Читать книгу Bloeisels in die wind - Schalkie van Wyk - Страница 3

1

Оглавление

Sonja Retief volg die smal slingerpaadjie om die rolprentteater op die Durbanse Suidstrand, voel haar sandale sand skep en bly staan om hulle uit te skop. Sy raak bewus van die pyn in haar regterskouer waaroor drie volgelaaide strandsakke hang. Sy besef dat sy ’n kramp in haar elmboog het van die gewig van die swaar strandsambreel wat sy teen haar linkersy vasdruk en wonder of sy durf afbuk om haar sandale op te tel.

Dalk verloor sy haar balans en steek haar kop in die sand, tref die moontlikheid haar en dit laat haar giggel. Sy kan al haar ryk, aansitterige ouma Hannah Oosthuizen se reaksie sien wanneer sy teen tienuur in ’n deftige somertabberd en met ’n sambreel in die een hand en ’n fyn handsakkie in die ander, vergesel van haar moeder en haar jonger sussie strand toe kom. Ouma Hannah sal ’n oomblik lank vassteek, stip na haar bene staar en dan aanstap asof dit volkome benede haar waardigheid is om die eienaar van die bene te herken.

Dis wat haar ouma Hannah en selfs haar ma herhaaldelik in die verlede gedoen het, onthou Sonja. Herinnering verf ’n troebel skadu in haar oë en laat haar gesig verstroef. Wanneer sy as kind haar mense teleurgestel of in die verleentheid gebring het, was hulle maar te haastig om haar te ignoreer en met luide fluisterstemme agter goed versorgde hande te verduidelik dat ’n mens niks beter van ’n aangenome kind kan verwag nie.

“Ek is bly hulle het jou gisternag hier kom neersit, maar ek wens die gangetjie was nie so smal nie, want ek sal graag wil sien of jou voorkant by die res van jou pas,” skerts ’n manstem reg agter Sonja.

Sonja snak na haar asem, swaai om en laat die strandsambreel op haar linkervoet val.

“Eina!” krys sy, tel haar voet op om die pyn weg te vryf, maar word deur die drie strandsakke oor haar regterskouer van balans getrek. Sy gaan sit hard op die sand, voel vlamme van verleentheid op haar gesig uitslaan, en staar na haar sandale wat nou binne haar bereik voor haar lê.

“Het jy seergekry? Kan ek help?” vra die jongman gretig.

Sy kyk op na hom, hou van die vriendelike lig in die diepblou van sy oë. Sy laat haar blik dan rus op die rolstoel waarop hy sit. Hy volg die rigting van haar blik en sy glimlag is eg, maar tog met ’n tikkie verleentheid wat hom seunsagtig jonk laat lyk.

“Dis net my bene. My arms makeer niks nie. Sal ek jou ophelp?” vra hy.

“Jy het my reeds gehelp. Ek het gewonder hoe ek my sandale gaan optel en nou weet ek hoe – ek moes maar net omval om dit reg te kry,” antwoord sy.

“Ek is Walter. As jy regtig nie vies is omdat ek jou laat skrik en val het nie, mag ek weet wat jou naam is?” vra hy. Sy oë vertel aan Sonja dat hy baie hou van dit wat hy sien.

“Sonja,” antwoord sy, bly dat sy haar van kan verswyg omdat hy nie syne genoem het nie. Haar moeder het haar jare gelede vertel dat haar eie moeder vir haar die naam Sonja gekies het. Sy was so bly oor die brokkie nuus van ’n eie, onbekende moeder dat sy begin huil het. Maar haar voogmoeder was kwaad, byna asof sy haar verkwalik het oor haar blydskap, en sy het selfs probeer om voor te doen dat sy haar net verspreek het, dat dit tog sy en nie Sonja se eie moeder was wat haar haar naam gegee het nie. Maar Sonja het geweet wat die waarheid was en haar naam het haar grootste besitting geword, want dít was haar eie.

“Sonja … jy lyk soos ’n sonnimf met daardie goudwit hare en die groen van die see in jou oë. Jou hare is regtig blond? Nee, moenie antwoord nie, want my suster sê juis ek raak aanmatigend en onbeskof teenoor die skoner geslag sedert ek by die rolstoelbrigade aangesluit het.”

