Читать книгу Bloeisels in die wind - Schalkie van Wyk - Страница 4
2
ОглавлениеSonja vee die brandende soutwater uit haar oë en staar verdwaas na haar verontwaardigde ouma wat net buite trefafstand van die branders ’n dreigende oorlogdans uitvoer. Sy bly nou verstard staan, haar opgerolde, persblou sambreel soos ’n swaard uitgestrek na haar en die man wat haar nog in sy arms hou.
Arno Landman … Dis wat ouma Hannah haar onbekende vriend genoem het, maar hoe ken sy hom?
Sy naam pas by hom, dink Sonja terwyl sy opkyk in sy gesig en haar oë oor sy sterk, hoekige gelaatstrekke laat loop. Asof hy bewus is van haar blik op hom, kyk hy vinnig af na haar en sy voel haarself verlore in die ongewone helderheid van sy staalgrys oë. Sy glimlag is warm en naby. Die gloed in sy oë laat vreugde in haar binneste opvonk.
“Ek hou hiervan – ’n seenimfie in my arms wat die golwe vir my uitgespoel het,” praat hy in haar oor terwyl hy haar op die nat sand neersit. Haar verleentheid en die skaam glimlaggie wanneer sy opkyk na hom, laat hom treiterend byvoeg: “En nou is jy myne. Ek wonder wat ek met jou gaan doen?”
“Nee, jy is nie hy nie,” sê tant Hannah se harde, meerderwaardige stem en maak Sonja bewus van die nuuskierige oë van die vakansiegangers om haar, en laat haar vinnig onder die aanraking van die groot man se hande uittree. Sy kyk half skuldig, half verskonend na haar ouma Hannah, maar die ouer vrou gluur met grimmige konsentrasie na die jongman en vra bruusk: “Jy is familie van Arno Landman van Hermanstad?”
“Arno Landman van die plaas Erfdeel?” vra die man. Sonja hou hom dop en wonder waarheen sy glimlag weg is, want daar is nie ’n flentertjie warmte in sy stem of oë vir haar ouma Hannah nie.
“Ja, dis hy. Jy is sy ewebeeld, maar hy is ’n man van my leeftyd … Ek het vergeet ek het die somer en die herfs lankal agtergelaat,” antwoord tant Hannah. Haar oë dwaal na die slanke jeugdigheid van Sonja se figuur en haar uitdrukking verstroef. “Gaan droog jou af, Sonja. Die soutwater is nie goed vir jou vel nie,” blaf sy gebiedend.
Sonja bly staan, nuuskierig om meer oor haar naamlose vriend te hoor, maar die frons keep dieper tussen tant Hannah se wenkbroue en laat haar soos ’n stout kind voel.
“Ag, Ouma, ek soek net skulpe,” sê sy verontskuldigend en sak vinnig op haar knieë neer om haar ouma van die waarheid te oortuig.
“Kan ek help?” Hy hurk voor haar en wanneer sy verras na hom kyk, lag hy soos ’n samesweerder in haar oë. “Daar nader aan die pier is die skulpe meer volop. Sal ons daar gaan soek?”
“Arno Landman is jou oupa, nè, jongman?” vra tant Hannah en Sonja sien uit die hoek van haar regteroog haar ouma se stewige enkels en gerieflike stapskoene en vlak langs haar die skerp punt van die persblou sambreel. “Woon hy nog op sy plaas? En jy? Hoe heet jy? Jy boer nie dalk saam met hom nie?”
Haar ouma Hannah is soos ’n hinderlike, groen brommer op ’n Nuwejaarsdagpiekniek wat almal se pret bederf. Hy raak ongeduldig, merk Sonja en staan met ’n gevoel van teleurstelling op wanneer hy orent kom.
“My oupa se naam is Arno Landman, ja, mevrou,” antwoord hy kil, wend hom tot Sonja en knik met ’n stywe hoflikheidsgebaar. “Tot siens, juffroutjie. Ek het so byna van my afspraak vergeet.” Sy knikgroet sluit tant Hannah in, en dan draai hy om en vleg ’n slingerpad tussen die vakansiegangers, sonstoele en sambrele deur.
