Читать книгу Om joune te wees - Schalkie van Wyk - Страница 3
1
ОглавлениеDis nou nie asof sy verwag het dat ta Trynie haar met ’n glas sjampanje en ’n bordjie kaviaar moet inwag nie, dink Kayla Joubert afgehaal terwyl sy uit haar klein motortjie klim, maar sy hét aangeneem dat die tannie oudergewoonte op die tuinbank onder die kareeboom sou sit, gretig om te hoor hoe maklik of moeilik haar laaste eksamenvraestel toe was.
Sy klap die tuinhekkie onnodig hard agter haar toe en draai vraend na regs toe ’n waarskuwende gesis haar ore bereik.
Sy knip haar oë. Daar staan ’n metaalleer teen die muur aangeleun, die boonste gedeelte daarvan verberg deur die laag hangende takke van die wildekersieboom wat langs die muur groei.
“Ta Trynie?” vra sy verwonderd en kyk hoe Trynie se bekende groot voete in ’n paar geel tekkies uit die takke verskyn en afklim grond toe. “Het ons nuwe bure?”
“Sjuut!” waarsku Trynie Geyer sissend, duik onder die takke deur en kom tot by Kayla, haar wysvinger op haar lippe en ’n frons tussen haar wenkbroue. “Dis erger as al die plae van Egipte, Kaylatjie! Al die jare het die goeie dokter Jansen en sy goeie vrou in vrede en stilte langs ons gewoon. En wat gebeur vandag? Twee stokou hippies met lang hare en riempies om hulle koppe trek langs ons in. Hippies, sussie, hippies!”
“Ja, ek hoor, ta Trynie. Maar wat laat tannie dink die mense is hippies?” vra Kayla.
“Ek was jonk in die sestigerjare en ek weet waarvan ek praat, Kaylatjie. Die pa-hippie het ’n baard soos ’n Bybelse profeet, en hy dra ’n vuil T-hemp en ’n matroosbroek, en hy loop kaalvoet nes die ma-hippie. En sy is net so ’n spektakel met al haar toutjies en stringe goedkoop juwele en daai wye, bont romp van haar. Ek sê jou, Kaylatjie, dis om van te ween!”
Kayla onderdruk met moeite ’n glimlag. “Dis nie onwettig om ’n bejaarde hippie te wees nie, ta Trynie. Hippies maak vrede, nie rusie nie. Dalk word tannie en die ma-hippie nog goeie vriendinne en drink gereeld saam tee. Of het tannie klaar met hulle rusie gehad?”
Trynie rys uit soos beskuitdeeg. “Ek sien nog kans vir twee ou hippies, maar die twee het minstens ’n dosyn kinders. Bid jou aan: almal seunskinders met motorfietse! Ek meen hulle eet nou, maar die ganske oggend moes ek na die gebrul van hulle motorfietse luister. Ons moet met jou tannie Annelize praat, liefie: dalk kan ons ’n hofbevel kry om die spul uit te smyt!”
“Dit gaan nie so maklik wees nie, tannie. Dis nie te sê dat as die seuns motorfietse besit, hulle ’n munisipale wet oortree nie,” paai Kayla.
“Nonsies! As honde nie mag blaf nie, mag motorfietse nie brul nie.” Trynie blik vinnig na die muur, vergeet van haar verontwaardiging en stoot-stoot Kayla aan die arm. “Gaan soek vir jou ’n ietsie te ete in die yskas, my hartlam – ek wil eers nog ’n rukkie kyk. Ek is netnoumaar by jou.”
Kayla kyk onthuts na Trynie wat terug na die leer drafstap en ten spyte van haar sewe-en-sestig jaar rats opklim totdat slegs haar groot geel tekkies en knopperige enkels onder die takke sigbaar is.
Iets rym nie, dink Kayla, loop na die leer toe en sluit haar hand om Trynie se enkel.
“Jierp!” krys Trynie gesmoord, skop wild om van Kayla se hand ontslae te raak en klouter halsoorkop die leer af. Sy bly hygend voor Kayla staan, haar gesig grysbleek van skrik, haar oë pieringgroot, en bars uit, haar stem ’n skor fluistering: “Satanskind! Ag siesa, sussietjie, wil jy die oorsaak wees van my vroeë dood? Bekruip my en gryp my! Hoe moes ek weet dis jy en nie ’n boomslang nie?”