Spot hy of is hy sinies? wonder Sonja, en kyk hom op haar beurt opsommend aan. Selfs in sy rolstoel is dit maklik om te sien dat hy ’n lang man is, skraal eerder as fors gebou. Sy songebruinde gesig en arms steek skerp by sy wit sporthemp en ligbruin langbroek af. Sy oë is ’n besonderse diepblou wat in die skadu van sy lang wimpers byna swart vertoon, sy hare donkerblond en effens krullerig.

Sy voorkop is hoog en intelligent, sy gelaatstrekke sterk, behalwe sy mond wat ’n onsekere faktor is, want een oomblik sluit sy lippe ferm en dan kou hy soos ’n senuagtige skoolseun aan die binnekant van sy onderlip, asof hy twyfel oor die wysheid van sy besluit om met haar ’n gesprek aan te knoop.

“Ek is ’n verpleegster en ná ses maande in die ortopediese afdeling van ’n hospitaal is iemand in ’n rolstoel nie meer uniek nie. Wat my hare betref, dis eg,” antwoord Sonja met ’n vinnige glimlag, tel dan haar sandale op en trek dit weer aan.

“ ’n Verpleegster?” Hy betrag haar belangstellend, sy uitdrukking goedkeurend. “Dis wat ek nodig het: ’n pragtige verpleegster om die saaiheid van my bestaan op te vrolik.”

“Suster Retief,” help sy hom reg en verwens dan haar ydelheid oor haar rang as gegradueerde verpleegster. Sy is net voor haar mondigwording tot suster bevorder. Sy wou nie hê hy moes weet sy is Sonja Retief nie, want ’n Retief sal sy tog nooit wees nie, dink sy en frons.

“Moenie so kwaai lyk nie … dis nie my skuld dat jy niks ouer as agttien en soos ’n leerlingverpleegster lyk nie,” korswel hy wanneer hy haar sien frons.

Sy tel die drie strandsakke en die strandsambreel op en kom orent.

“Dankie, maar ek is byna mondig. Jy sal oor die weg kan kom met jou rolstoel? Ek sal jou stoot as …” stel sy huiwerig voor, bewus van die gevoeligheid wat so dikwels die mens met ’n liggaamsgebrek kenmerk.

“Die rolstoel is spesiaal vir die strand gebou – sien jy die breë buitebande? My vriend het my hier voor die bioskoop afgelaai en ek het hom met aanranding en lyfstraf gedreig as hy my strand toe stoot asof ek ’n invalide is. Ons het gister hier aangekom en ek het reeds my beweegbaarheid op my spesiale rolstoel beproef. Daarom weet ek ek kan alleen oor die weg kom,” verduidelik Walter terwyl hy Sonja in die smal gangetjie af volg na waar dit skerp regs draai en op die oop strand uitloop.

“Dis nuttig,” gee sy toe en gryp na die strandsambreel wat heen en weer onder haar linkerarm wieg en dan met sy skerp punt in die sand vassteek. “Vervlakste ding!” brom sy, trek die strandsakke hoër oor haar skouer en gryp die strandsambreel met albei hande vas.

“Watter ding?” vra Walter verras oor sy skouer, merk hoe sy spartel en hou sy regterhand na haar uit. “Gee jou sambreel hier. Dit kan op my skoot lê.”

Sonja talm onseker, wonder of die ekstra gewig van die strandsambreel die beweeglikheid van die rolstoel sal belemmer en kyk oorbluf, maar terselfdertyd verlig na die onderpunt van die smal gangetjie langs die rolprentteater wanneer sy haar naam hoor.

“Sonja! Haai, wag, jong!” roep haar jonger suster, Erika, storm nader en staar met ’n gretige glimlag na Walter wat sy rolstoel in ’n halfsirkel beweeg het sodat hy na haar kan kyk. “Dis hy! Sien jy nou, Sonja? Ek het jou mos gesê ek het gisteroggend ’n pragtige mansmens op ’n rolstoel daar naby die strandwagte se uitkyktoring gesien. As jy nie altyd maak asof jy ouma Hannah se bediende is nie, kon ek hom al gister leer ken het,” verwyt Erika asof Walter nie teenwoordig is nie, onthou ineens van hom en glimlag verdrietig. “Ons ry vroeg môreoggend terug na Bloemfontein,” verduidelik sy met ’n gevoelvolle sug.

