om haarself met behulp van dié einste spieël te verseker dat sy op sewentien ongetwyfeld oor ’n onweerstaanbare skoonheid beskik het – so kies haar gedagtes koers na haar half vergete gisters. Met oë so blou soos hiasinte, digte, saggolwende blonde hare, ’n pikante neusie en verleidelike, vol lippe het sy reeds sedert haar vroeë tienerjare geweet seuns vind haar aantreklik.
Maar op sewentien wou sy beeldskoon wees net ter wille van één man – die man wat sy, met die malse heerlikheid en vergeefse verlange van eerste liefde, die ruiter van haar drome genoem het.
Haar ruiter het egter nie haar liefde gedeel nie; hy het uit haar drome en haar lewe gery, sonder om om te kyk, dink sy nou vir die eerste keer in ’n taamlike lang tyd. Sy glimlag weer, dié keer bedroë.
“Dan is jy terug, Alexandra?” vra ’n vyandige manstem sonder waarskuwing langs haar.
Zandri herken Ferdinand Adelmann se donker stem selfs voordat sy sy spieëlbeeld langs hare gewaar. Hy troon lank en breedgeskouer oor haar met ’n grimmige uitdrukking op sy sonbruin gesig en sy gespierde arms oor sy bors gekruis.
Sy kyk met vraende wonder na hom. Wat het dan verander? Hy is nog altyd ’n aantreklike, donker man met sterk gelaatstrekke, en tog . . . Eens op ’n tyd kon sy haar verkyk aan Ferdinand se swart kuif wat as gevolg van ’n kroontjie in sy hare altyd terugval op sy hoë voorkop. Sewe jaar gelede het sy donkerbruin oë, omraam deur lang, digte wimpers, haar na asem laat snak, en die volmaaktheid van sy ferm maar sensuele lippe het rillings van ekstase langs haar ruggraat af gestuur. Sy wou met haar vingers oor sy hoë wangbene streel en die kuiltjie in sy ken vlindersag met haar lippe aanraak, en droom . . . droom dat hy haar liefhet.
Haar tienerliefde het haar blind gemaak vir Ferdinand se opsigtelike arrogansie, dink sy, nou geïrriteer deur sy selfversekerde houding en die sardoniese lig van sy regterwenkbrou terwyl hy op haar reaksie wag.
Haar oë ontmoet syne in die spieël. “Is ons nie te oud vir kinderspeletjies nie, Ferdinand? Ek bloos lankal nie meer van boosaardigheid as iemand my op my doopnaam noem nie,” sê sy neutraal.
Hy laat sy blik tydsaam oor haar loop, en knik. “Ek veronderstel niks maak ’n mens gouer volwasse as die rol van ongehude moeder nie. Het jy jou kind saamgebring?”
Sy woorde ruk met die fisieke pyn van ’n dolksteek deur haar en sy kyk haastig af om haar emosies te versteek. Háár kind? Waarom glo Ferdinand dat Robbie haar kind is? Sy is so ontsteld dat sy bewe van binne. Dis diep vernederend dat Ferdinand so ’n aantyging kan maak. Robbie se ma het haar oor en oor verseker dat niemand op Wyedraai van die seuntjie se bestaan bewus is nie. As Ferdinand van hom weet, beteken dit dan die hele dorp weet? En dink almal hy behoort aan haar?
“Ek is jammer as my vraag te persoonlik was, Zandri. Maar nadat die Jordaans jou en die seun in Julie in Londen raakgeloop het, is dit tog vanselfsprekend dat hulle almal op die dorp daarvan vertel het,” sê Ferdinand toe sy stilbly.
Hy sê hy is jammer, maar hy klínk nie jammer nie, besef sy met opstuwende ergernis. Haar oë soek syne in die spieël en sy sien afkeer en teleurstelling wat mekaar op sy gesig afwissel. Sewe jaar gelede het sy geweet Ferdinand het haar nie lief nie, maar sy het geglo hy is darem haar vriend – selfs ’n vertroueling, dink sy met teleurstelling wat sy vergeefs probeer ignoreer.
Sedert haar laerskooljare het sy al haar somervakansies by haar grootoom Alexander, jare lank ’n befaamde teler van resiesperde, op sy plaas, Reënboogrant, deurgebring. Ferdinand, die oudste seun van die veearts op Wyedraai, was reeds ’n eerstejaarstudent op Onderstepoort toe sy hom ontmoet het. Hy het haar liefde vir perde gedeel en was ’n daaglikse besoeker aan die stalle op Reënboogrant om sy tyd saam met oom Alexander en die perde deur te bring. Ferdinand het Zandri altyd met galante hoflikheid soos ’n gelyke behandel, haar gehelp om haar perdrystyl te verbeter en nooit ongeduldig geword oor haar eindelose vrae oor perde en perdry nie. Haar heldeverering vir hom het tydens die Desembervakansie ná haar matriekjaar in die skaam en desperate liefde van ’n tiener verander en sy het op die vlug geslaan . . .