“Daar was nog nooit boomslange in ons bome nie, ta Trynie. En tannie het nog nooit meer in ons bure as in my eksamens belang gestel nie. Is tannie nie eens ’n klein bietjie bly omdat ek vandag my finale vak vir my graad in grafiese kuns geskryf het nie?” vra Kayla verwytend.
“Jou eksamen? O. Ja, ja, natuurlik, Kaylatjie.” Trynie lyk skuldig en vervolg heftig: “Ek sal so nimmer as te nooit die belangrikste dag in jou lewe vergeet nie, sussie. Ek belowe jou ek en jy gaan nou-nou saam ’n koeldrankie drink en oor al jou dinge praat, maar nou wil ek eers weer kyk of … e … of hý nog daar is,” antwoord Trynie en begin wegdraai na die leer, maar Kayla gryp haar met albei hande aan die boarm vas en rem met haar volle gewig terug.
’n Onnutsige laggie glip oor Trynie se lippe terwyl sy bly staan en Kayla betrag. “Nes ’n dapper muis wat ’n kat probeer vang, nè, my liefie? Ek wil jou nie in die gesig vat nie, Kaylatjie, maar jy’s maar pieperig langs my. Ek is langer as jou ouboet Marnus én jou pa, en ek’s die ene knokkels en spiere, met nie ’n enkele gram vet aan my liggaam nie. As jy nie my arm los nie, klim jy so hang-hang saam met my die leer op.”
“Watter hy, tannie? Tannie stel tog nie in ’n ou hippie-oom belang nie? Of ken tannie die ou oom?” vra Kayla nuuskierig.
Trynie tuit haar lippe en betrag Kayla ’n paar oomblikke voor sy verduidelik: “Dis hoekom ek weer moet kyk, kind, want dalk het my ou oë my bedrieg. Sien, hy was anders as hulle – nie ’n hippie of ’n derduiwel op ’n motorfiets nie. Nou nie ’n groot man met yslike spiere en breë skouers nie, maar sulke blou-blou ogies en ’n skaam ou glimlaggie. Rêrig ’n vrindelike ou gevreetjie wat die man aan hom het.”
As sy nie geweet het ta Trynie, wat meer as veertig jaar reeds hulle huishoudster is, is ’n geswore oujongnooi nie, het sy geglo die tannie is verlief, dink Kayla. Sy los Trynie se arm, swenk om haar en storm die leer op sodat sy oor die muur in die buurwerf kan kyk.
“Hier’s net …” begin sy en verloor haar vermoë om asem te haal en te praat toe sy vaskyk in die gesig van ’n lang, lenige man wat teen ’n groot kartonhouer aanleun. Hy is ’n aantreklike man, lank en breed van skouer. Sy heupe is smal en die spiere van sy arms en bors is sigbaar onder sy nousluitende T-hemp. Sy hoë wangbene, effens geboë neus en ferm mond skep die indruk van innerlike krag en deursettingsvermoë, terwyl die lagplooitjies om sy oë sy humorsin verraai. Sy digte, goudblonde hare, die kleur van ryp koring, is windverwaaid en gee aan hom ’n seunsagtige voorkoms wat deur die waaksame lig in sy taankleurige oë weerspreek word.
Hy weet sy kyk na hom, besef Kayla, maar hy kyk nie weg nie en wend geen poging aan om met haar te praat nie. Sy staar asof gehipnotiseerd in sy oë en dis asof die skadu van ’n ou herinnering – ’n herinnering van instink, nie van die verstand nie – in haar ’n sekerheid laat opwel dat sy hom op ’n ander tyd en plek geken en liefgehad het.
Nee, sy dink soos ’n verliefde tiener, betig sy haarself, voel ’n blos van verleentheid oor haar gesig sprei en klim haastig die leer af.
“Hy het oë soos ’n roofdier, ta Trynie,” fluister sy, vies dat sy haar deur Trynie se simpel praatjies laat verlei het om hulle nuwe bure af te loer.
“Nonsies, my engel! Blou-blou ogies, op ’n haar so blou soos Kaapse vergeet-my-nietjies.”
“Geelbruin oë soos ’n arend, tannie, en hy is langer as tannie én my ouboet Marnus,” sê sy ongeduldig en betrag Trynie agterdogtig. “Hoekom stel tannie skielik in ’n blonde jong man belang?”
“Moenie laf wees nie, Kayla. Sy hare – en dis nou die bietjie wat hy nog oorhet – is wit soos myne, net heelwat yler, veral op sy kroontjie. Haai, sussietjie, ken jy nie die verskil tussen grys en blonde hare nie?”
