Читать книгу Êrens is daar liefde - Schalkie van Wyk - Страница 4

2

Оглавление

Lara ruk die passasiersdeur van Wiehahn se motor oop, klim in en klap die deur toe.

“Ry, meneer Wiehahn! Ek vermoed oom Ryno het links gedraai, en daar is ’n gevaarlike kruising aan die onderpunt van die dienspad. Ons moet hom keer!” beveel sy, haar stem skril van vrees.

Wiehahn hou sy sakdoek na haar uit terwyl hy sy motor bekwaam in die rylaan af na die dienspad stuur. “Jy het ’n handdoek nodig, maar dit sal help,” sê hy, sy blik turend deur die stortende reën.

“Dankie, meneer Wiehahn,” sê sy, ineens oorbewus van haar druipnat klere en haar hare wat in nat slierte in haar oë hang. “Ek hoop nie ek beskadig die leersitplekke met my nat klere nie.”

“Dis Wiehahn, Lara, nie meneer nie. En ons is albei deurnat. Vreemd, ek het altyd ’n reënjas byderhand as ek Europa besoek, maar ek het nie dié geelperskereën in Desember op die Hoëveld verwag nie.”

Hy bring sy motor aan die onderpunt van die rylaan tot stilstand om links en regs in die dienspad te kyk. “Ryno moes soos ’n besetene gejaag het, want ek sien jou motor nêrens nie. Waarom het jy jou motorsleutels vir die beskonke man gegee?”

“Ek het nie!” ontken sy onthuts. “Ek het my sleutels in my motor gelos, want ek wou net my selfoon kry en dan weer ry. Oom Ryno het agter die stuurwiel ingeklim terwyl ek die voordeur gesluit het en sommer net weggery.”

“Die sot! Dit reën so hard dat ek nouliks die pad kan sien. Vanselfsprekend het hy nie eens daaraan gedink om die motorligte aan te skakel nie. Maar waarheen nou, Lara? Is jy seker Ryno het links gedraai?” vra Wiehahn bekommerd.

“Nee. Dis die pad wat ons huis toe ry, maar ek weet nie waar hy sy eie motor geparkeer het nie. Draai links en ry, Wiehahn. Ek sal bid dat hy êrens stilgehou het om vir my te wag. Of dink jy hy was so dronk dat hy klaar vergeet het van my?” tob sy en tuur angstig deur die reën wat soos ’n soliede grys muur die pad anderkant die motorligte uitwis.

“Ek vermoed Ryno Marx het ’n hele paar drankies gelede die vermoë verloor om enigiets te onthou,” antwoord Wiehahn wrang terwyl hy in die dienspad afry. Hy kyk flitsend na Lara, merk die spanning op haar gesig en sê gemoedelik: “Jou baas sal nie ’n mooi meisie soos jy so maklik vergeet nie. Ek is seker hy wag hier êrens op jou.”

“As oom Ryno iets moet oorkom … Ek ken hom en sy vrou my lewe lank, want ons woon in dieselfde straat. Hulle is huisvriende, amper soos familie …”

Sy byt op haar onderlip toe hulle die onderpunt van die lang dienspad bereik en Wiehahn sy motor skerp links in die pad opdraai en dan weer vinnig regs tot by ’n stopteken. Voor hulle strek die besige snelweg. Die motors kruip soos twee lang, verligte treine in die derde en vierde baan verby, maar alle verkeer het in die twee bane voor hulle tot stilstand gekom.

“Nee …! Nee!” krys Lara, haar stem ’n skor fluistering van ongeloof en skok. Sy staar asof gehipnotiseer na die grusame ongelukstoneel voor haar.

Wiehahn neem haar hand in syne. “Dit is … dit was jou motortjie. Ek is jammer, Lara,” sê hy, warm troos in die aanraking van sy hand en sy stemtoon.

“Die vragmotor het my motor opgefrommel, maar oom Ryno … Hy … hy is nie dood nie, Wiehahn? Hy kan nie sommer dood wees nie!” rasper haar stem oor haar lippe, wat ineens papierdroog voel.

“Kyk na jou motor, Lara. Die moontlikheid dat hy nog leef … Ek is jammer, opreg jammer, maar as Ryno nie dood is nie, is hy vermink en moontlik sterwend.” Hy druk haar hand bemoedigend.

“As ek net nie my sleutels in my motor gelos het nie … Dis alles my skuld! Oom Ryno is dood, en dis alles mý skuld!” roep sy met ’n gevoel van stygende histerie uit.

