Читать книгу Maryna se liefdeslied - Schalkie van Wyk - Страница 4

1

Оглавление

Maryna Fourie kyk bekommerd deur die windskerm van haar ou Duitse motortjie na die donker reënwolke wat tydsaam agter die bulte probeer uitklim en dan deur die versengende hitte van die somerson gestuit word. In ’n motor sonder lugreëling sal ’n skielike reënbui ’n verfrissende lafenis wees, dink sy hoopvol, maar onthou gekweld: soms haak die reënveërs van haar motor vas en moet sy noodgedwonge stilhou en wag totdat …’n Luide knal in die motorenjin agter haar skok haar gedagtegang tot stilstand, en jaag haar hartklop dawerend aan in haar ore. Sy luister benoud na die vreemde klapgeluide in die enjin, trek haar motor van die pad af en skakel die enjin af.

Wat nou? wonder sy ongeduldig, klim uit en maak die enjinkap oop. Sy staar oomblikke lank asof gehipnotiseerd na die motorenjin, vat-vat hier en trek-trek daar aan die naamlose onderdele, brand haar vingers en vee hulle aan haar jeans af. Sy het haar laaste breinsel weggeskrik, besluit sy bedroë, en sy weet in elk geval niks van ’n motor­enjin nie, en om haar aan die enjin te vergaap sal haar ook niks wyser maak nie. Maar iets het gebreek, en ry sy verder, val die enjin dalk uit. Miskien kan sy ’n verbyganger stop en …Nee, dis te gevaarlik. Dis selfs gevaarlik om langs die pad in haar motor te sit en wag dat …dat haar pa na haar kom soek, of die een of ’n ander wonderwerk gebeur. Boonop voel sy klaar soos ’n uitgebraaide kaiing in die verskroeiende strale van die son.

Maryna kyk vinnig rond, sien enkele motors op die snelweg verbyry, en sak op die grond langs haar motor neer. Seker dat sy onsigbaar is vir die verbygaande verkeer, skuif sy vinnig onder in. Versmorende walms van warm olie en brandstof laat haar haar kop vinnig wegdraai, haar hand bak langs haar neus. Sy sal nie van sonstraal beswyk nie, want dis koeler onder die motor as in die stekende son, maar sy kan moontlik aan die giftige walms beswyk, dink sy. Sy gaan haar liewe ma in ’n senukliniek laat beland, en haar dierbare pa sal heel waarskynlik ’n aanval van beroerte kry as sy nie teen aandete tuis is nie. As sy en Leonie nie tot laatnag gesels het nie, het sy moontlik onthou om haar selfoonbattery te laai, en kon sy haar pa nou gebel het. Wat het mense in die ou dae gedoen wanneer hulle …? Hulle. Meervoud.

Sy is alleen, ongewapen en sonder foon. Daar is openbare telefone langs die snelweg, maar sy weet nie hoe ver die naaste een is nie, en sy is nie dapper genoeg om langs die snelweg te loop asof sy piekniek gaan hou nie.

Sy luister na die verbyswiepende verkeer, dankbaar dat niemand tot dusver stilgehou het om haar motortjie van nader te betrag nie. Goeiste, onthou sy ontsteld, sy het skoon vergeet om haar motorsleutels te verwyder. Maar as iemand haar motor wil steel, laat hulle gerus maar probeer: die enjin gaan in elk geval binnekort uitval, troos sy haarself halfhartig.

Sy raak bewus van die dieper gebrul van ’n kragtige motorfietsenjin en hoor hoe dit in volume afneem. Nee, dis net haar verbeelding, probeer sy haarself paniekerig gerusstel. Die motorfietsryer sal nie stilhou nie. Motorfietsryers is in elk geval nie moorddadige boewe nie. Haar pa het ook ’n motorfiets gehad totdat haar ma gedreig het om te skei voordat hy van haar ’n weduwee maak.

Die voorwiel van die motorfiets kom teenoor haar gesig tot stilstand, die enjin word afgeskakel en voetstappe knars op die gruis langs die teerpad. Vir slegs ’n kortstondige oomblik word Maryna oorweldig deur vrees en wanhoop wat haar weerloos laat wag dat die persoon haar skuilplek ontdek en haar aan sy wil onderwerp.

Die volgende oomblik pomp die adrenalien van ergernis egter deur haar are oor die vermetelheid van die onbekende man wat dit durf waag om, sonder haar uitnodiging, haar ryding te inspekteer. Dit kan net ’n man wees, want geen vrou dra sulke groot swart stewels nie, redeneer sy met sekerheid.