“Hy het digte, koringblonde hare en genoeg spiere om … Moenie, tannie! Hy weet ons loer hom af. Tannie … asseblief!” probeer Kayla keer en gryp-gryp na Trynie wat haar blitssnel pypkan en die leer opklouter.
Sy staar oopmond na Trynie wat met haar hand wuif en dan, met ’n salige glimlaggie, die leer afklim en haar weer by Kayla aansluit.
“Netnou, toe hy agterkom ek hou hom dop, het hy in my oë gekyk en geglimlag, maar nou is ons by die glimlagstadium verby, want hy het met sy hand vir my gewaai. Kort voor lank sal hy hom aan my voorstel en hoop om my beter te leer ken.” Trynie vat-vat aan haar digte, sneeuwit hare, druk haar regterhand in haar sy en vervolg selfvoldaan: “Ek sou nooit Juffrou Suid-Afrika kon gewees het nie, maar kyk ek in die spieël, kan ek met my eie oë sien ek is ’n aansienlike vrou. My neus en my mond is dalk effentjies groot, maar my oorle pa het altoos gesê ek het die sagte bruin oë van ’n ou wildsbokkie. Ek meen dis my mooi oë wat sy hart gesteel het.”
“Tannie yl!” grom Kayla, storm die leer op en hou weer op asemhaal toe die blonde jong man sy regterhand lig en vir haar wuif. Sy gly-klim die leer af en kners deur haar tande: “Hy is nie oud of bles nie, ta Trynie. Ek wed hy weet hy is aantreklik, daarom maak hy ogies vir ou tannies en nuuskierige studente.”
“Jy is oorwerk, oorspanne en sommer op die koffie van die min slaap en die baie leer, my engelkind, daarom droom jy drome en sien jy gesigte. Hy is ’n man van my leeftyd, en ek weet klaar hy sal nie gelukkig wees saam met die hippies en hulle rumoerige seunskinders nie. Ek het ’n ruim woonstel in hierdie huis en so lank as wat ek uitgespaar bly, sal …” Trynie laat haar sin onvoltooid en vra bekommerd: “Maar wat van Annelize?”
“Wat het tannie Annelize met hippies en tannie se swak oë te doen?” vra Kayla en wonder bekommerd of te veel studie haar eie oë aangetas het. Of ly tant Trynie skielik aan alzheimersiekte?
“As ’n mooi vrou soos Annelize ses-en-veertig jaar oud en ongetroud is, is sy ’n mannehater, ’n vrouehater en ’n selfhater. Ons het die grootste huis in die hele woonbuurt, maar stel sy belang om kamers aan studente te verhuur? Nee, sê sy mos al die jare, studente is ongedissiplineerde kleuters wat geen respek vir die kosbare antieke meubels en die kunsskatte van Huis Kanferfoelie sal hê nie. Kaylatjie, wat doen ’n mens met ’n huis vol ou meubels en al die kunsskatte onder die son as die ouderdom jou van agter af inloop en jy niks en niemand het om lief te hê nie?”
“O … nóú verstaan ek! Tannie is bang ek gaan na my ouers toe, noudat ek my graad voltooi het, daarom soek tannie so naarstig na moontlike loseerders,” sê Kayla verlig, gooi haar arm om Trynie se skouers en gee haar ’n gerusstellende drukkie. “Moenie jou bekommer nie, tannie. Ek gaan my beslis nie op ’n plaas in Brasilië begrawe nie, selfs al dink my ouers en Marnus Lua Nova Fazenda is ’n stukkie van die paradys.”
“Liefietjie, ek is nie kinds nie. Vir wat sal jy in Brasilië gaan rondfoeter as die Brasilianers nie ’n woord Afrikaans kan praat nie? Maar jy is jonk en mooi en mondig, en as ek en Annelize weer ons oë uitvee, is jy getroud met ’n man wat nie Huis Kanferfoelie met ’n spul vroumense sal wil deel nie. En wat word dan van my? Annelize bring haar dae by die universiteit deur, en werk sy nie, kuier sy saam met haar medeprofessore en praat oor die aandelemarkte en rentekoerse totdat ek wonder of hulle rêrig Afrikaans praat, want ek verstaan g’n woord van hulle stories nie. Sê my, Kaylatjie, wat gaan van my op my oudag word?” vra Trynie, haar stem yl van selfbejammering.