“Snert! Jy is definitief nie verantwoordelik vir die sotlike optrede van ’n beskonke man nie, Lara. Wees liewer dankbaar Ryno het teen ’n groot vragmotor gebots, want daar is ’n sterk moontlikheid dat die vragmotorbestuurder nie beseer is nie.”

Hy luister saam met haar na die naderende geloei van sirenes en sê dan paaiend: “Jy kan niks verder vir Ryno doen nie, maar jy is self in ’n toestand van skok. Sal ek jou huis toe neem?”

“Nee! Los my hand, Wiehahn! Ek moet daar wees, ingeval oom Ryno my nodig het. En dis my motor – my handsak is nog in my motor. Ek moet met die polisie praat … verduidelik, anders dink hulle dalk oom Ryno het my motor gesteel,” protesteer sy ontsteld en probeer haar hand losruk uit syne.

“Jy sal met die polisie moet praat, maar dis nie noodsaaklik dat jy dit nou doen nie, Lara. Is daar iemand tuis wat –”

“Jy verstaan nie!” val sy hom desperaat in die rede. “Oom Ryno het my nodig, want tant Lynette mag nooit weet dat hy saam met daardie meisie in sy kantoor gedrink het en so dronk was dat hy in my motor weggejaag het nie. Asseblief, Wiehahn, help my … help my …”

Sy kry nie koud nie, maar haar tande klap soos kastanjette opmekaar en haar tong is te moeg om die woorde te vorm, besef Lara en klou onwetend stywer aan Wiehahn se hand vas, haar oë pleitend in syne.

’n Ambulans hou skuins teenoor hulle stil, gevolg deur ’n polisievoertuig.

“Hoe kan ek weier nadat ek jou gedwing het om my te help?” vra Wiehahn, ’n skuldige glimlag flitsend om sy lippe. “Ek veronderstel jy moet daar wees … óns moet daar wees om die polisie se vrae te beantwoord. Maar ons sal eers moet besluit presies wat om aan die polisie te sê,” vervolg hy saaklik en ry oor die gras-eiland om sy motor onder ’n digte kareeboom te parkeer.

Phoebe druk die voordeur agter Lara toe en neem haar in haar arms. “My liewe, liewe kind,” troetel haar stem sag, medelydend.

“Ek is sopnat, Phoebe,” protesteer Lara halfhartig, maar koester haar in die warm veiligheid van Phoebe se arms.

“Deurnat en koud en half verkluim. Het die polisie jou huis toe gebring?”

Lara knik stom. “Ek was só moeg. Vrae en vrae … dieselfde vrae oor en oor. En beëdigde verklarings. Maar hy is dood, Phoebe. Oom Ryno is dood. Hy het gelag en weggery en toe … toe is hy dood. Sommer net dood.”

Lara kyk op en Phoebe lees ’n ewigheid van pyn en onbegrip in haar donker oë.

“Ek verstaan, kindjie. Toe jou pa verongeluk het … ’n Lang siekbed laat ’n mens die dood inwag, dit maak van die dood ’n bekende, maar ’n noodlottige ongeluk oorweldig ’n mens met skok. Toe jy bel en sê –”

“ ’n Kop propvol wetenskaplike feite, maar nie ’n enkelte breinsel wat sorg vir gesonde verstand nie!” val ’n kwaai stem Phoebe berispend in die rede. ’n Mollige ouer vrou stoomroller die voorportaal binne, twee badhanddoeke, ’n winterkamerjas en nagklere in haar arms. “Foei tog, jy lyk nes ’n verdrinkte kat, my arme Laratjie. Maar noudat ek hier is, sal ek sôre,” paai sy en drapeer een van die handdoeke om Lara se skouers.

“Ek dink Lara het ’n warm bad nodig, Heilie,” maak Phoebe kapsie.

“Moenie met jou wetenskaplike breintjie dink as jy tuis is nie, Phoebe. Ék doen die dinkwerk hier,” sê Heilie Geel ferm.

Sy slaan haar arm om Lara se skouers en lei haar in die rigting van die studeerkamer. “Ek het met my eie ou hande vuur in die kaggel gemaak, en daar is ’n termosfles vol lekker soet kakao, my lammetjie. Gemmerkoekies en melktert ook, as jy later honger voel.”

“Dankie, ta’ Heilie,” sê Lara.

In die studeerkamer, waar die kaggelvuur reeds sy weldadige warmte versprei, laat sy Heilie toe om haar te help om van haar nat klere ontslae te raak en haar droog te vryf, voordat sy haar pajamas en kamerjas aantrek.

“Wat staan jy so handjies gevou hier rond, Phoebe?” vra Heilie ongeduldig. “Skink solank vir onse weeskind kakao in terwyl ek haar haartjies droogvryf. Sit hier op die rusbank, Laratjie. My ou arms kan dit nie hou as ek so opwaarts moet werk nie.”