Die stewels van die motorfietsryer loop weg van die motorenjin en bly digby haar gesig staan. Sy sien haar motortjie effens beweeg toe die stewels wegdraai en die man met sy rug daarteen aanleun. Weet hy miskien sy is onder die motor? wonder sy benoud. Nee, dis tog onmoontlik. Niemand het gesien toe sy onder haar motor ingeskuif het nie, probeer sy haarself gerusstel, maar vrees steek in haar bors toe ’n manstem gemoedelik bokant haar praat: “Die waaierband het gebreek, juffrou.”

Hy klink nie soos ’n misdadiger nie, maar ’n mens kan nooit te versigtig wees nie. Sy sal maak asof sy nie hier is nie, besluit sy, knyp haar oë styf toe en hoop die stewels sal verdwyn. Sy is doodseker hy kon haar nie gesien het nie. Hy vermoed net sy is onder haar motor, moontlik omdat hy haar skouersak in haar motor gesien het, maar hy raai net. As sy net doodstil bly lê en hom ignoreer, sal hy op sy motorfiets klim en wegry.

“Kruip jy weg of inspekteer jy jou motorenjin, juffroutjie?” vra die manstem hoorbaar geamuseerd.

Wat ’n verwronge sin van humor, dink sy en kry skoon hartkloppings. Sý is ’n bondeltjie vrees en oorspanne senuwees, oortuig dat sy in lewensgevaar verkeer, bekommer haar terselfdertyd oor haar ma en pa, en versmoor in die olie- en brandstofwalms van haar motor – en hý lag haar uit.

“Jy weet nie ek is hier nie,” sê sy so ewe.

“O, ek weet,” antwoord hy, met ’n glimlag in sy stem. “Ek het op die voorstoep van ons ou plaashuis gesit en jou deur my verkyker dopgehou. Of hoop jy ek dink dis jou kar wat met my gesels?”

“Koekeloerder! Ek dink dis ’n sonde …e …teen die wet om mense af te loer. Gaan nou weg. My pa sal my binnekort kom haal. My pa …enne …my drie broers. Hulle sal dit nie waardeer as jy my lastig val nie,” jok sy stamelend en klink selfs in haar eie ore onoortuigend.

“Dis gaaf van hulle. Het jy ’n posduif met ’n boodskap om sy poot huis toe gestuur?” vra die man treiterend.

“Ja! Nee! Ek het my pa gebel. Ry nou asseblief, meneer. Dankie vir jou belangstelling, maar ek het werklikwaar nie hulp nodig nie.”

Sy hoor die man sug. “Het jy van my verkyker vergeet? Jy het niemand gebel nie, en die foon wat op die passasiersitplek lê, moet gelaai word. Wil jy nie maar uitklim en my toelaat om jou te help nie?”

’n Hoflike, hulpvaardige, wildvreemde man – nee, dis te goed om waar te wees. Sy is twee-en-twintig, besit haar graad in Verpleegkunde, en het pas haar jaar van gemeen­skapdiens in ’n provinsiale hospitaal voltooi. Sy is veels te intelligent om ’n vreemde man met haar lewe te vertrou.

“Baie dankie, meneer, maar ek verkies om in die koelte onder my kar op my pa-hulle te wag. Jy kan nou maar ry. Tot siens,” antwoord sy met gedwonge hartlikheid en skrik toe haar motortjie ineens beweeg. “Haai, jy! Los my kar uit,” roep sy kwaai uit.

“Dít, juffroutjie, was nie ek nie. Terwyl jy onder jou motor weggekruip het, het ’n storm opgesteek. Dis die afwaartse winde wat jou kar rondpluk. Die storm gaan binnekort uitbars en bly jy lê waar jy is, spoel die reën­water jou af rivier toe,” verduidelik die man geduldig.

Dit hét skielik skemer geword, besef Maryna verras. Sy skuif versigtig onder haar motor uit, kyk na die laaghangende, donker reënwolke en knip haar oë toe een van die eerste groot druppels op haar wang neerplons. “Dit reën sowaar. Ek sal in my motor wag,” sê sy, kyk vinnig na die man vlak langs haar, en bly vasgenael staan.

