Читать книгу Dans van die sterre - Schalkie van Wyk - Страница 3

Hoofstuk 1

Оглавление

Haar ma is mooi, altyd mooi, selfs met ’n kwelfronsie tussen haar gevleuelde wenkbroue en ’n ongewone skadu van kommer in haar goudbruin oë, dink Jana Richter, terwyl ’n knaende onsekerheid in haar binneste groei.

Vriende en kennisse noem haar ouers “sonaanbidders”, want hulle volg die son soos onnadenkende kinders, omring deur ’n aura van jeug en eindelose geluk immermeer. Om haar ma bekommerd te sien laat haar ouers ineens in alledaagse mense verander wat alledaagse probleme ervaar, en dit laat haar gevoel van sekuriteit wankel.

Wel, darem nie heeltemal nie. Vandat sy vier jaar gelede die pos as vertaler by ’n uitgewer in die Kaap aanvaar het, het sy die verantwoordelikheid vir haar sekuriteit en haar toekoms grootliks op haar eie skouers geneem.

“Ek’s so jammer jy moes op jou eie onkoste huis toe kom, Jana-lief, maar . . .” Sonnique Richter maak haar slanke arms wyd oop in ’n hulpelose gebaar. “Dis so vernederend om tot die vlak van plebs te daal en na geld te moet verwys, maar vir die eerste maal . . .” Haar arms swiep die onaangename gedagte weg. Sy sit meer regop op die bankie voor haar spieëltafel, haar uitdrukking kamma onbesorg toe sy vervolg: “Met die skatryk ouers wat jou pa gehad het en die multimiljoene wat ek ná my eie ouers se dood geërf het, het ons weelde en oorvloed as ons geboortereg aanvaar. Om behoeftig te wees of gebrek te ly is vir ons ondenkbaar – erger as die doodstraf. Hoe kan ek aan jou ’n situasie verduidelik wat ek self nie verstaan nie, Jana?”

Jana hoor die verwarring, die byna kinderlike opstand in Sonnique se stem en gaan sit op ’n gemakstoel skuins teenoor die spieëltafel. Sy glimlag effens terwyl sy met gedwonge lighartigheid antwoord: “Ek is sedert ek my BA-graad gekry het reeds een van die sogenaamde plebs, Mamma. Ek en my kollegas bespreek gereeld die pryse van kos en brandstof of ’n nuwe winterjas, want as ons begrotings nie . . .”

“Asseblief, Jana, ek wil so ’n onaangename onderwerp nie met jou bespreek nie,” val Sonnique haar in die rede, en vervolg geamuseerd: “Jou voorneme om ’n salaris te verdien is net ’n gier om anders te wees, want jy weet dis nie vir jou nodig om te werk nie. Jy en Waldus en Danette sal altyd ’n ouerhuis en oorvloed hê. Ek en jou pa besef dis ons plig om ons kinders alles te gee wat hul harte begeer, my lief.”

Jana swyg oomblikke lank, leun nader en lê haar hand op dié van Sonnique. “Ons huishoudster het my nie oudergewoonte by die voordeur ingewag nie. Waar is mevrou Brewis, Mamma?” vra sy aarselend.

’n Gloed kruip oor Sonnique se gelaat en sy draai haar kop weg om Jana se oë te vermy. “Met vakansie,” antwoord sy onoortuigend.

Jana sug ongeduldig en leun weer terug op haar stoel. “Ons trippel soos twee bang kinders om ’n onskadelike bal en gee voor dit het tande wat ons kan byt. ’n Gebrek aan geld kan nie byt nie, Mamma. Tant Driekie – ek bedoel, mevrou Brewis – het my per e-pos laat weet dat sy besluit het om af te tree. Ek neem aan ons kan nie bekostig om ’n nuwe huishoudster in diens te neem nie.”

“Maar sy is net ’n bediende! Waarom is dit vir jou nodig om met mevrou Brewis in verbinding te bly?” vra Sonnique ontsteld.

“Mevrou Brewis was altyd meer as net nog ’n werknemer, Mamma.” Soos die ouma wat sy nooit gehad het nie, voeg Jana in haar gedagtes by en verduidelik met ’n onverskillige glimlaggie om Sonnique gerus te stel: “Ek ken mevrou Brewis my lewe lank. Sy is deel van . . . van ons huis. Het Mamma al ’n nuwe huishoudster in diens geneem?”

