Читать книгу Drome van liefde - Schalkie van Wyk - Страница 3
1
ОглавлениеTertius Lindeque haak die silwergeverfde voëlkoutjie aan die staander langs die yskas in sy kombuis en draai om. Hy wil iets sê, maar swyg wanneer hy Sanet Grové hurkend voor die mandjie van ’n groot, wit kat sien sit.
Sy blik rus ’n oomblik lank op die meisie se hand wat liefderik oor die kat streel en kuier dan op haar glansende, heuningblonde hare, haar fyn, egalige gelaatstrekke en haar sagte, vol lippe wat so maklik glimlag. Sy kyk op asof sy bewus is van sy blik op haar, en haar oë is groot en wolkgrys, omraam met digte, donker wimpers.
“Lag jy omdat ek soos ’n sentimentele oujongnooi ’n hartroerende afskeid van my kat neem?” vra Sanet, ’n ligte blos op haar wange terwyl sy opstaan.
“ ’n Oujongnooi … jý?” Hy kyk bewonderend na haar slanke figuur. Sy is langer as gemiddelde lengte, maar haar slankheid en fyn liggaamsbou laat haar korter lyk, mymer hy; of dalk is die enkele ry sproetjies op haar neusbrug verantwoordelik vir sy nouliks beteuelbare drang om haar in sy arms te neem en haar te beskerm.
“Ek was twee weke gelede reeds vyf-en-twintig. My tant Das het juis in die Kerstyd gesê vir slim en geleerde vroue het sy hope respek, maar dis ’n baie dom vrou wat sê sy het nie ’n man nodig om haar gelukkig te maak nie.” Sanet glimlag, die uitdrukking in haar oë peinsend. Sy sug en sê: “Arme tant Dassie …”
“Tant Dassie is jou ma se suster wat nooit getroud is nie?” vra Tertius en verwens homself oor sy papbroekigheid. Hy weet reeds vier jaar lank wie tant Dassie is. Sy is doktor Dorothea de Bruyn, jare lank skoolhoof aan ’n bekende Afrikaanse meisieskool en nou reeds afgetree. Waarom vra hy dan so ’n onnodige vraag? Waarom neem hy nie liewer Sanet in sy arms en vertel haar dat hy lankal nie meer haar vriend is nie, maar dat hy haar liefhet?
“Ja … sy het ’n woonstel in Pretoria en omdat sy ook maar alleen is, bring ek graag die Kerstyd saam met haar deur,” antwoord Sanet en haar oë rus op die groot, wit kat in die mandjie. “As Lida dalk ’n oorlas word, gee haar vir mense met ’n huis, maar moenie haar …” Sanet sluk en byt op haar onderlip, maar sy is nie in staat om haar vrees in woorde om te sit nie.
“Domkop!” berispe Tertius haar glimlaggend en lê sy hande met ’n vertroostende gebaar op haar skouers. “Ek kan nie wag om die manne Saterdagmiddag op die gholfbaan te vertel dat ek nou twee meisies het wat my woonstel met my deel nie. Daar is Lida die kat en Esmé die kanarie. Vanselfsprekend sal ek nie sê dat hulle ’n kat en ’n kanarie is nie,” vervolg hy skertsend.
“Jy is ’n dierbare vriend, Tertius.” Haar grys oë is troebel en hy wonder of hy ’n tranereën kan verwag. Nee, Sanet het die kuns jare gelede reeds aangeleer om haar emosies volkome te bemeester … Vier jaar gelede, maar hy raai net, want om haar uit te vra, sal ’n oortreding wees. Hy het al die jare gehoop dat sy eendag self met hom sal praat oor dit wat sy agter ’n koue verskansing daagliks saam met haar dra, maar daardie dag het nog nie aangebreek nie.
“Wat pla jou, Sanet?”
