Читать книгу Dans van die sterre - Schalkie van Wyk - Страница 4

Hoofstuk 2

Оглавление

Jana sit haar hand teen Barry se bors om te verhoed dat hy haar weer soen en sis verwoed: “Ek wens ek was so dronk dat ek jou in die openbaar ’n dwarsklap kon gee, jou ongemanierde tweegesig. Ek ken nie die man wat oorkant my sit nie. Gee pad voordat ek my selfbeheersing verloor. Tot siens, Barry. Moenie eens probeer om weer ’n afspraak met my te maak nie.”

Barry kom stadig orent, ’n donker gloed van verne­dering op sy grimmige gelaat. Hy blik flitsend na Wilhelm en buk weer nader aan Jana. “Ek wou jou met Waldus gehelp het, maar as jy nie vir jou eie broer omgee nie . . .” Hy haal sy skouers op en glimlag geforseerd. “Ek dra nie ’n wrok teen ’n beeldskone meisie soos jy nie, my skat. As jy my my hartlike verwelkoming kan vergewe, sal ek jou graag oor Waldus se doen en late inlig. Sien jou binnekort, lieflike Jana,” vervolg hy kamma ongesteurd en stap tydsaam weg na die uitgang van die restaurant.

Wat nou? Jana is te bang om na Wilhelm te kyk. Dit sal ongeskik wees om op te spring en te loop nadat Wilhelm vir hulle middagete bestel het, maar sy sal nie in staat wees om ’n flentertjie blaarslaai af te sluk ná haar onderonsie met Barry nie.

“Ek verneem van kennisse en kollegas Barry Dreyer is die mees gesogte man onder die meisies in Summerside – moontlik in die hele Gauteng. Ek gee toe: die man is lank, blond en aantreklik genoeg om tuis te voel op die silwerdoek. Was hy ontrou aan jou?” verbreek Wilhelm die stilte tussen hulle op verrassende wyse.

Sy staar hom oomblikke lank verdwaas aan en skud haar kop ontkennend. “Ek is intelligent. Net dom meisies of meisies wat nie sy reputasie ken nie, knoop ’n verhouding met Barry aan.” Sy byt op haar onderlip en vra onseker: “Wou jy aan Barry voorgestel word? Ek bedoel, dis moeilik om te raai wat jy dink, want jy lyk permanent die joos in. Ek het net aangevoel jy sal nie een van Barry se vriende wil wees nie. Het ek reg geraai?”

“Jy lees my soos ’n boek, Jana,” antwoord hy stroef. “Dis iets wat Charmaine nog nooit kon doen nie. Dalk moet ek julle twee aan mekaar voorstel en hoop jy kan Charmaine leer om my beter te verstaan.”

“Asseblief nie! Ek het oorgenoeg probleme sonder om by jou verhouding betrokke te raak,” sê sy en sit verlig terug toe die kelner met hul etes opdaag. Dit lyk asof Wilhelm diep dink en nie hoor nie.

Ná ’n paar oomblikke se halfhartige gepeusel, besef Jana dat sy werklik honger is. Die dag het haar energie getap. Dít was reeds duidelik nadat sy ’n protesterende Danette by die skool afgelaai het, teruggekeer het huis toe en op haar bed, wat sy wou opmaak, aan die slaap geraak het. Dis ook g’n wonder nie, want sy kon die vorige aand glad nie slaap nie weens ontsteltenis oor haar gesprek met haar ma, haar skielike verantwoordelikheid om die huishouding op haar smal skouers te neem en veral die vooruitsig om haar werk in die Kaap te moet bedank. Sy sal die werk bedank, maar eers môre of oormôre, want sy bid heimlik nog vir ’n wonderwerk wat weer balans in haar kantelende wêreld sal bring.

“Hoekom frons jy, Jana? Is my frons aansteeklik of is jy nog kwaad vir Barry Dreyer?” onderbreek Wilhelm haar getob.

Soms klink dit sowaar asof Wilhelm wil skerts, maar hoewel hy nie meer frons nie, bly sy uitdrukking ernstig. ’n Man met ’n granietgesig wat nie kan lag nie, dink Jana en antwoord gelykmatig: “Ek het nie tyd om aan Barry en sy voortvarendheid te dink nie.”