“Dit pas ons finansieel nie op die oomblik nie,” erken Sonnique hoorbaar onwillig. Die volgende oomblik glimlag sy kamma sorgvry en verduidelik met volkome sekerheid: “Ek het geweet jy sal verstaan, Jana. Die situasie is vanselfsprekend net tydelik. Ek en jy weet Pappa is ’n geniale sakeman wat binne enkele ure fortuine maak en fortuine verloor – finansies is altyd ’n dobbelspel, maar jou pa se verliese is nooit permanent nie.” Sy beduie na die tasse wat op die bed staan. “Gaan jy my help inpak, my kindlief? Ek moet reg wees wanneer jou pa lughawe toe wil ry. Ek sien tog altyd so uit na ons jaarlikse kuier­tjie op die Maleisiese Eilande. Ons sal meestal op ons jag tussen die eilande vaar, daarom moet julle kinders nie bekommerd wees as julle nie gereeld van ons hoor nie. Ek en Pappa wil tog nie in die wintergety, met al die sterwende bome en blomme om ons, hier wees nie – dis soos ’n begrafnis. Ons vlug maar liewer weer na die tropiese klimaat.”

“Maar as ons nie geld vir ’n huishoudster het nie . . . Wie gaan vir Mamma-hulle se vakansie betaal?” vra Jana onbegrypend.

“My liefste kind, moet ons al weer oor geld praat? Ek laat alle finansiële besluite aan jou pa oor. O, ja . . .” Sonnique swyg asof iets haar pas bygeval het, “sal jy omgee om jou werk tydelik te bedank? Of vra net of jy ses maande onbetaalde verlof kan kry sodat jy hier kan wees om na Danette om te sien. Waldus is veronderstel om op universiteit te wees, maar hy is meestal tuis of êrens saam met een van sy talle meisies op ’n partytjie. Probeer hom oorreed om sy studies ernstig op te neem, Jana-lief. Jy was so ’n knap student, maar ek is bevrees ons het Waldus en Danette te veel bederf.”

“Sommer so?” Haar stem is ’n yl gepiep in haar eie ore. Sy kug agter haar hand en sê pynlik redelik: “Dis nou eers Mei, Mamma. Ek kry my jaarlikse verlof aan die einde van Junie, maar vra ek vir ses maande verlof, sit ek werkloos op straat en bedel. Liewe land, besef Mamma nie hoe skaars werk is nie?”

“As jy my so betig, klink en lyk jy soos jou hovaardige . . . e . . . soos ’n vrou wat ek voor jou geboorte ontmoet het,” verwyt Sonnique en maak weer ’n swiepende gebaar met haar arms asof sy onaangename herinneringe wil uitwis.

Jana weet wat haar ma eintlik wou sê en dié keer gaan sy dit nie ignoreer nie. Sy het haar ouers haar lewe lank nooit oor haar Richter-grootouers uitgevra nie, maar sy kan intuïtief aanvoel sy hoef nie langer te huiwer om die verbode onderwerp aan te roer nie. Iets het verander, besef Jana, moontlik vanweë haar ma se skuldige verwy­sing na hul onvermoë om Jana se reiskoste van die Kaap af te betaal.

“Ek weet ek lyk soos Pappa se ma, my ouma Engela Richter. Was sy werklik . . .?”

“Mevrou Brewis! Ek het jou pa al die jare gewaarsku sy is ’n agterbakse ou skinderbek. Ons het haar ten strengste verbied om jul Richter-grootouers ooit met julle kinders te bespreek. Vir die eerste maal is ek nie spyt dat ons haar afgedank het nie.” Sonnique waarsku Jana met ’n pleitende blik om die huishoudster se afdanking nie te bespreek nie.

“Dit was my skuld, Mamma. Ek was tien of elf toe ek een aand bitterlik gehuil het omdat ek blonde hare en blou oë het. Dalk was ek histeries, want ek het mevrou Brewis vasgeklou en oor en oor gesê ek is ’n aangenome kind, ’n optelkind, want ek lyk nie soos julle of my broer en suster nie. Mevrou Brewis het my probeer kalmeer en my verseker ek is jul eie kind, maar ek het net harder gehuil. Ek veronderstel sy was desperaat en het my van my ouma Engela vertel. Ek het haar beloof ek sal nooit met Mamma-hulle oor Ouma Engela praat nie, maar ek het nooit weer gevrees ek is ’n aangenome kind nie.”