“Ek sal hier wees, ta Trynie,” beloof Kayla, lees die twyfel op Trynie se gesig en glimlag gerusstellend. “Ek was vier jaar lank op universiteit en ek het nie ’n enkele man ontmoet wat ek kon liefkry nie. Ek weet ek en Sunette gaan gereeld saam met mansmense uit, maar dis omdat Sunette my altyd saamsleep. Sy sê sy is ’n gebore flerrie soos haar ma wat al vier maal getroud was, en ek is die bewaarderes van haar sedes, want sy wil eendag gelukkig getroud wees soos my pa en ma.”
“Sunette Durand is ’n stout kind, liefie, en trap jy nie versigtig nie, lei sy jou met haar soet stemmetjie en haar onskuldige glimlaggies tot binne-in die verderf. Ek onthou die keer toe jou ouboet Marnus kom kuier het: Sunette was dag en nag hier, en meestal in haar bikini of shortie-pajamas geklee – die skaamtelose klein merrie! En elke maal as sy Marnus gewaar, het sy hom beklou en toegerank. Ek was later so op my senuwees dat ek met ’n reisdeken in my arms agter die klein flerrie aangedraf het om haar naaktheid te bedek wanneer Marnus hom by ons aangesluit het.”
Kayla sniklag gesmoord, voel haar lippe span in ’n poging om ernstig te lyk, en bars skaterend uit van die lag toe Trynie met ’n waarskuwende snork na haar draai.
“Ja, toe! Lag my maar uit, stuitige kind, maar jy sal nie so hard lag as jou ouboet saam met Sunette in die verderf beland nie.”
Kayla haak by Trynie in en gee haar arm ’n paaiende drukkie. “Dit was tien jaar gelede toe Marnus by ons gekuier het, tannie. Ek en Sunette was elf jaar oud en soos stokmannetjies gebou: die ene lang, maer bene en arms en knopknieë. Sunette was jaloers omdat sy nie ’n ouer broer het nie en het Marnus soos ’n stertjie oral gevolg. Onthou tannie, sy het Marnus aanvanklik ‘oom’ genoem, totdat hy haar oortuig het dat hy op twintig te jonk was om soos ’n oom te voel.”
“Ok waar,” gee Trynie met ’n suggie toe en staar verlangend na die leer langs die muur. “Ek wil-wil weer gaan loer, liefie, maar aan die ander kant: wat sal al die geloer my help? Jy en Sunette het al die regte rondings gekry, maar kyk na my: groot hande soos boerpampoene en nog groter voete soos waatlemoene.”
“Duisende vrouens sal tannie beny, want tannie is lank en slank,” sê Kayla diplomaties.
“Twak! Ek is lank en hoekig, met knopperige knieë en elmboë … en ek sukkel hoeka met my knokkeltone. Nee wat, sussietjie, moenie eens probeer om my te troos nie. My spieël lieg nie, en ek skat die liewe man …” Trynie sug bewerig en draai weg van die muur. “Ek het my plig teenoor jou vergeet, Kaylatjie, want ek het toegelaat dat my hart my gesonde verstand oorheers. Kom ons gaan vier jou laaste dag as student met ’n bottel brandewyn of mampoer.”
Ta Trynie is ernstig oor die bejaarde man met die blou-blou oë en die skaam glimlaggie, besef Kayla. Veronderstel daar is so ’n man en sy het haar net verbeel hulle buurman is ’n lang, blonde man met taankleurige oë … Sy swaai om en vlieg die leer op om weer oor die muur te loer.
“Is hy nog daar, liefie?” vra Trynie van die voet van die leer af.
Kayla knip-knip haar oë, kyk ’n laaste keer en klim stadig af. “Ja, ta Trynie. Hy is korterig en ronderig en …enne, hy het blou-blou oë en ’n skaam glimlaggie. Ek weet ons het nie brandewyn of mampoer in die huis nie, tannie, maar ’n groot beker sterk swart koffie sal dalk verhoed dat ek weer drome droom en gesigte sien.”
Trynie lig haar kop luisterend toe die voordeur toeklap en vinnige voetstappe in die gang af kom. Sy kyk verwytend na Kayla, wat lusteloos aan ’n stukkie melktert peusel, haar middagkoffie lankal koud in die koppie langs haar. “Dis sy, daardie stout meisiekind. Is sy nie weg na haar pa toe nie? Of het sy nog vraestelle om te skryf?”