“Omdat jy jou oor jou broer, Waldus, kwel?”

“Ken jy my broer?” vra sy verras.

“Nee, maar Barry het na hom verwys. Hy het gesê hy wou jou met Waldus help. Het jou broer hulp nodig?”

Jana sit haar vurk neer en antwoord bekommerd: “Ek weet nie. Waldus is . . . Ek het . . .” Sy skep asem. “Moenie jou aan my steur nie, Wilhelm. Ons eet saam omdat ons ’n tafeltjie deel, maar ons ken mekaar nie.” Sy kyk vinnig op haar polshorlosie. “Goeiste, dis byna tweeuur. Ek moet ry as ek betyds wil wees om . . . e . . . vir my volgende afspraak. Hoeveel skuld ek jou vir die ete?” Sy raap haar handsak op.

“Is dit my gesig?” vra Wilhelm.

Sy staar hom verward aan. “Ekskuus?”

“My gesig. Charmaine sê wanneer ek te lank na haar kyk, maak ek haar bang. Maak ek jou ook bang?”

“Dis nie hoe jy lyk nie, maar jou vraag oor my broer wat my ongemaklik laat voel. Daar skort niks met jou gesig nie, en jy weet dit. Wat het jou gesig in elk geval met die situasie te doen?” vra sy geïrriteerd.

“Alles. Ek en jy gesels ewe gesellig en leer mekaar geleidelik ken. Ek weet reeds jy het talle probleme, en jy besef ek dra net so ’n groot las plus vir Charmaine op my skouers rond, maar jy aanvaar my befoeterde gesig soos ’n goeie vriendin. Jy raak selfs van die opdringerige Barry ontslae sodat ons mekaar nog beter kan leer ken. Ons eet saam en net omdat ek bereid is om jou met Waldus te help, is jy skielik haastig om weg te kom,” antwoord hy gemoedelik.

“Ek is nie! Ek bedoel ek is . . . is haastig om te ry om my ander afspraak na te kom,” antwoord sy gefrustreerd en terselfdertyd skuldig omdat sy moontlik ondankbaar optree.

“As jy nie ’n selfoon het nie, leen myne, en sê vir die man jy sal ’n uur of wat laat wees. Of maak ’n afspraak vir môre of die volgende dag.”

“Ek het ’n foon, dankie, maar ek kan nie my afspraak kanselleer nie, want . . .” Sy onderbreek haar sin en soek naarstiglik in haar handsak rond toe haar selfoon begin lui.

“Dis hy. Sê vir hom jy kan nie met ’n mond vol kos praat nie,” stel Wilhelm hulpvaardig voor.

Jana tik die ontvangsknoppie en begin kalmerend: “Ek is so jammer ek . . .”

“Waar draai jy so, Jana? Dis hoe meisies aangerand en ontvoer word. Hul mense vergeet hulle by die skool en sodra die skoolhekke sluit, moet hulle op die straathoeke rondlê. Het jy geweet ek kan drugs op die straathoeke koop? Wil jy van my ’n druggie maak?” skree Danette so hard dat Jana haar foon wegruk van haar oor af en verdwaas saam met Wilhelm na die tirade luister.

Jana merk hoe Wilhelm se donker wenkbroue teen sy voorkop uitklim, bring die foon na haar oor en sê saaklik: “As jy nie saam met Hilda kan huis toe gaan nie, hardloop om die blok as enigiemand aan jou dwelms wil verkoop. Hou aan hardloop totdat jy my kar sien. Ek sal oor ’n halfuur daar wees.”

“Moenie simpel wees nie. Ek gaan saam met Hilda huis toe sodat ons weer saam ons huiswerk kan doen. Jy’t vanoggend gesê jy kom my haal . . . daarom mors ek nou ’n oproep op jou. Jy skuld my!” Die oproep word summier beëindig.

“Sy klink erger as Charmaine. Is sy ouer as ses?” vra hy simpatiek.

“Is Charmaine ses?” Jana is ergerlik oor Danette se optrede en Wilhelm se nuuskierigheid. Eers soen Barry haar asof hulle ’n vuurwarm verhouding het, en nou verskree haar ongeskikte suster haar asof sy ’n pateet is. Wilhelm glo heel waarskynlik sy is sonder ’n ruggraat of ’n persoonlikheid gebore.