Sonja volg sy groot gestalte met haar oë totdat hy agter die krioelende mense verdwyn, besef eers dan dat sy haar asem opgehou het.
Arno Landman … en sy weet sommer hy het sy oupa se naam gekry, maar sodra sy van haar plaaggees van ’n ouma ontslae geraak het, sal sy vasstel of dit werklik sy naam is. Sy sal voordoen dat sy in Walter belang stel en hom net terloops uitvra oor sy vriend. Per slot van sake is dit haar plig om Arno te bedank omdat hy haar uit die see gered het … nie dat sy sou verdrink het nie, maar sy sou van haar nerwe in die maling van die branders verloor het.
“Moenie net daar staan en jou aan die man vergaap asof hy die enigste man op die strand is nie,” maak haar ouma Hannah om ’n onverklaarbare rede met haar rusie. “Dis veels te warm vandag om half kaal hier in die bloedige son rond te lê. Kom, Sonja, ons gaan terug woonstel toe. Jy en Erika sal net sonstraal kry in hierdie hitte … Erika is juis te baldadig – ons weet almal dat haar gesondheid veel te wense oorlaat.”
Sonja stribbel nie teë nie en hoop haar ouma sal ophou praat, want haar stemtoon herinner aan ’n spreker op ’n volksfees: die volume is daar en jy moet teen wil en dank luister na wat daar gesê word. Vreemd tog dat haar ouma Hannah met haar snobistiese besef van haar posisie as die skatryk weduwee van oorlede Pieter Oosthuizen nog nooit geleer het dat beskaafde mense nie trompetter nie. Sy volg haar ouma in ’n gewaardeerde stilte na hul sonsambreel. Of moontlik glo haar ouma dat dit ’n regmatige voorreg is van ’n ryk mens om te praat asof niemand anders bestaan nie. Sonja se oë soek na haar nuwe vriend en Walter se rolstoel aan die linkerkant van die strandwagte se uitkyktoring.
“A, julle is eindelik terug,” groet tant Riëtte Retief en slaag daarin om terselfdertyd verlig en verwytend te klink. Sy kyk na Sonja se groen bikini en sê afkeurend: “Ek hoop jy het klaar geswem vir vandag, Sonja. Ek besef jy kwel jou nie oor jou vel nie, maar ek sal nie toesien dat jy jou so in die seewater verniel nie. Hier, vat my beursie. Ek het vergeet om ’n koerant te koop.”
“Ek is jammer, maar ek het Mamma-hulle nie so vroeg op die strand verwag nie. Ek gaan nou dadelik,” sê Sonja verskonend en neem die beursie by haar moeder.
“Los die koerant, Riëtte. Ek het besluit ons pak nog vandag op en ry terug huis toe,” verklaar tant Hannah met grimmige finaliteit.
Sonja swaai skerp om na haar en frons verward wanneer sy die uitdagende uitdrukking op tant Hannah se gesig lees. Dan wonder sy of sy haar net verbeel oor die kommer in haar grootmoeder se oë. Sy kyk vraend na haar moeder om haar reaksie op tant Hannah se onverwagte aankondiging waar te neem.
“Vandag reeds? Maar het ons dan nie ons woonstel tot môre bespreek nie?” vra tant Riëtte verras.
“Dit is so, maar vandat ek ou Arno Landman se kleinseun daar in die branders gekry het met Sonja in sy arms, het ek besluit ons ry terug huis toe,” antwoord tant Hannah afgemete, haar oë borend op Sonja, wat haar blik opsetlik afgewend hou.
Sonja hou haar moeder dop en merk die skok wanneer haar oë groter rek en sy haar lippe saampers. Dan glimlag sy met ’n beheerstheid wat haar doen en late, haar hele lewe kenmerk. Sonja wonder onseker of sy haar nie net verbeel het dat haar ma geskrik het by die melding van Arno Landman se naam nie.
“Is ek dan nie langer jou beste vriendin en grootste vertroueling nie, Sonja?” vra tant Riëtte met ’n stemtoon wat van teleurstelling en hartseer eerder as van verwyt spreek. “Waarom het jy my nie vertel jy het ’n nuwe vriend nie? Hoe lank ken jy hom? Gesels julle dikwels? Jy kon my darem vertel het, of word ek nou eenkant toe gestoot omdat jy byna mondig is?”