“Dalk is ek mevrou Brewis tog ’n bietjie dank verskuldig,” gee Sonnique met ’n verleë glimlaggie toe en betrag Jana swygend. “Jy was altyd anders, ernstiger as Waldus en Danette. Dit is nie net hul swart hare en bruin oë wat hulle van my en jou pa geërf het nie – hulle kry hul geaardheid ook van ons. Waldus en Danette is sonkinders, want hulle verwag net sonskyn in hul lewe en kwel hulle nie oor hul toekoms of finansies nie.” Sonnique dink ’n bietjie na. “Bruin oë is tog soveel warmer, soveel sonniger as blou oë – selfs viooltjieblou oë soos joune. Ek kritiseer jou nie, my kindlief, maar mevrou Brewis het gelyk gehad: jy het ongelukkig jou ouma Engela se witblonde hare en melkwit vel geërf, moontlik haar ander karaktertrekke ook. Ek wens ek kon jou leer om jou lewe ten volle te geniet, om geluk in elke oomblik te vind.”

“Ek geniet my lewe op mý manier, Mamma. Die ding is . . . Ek’s so trots op my werk, op my onafhanklikheid. Wat sal gebeur as ek weier om my pos te bedank?” vra Jana aarselend, nie gretig om Sonnique se versoek te weier nie.

“Maar jy sal mos nie weier nie, Jana-lief,” protesteer Sonnique met ’n onsekere glimlaggie. “My liefste kind, jy is vyf tale magtig en sal maklik weer werk kry. Ek is so trots dat ons Duitse, Franse en Italiaanse personeel in die huis gehad het wat jou van jongs af spontaan touwys gemaak het. Ek voel skuldig om jou te vra om jou werk te bedank, my liefkind, maar ek en Pappa het jou samewerking dringend nodig.”

Jana staar oomblikke lank stip na haar hande, lig haar ken en vra byna gemoedelik: “Die ander huispersoneel? Die tuindiens . . . en kontant vir kruideniersware en kos . . .? Mamma, speel asseblief oop kaarte met my en antwoord my eerlik: is Pappa bankrot?”

Sonnique se klokhelder lag laat magtelose woede pleks van verligting in Jana se binneste opstoot. Haar ma het gelyk: sy ís anders as haar jonger broer en suster. Dalk omdat sy vyf jaar lank die enigste kind was en oral op haar ouers se buitelandse vakansies rondgesleep is. Vir hulle was sy ’n oulike speelding, ’n goue kleuter wat vyf tale magtig was en hul talle vriende vermaak het, maar sy het hulle geleer ken soos hul beste vriende hulle nié ken nie. Selfs as kleuter kon sy aanvoel wanneer hul gelag net ’n skans was waaragter hul kommer geskuil het. Destyds was kwellinge oor finansies ’n seldsame gebeurtenis in haar ouers se lewe, maar met verloop van tyd het dit toegeneem; tot so ’n mate dat sy gretig was om na afloop van haar studies pad te gee uit Johannesburg en self­onderhoudend te word. Dít het haar die sekuriteit gegee waarna sy onbewustelik jare lank gesmag het. En nou eis haar ma dat sy alles prysgee.

“My liewe poplap, jy’t ’n ooraktiewe verbeelding,” protesteer Sonnique laggend. “Ons sal vanselfsprekend vir julle kredietkaarte gee om alles te koop wat julle drie­tjies nodig het, en sou Waldus en Danette ’n paar rand nodig kry . . . jy het seker tog ’n spaarrekening, want jy het altyd so getrou gespaar. Onthou jy hoe graag Pappa duisende rande in jou bankrekening inbetaal het?”

“Ja, Mamma,” antwoord Jana werktuiglik. Sy voeg nie by dat haar pa net so gereeld dié duisende rande onttrek het wanneer dit hom gepas het nie. En nou verwag haar ma dat sy haar swaar verdiende spaargeld met haar span­dabelrige broer en suster moet deel!

“Kom help my asseblief met my klere, Janatjie. Ek en Pappa haal nog vanaand ons vlug na Singapoer, en ons sal vinnig moet inpak. Sodra jou pa terugkom van die stad af, sal ons dadelik lughawe toe vertrek,” kom dit ineens haastig van Sonnique.

“Ek kom nou, Mamma. Ek het lang ure agter die stuurwiel van my kar gesit en ’n koppie tee sal lekker smaak.”

Jana kom orent en stap na die kamerdeur waar sy bly staan toe Sonnique weer praat: “Jana?” Sonnique wag totdat Jana omdraai en haar vraend aankyk voordat sy sag vervolg: “Ek’s so jammer, my kindlief. So bitter jammer ek kan jou môres nie gelukkiger maak nie.”

Die onverwagte hartseer in Sonnique se stem laat Jana met ’n gerusstellende glimlag antwoord: “Ek sal nooit die geluk van ’n sonkind ken nie, Mamma, maar dalk is ek ’n maankind, want as ek gelukkig is, dans ek saam met die sterre.”

Sonnique glimlag, maar die skadu van hartseer in haar oë vergesel Jana soos ’n woordelose verwyt na die kombuis.