Haar glimlag is vinnig en vol warmte en stel hom gerus. “Jou liewe ding, jy is soos my eie ouboet. Dalk is ek nie so dapper as wat ek voordoen nie, want om as ’t ware ’n nuwe lewe in die vreemde te begin … Ek ken my oom Lukas Grové nouliks, want hy en my pa is nie groot vriende nie, en as kind het ek hom uiters drie keer saam met my ouers besoek. Die afgelope nege jaar het ek hom nooit gesien nie, en nou moet ek skielik Kaap toe, Bothasrus toe, maar ek wil nie gaan nie. As dit nie vir die tweeling was nie …”
“Jy kan hier in Johannesburg bly, Sanet.” Sy skrik vir die erns in sy stem, kyk hom skerp aan en trek haar asem in wanneer sy ’n emosie wat sy vrees ’n oomblik lank in sy oë ontbloot sien lê. Haar vrees laat ’n sluier van uitdrukkingloosheid oor sy gesig sak. Dan draai hy weg en kyk na die kanarie in die voëlhokkie.
“Moet ek regtig Esmé se hokkie elke aand skoonmaak?” vra hy sonder om na Sanet te kyk.
“Alle meisies hou van skoon kamers,” skerts sy. Hy draai terug na haar en merk haar waaksaamheid, asof sy hom nog nie volkome vertrou nie.
“Is ek welkom op Bothasrus?” vra hy gelykmatig.
“Vanselfsprekend, maar jy sal nie dikwels daar kom nie want dis ’n bietjie uit die pad.”
“Dis nie so ver van Cradock af nie. As ek nie kan gholf speel nie, vang ek vis en as ek nie hoef losies te betaal nie, geniet ek my vakansies meer. Jy het mos gesê jou oom Lukas het ’n yslike, ou huis?”
Sanet antwoord nie, maar haar oë rus met deernis op die lang man voor haar. Dierbare Tertius … die enigste man by wie sy op haar gemak kan wees. Hy is die enigste man wat sy kan liefhê soos ’n broer sonder om te vrees dat hy haar liefde verkeerd sal vertolk. Vier jaar gelede het sy hom laat verstaan dat daar net een ding vir haar oorgebly het, en dis ’n lewe van werk. Dit het Tertius, toe reeds ’n man van twee-en-dertig, volkome gepas, want hy het ’n goeie rekenmeesteres vir sy maatskappy nodig gehad, nie nog ’n meisie wat graag met die baas wou trou nie.
Tog wonder sy dikwels waarom Tertius nooit getroud is nie. Hy is aantrekliker met sy donkerbruin hare en groen oë, sterk, hoekige gelaatstrekke en groot liggaamsbou. Sy bankrekening is moontlik sy grootste bate, maar hy ken genoeg ryk meisies sodat hy nie hoef te vrees dat sy finansiële posisie sy enigste aantrekkingskrag is nie. Het Tertius dalk ook ’n liefdesteleurstelling gehad?
“Jy sal altyd welkom wees, maar …” Sy byt weer op haar onderlip en vryf selfbewus met ’n wysvinger langs haar neus. “Dalk is dit beter as ek daar in die Kaap voor begin met ’n nuwe lewe.”
“ ’n Nuwe lewe wat nie jou ou vriende sal insluit nie?” vra hy bruusk.
Sy kyk skuldig op na hom.
“Ek wil so graag vergeet, Tertius,” pleit sy.
Hy knik begrypend. “Ek verstaan, maar ek was nooit deel van … van dít wat jy wil vergeet nie. Jou broer het jou na my toe gebring en omdat ek ’n rekenmeesteres nodig gehad het, het ek jou aangestel. Ek was nog nie spyt nie, maar as ek dertig jaar jonger was, het ek dalk gehuil omdat ek jou nou moet laat gaan. Ek gaan jou mis, Sanet, daarom wil ek die versekering hê dat ek nie ’n onwelkome gas op Bothasrus sal wees nie. Is dit te veel gevra?”
Sy sug en skud haar kop. “My vriende sal altyd welkom wees.” Haar glimlag spot met hom. “My enigste vriend sal welkom wees. Noudat ek weggaan, het ek vir die eerste maal besef ek het net een vriend.”
Hy glimlag nie, sy oë vol erns op haar gesig. “Daar op Bothasrus sal dit anders wees, Sanet. Jy gaan vriende maak … almal leer ken, want op die platteland is die mense gasvry en vriendelik. Dalk is dit omdat hulle meer tyd het om hulle oor hulle vriende te kwel.”