“Ons moet inpak en ry,” verklaar tant Hannah ergerlik en steek-steek gate in die warm, los sand, asof sy ’n onsigbare vyand wil deurboor.
“Ouma weet meer van die man as ek, Mamma. ’n Brander het my omgeslaan en voordat ek orent kon kom, was daar nog ’n brander. Die man het my net gehelp, dis al. Ek weet nie eens wat is sy naam nie, maar Ouma ken sy oupa,” verontskuldig Sonja haarself, maar voel tog skuldig. “Ouma, vertel nou van Arno Landman en daardie plek, Hermanstad. Waar is dit? Ek het nog nooit tevore van so ’n plek gehoor nie,” probeer sy ’n ander wending aan die gesprek gee.
“Dan is die jongman ook van Hermanstad?” vra tant Riëtte en dié keer het haar stem ’n ondertoon van vrees.
“Jy het nou die beursie, Sonja. Gaan koop vir jou ma die koerant en bring vir my ’n pakkie skyfies … daardie soort met die tamatiesous. En ’n koeldrank ook, want die skyfies maak my dors. Toe nou, wat draai jy so, Sonja?” vra tant Hannah ongeduldig.
“Ek trek net my sandale aan, Ouma,” sê Sonja gedwee, glip haar voete in haar sloffies en loop in die rigting van die strandrestaurant.
Wie is Arno Landman en waarom skrik haar moeder by die aanhoor van sy naam? Waar is Hermanstad? Dit kan nie ’n groot dorp wees nie – beslis nie ’n stad nie – maar waarom wou haar ouma haar nie vertel het waar die plek is nie? tol en tuimel vrae deur Sonja se gedagtes en laat haar onwillekeurig stadiger loop.
Maar sy het haar Arno, onthou sy, en sy glimlag. Hy het haar ’n seenimfie genoem en hy het aangebied om saam met haar skulpe te gaan soek. Sy hou van hom, maar hy is seker te oud om hom aan ’n kind soos sy te steur … of dalk is hy lankal getroud met ’n pragtige vrou en twee of drie kinders tuis.
Sonja kreun hoorbaar en bly staan, onbewus van die paartjie wat onder ’n sambreel sit en haar bekyk. Die man sit orent om haar beter te beskou en sy beweging trek Sonja se aandag. Sy gluur die man onder die sambreel aan asof sy hom self vir Arno se vrou en hope kinders blameer en loop ergerlik na die restaurant.
Dalk … wie weet … dalk is haar Arno tog nie getroud nie, fluister haar hart en sy luister gretig, want sy wil dit so graag hoor. Sy weet nou wat sy gaan doen. Sy sal die koerant, die skyfies en die koeldrank koop en dan gaan sy by Walter kuier. Walter het gesê hy is vyf en twintig en niemand kan haar verkwalik as sy in ’n aantreklike jongman met blou oë belang stel nie – dalk sal Erika haar verkwalik, maar sy kan later aan Erika verduidelik dat sy net in Walter geïnteresseerd is omdat hy ’n parapleeg is.
Is Walter dalk Arno se jonger broer? Nee, Walter het van sy vriend gepraat, maar hy het niks van sy vriend se vrou en kinders gesê nie. Daarom kan sy hoop Arno is nog ongetroud.
Nou is sy erger as Erika, wat op elke tweede man verlief raak en selfs al twee weke lank verloof was pas nadat sy met haar opleiding as verpleegster begin het, berispe Sonja haarself. Behalwe haar huiwerige vriendskap met dokter Danie Hattingh het sy nog nooit ’n ernstige verhouding met ’n jongman gehad nie. Sy kan dit nie bekostig nie, want dis soos haar moeder so dikwels sê: sy het ’n plig teenoor haar en ouma Hannah. Hulle het haar grootgemaak, met liefde versorg en alles gegee wat sy nodig gehad het – daarom is dit nou weer haar beurt om te probeer vergoed vir die een en twintig jaar van opoffering en onselfsugtige liefde wat sy van haar pleegmoeder en -ouma ontvang het.
