Читать книгу Meisie in die reën - Schalkie van Wyk - Страница 3
1
ОглавлениеHilgard Geldenhuys pers sy lippe hard saam en kyk met ’n gevoel van stygende ongeduld deur die voorruit van sy motor na die swart veiligheidshek wat, glinsterblink in die najaarsreën, hom met byna menslike leedvermaak toegang weier. Dís waarom hy uit die stad gevlug het: hy was keelvol vir tralies wat hom ingehok het, van hom ’n prisonier en van elke besoeker ’n verdagte gemaak het, dink hy grimmig. As hy tant Alma nie so plegtig beloof het om Marli Conradie te besoek nie, kon hy reeds op pad gewees het Groeneweide toe.
Hy sal die knoppie van die interkom vir ’n laaste maal druk . . .
Hy skuif die venster langs hom oop, maar sy kop ruk op toe hy ’n beweging op die sypaadjie regs van hom gewaar. Uitdrukkings van verdwasing en ergernis wissel mekaar snel op sy gelaat af toe hy ’n meisie, kaalvoet in die reën en onbewus van sy teenwoordigheid, aangestap sien kom. Sy is geklee in ’n denimkortbroek en ’n te groot T-hemp wat druipnat aan haar slanke liggaam kleef, haar skouerlengte hare silwerblonde slierte wat halfhartig krul. Haar gelaatstrekke is porseleinfyn, haar lippe vol, en haar lang, donker wimpers wat haar oë versluier, lyk byna swart in kontras met die onnatuurlike bleekheid van haar gesig.
Hy klim vinnig uit sy motor.
“Is jy stapelgek, Marli? Die wind is ysig en jy is natter as ’n kat!” sê hy misgenoegd, wil haar aan die arm gryp om haar na sy motor toe te help, maar laat sak sy hand toe sy opkyk. Haar oë is blouer as wat hy dit onthou – die blou van gekneusde viooltjies, wat deur die donker vlekke onder haar oë geaksentueer word. Hy onthou die sprankelende veertienjarige skooldogter van tien jaar gelede, maar die Marli wat voor hom staan, is ’n jong vrou, asemrowend mooi en terselfdertyd so hartseer en verwese dat hy moet veg teen die drang om haar in sy arms te neem en te troos – iets wat hy sedert haar kleuterdae spontaan gedoen het.
“Hilgard?” Sy klink verwonderd, haar blik soekend oor sy gesig. “Ons het so oud geword,” vervolg sy sag.
“En seergekry,” antwoord hy, empatie in sy stem, en slaan sy arm beskermend om haar skouers. “Kom klim in my motor. Jy het warm koffie en droë klere nodig.”
“Ja, dit reën. Dit hoort so. Nou huil ek nie alleen nie,” sê sy, half tot haarself, en laat hom toe om haar in sy motor te help.
“Hoekom is jy alleen, Marli?” vra hy terwyl sy die sekuriteitshek en een van die motorhuisdeure met haar afstandbeheerder oopmaak. “Tant Alma het geglo jy is saam met jou ouers huis toe na jou ouma Heilet se begrafnis. Sy was bitter ontsteld toe sy gister by jou pa gehoor het jy is ook stoksielalleen hier in jou ouma se huis.”
“Jy vergeet – dis my huis ook.”
Hy kyk haar flitsend aan, voel vreemd skuldig, maar daar is geen verwyt in haar oë of stemtoon nie.
Hy parkeer sy motor in die motorhuis en wil haar ondervra, maar sy klappertand van die koue. “Wys my waar is die kombuis. Ek sal koffie en iets te ete maak terwyl jy vinnig bad of stort. Of het jy al ontbyt gehad?”
“Ek kan nie onthou wanneer laas ek geëet of geslaap het nie,” antwoord sy belangeloos en hou haar afstandbeheerder en sleutels na hom toe uit. “Ek dink daar is kos in die yskas. As jy melk of brood moet gaan koop – daar is geld in die suikerpotjie wat soos ’n huisie lyk. Dit staan op die yskas.”
“Ek sal regkom,” antwoord hy gerusstellend terwyl hy haar na die gangdeur toe volg.
Sy is deurnat en so bitter koud, so oneindig moeg en stukkend binne, maar sy is nie meer alleen nie, dink sy en bly staan toe hulle die breë trap wat uit die ruim ontvangsportaal lei, bereik.