“Ek wens sy was,” antwoord Wilhelm, die frons terug tussen sy wenkbroue. “Sy het my nog nooit verskree nie, maar aan die ander kant is sy so sag soos ’n malvalekker. Sy huil liewer as om rusie te maak wanneer ek haar nie haar sin gee nie. Ek wonder of dit ’n teken is dat sy nie ’n normale intelligensie het nie.”

“Charmaine klink verfynd, nie dom nie. Ek wens Danette het liewer gehuil as om so in my ore te gil. Hoekom is jy met Charmaine getroud as jy aan haar intelligensie twyfel?” vra Jana, onredelik kwaad omdat Wilhelm getroud is met ’n malvasagte vrou wat hy agter haar rug met ’n vreemde meisie bespreek.

“Ek en Charmaine is nie getroud nie,” antwoord hy moeg.

“Dan is sy nie ’n probleem nie. Verbreek jul verhouding en hou op frons. Dalk raak ’n ander meisie op jou verlief – en jy op haar, natuurlik. Hoeveel skuld ek jou vir my Griekse slaai? Die kelner het die spyskaart verwyder.”

“Betaal jou mansvriende nooit vir jou etes nie?” vra hy verwonderd.

“Nee. Ons werk almal en wanneer ons saam gaan eet, betaal elkeen vir sy eie ete en drankies.”

“Waar werk jy?” vra hy belangstellend.

“Ek het by . . .” Sy pers haar lippe ferm saam en gaan saaklik voort: “As jy vir my ete wil betaal, sê ek vir jou baie dankie. Maar ek moet nou dringend gaan.” Sy wil orent kom, maar hy gryp haar hand en vou dit in sy groot hand toe.

“Jy is doodbang om my te leer ken. Hoekom, Jana? Is jy familie van Herman Richter, die sakereus?”

Sy hoor nouliks sy vraag, haar oë vasgenael op die groot hand wat hare vashou. Sy moet probeer ontspan, maar hoe kan sy terwyl die warmte van sy hand hare omhul? Wat veroorsaak die hoendervleis op haar arms en die gevoel van opwinding in haar binneste? Is die sensasie wat oor haar senuweepunte rits ’n intuïtiewe waar­skuwing dat sy met vuur speel as sy beter bevriend met Wilhelm Hoffmann sou raak?

“Nou weet ek aan wie jy my herinner: jy is ’n jonger weergawe van tant Engela Richter. Sy is jou ouma, nie waar nie?” vra Wilhelm toe sy bly swyg.

Jana probeer haar skok wegsteek en wikkel haar hand los. “Ek is jammer, maar ek ken nie ’n Herman óf Engela Richter nie. Dankie vir die geselskap en die ete. Tot siens, Wilhelm,” groet sy formeel, klou haar handsak onder haar arm vas en vleg tussen die tafels deur na die uitgang.

Sy weet nie of sy moet lag van verligting of huil toe Wilhelm haar nie na haar kar volg nie. Nee, sy het ver­standig opgetree. Sy het ’n aaklige voorgevoel dat die kaartehuis van weelde waarin sy grootgeword het, binne­kort ineen gaan stort. Wanneer dit in Summerside gebeur, sal dit natuurlik eers ’n groot skandaal wees en daarna sal almal vergeet van die Richters wat multimiljoenêrs was en bankrot gespeel het. Sy sien allermins kans om haar en haar gesin se verleentheid met Wilhelm te deel. Laat hy maar net ’n aangename herinnering bly, besluit sy met gedwonge aanvaarding en bring haar motor in beweging.

Jana drafstap die enkele treetjies op na die oop voordeur, oortuig daarvan dat Waldus tuis is. Sy steek in die voorportaal vas toe sy ’n vrouestem ’n bekende kleuterliedjie hoor neurie. Haar hart ruk in haar bors en sy volg met ’n gevoel van blye afwagting die klank van die stem.

