Читать книгу Ruiter van my drome - Schalkie van Wyk - Страница 4
Оглавление2
Zandri weet dat dit woede en nie verleentheid nie is wat ’n vuurwarm blos oor haar nek stoot en haar wange laat gloei. Sy ignoreer Ferdinand en kyk eerder net afwagtend na die groot vrou wat langs haar sit.
Ragie staar Ferdinand oomblikke lank sprakeloos aan en bekyk Zandri dan met ernstige belangstelling. Sy glimlag skielik en tik Zandri liggies op haar hand.
“As dieselfde geluk my getref het, my kinta, het ek nie op my oudag stoksielalleen en verstote op die vlakte gesit nie. Glo my, Zandri’tjie, niks maak ’n mens ryker as ’n kind se liefde nie.”
“Dis waar, tannie, liefde is die grootste rykdom,” antwoord Zandri en weet dat sy vir die res van haar lewe vir tant Ragie sal liefhê oor daardie woorde. Sy glimlag met lieftallige onskuld vir die fronsende Ferdinand.
“Dankie dat jy tant Ragie solank van my seuntjie vertel het, Ferdinand. As jy die deur toemaak, sal ons graag wil vertrek.”
“My tante ly aan alzheimersiekte! Sy waarsku my en Nicolas voortdurend teen . . . teen . . .” Hy breek af en gluur Zandri net aan.
“Teen meisies soos ek?” vra Zandri met ’n guitige glimlaggie. “Moet jou nie kwel nie, Ferdinand. Oom Alexander het my ook jare lank teen mans soos jy gewaarsku.”
“Sê hom, my skapie!” kom dit ingenome van Ragie. Sy draai na Ferdinand en gaan onstuimig voort: “Ek het al my breinselle verloor die dag toe jy my in daardie dodehuis gestop het, Ferdinand. Ek is sestig, nie seniel of sterwend nie. As jou ma nie haar lewe lank aan ipekonders gely het nie, het ek nog altyd as hospitaalsuster gewerk. Tot siens, broertjie. Bly voortaan weg van my – hoe verder weg, hoe beter! Jy en jou vervlakste alzheimerpraatjies!”
“Tannie kan nie weer gaan werk nie! Tannie moet so gou moontlik ’n rugoperasie –” protesteer Ferdinand, maar hy tree haastig agteruit toe Ragie Zandri se skouersak opraap en roekeloos daarmee na sy kop swaai. Ragie klap haar deur toe en roep jubelend: “Ry, my kintatjie, ry!”
Zandri trek weg, ry verby die ingang tot Reënboogrant en tot oor die naaste bult. Dan parkeer sy onder ’n skaduboom langs die pad.
“Waarheen is ons op pad, tannie?” Sy kyk simpatiek na Ragie wat handewringend langs haar sit met ’n diep kwelfrons tussen haar wenkbroue.
“Ag, my skapie, as ek geweet het, het ek jou gesê,” antwoord Ragie wanhopig en sug verwese.
Zandri bekyk die vreemde vrou langs haar met onverbloemde nuuskierigheid. Ragie lyk soos die Adelmanns, met dieselfde donker oë en sterk gelaatstrekke. Haar digte hare is grys en netjies versorg, maar haar groot ledemate en gespierde liggaamsbou doen afbreuk aan haar vroulikheid. Klara was gelukkig om haar ma se fyn gelaatstrekke en liggaamsbou te erf, want die Adelmann-vroue kan nie juis aanspraak maak op fisieke skoonheid nie, dink Zandri, jammer vir die groot vrou wat roerloos sit en voor haar uitstaar. As Ferdinand tant Ragie se vyand is, maak dit haar en tant Ragie bondgenote, besluit sy, en vra aarselend: “Het tannie weggeloop van die Adelmanns se huis af?”
“Nee, my kinta. Ek het ontsnap uit die dodehuis waarin daardie skarminkel my geprop het,” antwoord Ragie bitter.
“Is Ferdinand nou die skarminkel, tannie?”
“Wie anders? Nicolas het ’n goeie hartjie, maar hy bly in die woonstel langs sy en ou dokter Kemp se spreekkamers en al wou hy hoe graag, kan hy my nie met ’n blyplekkie help nie. Ek het hom die dood voor die oë gesweer as hy sy broer die waarheid oor my rug vertel – en toe stop die dessitse Ferdinand my net daar in die dodehuis,” vertel Ragie met bittere verwyt.
“E . . . watse dodehuis, tant Ragie?”