“Die kombuis is reguit in die gang af, die eerste deur op regterhand.” Sy steek haar hand uit en druk sy arm liggies. “Dankie dat jy gekom het, Hilgard,” vervolg sy effens skor en stap vinnig die trap op.
Marli sit kruisbeen voor die kaggelvuur in die sitkamer en kyk met honger oë na Hilgard, wat met sy rug leunend teen ’n stoel en sy bene lank voor hom uitgestrek skuins oorkant haar sit en weglê aan sy bord kos. Sy is nie meer alleen nie, fladder die besef weer eens soos ’n speelse strepie sonlig deur digter boomblare deur haar gemoed. Tien jaar . . . maar dit voel soos gister toe sy deel was van die driemanskap: haar broer, Armand, sy boesemvriend, Hilgard, en sy . . . tien jaar jonger en meestal in die pad, maar altyd seker van hulle beskerming.
Hilgard is selfs aantrekliker as wat sy hom onthou, erken sy teenoor haarself. Hy was altyd lank en breedgeskouerd, maar hy lyk groter, meer gespierd. Tien jaar gelede was sy verlief op hom met die aarselende, skaam liefde van ’n tiener. Sy het hom heimlik dopgehou, haar verkyk aan sy raafswart hare, wat as gevolg van sy gepunte haarlyn altyd terugval oor sy voorkop. Sy onthou sy skerp, geboë wenkbroue, sy sterk, gebeitelde gelaatstrekke, sy hoë wangbene, en die warm gloed in sy swartbruin oë. Die ligte lyne langs sy mondhoeke en die fyn lagplooitjies wat om sy ooghoeke uitwaaier, vertel haar hy is ouer, en die selfversekerdheid in sy stem en houding bevestig sy sukses as effektemakelaar.
“Waarom is jy nog nie getroud nie?” vra sy impulsief, en bloos vuurrooi toe hy met dansende lag in sy oë opkyk. “Jammer. Ek was sommer net nuuskierig,” maak sy selfbewus verskoning.
“Eet jou kos klaar, dan vertel ek jou, klein agie,” terg hy.
“Ek dink ek het verleer om te eet, want al wil ek, kan ek nie meer nie. Maar die omelet was heerlik, dankie, Hilgard. Jy het gereeld vir my en Armand . . . vir ons omelette gemaak,” eindig sy haastig en verwens haarself daaroor dat sy na Armand verwys het. Sy hou haarself besig met haar bord en eetgerei en vra sonder om op te kyk: “Sal ek vir ons gaan koffie maak?”
“Kyk na my, Marli,” versoek hy gedemp.
Sy gehoorsaam onwillig, kyk in die donker dieptes van sy oë en onthou haar ontwakende liefde as ’n tiener, ervaar die bekende hunkering na iets wat nooit sal wees nie en lag gedwonge. “Ek hét al gekyk – jy is nog nie grys nie,” probeer sy spot.
“Na Armand se dood . . . Ek het nege of tien keer vir jou geskryf en –”
“Ek het nooit één brief gekry nie!” val sy hom in die rede.
Hy sug en staar oomblikke lank stilswyend na die sluimerende vuur in die kaggel voor hy hom weer na haar wend. “Ek weet. My laaste brief was aan jou pa, maar jou ma het dit beantwoord,” vertel hy eindelik.
“My arme ma was so gebroke oor Armand se dood . . . Na sy begrafnis het sy geweier om ooit weer oor hom te praat en ek en my pa het ook sy naam verswyg. As haar brief dalk onvriendelik was . . . As sy jou ouers dalk . . . dalk . . .”
Hy glimlag wrang, flitsend. “Sy het my pa verantwoordelik gehou vir Armand se dood. Ek gee toe – my pa was die vlieënier van die ligte vliegtuig, maar hy het nie opsetlik in die berg vasgevlieg nie. Die ondersoek het getoon daar was ’n meganiese fout, en niemand was vir my ouers of Armand se dood verantwoordelik nie. Jou ma het hulle dood na selfmoord en moord laat klink. Is dit wat jy ook glo, Marli?”