Sy bly in die deur van die oostelike sitkamer staan en volg elke beweging van die ouer vrou, netjies geklee in ’n donkerblou rok, wat met ’n verestoffer in haar hand van die een na die ander meubelstuk beweeg terwyl sy neurie. Sy het tant Driekie Brewis van haar kort grys hare tot haar gemaklike skoene lief, dink Jana. Sy sluk seer aan die knop in haar keel wat haar stembande skielik smoor en fluister skor: “Tant Driekie!”

Driekie draai glimlaggend na haar, haar grysblou oë vriendelik, en maak haar arms oop. “Janatjie. Ek is so dankbaar jy is terug voordat die lawaaierige Danette of die ewig brandarm Waldus hul verskyning maak. Kom gee my ’n drukkie, kind. Jy weet ek verwag altyd ’n doodstyding wanneer jy met jou karretjie van die Kaap af huis toe ry.”

“Twee drukkies,” lag Jana en soen Driekie op die wang. “Tannie weet ek vra altyd vir Lukas du Toit om saam met my te ry. Hy is te suinig om brandstof te koop met die geld wat sy pa gereeld stuur. Hy spaar dit om meisies uit te neem, leen sy ma se kar gedurende sy vakansies of naweke tuis en betaal my kamtig deur my nou en dan op pad hierheen agter die stuurwiel af te los. Maar wat doen tannie met die verestoffer?”

“Agge nee, Jana, jy’s mos nie dom nie. Ek stof af, kind. Terwyl julle almal uithuisig was, het ek maar die vere­stoffer gegryp en hier en daar ’n vertrek aan die kant gemaak. Maar kom ons sit hier op die bank en praat oor die dinge wat ons nog nie verstaan nie,” stel Driekie voor. Sy neem Jana aan die arm en trek haar op die rusbank langs haar neer.

Jana draai skuins op die rusbank en neem een van Driekie se hande in hare. “Ek is te bly om tannie weer te sien om my nou oor ander dinge te bekommer. Of dalk is ek te bang om te veel te wonder.” Tog soek sy na antwoorde op al die vrese wat sy ook op Driekie se gesig lees. “Ek weet tannie is al sewe-en-sestig, maar tannie is fiks en gesond. Het tannie werklik besluit om af te tree, of kon my ouers nie meer ’n huishoudster bekostig nie?” vra sy aarselend, bang om die waarheid te hoor.

“Vrees het net mag oor jou totdat jy dit trompop loop en reguit in die oë kyk, Janatjie,” antwoord Driekie, ’n bemoedigende glimlaggie om haar lippe. “Destyds, toe jy so bang was dat jy ’n aangenome kind is, het ek jou van jou ouma Engela Richter vertel. Onthou jy nog?”

“Natuurlik! Ek onthou ook tannie het volstrek geweier om enige verdere vrae oor my ouma Engela te beantwoord, selfs toe ek opnuut begin huil het.”

“Jou tweede tranebui was die geforseerde trane van ’n bedorwe brokkie. Ek kon jou nie met dié vrees oor jou ouers laat grootword nie, maar ek het goed geweet wanneer jy sommer net geneul het. Maar nou . . . Ek meen die tyd het aangebreek dat jy meer weet van jou pa se ouers. Onthou net: ek vertel jou dié dinge vertroulik, my hartjie, want jou broer en suster mag nie weet nie.”

“Ek verstaan, tant Driekie. Tannie het destyds gesê tannie weet nie of my ouma Engela nog leef nie. Vandag het ek ’n man ontmoet wat my gevra het of ek familie is van Herman Richter en daarna het hy gesê ek herinner hom aan Engela Richter.” Jana hou Driekie se hand stywer vas en vra dringend: “Hulle leef nog, nè, tannie?”

“Ja, my kind, jou oupa en ouma is diep in die sestig, maar met hul gesondheid skort daar niks. Hulle speel gereeld gholf en tennis, en jou oupa behartig nog self sy sakebelange,” antwoord Driekie met ’n tikkie jammerte in die blik wat op Jana rus.

“Hoekom wil hulle ons nie ken nie, tannie? Het hulle en my ouers rusie gehad?”

“Ek voel soos ’n verraaier, want ek het soveel jare op jou ouers se versoek oor dié dinge geswyg. Selfs nou . . . Ja, daar was ’n rusie oor jou ouers se troue. Maar al was julle grootouers nie by jul lewes betrokke nie, moet jy weet dat as daar dalk in die toekoms probleme sou opduik wat jy nie alleen kan oplos nie, sal jou ouma altyd bereid wees om te help.”