“Sunette se pa is ’n wynboer in die Kaap, tannie. Wat gaan sy met ’n graad in joernalistiek op ’n wynplaas aanvang? Ons soek saam werk, ons hoop om by dieselfde maatskappy reg te kom,” verduidelik Kayla en glimlag verwelkomend toe Sunette Durand stralend die vertrek binnekom.
“Haai, ta Trynie! Hallo, Kayla! Wat ’n geluk! Ek sê jou, Kayla, ek kan nie wag om in te trek nie – nie nadat ek al daardie manne op hulle masjiene gesien het nie. Jy ken my, my maat: wys my ’n man in ’n leerbroek en -baadjie op ’n motorfiets, en ek verander in ’n sek … in ’n sekonde in sy bewonderaar,” babbel Sunette, gaan sit op ’n stoel langs Kayla en waag ’n versigtige kykie na die fronsende Trynie.
“Sekskatjie, dogter – dis wat jy wou gesê het. Wie het jou die reg gegee om op ons leer te klim en ons bure af te loer?” vra Trynie kwasterig.
“Ek het die motorfietse hoor brul en toe vertel tannie-hulle se tuinier my tannie en Kayla gebruik die leer om die nuwe bure dop te hou. Is tannie nou vies vir my omdat ek hulle ook afgeloer het? Of moet ek liewer my eie leer saambring wanneer ek hier kom bly?”
Kayla proeslag hulpeloos agter haar servet en probeer vergeefs om haar lagbui in ’n oortuigende hoesbui te verander.
Trynie gluur Sunette oomblikke lank aan en wend haar met ’n uitdrukking van bitterheid op haar gesig na Kayla. “Sy doen dit al die jare, Kayla: klink te onnosel om die alfabet op te sê, maar slaag al haar vakke met hoogste lof. Wat, Sunette, laat jou glo dat jy hier by ons gaan intrek?”
“My en Kayla se gebrek aan werk en finansies, tannie.”
“Dis waar, tannie,” beaam Kayla. “Sunette het reeds gister haar finale vraestel geskryf en sy kan nie vir altyd in die koshuis bly nie. Ek en sy wil graag saam werk kry by ’n advertensieagentskap. Ons sal voorstelle vir puik advertensies maak en hulle dan ontwikkel en vervaardig. Sunette sal die kopieskryfster wees en ek sal die grafiese ontwerpe behartig. Ons werk lekker saam en sodra ons …”
“Ja, ja, ek weet van julle advertensiestories, Kaylatjie, maar met die rumoerige motorfietsryers langs ons, het ek rus vir my siel onder ons eie dak nodig. Sunette, jou pa is ’n skatryk man. Hy kan vir jou ’n woonstel koop of huur totdat jy werk kry en jou eie potjie kan krap,” sê Trynie omgekrap.
“Ek sal in ’n solderkamer op die derde verdieping intrek, ta Trynie, en die bediendetrap gebruik sodat ek en tannie se lewenspaaie nooit kruis nie. Of dalk kan ek die brandtrap gebruik … Toe tog, tannie, ek beloof om nooit weer op tannie se leer te klim nie.” Sunette leun oor die tafel na Trynie toe en vra nuuskierig: “Kry ou tannies ook hoendervleis van die lekkerte as hulle na manne op motorfietse kyk?”
Kayla laat val haar servet en duik agterna om haar geluidlose lagbui vir Trynie te verberg, terwyl Trynie haar eie regterpols met haar linkerhand vasgryp en dit vasklou asof sy vrees sy gaan haar hand verloor.
“Kayla, klim onder die tafel uit. Ek dink jou ta Trynie het ’n aanval van angina pectoris. Kyk, haar gesig is bloedrooi … amper pers. Snaaks, ek het gedink hartaanvalle maak ’n mens bleek,” kom dit van Sunette.
Kayla sit vinnig orent en pomp Sunette liggies in die sy. “Sit stil en bly stil as jy ongedeerd wil bly, Sunette. As ta Trynie haar regterpols los, gee sy jou ’n dwarsklap wat jou kakebeen sal breek.” Sy kyk pleitend na Trynie. “Sunette kan dit nie verhelp nie, ta Trynie. Haar ma was al die jare so besig met trou en skei en saam met mans rondjakker dat sy nie nog tyd gehad het om Sunette ordentlik groot te maak nie. Die enkele keer toe ek vir ’n langnaweek saam met Sunette huis toe is, het haar pa vir my gesê hy wens hy het ’n swartkopdogter gehad, want Sunette is ’n sedelose blondine soos haar ma.”