“Te kwel en te skinder,” sê Sanet met onverwagte sinisme. Sy merk die frons op Tertius se gesig en druk sy arm gerusstellend. “Moenie jou oor my bekommer nie, Tertius. Ek gaan die tweeling hê om my voltyds besig te hou, en dan is daar oom Lukas. Hy was al vyf-en-sewentig en hoewel sy stem oor die telefoon nog sterk en seker klink, is hy ’n ou man. Ek sal ma speel vir die twee seuns en verpleegster speel vir oom Lukas. Ek sal beslis genoeg te doen hê sonder om heeldag oor en weer by die bure te kuier.”
“Ek kan my jou nie in so ’n rol voorstel nie,” sê Tertius nadenkend, sy blik op haar slanke postuur in haar koel somerrokkie terwyl sy wegstap van hom. “Jy lyk soos ’n bekwame, professionele vrou, nie ’n moeder van vele nie.”
“Bedoel jy my moederinstink is onderontwikkel?” vra sy geraak, steek in die deur na die gang vas en kyk oor haar skouer na hom.
“Nee, want ek het jou dikwels met die tweeling sien speel wanneer ons Gerhard en Hermien besoek het, maar …” Hy swyg en stap tot by haar, kelk haar ken in sy regterhand en kyk af in haar oë. “Sanet, glo jy dat jy nooit weer sal kan liefkry nie? Ek glo dit nie, want Gerhard het my vertel hoe jy was voordat …” Haar oë blits en sy breek sy sin stomp af en laat sak sy regterhand. “Ek het net gewonder wat jy met die tweeling gaan doen as jy die dag besluit om te trou.”
“Sal ek hulle weeshuis toe stuur?” vra sy met skielike vyandigheid.
“Ek weet jy sal nie, maar jy het tog gesien wat nou gebeur het. Anton en Magda was bereid om hulle groot te maak, maar ná nouliks drie maande het Magda besef sy gaan binnekort ma word, en wat gebeur? Anton besluit die tweeling moet elders ’n heenkome vind. Glo jy as jy die dag trou, sal dit nie ook gebeur nie?” vra hy.
“Magda is ’n vrou van sewe-en-dertig, daarom is dit vanselfsprekend dat sy baie rus en kalmte nodig het. Hoe kan jy haar en Anton verkwalik as hulle net probeer om die kindjie wat hulle al so lank wil hê al die kanse te gun om wel gebore te word?” vra sy driftig.
“Maak ons rusie?” Tertius glimlag terwyl hy sy hande uitsteek en haar liggies om haar boarm vashou. “Ek verkwalik niemand nie, Sanet. Ek was net so verlig en dankbaar soos jy toe Anton en Magda ná die motorongeluk waarin die tweeling se ouers dood is, aangebied het om die kinders groot te maak. Wat ek eintlik wil sê, is as jy ooit voel die seuntjies het ’n pa nodig, kan jy my laat weet as jy meen dat ek in die rol van ’n goeie stiefpa sal pas.”
Sanet verstyf onder sy aanraking. Sy wil liewer glo dat hy haar terg.
“Dankie,” antwoord sy ligweg. “Ek sal die saak met Gerrie en Peet bespreek en as hulle meen jy is die regte stiefpa vir hulle, stuur ek hulle hierheen.”
“En jy kom saam?” vra hy en sy oë lag nog.
“As ek ’n vriend nodig het, sal ek terugkom,” beloof sy, maar sy kyk nie na hom nie, want sy is bang dat hy meer van haar sal eis. Sy kriewel onder sy aanraking en kyk op haar polshorlosie. “Ek het te lank gedraai. Ek het Magda beloof ek kom help met die aandete.”
Hy hou haar stywer vas. “Jy gaan my nie saamnooi nie? Dit is Nuwejaarsdag en ’n gesellige aandjie …”
“Jy het slaap nodig, want gisteraand was gesellig genoeg,” val sy hom in die rede en glimlag om te vergoed omdat sy nie aan sy versoek kan voldoen nie. “Ons gaan almal vroeg slaap, want ek wil voor sonop Kaap toe vertrek. Tot siens, Tertius.”