Jana los Driekie se hand en sit meer regop. “As ouma Engela nie genoeg belang stel in haar kleinkinders om ons te leer ken nie, wil ek haar ook nie ken nie. My ouers is in elk geval my eerste lojaliteit. Hulle het ’n wonderlike huwelik – wat kan nou daarmee verkeerd wees? In elk geval is ek seker alles sal binnekort weer na normaal terugkeer, want my pa is . . .” Jana laat haar sin onvoltooid toe sy die uitdrukking op Driekie se gesig sien. “Tannie kry my jammer. Wat . . . wat weet tannie wat my ouers teenoor my verswyg het?” Die knaende vrees is terug in Jana se bors.

Driekie sug hoorbaar en antwoord spytig: “Ek wens dit was nie vir my nodig om my vrese met jou te deel nie, Janatjie, maar miskien is dit my plig. Sien, jou pa het my verlede Donderdagaand na sy studeerkamer toe genooi – iets so ongewoons dat hy sy versoek moes herhaal voordat ek my eie ore kon glo. Hy het my probeer oortuig om af te tree as huishoudster, aangesien ek nie meer jonk is nie. Maar ek ken jou pa soos ’n eie kind. Sy voorstel was net té hartlik, sy handgebare té grootdoenerig en sy laggies té gedwonge, daarom het ek hom reguit gesê ek sal aanbly as huishoudster, maar dat ek nie meer ’n salaris wil hê nie.”

“En?” por Jana toe Driekie swyg.

Driekie se oë pleit om vergifnis toe sy voortgaan: “Jou pa se grootdoenerigheid het eensklaps verkrummel. Hy het weggedraai na die venster en gesê hy kan nie meer salarisse of kos en verblyf vir die huispersoneel bekostig nie. Hy het dankie en tot siens gesê sonder om weer na my te kyk.” Driekie sug aangedaan. “Ek kon huil om ’n selfversekerde man soos jou pa so gebroke te sien . . . Ek hét gehuil, maar ek het dit nie besef voordat ek my privaat sitkamer bereik het nie.”

“Maar dis nie die eerste maal dat my pa finansiële probleme ondervind nie, tant Driekie. Hy kon nog altyd van sy talle aandele of eiendomme verkoop wanneer hy kontant dringend nodig gehad het. My ma het multimiljoene geërf; almal weet dit tog . . .” Jana se protes klink onoortuigend in haar eie ore. Wie probeer sy nou eintlik bedrieg? Haar ma was byna buitensporig opgewonde oor hul vakansie en haar pa koorsagtig in sy haas om by die lughawe te kom; soos twee vlugtelinge wat aan die realiteit wou ontsnap. “Tannie verwag dat my pa alles gaan verloor,” vervolg sy, haar stemtoon doods.

“Ek voel net onrustig, daarom het ek teruggekom, Janatjie. Ek wil my graag verbeel julle kinders het my nodig. Verkwalik jy my?” vra Driekie onseker.

“Nooit nie, tant Driekie! Dalk . . . dalk moet ons niks vir Danette en Waldus sê nie. Danette sal probeer om ons ouers te bel, en Waldus sal glo dis sy kans om te gaan werk, want hy vertel my graag hy verveel hom morsdood op universiteit.”

“Ek sal nie praat nie, my kind, maar wie is die man wat jou oor jou oupa uitgevra het? Al jou grootouers se vriende weet van die vervreemding tussen hulle en jou ouers, en hulle sou jou oupa-hulle nooit met jou bespreek het nie,” sê Driekie gekweld.

“Sy naam is Wilhelm Hoffmann, tannie. Ons het net toevallig aan dieselfde tafeltjie in die Noontide Restaurant gesit omdat die plek stampvol was. Ek veronderstel hy is ’n nuwe intrekker – of ken tannie hom dalk?” vra Jana met onderdrukte nuuskierigheid.

“Nee, my hartjie, maar ek sal jou ouma Engela waarsku dat die jong man uit sy beurt gepraat het. Het hy belang gestel om te kom kuier?”