Hy is ’n lang, donker man met die liggaamsbou van ’n atleet: ’n gespierde bolyf, breed van skouer, met smal heupe en lang, gespierde bene onder sy noupassende swart jeans. Geklee in ’n roomkleurige hemp wat halfpad oopgeknoop is en met sy gespierde bors gedeeltelik ontbloot, straal hy ruwe manlikheid uit. Hy lig sy regterhand om sy windverwaaide kuif uit sy oë te vee, en nog ’n hempsknoop glip uit ’n knoopsgat.

Maryna wend haar oë vinnig af van die man se steurende voorkoms en gryp blindelings na die naaste motordeur, maar sy hand sluit om haar arm.

“Hallo, Maryna Fourie,” groet hy op skertsende toon. “Nee, ek kan nie gedagtes lees nie, maar daar is ’n naamplaatjie op die tas wat op die agterste sitplek lê,” verduidelik hy toe haar oë agterdogtig rek. “Ek is Christiaan de Necker. Ons kan later ordentlik groet, maar nou moet ons blitsvinnig by die huis kom. Dè, sit die ekstra valhelm op jou kop. As die reën nou uitsak, kom ons nie oor die laagwaterbrug nie.” Hy klim op sy motorfiets, laat die enjin brul, en beveel luid: “Maak gou, Maryna!” Sy kan die glimlag in sy stem agter sy valhelm hoor. “Jy betower my met jou blonde skoonheid, Maryna-lief, maar klim nou om liefdesnaam agter my op die sitplek en klou vas soos ’n bobbejaantjie op sy ma se rug. Toe nou.”

’n Bobbejaantjie, dink sy nog, en glimlag spontaan. “As jy nie omgee om my bobbejaanma te wees nie …” spot sy, klim op die sitplek agter hom en sit haar hande versigtig om sy middel.

“Klou vas!” roep hy waarskuwend toe hy wegtrek met sy motorfiets, en sy gehoorsaam hom werktuiglik.

As haar ouers werklik na haar kom soek en haar agter op ’n wildvreemde man se motorfiets gewaar het, sou haar liewe pa seker teen die naaste telefoonpaal vasgejaag het, en sou haar ma gesorg het dat sy onterf word, dink Maryna, verbaas oor die gevoel van veiligheid wat sy ervaar. Motorfietsongelukke is dikwels noodlottig en tien minute gelede sou sy heftig ontken het dat sy ooit haar lewe op ’n motorfiets sou waag. Maar hier sit sy ewe knus agter Christiaan de Necker se rug en geniet elke oomblik van hulle dolle vaart teen die bult af.

Christiaan draai by ’n afrit links uit die snelweg en volg ’n smal, kronkelende teerpad. Huise en enkele sakegeboue flits by Maryna verby. Christiaan roep oor sy skouer: “Dis Neckersrus. Die begraafplaas is groter as die dorp!”

Sy vermoed dat hulle onder die reën uitgejaag het, maar die storm haal hulle in toe hulle die laagwaterbrug bereik. Vlae grys reën deurweek hulle klere in ’n oogwink en belemmer die uitsig. “Hou stil!” roep sy, vir die eerste maal bang dat hulle sal verongeluk.

“Byna daar,” antwoord sy stem gerusstellend bo die reën­geruis en die dreuning van die motorfietsenjin.

Sy sien wit ingangspilare en weet hulle het hulle bestemming bereik. Oomblikke later hou Christiaan in die relatiewe stilte van ’n ruim motorhuis stil en skakel die enjin af. Hy kyk oor sy skouer na haar en sê tergend: “As jy my langer vasklou, gaan ek glo jy het my liefgekry. Maak jou oë oop en klim af, Maryna. Ons het die rit albei oorleef.”

Sy los hom so vinnig dat sy haar balans verloor, maar sy groot hand sluit om haar boarm. “Stadig nou, my blonde meisie. As jy neerslaan en jou geheel en al nerfaf val, glo jou pa en jou baie broers jy het van my motorfiets afgeval.” Christiaan help haar van sy motorfiets af, hou haar nog aan die arm vas en laat sy blik tydsaam oor haar dwaal. “Jy het ’n warm bad en droë klere nodig, maar ek veronderstel jy wil eers jou ouers bel,” sê hy saaklik, maar sy oë vonkellag in hare.

“Ja, asseblief,” versoek sy gesmoord, vies oor die blos van verleentheid wat op haar wange brand bloot omdat hy na haar kyk. Sy is sedert haar tienerjare gewoond aan die bewonderende of opsommende blikke van mans, en het lankal geleer om haar selfbewustheid agter ’n mantel van selfversekerdheid te verberg.