“Moet jou nie oor my óf my reputasie bekommer nie, Ferdinand,” sê sy. Sy slaag daarin om onverskillig te klink, hoor sy tevrede, maar dit verberg nie die vuur in haar oë nie. “Ek moes geweet het Odette Jordaan sou nie kon wag om so’n smaaklike brokkie skindernuus oor te vertel nie. Sy kon my nooit daarvoor vergewe dat ek gelag het toe sy met haar eerste en laaste probeerslag om perd te ry agterstevoor op die saal beland het nie. Maar as jy dan moet weet: Robbie het saam met my en my ouers huis toe gekom, en ja, ek is ongetroud. Nou kan jy saam met Odette oor my skinder.”
“Miskien het Odette jou onwetend ’n guns bewys. Aangesien die dorpenaars reeds bewus is van jou kind, sal hulle jou nie met vrae bestook noudat . . .” Ferdinand kug homself tot stilte toe Breggie Toerien, ’n somber, grys vroutjie geklee in ’n grys oorjas, uit die kombuis geskuifelstap kom.
“Een ham-en-tamatietoebroodjie en ’n bottel water. Sal dit al wees, Zandri?” vra Breggie, reeds besig om die items op te lui.
“Ja, dankie, tannie,” antwoord Zandri met ’n gedwonge glimlag en gee vir Breggie ’n geldnoot.
“Het jy niks kleiner nie?” teem sy met droewige verwyt, maar haal tog die kleingeld uit die kasregister. “Ryk mense is ’n beslommernis, julle vat altyd al my kleingeld. Hier’s jou geld, Zandri. Middag, doktor Ferdinand. Jy groet ook nie. Ag, ek is jammer, Zandri – ek het vergeet om te sê hoe jammer ek is oor die skielike oorlye van jou grootoom Alexander. Darem nie te skielik nie, nè, die ou oom was ook al in sy negentigs. Gaan jy en jou seuntjie op Reënboogrant . . .?”
“Ek sal môre weer kom inloer, tant Breggie. Ek het oom Martiens belowe ek sal voor tweeuur by hom wees,” val Zandri haar verskonend in die rede, prop haar kleingeld in ’n sak van haar jeans en raap die toebroodjie en water op. “Tot siens, tannie,” groet sy haastig, reeds op pad na die deur.
“Nou vir wat groet sy jou dan nie, doktor Ferdinand? Was julle tweetjies nie altyd vriende nie?” Breggie se nuuskierige vrae bereik Zandri se ore al is sy reeds buite en laat haar drafstap na haar metaalgrys viertrekvoertuig wat langs die sypaadjie geparkeer staan.
Sy is verantwoordelik vir haar eie ondergang, dink sy wrang terwyl sy die enjin aanskakel en in die hoofstraat van Wyedraai af ry. Sy het Odette se ouers nooit goed geken nie, maar Odette het tydens hul tienerjare besluit sy is Zandri se vakansievriendin, bloot omdat Odette na ’n rede gesoek het om Reënboogrant tydig en ontydig te besoek in die hoop om Ferdinand te siene te kry.
Zandri het Odette aanvanklik bejammer oor haar verspotte verliefdheid op ’n man wat agt jaar ouer as hulle was – en toe trap sy in dieselfde slaggat en kry Ferdinand self lief. Sy twyfel of Odette bewus was van haar romantiese liefde vir hom, maar Odette was in elk geval van jongs af jaloers op haar – Ferdinand het nooit ’n geheim gemaak van sy spesiale vriendskap met Zandri nie.
Sy was oom Alexander se kleinniggie, ’n uitstekende ruiter, en haar belangstelling in perde het ’n hegte vriendskapsband tussen haar en Ferdinand tot gevolg gehad – vriendskap, maar niks meer nie. Odette se opsigtelike vrees vir perde kon haar nie weghou van Ferdinand nie, selfs al het hy haar meestal geïgnoreer.
En toe was Zandri en Robbie in Hyde Park in Londen besig om die swane, ganse en ander watervoëls langs die Serpentine te voer toe die Jordaans onverwags by hulle aansluit. Odette wou vanselfsprekend weet of die vyfjarige Robbie Zandri se kind is, en Zandri het skertsend geantwoord: “Hoe anders? Kan jy nie sien hy lyk op ’n haar soos ek nie?”