“Gelukkig nie, tannie. Hy is die knorrigste man wat ek ooit ontmoet het. Hy het in elk geval ’n verhouding met ’n meisie wat hy agter haar rug kritiseer,” antwoord Jana afkeurend en kyk op na die staanhorlosie. “Dis byna vieruur. Sal ons gaan tee maak, tant Driekie?”

“Tee sal nou lekker . . .” begin Driekie terwyl sy opstaan, maar swyg weer toe Danette se stem en naderende voetstappe in die gang opklink.

“Jana! Wie ken jy wat vir jou blomme sal stuur? Jana, waar kruip jy weg? Ek kan nie glo ’n man sal geld op jou mors nie. Of is hy vrek lelik?” weergalm Danette se stem deur die huis.

“In die oostelike sitkamer,” roep Jana, opnuut kwaad vir die opdringerige Barry Dreyer. Dis presies wat hy sal doen: ’n duur ruiker stuur sodat sy verplig voel om hom te bel en te bedank. As dit nou Wilhelm was . . . Maar Wilhelm ken nie haar adres nie en hy is verknog aan sy Charmaine, selfs al twyfel hy aan haar intelligensie. Wilhelm is veels te befoeterd om enige meisie werklik lief te hê. Nee, nou raak sy stuitig. Wilhelm Hoffmann en liefde is twee teenoorgestelde pole, en sy sal hom in elk geval nooit weer sien nie.

Of dink hy tog ’n bietjie aan haar soos sy aan hom dink?

“Eindelik. Kyk net hier, Jana. Ek wed die ruiker kos duisende rande. Sal ek die koevertjie oopmaak en kyk wie dit gestuur het?” Danette plak die ruiker op die koffietafel neer en pluk die kaartjie uit die plastiekhouertjie tussen die blomme.

“Nee!” Jana bereik Danette met enkele treë en gryp die koevertjie uit haar hand uit. “Goeiste tog, het jy nie ’n druppel respek vir ander mense se privaatheid nie, Danette? ’n Sewejarige kind het beter maniere as jy. Hoekom groet jy nie vir tant Driekie nie?”

“Wie het nou nie maniere nie?” vra Danette bitsig. “Hallo, mevrou Brewis. Jana, Mamma dring daarop aan dat ons ons werknemers as meneer of mevrou aanspreek. Mevrou Brewis is nie jou tannie nie.”

“Mevrou Brewis werk nie meer by ons nie, daarom kan ek haar noem wat ek wil,” antwoord Jana uittartend en blik oor haar skouer na Driekie wat Danette bedees groet. “Kom saam kombuis toe sodat ons ons middagtee kan maak, tannie. Dalk oorweeg ek dit om die onskul­dige blomme ’n bietjie water te gee, pleks van om hulle in die vullisblik te gooi.”

“Maar jy het nog nie eens die koevertjie oopgemaak nie,” protesteer Danette luidkeels terwyl sy agter Jana en Driekie aandraf kombuis toe. “Weet jy klaar wie die blomme gestuur het? Wie is dit? Ag, toe nou, Jana, moenie vermakerig wees nie. Vertel my wie is jou groot bewonderaar.”

“Ek het die blomme gestuur, Danette,” sê Driekie dood­ernstig. “Ek het groot bewondering vir Jana wat bereid is om my werk gratis te doen sodat sy ’n ogie oor jou en Waldus kan hou. Dit is ’n groot opoffering vir haar om haar werk te bedank.”

“Dis nou simpel,” kom dit afgehaal van Danette. “Ek wed Jana het net teruggekom omdat sy moeg is van vertaling en nie ’n man in die Kaap kon kry nie. Mevrou Brewis, ek wil nie blomme hê nie, maar ’n duisend rand kontant sal baie welkom wees.”

“Sal jy saam met ons tee drink, Danette?” vra Driekie, doof vir die skimp.

“Tee is vir ou mense,” antwoord Danette en kyk tar­tend na Jana, “en vir werkende oujongnooiens. Ek sal ’n Coke drink, en aan gemmerkoekies peusel terwyl ek TV kyk,” sê sy, haar streng dieet blykbaar vergete.

Jana betrag haar agterdogtig. “Hoekom is jy vandag so vroeg klaar met jou huiswerk, Danette? Of het jy baie leerwerk om te doen?”