“Dis verregaande!” krys Danette, haar hande op haar heupe, haar gesig rooi van verontwaardiging. “Pappa het my met sy hand op sy hart beloof ek mag saam met die Van Rooyens in Spanje gaan vakansie hou.”

Jana onderdruk ’n glimlag toe Sonnique ongesteurd voortgaan om somerklere in ’n tas te pak terwyl sy rustig antwoord: “Jy is pas sewentien, Danette, veels te oud om aan feëverhale te glo. Jy behoort te weet jou pa sal jou enigiets beloof net om ’n einde aan jou geneul te maak. Jy kan die wintervakansie gebruik om vir jou eind­eksamen te leer. Jy is tog van plan om volgende jaar universiteit toe te gaan?”

“Nie as ek dit kan verhelp nie. Ek wil ’n jaar lank deur Europa toer en ’n ryk man ontmoet – iemand van die Franse adelstand. Mamma is op negentien getroud. Hoekom moet ek miskien eers ’n graad kry voordat ek mag trou?” Danette plof op die hoek van die dubbelbed neer.

“My ouers was albei dood. Ek was letterlik alleen in die wêreld. Pappa was mondig met ’n BCom-graad, en met my erfporsie het ek al die geld in die wêreld gehad om ’n man en ’n huis vol kinders te kan onderhou.” Sonnique draai vraend na Jana. “Het ek nie al genoeg klere ingepak nie?”

“Oorgenoeg, Mamma. Ek het nie middagete geëet nie. Wil Mamma ook iets te ete hê?” Jana sien hoe Sonnique haar kop ontkennend skud, en steek haar hand uit na Danette. “Kom saam kombuis toe. Of is jy ook nie honger nie?”

Danette spring op en poseer voor die lang spieël. “Ek en Hilda is op ’n streng dieet. Ons het roomys vir middagete gehad, daarom eet ons nie weer voor môreoggend nie. Kan jy sien ek het gewig verloor, Jana?” vra sy terwyl sy haar eie spieëlbeeld goedkeurend betrag.

Jana sluit by Danette voor die spieël aan, maar word vinnig weggestamp. “Moenie langs my staan nie, Jana! Jy’s so maer en uitgeteer dat jy sieklik lyk. Bleek en tengerig, dis jy. Ek sal altyd vet lyk langs jou, selfs al is ek brandmaer.”

“Ek is heelwat langer as jy, Kleinsus,” skerts Jana. “Ek gee toe: jy het al die nodige kurwes.”

“Soos Mamma. Waldus het my vertel sy vriende dink ek het verleidelike kurwes. Hy sê die manne stel nie in meisies met lang, skraal lyfies en popgesiggies belang nie. Dis seker waarom jy op vier-en-twintig nog ongetroud is. Wil niemand jou hê nie, arme Jana?” verneem Danette met valse simpatie.

Sonnique sug hoorbaar. “Genade toggie! Móét ek na die kind luister? Danette, jou suster het fynbesnede gelaatstrekke wat die meeste meisies met hul hele hart begeer. Ek en jy is geseënd met groter neuse, groter monde en kurwes. Wees dankbaar vir alles wat jy het en gaan doen jou huiswerk. Ek gaan saam met Jana kombuis toe.”

“Vervlaks, dis al ná sewe! Ek het al my sepies gemis. Ek en Hilda het vanmiddag ons huiswerk gedoen, Mamma. En wat nou van my vakansie saam met Hilda en haar ouers in Spanje? Mamma, ek praat nog!” skree Danette toe Sonnique vir Jana by die kamer uitstoot en die deur hard agter haar toeklap.

“Ek sien nie kans vir ’n gillende tiener nie. Sê vir Danette ek het beloof om so spoedig moontlik ’n vlugkaartjie vir haar te laat aflewer. Ek gaan nou in jou pa se studeerkamer sit en ’n paar van my vriendinne bel. Sorg asseblief dat Danette of Waldus my nie pla nie. Dankie, Jana.”

“Goed, Mamma,” beloof Jana en staar Sonnique met ’n gevoel van onrus agterna. Haar ma is soos ’n slaapwandelaar, net half teenwoordig in die hede, ’n veraf blik in haar oë wat die onsigbare sien. Nee, dis net haar verbeelding, paai Jana haarself. Haar ma is altyd in ’n dwaal wanneer haar pa nie teenwoordig is nie, want saam vorm hulle ’n eenheid wat onstuitbare lewensvreugde uitstraal en deur niks en niemand geskei kan word nie.

Jana en Danette staan voor die oop dubbelvoordeur en kyk hul ouers in die luukse motor waarin hulle lughawe toe geneem word, stilswyend agterna.