Ragie proeslag langs Zandri. “G’n wonder jy loer so versigtig na my nie, my skapie, maar ek is nog nie heeltemal kinds nie, al klink dit so. Dis my naam vir daardie plek: die Silwerjare Ouetehuis. Dis nie ’n ouetehuis nie, kind, dis ’n wag-om-dood-te-gaan-plek. Daar sit die ou spulletjie op ’n hoop, vertroetel hulle skete en kwale en spog met hulle bottels vol pille en medisynes en hulle hope kinders, kleinkinders en agterkleinkinders. En gaan een van hulle dood, loer hulle na mekaar en vra: Wie is die volgende een wat lepel in die dak gaan steek? En dan hou hulle begrafnis in hulle deftigste kleertjies en eet hulle oorhoeks op die begrafnistee waar die tafels kreun onder al die koek en tert. Weet jy hoekom gaan die ou spulletjie begrafnis toe, my liefie?”
“As ’n laaste eerbetoon, seker, tannie,” antwoord Zandri, nie seker of sy durf lag oor Ragie se beskrywing nie.
“Eerbetoon se voet! Hulle gaan net om te sê: ‘Whê-whê, ek lewe nog!’ ”
Zandri bars uit van die lag en hoor verlig dat Ragie saamlag. “Is dit regtig so erg, tant Ragie?” vra sy toe die lagbui bedaar.
Ragie glimlag bedroë. “Seker nie vir almal nie, liefie. Ek meen, as ek negentig en sieklik was, sou ek nie omgegee het om in die sonnetjie te sit en bak en heeldag en aldag koek en tee saam met my vriendinne te geniet nie. Ek het ’n paar gawe vroue leer ken, maar met net ’n spul oumense om my . . . Ek is te energiek, te lief vir kinders en jongmense, om dag na dag in ’n spul ou gesigte vas te kyk. As ek nie vier-en-sestig was nie . . .”
“Is tannie nou sestig of vier-en-sestig?”
“Sestig klink jonger,” antwoord Ragie ongeduldig. “Ek het nie die geld nodig nie, maar ek sal alte graag weer wil verpleeg, verkieslik in ’n kinderhospitaal. Ek is so lief vir kinders. Ek het jare lank met gestremdetjies gewerk – ’n mens word baie lief vir die ou goedjies.”
“Dis dan jammer tannie het nou las van tannie se rug,” sê Zandri spytig.
“Hoekom glo jy ek . . .?” begin Ragie verbaas, swyg ’n paar oomblikke en vervolg met ’n skuldige laggie: “Sonde is sonde, hartjie, maar soms is ’n goeie liegstorie ’n mens se enigste verlossing. Verstaan jy, my skapie?”
“E . . . ek dink so, tannie. Ek was ook al in ’n situasie waar ek moes jok om iemand te beskerm,” antwoord Zandri aarselend, nie juis seker waarna Ragie verwys nie.
“Dis net ’n amper-sonde, ou kintatjie, maar ek moes lieg en bedrieg om myself te beskerm – en die arme dokter Kemp en jong Nicolas moes kliphard saamlieg, anders het ek nou op Kampsbaai gesit en vir die res van my lewe Elsa Adelmann se ipekonders probeer gesond dokter,” vertel Ragie onstuimig.
“Oom Martiens het al so dikwels gesê hy sal liewer met ’n lelike en gesonde vrou as met ’n mooi en sieklike vrou trou. Dis gelukkig tant Elsa het drie gesonde kinders, want selfs toe ek ’n kind was, was sy altyd half sieklik,” sê Zandri.
“Maar waar sit jou ore, kind? Ek het mos uitdruklik gesê: Elsa Adelmann ly net aan ipekonders! Dat ek ooit toegelaat het dat Markus my ’n gat in die kop in praat . . . Toe die uitgeslape Klara haar tasse gryp en in Engeland gaan werk, toe kom my jafel van ’n broer by my aan en oortuig my dat sy liewe Elsa ’n beroerte gehad het. En wat doen ek? Bedank my pos en luister byna sewe jaar lank na Elsa se liegstories oor haar gesondheid. Ek sê jou, my skapie, Elsa se gelieg en gepiep sal enige gelowige mens in ’n heidense swernoot verander! Dis wat sy met my gedoen het, want ou dokter Kemp en jong Nicolas het toe maar ander pasiënte se X-straalplate aangedra en vir Markus en Elsa oortuig ek het dringend ’n rugoperasie nodig, anders land ek in ’n rolstoel.” ’n Genoeglike laggie skud Ragie se skouers. “Praat van ipekonders! Ek het so gekreun en gekerm dat Elsa nie kon wag om sonder my saam met Markus op Kampsbaai te gaan aftree nie!”
“Maar waarom het Ferdinand tannie toe gedwing om in ’n ouetehuis te gaan bly?” vra Zandri onbegrypend.