“Hope. Maar ek moet eers my oorwerkte breinselle laat rus. Ek studeer in sarsies van twintig minute, anders ooreis ek my brein,” lig Danette haar in. Sy haal ’n koeldrank uit die yskas en ’n pakkie gemmerkoekies uit ’n kombuiskas en loop neus in die lug uit die kombuis uit.

“Die meisiekind amuseer my grensloos,” merk Driekie met ’n gedempte laggie op.

“Amuseer? Tannie het Job se geduld. Ek is lief vir my kleinsus, maar sy tree soos ’n bedorwe kleuter op wanneer sy nie haar sin kry nie,” sê Jana geïrriteerd.

“Sy aard na jou pa, Janatjie. Sy loop oor van selfvertroue en glo die lewe is haar speelbal, maar is eintlik ’n goeie kind. Waldus en selfs Hilda van Rooyen se broer, Danie, beskerm haar en Hilda teen jong mans wat te vrypostig raak. Danette en Hilda is gelukkig doodbang vir drank of dwelms. Ek neem aan dis Waldus en Danie wat die twee so bang gepraat het, want jy ken jou ouers: hulle glo julle is omring deur beskermengele, want hulle bespreek nooit probleme of gevare met julle nie.”

“Goeie maniere en etiket was nog altyd belangri­ker vir Mamma: soos om ons werknemers altyd formeel aan te spreek. Ek veronderstel skatryk mense voel meer­derwaardig teenoor ons gewone werkersklas,” sê Jana mymerend.

Driekie lag spontaan. “Ek is bly jy behoort tot die werkersklas, kind,” terg sy en sit ’n koppie tee voor Jana neer. “Wanneer gaan jy kyk wie vir jou die pragtige ruiker gestuur het?”

“Ek weet al,” antwoord Jana misnoeg en maak die kaartjie traag oop. Sy snak hoorbaar na haar asem toe sy die kaartjie lees, kyk Driekie met groot oë aan en sê oorbluf: “Maar hy weet tog nie waar ons woon nie.”

Driekie glimlag ingenome. “Hy weet, want hy het ’n ruiker gestuur. Mag ek nou Danette speel en vra wie hy is?”

Jana kyk vinnig na die gangdeur en antwoord gedemp: “Die man saam met wie ek vanmiddag geëet het, Wilhelm Hoffmann.”

“Aha,” kom dit alwetend van Driekie.

“Daar is niks om oor te aha nie, tannie. Danette het my gebel terwyl ons geëet het en . . . die simpel Barry Dreyer het my voor Wilhelm gesoengroet, maar die pes is weer inderhaas weg. Barry was gretig om aan Wilhelm voorgestel te word, maar ek het voorgegee ek ken hom nie. Selfs al ken Wilhelm my ouma Engela, sal sy nooit vir hom my adres gee nie – dis nou te sê, ás sy weet waar ons woon.”

Driekie huiwer oomblikke lank, ’n kwelfronsie tussen haar wenkbroue, en vertel hoorbaar onwillig: “Jou ouma vra my nooit uit nie, maar daar is ’n geringe moontlikheid dat sy wel jul adres ken, my kind. Sien, sy en jou oupa woon al jare lank in een van die oorspronklike ou wonings in Summerside, redelik na aan die gholfbaan.”

“O,” kom dit afgehaal van Jana. “Dalk het ek haar al by ’n inkopiesentrum raakgeloop sonder om te weet sy is my ouma Richter. Dis effe gemeen van haar dat sy weier om my te ken. Ék het mos nie met haar rusie gehad nie.”

“Jou ouers is jou eerste lojaliteit, Janatjie,” sê Driekie paaiend en lê haar hand op Jana se arm. “Jou ouma doen nooit inkopies by ’n inkopiesentrum nie – so min soos wat jou ma dit sou doen. Haar persoonlike ontwerper bespreek haar nuwe uitrustings met haar en sorg dat al haar wense uitgevoer word. Geld kan die meeste dinge koop, my kind.”

Jana sluk moeisaam aan ’n mondjievol tee. “Dis waarom ek môreoggend my werkgewer in die Kaap moet bel en daarna hier werk gaan begin soek. Waldus en Danette sal doodeenvoudig met die huiswerk moet help.”