Sy sug, talm op die stoeptrap voor die strandrestaurant en kyk oor haar skouer na die uitkyktoring van die strandwagte. Daar iewers regs van die toring is Walter en Arno. Ná vandag sal sy hulle nooit weer sien nie, maar voordat sy terugstap na haar ouma en haar ma gaan sy net gou vir Walter groet … en dalk sommer vasstel of Arno se naam werklik Arno is, besluit sy en stap die restaurant binne.
Die strand is ’n wolkbreuk van mense en sambrele; almal vreemde mense met vreemde gesigte, vreemde bene en arms wat orals rondlê en ’n mens pootjie, asof dit in stryd is met alle strandwette om vertikaal te beweeg op ’n plek waar die son en die see almal tot stilstand gedwing het.
Sonja bly in die skadu van die uitkyktoring staan en soek vergeefs met haar oë na Walter en sy rolstoel en na die groot man wat Arno Landman van Hermanstad se kleinseun is. Hulle het weggeraak in ’n blomtuin van sambrele en stoele en gestreepte sonbanke waarom glimmende, geoliede liggame sit en lê en bruin bak in die warm oggendson. Sy wonder of daar dalk ’n seetowernaar is wat Walter en sy vriend in sonsambrele verander het.
“Wat grinnik jy so, Sonja? Of wil jy huil?” vra Erika en druk haar gesig byna teen Sonja se neus vas, ’n gewoonte wat sy van kleins af het en wat sy op negentien nog nie afgeleer het nie.
“Moenie bo-op my asemhaal nie,” versoek Sonja en wonder hoeveel keer sy dit al gesê het. “Ek huil nie, maar ek wou lag omdat ek gewonder het of jy op ’n sambreel met blou oë verlief sou raak.”
“Jy is simpel,” sê Erika en Sonja betwis dit nie, want dalk is sy simpel om agter ’n groot man met staalgrys oë aan te draf net omdat hy haar ’n seenimfie genoem het. “Walter is saam met sy vriend weg,” voeg sy misnoeg by.
“O … Walter het gesê sy vriend se peetmoeder woon op Margate. Dalk het hulle weer by haar gaan kuier,” dink Sonja hardop.
“Hy het nie, want ek en hy het lekker gesit en gesels toe daardie simpel Andries … nee, André … e …” vaar Erika uit en frons vies omdat sy nie die man se naam kan onthou nie.
“Arno Landman?” vra Sonja gretig.
“O, dan het Walter jou voorgestel aan hom?” vra Erika belangeloos, nog te gegrief om haar aan Sonja se glimlag te steur. “Ja, toe kom daardie ou Arno Landman en sê hulle moet ry. Walter wou nie, maar Arno het gemaak asof hy ’n yslike verrassing vir Walter gereël het en toe moes hy maar instem. En weet jy wat? Walter het gesê ek en jy moet saamkom om sy verrassing te deel, maar daardie simpel man wou nie.”
“Was hy dan onvriendelik teenoor jou?” vra Sonja.
“Nee, glad nie. Walter het my aan hom voorgestel en hy het my hand geskud en geglimlag en Walter geterg omdat hy so graag met meisies gesels. Toe sê Walter ek is jou jonger suster en toe …” Erika sug en byt op haar onderlip, haar blik kwellend op Sonja wat aandagtig na haar luister. “Dalk het ek my net verbeel, maar dit was toe Arno hoor dat ek jou suster is dat hy skielik besluit het om te ry. Het jy en Arno dan rusie gehad?”
“Nee.” Sonja skud haar kop. “Het Walter gesê wat sy van is? Weet jy dalk waar hy woon?”
“Ek het hom nie gevra nie.” Erika glimlag merkbaar verleë, ’n warm blos op haar wange. “Ek dink ek het al die praatwerk gedoen, want hy het nie veel gesê nie. Soms het ek na hom gekyk, en dan het dit gelyk asof hy dit geniet om na my te luister, want ek het hom alles oor myself vertel en van die nare ou suster Beukes en matrone Heyns wat glo ek mors die hospitaal en die pasiënte se tyd … Jy het mos ook al sulke mense ontmoet, Sonja? Iemand met wie jy kan gesels sonder om vreemd of skaam te voel, al ken jy hulle net vyf minute?”