“Omdat hy kamstig bekommerd is oor my rug, die liegbek!” antwoord Ragie boos. “Markus en Elsa het nog skaars vertrek, toe sê die snuiter vir my ek moet my tasse pak, want hy het vir my plek gekry in die ouetehuis. Ek sê hom toe my rug is nie so seer dat ek nie sy huishoudster kan wees nie, en wát sê die skollie? In daardie geval kan ek sy liewe ma mos op Kampsbaai gaan verpleeg. Sussietjie, ek het my so vervies dat ek die skarminkel byna met ’n lang klip doodgeslaan het – ek moes eintlik, want die seunskind sal nooit ’n hand teen my lig nie, selfs al is hy eintlik groter en sterker as ek.”
“Toe gaan woon tannie maar in die ouetehuis?” sê-vra Zandri simpatiek.
“Nie dadelik nie. Ek het op my ou knietjies gepleit om ’n kamer by Ferdinand te huur as dit nie anders kon nie, maar, nee, sê die gebroedsel, hy het nie plek vir vroumense in sy lewe nie. Vroue, vertel hy my toe, is onbetroubaar en verraderlik sedert Eva se dae, en hy verkies die geselskap van perde. Ha! As jy mooi kyk, my skapie, sal jy sien Ferdinand lyk alte veel soos ’n perd,” vertel Ragie met ’n onvergenoegde snuifie deur haar neus.
“Ek . . . e . . . kyk nie juis graag na Ferdinand nie, tant Ragie. Het tannie werklik geen ander heenkome nie? Dalk ’n familielid of goeie vriende wat –”
“Ek is nie ’n welsyngeval nie, my hartjie. Ek sê jou mos: My rug makeer op dees aarde niks nie en as ek êrens ’n werkie kan kry . . . Ek sal alte graag as ’n vrywilliger by ons hospitaaltjie of die kinderhuis wil werk, maar my ouderdom is soos ’n doodsvonnis: Ek het nie meer die reg om my daaglikse brood te verdien nie.”
“Sal tannie nog gestremde kinders kan versorg?” vra Zandri gretig.
Ragie frons bekommerd. “Jou ou seuntjie . . . Hy is nie dalk so ’n enetjie nie, my liefie?” verneem sy huiwerig.
“Hy is hiperaktief, maar beslis nie gestremd nie, tannie. Ek het net gewonder . . . As tannie rêrig geen ander blyplek het nie: Ek besit die grote huis op Reënboogrant. Tannie is meer as welkom om so lank as wat tannie wil by my te kom kuier. En dan is daar Robbie om mee te help.” Zandri hoop vuriglik dat Ragie sal instem – sy kan nie aan ’n beter manier dink om Ferdinand te laat boet vir sy gretigheid om tant Ragie aan haar gewaande enkelmoederskap te herinner nie.
“Agge toggie, ek wou-wou nou net bly word, my skapie, maar toe herinner ek my: Ou Martiens Dippenaar het mos al die jare op Reënboogrant gewoon en gewerk. Is die ou vent nog daar?” vra Ragie benoud.
“Ja, tannie. Ek het oom Martiens nog nodig as stalbestuurder. Hou tannie nie van hom nie?” vra Zandri verwonderd.
Ragie skuifel op haar sitplek rond, kug ’n paar maal, verkyk haar aan ’n mossie in die boom en antwoord eindelik: “Jy kan maar sê ek vertrou Martiens Dippenaar nie, kind.”
“Hoekom nie, tannie?”
“Ek praat nou van veertig of meer jare gelede, sussietjie. Jou oom Alexander het ná elke perderesies, as een van sy perde gewen het, die geleentheid met ’n partytjie gevier. My ouers het nog geleef en ek is saam met hulle na een van die partytjies toe. En . . . e . . . toe beledig die ongepoetste Martiens my só dat ek tot op heden ten dage uit die man se pad bly,” vertel Ragie onwillig.
“Maar oom Martiens is altyd so hoflik! Ek bedoel, hy is nie spraaksaam nie en dalk ’n bietjie bot teenoor vroue, maar ek kan nie glo hy het tannie opsetlik beledig nie,” sê Zandri.
Ragie skuif effens dwars op die sitplek sodat sy Zandri in die oë kan kyk. “Kyk mooi vir my, my liefie, en moenie lieg nie: Hoe lyk ek vir jou? Sal jy sê ek is ’n beeld van ’n vrou?” vra sy streng.
Zandri kyk, maak haar mond oop en pers dan haar lippe hard saam, voordat sy met groot omsigtigheid antwoord: “Tannie lyk soos die Adelmanns.”
“En?” hou Ragie vol.
“En tannie is nie klein nie.” Zandri sien die warm vonkeling in Ragie se oë en vervolg verlig: “Ek dink tannie het pragtige oë en ek hou baie van tannie se glimlag.”