“Ek dink nog Lara moes liewer gebad het,” kom dit afkeurend van Phoebe, wat geen poging aanwend om Heilie se bevel uit te voer nie.

“Ek het jou gewaarsku, Phoebe, ek doen die dinkwerk in hierdie huis. Ek meen Laratjie het oorgenoeg van water en haar eie gedagtes gehad. Sy wil by mense wees wat haar liefhet en verstaan. Dis mos reg, hartjie?”

Heilie vee ’n handvol donker krulle uit Lara se oë en streel dan vertroostend oor haar kop. “Sulke dom, hartseer ogies – amper soos toe ou Boel dood is. Ek kan nie meer onthou wie daardie dag die meeste gehuil het toe ons ou Boel onder die vyeboom begrawe het nie: ek of Karltjie.”

“Heilie, hou op! Jy laat Lara huil,” protesteer Phoebe onthuts.

Sy gaan sit op die rusbank langs Lara en neem die snikkende meisie in haar arms.

“Nes ek beplan het,” kom dit ingenome van Heilie. “Ons het nie almal bakstene waar ons harte moet wees nie, Phoebe. Ons huil, want die hartseer moet uit voordat ons weer heel kan word. Huil tot jy moeg is, Laratjie. Ek dra solank jou nat kleertjies waskamer toe. Ek sal sommer jou haarborsel en pantoffels kry,” vervolg sy, sit ’n boks snesies langs Lara op die rusbank neer en stap die vertrek uit.

Phoebe kyk Heilie met woordelose bewondering agterna. Dan soen sy die huilende Lara op haar voorkop en sê spytig: “Ek is jammer, Lara. Ek probeer so hard om ’n ma te wees, maar ek het nog nie geleer hoe nie.”

“H-hou my net vas, Phoebe,” snik Lara en huil met die troostelose wanhoop van ’n kind wat nie verstaan nie.

Phoebe fluister troetelwoorde totdat Lara se snikke eindelik bedaar en sy haar hand na die boks snesies uitsteek. Sy blaas haar neus, droog haar trane af en kyk met ’n halwe glimlaggie om haar lippe na Phoebe, wat haar besorg dophou.

“Ta’ Heilie is slim, Phoebe. Ek het eers oor ou Boel en toe oor oom Ryno gehuil … sommer oor al die aakligheid van die dag. Maar jy is ’n goeie ma, want jy het my vasgehou. Ek … ek wil nie nou alleen wees nie.”

’n Fronsie keep tussen Phoebe se wenkbroue. “Heilie verras my elke keer, want kyk ek na haar, sien ek ’n ronde, ouerige vrou met ’n stomp neusie, babablou oë en ’n groot mond wat woorde uitskiet soos ’n masjiengeweer. Sy lyk nie slim nie, maar sy slaag daarin om my grensloos dom te laat voel.”

“Ta’ Heilie sê dis haar nuuskierigheid wat haar so slim maak. Maar jy is nie dom nie, Phoebe. Ek het self nie geweet ek wil net huil en huil en nooit weer ophou nie. Het jy gehuil toe ek jou van die polisiekantoor af gebel het?”

Phoebe skud haar kop. “Dit was ’n geweldige skok om van die ongeluk en Ryno se dood te hoor, maar ek was só verlig en dankbaar dat jy nie saam met hom in jou motor was nie, dat ek nie aan trane gedink het nie. Ek het net aanhou dankie sê dat jy nog lewe, kindjie. Maar ek moes besef het dat jy in ’n toestand van skok sal wees. Sal ek ons huisdokter bel, of voel jy nou beter?”

“Leeg, nie beter of slegter nie.” Lara glimlag halfhartig. “As ek enigiets voel, is dit skuldig.”

“Waaroor? Jy het Ryno tog nie gedwing om jou motor te leen nie. Waarom kon hy in elk geval nie met sy eie motor gery het nie?” vra Phoebe onbegrypend.

“Nes ek gedink het!” sê Heilie boos agter hulle.

Sy plak Lara se pantoffels en haarborsel op die rusbank neer en loop na die lessenaar waarop ’n skinkbord met koffiebekers en ’n termosfles staan. “Dis nou tipies van jou, Phoebe: speel staatsaanklaer in plaas daarvan om vir die hartseer kind ’n warm drankie te gee. Hier, my lammetjie, drink dit. En as dit effens anders proe: ek het ’n sopie whisky by die kakao gegooi, net vir die skok, verstaan?”