“Dis waar, ta Trynie,” beaam Sunette met ’n tragiese stemmetjie. “Voordat ek geweet het wat sedes is, het my pa my vertel ek het hulle almal verloor en my in koshuise geprop waar die onderwysers my moes grootmaak, en vakansietye het hy my by sy vriende afgelaai en hulle geldelik vergoed vir my verblyf.”
“En al jou pa se vriende kon jou nie leer om fatsoenlik op te tree nie, Sunette?” vra Trynie en los haar regterpols tydsaam.
“Ek glo nie hulle het te hard probeer nie, tannie, want my pa het heelwat betaal om vakansies van my ontslae te wees. Een van die tannies het altyd gesê ek is hulle vakansiebonus, en sy het my toegelaat om te doen net wat ek wil.”
“Umm,” kom dit nadenkend van Trynie, haar oë effens geskreef terwyl sy Sunette betrag. “Met ’n ma soos joune sal jy dit nie weet nie, jou arme verwaarloosde bloedjie, maar ouer mense se persoonlike gevoelens het niks met jou te make nie. Kyk ek na die spul motorfietsryers hier langsaan, kry ek gloede van ergernis, niks anders nie.”
“Dan mag ek maar hier intrek, ta Trynie?”
“Ek is net die huishoudster, nie die eienares van Huis Kanferfoelie nie, kind. Jy sal met die professortjie moet praat – en slaan ag op jou maniere as jy met haar praat, anders kry jy die dwarsklap wat ek jou wou gegee het,” maan Trynie haar.
Sunette draai benoud na Kayla. “Sal jy nie jou tannie namens my vra nie, beste vriendin? Sy is immers jóú tannie.”
“Sy is, daarom weet ek sy hou nie van lafaards nie …Hmm, ek dink dis haar motor wat voor die hek stilgehou het,” antwoord Kayla, kom orent en loop na die naaste venster.
“Ek skoert by die sydeur uit, Kayla. Tot siens, ta Trynie. Kayla, onthou ek bring die eiers vanaand. As jy hulle nie teen halfses môreoggend by die restaurant aflewer nie, sal ou Baumann jou nie betaal nie. Moenie verslaap nie!”
Trynie draai agterdogtig na Kayla toe Sunette die eetkamer uitdraf. “Wat is dit van eiers?”
“Een van Sunette se koshuismaats woon op ’n hoenderplaas, tannie. Sunette het met haar koshuismaat se pa oor eiers onderhandel: Sunette gaan haal die eiers en ek lewer hulle af en ons maak ’n bietjie wins op die transaksie. Moenie my so skeef aankyk nie, tannie. Werk is werk, en ’n paar rand is beter as niks nie.”
“Almiskie, my kind, maar jy het ’n trustfonds van jou ouma Joubert geërf. Ek weet jy kry nie ’n fortuin uit die fonds nie, maar dis oorgenoeg sakgeld, want jou tannie Annelize sal jou nooit losies laat betaal nie. Ek meen nou maar: wat sal jou ouers van ons dink as jy hoendereiers op jou nugter maag moet aflewer om ’n geldjie te verdien?”
“Hulle sal sê ek en Sunette is twee flukse entrepreneurs, tannie,” antwoord Kayla laggend en kom orent om haar koppie en piering en bordjie kombuis toe te dra.
Trynie en Kayla staan in die oop voordeur van Huis Kanferfoelie en kyk moedeloos na mekaar toe die gedreun van die motorfietsenjins soveel in volume toeneem dat hulle hul hande oor hul ore moet druk.
Sy het seker haar donker krulle en grys oë van haar ma geërf, dink Kayla, want haar tant Annelize is ’n vroulike weergawe van haar pa, met groen oë en dieselfde kastaiingbruin hare waarop die son koperrooi weerkaats. Sy kyk hoe Annelize vinnig die enkele wye, vlak treetjies opklim na die oopstaande voordeur, omdraai en die swaar houtdeur met opsigtelike selfbeheersing stadig toemaak, sluit en grendel.
“Dit help, ja, maar nie genoeg nie!” skree Trynie.
Annelize sit haar boektas op ’n monniksbank in die voorportaal neer en beduie met haar hand na die gang, voordat sy vooruit stap na die musiekkamer.
Hulle volg haar die vertrek binne en wag terwyl sy die dubbele vensters en die klankdigte staaldeur van die vertrek toemaak.