“Hmm. Ek dink self ek het in my jeug nogal mooi oë gehad, want ek het die Adelmanns se lang wimpers geërf. Maar dis nie wat daardie Martiens op die partytjie gesê het nie. Hy het net gewag totdat ek ’n oomblikkie alleen was, toe loop hy my trompop, kyk my onbeskaamd in die oë en sê vir my ek is ’n beeld van ’n meisie en as my ouers nie so ryk was nie, sou hy my gevra het om met hom te trou. En toe, voordat ek my nog behoorlik kon vererg en hom ’n dwarsklap gee, draai hy om en loop weg. Dis nou twee . . . nee, drie-en-veertig jaar gelede, en sedertdien het hy nog nie weer ’n dooie woord met my gepraat nie – my nie eens by die kerk gegroet nie, nie in al die jare wat ek al permanent terug is op die dorp nie, die ongepoetste ou sondaar.”
“Hoe kan tannie glo oom Martiens het tannie beledig? Hy het tannie net ’n eerlike kompliment gegee,” sê Zandri verwonderd.
“Ja, toe, moet nou nie saam met ou Martiens lieg nie, my kintatjie. Ek is en was nog nooit ’n beeld van ’n vrou nie. Dis hoekom ek op my oudag op die vlakte sit en wonder waar ek vannag gaan slaap,” sê Ragie met ’n hartseer suggie.
“Ek dink as ’n mens liefkry, maak ’n mens se uiterlike nie saak nie, tant Ragie. Toe ek klein was, het ek gedink dokter Kemp is die mooiste oom op die dorp, en sy vrou was die lelikste tannie wat ek ooit gesien het. Ek weet nie eens of oom Martiens aantreklik is of nie, maar ek weet ek was van kleins af lief vir hom en my oom Alexander. Ek dink oom Martiens was regtig net eerlik toe hy tannie gekomplimenteer het,” sê Zandri met oortuiging.
Ragie dink oomblikke lank na, haar kop effens skeef en haar oë half geskreef. “Dis seker moontlik, my skapie, want dié Martiens se bloedrooi hare en haakneus het nou nie juis van hom ’n beeld van ’n man gemaak nie. Nie te onaantreklik nie – lank en gespierd – maar ek was nooit dol op rooikoppe nie. Maar aangesien hy die enigste man is wat my ooit oor my voorkoms gekomplimenteer het, sal ek hom seker maar vergewe,” sê sy ewe groothartig.
“Het tannie nooit enige mansvriende gehad nie?”
“Hope, my skapie, maar net twee kort mannetjies en een desperate wewenaar met sewe kindertjies het my gevra om te trou. Gelukkig was ek nie ewe desperaat om ja te sê nie.” Ragie lag dat haar skouers skud en klop met ’n groot hand op die stuurwiel. “Ry huis toe, my sussietjie! Ek is so desperaat om ’n blyplekkie te kry dat ek bereid is om Martiens die swakheid van sy jeug te vergewe.”
Martiens kom met lang hale nader gestap toe Zandri ’n paar minute later haar viertrek onder die wildevyeboom voor die opstal van Reënboogrant parkeer. Ragie klim uit die voertuig en laat hom met ’n gemompelde verwensing in sy spore vassteek. Zandri sien hoe sy ruie grys wenkbroue saamwurm om sy argwaan te kenne te gee, en sluit haastig by hom aan.
“Hallo, oom Martiens,” groet sy met onnatuurlike hartlikheid en vat hom paaiend aan die arm. “Ek was so gelukkig om tant Ragie te oorreed om by my te kom bly. Ek gaan haar hulp baie nodig hê vir my toekomsplanne met Reënboogrant, en met Robbie.”
“Snert!” snou hy haar toe en gluur Ragie aan. “Die befoeterde Ferdinand het nou-nou-maar soos ’n renosterbul hier ingestorm en die opstal van hoek tot kant deursoek. Hy sê Ragie ly aan alzheimersiekte en sy is nie verantwoordelik vir haar dade nie. Mal soos ’n haas, vertel die knaap my, en boonop aggressief. En dis nie al nie, Zandri. Die man dreig om by die polisie ’n klag te lê dat jy sy seniele tante ontvoer het en in jou opstal gevange hou. En dan is daar boonop haar rug. Die vent het hoog en laag gesweer ou Ragie hoort in ’n rolstoel. Vir wat lol jy met ’n sieklike oumens wat boonop kinds is, dogter? Vat die ouvrou terug na haar eie mense toe. Ek kan siek perde versorg, maar van vroumense weet ek niks nie.”
“Die blikskottel!” krys Ragie, hygend na asem en rooi in die gesig. “Kry ek hom in die hande, breek ek sy nek op drie plekke!”
Martiens retireer haastig en mompel: “Sien jy nou, Zandri? Ferdinand het my gewaarsku ou Ragie is gewelddadig. Draf in huis toe en bel hom, ounooi. Ek wil nie met die vrou handgemeen raak nie, maar ek gaan ook nie toelaat dat sy my nek breek nie.”