“Sê vir jouself jy is beeldskoon en tree op soos ’n skoonheidskoningin, en niemand sal agterkom jy is skaam nie,” het haar ma haar tien jaar gelede voorgesê. Tot dusver het haar ma se resep gewerk, maar dit was voordat sy Christiaan de Necker ontmoet het. Sy haal haar valhelm af, skud haar kop sodat die klam punte van haar blonde hare in toutjies op haar skouers hang, en hoop sy lyk soos ’n professionele verpleegsuster, en nie ’n blosende tiener nie. “My klere! My motor!” onthou sy ontsteld, haar waardigheid vergete. “Ek het vergeet om my motordeur te sluit en die sleutels te vat.”

“Ek het nie vergeet nie,” sê hy gerusstellend, en klop met sy hand op sy broeksak. “Kom ons stap met die trap op na die binnenshuise ingang. Neckershoogte is ’n mooi ou plek, maar dis makliker om dit in die sonskyn te bewonder.”

Maryna loop saam met hom na die verste hoek van die ruim motorhuis waarin verskeie luukse voertuie geparkeer staan. Hulle behoort seker aan al die ander mense wat op die plaas woon, dink sy. Moontlik boer hy saam met sy pa en broers – en dalk behoort een van die motors aan sy vrou. Sy vrou. Vreemd, sy was nog nooit so intens bewus van ’n man se fisieke teenwoordigheid nie. Dis moontlik waarom sy nie van die gedagte hou dat hy ’n vrou het nie. Sy trek haar asem vlak in toe hy haar, met sy hand onder haar elmboog, die trap ophelp. ’n Gevoel van welbehae vloei deur haar hele lyf. Sy byt hard op haar onderlip, verward oor al die emosies wat Christiaan in haar laat ontwaak. Moet skok wees. ’n Rit saam met ’n wildvreemde man op ’n kragtige motorfiets ís ’n traumaties ervaring, vandaar haar ongewone sensasies, redeneer sy, Christiaan maak ’n swaar houtdeur oop en laat Maryna die ruim voorportaal eerste binnegaan. Sy verstom haar aan die handgekerfde geel- en stinkhoutmeubels, die groot kristalkandelaar teen die sierlike plafon, en die talle skilderye teen die mure.

Op die geelhoutvloer lê verskeie Persiese matte wat haar skuldig laat sê: “Ons drup op alles. Waar is die naaste badkamer?”

“Ek sal ’n handdoek bring. Bel solank jou mense,” antwoord hy en loop met lang hale na ’n verskuilde uitgang agter die gevleuelde trap wat na die eerste verdieping lei.

Sy stap na die koordlose foon wat op ’n antieke muurtafeltjie staan, en steek in haar spore vas toe sy haar eie spieëlbeeld in die vergulde spieël bokant die tafeltjie gewaar. Sy is letterlik gegiet in haar sopnat, wit T-hemp en ligblou jeans, besef sy terwyl gloede van verleentheid oor haar nek en gesig kruip. Sy pluk die klouende T-hemp weg van haar lyf en kyk vlugtig na haar gesig. Die punte van haar krullerige hare waarvan die kleur tussen goue graan en silwerwit wissel, hang in toutjies. Sy het haar ma se fyn gelaatstrekke en vleklose vel geërf, en ’n onbekende voorouer is verantwoordelik vir die besonderse kleur van haar oë: seegroen, donker omkring, helder en veranderlik. Sy is van gemiddelde lengte, maar omdat sy slank is, lyk sy langer. Haar pa vertel haar graag sy is die mooiste meisie in die land, maar haar ma sê liefde maak alle meisies mooi. Sy lyk vandag mooi omdat haar oë …Sy ontwaak uit haar mymeringe toe sy naderende voetstappe hoor, lig die foon van die voetstuk af en bring dit vinnig na haar oor.

“Dè,” sê Christiaan en drapeer in ’n groot wit handdoek om haar skouers. “Kan jy nie deurkom nie?” vra hy en vryf met sy hande oor haar skouers en boarms.