“Drank …” sê Lara en byt hard op haar onderlip toe die trane opnuut oor haar wange loop. Sy vee ongeduldig met haar handrug oor haar oë, drink die kakao proe-proe en glimlag vir Heilie wat haar vraend dophou. “Dankie, ta’ Heilie. Ek dink my neus is toe ná al die gehuil, want die kakao smaak net lekker soet en warm.”

“Ook maar goed, Laratjie, want sterk drank is ’n slegte gewoonte. Maar vertel ons nou: wat het Ryno besiel om in jou motortjie rond te rits as hy ’n luukse motor met lugsakke en al besit?” vra Heilie. Sy neem op ’n gemakstoel plaas en bly penorent sit, gereed om te luister.

“Dis ’n lang, aaklige storie …”

Lara kyk met ’n uitdrukking van onmag in haar oë na Phoebe, haal sidderend asem en sê dan gespanne: “Ek wil nie daaroor praat nie, maar ek moet vir iemand vertel. Die polisie het geweet oom Ryno het gedrink, want hulle kon die drank aan hom ruik, maar ek kon met eerlikheid vir hulle sê dat ek hom nie sién drink het nie. Ek het in my verklaring gesê oom Ryno het my motor geleen omdat sy motor êrens bly staan het, en dat meneer Wiehahn aangebied het om my huis toe te neem. Hy sou ook, maar toe kom ons op die ongeluk af …”

“Is … was meneer Wiehahn een van Ryno se kliënte?” vra Phoebe aarselend.

“Dit was die eerste maal dat meneer Wiehahn ons kantoor besoek het. Ek het aan die polisie gesê meneer Wiehahn het opgedaag net voordat oom Ryno weg is met my motor, en meneer Wiehahn het dit beaam. Die polisie het vir meneer Wiehahn gesê hy kan maar gaan, want ek sal oom Ryno kan uitken.”

Lara sluit haar oë en byt hard op haar onderlip, haar stem ’n skor fluistering toe sy vervolg: “Dit was nie meer oom Ryno nie, want sy gesig … Ek het na sy pinkiering met die robynsteen gekyk en vir die polisie gesê dis hy, want … want sy gesig was byna onherkenbaar geskend.”

“Wat ’n traumatiese ervaring,” sê Phoebe sag, haar hand strelend oor Lara se skouer. “Dis jammer meneer Wiehahn kon Ryno nie uitken nie.”

“Dis hoe ek voel: jammer dat ek my selfoon by die kantoor vergeet het, jammer dat oom Ryno dood is, jammer vir tant Lynette en jammer vir myself. Net jammer, jammer …”

Lara laat sak haar kop in haar hande toe die trane haar opnuut inhaal.

“Jy kan ons môre alles vertel, Lara. Wat van nog ’n beker kakao?” vra Phoebe paaiend.

“Nee, ek moet daaroor praat, anders gaan dit ’n nagmerrie bly,” antwoord Lara met ’n desperate lig in haar oë. Sy haal diep asem en vervolg dringend, haar stem trillend van ontsteltenis: “Tant Lynette mag nooit weet nie, maar oom Ryna was dronk en … en daar was ’n meisie saam met hom in sy kantoor.”

“Die javel! Het ek jou nie lankal gesê Ryno – mag hy in vrede rus – knyp die kat in die donker nie, Phoebe?” Heilie probeer om vroom te lyk, maar sy glimlag tog triomfantelik.

“Jy het, Heilie, maar jy wantrou alle mans,” antwoord Phoebe met ’n ongeduldige suggie en draai terug na Lara. “Dis ’n gevaarlike aantyging om teen enigiemand te maak, Lara. Was die meisie nie net een van Ryno se kliënte nie?”

Lara skud haar kop en vertel dan van die middag se gebeure terwyl Phoebe en Heilie stilswyend luister.

“Deur skande en skade word ’n mens wys – as jy nou nie ongelukkig is en voor die tyd doodgaan nie,” lewer Heilie kommentaar toe Lara eindelik swyg.

“Die arme Lynette!” sê Phoebe geskok. “As sy van Ryno se ontrouheid moet hoor, sal dit haar verpletter. Ek is dankbaar jy en meneer Wiehahn het niks oor Ryno se private doen en late aan die polisie gesê nie, Lara. Ryno se drankmisbruik was in elk geval verantwoordelik vir die ongeluk, nie sy ontrouheid aan Lynette nie.”

“Dis hoe ek ook gevoel het, en gelukkig het meneer Wiehahn saamgestem.” Lara kyk met troebel oë na Phoebe. “Ek wens ek het dit nooit geweet nie, want ek sou oom Ryno liewer wou onthou het as die gawe oom van my kinderjare.”