Dit was ’n ooglopende grap, want sy is blond en Robbie donker, maar dit het Odette gepas om haar woorde letterlik op te neem – veral nadat Zandri op ’n vraag van Odette se ma verduidelik het dat sy as fisioterapeut in ’n Londense hospitaal praktiseer en ongetroud is. Odette het natuurlik gebrand om so ’n heerlike stuk skindernuus aan Ferdinand en almal wat wou luister oor te dra.
“Jaloerse katwyfie!” sis Zandri saggies, besef dat sy teen onnodige snelheid by die dierehospitaal verbyjaag, haal haar voet van die brandstofpedaal af en trap die remme. Sy draai in by die ingang tot Reënboogrant, wat langs die dierehospitaal geleë is, en volg die netjiese geplaveide rylaan na die ruim woning. Die oorspronklike plaasopstal was ’n vierkantige sandsteengebou, maar deur die jare het elke geslag toevoegings in rooi en geel bakstene gemaak en die opstal só in ’n laslappiewoning omskep.
Die laslappiehuis met sy talle onverwagte trappe en kronkelgangetjies is, danksy haar eksentrieke grootoom Alexander se testament, nou haar eiendom, hoe verrassend dit ook mag wees. Zandri glimlag met die trots van eienaarskap toe sy haar voertuig onder ’n wildevyeboom voor die huis tot stilstand bring.
Sy raap haar toebroodjie en water op en klim vinnig uit toe sy die lang, lenige gestalte van Martiens Dippenaar op die smal stoep gewaar. Martiens spog graag dat hy eens geseënd was met digte rooi krulhare, maar sedert sy hom ken, pryk slegs enkele haartjies op sy kop, met ’n smal spierwit strepie bokant sy ore om sy bles af te rond. Martiens is vyf-en-sestig, dertig jaar jonger as wat haar oom Alexander geword het, maar hy loop nog met die grasie van ’n jongman. In sy jeug was hy die bekwame stalbestuurder van Reënboogrant, maar dit was voor haar geboorte, toe oom Alexander nog met resiesperde geteel het.
“Jy het nie die seuntjie saamgebring nie,” sê Martiens teleurgesteld, sy blik soekend op die voertuig asof hy hoop om verras te word. “Hoe oud is die knaap? Hou hy nie van perde nie?”
“Dag, oom Martiens,” groet Zandri met ’n hulpelose laggie. “Het Odette Jordaan sowaar die moeite gedoen om vir oom ook te kom vertel ek is ’n ongehude ma?”
“Hoe nou?” Martiens krap verward met die vingers van sy regterhand agter een oor. “Alexander . . . wyle meneer Alexander het my so ’n maand voor sy skielike heengaan vertel dat jy Desember kom kuier en ’n seuntjie sal saambring. Hy was so opgewonde oor die kind se kuiertjie. Meneer Alexander het mos geglo dat kinders van hulle babadae af moet perdry, jy weet mos, Zandri. Hy het altyd soos Winston Churchill gesê: Iets aan die buitekant van ’n perd is goed vir die binnekant van ’n mens.”
En iets aan die binnekant van oom Alexander was goed vir my, dink Zandri en besef vir die eerste keer werklik watter belangrike rol haar grootoom in haar lewe gespeel het, en hoeveel sy hom sal mis.
“Klein Robbie het pas ses geword, oom Martiens. My ouers het ’n paar weke verlof geneem om die ysige weer in Engeland te ontsnap. Hulle kuier by my oupa en ouma en vir tyd en wyl pas my ma vir klein Robbie op. Hy is gelukkig by haar, sy is soos ’n ouma vir hom. Sodra my ouers teruggaan Cambridge toe, sal ek Robbie hierheen bring. Maar ek het soveel dinge om nou te beplan en te doen dat ek nie tyd sal hê om na Robbie om te sien nie,” sê Zandri, nog nie seker presies wat haar oom alles oor Robbie vertel het nie. Sy het in die praat stoep toe gestap en staan nou langs Martiens en kyk na die werf.
“Ék sou mos tyd gehad het,” verwyt hy haar en vervolg dan ná ’n minagtende snorkgeluidjie deur sy neus: “Vyf mak perde en drie stalwerkers is nie genoeg om my besig te hou nie. Gelukkig bring die boere so dan en wan ook hulle perde om beslaan te word, ek ken mos van die hoefsmidbesigheid. Robbie sal dit geniet om te sien hoe ’n perd beslaan word – hy is tog nie ’n pieperige klein Engelsman nie?”