“Nee! Hoe kan jy so iets vra, Hilgard? Het jy vergeet jou ouers was vir my soos eie ouers? Ek was lief vir hulle en ek het oor hulle dood gerou soos wat ek oor Armand gerou het . . . en oor jou.” Sy lees die vraagteken in sy oë en verduidelik: “Ek het meer as net ’n broer verloor. Groeneweide en sy mense, tant Alma en jy, my ander groot broer, het binne ’n oogwink uit my lewe verdwyn. Ek en my ma het hier by my ouma Heilet gekuier, en toe ons weer by my pa aangesluit het, was hy ’n dokter in ’n onbekende stad waar almal vir my vreemdelinge was.”
“Het jy moeilik aangepas?” vra hy simpatiek.
“Ek het nooit aangepas nie, punt. My ma was altyd ’n knap wiskunde-onderwyseres, en toe ons in Pretoria aanland, het sy besluit om weer te studeer en haar doktorsgraad in wiskunde te verwerf. Ek is na ’n vreemde skool toe waar almal vir my vreemd gebly het, want ek was bang om vriende te maak, bang om maats huis toe te nooi, bang dat ek oor Armand sou praat . . . Eers was ek so hartseer dat ek nie in nuwe vriende belanggestel het nie, maar later het ek ’n eie vriendin gemis. Ongelukkig het my maats my toe reeds as ’n vreemde wese van ’n ander planeet af beskou, iemand wat altyd met haar neus in ’n boek gesit het en nie wou gesels nie.”
“Jy, klein kletskous, het in ’n slim, stil kind verander?” terg hy, maar sy glimlag en die uitdrukking op sy gesig verseker haar van deernisvolle begrip.
“Stil en somber, ja. Ek was dankbaar toe ouma Heilet en oupa Frans my gevra het om hier by hulle te kom bly terwyl ek studeer het.”
“Maar daar ís ’n universiteit in Pretoria. Hoekom wou jy Johannesburg toe kom?” vra hy fronsend.
Sy haal haar skouers onverskillig op. “Dit was ’n verandering.”
“Weg van jou ma af?” vra hy vinnig.
Sy probeer frons, maar ’n moedswillige glimlag kruip om haar lippe toe haar oë syne ontmoet. “So iets, ja. Ek is lief vir my ma, maar toe ek eindelik kon vrede maak met Armand se dood, wou ek soms oor hom praat. Ek kon nie met my ma oor hom praat nie, en ek het gevoel dit sou oneerlik wees om met my pa te praat, maar ouma Heilet en oupa Frans het graag staaltjies oor Armand se kleintyd vertel. Dit was asof ek meer . . . tuis gevoel het in hulle huis.”
“Jou oupa is al ’n paar jaar gelede dood?” sê-vra hy.
Sy knik, haar uitdrukking spytig. “Dit was so onnodig – ’n agterlosige bestuurder wat oor ’n rooi verkeerslig gejaag het. My oupa was so ’n gesonde man, altyd opgebeur en besig, en toe . . . niks. Dit het gevoel of die groot, ou huis my en ouma Heilet ingesluk het, of dit propvol leë kamers en ’n neerdrukkende stilte was. Ek was gelukkig, want ek het toe pas begin skoolhou, maar ouma Heilet was so bitter eensaam en hartseer.” Sy swyg, herinneringe wolkend in haar oë.
“Tant Alma het my vertel jy het net ’n kwartaal lank skoolgehou en daarna jou ouma versorg. Was sy altyd ’n hartlyer?” probeer hy haar weglok van haar hartseer gedagtes.
“Nee . . . Die dokters sê dit was haar hart, maar ek weet dit was hartseer. Ouma Heilet het doodeenvoudig ophou leef die dag toe my oupa verongeluk het. Sy het geëet as ek daarop aangedring het, maar nie genoeg vir ’n voëltjie nie. Ek twyfel of sy snags geslaap het, want die enkele kere wat ek ’n slapelose nag gehad het, het sy elke keer op die stoel voor haar kamervenster gesit. Net gesit, asof sy vir iemand gewag het. Ek het haar so bitter jammer gekry, maar ek het geweet ek kon haar nie troos nie.”