“Sonder dat jy die eer gehad het om my te leer ken?” vra hy.

“Jy lag my uit, maar as jy net weet …” Erika swyg dramaties.

“Ek weet,” sê Walter met gedwonge erns. “As ’n mens sestien is, is niks meer aanloklik as ’n huwelik met ’n pragtige man in ’n rolstoel nie … Dink net: jy het ’n hele lewe van onbaatsugtige opoffering en diens aan jou eggenoot voor jou. Jy is nie dalk ook van plan om ’n verpleegster te word nie?”

Walter is sinies, besef Sonja en wonder hoe lank gelede hy die gebruik van sy bene verloor het. Dan soek haar oë na Erika en sy kry haar jammer oor Walter se verdraaide siening van Erika se spontane belangstelling.

“Ek was ’n jaar lank ’n leerlingverpleegster en ek was al negentien,” lig Erika hom met ’n opsigtelike besef van eiewaarde in. Dan onthou sy dat sy ’n vriend van die jongman in die rolstoel wil maak en vervolg nuuskierig: “Wie is jy? Ek is Erika Retief en dis my suster, Sonja. Sy is oor twee weke mondig, op die dertigste Mei. Ek was negentien op die twaalfde November. En jy? Hoe oud is jy?”

“Erika …!” berispe Sonja haar gedemp, buk af om die strandsambreel op te tel, en voel hoe die strandsakke van haar skouer afgly en langs haar voete neerplof. Sy laat hulle lê en luister na Walter se antwoord:

“Walter is die naam, en ek is vyf en twintig. Wil jy weet wanneer ek verjaar sodat jy vir my ’n boodskap oor die radio kan laat uitsaai? Of wil jy vir my ’n verjaardagkaartjie stuur?”

“Ek sal ’n radioboodskap én ’n kaartjie stuur,” antwoord Erika, mislei deur die glimlag op Walter se gelaat. “Of dalk kom kuier ek by jou en bring vir jou ’n present saam. Waarvan hou jy?”

“Wat van ’n hekelpen en ’n tol hekelgare?” vra hy en sien hoe sy vraag Erika knou. Haar uitdrukking verstroef en sy buk af en tel die sonsambreel op.

“Ek het gister gedink jy het die mooiste blou oë wat ek nog gesien het, maar ek het my seker misgis,” sê sy gekrenk, gluur Walter ’n oomblik lank aan, en stap met ’n mislukte poging van waardigheid oor die seesand weg na die hoogwatermerk.

Walter frons en pers sy lippe saam, sy oë half op skrefies teen die skerp oggendson terwyl hy Erika agternakyk. Sonja merk die donker gloed wat oor sy nek en gelaat kruip en weet dat hy skuldig voel oor sy ongevraagde nydigheid.

“Dis ’n nuwe benadering,” merk hy teenoor haar op. “Die afgelope nege maande is ek die oulike ou op die rolstoel, maar gister was ek die ou met die blouste oë op ’n rolstoel.”

“Erika het my nie gister vertel van jou rolstoel nie. Sy was te opgewonde oor jou blou oë – of dalk vies omdat ek nie my handdoek wou vat en saam met haar naby jou in die son wou gaan lê nie,” antwoord sy. Sy lees die ongeloof in sy oë en vra gelykmatig: “Dan het nege maande jou nog nie geleer dat ’n rolstoel beter as geen bene is nie?”

“Daardie terapie help nie. Ek hou vakansie. Vertel my liewer van jouself … soos waarom jy alleen drie strandsakke en ’n strandsambreel hierheen moet karwei terwyl kleinsus Erika met leë hande hier aangedraf kom. Of maak jy graag asof jy jou ouma Hannah en Erika se bediende is?” vra hy, buk af en tel die naaste strandsak op. “Gee die ander strandsakke aan. Dit sal my nie op my skoot pla nie.”

“Wie speel nou bediende?” vra sy terwyl sy met ’n strandsak in elke hand langs sy stoel begin aanstap.