“Allermins!” antwoord sy laggend. “Ons het gesorg dat hy Afrikaans vlot praat, want hy sal volgende jaar heel waarskynlik hier op Wyedraai begin skoolgaan. Oom sal oorgenoeg geleentheid kry om van Robbie ’n bekwame ruiter te maak, moenie bekommer nie.”
“Nie met skoolwerk wat tussenin foeter nie,” mor Martiens en kyk haar skerp aan. “Ek moet weet, Zandri, die onsekerheid vreet aan my: Gaan jy Reënboogrant verkoop?”
“Wil oom die plaas koop?” vra sy, onkant gevang.
“Om wat mee te doen?” vra hy ongeduldig. “As ek veertig was, sou ek dalk my hand aan die teel van resiesperde gewaag het, maar dit kos geld wat ek nie het nie, en op my ouderdom . . . Ek is veels te jonk om aan aftree te dink en om hier op Reënboogrant tussen die perde oud te word, is my enigste begeerte. As jy die plek verkoop . . . Ek sal elders ’n heenkome moet vind.”
Sy lees die hoop in sy wakker groen oë en glimlag gerusstellend. “Ek gaan nie Reënboogrant óf die perde verkoop nie, oom Martiens. Ek weet nie of ek oom se salaris sal kan bybring nie, maar ek het definitief oom se hulp en kennis op die plaas nodig.”
Sy vinnige glimlag gee ’n jeugdige voorkoms aan sy wind- en sonverweerde gelaat. “Dis wat meneer Alexander my oor en oor verseker het: ‘Zandri is ’n De Klerk en Reënboogrant is in haar bloed, Martiens. Sy sal terugkom huis toe om haar erfenis op te eis.’ Ek wou hom glo, maar ek kon nie – nie nadat jy sewe jaar lank in die vreemde vertoef het nie. Hy het jou so gemis, Zandri. Sondae was vir hom feesdae omdat jy hom dan gebel het. Maar hoekom het jy dan nooit kom kuier nie?”
“My ouers is nou wel dokters, maar hulle is nie miljoenêrs nie, oom Martiens. Ek het vakansies gewerk om my eie sakgeld te verdien, want my studie het my ouers klaar ’n fortuin gekos. Ek sou dit nooit van hulle verwag het om boonop vir my vliegtuigkaartjies te koop terug Suid-Afrika toe nie.”
“Meneer Alexander het tog aangebied om jou te laat kom,” herinner hy haar met ’n ondertoon van verwyt in sy stem.
Zandri knik. “Ek weet, oom, maar ’n vliegtuigkaartjie is so duur . . . Ek . . . ek het nooit besef oom Alexander was so ’n welvarende man nie, sien.”
“Die man het dan resiesperde geteel en sy perde het die een na die ander resies gewen. Genugtig, dogter, jou grootoom was skatryk!” Martiens haal diep asem en maak ’n afwerende handgebaar. “Nie dat jy van dié dinge sal weet nie, hy het mos op sewentig besluit hy het genoeg van resiesbane gehad en dat dit tyd was om af te tree – en toe leef hy nog vyf-en-twintig jaar. Ons was twee ou, eensame mans hier op Reënboogrant totdat jy in ons lewe gekom het. Onthou jy nog, Zandri? Jy was ’n skugter, senuweeagtige kind van ’n jaar of tien toe meneer Alexander jou die eerste keer op ’n perd se rug getel het.”
’n Glimlag trek aan Zandri se lippe. “Ek onthou, oom. Julle moes weerskante van my perd stap en my vashou, anders sou ek afval.”
“En aan die einde van die vakansie het jy soos ’n wafferse hanswors toertjies op die perd se rug gedoen en my en meneer Alexander angsaanvalle gegee.” Martiens se kuglaggie maak sy tevredenheid met hul sukses duidelik. “Perdry het jou selfvertroue gegee en jou omtrent oornag in ’n gelukkige kind verander. Perde is goed vir kinders.”
“Dit was nie net die perde nie, oom Martiens. Julle het my verwelkom hier op Reënboogrant, my laat voel asof julle my werklik nodig het en dat ek hier hoort – dat julle huis my huis is. Ek kon voel dat julle my liefhet en vir my omgee, julle wou my gelukkig maak.”
Martiens kyk haar oomblikke lank verwonderd aan. “Hoe praat jy dan nou soos ’n kind wat nie ouerliefde geken het nie?”