“Jóú nek, Martiens Dippenaar?” vra Ragie verdwaas, vat haar hande op haar maag saam en lag hom goedig uit. “Nee, Martiensie, daar is net een blikskottel in my lewe, en sy naam is Ferdinand Adelmann. Kom wys hy weer sy perdegevreetjie op Reënboogrant, versuip ek hom lag-lag in die perde se watertrog.”
Martiens bly onseker staan terwyl Ragie omdraai en met opsigtelike gemak haar twee groot, rooi tasse uit die viertrek tel.
“Jou rug, Ragie . . .” waarsku hy. “Laat ek jou help.”
“Daar skort niks met my rug óf my verstand nie, Martiens. Of gaan jy my in my gesig sê ek is kinds?” vra Ragie met ’n waarskuwing in haar stem.
“Jy is byna sewe jaar lank al terug hier op Wyedraai, en jy het my in al die jare nooit gegroet as jy my op straat of by die kerk raakgeloop het nie, Ragie. Maar vandag praat jy met my asof ek ook ’n ordentlike mens is, sien ek. As jou seniliteit jou so vriendelik gemaak het, is jy seker welkom op Reënboogrant,” sê Martiens stroef, maar hy hou Ragie nog wantrouig dop.
“Om liefdeswil, oom Martiens, tant Ragie is net so min seniel as wat oom is!” kom dit ongeduldig van Zandri. “Ferdinand is ’n verkrampte skinderbek wat glo ek is ’n ongehude ma, daarom wil hy nie hê dat tant Ragie by my moet woon nie.”
“Hoe nou?” vra Martiens oorbluf, krap met sy regterhand agter sy oor en kry gloede van ergernis. “Maar dis mos ’n liederlike ding om te sê, Zandri! Nee a, ek sal die man ernstig moet aanspreek.”
“Dis my eie skuld, oom Martiens. Ek het die Jordaans in Londen raakgeloop en vir Odette gesê Robbie is my kind. Dit was ’n lawwe grap, maar Odette het dit as die waarheid aan almal op die dorp vertel. As mense oom uitvra, sê tog maar vir hulle Robbie is my kind. Dit pas my vir eers dat hulle dit glo,” sê Zandri onverskillig.
“Maar ek glo dit nie, want ek ken jou, ounooi,” sê Martiens met hartseer oë. “En Ferdinand . . . Die knaap ken jou so lank as wat ek jou ken. Vriende beskerm mekaar tog.”
“Ag, dis nou ’n jammerte,” kom dit teleurgesteld van Ragie. “Ek het so gehoop ek sal jou kan help om jou seuntjie te versôre, my skapie.”
“Nee nee, Robbie kom wel binnekort hierheen, tant Ragie, selfs al is ek nie sy ma nie. Ek hoop hy sal nie die enigste kind wees wat op Reënboogrant sal kom kuier nie en tannie sal my met hulle almal kan help,” antwoord Zandri, vat een van Ragie se tasse by haar en verloor byna haar balans. “Goeiste, het tannie bakstene hierin gepak? Help asseblief, oom Martiens.”
Martiens tel die groot tas met gemak op en laat ’n laggie uit sy keel kriewel toe hy na Ragie kyk. “Pieperige kinders is mooi, maar ek het waardering vir ’n mooi, sterk vrou.”
“Dit was ’n kompliment, tant Ragie,” sê Zandri vinnig.
“Dankie, Martiens,” sê Ragie stroef, betrag Martiens oomblikke lank nog agterdogtig en glimlag dan klein.
Zandri sien deur haar slaappkamervenster hoe Ferdinand se viertrekvoertuig voor die opstal stilhou, draf by haar kamerdeur uit en roep in die gang af na die die kombuis: “Bly waar tannie is! Ek sal van Ferdinand ontslae raak.”
“Skrou as jy hulp nodig het, my liefie!” roep Ragie en neurie ou liefdesliedjies om aan haar gelukkigheid uiting te gee.
Zandri ruk die swaar houtvoordeur oop juis toe Ferdinand sy hand uitsteek om die voordeurklokkie te lui en sê bars: “Bel en maak ’n afspraak as jy in die toekoms met die eienares van Reënboogrant wil praat, Ferdinand.”
Hy lyk ’n oomblik lank onkant gevang en dan skuif ’n donker masker van ergernis oor sy gelaat. “Jy het baie verander, Zandri,” sê hy ingehoue.
Sy woorde laat haar huiwer. Verbeel sy haar, of was daar ’n tikkie verlies in sy stemtoon – so asof hy eens werklik van haar gehou het, mymer sy, maar verwerp byna onmiddellik die gedagte. Sy het haar verbeel Ferdinand was eens haar vriend en vertroueling, maar hy het haar bloot gebruik om vrye toegang tot haar oom Alexander se perde te kry. Sy weet dit.