Dis asof haar groet hom laat skrik. Dan neem hy haar liggies onder die elmboog en vergesel haar na die voordeur van sy woonstel.
“Moenie saamkom na die hysbak toe nie,” pleit sy wanneer hulle die voordeur bereik. Sy kyk op na hom en voel ’n pynsteek in haar keel. Sy wil huil, maar haar snikke sit in haar keel vas en haar oë bly droog ondanks die trane wat agter haar ooglede brand.
Sy durf nie huil nie, maan sy haarself, want as sy toelaat dat haar trane wen, sal Tertius haar in sy arms neem en haar van sy liefde vir haar vertel. Tertius het haar lief – sy weet dit en vrees dit. Sy het ’n plig teenoor haar oudste broer, Gerhard, se weesseuntjies, maar haar grootste motivering om êrens in die vreemde ’n nuwe lewe te begin, is Tertius se ontwakende liefde vir haar.
Sy mag nooit weer liefhê nie, want liefde bring pyn, onthou sy en glimlag wrang. Sy het ’n vlugteling van liefde geword, want liefde laat haar wegvlug van die enigste vriend wat sy die afgelope vier jaar gehad het.
“Eendag kom ek jou haal,” sê Tertius en hy buk en soen haar op haar lippe. Hy laat haar nie toe om op sy woorde te reageer nie, maar maak die voordeur oop, stoot haar na buite en trek die deur toe voordat sy na hom kan omdraai.
“Tot siens, Tertius,” fluister sy. Haar vingers streel liefkosend oor die ligblou oppervlak van die deur, asof sy hom aanraak. ’n Traan val op haar uitgestrekte arm. Sy frons en vlug na die werklikheid van haar motor wat in die straat op haar wag.
Sanet probeer haar doof hou vir die luide geraas van negejarige tweelingseuns op die agterste sitplek van haar motor.
Anton en haar suster, Magda, verdien medaljes vir hul selfbeheersing om drie maande lank oorlede Gerhard en Hermien se kinders op te pas sonder om hulle fisieke leed aan te doen of self in ’n senukliniek te beland, dink sy grimmig.
“Gerrie? Gerrie! Gerrie …!” skree Sanet om haarself hoorbaar te maak.
“Gompie, maar jy kan darem skree, Sanet! Is jy nie bang ons oortromme bars nie?” vra Peet onthuts en gluur Sanet aan.
Sanet kyk na die beeld van die donkerkopseuntjie met die groen oë – die ewebeeld van haar oudste broer – en haar frons word deur ’n gevoel van opstuwende hartseer uitgewis.
Sy was nog op skool toe die tweeling gebore is, maar was oud genoeg om Gerhard en Hermien se stralende vreugde te deel. Gerhard, destyds ’n senior lektor wat so pas sy professoraat aanvaar het, het van sy eie prestasies vergeet en saam met Hermien ge-oe en ge-a oor die wonder van hulle tweelingseuns, ure lank met hulle gespeel en daarop aangedring dat hy sover moontlik help om die twee seuns te bad en te voed.
Sy liefde vir die seuns het met die verloop van tyd net toegeneem, veral toe dit blyk dat ’n dogtertjie, waaroor hy en Hermien graag gesels het, net ’n droom sou bly. En toe, ’n bietjie meer as drie maande gelede, het ’n voorband van sy motor gebars juis toe hy ’n brug nader. Hy is op slag dood en Hermien het gesterf voordat die ambulans sy bestemming bereik het.
“Tannie Magda sê dis lelik om op kinders te skree … veral arme weeskinders,” roep Gerrie se skril stemmetjie haar terug tot die hede.
“Hoe het Magda julle stil gekry?” vra Sanet met ’n glimlaggie.
“Tannie Magda,” help Gerrie haar reg. “Hoekom moet ons haar ‘tannie’ noem, as jy sommer vir haar Magda sê?”