“My pa het in Engeland begin praktiseer toe ek nege was, oom. Ek het geweet dat ek koshuis toe sou gaan sodra ek klaar was met graad vyf, want my ma was gretig om saam met hom in Engeland te wees. Ek het skuldig gevoel omdat ek die rede was waarom sy nie by my pa kon wees nie, en terselfdertyd was ek doodsbenoud om koshuis toe te gaan. My ma het haar eie praktyk in Pretoria gehad en ek is meestal aan die genade van die huishoudster of vriende oorgelaat. Ek was boonop ’n enigste kind, so ek was sku vir kinders. Ek het moeilik maats gemaak.” Zandri glimlag bly. “Die ooms van Reënboogrant het my laat voel ek’s iets werd, en die perde het my onafhanklikheid en dissipline geleer. Reënboogrant is in my bloed, en oom, en oom Alexander, is in my hart. Dis waarom ek nooit die plek sal kan verkoop nie.”
“Nee maar dis goed so, Zandri. Ek kan dan my woonstel naas die hooiskuur hou, en jy weet ek sal ’n ogie op die perde en die stalwerkers hou. Ek soek ook nie betaling nie, ounooi. Meneer Alexander het voorsorg gemaak. Ek het die geselskap van perde en mense nodig, nie verdere geld nie. Met jou en die seuntjie hier sal ek nooit alleen wees nie,” sê Martiens tevrede en staar misnoeg na die toebroodjie wat sy steeds in haar hande hou.
“Daar is braaihoender en ’n skaapboud in die yskas, en allerlei terte en koek in die spens. Vars brood in die broodblik ook. Ek bak nie, maar ek het lankal geleer om vleis gaar te maak. Vir wat het jy jou geld op ou Breggie se droë toebroodjies gemors? Of meen jy meneer Alexander het van jou so ’n ryk meisie gemaak dat jy nou net van wegneemetes gaan lewe?”
“Ag, moenie mor nie, oom Martiens. Ek het nie geweet oom gaan soveel moeite doen nie. Gee maar die broodjie vir die stalwerkers. Ek hou beslis meer van die kos wat oom maak. En nou wil ek darem regtig ingaan en sien of alles hier nog dieselfde lyk!”
“Ham, sê jy? Hmm, lanklaas ’n hamtoebroodjie geëet,” mompel Martiens, reeds besig om die pakkie oop te maak, en hy stap vinnig om die hoek van die opstal.
“Oom onthou tog seker ek koop altyd net hamtoebroodjies!” roep sy onnutsig agterna en stap dan glimlaggend na die oop houtvoordeur.
* * *
Zandri klim ’n paar uur later uit die stort, hoor die voordeurklokkie lui en raap ’n badhanddoek op. Oom Martiens sal nie die klokkie lui nie en niemand weet sy is terug . . . Nee, álmal weet natuurlik teen hierdie tyd; tant Breggie staan immers bekend as die Wyedraai Koerant. Ferdinand weet ook sy’s hier, maar hy sal die afsigtelike ongehude ma sekerlik soos die pes vermy.
“Verkrampte buffel!” mompel sy terwyl sy haar hare en lyf vinnig hier en daar droog klad. Sy trek haastig ’n skoon langbroek en T-hemp aan.
“Ja, ek kom! Ek kom!” roep sy ongeduldig toe haar besoeker ’n derde maal die deurklokkie lui. Sy storm in die kronkelende gang af en gaan pluk die voordeur oop. “As daar ’n brand is, wil ek nie weet nie!” sê sy boos nog voordat die deur ordentlik oop is, kyk in die verdwaasde Andrea Bouwer se gesig vas en bars uit van die lag.
“Andrea! Ou vriendin!”
“Herken jy my sowaar? Dankie toggie!” Andrea slaan haar oë opwaarts asof sy die hemele bedank en glimlag bedroë. “Op agt-en-twintig kry ek skoon klem in die kaak as ek snags wakker skrik en onthou oor twee jaar is ek dertig, ongetroud en kinderloos, en net die Silwerjare Ouetehuis wag op my. Maar as jy my ná sewe jaar nog herken, beteken dit my talle plooie kon nog nie my opsigtelike skoonheid verberg nie.”
“Nee, jy het jou babavet verloor en skielik nogal mooi geword,” terg Zandri.
“Doodgewone bruin hare en oë en ’n groot mond is g’n mooi nie, jou leuenaar. Al my vriendinne vertel my kamstig ek’s so mooi, maar die mans ignoreer my, so hoe verklaar jy dit? Maar wag, is jy baie besig? Sal ek liewer môre na werk ’n draai kom maak?”
“Jy weet net nie hoe welkom jy is nie! Kom in, Andrea. Ek het tot dusver nog net geëet, bietjie verlore slaap ingehaal en gestort. Ons vlug van Heathrow af het vanoggend geland en ek het dadelik hierheen gekom. Is jy ook so lus vir koffie? Kom saam kombuis toe.”