“Of al ken jy hulle glad nie,” beaam Sonja met ’n glimlag. “Dan het jy Walter nie beloof om ’n radioboodskap op sy verjaardag te laat uitsaai nie?”
“Jy het mos gehoor hy hou nie daarvan nie. Ek sou hom gevra het waar hy woon en of ek aan hom mag skryf, maar ek wou hom eers alles oor myself vertel, sodat hy nie sou kon weier om my alles oor homself te vertel nie, maar toe kom daardie Arno daar aan … Jy weet nie dalk waar Walter woon nie?” vra Erika hoopvol.
“Ek dink ouma Hannah sal weet, maar sy gaan beslis nie sê nie. Kom saam. Ouma het gesê ons ry vandag terug huis toe en ek glo sy het dit bedoel,” lig Sonja haar in en begin tussen die vakansiegangers deur terugstap na hul strandsambreel.
Daar is nie ’n groter antiklimaks as die dag van terugkeer ná ’n aangename vakansie nie, dink Sonja terwyl sy in die dubbeldeur van die ruim sitkamer vassteek en beurtelings na Erika en tant Hannah kyk.
“Dis nou genoeg, Erika!” snou tant Hannah en bring haar gebalde vuis hard op die armleuning van die stinkhoutrusbank neer. Sy werp ’n beskuldigende blik op tant Riëtte wat met ’n ligte frons aan haar koppie tee proe. “Houtmeubels! Hoeveel keer moet ek jou nog sê ek kan nie houtmeubels verdra nie, Riëtte? Ek stamp my alewig teen die skerp kante.”
“Daar is ’n gestoffeerde stel meubels in albei sitkamers en die televisiekamer, Ma,” antwoord tant Riëtte met ’n kille rustigheid. “Oorlede Gerhard het die geel- en stinkhoutmeubels gekoop en ek gaan nie ná meer as twintig jaar daarvan ontslae raak nie.”
“En met wie se geld het hy dit gekoop?” speel tant Hannah haar troefkaart.
Sonja kry tant Riëtte jammer, maar dis ’n jammerte wat met verloop van tyd ’n gewoonte, byna ’n tradisie geword het, want Riëtte en ouma Hannah se woordewisselings oor haar oorlede pleegvader se armoede volg altyd dieselfde patroon.
“Die kinders hoor, Ma,” sê Riëtte vermanend.
“Dan is dit goed dat hulle ook weet. Dit was Oosthuizen-geld wat hierdie huis en elke meubelstuk gekoop het wat hier staan. Jou oupa, Erika, was ’n skatryk man met plase in elke provinsie, en jou ma, Erika, kon kies en keur onder die ryk jongmans van toentertyd, maar wie het sy gekies? Die armsalige, arm onderwysertjie Gerhard Retief,” vertel tant Hannah. Sy smak haar lippe van die genot wat die oordra van dié besondere brokkie skokkende inligting haar telkens besorg.
“My pa was ’n geleerde man met ’n doktorsgraad en hy was ’n skoolhoof voordat hy dertig was. Ek wens ek was so slim soos hy,” sê Erika uittartend en skok tant Riëtte uit haar passiewe houding.
“Nee, Erika, ons is baie dank verskuldig aan jou ouma,” kom dit berispend van tant Riëtte.
“Ek is nie, want alles wat ouma Hannah het, het eers aan my oupa Oosthuizen behoort en ek sal dit eendag erf. As Ouma nie op haar belastingvorm kan skryf ons is haar afhanklikes nie, moet sy net meer belasting betaal. Dis mos waar, nè, Ouma?” vra Erika snipperig. Sy is nog vies omdat tant Hannah sedert hul vertrek uit Durban die oggend weier om enige inligting oor Arno Landman of sy vriend, Walter, te verstrek.
“Jy het ’n suster, Erika. Wil jy hê ek moet my besittings aan Sonja bemaak?” dreig tant Hannah.