“Omdat sy my suster is, soos julle pa my broer was. Ek is heelwat jonger as Magda, daarom het julle my nooit ‘tannie’ genoem nie,” verduidelik Sanet. Sy is dankbaar om vrae te beantwoord in plaas van om na hul nabootsings van musiekinstrumente te luister.
“Nou is jy ons ma, nè, Sanet?” vra Peet nuuskierig.
“Moenie laf wees nie, man, Peet,” argumenteer Gerrie vies. “Ons ma is dood, daarom is sy ons stiefma. En ons stokou oom Lukas is ons stiefpa. Sanet, jy kan mos nie met oom Lukas trou nie, of kan jy?”
“Beslis nie,” antwoord Sanet geamuseerd.
“Dalk moet jy maar, want toe tant Dassie laas by ons gekuier het, het sy gesê jy is nou klaar ’n oujongnooi. Tant Dassie het gesê sy sal graag vir jou ’n man wil soek, maar nugter weet waar ’n mens vandag nog ’n deugsame man sal kan kry, want die hele ou spul is deugniete,” vertel Gerrie gretig.
“Bly nou stil, Gerrie, anders kry ek weer nie kans om iets te sê nie,” betig Peet hom. “Onthou jy wat oom Anton gesê het? Jy is my tweelingbroer en ons …”
“Aag, man, ons praat nou oor Sanet,” val Gerrie hom ongeduldig in die rede. “Tannie Magda het gesê jy het ’n man, maar jy wil nie met hom trou nie. Is dit waar, Sanet?”
“Nee, Gerrie. Ek en Tertius is goeie vriende …” begin Sanet, maar Peet val haar in die rede:
“Tertius! Ja, dis sy naam. Ek onthou net altyd dit klink soos tertjies, al ken ek hom al vandat ek klein was, want hy het baie by Pappa kom kuier. Gaan jy met hom trou, Sanet?”
“Nee, Peet, ek gaan met niemand trou nie. Ek gaan saam met julle by oom Lukas woon en vir julle drie mansmense sorg,” antwoord Sanet met valse opgewektheid. Is dít wat sy van die lewe verlang? Om haar bejaarde oom en haar twee nefies te versorg? Sal sy nie wyser wees as sy net hier omdraai en terugry na Johannesburg en Tertius nie?
Dit was Gerhard wat haar vier jaar gelede na Tertius toe gebring het. Tertius het haar verhaal geken, maar tot vandag toe het hy nog nooit daarna verwys of haar daaroor uitgevra nie.
Daardie eerste dag op kantoor het Tertius haar hand geskud en dit toe in albei syne vasgehou. “Ek wil jou vriend wees, Sanet, want Gerhard is ’n goeie vriend. Dink jy jy het ’n goeie vriend nodig?” het Tertius gevra.
“Net ’n goeie vriend?” het sy eers met vrees in haar gevra.
“Net ’n goeie vriend,” het hy beaam. “As jy my liefkry, hardloop ek, want ek hou van baie meisies en aan ’n ewige en onverganklike liefde glo ek. Reg?”
“Ons het dieselfde geloof, daarom sal ons goeie vriende wees,” het sy geantwoord.
“Sanet, man!” skree Gerrie hard in haar oor en laat die stuurwiel in haar hande ruk. “Sjoe, maar jy is darem doof! Kan jy nie hoor as ek jou roep en roep nie?”
Sanet bring haar motor langs die ryvlak van die teerpad tot stilstand en sluit die enjin af.
“O, kriekies, nou gaan sy ons seker warm klap,” voorspel Peet benoud.
“Slaan jy aan arme wesies, Sanet?” vra Gerrie met engelagtige onskuld.
Sanet gluur hom ontsteld aan, Gerhard en Hermien se skokkende dood weer soos ’n rou seerplek in haar. Hoe kan die twee so gevoelloos oor hulle ouers se dood wees? Hulle maak selfs misbruik van die feit dat hulle wees agtergelaat is, want hulle het reeds geleer dat grootmense hulle maklik bejammer.