“Ek hoop ek is die hoflike jongman,” spot hy en vervolg met onverwagte erns: “Jy was gisteroggend ook een van die eerstes op die strand. Ek het jou sien kom en jou die hele oggend dopgehou. Erika en die twee ouer tannies het later gekom. Was dit jou ouma Hannah en jou ma?”

“Ja,” antwoord sy kortaf en kyk hom verwonderd aan. Sy het hom gisteroggend nie raakgesien nie, maar dis niks ongewoons nie: sy sien nooit iemand raak nie, behalwe as sy verplig is om hulle raak te sien – soos haar pasiënte in die hospitaal. Miskien ignoreer sy ander omdat sy hoop dat hulle haar nie sal opmerk nie.

“Erika lyk soos jou ma. Jou kleinsus is groter as jy, maar jy lyk jare ouer as sy. Jy is die verantwoordelike ouer suster,” som hy hulle op.

“Dankie. Ek sal binnekort aftree en om ’n ouderdomspensioen aansoek doen,” skerts sy.

Hy lag geamuseerd. “Jy hou nie van my nie, nè, Sonja? Jy is vies omdat ek Erika met my ongevraagde sinisme verdryf het. Daarby is jy teleurgestel omdat ek nie skaterend bly is omdat ek tog nog leef en vry is om die wêreld vanuit my rolstoel toe te lag nie. Maar ek hou van jou en as jy my adres sou vra, sal ek vasgekluister voor die radio sit om op my verjaardag jou boodskap te hoor. Of is jy nie lus vir ’n abnormale vriendskap met ’n rolstoelridder nie?”

Sonja bly staan langs hul strandsambreel wat Erika net bokant die hoogwatermerk neergegooi het en soek met haar oë na haar jonger suster. Sy sien haar in die rigting van die pier stap en sit haar twee strandsakke op die sand neer voordat sy die sak op Walter se skoot optel.

“Jy kan ander mense ’n rat voor die oë draai, Walter, maar ek het jou reeds gesê: ek is ’n verpleegster. Soek jy ’n sakdoek omdat jy jouself bejammer, of moet ek jou suikerklontjies voer omdat jy galbitter is oor die verlies van die gebruik van jou bene?” vra Sonja reguit, haar oë uitdagend op sy gesig.

Hy antwoord nie dadelik nie, maar betrag haar weer met onverbloemde bewondering. Sy glimlag is vinnig en warm.

“Al ooit daaraan gedink om ’n sekretaresse te word, suster Sonja? Nee, nog beter: ’n verpleegster-sekretaresse, want dis wat ek werklik nodig het. Of is daar ’n aantreklike dokter by die hospitaal wat jou nie sal laat gaan nie?” vra hy skertsend, maar die lig in sy oë verraai die erns van sy voorstel.

“Ek het net tot aan die einde van Januarie verpleeg, en sedertdien is ek tuis om … e … om my ouma Hannah en my moeder te help. Ouma Hannah was al sewentig en haar gesondheid is nie meer so goed nie,” verduidelik sy, lees die openlike ongeloof in Walter se oë en voel haar gesig warm gloei.

“As jy jouself nie eens kan glo nie, hoe verwag jy dat ek jou storie oor jou sieklike ouma moet glo?” vra hy onthuts.

“Wat bedoel jy?” Sy staar hom gegrief aan, maar hy glimlag.

“Het jy nie gehoor wat ek gesê het nie? Ek het jou gisteroggend dopgehou … julle almal dopgehou. My vriend is soos jy: hy bejammer my nie oor my rolstoellewe nie, en hy het my vroegdag strand toe gebring en toe agter sy eie neus aangeloop … glo by ’n peettante gaan kuier wat in Margate woon. Terwyl almal my bekyk en bejammer het, het ek jou en jou mense aangegaap, daarom weet ek: jou ouma Hannah het ’n eetlus soos ’n mensvreterhaai en jou ma het ’n goed versorgde figuur vir ’n vrou in haar middeljare,” verduidelik hy.

“En waarvan lei jy af dat hulle nie my hulp nodig het nie?” vra sy onnodig bitsig omdat hy die waarheid so maklik kon blootlê.