“Ek …ek kan nie ’n skakeltoon kry nie,” antwoord sy, bewus van haar versnellende hartklop, en hou die foon uit na hom. Sy moet so gou moontlik wegkom van Christiaan de Necker, want hy speel woer-woer met haar emosies. Sy is gewoond aan die geselskap van mans en tot dusver was sy altyd in beheer van enige situasie waarin sy haar bevind het – totdat sy Christiaan ontmoet het. Wat hy doen, weet sy nie, maar dis asof elke senupunt in haar liggaam in sy teenwoordigheid vibreer. Sy is oorbewus van sy lang, lenige lyf, van die brons kleur van sy vel, sy spiere. Christiaan maak haar te bewus van haar eie vroulikheid, en dit spel gevaar.

“Laat ek probeer,” sê hy en neem die foon by haar, sit dit terug op die voetstuk en bring dit na sy oor. “Dood soos ’n mossie. Die telefoondrade is heel waarskynlik deur die storm beskadig,” merk hy onbesorg op en sit die foon terug op die voetstuk.

“As ek jou selfoon mag leen …asseblief? My ouers verwag my vir aandete,” verduidelik sy, so besig om haar in die handdoek toe te wikkel dat sy nie na hom hoef te kyk nie.

“Û …û …” reageer hy kopskuddend, sy uitdrukking simpatiek ondanks die huiwerende glimlag om sy mondhoeke. “Jy, Marynatjie, sit pens en pootjies …e …jy is in ’n penarie. Kyk deur die venster: die rivier kom af en stroom ’n meter of wat oor die laagwaterbrug – en dis maar die begin. As jy baie gelukkig is, sal ons die brug weer môreoggend kan gebruik en die snelweg miskien dan kan bereik.”

“Maar ek kan nie hier bly nie. Wat sal jou vrou en die ander huismense sê?” protesteer sy en wens vuriglik sy kan wegkom voordat sy sy vrou hoef te ontmoet.

“O, hulle sal nie omgee nie. Jy ken mos ons boeregemeenskap: altyd gasvry en verwelkomend teenoor alle besoekers. Gebruik my selfoon en verseker jou ouers dat die De Neckers jou sal voorsien van etes en slaapplek totdat jou motor herstel is.”

“Goeistetjie tog, ek het van my motor vergeet,” kwel sy terwyl sy sy selfoon by hom neem. “Sal dit nog daar wees wanneer ek môre daarna gaan soek?”

“Hopelik nie,” antwoord hy ernstig, maar lag dans in sy silwergrys oë. “Ek het my vriend Hanno gebel toe ek vir jou ’n handdoek gaan haal het. Hanno spesialiseer in motortjies soos joune en hy sal sorg dat dit veilig is.”

“Maar jy het my sleutels,” beskuldig sy.

“Nie werklik nie. Ek het jou sleutels agter die linkeragterwiel van jou motor in die gruis versteek. Hanno weet daarvan. Hy sal die waaierband vervang en jou motor by sy ouerhuis parkeer,” antwoord hy gerusstellend. “As jy jou ouers gebel het, klim met die trap op en draai links in die gang. Die laaste suite op regterhand word gewoonlik deur dames gebruik. Ek weet nie waar ek vir jou droë klere gaan kry nie, maar ek sal my bes doen. Toe, opskud, Maryna. Jou lippe is al blou van die koue. Ek is nou weer terug.”

“Dit ís skielik koud,” merk sy deur klapperende tande op, sien verlig hoe hy wegstap en vryf haar so droog as moontlik met die handdoek terwyl sy op en af spring, geensins van plan om haar ma van haar rit op ’n motorfiets te vertel nie.

Haar ma kan ’n halwe waarheid uitruik soos ’n polisiehond dwelms kan opspoor, dink Maryna wrang en antwoord geduldig: “Daar is nie ’n ander pad van die plaas af na die dorp toe nie, Mamma. Dis net die een oor die laagwaterbrug.”

“Ja, daar is nie,” beaam Christiaan en kom nader, twee bekers stomende koffie in sy hande. “Na twee weke van deurdringende reën, val selfs die trekkers vas in die landerye en is elke leegte ’n dam of ’n spruit.”

“Die …e …oom sê daar is nêrens ’n pad deur die sopnat landerye nie, nie eens op ’n trekker nie, Mamma. Die gawe tannie het vir my en Leonie koffie gemaak en almal wag dat ek saam met hulle koffie drink. Ek sal môre weer bel, Mamma. Moenie bekommerd wees oor my en Leonie nie. Tata, Mamma,” knip Maryna haar gesprek met haar ma kort en hou haar blind vir Christiaan se fronsende verbasing.