“Ouma kan maar, want Sonja sal dit tog net weer aan my teruggee,” antwoord Erika houtgerus en gaan pleitend voort: “Vertel my eers hoekom Ouma nie van Arno Landman en sy kleinseun hou nie. Waar is Hermanstad? Ek kan dit nie op die landkaart in my skoolatlas kry nie, maar ek wed as ek die telefoonnavrae bel, sal hulle my kan sê.”
“En as jy nou weet waar Hermanstad is, wat dan, dogter?” vra tant Hannah vies. “Gaan jy al die pad agter die jongetjie op die rolstoel aanry? Is jy nou ook van plan om my teleur te stel soos jou ma toe sy met jou pa getroud is? Ek was al sewentig, Erika, maar ek is nog by my volle sinne en dryf jy my ver genoeg, dan bemaak ek elke sent wat ek het aan ’n klomp liefdadigheidsorganisasies.”
“Ouma sal nooit so laf wees nie, want Ouma is te suinig om geld verniet weg te gee. Kyk net hoe vies raak Ouma elke keer as die diaken kom kollekteer,” antwoord Erika en lag met die onnutsigheid van ’n kind wat seker is van die ander se liefde.
Sonja sien die dieper frons van ergerlikheid tussen tant Hannah se wenkbroue en weet dat haar glimlag nie ver is nie, want haar oë vonkel met ’n trotse tevredenheid.
“Dis jý wat my jonk hou, Erika – jy wat my siel versondig en jou nie aan my hoë ouderdom of my hoë bloeddruk steur nie. Maar jy het nou genoeg gelol, want dié keer kry jy nie jou sin nie. Ek het ou Arno Landman in my jeug geken, maar dis ook al. Kom ons gaan kyk hoe lyk my orgideë in die kweekhuis,” nooi tant Hannah, kyk vies na die stinkhoutstoel waarop sy gesit het en stap weg na die dubbeldeur.
“Kom jy saam, Sonja?” vra Erika, wat opspring en soos ’n baldadige kind agter tant Hannah aandraf.
“Ek wou met Sonja gesels het, Erika. Gaan jy saam met Ouma,” praat tant Riëtte vir die eerste maal weer en nooi Sonja met haar oë om naas haar op die gestoffeerde rusbank te kom sit.
“Moenie dat Mamma jou ompraat om aandete te maak nie, Sonja. Jy het die hele ent pad van Durban af bestuur en jy is seker stokflou,” roep Erika uit die voorportaal en verdwyn saam met haar voetstappe.
“Ek het reeds koue vleis en ’n paar soorte slaai gaan koop, Mamma. Môre is mevrou Dames terug en dan is die huishouding weer in haar bekwame hande. Ons het nooit daaraan gedink om haar van Durban af te bel en te laat weet ons kom ’n dag vroeër terug nie,” gesels Sonja. Sy het dieselfde waaksame uitdrukkingloosheid wat haar moeder kenmerk op haar gelaat. Haar stemtoon is beheers vriendelik en te gedissiplineer om haar innerlike gevoelens te verraai.
Tant Riëtte wag totdat Sonja in die hoek oorkant haar op die rusbank gaan sit het en betrag haar ’n oomblik lank goedkeurend.
“Jy is ’n mooi kind, Sonja, mooier as my eie dogter, al sê ek dit nie graag nie. Ek moet my seker nie laat ontstel deur die moontlikheid dat ek jou eendag sal verloor nie … dat ek jou sal moet afstaan aan ’n onbekende man wat jou moontlik teen my sal laat draai …” Tant Riëtte hou haar asem ’n oomblik lank op en slaan haar blik haastig neer asof sy haar ongestorte trane vir Sonja wil verberg.
“Mamma …” verwyt Sonja sag, maar haar moeder kyk nie op nie en sy gaan pleitend voort: “Mamma weet tog dat Mamma altyd die belangrikste plek in my lewe sal inneem, dat ek nooit met ’n man sal trou wat nie net so lief soos ek vir Mamma sal kan wees nie. Ek glo nie ek sal ooit trou nie, want ek het niemand lief nie en …” Sy swyg, ineens stom wanneer die beeld van ’n groot man voor haar geestesoog opdoem.