“Soms is woorde nie nodig nie; is dit oorgenoeg om te weet iemand is daar vir jou,” antwoord hy mymerend. “Dis hoe ek gevoel het toe die liewe tant Alma haar huis en haar hart vir my oopgemaak het na my ouers se dood. Ek was skielik nie meer alleen nie, want tant Alma was daar vir my. Nogtans is ek jammer dit het kwaaivriendskap tussen haar en jou ouers veroorsaak.”
“Het tant Alma gesê hulle is kwaaivriende?” vra sy verbaas.
“Nee, maar tant Alma is tog jou pa se suster. Julle het in die afgelope tien jaar nooit kom kuier nie – watter ander afleiding kon ek maak?” vra hy ligfronsend.
“Ek het jou reeds vertel: na Armand se dood was Groeneweide en sy mense taboe in ons huis. Selfs al het my ma nie jou ouers vir Armand se dood geblameer nie, sal sy nooit weer haar voete op Groeneweide sit nie. Ek verstaan haar nie. Sy kon nie soos ek en my pa oor Armand se dood rou nie; sy het doodeenvoudig alles wat haar aan Armand herinner het, verwerp . . . so asof hy nooit bestaan het nie. Miskien maak haar herinneringe aan hom te seer, daarom probeer sy om te vergeet.”
“Dink jy sy het hom vergeet?” vra Hilgard sinies.
Marli sug ongeduldig. “Hoe kan sy? Hy was haar seun, haar eerste kind. Sy het hom nie opsigtelik voorgetrek nie, maar ek weet hy het ’n spesiale plek in haar hart gehad. Sy het gehoop hy sou ’n dokter word, soos my pa, maar toe hy besluit het om op Ou Werf te boer, het sy hom aangemoedig om sy graad in landbou te kry. Sy keuses was altyd reg in haar oë, want sy geluk was altyd vir haar belangriker as haar eie begeertes.”
“Hulle noem dit onselfsugtige liefde,” sê hy, glimlag skrams en betrag haar dan oomblikke lank in stilte. “Wat van jou, Marli? Jy is vier-en-twintig en ek sien nie ’n verloofring aan jou vinger nie. Ek besef jy het jou ouma Heilet voltyds verpleeg, maar ek kan nie glo daar is nie ’n spesiale man in jou lewe nie.”
Sy weet sy bloos, maar sy kyk hom nietemin met ’n tikkie uitdaging in haar oë aan. “Ek en Frans le Roux is goeie vriende, maar ons kon nooit werklik uitgaan nie. Frans het gereeld kom kuier, maar die afgelope twee weke, sedert ouma Heilet se begrafnis, het ek geweier om die foon te beantwoord of gaste te ontvang. Ek . . . ek . . .” Sy swyg, bang om verder te praat, want haar stem is, soos haar oë, vol trane.
“Jy wou alleen wees met jou hartseer. Ek verstaan, Marli, maar as ek na die donker vlekke onder jou oë en die holtes in jou wange kyk . . . Jy was lank genoeg alleen. Gaan jy nie terug na jou ouers toe nie?” vra hy en hou sy sakdoek na haar toe uit.
“Dankie,” sê sy gesmoord, gebruik die sakdoek en vervolg met neergeslane oë: “Ek het aangeneem my ma sou alles erf, want sy was my ouma-hulle se enigste kind, maar ouma Heilet het die ou huis aan my bemaak. Dalk . . . bly ek hier.”
“Maak so – maar eers oor ’n maand of drie. Tant Alma het my die dood voor oë gesweer as ek sonder jou by haar huis opdaag. Ek weet julle bel mekaar gereeld, maar toe jy nie die foon beantwoord nie, en jou pa haar verseker jy is nog hier, het sy my hierheen gestuur om jou te kom haal. Jy het ’n keuse, Marli: óf jy kom saam met my, óf ek trek hier by jou in en pas jou op,” dreig hy sonder ’n sweem van ’n glimlag.
“Solank jy kos maak, kan jy maar bly,” antwoord sy, merk die ongeloof op sy gelaat en glimlag halfhartig. “Ek weet nie, Hilgard. Ek was nog altyd lief vir tant Alma, maar . . .”
“Maar jy is bang om jou ma seer te maak?” raai hy.