“Ek ken die Nobles nie eintlik nie. Is hulle nuwe vriende van Mamma-hulle?” vra Jana bloot om aan haar knaende gevoel van kommer te ontsnap.

Danette gaap verveeld. “Ek weet nie. Dalk speel hulle almal saam gholf of dans Saterdagaande in die buiteklub. Jy weet mos hoe is die ou mense: drink ’n paar drankies en verbeel hulle dan hulle is nog tieners. As ek so oud soos ons ma is, sal ek goed weet hoe om my te gedra.”

“Goeiste, Danette, Pappa is sewe-en-veertig en Mamma is twee jaar jonger. Hulle lyk asof hulle albei nog in hul dertigs kan wees, nie soos ou mense wat tuisversor­ging nodig het nie. En is jy nie bly ons ouers is gelukkig getroud nie? Hulle wys openlik hoe lief hulle vir mekaar is en geniet hul lewe ten volle.”

“Kinders van geskeide ouers word meer bederf. Hilda se ouers is ôk gelukkig, maar hulle boer nie saam oorsee en laat hul kinders aan die genade van ’n baasspelerige huishoudster oor nie. En wat nou van my vakansie saam met die Van Rooyens?” vra Danette dikmond.

“Mamma het beloof om jou vlugkaartjie te laat aflewer.”

“Sowaar?” Danette glimlag stralend en gee Jana ’n onverwagte drukkie. “Ousus, kon jy my nie lankal vertel het nie? Ek was so vies vir Mamma dat ek haar net ’n skewe soen op die wang gegee het. Ek het haar nie eens gesê ek gaan my morsdood verlang nie . . . jy weet mos, al die dinge wat kinders veronderstel is om aan hul ouers te sê sodat hulle meer sakgeld kan kry.”

Was ek ook so sinies en oppervlakkig toe ek sewentien was? Jana besef dat die jare in die Kaap haar van haar jonger suster vervreem het. “Waar is Waldus, Danette? Weet hy nie Mamma-hulle het vanaand oorsee vertrek nie?” stuur sy hul gesprek in ’n ander rigting.

“Miskien, miskien ôk nie. Die ou mense is altyd op pad êrens heen, of ons nou tot siens sê of nie. Ek weet net Waldus woon selde klasse by op varsity – Hilda se broer, Danie, het my vertel. Onthou jy die verloofde van jou ou vriendin Erika Taljaard, wat toe nie werklik aan haar verloof was nie, Jana? Deesdae is Waldus . . .” Danette swyg en trek ’n gesig toe die gelui van ’n foon uit die woning agter hulle opklink. “My pêlle bel my op my selfoon. Gaan antwoord jy, Jana. Mamma het gesê jy sal mevrou Brewis se pligte oorneem. Ek sal in my suite wees as die oproep dalk vir my is.”

Snipperige klein pes, dink Jana onthuts en stap vinnig na die naaste foon in die ruim voorportaal. Sy en haar bedorwe kleinsus sal binnekort ’n ernstige gesprek moet hê, want sy is beslis nie van plan om vir die volgende ses maande die rol van onbetaalde huishoudster te speel nie. Sy bring die koordlose gehoorstuk na haar oor en sê hoflik: “Goeienaand. Die Richter-woning hier.”

“Jana!” groet ’n welluidende manstem laggend in haar oor. “My liewe Janatjie, jy klink nog net so koel en afsydig soos – hoe lank is dit al? – meer as drie jaar gelede. Gaan jy nooit vergeet wat kwaai mevrou Brewis jou geleer het en ’n bietjie meer na jou lieflike ma aard nie, my sneeukoningin?”

Jana deins innerlik terug toe sy Barry Dreyer se stem herken. Sy is sommer lus om die gehoorstuk in sy oor neer te gooi. “Ly jy aan geheueverlies, Barry? Ek het jou duidelik laat verstaan jy was nooit een van my vriende nie. Niks het verander nie. Ek wil jou nie ken nie,” antwoord sy met kille finaliteit.

“Selfs nie as ek my oor Waldus bekommer nie? Ek verkies om met jou te praat voordat ek jou pa oor Waldus se doen en late inlig. As jy dink ek moet liewer met jou ouers praat . . .” Barry swyg afwagtend.

Die dreigende ondertoon in Barry se stem laat Jana vinnig antwoord: “Hulle is nie tans tuis nie. Ek het vanmiddag eers hier aangekom en is doodeenvoudig te moeg om my vanaand oor Waldus se streke te bekommer. As jy kans sien om my môre weer te bel, sal ek dit waardeer.”