“Ag, bog met jou, hartjie! Ryno was al die jare ’n stoute man, maar net ek was slim genoeg om dit te weet. En nou gaan ons almal van die lekker whisky-kakao drink en melktert en gemmerkoekies eet. Sit julle maar. Ek sal alles aandra, want sit ek langer, kry ek eelte,” kom dit onstuitbaar van Heilie, wat orent kom en vlugvoetig vir haar gesette figuur na die lessenaar toe beweeg.

“Lara, het jy gesê die meisie se naam was Sanette?” vra Phoebe nadenkend.

“Sanette of Nanette – ek kan nie onthou nie, of dalk wil ek nie. Sy is deel van iets wat ek bitter graag sal wil vergeet,” antwoord Lara, maar sy weet dis nie die volle waarheid nie.

Sy sal die groot man met die besonderse silwerblou oë nooit kan of wil vergeet nie, selfs al weet sy hy sal nie sy belofte hou en vir haar ’n ruiker stuur nie.

Lara kom die kombuis binne, adem die geur van varsgebakte anysbeskuit in en kyk verras na Heilie, wat met ’n stomende beker koffie voor haar aan die kombuistafel sit en aan ’n groot stuk beskuit smul.

“Môre, ta’ Heilie. Hoe kry jy dit reg? Ek sukkel nog om wakker te word, maar jy het klaar beskuit geknie en gebak,” sê sy bedroë.

Heilie sit agteroor op haar stoel en kekkellag vermakerig. “Wat vra jy nog, hartjie? Julle arme wesies ruik net aan ’n sopie whisky en julle kap om! Selfs Phoebe was al voor nege-uur gisteraand in die bed en vas aan die slaap. En reken, nie een van julle twee het eens agtergekom dat ek nie saam met julle whisky-kakao gedrink het nie,” vertel sy en lag weer skaterend.

“Jy is ’n skaamtelose ou sondaar, Heilie Geel,” sê Phoebe met misnoeë agter Lara. Sy kom die kombuis binne en loop na die koffieperkoleerder. “Ek moes tien minute lank onder ’n koue stort staan om daardie wattegevoel uit my brein te spoel. Presies hoeveel whisky het jy in die kakao gegooi, Heilie?”

“Kef, kef, kef! Nee a, Phoebe, jy is ’n waardige professor met ’n kop propvol chemie en goeters, nie ’n dikmond kind wat met iemand anders rusie maak oor jou eie oortredinge nie,” antwoord Heilie verontskuldigend en lag geluidloos dat haar skouers skud. Sy kug ’n paar maal agter haar hand toe Phoebe haar toornig aanstaar en vervolg met vrome selfverwyt: “Haai, nee, ek moenie jou uitlag nie, Phoebe, want jy was in ’n allerverskriklike toestand van skok, daarom kon jy nie die whisky ruik nie.”

“Ek was vanselfsprekend ontsteld, maar daar skort niks met my reukorgane nie,” sê Phoebe vies. Sy dra twee bekers koffie na die kombuistafel toe. “Kom sit en drink jou koffie, Laratjie. Ek neem aan jy het ook soos ’n klip geslaap, maar jou gesiggie is nog bleek.”

“ ’n Hele bottel whisky in die kakao en jy kon dit nie ruik nie, Phoebe? As ek jy is, mens, maak ek haastig ’n afspraak met my dokter,” kom dit doodbekommerd van Heilie.

Phoebe sien die ondeunde vonkeling in haar oë en klik haar tong ergerlik. “Ek dink ek moet my koffie in die eetkamer gaan drink voordat Heilie my werklik tot drank dryf. Kom jy saam, Lara?”

“Klim van jou perdjie af, my skatlam,” paai Heilie en stoot ’n bak met vars beskuit oor die tafelblad na Phoebe toe. “Sit en eet van my lekker anysbeskuit. Dalk was my hand ’n bietjie swaar toe ek die whisky by die kakao gegooi het, maar jy en Laratjie het dit nodig gehad. Twee sulke wit gesiggies en hartseer oë … Ek wou julle nie babelaas gee nie, maar ek moes iets doen om julle goed te laat slaap.”

Phoebe glimlag ten spyte van haarself. “Jy het ’n wonderlike vermoë om my dankbaar te laat voel oor iets waaroor ek my eintlik moet vererg, Heilie. Maar dankie, in elk geval. Ek en Lara het ’n goeie …” Sy breek haar sin af toe die voordeurklokkie deur die huis klingel. “Ag nee! Ek sien allermins kans vir kuiermense op my nugter maag.”