Was dit nog vanoggend dat sy Arno Landman op die stand ontmoet het? Het hy haar ’n paar uur gelede in sy arms gedra en aangebied om saam met haar skulpe te gaan optel? Dit was vanoggend, maar dit was ook gister en eergister en ’n ewigheid gelede, want daardie oomblikke het weggeraak en sy het alleen agtergebly … sy en die beeld van ’n man wat sal vervaag totdat Arno Landman net ’n naam in haar gedagtes is.
“As jy net weet hoe vrees ek daardie dag dat jy ’n man liefkry, Sonja,” trek Riëtte se stem haar terug tot die hede. “O, ek besef ek is selfsugtig; dat ek geen reg het om jou te vra om altyd by my te bly nie, maar tog … Jy is so ’n pragtige, liewe kind, so ’n aangename metgesel … so anders as die eiesinnige Erika. Sy sal trou en weggaan, want sy is net vir haarself belangrik, maar jy is ’n dogter vol begrip en dankbaarheid vir alles wat ek die afgelope een en twintig jaar vir jou gedoen het. Jy sal nooit vergeet dat ek jou gevat het toe jou eie mense jou nie wou hê nie, dat ek al my liefde op jou uitgestort en jou my eie gemaak het nie. Of is daar nog iets meer wat ek vir jou kan doen, Sonja?”
Sonja skud haar kop, haar blik skuldig neergeslaan. Hoe sal sy ooit haar pleegmoeder kan vergoed vir al die liefde en sorg wat sy van haar ontvang het? Hoe sal sy ooit die moed hê om ’n man lief te kry en haar ma in die steek te laat? vra sy haarself af en soek na ’n antwoord in die patroon van die Persiese mat aan haar voete. Dis weelde net waar sy kyk – dis haar lewe lank haar deel, maar daarby kom die onselfsugtige liefde van haar moeder. Dit is haar plig en haar voorreg om vir die res van haar lewe haar pleegmoeder te probeer vergoed vir alles wat sy ontvang het.
“Mamma weet ek is volkome gelukkig,” verseker sy tant Riëtte gretig.
“Dan het jy nie werklik in daardie jongman op die strand belang gestel nie?” vra Riëtte. Haar stemtoon is weer koel en rustig, en Sonja kan net raai hoe belangrik haar antwoord vir haar moeder moet wees.
“Watter een?” Sonja lag gerusstellend. “Dis Erika wat haar verbeel sy is verlief op ’n man wat in ’n rolstoel sit, Mamma, en daarby geniet sy dit om ouma Hannah te terg. Môre het sy weer daarvan vergeet. Is Mamma lus vir nog ’n koppie tee?”
“Asseblief. Net jy weet hoe ek daarvan hou,” versoek Riëtte en hou haar koppie met ’n vergewende glimlaggie na Sonja uit, asof sy daarmee te kenne wil gee dat hulle nie weer die onderwerp sal aanroer nie.
Sonja luister aandagtig wanneer sy stemme in die voorportaal hoor, wonder of dit van haar vriendinne is wat haar met haar mondigwording kom gelukwens, en steek in die gang vas wanneer sy ’n kort, ronde, bejaarde vrou en ’n middeljarige, effens gehawende man gewaar wat ’n splinternuwe tas by die voordeur indra, in die voorportaal.
“Ja, sit sommer maar neer, asseblief, meneer. En hier is jou geld – ’n hele fortuin, maar jy het seker ook ’n vrou en ’n spul hongerige kinders en alles is vandag peperduur. Nee, hou maar die kleingeld, want ek werp altoos my brood op die water. Tot siens, meneer,” praat die kort vroutjie bo-oor die taxibestuurder se glimlag en dankies en draai om wanneer hy by die deur uitstap en bekyk Sonja verbaas.
“E … ek is Sonja Retief, mevrou … juffrou … tannie,” stamel Sonja en voel haar wange gloei.
“Dink jy ek is stiksienig, dogter?” vra die ouer vrou onthuts, gee Sonja nie kans om te antwoord nie, maar vervolg: “Natuurlik is jy Sonja Retief, maar ek sou dit self kon sien, al het jong Arno Landman jou nie so noukeurig aan my beskryf nie.”