“Nee. Jy vergeet – ek was die laatlammetjie. My ma is reeds sestig, en hoewel sy nie meer voltyds werk nie, het sy talle ander belangstellings . . . maar ek is nie werklik een van hulle nie. Ons is nog altyd lief vir mekaar, maar nie meer so na aan mekaar nie. Ek is oud genoeg om my eie besluite te neem.”
“Maar ek is nie, want tant Alma speel nog baas oor my.” Hy blik op sy horlosie. “Ek moet nog ’n paar draaie ry. Ek sal jou ’n paar uur tyd gee om in te pak. Ek behoort nie later as drie-uur vanmiddag terug te wees nie.”
“Maar ek het nog nie besluit wat ek gaan doen nie!” protesteer sy en kom saam met hom orent.
“Jy weet reeds wat jou keuses is. Ek kampeer net hier voor die kaggel totdat jy besluit om saam te kom huis toe, want ek sien nie kans vir ’n konfrontasie met tant Alma nie.” Hy glimlag flitsend. “Tot later, Marli. Onthou om die skottelgoed te was.”
“Maar . . .” begin sy byna onhoorbaar terwyl haar oë sy lang, breedgeskouerde gestalte volg, besef dan wat sy wou gesê het en voel haar wange vlam vat. Sy wil nie hê hy moet weggaan nie; wil nie alleen wees nie, erken sy teenoor haarself. Of is dit meer as eensaamheid wat haar Hilgard by haar wil laat hou?
Sy frons ergerlik. “Onsin! Ek is veels te oud vir tienerliefde!” stel sy haarself gerus en pak hulle borde en eetgerei op die skinkbord.
Frans le Roux neem Marli in sy arms, soen haar langs haar mondhoeke en dan op haar mond, besef dat sy hom nie terugsoen nie en lig sy kop op. “Jammer, Marli. Met jou in my arms raak ek selfsugtig. Ek besef jy is ’n hartseer meisie,” sê hy en glimlag verskonend.
“Ja . . . dankie, Frans,” antwoord sy, nog verward oor haar eie onwilligheid om deur hom gesoen te word. Haar ouma se versorging het ’n ernstige verhouding tussen haar en Frans onmoontlik gemaak, maar tot dusver het sy sy omhelsings en komplimente geniet.
Hy lyk soos altyd, atleties gebou en aantreklik met sy krullerige, goudbruin hare, groenblou oë, gelykmatige gelaatstrekke en ’n sjarmante glimlag, wat ’n kuiltjie in sy regterwang laat keep, dink sy en glimlag vir hom. “Kom ons stap deur kombuis toe, dan maak ek vir ons tee.”
“Wat het van julle kok geword?” vra hy terwyl hulle hand aan hand in die gang afstap.
“Sophie het saam met my ouma oud geword. Ouma Heilet het gesorg dat sy ’n behoorlike pensioen en ’n persentasie van haar boedel erf sodat sy kon aftree. Sophie was so hartseer na ouma Heilet se dood dat ek daarop aangedring het dat sy huis toe gaan. Sy het my verseker sy sal terugkom as ek haar nodig het, want sy is nog gesond en bereid om te werk,” vertel sy en los sy hand toe hulle die ruim kombuis binnegaan.
“Dan gaan jy hier aanbly totdat jou ma die plek verkoop het?” vra hy terwyl hy teen ’n kombuiskas aanleun en kyk hoe sy vir hulle begin tee maak.
“Ouma Heilet het die huis aan my bemaak, moontlik omdat ek haar versorg het,” vertel sy onwillig, bewus van Frans se sensitiwiteit oor geld. Vir hom was sy lewe ’n verbete stryd teen armoede, want sy pa, ’n man wat bereid was om op sy vrou se karige inkomste te teer terwyl hy ’n denkbeeldige siekte vertroetel het, het niks gedoen om Frans met sy naskoolse studie te help nie. Maar Frans het deeltyds gewerk en gestudeer en homself as finansiële bestuurder bekwaam.
Frans fluit sag deur sy tande, ’n helder gloed van belangstelling in sy oë. “My gelukkige meisie! Besef jy jy het miljoene geërf? Verkoop jy die ou plek . . .” Hy besef dat sy hom ongelowig aanstaar en glimlag selfbewus. “Jammer, my liefste. Ek veronderstel jy heg sentimentele waarde aan die mooi, ou huis.”