“Ai toggie, dis my skuld, Phoebe,” erken Heilie sugtend. “Maar jy weet mos al: ek kry so ’n aardige bedompigheid op my bors omdat ons agter hoë ystertralies moet leef, daarom sluit ek die tuinhek vroegdag oop. Is jy nou weer vies vir my?”

“Nee, Heilie. Laat ons besoekers maar op die klokkie lê – ek drink nou eers rustig my oggendkoffie,” antwoord Phoebe en neem by die tafel plaas.

“Ek sal van hulle ontslae raak, Phoebe,” sê Lara en spring op.

“Nee, my lammetjie, sit jou sit en eet ’n stukkie vars anys-beskuit. Ek is die huishoudster en ek sal gaan oopmaak,” kom dit beslis van Heilie terwyl sy orent kom en vinnig na die gangdeur toe skommel.

“Dankie, ta’ Heilie. My mond water al van die lus,” antwoord Lara met ’n onoortuigende glimlaggie en sak weer op haar stoel neer.

“Sien jy kans om later vanoggend saam met my by Lynette te gaan inloer?” vra Phoebe aarselend, haar blik ongerus op haar niggie wat lusteloos aan ’n stuk beskuit peusel.

Lara kyk sku op. “Seker maar … Ek wens ons kon sommer gebel het, maar ons is huisvriende en tant Lynette …”

“Sjuut!” Phoebe hou haar hand gebiedend op. “Dit klink soos Lynette se stem.”

“… vertel wat ek van haar dink! Ek het reeds met ’n joernalis gepraat. Ek sal sorg dat die hele land weet die listige Lara is verantwoordelik vir my man se dood!” klink Lynette se stem verwoed uit die gang op. Dan storm sy die kombuis binne, gevolg deur ’n verontwaardigde Heilie.

Phoebe staan op en loop Lynette tegemoet. “Ek is so jammer oor Ryno se dood, Lynette. Ek en Lara was van plan om later vanoggend oor te kom om ons simpatie te betuig. Wil jy saam met ons koffie drink?”

“Kon jy nie hoor wat ek vir Heilie gesê het nie?” vra Lynette, haar stem bewend van woede. Sy gluur Lara aan, verterende haat in haar groenbruin oë, en rig ’n beskuldigende vinger na haar. “Daar sit sy met haar mooi, onskuldige gesiggie – sy, die moordenares van my man!”

“Lynette! Om liefdeswil, moenie dinge sê waaroor jy later berou gaan hê nie. Om watter rede sou Lara Ryno tot sy dood wou dryf?” vra Phoebe met ysere selfbeheersing.

“Vra háár waarom! Ek weet net sy het hom dronk gemaak en hom toe gevra om haar motor huis toe te bring, moontlik omdat sy geweet het hoe swak die remme is. Waarom wou jy my man dood hê, Lara? Wou hy my nie ter wille van jou los nie? Ryno het mý liefgehad, jou arme ding. Jy kon hom dronk maak, hom verlei met jou popgesiggie, maar hy was myne. Ryno sou my nooit ter wille van ’n goedkoop meisietjie gelos het nie!” tier Lynette en ontbloot haar tande in ’n smalende gryns.

Lara bly roerloos langs haar stoel staan. Tant Lynette lyk soos altyd, dink sy. ’n Deftige geklede, blonde vrou met groot, groenbruin oë, ’n hartvormige gesig en ’n klein neusie en mond. Maar dis ’n nuwe tant Lynette, besef sy. Die nuwe oom Ryno was ’n beskonke, ontroue man en hy is dood; die nuwe tant Lynette lewe, maar sy is ’n ongelukkige vrou wat van balans af gegooi is deur die skok van haar man se dood. Daarom soek sy na ’n rede om te haat – en sy het oorgenoeg rede daarvoor.

Lara trek haar asem bewerig in en slaan haar blik neer. Tant Lynette het gelyk, dink sy verslae. Sy voel só skuldig oor oom Ryno se dood asof sy hom met haar eie hande vermoor het.

Phoebe tree vorentoe en sê met ’n beheerste stemtoon: “Ek kan vir jou die rekening wys van die motorhawe wat Lara se motor onlangs versien het, Lynette. Haar motor het splinternuwe remme gehad. Glo jy ek sal Lara toelaat om met swak remme rond te ry?”

“Die polisie sê Ryno was dronk. Waarom het Lara hom toegelaat om haar motor te bestuur?” vra Lynette bitter.