“Sjoe!” kom dit dankbaar van Kayla. “Stilte! Hoekom het ek en ta Trynie nie lankal aan die musiekkamer gedink nie? Hallo, tannie Annelize. Sedert middagete het die spul mans nog nie ’n oomblik hulle vervlakste motorfietsenjins afgeskakel nie. Wat gaan ons doen, tannie?”
“Hallo, Kayla … Trynie. Het jy die nuwe intrekkers reeds ontmoet, Trynie?” vra Annelize saaklik en gaan sit op die naaste stoel.
“Hoe, Annelize? Die spul sal hulle eie deurklokkie nie hoor lui nie. Maar ek het hulle dopgehou – ek het op die leer langs die muur gestaan: daar is ’n pa en ’n ma, altwee hippies met lang, slordige hare wat …”
“Ja, ja, ek het hulle gesien, ek het ook op die leer gestaan,” val Annelize haar saaklik in die rede. “Die vrou lyk onskadelik, ten spyte van haar stringe krale en daardie onooglike, persblou getatoeëerde arms van haar. Sy het in die tuin rondgeloop en kort-kort aan ’n stinkafrikaner geruik. Die man het agter die vrou aangedrentel en elke dan en wan oor die pype van sy matroosbroek gestruikel – sy vrou weet seker nie hoe om hulle korter te maak nie. Maar dis die spul jong mans met die motorfietse … Genade toggie, dit kan nie almal hulle kinders wees nie! Tien of twaalf, sou ek raai.”
“Sewe – hulle lyk net meer omdat hulle soveel lawaai maak. En hulle noem die ou hippies sommer ‘Oulady’ en ‘Outoppie’. Wat die mense in ons kontrei kom soek het en waar hulle die geld vandaan gekry het om dokter Jansen se huis te koop, sal niemand weet nie. Of meen jy dokter Jansen het sy huis aan dié rumoerige spul verhuur?”
“Die Jansens woon al die afgelope twee maande by hulle getroude seun in Nieu-Seeland, Trynie. Hulle huis was in die mark en dis blykbaar oornag verkoop. As ek nie so besig was nie, het ek moontlik meer notisie geneem van die huisagent wat die ou plek verkoop het. Kayla … Trynie, kan een van julle die naam van die agentskap onthou?”
Kayla en Trynie kyk vraend na mekaar en skud hulle koppe.
“Is daar nie munisipale wette teen lawaai nie, tannie?” vra Kayla geïrriteerd. Die dreunende motorfietse pla haar nie soveel nie, maar die blonde man met die taankleurige oë spook by haar. Sy het hom gesien; sy het hom definitief gesien. Toe die mans hulle motorfietse weer ná middagete laat brul het, het sy oor die muur geloer, maar sy het nie weer haar blonde man gewaar nie. Sy weet hy is nie een van die motorfietsbende nie, want hy het jeans en ’n wit T-hemp aangehad, nie ’n leerbroek en -baadjie nie. Is hy een van die ou hippies se seuns, of was hy net ’n kuiergas?
“Dit is mos soos ek sê, nè, liefie?” sê Trynie en pluk Kayla aan die skouer om seker te maak haar vraag word gehoor.
“Ekskuus, ta Trynie?” stamel Kayla, sien Annelize frons en sê verskonend: “Ek is dood van die vaak, tannie. Ek was te gespanne om gisternag te slaap.”
“As jy vannag wil slaap, moet jy na my voorstel luister, Kaylatjie,” sê Trynie gewigtig. “Ek het Annelize vertel van die gawe ouer man met die blou oë en die skaam glimlag. Jy het hom tog gesien, nie waar nie, sussie?”
“Ja, ta Trynie.”
“Hy lyk vir my soos ’n ordentlike man. Ek het gemeen as ek met hom sou praat en aan hom verduidelik dat dit ’n spogwoonbuurt is dié en dat daar net vooraanstaande mense hier woon, mense wat nie gewoond is aan rumoerige bure nie, sal hy die lawaaimakers kan oorreed om elders met hulle motorfietse te gaan speel. Hoe dink jy, sussietjie?”
“Ek dink dis ’n uitstekende plan, ta Trynie. Ons sal net moet wag totdat die mans ophou peuter aan hulle motorfietse en hoop ons gewaar die ou omie weer in die tuin. Wie weet, dalk behoort die huis aan hom. As die hippies en hulle seuns net huurders is, sal hulle na hom móét luister.” Kayla hoop sy sien haar blonde man en nie die ou omie met die blou-blou ogies nie as sy weer oor die muur loer.