“Waar is die Leonie oor wie jou ma haar nie hoef te bekommer nie? En eers is ek ’n oom en dan is ek ’n tannie. Genugtig, meisiekind, sukkel jy met jou oë?” vra hy onthuts en hou ’n beker koffie na haar uit. “Twee suiker, of jy dit nou wil hê of nie.”

“Dankie,” sê sy en hou die warm beker in albei haar koue hande vas. “Ek het …e …liewe ouers. Ek bedoel oorbeskermende ouers. Hulle weet seker te veel van misdaad en misdadigers – hulle is albei advokate – want hulle probeer om my teen almal en alles te beskerm. Ek het aanvaar jou vrou het die koffie gemaak en my ma sal net meer gerus wees as ek van ’n oom praat.”

“Jy bedoel jou ma vertrou ou ooms meer as jong mans?” vra hy skertsend.

Sy proe aan haar koffie en knik woordeloos met haar kop.

“En jou ma dink ’n getroude man is minder gevaarlik as ’n ongetroude man?”

“Nee, maar …e …het jou vrou die koffie gemaak?”

“Nee, Marynatjie, ek het. Maar vertel my eers: waar is Leonie?”

“By haar ouers op Bultfontein. Sy sou saam met my huis toe gery het, maar toe besluit sy om liewers eers huis toe te gaan en haar tasse te pak vir ons vakansie. Dis net …e …my ma sal ’n slapelose nag hê as sy weet ek ry alleen terug huis toe. Sy kan nogal moeilik wees, daarom het ek gejok – eintlik net ter wille van haar bloeddruk en haar sielerus,” verduidelik Maryna skuldig, verlig om die vonkeling van ingehoue lag in sy oë te sien.

“Goed, Marynatjie, ek sal ter wille van haar bloeddruk en sielerus saam met jou vir jou moeilike ma jok. Ons sal haar ook nie vertel ek is nie getroud nie – nog nie.”

“Dankie,” sê sy bedees en wonder verdrietig of hy wel trouplanne het. Sy het skielik in ’n verspotte tiener verander, betig sy haarself, want sy weier om Christiaan met enigiemand te deel. “Waar is al die ander mense?” vra sy.

“Moenie skrik nie, mooie Maryna, maar ek is stoksielalleen in hierdie kasarm van ’n ou plaashuis wat ek op aandrang van my tante oppas, terwyl sy elders rondjakker. En vanaand moet ek ’n uiters belangrike verjaarsdag­partytjie bywoon. Eintlik moes ek al teen twaalfuur vandag by die Vermaaks gewees het, maar ek is nie lus vir geselskap nie.”

“Ek is so jammer, Christiaan. As jy my wys waar ek kan wag totdat dit ophou reën, sal ek nie weer ’n woord sê nie. Maar dis jou eie skuld dat ek hier is. Jy behoort mense nie deur jou verkyker dop te hou nie.”

Hy haal sy skouers onverskillig op, probeer haar aangluur en glimlag onverwags. “Dis nie my gewoonte nie, maar ek was doodverveeld en boonop die hoenders in omdat my jaarlikse verlof vandag begin en ek nie met vakansie kon gaan nie. Dis waarom ek die snelweg deur my verkyker dopgehou het.” Hy glimlag breër. “En toe tref die geluk my: die waaierband van jou motortjie breek en die rivier kom af en verswelg die laagwaterbrug.”

“Is jy bly dit het gebeur? Wat van die verjaarsdagpartytjie?” vra sy onbegrypend.

“Isabel Vermaak se ses-en-twintigste verjaarsdag sal net so uitspattig suksesvol wees soos die vorige drie maal toe sy ses-en-twintig geword het,” sê hy.

Sy hou nie van Isabel Vermaak nie, besluit Maryna instinktief en vra onskuldig: “Jy bedoel Isabel Vermaak is eintlik nege-en-twintig?”

“Ja, ’n hele jaar ouer as ek, hoewel sy my graag vertel ek lyk soos vyf-en-dertig. Dis seker hoekom jy my ‘oom’ genoem het: ek lyk soos ’n ou oom na al die jare wat ek sukkel om my eie lewe te lei.”

Maryna rimpel haar neus en betrag hom met haar kop skeef. “Jy lyk nie soos ’n ou oom nie en jy weet dit. Of verwag jy ek moet jou vertel hoe onweerstaanbaar aantreklik jy is?”