Heilie druk haar gesig teen dié van Lynette en snuif hard. “Jy klínk dronk, Lynette, maar jy ruik nie na drank nie. As jy nugter is, vrou, kyk weer na onse Laratjie en kyk goed: lyk dit asof sy sterk genoeg is om Ryno te kon vasdruk om ’n bottel drank in sy keel af te gooi?”

“Moenie onsin praat nie, Heilie. Lara het my man verlei, hom drank gevoer en hom toe oorreed om haar motor in ’n reënstorm te bestuur.” Lynette rig blitsende oë op Phoebe. “Ek het jou vertel van my vermoede dat Ryno en Lara ’n skelm verhouding het, Phoebe. Maar dit was nie net ’n vermoede nie: ’n vrou kan so iets aanvoel; ’n vrou wéét.”

Sy glimlag humorloos en vervolg dan met venynige triomf: “Maar môre sal almal weet wat jou agterbakse Laratjie gedoen het, want ek het reeds my storie aan ’n verslaggewer vertel!”

“Ek hoop die joernalis het meer kennis van die wet as jy, Lynette, anders beland hy saam met jou in die hof vir laster,” sê Phoebe met kille waardigheid.

“Die waarheid is nie laster nie!” snou Lynette haar toe. “Daar was niemand anders saam met Ryno en Lara op kantoor nie. Elna Ackerman het my vertel Ryno het gesê Lara moet die kantoor om eenuur sluit en huis toe gaan, want hy moes die hele dag in die hof wees. Sy het my ook vertel Ryno het Lara gevra om al sy afsprake vir die middag te kanselleer. Kan jy raai waarom?”

“Meneer Wiehahn was daar,” praat Lara vir die eerste maal.

Lynette swaai soos ’n gewonde tierwyfie na haar. “Die geheimsinnige Wiehahn was ook saam met jou by die ongelukstoneel, maar sy naam staan nie in die afspraakboekie nie! Ek was gisteraand reeds by Ryno se kantoor om in die afspraakboek te kyk. Wie is hy? Nog een van jou geheime minnaars?” vra sy minagtend.

Heilie haal hard deur haar stomp neus asem, haar gesig rooi van ergernis. “Phoebe, ek meng nie graag met jou gaste in nie, maar as Lynette nog een maal onse Laratjie beledig, gaan ek vergeet sy is ’n gas en ’n weduvroutjie en haar ’n taai klap gee!” sê sy onstuimig en sug hoorbaar verlig toe die voordeurklokkie die tweede maal lui. “Laat ek drawwe voordat ek tot sonde gedryf word,” vervolg sy mompelend en stoom die kombuis uit.

“As die polisie nagelaat het om aan jou te verduidelik, Lynette: Ryno het Lara se motor geleen omdat syne gaan staan het. Ek veronderstel hy wou gaan vasstel of sy motor nog veilig was. Het die polisie sy motor al opgespoor?” vra Phoebe rustig.

“Hulle het en die motor makeer niks nie,” antwoord Lynette kortaf, haar oë nog nydig op Lara. “Ek waarsku jou, Lara: ek sal die beste advokaat in die land kry en jou laat boet vir my man se dood! Hoe lank het julle ’n verhouding gehad?”

Lara kyk stom na Lynette en pleit woordeloos om hulp met haar oë toe sy na Phoebe draai. Sy snak hard na haar asem toe Heilie met ’n ruiker bloedrooi rose in haar hande die kombuis binnestroom.

“Kyk, lammetjie, kyk!” roep Heilie jubelend uit en plak die ruiker op die kombuistafel neer. “En hier is die kaartjie en dit sê: Baie dankie vir ’n onvergeetlike middag. Van Wiehahn.”

Sy gooi haar kop terug op haar kort nekkie en skaterlag haar verligting uit. “En wat sê jy nou, jou agterdogtige buurvroutjie?” vra sy met ’n treiterende glimlaggie vir Lynette.

Lynette gryp die kaartjie uit Heilie se hand, lees dit en smyt dit langs die ruiker neer. “Ek sal met dié Wiehahn-man praat. Maar ek is nie klaar met jou nie, Lara. Die hele straat weet reeds dat jy agter my man aangeloop het, en binnekort sal die hele land weet!” dreig sy, gluur Lara aan en stap die kombuis kop omhoog uit.

“Die liederlike gifgogga!” brom Heilie. “Is jy met stomheid geslaan, Phoebe? Doen iets om Lynette se skinderbek te snoer!”

Phoebe luister na die toeklap van die voordeur en sê gelykmatig: “Dis reeds te laat, Heilie. Lynette het sedert gistermiddag tyd gehad om haar storie te versprei. Maar Lara het voor die ouer inwoners van ons straat grootgeword en hulle ken haar. Hulle sal hulle nie aan Lynette se onsinnige stories steur nie.”