“Dan nooi jy my nie uit vir ’n besoekie nie, ysige Jana?” vra Barry gemoedelik, duidelik nie geraak deur Jana se formele stemtoon nie.

“Nee, Barry. Gee my jou selnommer as jy nie weer wil bel nie.”

“Ek gooi nie so maklik tou op nie, pragtige Jana. Onthou jy Noontide, ou Alexis se restaurant? Dis nog net so gewild soos altyd. Ontmoet my môre daar vir middagete – of net iets te drinke. Maak dit halfeen, voor die groot stormloop. Het ons ’n afspraak, Jana?” vra Barry met ’n selfversekerdheid wat soos skuurpapier oor haar senupunte rasper.

“Solank jy nie glo dis die begin van ’n vriendskap nie. Tot môremiddag. Tot siens,” groet sy kortaf en wag nie op sy groet nie, maar sit die gehoorstuk terug op die voetstuk.

“Goeiste, Jana, jy klink soos ’n suurknol van ’n oujong­nooi – en jy lyk ôk soos een! Ek hoop nie jy het met ’n man gepraat nie,” kom dit van Danette wat aan die deurkosyn hang en Jana afkeurend aankyk.

“Dit was Barry Dreyer,” lig Jana haar teësinnig in.

“Awesome! Hy’s tien jaar ouer as ek, maar ek en Hilda dink hy’s onweerstaanbaar handsome. Kom hy kuier? Ek weet Waldus bring die meeste van sy tyd saam met Barry deur, maar Waldus weier om my aan hom voor te stel. Jy sal my aan Barry voorstel, nè, my ousus? Jy wil hom mos nie hê nie. Waldus sê jy haat Barry, maar hy’s nie seker waarom nie.”

“Vergeet van ’n bedrieglike man soos Barry Dreyer, Danette. Ek en Erika Taljaard was jare lank boesemvriendinne. Dis omdat ek weet wat hy aan haar gedoen het dat ek Barry nie kan verdra nie.”

Danette rimpel haar neus misnoeg. “Wat hy aan háár gedoen het? Al wat ek onthou, is hoe almal hulle siek gelag het oor Erika se leuens. Kan jy jou voorstel dat ’n cool ou soos Barry ooit aan ’n vaal ou meisietjie soos Erika Taljaard verloof sou raak? Sy het selfs ’n diamant­ring van haar oorlede ouma gedra en aan almal vertel dis haar en Barry se verloofring. Simpel meisiemens! Toe Barry alles ontken, het Erika druipstert gaan wegkruip by familie êrens in die Vrystaat. Ek was destyds doodbang my pêlle kom agter jy en Erika is sulke groot maats. So ’n vernedering sou my sosiale lewe uitgewis het.”

“Ek weet: jy sou die skande nooit oorleef het nie,” spot Jana en vervolg ernstig: “Erika het nie oor haar verlowing aan Barry gejok nie, Danette. Erika se ouma Kloppers was ’n ryk vrou en omdat Erika na haar vernoem is, het haar ouers verwag dat Erika heelwat ná haar ouma se dood sou erf. Ongelukkig het Barry ook daarvan te hore gekom en skielik knaend by Erika begin kuier.”

“Aag, dis ’n klomp tjol! Barry is skatryk. Waldus sê hy is ’n suksesvolle makelaar en maak fortuine op die aandele­mark. Hy sou nooit in Erika belang gestel het nie. Sy’s seker nie te lelik nie, maar haar ouers is nie fabelagtig ryk nie – nie soos ons Richters nie.”

“As jy dan nie belang stel in die waarheid nie . . . Solank jy besef Barry speel nie met dogtertjies soos jy nie, my kleinsus. Maar wat nou van aandete? Wie maak saans kos sedert mevrou Brewis en die res van die huispersoneel weg is?”

Danette haal haar skouers belangeloos op. “Die yskaste is mos vol, en dis maklik om wegneemetes te bestel. Ek het jou gesê ek’s op ’n dieet. Ek gaan nou TV kyk en slaap.”

“Wag eers, Danette! Wie maak die huis skoon? Wie maak jou bed op? Wie versorg die tuin?”

“Die tuindiens en die hope bediendes wat altyd . . .” Haar sin rafel uit en sy staar Jana met toenemende onbegrip aan. “Ek weet nie. Ek het nie werklik notisie geneem nie, maar die huis is skielik stil . . . amper verlate sedert mevrou Brewis verlede Vrydag weg is. Wanneer kom sy terug? En waar is al die ander werkers? Het Mamma niks gesê nie?”

“Ek en jy en Waldus is die nuwe werkers, Danette. Totdat Pappa weer ’n fortuin op die aandelemark maak, is daar nie geld om mense te huur nie,” lig Jana haar teësinnig in.