“Koffie en skinder, niks anders nie,” antwoord Andrea bly, haak by Zandri in en steek voor die vergulde spieël in die voorportaal vas. “Agge nee! Daar is al my moeite met selfhipnose daarmee heen! Móés ek myself nou in die spieël langs jou gesien het? Ek is so lank en maer en kyk hoe lyk jy, perfek slank met net die regte rondings. Hoekom is die lewe so onregverdig?”
“Toe jy ronder was, het jy gekerm oor jou vetjies, klakous. Sê my, is die Mediese Man nog ongetroud?” vra Zandri skertsend.
Andrea glimlag halfhartig. “Ongetroud en onweerstaanbaar – en die gewildste man op Wyedraai, aangesien broer Ferdinand dan nou immuun is teen vroue,” sê sy terwyl hulle saam die kombuis binnegaan.
Zandri skakel die ketel aan en vra met gedwonge neutraliteit: “Is dit Ferdinand wat jou vertel het ek is terug op Reënboogrant?”
“Hoe anders? Ferdinand weet mos ek en Klara het jou onder ons vlerke geneem van jou eerste vakansie op Reënboogrant af,” sê Andrea en maak die kombuiskasdeure oop totdat sy porseleinbekers opspoor.
“Julle was vier jaar ouer as ek. Het julle my net jammer gekry?” vra sy vrolik.
“Natuurlik nie – jou oom was net so vreeslik lief vir jou. Ek en Klara het gedink as ons ekstra aandag aan jou gee, sal oom Alexander nie omgee as ons elke dag kom perdry nie,” antwoord Andrea met ’n treiterende glimlag.
“Nou maar dankie vir niks nie!” kom dit kamma vies van Zandri. “Ek het altyd geglo ons is goeie vriendinne, maar nou’s ek jammer oor al daai SMS’e wat ek op julle vermors het, en daai dae was die goed nog duur!”
Andrea lag lekker, kyk dan swygend toe terwyl Zandri vir hulle kitskoffie maak. Sy wag totdat Zandri oorkant haar aan die kombuistafel gaan sit voordat sy huiwerig sê: “Nee, Zandri, ons is regtig goeie vriende en vertrouelinge, jy weet mos. Net Klara en jy weet dat ek al van hoërskool af op Nicolas Adelmann verlief is – nee, ek hét hom lief. Toe hy besluit om ’n dokter te word, het ek so byna vir verpleegster gaan studeer, maar my liefde vir diere het gewen. En hier sit ek, al vir agt jaar lank diereverpleegster vir die Adelmanns, van alle mense. My enigste, enigste troos is dat Nicolas nou en dan by die spreekkamer kom inloer om met Ferdinand te gesels.”
Die beker koffie ruk in Zandri se hand en sy sit dit haastig op die tafelblad neer. “Help Ferdinand dan nog sy pa hier uit gedurende sy vakansies?” vra sy stil.
“Het Ferdinand of die praatsieke tant Breggie jou nie vertel nie?” vra Andrea verras, en verduidelik toe Zandri haar onbegrypend aankyk: “Ou meneer Adelmann het net gewag tot Ferdinand sy doktorsgraad gekry het, en toe besluit dat hy as ’n man van byna sewentig verdien om saam met sy vrou in hul strandhuis op Kampsbaai af te tree. Ek werk al ’n paar maande vir my nuwe baas.”
“O,” reageer Zandri geskok. “Met al sy grade het ek verwag dat Ferdinand ’n dosent sal wees, of navorsing doen of iets. Hoekom het hy homself op ’n klein dorpie kom begrawe met sy doktorsgraad?”
“Seker maar omdat dit familietradisie is dat daar ’n Adelmann as veearts op Wyedraai moet wees. Ferdinand doen wel ook navorsing oor perdevoeding. Aangesien die praktyk hier nie te veeleisend is nie, het hy heelwat tyd daarvoor.” Andrea drink ’n slukkie koffie en vra huiwerig: “Gaan jy Reënboogrant verkoop, Zandri?”
“Nooit nie!” verklaar Zandri met sekerheid en laat haar oë deur die ruim kombuis dwaal. “Die huis, die stalle – elke sentimeter van Reënboogrant herinner my aan my oom Alexander en al my gelukkige vakansies saam met hom. Selfs hierdie enorme ou kombuistafel . . . hy het volstrek geweier om daarvan ontslae te raak toe die kombuis gemoderniseer is. Dit laat my nader aan hom voel. My oupa en ouma De Klerk woon nou in my ouers se huis in Pretoria, en ek voel nooit werklik tuis daar nie. Reënboogrant is my plekkie in die son – die enigste plek waar ek regtig welkom voel. Ek is tuis.”