“Nie jou professionele dienste nie, want daardie twee is perdfris en gesond. Maar ek het wel agtergekom dat jy die rol van kelnerin en lyfbediende onverbeterlik vertolk. Weet jy dat jy sestien keer deur die loop van die oggend opgestaan het om die strandsambreel vorentoe en agtertoe of links of regs te skuif?”

Sy voel haar ergernis, gluur hom aan en glimlag oorwonne wanneer sy die opregte belangstelling in sy oë lees.

“Ek is gewoond aan die aktiewe lewe van ’n verpleegster … en gewoond daaraan om dinge vir my ma en my ouma en selfs vir Erika te doen. ’n Mens kan tog nie net sit nie,” antwoord sy en wonder waarom sy soveel moeite doen om haar optrede te regverdig teenoor ’n jongman wat sy ná vandag nooit weer sal sien nie.

“Jy kan verpleeg … mý verpleeg. Ek het meer as genoeg …”

“A, Walter,” praat ’n diep manstem en eers dan merk Sonja die lang, breedgeskouerde man wat sy verskyning gemaak het en nou met sy groot hand op die rugleuning van Walter se rolstoel staan. Die vreemdeling het donkerbruin hare, ’n donkerbrons gelaatskleur en oë waarvan die kleur deur die digtheid van sy swart wimpers verskuil word. “Ek dag jy sal nie so maklik sonder my hulp oor die weg kom nie. Jammer as Walter jou gepla het, juffrou, maar hy maak misbruik van sy rolstoel om mooi meisies te ontmoet. Verskoon ons, asseblief.”

“Haai, wag nou, man!” kom dit onstuimig van Walter wanneer sy vriend met lang, kragtige hale wegstap terwyl hy die rolstoel voor hom uitstoot. “Genugtig, man, ek wil met die meisie gesels. Los my stoel, vervlaks!”

Sonja hoor nouliks die vreemdeling se gemompelde antwoord, haar blik vasgenael op sy breë skouers en donker kop terwyl hy Walter se rolstoel vinnig om die strandwagte se uitkyktoring stoot, blind en doof vir Walter se heftige armgeswaai en luide protes.

“Waarheen vat hy hom? Hoekom het jy hom nie gevra om hier by ons te sit nie, hè, Sonja? Jy weet hoe vervelig dit by ouma Hannah en Mamma kan wees … en Ouma skrik omtrent al wat jongman is af. Dis seker haar valstande, want sy lyk darem vreeslik baie soos daardie mensvreterhaai wat ons verlede week in die akwarium gesien het.”

Sonja kyk met ’n begrypende glimlaggie na Erika se vies gesiggie en haal haar skouers op.

“Jammer, Walter se vriend het my nie die geleentheid gegee om enigiets te sê nie, want hy het net die rolstoel gegryp en hom as ’t ware ontvoer. Maar niks keer jou om weer met Walter te gaan gesels nie,” sê sy bemoedigend.

“Nadat hy so katterig was?” Erika snuif gegrief en steek haar neus in die lug. “As hy eerste met my praat, sal ek met hom praat, maar dan moet hy eers sê hy is jammer dat hy so ongeskik was.” Sy dink ’n oomblik lank na en vra nuuskierig: “Was hy in ’n motorongeluk? Wat makeer sy bene? Sal hy nooit weer kan loop nie? Is hy so gebore?”

“Dink jy ek het hom uitgevra?” vra Sonja.

Erika sug ongeduldig en gryp een van die strandsakke.

“Nee, ek wed jou jy sal nie met ’n vreemde hond praat as iemand julle nie eers aan mekaar voorgestel het nie. Jy is darem menssku, Sonja – ek wonder waarom,” antwoord Erika en draf weg oor die sand in die rigting van die kleedkamers.

Sonja gryp die steel van die strandsambreel vas en wikkel dit in die los sand weg, leun met al haar gewig op die metaalsteel en gluur nydig na ’n fris, middeljarige man wat regs van haar besig is om met die grootste gemak sy strandsambreel in die sand staan te maak. As die man nou net omkyk en sien sy sukkel, help hy haar dalk soos soveel ander vriendelike ooms en jongmans haar die afgelope drie weke gehelp het. Die man se vrou kan sien sy sukkel, maar die kyk wat die vrou haar gee, laat Sonja besef sy hoop vergeefs.