Sy draai na Lara, wat haar met die oë van ’n gekweste wildsbokkie aanstaar. “Dis alles reg, kindjie. Selfs Lynette besef dat haar aantygings teenoor jou vals is.”

Lara lig haar ken onbewustelik, ’n trotse lig in haar oë.

“Nee, Phoebe. Tant Retha het my verlede Sondag by die kerk gevra waarom ek ná my jaar gemeenskapsdiens nie liewer gaan vakansie hou as om by oom Ryno te werk nie. Ek het verduidelik ons gaan eers in Januarie toer, en toe knipoog sy vir tant Luzaan en sê sy verstaan baie goed, want Ryno is ’n alte aantreklike man. Ek het gedink die ou tannie yl, maar ek weet nou: tant Lynette het my naam beswadder nog voor oom Ryno se dood.”

Sy blik vraend na Heilie, wat aamborstig kug. “Skinder hulle oor my, ta’ Heilie?”

Heilie haal haar skouers op en antwoord onbesorg: “Aag, my lammetjie, mense skinder altyd as hulle niks anders het om te doen nie. Ou Retha lyk soos ’n stokou perd en Luzaan herinner my aan ’n honger likkewaan – hulle skinder oor jou omdat jy ’n prentjiemooi meisiekind is, en dan is jy nog slim en geleerd daarby! Ek steur my g’n niks aan hulle nie. Kom ons vergeet van die liederlike Lynette en drink nog koffie.”

Phoebe loop na Lara toe en streel ’n donker krul uit haar oë. “Skoonheid is soms ’n straf, kindjie, want jaloerse mense sal altyd oor jou praat.” Sy glimlag bedroë. “Ek woon my lewe lank in Jasmynlaan, en as ek die mense se stories oor my moet glo, het ek met elke getroude man in ons straat ’n geheime verhouding gehad.”

“Nee.” Lara skud haar kop, haar uitdrukking stroef. “Ek voel vuil … en voos. Ek wil nie Sondag in die kerk sit en almal se oë op my voel en hulle agter hulle hande sien fluister nie. Ek wil nie by die kafee instap en almal se koppe sien draai, of in hulle vals gesigte vaskyk nie. En ek kan nie vir myself jok nie: dis mý skuld dat oom Ryno dood is. Het jy nog my paspoort wat jy my gedwing het om te kry toe Karl drie jaar gelede in Londen begin werk het, Phoebe?”

“Vanselfsprekend. Wil jy hê ons moet die Kerstyd in Engeland saam met Karl gaan deurbring, Lara?” vra Phoebe verwonderd.

“Nie ons nie – net ek. Karl kuier van Sondag af in Sunderland. Ek sal sy woonstel gebruik. Ek wil net alleen wees, Phoebe. Kan jy dit verstaan?” vra Lara ingehoue.

Phoebe kyk haar stilswyend aan, sien die polsende pyn van skok en verwarring in haar oë en glimlag met begrip. “Ja, Laratjie. Bel dadelik, want jy sal nie tydens die Kersseisoen maklik plek op ’n vliegtuig kry nie. En dié keer mag jy die landlyn gebruik.”

“Bog en nonsies!” bars Heilie onstuimig los toe Lara die kombuis uitstap. “Hoekom moet onse Laratjie weghol omdat ’n spul skinderbekke onware …” Sy breek haar sin af toe die voordeurklokkie weer lui en skree boos: “Moenie die voordeur vir daai Lynette oopmaak nie, Laratjie! Ek sal om die huis drawwe en haar met my grasbesem oor die kop foeter!”

“Goed, ta’ Heilie!” roep Lara.

Sy lig haar ken en stap die ontvangsportaal binne. Sy verdien elke belediging wat tant Lynette haar toevoeg. Miskien help dit tant Lynette om haar te haat omdat sy nie kan rou oor haar ontroue man nie.

Sy maak die deur oop – en kyk vas in Wiehahn se fronsende gelaat.

“My ruiker het nie gehelp nie, want jou gesig is nog witter as gister en jou oë huil sonder trane. Hoe kan ek jou help, Lara?” vra hy bekommerd en neem haar hand in syne.

Sy maak haar mond oop om hom te antwoord, maar haar woorde stol op haar lippe toe sy Lynette uit die rigting van die oop tuinhek sien aankom. “Sê vir daardie vrou jy is dokter Pieter-Jan Malherbe en ons het vanjaar ons gemeenskapsdiens saam op Helderbron gedoen!” pleit sy en klou Wiehahn se hand met albei hare vas.

Êrens is daar liefde

Подняться наверх