Andrea trek onsigbare patroontjies met haar wysvinger op die tafelblad en vra aarselend: “Gaan jy jou kind hierheen bring, of sal hy saam met jou ouers teruggaan Engeland toe?”
Zandri sien die diep blos van verleentheid op Andrea se gesig en antwoord beheers, al grief dit haar: “My ouers is hardwerkende dokters met ’n groot praktyk. Net hul skuldige gewetes dwing hulle om elke twee jaar by my oupa-hulle te kuier. My ma het beslis nie die tyd of belangstelling om Robbie groot te maak nie. So, sodra my ouers teruggaan Cambridge toe, sal Robbie hier na my toe kom.”
Andrea haal diep asem en praat vinnig, haar oë pleitend op dié van Zandri: “Die hele dorp, selfs Ferdinand, glo jy is die ma van ’n buite-egtelike kind, maar ek glo dit nie. Wie is Robbie se ouers, Zandri?” Sy vra dit met dringende erns.
Zandri lag sag en genoeglik. “Dank die hemel ek het één vriendin! Hoekom is jy dan so seker Robbie is nie my kind nie, Andrea?”
Andrea is ’n rukkie stil voordat sy praat. “Daardie laaste vakansie nadat jy jou matriekeksamen geskryf het . . . Ferdinand het mos daai vriend van hom, Josua Keyser, genooi vir die vakansie. Jy was toe so vervlaks mooi dat ek en Klara moes sukkel om nie jaloers te wees op jou nie, maar jy was nooit ’n flirt nie. Maar daardie vakansie het jy skielik verander, jy het skaamteloos met Josua geflirt en die befoeterde Ferdinand geïgnoreer. Hoekom?”
“Ek was seker maar verlief op Josua. Hy was tog baie aantreklik en ek net ’n tiener,” antwoord Zandri skouerophalend.
“Nonsens! Ek vermoed nog al die jare dat jy met Josua geflirt het juis omdat jy Ferdinand liefgekry het. Nee, moenie jou kop skud nie. Ek het jou dopgehou en gou genoeg agtergekom jy flankeer net met Josua as Ferdinand in die rondte was. Gaan jy dit ontken?”
“Met ’n skoon gewete,” sê Zandri met ’n sorgelose glimlaggie. “Jy het gelyk: Ek het skaamteloos met Josua geflankeer, maar nie omdat ek bang was dat Ferdinand sal agterkom ek is verlief op hom nie.” Sy byt op haar onderlip en vra, skielik gekwets: “Maar . . . is dit dan wat Ferdinand al die jare glo? Dat ek in Engeland gaan studeer het omdat ek naby Josua wou wees?”
“Dalk. Ons het geweet Josua het ’n pos as veearts op Peterborough naby Cambridge gekry. Jou skielike besluit om Londen toe te gaan, en om boonop Klara om te praat om saam met jou te gaan, het jou nie juis gewild gemaak onder die Adelmanns nie. Klara se ma het mos tot ’n ligte beroerte gehad, en al die Adelmanns het verwag dat Klara haar ma sou verpleeg.”
“Dis presies waarvoor Klara nie kans gesien het nie: om soos haar pa en die liewe Ferdinand heeldag haar ma te pamperlang. Jy kan dit tog nie ontken nie, Andrea: Tant Elsa maak ’n troeteldier van al haar skete. Klara het gesê haar ma se ligte beroerte was niks meer as ’n angsaanval nie. Ek glo sy was reg, want dis sewe jaar later en tant Elsa is nog springlewendig,” sê Zandri.
“Wel . . .” Andrea glimlag onnutsig. “Ja, ek vermoed tog dis ’n groot verligting vir Ferdinand en Nicolas dat tant Elsa en hul pa nou hier weg is. Maar vertel my nou: Wie is Robbie se ouers?”
“ ’n Pa en ’n ma,” antwoord Zandri beslis, en sê nadruklik: “Moenie my uitvra nie, Andrea. Wanneer julle meer moet weet, dan sal julle. As die mense van Wyedraai wil glo ek is ’n ongehude ma, laat hulle so glo. Ek is dankbaar jy weet dis nie so nie, maar moenie dit met enigiemand deel nie.”
“Nie eens met Ferdinand nie?” vra Andrea afgehaal.
“Veral nie met Ferdinand nie! Hy was so smalend oor my ongehude moederskap wat my kamstig vinnig volwasse gemaak het dat ek hom ’n dekselse harde skop kon gee! As die aap so gretig is om Odette Jordaan se skinderstories te glo, gaan ek hom nie reghelp nie. Oom Alexander het die waarheid oor Robbie geken, en hy het niemand veroordeel nie. Ek is verbaas Ferdinand het oom Alexander nie in kruisverhoor geneem oor my skielike moederskap nie – of dalk het hy,” sê Zandri bitter.