“Dis korrek, Ferdinand. Ek is ’n enkelma met ’n ses-jarige kind,” antwoord sy koud.
Hy kyk na haar asof hy tot in haar siel wil kyk, sy donkerbruin oë byna swart, en skud sy kop stadig. “Ek glo jou nie,” sê hy eindelik.
“Dis ’n skielike verandering. Gisteroggend kon jy nie wag om my aan my moederskap te herinner nie,” spot sy.
Hy pers sy lippe hard saam en sy sien sy adamsappel beweeg toe hy sluk. “Ek het dit nie beplan nie. Ek bedoel, ek het nie Odette se skinderstories geglo nie, maar toe ek jou sien . . . Dalk was dit my manier om wraak te neem.”
“Wraak? Waarvoor tog? Omdat jy glo ek het Klara omgepraat om saam met my Engeland toe te gaan, sewe jaar gelede?” vra sy verstom.
Hy draai weg sodat hy oor die voortuin uitkyk. “Seker maar. My ma was maande lank siek oor Klara se besluit om weg te gaan en ek . . . e . . .” Hy draai terug na haar en sê saaklik: “Wat my redes was, is nie belangrik nie. Ek vra om verskoning oor my optrede, Zandri. Kan jy my vergewe?”
“Nee, ek vertrou jou nie, Ferdinand. Toe ek klein was, was jy kamma my vriend, omdat jy al jou vrye tyd op Reënboogrant tussen die perde en in oom Alexander se geselskap wou deurbring. Jy sou veearts word en hy en oom Martiens kon jou enigiets oor perde leer. Nou gee jy weer voor jy is my vriend, omdat jy jou arme tant Ragie in ’n ouetehuis wil prop. Hoekom, Ferdinand? Ek dink tant Ragie is ’n pragtige mens en ek en oom Martiens sal haar geselskap baie geniet. Sy sal gelukkig wees by ons.”
“Sy het ernstige rugprobleme wat ’n operasie –” begin hy protesterend.
“Ek is ’n fisioterapeut, Ferdinand,” val sy hom saaklik in die rede. “Dis dwaas om ’n rugoperasie te ondergaan as dit nie absoluut noodsaaklik is nie. Ek sal sorg dat tant Ragie gereelde fisioterapie ontvang.” ’n Moedswillige glimlag kuier om haar lippe. “Tant Ragie se toestand kan nie so ernstig wees as sy jou met ’n swaar tas probeer aanrand het nie.”
“Ja . . . ja, ek het daarvan vergeet. As sy tasse kan rondswaai, is sy seker gesond genoeg om my ma te gaan help,” sê hy fronsend.
“Jy is die selfsugtigste, mees gevoellose man wat ek ken, Ferdinand Adelmann!” vaar Zandri kortasem van ergernis uit. “Tant Ragie is ’n gekwalifiseerde hospitaalsuster, nie jou ma se gedienstige slavin nie. Het tant Ragie nie die reg om self te besluit wat sy met haar lewe wil doen nie?”
Ferdinand frons verward. “Ek het aanvaar tant Ragie het dit geniet om my ma te verpleeg. My pa het gesorg dat tant Ragie geldelik vergoed word en haar pligte was veel minder veeleisend as in ’n hospitaal. Ons was almal dankbaar oor tant Ragie se teenwoordigheid in die huis, want my ma se gesondheid het wonderbaarlik verbeter terwyl sy haar versorg het.”
“Vanselfsprekend, jou onnosele vent, want jou ma het dit geniet om ’n voltydse lyfbediende te hê,” sê sy bitsig. “Lees my lippe, Ferdinand: Jou ma het nie ’n hartkwaal of ’n nierkwaal of enige ander kwaal behalwe ipekonders nie. Vra dokter Kemp of jou eie broer as jy my nie glo nie. Maar al kry jou ma skielik al die kwale onder die son, sal tant Ragie haar nie gaan versorg nie. Tant Ragie is nou deel van Reënboogrant en sy kan so lank as wat sy wil hier bly.”
Ferdinand staan regopper en sê met ’n trotse lig van sy ken: “Ons Adelmanns het nie gunsies of gawes van buitestanders nodig nie. As tant Ragie fisiek gesond is, kan sy weer by my kom bly. Sy is my tante en my verantwoordelikheid, en sy het jare lank haar eie suite in ons huis gehad. Sal jy vir haar sê sy kan haar tasse bring, Zandri? Dalk kan ek in die sitkamer wag. Ek weet net nie wat ons vir my ma gaan sê nie . . .”