“As dit ’n grap is, Ousus, lag ek nie.” Danette betrag haar wantrouig, vrees huiwerend in haar oë.

“Ek maak nie siek grappe nie, Danette. Moenie jou vriende hiervan vertel nie. Ek’s ouer as jy en weet Pappa het soms ’n gebrek aan kontant. Dit is niks om jou oor te bekommer nie, want ons besit huise in Frankryk en Italië en ’n woonstel in Londen. Ek weet Pappa het aandele in myne en allerlei maatskappye. Ons hoef nie bang te wees nie, Danette. Alles sal regkom,” paai Jana terwyl die onrus steeds in haar binneste groei.

“Dis waarom jy werk,” kom dit met onverwagte insig van Danette. “Het dit al vantevore gebeur toe ek nog te klein was om te kan onthou? Het ons toe ook self die huiswerk gedoen? Sê my, Jana. Ek’s so bang ons is vir altyd en altyd arm soos gewone mense.”

“Ons woon in ’n yslike dubbelverdiepinghuis met ses suites en is omring deur luukse meubels en kosbare skilderye. Verwag jy Pappa moet ons huis verkoop bloot omdat hy kontant nodig het? Sakemanne gaan nie so te werk nie, Danette. As ons die dag sonder kos op straat sit, kan jy begin kla oor ons armoede. En nou gaan ek eet. Ek is net te honger om jou onsinnige vrae verder te beantwoord,” sê Jana gelykmatig en draai na die deur.

“Jy’s verskriklik gemeen, Jana! As jy net weet hoe groot jy my laat skrik het. Kan jy jou voorstel wat my pêlle sal sê as ons skielik plebs is? Jana, ek praat met jou!” gil Danette boos, maar Jana loop uiterlik kalm weg van haar.

Jana kriewel selfbewus rond op haar stoel aan die restauranttafeltjie. Sy hou die ingang van die Noontide Restaurant met ’n toenemende gevoel van wrewel dop en vermy die vraende oë van voornemende kliënte wat na ’n sitplek in die stampvol restaurant soek. Halfeen, het Barry gesê; voor die groot stormloop, het dieselfde Barry gesê, maar dis reeds vyf minute oor een en van Barry Dreyer is daar nog geen teken nie.

Doen hy dit met opset? vra sy haarself af. Sy was beslis nie vriendelik toe hy gisteraand gebel het nie. Sit hy êrens buite en kyk hoe sy soos ’n gek op hom sit en wag? Nee, dis belaglik. Barry weet maar te goed waarom sy nie kans sien om hom ooit as een van haar vriende te aanvaar nie.

Miskien moet sy haar handsak vat en loop. Waldus het nie gisteraand huis toe gekom nie, maar hy is negentien en ’n student. Sy kan hom nie oppas asof hy nog ’n skoolseun is nie. Sy kan Hilda se broer, Danie, miskien oor Waldus uitvra. Hulle is ou skoolmaats en hulle loop dieselfde graad. Danie sal haar heel waarskynlik meer oor Waldus kan vertel as Barry.

Sy steek haar hand na haar handsak uit, maar versteen toe ’n welluidende baritonstem hoflik versoek: “Moet asseblief nie opstaan nie, juffrou. Ek het nie bedoel om jou aan te gluur nie, maar die enigste vakante stoel in die restaurant is hier aan jou tafeltjie vir twee. Wag jy vir ’n metgesel?”

Die man wat agter die stoel teenoor haar staan, is lank met kragtige skouers onder sy donker snyerspak. Sy stemtoon is formeel, en sy formidabele en uiters manlike voorkoms laat haar hom oomblikke lank stom aanstaar. Hy het die donkerste bruin oë en so ’n deurpriemende blik dat dit voel asof hy tot in haar siel kyk. Wat probeer hy met sy oë sê? Is sy blik ’n waarskuwing dat hy nie vir alleenlopende vroue beskikbaar is nie? Of is hy vies omdat sy al meer as ’n halfuur lank met ’n glas water en ’n halfleë koppie koffie by die tafeltjie sit?

“Sit gerus, meneer. Ek het op iemand gewag, maar sou hy nou opdaag, kan hy voor die restaurantingang vir my wag,” reageer sy eindelik op sy vraag.

Sy hou hom dop terwyl hy gaan sit en ’n spyskaart by ’n kelner neem. Hy is streng gesproke nie aantreklik soos ’n filmster nie, nogtans vind Jana sy ruwe, onreëlmatige gelaatstrekke en sy geboë wenkbroue bokant sy magnetiese oë onverklaarbaar fassinerend.