Haar pa is kort ná Erika se geboorte dood. Daarom is dit nog al die jare net hulle vier vroue wat strand toe kom, maar ’n paar jaar gelede het sy reeds geleer: niemand is so ongewild op ’n strand soos ’n slanke meisie in ’n bikini wat boonop nie onaantreklik is nie. Sy is een van die dae mondig, maar vandat sy vyftien is, het geen gesette, middeljarige tannie al ooit haar minder gesette, nogal aantreklike eggenoot gevra om die hulpelose meisie met haar sambreel te help nie, dink sy, kyk op en giggel onverwags wanneer sy in die afkeurende gesig van die gesette vrou oorkant haar vaskyk.

“Moenie huil nie. Ek is hier om te help, Sonja,” praat ’n stem wat sy nog net een maal tevore gehoor het vlak langs haar.

Sy kyk op, vergeet om te glimlag en wonder opnuut wat die kleur van sy oë is, want sy oë is half toe teen die oggendson. Dan kyk hy af en neem die sambreelsteel uit haar hande.

“O … baie dankie,” antwoord sy, ineens skaam en hou sy sterk hande in plaas van sy gesig dop.

Die man druk die bostuk van die sambreel in die steel, vou die sambreel oop en tree gebukkend onder die sambreel uit tot langs Sonja.

“Suster Sonja Retief,” sê hy, en sy woorde is ’n stelling, nie ’n vraag nie. “Jy oorweeg nie dalk Walter se aanbod om sy private verpleegster te word nie?”

“Was dit werklik ’n aanbod?” vra sy, nouliks bewus van wat sy sê, want hoflikheid verwag dat sy hom in die oë kyk terwyl sy met hom praat en sy wonder van nuuts af oor die kleur van sy oë.

“Sal jou ouma Hannah Retief nie omgee as jy Walter se verpleegster word nie?” vra hy asof hy haar vraag nie gehoor het nie.

“My ouma Hannah Oosthuizen – sy is my ouma aan moederskant,” verduidelik sy en voel asof sy uit haar beurt gepraat het wanneer sy oë verder vernou en hy haar met stroewe deurdringendheid aanstaar.

Sonja sien die woorde op sy lippe vorm, maar ’n beweging regs van haar trek haar aandag en dan is Erika by hulle.

“Ek ken hom. Hy is saam met Walter. Gaan jy my nie voorstel nie, Sonja?” vra Erika met ’n volmaanglimlag wat die donker vreemdeling volkome ignoreer.

Sonja kyk hom vraend aan, wag vergeefs dat die man homself aan hulle sal voorstel, en vererg haar wanneer hy geen poging aanwend om sy identiteit te verraai nie.

“Dis sommer Piet. Hy verkoop koue koeldranke en warm kerriekoekies en ek het net ’n bestelling by hom geplaas. Jy kan later die koeldranke bring. Tot siens, Piet,” groet Sonja met ’n glimlaggie wat Erika aan die ysblokkies in ’n koeldrank herinner.

“Tot later, suster Sonskyn,” antwoord die man en Sonja lees ergernis in die trotse houding van sy kop en skouers wanneer hy met lang hale tussen die sambrele, handdoeke en sonaanbidders wegstap na die ander kant van die rooi uitkyktoring.

“Sy naam is nie Piet nie en ek weet hy verkoop nie koeldranke en kerriekoekies nie,” sê Erika misnoeg.

“Mooi, dan weet jy meer as ek,” antwoord Sonja, ontstel deur Walter se vriend.

Sy is tog nie verlief op die man nie, voer sy ’n verwarde alleenspraak in haar gedagtes. Dit het al gebeur dat ’n terloopse ontmoeting met ’n nuwe, jong dokter by die hospitaal haar asem wegslaan en haar vir agt en veertig uur op ’n wolkie van onmoontlike drome laat ronddryf – maar dit het drie jaar gelede gebeur toe sy nog sewentien en ’n aanbidder van die liefde self was.