“Nee, jy kan nie en jy mag nie,” sê Zandri beslis en bly in die middel van die voordeur staan. “Dit kon jou nie skeel dat tant Ragie bitter ongelukkig was in die oue-tehuis nie. Toe sy uit desperaatheid daar wegloop, het jy haar probeer dwing om terug te gaan. En wat is al hierdie twak oor alzheimersiekte, boonop? Jy het ook verander, Ferdinand. Die Ferdinand wat ek geken het, was ’n bedagsame jongman wat my seer knie gesond gesoen het toe ek dit as kind nerfaf geval het. Is jou ma dan die enigste vrou vir wie jy deesdae omgee?”
“Moontlik,” antwoord hy kortaf, sy uitdrukking toornig. “Jy het gesê jy vertrou my nie – ek het heelwat meer rede om jou gesonde oordeel nie te vertrou nie. Ek het jou sewe jaar gelede gewaarsku: Bly weg van Josua Keyser af. Hy was destyds my vriend, so ek het geweet dat ’n gebroke vrouehart vir hom net nog ’n trofee was. Jy was so verlief op hom dat jy in ’n vreemde land gaan studeer en werk het, in die hoop dat Josua sy talle betekenislose beloftes aan jou sou nakom. Het julle steeds ’n verhouding?”
“Hoe raak dit jou?” vra sy koud, maar verstom dat Ferdinand sulke nonsens van haar kan dink.
“Dalk sal jy dié keer na my waarskuwing luister: Moenie te lank hier kuier nie, want ek verseker jou, Josua sal nie sy vrye tyd alleen deurbring nie.”
Zardi glimlag sonnig. “Jou waarskuwing was nooit nodig nie, liewe Ferdinand. Ek weet vir seker ek kan Josua volkome vertrou.” Sy tree agteruit, haar hand soekend na die deurknop. “As jy niks meer te sê het nie . . .”
Ferdinand beweeg so vinnig dat hy reeds langs haar in die voorportaal staan voordat sy kan keer.
“Jy is nie ’n welkome gas in my huis nie, Ferdinand! Ek kan oom Martiens en die stalwerkers vra om jou na jou voertuig te vergesel,” sê sy kil maar dreigend.
“Jy kan, maar jy sal nie, want dalk kan ek jou dinge oor Josua vertel waarvan jy onbewus is,” antwoord hy nadruklik en kyk haar afwagtend aan.
“Dan skinder jy nou nes Odette?” vra sy met ’n minagtende glimlag.
Ferdinand ignoreer haar, loop die enkele trappe af na die ruim sitkamer en gaan voor die noordelike venster staan. Hy begin praat met sy rug op haar gekeer. “Ek en Josua het professioneel in verbinding gebly omdat ons albei in navorsing oor die voeding van sportperde belangstel. Hy sal binnekort hier by my aansluit sodat ons saam my praktyk kan behartig en dus oorgenoeg tyd sal hê om op ons navorsing te konsentreer.” Hy swaai vinnig om, sy oë speurend in hare.
“Is jy bewus van sy besluit om hierheen te kom?”
“Ek is,” antwoord sy onbesorg en gaan sit in ’n gemakstoel.
“En?” vra hy ongeduldig.
“En wat, Ferdinand? Is jy bekommerd dat ek Josua sal nooi om saam met my hier op Reënboogrant te kom woon?” vra sy nydig.
“As julle trouplanne het . . .”
Wat is hierdie vyandskop van hom tog! Sy kan nie ophou terg nie, hy’t die kat so erg aan die stert beet. “As jy en Josua sulke goeie vriende is, waarom vra jy hom nie oor sy toekomsplanne uit nie? En waarom is al hierdie dinge oor ons verhouding nie vir jou ou nuus nie?”
“Ek stel in Josua se wetenskaplike kennis belang, nie meer in sy persoonlike lewe nie, maar met my tant Ragie hier . . . Oumense is soos ou bome: Hulle verplant nie maklik nie. Jy is oorgretig om vir tant Ragie ’n heenkome op Reënboogrant te gee, maar het jy aan haar verduidelik dat dit net tydelik sal wees, Zandri?”
“Waarom net tydelik? Hoop jy ek gaan oor ’n dag of drie dood, Ferdinand?” vra sy sarkasties.
“Kan jy net vir ’n paar minute vergeet jy verpes my en ’n volwasse gesprek probeer voer, meisiemens? Jy woon en werk in Engeland. Jou oom Alexander het hierdie pragtige ou plek met sy twintigtal perdestalle aan jou bemaak. Ek veronderstel jy het oorgenoeg geld geërf om Reënboogrant as ’n blote vakansieplek te gebruik, maar ek het ’n beter voorstel. Wil jy hoor?”
“Aangesien dit ’n volwasse gesprek is, Ferdinand, luister ek graag.”