“Ja, ja, asseblief.” Hy lag saam met haar. “Sien, ek het geweet ek gaan van jou hou toe jy daar onder jou motor lê. Isabel is te bekommerd oor haar duur ontwerpersklere en haar duurder grimering om ooit onder ’n motor in te kruip of in ’n stokou …” Hy swyg en kyk haar verwonderd aan. “As jou ouers albei advokate is, hoekom ry jy in ’n stokou motortjie rond? Of beledig ek jou?”

“Nee, jy beledig my pa. My ouma Fourie het die motor­tjie gekoop toe sy jonk was, en my pa het dit geërf toe hy universiteit toe is. My pa het die motor al die jare vertroetel asof dit ’n kleinood is, en hy het dit met ’n seer hart aan my geleen toe ek universiteit toe is. Die kar se naam is Sonneblom en …e …wel, Sonneblom is ’n kosbare erfstuk wat my pa jaarliks duisende rande kos, maar geen opoffering is te groot om Sonneblom op die pad te hou nie.”

“Ek het klaar ’n teer plekkie in my hart vir Sonneblom, want sy …” Hy swyg fronsend en knik met sy kop: “Ja, met ’n naam soos Sonneblom, is dit definitief ’n sy. Sy het gesorg dat ek vanaand nie alleen voor die kaggelvuur sit en wens my tante was nie so gesond vir haar ouderdom nie.”

“Wil jy hê sy moet doodgaan sodat jy kan erf?” vra Maryna agterdogtig.

Hy lag spontaan. “Nee, ’n ingroeiende toonnael wat haar opdraande gee, sal genoeg wees om te verhoed dat sy my toekoms dag en nag beplan. Is jou koffiebeker leeg? Goed, draf, meisiekind, voordat jy weer begin klappertand. As jy klaar gestort het, kom na die studeerkamer toe. Dáár.” Hy beduie met sy hand. “Dis kleiner en geselliger as die twee formele sitkamers.”

Sy knik stom, vir ’n oomblik bang dat alles net ’n droom is. Sy draai na die gevleuelde trap, sien die reënvlae teen die lang venster op die trapportaal waai, en weet dat net vir vandag sy deel wil wees van ’n droomwêreld saam met Christiaan de Necker.

Maryna kyk misnoeg na die deftige sybloes en ’n suurlemoengeel langbroek met ’n bypassende baadjie wat op die hemelbed in haar slaapkamer lê. Sy dra sandale wat pas by haar jeans en T-hemp, maar belaglik sal lyk saam met die deftige uitrusting. Sy hou die langbroek voor haar, merk dadelik dis te groot en lê dit weer op die bed neer. Sy tel die geruite manshemp op, besef dit behoort aan Christiaan, en trek dit oor haar effens klam onderklere aan. Haar jeans is gelukkig net plek-plek nat en voor die kaggelvuur sal dit gou genoeg droog word, dink sy, glip haar sandale aan en draf die kamer uit.

Sy hoor die geknetter van hout en volg die klank na die oop studeerkamerdeur. Sy bly in die deur staan en kyk waarderend na die boekrakke vol boeke wat drie mure van die vloer tot by die plafon beslaan. Christiaan hurk voor die oop kaggelvuur en hou ’n langsteelvurk na haar uit.

“Maak die deur toe, Maryna, en kom help my om rooster­brood te maak. Of sal ons liewer malvalekkers braai?” vra hy, reeds besig om ’n vurk met ’n sny brood bokant die lekkende vlamtonge te hou.

“Liewer roosterbrood met vars plaasbotter – lekker!” antwoord sy, druk die deur toe agter haar en sluit by hom aan. “Goeiste, maar ek is honger.” Haar blik val op die staanhorlosie in die een hoek van die studeerkamer en haar oë rek ongelowig. “Dis al na vyf. Geen wonder ek is halfdood van die honger nie. Ek en Leonie het hopeloos verslaap en daar was nie tyd om ontbyt of middagete te eet nie. Ek het nog glad nie vandag geëet nie.”

“Nou weet ek waarom jy so fyn en klein is: jy leef van vars lug,” skerts hy. “Ek kan verstaan waarom jy nie tant Etresia se klere dra nie. Jy is slanker. Ek hou van my hemp wat jy om jou heupe vasgeknoop het.”

“Dis wat my ma doen: dra my pa se ou hemde wanneer sy tyd kry om in die tuin te werk. Is dit my bord? Ek is te honger om te wag totdat ek die sny brood gerooster het. Die brood is warm genoeg om die botter te laat smelt.”