Sy wil hulle met haar tong kasty, maar Peet spring haar voor: “Kan ons maar uitklim en ’n bietjie rondhardloop, Sanet? Pappa het altyd stilgehou sodat ons van ons energie ontslae kon raak. Dis ’n mens se energie wat jou so lastig maak, nè, Sanet?” vra hy pleitend.
Gerhard sou daaraan gedink het dat kinders kan moeg word van ’n lang motorrit, besef sy en voel skuldig oor haar onredelike woede jeens die tweeling. Hulle het nie vir Gerhard of Hermien vergeet nie, maar hulle aanvaar hulle nuwe werklikheid met die eerlikheid wat so eie aan kinders is. As sy net weer ’n kind kon wees en ook haar verdriet kon uitvee …
“Hardloop net soveel soos julle wil, maar moenie té ver gaan nie. Ons is byna daar en as julle nou van al julle oortollige energie ontslae raak, gedra julle julle dalk stemmiger by oom Lukas. Julle sal onthou dat hy nie meer jonk is nie?” vra sy hoopvol.
“Jippie! Kom ons hardloop, Gerrie. Ek wed jou ek is eerste by daardie groot boom!” roep Peet en peul by die motordeur langs hom uit.
“Sies, jy kul! Jy het eerste weggespring!” maak Gerrie beswaar en storm agter Peet aan.
Arme oom Lukas Grové, dink Sanet en sug. Besef haar groothartige oom watter sorge hy homself op die hals gehaal het met sy aanbod dat hy vir die tweeling ’n heenkome sal gee? Oom Lukas was wel sy lewe lank ’n onderwyser en skoolhoof, maar hy het tien jaar gelede reeds afgetree. Miskien moet sy maar hoop hy is so doof soos ’n kwartel, anders sal hy nooit weer die rustige lewe van ’n oujongkêrel ken nie.
Sanet vee Peet se rooi, natgeswete gesig en vuil hande met ’n klam doek af en gee ’n glas koejawelsap aan hom.
“Ons sal nie nou iets eet nie, want eet julle nou weer koekies of toebroodjies, eet julle weer vanaand nie julle kos nie,” sê sy en loop om na Gerrie te gaan soek. “Kom nou, Gerrie. Ek moet eers jou hande en gesig skoon kry voordat ons verder ry. Wil jy nie koeldrank hê nie?” vra sy aan die seuntjie in die motor.
“Ek kom mos, Sanet,” antwoord Gerrie mompelend en klim vinnig uit die motor.
Sy vryf sy gesig en hande met die klam doek skoon en kyk hom verras aan wanneer hy nie een keer kapsie maak teen haar gevryf om sy hande skoon te kry nie.
“Maak ek jou nie seer nie?” vra sy verwonderd.
“Net ’n bietjie, maar as jy net my ore uitlos, sal ek op my tande byt,” antwoord hy bedees. “Dankie, Sanet,” sê hy hoflik wanneer sy sy koeldrank aan hom gee.
“Ek hoop julle onthou julle goeie maniere wanneer ons by oom Lukas aankom,” sê Sanet terwyl sy die leë plastiekglase in die piekniekmandjie terugpak en die bagasiebak sluit.
“Pappa het altyd gesê ’n mens moet net die eerste dag soet wees, net om te wys jy het maniere, maar dan mag jy weer jouself wees,” lig Peet haar ernstig in.
“Ons gaan van nou af baie soet wees,” sê Gerrie en klim langs Peet in die motor.
Sanet antwoord nie, skuif agter die stuurwiel in en skakel die motorenjin aan. Sy ry ’n paar kilometer in die stofpad aan en draai dan regs wanneer ’n padwyser aandui dat Bothasrus drie-en-twintig kilometer ver is.
“Ons is nou-nou daar,” sê sy met ’n gevoel van verligting wat vertroebel word deur ’n onsekerheid oor die toekoms wat daar op haar wag.