“Ja . . . en hier lê baie herinneringe. Ek veronderstel ek sal dit in die mark sit, maar nie dadelik nie.”
“Daar is geen haas nie, my skat. Wag, ek sal die skinkbord sitkamer toe dra,” sê hy galant, tel die skinkbord op en volg haar in die gang af.
“Jy bederf my,” glimlag sy toe hy haar bedien. “Maar ek kla nie. Dankie, Frans. En dankie vir al die boodskappe wat jy op my selfoon gelos het. Ek was net nie in staat om te bel nie . . . Ek is jammer.”
“Ek het besef jy het tyd nodig om te rou, Marli, maar ek is dankbaar jy het my eindelik gebel. Ek het jou gemis, my liefste,” antwoord hy, laat sy tee onaangeraak en neem langs haar op die rusbank plaas. Hy wag dat sy haar koppie neerplaas, neem haar hande in syne en soen haar liggies op die mond. “Moenie my verkwalik nie, my skat, maar dit voel of ek jou ’n ewigheid laas gesien het. Jou hartseer het jou net begeerliker gemaak, my pragtige meisie, en . . . en boonop . . .” Hy swyg, los haar hande en draai sy kop weg.
“En boonop?”
Hy lag homself uit. “Kan jy nie raai nie, Marli? Ons ken mekaar al drie maande, en al kon ek jou net ’n paar maal uitneem vir ete, het ek julle drumpel deurgetrap. Ek weet dis te gou om van liefde te praat, maar . . . ek het jou lief. Nee, nee, moet niks sê nie, my liefling,” pleit hy en smoor haar protes moet ’n soen. Hy glimlag in haar oë. “Ek kan wag op jou antwoord, my skat. Maar as jy my die dag sê jy het my lief, maak jy my die gelukkigste man op aarde!”
Die eerste liefdesverklaring aan haar . . . en haar innerlike reaksie is dié van ’n koekie groen seep. Waar is die spreekwoordelike vuurwerke, die triomfantelike gebeier van klokke, die onhoorbare musiek van die liefde? Sy hoor niks, voel niks; daar is net ’n leegheid in en om haar. ’n Leegheid so volkome dat dit dreig om haar te laat verdrink, tuimel haar gedagtes soos skadu’s deur haar bewussyn.
“Moenie so ver en vreemd lyk nie, Marli. Ek is jammer ek het oor my gevoel vir jou gepraat. Ek besef ek was oorhaastig, maar ek wou jou al na ons eerste ontmoeting van my gevoel vir jou vertel het,” sê Frans verskonend.
“Ek . . . ek voel geëerd, dankie, Frans, maar ek is nie in hierdie stadium emosioneel in staat om ernstige besluite oor my toekoms te neem nie. Ek voel so leeg en gedreineer dat ek nie werklik wil dink nie. Miskien as ek ’n rukkie weggaan –”
“Nee!” val hy haar ontsteld in die rede en neem haar een hand in syne. “Die afgelope twee weke was vir my soos ’n ewigheid, my liefling. Of . . . of sal jy by jou ouers in Pretoria wees? Dan sal ons mekaar nog gereeld kan sien, nie waar nie?” vra hy hoopvol.
“My tant Alma Conradie – my peetma – het my gevra om by haar op Groeneweide in die Kaap te gaan kuier. Ek het haar so lank afgeskeep dat ek verplig voel om te gaan,” hoor sy haarself sê, hoewel sy tot op daardie oomblik nog geen besluit oor die kuiertjie geneem het nie. Frans se liefdesverklaring laat haar bedreig voel, beroof haar van haar vryheid, so anders as haar vriendskap met Hilgard. Sy verkies ’n onvoorwaardelike vriendskap wat geen eise aan haar stel nie, beantwoord sy haar eie vraag en ontspan innerlik.
Frans frons teleurgesteld, maar dwing ’n glimlag na sy lippe. “Ek wil nie hê jy moet weggaan nie, my liefste, maar ek besef ek is selfsugtig en besitlik, omdat ek jou liefhet. As jy ’n rukkie by jou tante wil gaan kuier, sal ek dit seker maar moet aanvaar. Solank jy beloof om gereeld te bel en e-pos te stuur.”
“Ek twyfel of tant Alma ’n rekenaar besit, maar jy het my selnommer, en ek sal ook bel. Hoe gaan dit by die werk?” gee sy opsetlik ’n ander wending aan hulle gesprek.