Hy ignoreer die treiterende lag in haar oë en verduidelik: “Voor oom Alexander se onverwagse dood het ek reeds die saak by hom aangeroer, maar hy het seker besef sy tyd saam met ons is kort, want hy het gesê ek kan my planne eerder met sy erfgename bespreek. Ek wens dit was anders, maar ek het nie die geld om Reënboogrant te koop nie. Maar as jy die plek aan my en Josua verhuur, sal ons met soveel meer gemak ons navorsing oor perdevoeding kan doen. Afhangend van ons sukses, kan ons dalk oor ’n paar jaar ’n goeie aanbod vir Reënboogrant maak. Sal jy my voorstel oorweeg, Zandri?”
“Nie sonder om tant Ragie te raadpleeg nie,” antwoord Zandri en roep in die rigting van die voorportaal: “Tant Ragie! Kom asseblief hier!”
“Sulke verspottigheid,” raas Ragie, kom die sitkamer haastig binne en plof op die naaste rusbank neer. “Jy het lankal gesien ek staan langs die deur en afluister net ingeval jy my magtige spiere nodig kry.” Ragie kyk kwaai op na Ferdinand wat nog voor die venster staan. “Jy fladder soos ’n rustelose mot om ’n kers, boetman. Sit op ’n stoel sodat ek jou behoorlik in die oë kan kyk en betyds weet jy lieg vir my.”
“Ek kan nie verstaan waarom tant Ragie by jou besluit betrokke moet wees nie, Zandri,” sê Ferdinand kwasterig, sien hoe Ragie hom aangluur en sê verskonend: “Middag, tant Ragie. Ek is jammer oor . . . alles. Vanoggend.”
“Jy is ’n baasspelerige, ongepoetste skepsel, Ferdinand, en jy en jou arme pa verloor al julle gesonde verstand as jou aanstellerige ma begin piep. Dis ’n groot jammerte jy en jou pa is albei perdedokters. Net jong Nicolas het genoeg verstand gehad om ’n mediese graad te kry, daarom kan jou ma nie met hom woer-woer speel nie,” antwoord Ragie en klik haar tong spytig.
“Nicolas kon my gewaarsku het dat my ma nie werklik siek is nie,” sê Ferdinand bot.
“Moenie laf wees nie, kind! ’n Dokter is nie veronderstel om sy pasiënte se kwinte en kwale met ander mense te bespreek nie – veral nie met ’n perdedokter nie,” sê Ragie vermanend en wend haar tot Zandri wat haar en Ferdinand met ’n geamuseerde glimlag dophou. “Het ek jou hoor sê jy wil my raadpleeg, my kintatjie?”
“Ja, tannie. Ferdinand en sy vriend Josua Keyser, wat tans nog in Engeland werk, wil Reënboogrant by my huur sodat hulle hier navorsing oor die voeding van sportperde kan doen. Ferdinand hoop om Reënboogrant oor ’n paar jaar te koop. Wat dink tannie van Ferdinand se voorstel?”
“Josua Keyser . . . Josua Keyser . . .” herhaal Ragie, ’n diep frons van konsentrasie tussen haar wenkbroue. Sy kyk skielik op en gryp na iets onsigbaars in die lug voor haar. “Het dit! Ou Breggie Toerien het my mos vertel jy het agter dié einste Josua Keyser Engeland toe gedros en dat jou ou seuntjie die gevolg van jou dwase liefde vir hom is, my skapie,” vertel sy met ’n knipoog vir Zandri, en draai toornig na Ferdinand. “En dis alles jou skuld, broertjie! Zandri was ’n goeie, onskuldige kind van sewentien en as jy nie die gewetenlose Josua hier aangebring het nie, het die liewe kind nie nou met ’n ou seuntjie en ’n beswadderde naam gesit nie.”
Ferdinand maak sy mond oop om te protesteer, verstik en begin onbedaarlik te hoes. Ragie wip orent en storm op hom af om hom genadeloos tussen die blaaie te klap. “Gee tog vir die sieklike ding ’n slukkie brandewyn voordat hy sy longe op jou mooi mat uitspoeg, my skapie,” sê sy bekommerd.
“Los my, tant Ragie!” grom Ferdinand. “Ek het net verstik, maar nou sit ek omtrent met ’n gebreekte rug.” Hy kug nog ’n paar maal en sê gespanne: “As ons tant Breggie se skinderstories kan vergeet, sal ek graag wil weet of jy instem dat ek Reënboogrant kan huur, Zandri.”
“Maar, Ferdinand, waar’s jou verstand?” vra Ragie verslae. “Josua en klein Robbie kom mos hier by ons bly. Josua sal na hartelus sy navorsing kan doen, maar hy het nie vir jou of jou bietjie kennis nodig nie.”