“As jy en Trynie ons probleem nie kan oplos nie, bel ek my prokureur. Ek kan nie agter die munisipaliteit aandraf nie, ek het oorgenoeg werk om te doen,” sê Annelize en kom orent. “Ek het hope nasienwerk. Bring asseblief vir my ’n koppie koffie na my studeerkamer toe, Trynie, en ’n ligte aandete teen agtuur vanaand. As die spulletjie nie teen tienuur tot bedaring kom nie, bel ek die polisie.”
“Ek maak so, professortjie,” antwoord Trynie gedienstig, haar hande op haar maag saamgevat, en knipoog stadig vir Kayla toe Annelize die musiekkamer uitstap. “Annelize is so omgekrap, sy kom nie eens agter ek noem haar ‘professortjie’ nie. As ek jy is, liefie, bly ek tjoepstil oor Sunette se planne om hier by ons in te trek en om boonop van jou ’n hoenderboer te maak.” Sy glimlag ongesteurd toe Kayla haar verontwaardig aankyk en haastig die musiekkamer uitstap.
Sunette moenie dink sy gaan elke oggend voor vyf opstaan om eiers af te lewer nie, dink Kayla vies en gaap totdat haar oë traan. Sy blik sydelings na die twee dosyn kartonne met dertig hoendereiers elk wat op die sitplek langs haar opgestapel is en ry onwillekeurig stadiger. Dalk sou dit veiliger gewees het om die eiers in die kattebak van haar ou motortjie te vervoer, maar Sunette het hulle eers ná middernag afgelewer. Tipies van Sunette: gaan dans eers en lewer dan die eiers af.
Sy gewaar ’n trapfietsryer wat haar van agter injaag in haar truspieëltjie, beny hom sy energie, en besef dan hy ry veels te naby aan haar motortjie verby. Sy sien hom terugkyk oor sy skouer na haar, maar die volgende oomblik maak sy fiets kontak met die voorste buffer van haar motor. Asof in vertraagde aksie kyk sy hoe die fietsryer deur die lug trek, op die enjinkap van ’n geparkeerde motor langs die sypaadjie val en dan agter die motor verdwyn.
“Nee!” krys sy, swaai haar motor voor die geparkeerde motor in en trap die rem weg. Haar motor ruk tot stilstand en die opgestapelde kartonne gly onder die paneelkissie in. Die eiers spat na alle kante.
Sy skakel die enjin af, ruk die motordeur oop en storm om die geparkeerde motor na waar die fietsryer bewegingloos op die sypaadjie lê. Sy sak op haar knieë langs hom neer, haar senuwees in ’n pynknoop van skok en vrees op haar maag saamgebondel, en adem angsbevange: “Asseblief … asseblief, moenie dood wees nie … Asseblief!”
As dit net nie so mistig was nie, as sy net duideliker kon sien, dink sy, vee met haar handrug oor haar oë en besef dat sy huil.
Trane gaan nie die situasie verbeter nie, redeneer sy met haarself. Sy het haar selfoon. Sy sal tannie Annelize bel … Nee, sy moet liewer ’n dokter of ’n ambulans ontbied. As die man net nie dood is nie … Gelukkig dra hy ’n valhelm, maar hy lê so stil … Leef hy nog?
Sy buig oor hom, laat sak haar wang op sy bors en luister of sy sy hartklop kan hoor.
“Wat doen jy?” vra ’n welluidende manstem vlak langs haar.
Sy ruk haar kop op, oortuig dat dit die fietsryer is wat gepraat het, en byt ontsteld op haar onderlip toe sy merk dat sy oë nog toe is.
Sy kyk haastig om haar rond, gewaar geen ander voetgangers nie en vra onseker: “Meneer, het jy met my gepraat?” Sy staar stip na sy bors, sien dit ritmies op en af beweeg en besef met dankbare verligting dat hy asemhaal. “Jy’s nie dood nie! Ek is bly, maar die ongeluk was jou eie skuld. Jy moes nie omgekyk …” Sy trek haar asem stadig in en sê verbysterd: “Maar jy’s dan hy!”
Die fietsryer maak sy oë oop en sê doodluiters: “En jy is sy – die swartkopmeisie wat my oor die muur afgeloer het. Gaan jy vir my ’n nuwe fiets koop?”