Haar moeder is dood toe sy nog op hoërskool was, maar hulle was altyd baie na aan mekaar, moontlik omdat sy die jongste – ’n laatlammetjie – was. Haar pa was ’n ingenieur wat dikwels rondgereis het en die band tussen hulle was nooit baie sterk nie. Daarom het dit haar nie werklik ontstel toe hy drie jaar ná haar moeder se dood weer getroud is nie. Hy en sy nuwe vrou, tant Monica, woon al die afgelope nege jaar in Peru en tot dusver het hulle nog net een keer – sowat vyf jaar gelede – weer huis toe gekom.
Sy en haar pa is vreemdelinge vir mekaar, besef sy en sy voel ’n verlies, sonder om te weet wat sy verloor het. Gerhard het altyd gesê haar pa sal permanent terugkeer sodra hy aftree, maar op ses-en-sestig het hy nog nie en met sy laaste besoek het sy die indruk gekry dat hy nie van plan is om sy lewe in die vreemde ooit vaarwel toe te roep nie.
Sal oom Lukas die leemte kan vul wat haar vader se weggaan in haar lewe gelaat het? Of is hy soos haar pa wat kan glimlag en vriendelik wees sonder om enigiets van homself te gee? tob sy en frons onwillekeurig.
“Is jy kwaad, Sanet?” vra Gerrie wat haar in die truspieëltjie van haar motor dophou.
Sy kyk op en glimlag vir sy spieëlbeeld.
“Nee, ek dink sommer net. Ek hoop ons kom almal goed klaar met oom Lukas,” sê sy en probeer om haar twyfel vir hom te verberg.
“Ek weet nie so mooi nie,” kom dit onseker van Gerrie terwyl hy sy neusie op en af wikkel en sy mond op ’n plooi trek. “As ’n man nie van katte hou nie, sal hy nie van kinders hou nie. Jy het mos gesê jy moes jou mooi, wit kat weggee omdat oom Lukas nie van katte hou nie.”
“Hy hou van katte, maar die kathare gee hom hooikoors,” verduidelik Sanet.
“O …” Gerrie se oë ontmoet hare vinnig in die truspieëltjie, maar dan kyk hy weer weg. “Dan sal ons seker vir ons troeteldiere moet soek wat nie een enkele haar het nie.”
“Soos ’n skilpad,” stel Peet voor.
“Of ’n akkedis,” meen Gerrie.
“Slange kan ook troeteldiere wees, nè, Sanet?” vra Peet onskuldig.
Sanet wens sy kan omkyk na hom, want as Peet klink asof hy op pad is om in die kerkkoor te sing, weet almal daar kom moeilikheid.
“Slange is gevaarlike troeteldiere, Peet,” antwoord sy.
Die tweeling bars uit van die lag, flap op die agterste sitplek rond en skop met hulle bene in die lug om te wys hoe uiters vermaaklik hulle haar antwoord vind.
“Is dit só snaaks?” vra Sanet vies.
“Nie regtig nie, Sanet, maar meisiekinders kan sulke dom dinge sê. ’n Ou klein tuinslangetjie is niks gevaarlik nie. As ek ’n ou tuinslangetjie … haai, kyk, ons is klaar op die dorp!” roep Gerrie verras uit en druk sy neus plat teen die motorruit.
Sanet bring haar motor voor ’n kafee tot stilstand en soek na haar handsak op die sitplek langs haar.
“Waar is my …?” begin sy, draai om en sien Peet met haar handsak op sy skoot sit. “O, jy het dit. Gee my handsak asseblief aan, Peet. Ek wil vir julle ’n groot bottel koeldrank gaan koop, net ingeval oom Lukas nie koeldrank in die huis het nie.”
“Ek sal vir ons koeldrank …” bied Gerrie gretig aan, maar Sanet raap haar handsak op en klim uit die motor.
Sy swaai haar handsak oor haar skouer, loop die trap op na die sifdeur van die kafee en bly staan wanneer ’n lang, donker man dit oopstoot en dan in die deur vassteek, sy oë vasgenael op haar linkerskouer.
“Sê my, juffrou, weet jy van hom, of is hy ’n ongenooide kuiergas?” vra die man. Hy sien die vraende uitdrukking op haar gesig en verduidelik: “Die molslang,” juis wanneer sy bewus raak van iets kouds en glibberigs wat om haar nek krul.