“Oom Alexander was ’n gerespekteerde man en so vreeslik oud . . . Ek twyfel of enigiemand op Wyedraai so harteloos sou kon wees. Die laaste paar jaar het oom Alexander nooit meer dorp toe gekom nie, oom Martiens het vir die inkopies gesorg. Jy ken oom Martiens: Hy is altyd so haastig om terug te kom op Reënboogrant dat hy skaars tyd het om enigiemand op die dorp te groet, wat nog om na skinderstories te luister.” Andrea staan op. “Nou ja, ek het ’n ma wat glo ek is ’n ondankbare skepsel as ek laat is vir aandete. Ek is so bly jy is terug op Reënboogrant, Zandri. Kan ek die naweek kom perdry?”
“Jy weet jy is altyd welkom, my enigste vriendin,” glimlag Zandri.
* * *
Sy wens dit was nie nodig vir haar om oom Alexander se prokureur te besoek nie. Zandri is ongemaklik bewus van die groepie nuuskieriges op die sypaadjie voor die prokureursfirma. Hulle volg haar met hul oë en praat gedemp onder mekaar. Sy klim haastig in haar voertuig en trek met protesterende bande weg toe sy Odette Jordaan uit die apteek sien stap. Enkele bekendes het haar met ’n stywe kopknik en ’n gedwonge glimlag gegroet, maar Odette sal nie huiwer om haar trompop te loop om haar oor die kind uit te vra nie.
Zandri vlieg behoorlik in die hoofstraat af, maar ry stadiger toe sy die dierehospitaal nader. Sy kyk geamuseer na die bejaarde vrou wat met ’n groot rooi tas in elke hand op die sypaadjie voor die dierehospitaal staan en wild met die regterhand se tas na Ferdinand se kop swaai. Wie op aarde is die kwaai ou tannie? Zandri trap die rempedaal byna sonder dat sy besef wat sy doen.
“Ek vermorsel jou aangesig as jy aan my of my tasse raak, Ferdinand!” hoor Zandri die vrou dreig. “Ek het jou gesê ek het ’n ander heenkome . . .” Sy breek haar betigting af toe sy Zandri gewaar en dan glimlag sy, stralend van verligting. “Ja, hier is die kind nou! Sy het gesê sy sal my na my nuwe blyplekkie toe neem.”
Onthuts sien Zandri hoe die vrou met ’n verrassende huppelstappie op haar voertuig afpeil, met Ferdinand kort op haar hakke. Hy bars uit nog voor hulle langs haar motor staan:
“Wat besiel jou om met my tant Ragie te konkel, Zandri? Hoe ken jy haar ooit? Jy is nog nie vier-en-twintig uur terug op die dorp nie, maar jy bemoei jou reeds met sake wat jou nie raak nie. Het jy nie genoeg probleme van jou eie nie?” Ferdinand se stem is bars en daar is afkeer in elke lyn van sy gelaat.
Zandri kyk in sy blitsende oë en glimlag uittartend. “Jy het jou eerste met my sake bemoei, Ferdinand. Jou tant Ragie is nou een van my persoonlike probleme,” antwoord sy doodluiters, net half bewus van die vrou wat haar tasse op die agtersitplek gooi en dan haarself steunend op die passasiersitplek inwurm.
“Ry, kintatjie, ry! Die arme drommel weet als van perde, maar g’n niks van mense nie,” blaas Ragie, kortasem ná haar struweling met Ferdinand. Hy hou egter die oop deur langs sy tant Ragie vas en sê dreigend:
“Klim hier uit, tant Ragie. As dit moet, tel ek tannie self uit die motor en dra tannie terug na tannie se kamer!”
’n Genoeglike laggie borrel oor Ragie se lippe. “Sukkel jy met jou oë, boetman? As ek effentjies op my tone staan, kyk ek jou vierkant in die oë – en ek is ’n gewigtige vrou met magtige spiere. Tel my op, Ferdinand, en jy breek jou rug, en moenie verwag dat ek jou sal verpleeg nie.” Haar gesigsuitdrukking koggel hom behoorlik.
Ferdinand leun in die motor in en kyk die geamuseerde Zandri stroef aan. “Jy’t hiervoor gesoek, Zandri,” sê hy vies, wend hom dan tot Ragie en sê: “Zandri is einste die beginsellose meisietjie oor wie tannie en tant Breggie so lekker geskinder het. Gaan tannie nog steeds saam met haar ry?”