“Uitstekend!” Hy glimlag geesdriftig. “My baas, Brian Elliot, is so in sy skik met my werk as finansiële bestuurder van sy restaurante dat hy aangebied het om my ’n vennoot in ’n nuwe restaurant te maak. Nie dat ek dit finansieel sal kan bekostig nie, want ek sal ’n miljoen of wat in die restaurant moet belê, en waar kry ek so ’n groot som geld vandaan?” vra hy met ’n wrang laggie.
“Het jy die geld dringend nodig?”
“Nee, maar dringend of nie, ek het nie die vaagste hoop dat ek soveel geld by my bank sal kan leen nie,” antwoord hy gelykmatig, kyk flitsend na haar en konsentreer weer op haar hand in syne.
“Ek kan niks beloof nie, Frans, maar as ek die huis verkoop . . . My prokureur sal die saak deeglik ondersoek, en as dit ’n goeie belegging is, sal ek vir jou die geld leen.”
“Nee, Marli,” sê hy ferm. “Ek gaan nie op ’n vrou teer, soos wat my pa nog al die jare doen nie.”
“Hoe kan jy op my teer as ons nie getroud is nie? Dit sal net ’n blote saketransaksie wees,” protesteer sy.
“Ek het jou lief, Marli, en ek hoop dat ek eendag met jou gaan trou. Ek wil nie van die begin van ons huwelik af voel dat ek deur jou onderhou word nie, my liefste.”
“As ons getroud was, kon jy die geld present gekry het, maar ek het aangebied om miskien die geld vir jou te leen,” antwoord sy en trek haar hand uit syne. “Nog ’n koppie tee, Frans?”
Hy sluk haastig sy koppie louwarm tee en staan op. “Nee dankie, ek moet terug werk toe. Maar ek kom weer later inloer.” Hy steek sy arms na haar toe uit, maar die uitdrukking op haar gesig laat hom van plan verander. “Mooi bly, my hartseer meisie. Dink so nou en dan aan my,” sê hy sag, soen haar op die wang en loop met sy arm om haar skouers na sy motor toe.
Marli rits haar tas toe, dra dit na die res van haar bagasie toe wat aan die bopunt van die trap staan en draf vinnig die trap af. Sy sluk snakkend na haar asem tot stilstand toe sy die donker silhoeët van ’n man in die oopstaande voordeur gewaar en roep impulsief uit: “Haai, jy!”
Hilgard draai om, merk die verskrikte uitdrukking op haar marmerwit gelaat en druk die voordeur agter hom toe. “Alles reg, bang meisie. Jy kon my nie teen die helder sonskyn buite herken nie . . . of het jy werklik vergeet hoe ek lyk?” vra hy skertsend.
Sy bly roerloos staan terwyl hy na die voetenent van die trap stap, gekoester in die warmte van sy glimlag en die gloed in sy donker oë, en voel hoe haar hart ontplof van ’n grootse, onverklaarbare ekstase, grensloos en sonder vorm. En skielik weet sy sy het hom lief; weet sy met sekerheid dat haar skaam liefde van ’n tiener saam met haar grootgeword het en in die volwasse liefde van ’n vrou verander het. Sy wil styf teen sy bors aanloop, sy gespierde arms om haar voel, en hom soen met hierdie vreemde honger wat haar met haar hele wese na sy aanraking laat smag.
“Ek . . .” begin sy, maar haar woorde droog op, want haar bene is ineens lam, en sy sak hulpeloos op die trap neer.
Hilgard bereik haar binne oomblikke, neem op die trap onder haar plaas en kelk sy regterhand om haar ken. “Is jy duiselig, Marli? Het jy onthou om middagete te eet?”
Die aanraking van sy groot hand jaag rillings van ’n hemelse heerlikheid deur haar liggaam, maar dan sien sy die opregte besorgdheid in sy oë en tuimel terug na die realiteit van die oomblik. Sy het hom liefgekry, maar hy is nog steeds net Hilgard – haar ander ouer broer wat saam met haar grootgeword het, besef sy, ervaar ’n gevoel van verlies in die bodemlose diepte van haar siel en laat sak haar kop snikkend op haar knieë.