Sy is byna mondig, maar diep binne haar voel sy baie ouer en meer ervare. Daarom glo sy nie langer aan liefde met die eerste oogopslag nie. Waarom het Walter se vriend dan so ’n blywende indruk op haar gemaak? Waarom weet sy so seker dat sy hom weer sal sien? Waarom weet sy dat niks ooit weer dieselfde sal wees totdat sy weet wie en wat hy is en waarom hy vir haar om ’n onverklaarbare rede uiters belangrik is nie?

“Aag, ek wil tog nie weet nie, want hy is al stokoud … oor die dertig, as hy nie dalk al veertig is nie,” krap Erika se onvergenoegde woorde haar eie gedagtes uit die pad en laat Sonja haar vraend, half onbegrypend aanstaar. “Maar jy kon darem vriendeliker gewees het met hom, want dan kon ek saam met hom by Walter gaan sit het. Ek hou van Walter.”

“Oor sy blou oë, of omdat hy verlam is?” vra Sonja, hou haar hand verskonend op wanneer Erika se oë waarskuwend blits en glimlag oorwonne. “Toe maar, ek vra maar net. As Walter se vriend padgee, sal ek met hom gaan gesels en vasstel wie hy is en waar hy woon. Dalk oortuig ek hom nog dat jy werklik van sy oë hou.”

“Ek kan my eie praatwerk doen,” antwoord Erika met ’n hooghartige lig van haar ken, gooi haar strandhanddoek oop en smeer sonbruinroom aan haar bene. “As jy wil gaan swem, sal ek solank by ons goed bly. As Ouma-hulle eers kom, kry jy nie ’n kans nie.”

“Dankie,” kom dit verras van Sonja terwyl sy haar strandjakkie uittrek. “Dan het jy al agtergekom ouma Hannah gee my nooit kans om te gaan swem nie?”

“Dis jou eie skuld, want dis jy wat ronddans as ek óf Mamma óf Ouma die toutjies trek. Toe, gaan swem nou, anders gaan gesels ek met Walter, want dis wat ek eintlik wil doen,” beveel Erika.

Sonja gehoorsaam haar sonder teëstribbeling en besef eers wanneer die koue skuimwater om haar enkels spoel dat sy weer eens die marionet gespeel het, want Erika het beveel en sy het haar bevel uitgevoer.

Is dit wat sy is? ’n Willose houtpop in haar aangenome familie se hande omdat ’n diepgewortelde gevoel van dankbaarheid haar verplig om hulle wense altyd bo hare te stel? Per slot van sake is sy ’n optelkind wat deur haar oorlede vader en haar moeder se onselfsugtige liefde ’n tuiste, ’n van en ’n familie gekry het. Daarom is dit haar plig om dankbaar te wees, daarom sal geen opoffering ooit te veel wees solank sy hulle daardeur kan vergoed vir hulle groothartigheid nie.

Sy wou bitter graag met haar loopbaan as hospitaalsuster voortgegaan het en dokter Danie Hattingh het werklik in haar belanggestel, maar …

“J … jieee!” krys sy wanneer ’n reusegolf haar onderstebo slaan, maar dan verdrink haar uitroep in ’n mondvol soutwater terwyl die brander haar tollend oor die growwe seesand smeer, haar sekondes lank alleen laat, voordat ’n tweede golf met ’n druisende gedonder bo-oor haar kop breek en haar weer in die maling van die brander laat rondtol.

Sonja soek na ’n vashouplek, voel menseledemate in haar hande en klou om lewe en dood, haar oë styf toegeknyp terwyl sy reeds haar asem ophou, gereed vir die volgende brander wat oor haar kop gaan breek.

“Jy kan maar my been los as jy lus het, suster Sonskyn, dan help ek jou strand toe,” praat die nou bekende stem van Walter se vriend ver bokant haar.

Sy vlieg orent sonder om haar oë oop te maak, maar snak na haar asem en sper haar oë wyd oop wanneer hy haar in sy arms optel en soos ’n betonpilaar bly staan terwyl ’n brander teen sy rug breek.

“Jongman, los my kleindogter!” klink haar ouma Hannah se stem vlak langs hulle op. “Jongman, ek sê … Arno Landman, wat soek jy hier?”

Bloeisels in die wind

Подняться наверх