“Jou arme ding,” sê hy met oordrewe simpatie. “Vat jy dié sny. Heuning of smeerkaas?”

“Net botter, dankie. Mmm. Dis hemels,” kreun sy van genot en eet die roosterbrood tydsaam. Sy gebruik ’n papierservet om haar lippe te klad en kyk vraend na Chris­tiaan wat haar dophou asof hy elke happie saam met haar geniet. “Hoekom kyk jy so na my? Is daar broodkrummels of botter op my wang?”

“Nee. Ek verstom my aan jou goeie maniere: jy sterf van die honger, maar jy prop die sny brood nie in jou mond en kou dat die krummels spat nie. Ek doen dit natuurlik, maar darem net wanneer ek alleen is. En jy het die mooiste oë wat ek nog gesien het. Jý is mooi – mooier as mooi. Wanneer jy eendag mondig is, sal ek jou vra om saam met my uit te gaan. En ek sal vir jou blomme koop. Dalk nog eendag ’n ring ook. Sal jy my onthou wanneer jy die dag mondig is, mooie Maryna?”

Sy lag guitig agter haar hand, glimlag in sy oë en skud haar kop. “Ek is twee-en-twintig, Christiaan. Ek lyk seker net jonger omdat ek nie grimering dra nie.”

“Twee-en-twintig? Wat ’n verligting. Jy is nie dalk getroud nie?”

Sy skud haar kop ontkennend. “Ek en Leonie Redelinghuys, my beste vriendin vir die afgelope vier jaar, het saam ons graad in Verpleegkunde in Bloemfontein verwerf en gister ons jaar van gemeenskapsdiens voltooi. Ek en sy gaan saam met haar ouers en haar twee broers vakansie hou in hulle vakansiehuis op Jeffreysbaai.” Sy byt spytig op haar onderlip. “Ek het vergeet om Leonie te bel. Ek het beloof ek sal môre by haar wees sodat ons saam Jeffreysbaai toe kan ry.”

“Ek verstaan nie. As jou ouers in Bloemfontein woon, waarom was jy op pad noorde toe?”

“Ons is Johannesburgers. My ma is ’n gebore Vrystater en Kovsies is haar en my ouma Ryna se alma mater, daarom het ek in Bloemfontein gestudeer. Ons bou ’n tradisie,” vertel sy terwyl sy ongemerk na sy eweredige, wit tande kyk. Sy hou van sy reguit neus en die sonbrons kleur van sy vel. Sy kan haar verkyk aan sy lang, donker wimpers, sy raafswart hare en die beduidenis van ’n kuiltjie in sy vierkantige ken. Weet hy hoe aantreklik hy is? Is dit waarom hy beloof het om haar uit te neem? Is hy gewoond dat meisies gretig is om deur hom uitgeneem te word?

“Tradisie kan ’n pyn wees,” sê hy met onverwagse bitter­heid, merk haar verbasing en glimlag traag. “Ek verwys na my eie lewe. Tradisie kan van ’n mens ’n slaaf maak. Ek wil vry wees om my eie keuses te maak.”

“Wie kies vir jou?” vra sy ongelowig, seker dat hy nie maklik sy wil aan andere sal onderwerp nie.

“Tradisie,” antwoord hy ontwykend. “Maar wat nou van ek en jy? Is jy verlief of verloof? Het jy trouplanne, of mag ek vir jou ’n ruiker stuur en jou uitnooi vir ete? Toe, meisiekind, sê ja en eet nog ’n sny brood, anders voel ek gulsig. ”

“Jy is snaaks, Christiaan,” lag sy. “Ek en jy ken mekaar glad nie. Ek weet net jy is ’n boer en jy jaag op ’n peperduur motorfiets rond. Dis jou beurt …”

“Ja, dis my beurt om koffie te maak,” val hy haar haastig in die rede en kom orent juis toe sy selfoon wat op die koffietafeltjie lê, begin lui. Hy kyk na die naam en nommer op sy foon en vra dringend: “Kan jy soos ’n hooghartige huishoudster klink?”

“Ek kan soos my ma se ma, my ouma Le Grange, praat,” antwoord sy glimlaggend.

Hy tel die luiende foon op en hou dit na haar uit. “Jy is my tante se nuwe huishoudster en jy weet net ek is na ontbyt weg. Asseblief, Maryna, ek wil Neckershoogte erf.”

Maryna se liefdeslied

Подняться наверх