“Sal ons bestel, juffrou?” vra die man oorkant haar.

Sy kyk in sy waaksame donker oë, laat haar blik gly oor sy sensuele mond wat met ’n ferm bolip en ’n voller onderlip terselfdertyd streng en verleidelik is. “Nog ’n koppie koffie, asseblief. Ek het reeds middagete gehad.”

Hy betrag haar skepties. “Ek is te hoflik om jou ’n leuenaar te noem, maar ek sal dit waardeer as jy saam met my iets geniet. Wat van ’n Portugese of ’n Griekse slaai of die altyd gewilde calamari of sushi? Of gaan jy biefstuk saam met my eet?” Sy oë loop tydsaam oor haar. “Jy kan werklik ’n tweede middagete bekostig.”

“Ek voel soos ’n ondervoede skaap by die slagpale,” antwoord sy geniepsig, vies oor haar selfbewuste blos onder sy alwetende blik. “Goed dan. ’n Griekse slaai, asseblief,” versoek sy en hoop dat Barry wel sy verskyning sal maak, al is dit bloot sodat sy die uitdrukking op sy gesig kan sien.

“Gaaf. Wat van ’n glasie wyn?”

“Nee, dankie. Ek bestuur.”

Die man knik, wink die kelner nader en plaas hul bestelling. Hy draai na Jana wat weer die ingang van die restaurant dophou. “As jou vriend nou opdaag, gryp ek my bord en sluit by daardie drie ou dames oorkant ons aan. Hulle verlustig hulle so in die hompe koek op hul borde dat hulle my nie sal raaksien nie.”

“Hou jy nie van mense nie?” vra Jana verwonderd.

“Waarom vra jy?” verneem hy kortaf.

“Jy lyk smoorkwaad, jy frons aanhoudend en jy gluur almal aan. En nou is jy vies vir drie vreemde vroue wat van sjokoladekoek hou. Wie het jou kwaad gemaak?”

Sy frons verdiep. “Ek is bekommerd, nie kwaad nie,” antwoord hy en steek onverwags sy hand uit na haar. “Aangesien ons saam eet . . . Ek is Wilhelm Hoffmann. Bly te kenne, juffrou . . .?”

“Jana Richter. Bly te kenne, meneer,” groet sy en voel hoe sy wegraak in die donker dieptes van sy oë. Néé, betig sy haarself skerp. Sy het oorgenoeg kwellinge om haar ’n leeftyd lank besig te hou. Sy gaan beslis nie emosioneel betrokke raak by ’n man bloot omdat die skerp lyne en die oneweredighede van hierdie Wilhelm Hoffmann se gelaat vir haar skielik onverklaarbaar, onmeetbaar, onmoontlik mooi is nie.

“Wilhelm. Dit klink vriendeliker, al kan ek nie juis vriendeliker lyk nie selfs al wil ek,” stel hy voor.

“Noem my Jana en moenie jou aan my steur nie. Ek voel innerlik soos jy uiterlik lyk,” antwoord sy met ’n ligte suggie.

“Moet ek belangstellend vra waaroor jy jou bekommer?”

Sy staar hom onthuts aan, glimlag dan geamuseerd. “Hoe­veel tyd het jy om te luister? ’n Week? ’n Maand?”

“Is dit so erg?” Hy kyk na haar asof hy haar vir die eerste maal werklik raaksien. “Ek glo jou nie. Jy lyk te rustig en ontspanne om enige bekommernis te hê. Of is jy ontsteld oor jou metgesel wat nie jul afspraak nagekom het nie? Jy het gesê dat jy vir ’n man wag?”

“Ek het, maar is geensins ontsteld omdat hy nie opgedaag het nie. En noudat jy hier is, gluur die mense my nie meer beskuldigend aan omdat ek alleen by ’n tafeltjie sit nie.”

“Kon hy jou nie gebel het nie?” Wilhelm frons weer dieper.

“Hy het nie my selnommer nie en ek . . .” Jana snak na haar asem toe ’n hand haar skielik aan die arm gryp.

“Jana, my skat. Dis so goed om jou weer te sien,” sê Barry Dreyer, sy stemtoon warm en intiem, terwyl hy vinnig buk en Jana vol op die mond soen. “Ek is jammer ek is laat, my liefste. Gaan jy my voorstel? Ek probeer al maande lank om ’n afspraak met Wilhelm Hoffmann te maak.”

Jana ignoreer vir Barry en kyk met gloeiende wange en blitsende oë na Wilhelm wat haar betrag met wisselende uitdrukkings wat sy nie kan peil nie.

Dans van die sterre

Подняться наверх