“Ons kan die vertrekke wat ons nie gereeld gebruik nie toesluit om ons huiswerk te verminder. Jy gee mos nie om as ek tydelik weer hier woon nie, Jana?”

Jana staar haar verlig aan en glimlag sku: “Tannie hoef nie eens te vra nie. Die huiswerk is my plig, want ek kan nie bekostig om . . .”

“Ek sal vir ons etes sorg en hier en daar skoonmaak,” val Driekie haar beslis in die rede. “Terwyl jou ouers oorsee is, sal daar nie partytjies deur Waldus en Danette gehou word nie, want ek sien nie vir soveel werk kans nie. Dra die blomme na jou suite toe, Jana. Ek merk jy kyk kort-kort daarna.”

Jana ignoreer Driekie se tergende glimlag en tel die ruiker op. Wilhelm is ’n bedagsame man wat haar met ’n ruiker bedank omdat hy haar tafeltjie met haar kon deel. Dis al. Wilhelm het sy Charmaine. Hy is veels te befoeterd om haar persoonlik te kom besoek en te bedank, selfs al ken hy haar adres. Maar wie het hom vertel? Dis tog jammer hy het nie vir ’n kort rukkie kom kuier nie, want sy het sy knorrige geselskap geniet. Vreemd, sy het nog nooit tevore aangetrokke gevoel tot ’n man wat nie weet hoe om te glimlag nie.

Jana kyk besorg na die lang, skraal Waldus wat, geklee in ’n vuilerige gholfhemp, jeans en drafskoene, haar privaat sitkamer binnekom, die deur agter hom toedruk en met sy duime in sy broeksakke gehaak, op haar afstap en haar skuins op haar oor soen. “Ek het nie geweet jy’t kom kuier nie. Naand, Sus.”

Sy steek haar hand uit en lê dit teen sy wang sodat hy gebukkend bly staan. “Hallo, my liewe, verslonste kleinboet. Jy het ’n stoppelbaard en jou hare hang in jou oë en kruip oor jou kraag. Is dit in die mode om arm en verwaarloos te lyk?” vra sy, haar oë laggend in syne.

Hy vee sy lang, swart kuif uit sy oë en sak op ’n gemakstoel oorkant haar neer, sy regterbeen oor die armleuning gedrapeer. “Ek is vrek arm en diep in die skuld. Ek kan jou nie sê hoe jammer ek is dat Pa-hulle weg is nie. Jy kan my nie dalk met ’n paar rand haak nie?”

“Nee, ek kan nie. Maar bieg eers: hoekom is jy vrek arm en in die skuld? Ek kan nie onthou dat jy ooit skuld gemaak het nie.” Jana doen haar bes om nie soos ’n bekommerde ma te klink nie.

“Wel . . . dis nie werklik skuld nie. Ek bedoel, ek het drie duisend rand by Pa gekry om vir my handboeke vir varsity te koop, maar toe koop ek die boeke tweedehands by ’n paar van die manne. Die rokers raak so desperaat dat hulle hul boeke spotgoedkoop verkoop,” vertel hy en pluk-pluk aan ’n los garinkie aan sy hemp, sy onderlip tussen sy tande vasgebyt.

“Jy klink soos ’n uitgeslape sakeman. Wat het jy met die res van die geld gedoen?”

“In een van Barry Dreyer se talle skemas belê. Ek sê jou, Sus, ek was só ver van my eerste miljoen af,” beduie hy met sy wysvinger en duim millimeters van mekaar af, “toe trek ’n spul ou mense kleinkoppie. Barry het my ’n ekstra duisend uit sy eie sak geleen, maar nou kan ek dit nie terugbetaal nie. Hy gaan my skuld verdubbel as ek dit nie binne ’n maand terugbetaal nie. Wat die duiwel gaan ek doen? Barry dreig om my kar te vat, maar ek dink dis op Ma se naam. Is jy seker jy kan my nie help nie?”

“Ek is doodseker ek gaan nie help om Barry se afdreiggeld te betaal nie,” antwoord Jana wrokkig. “Liewe land, Waldus, al ons vriende weet hulle moet so ver moontlik van die agterbakse Barry af wegbly. Hy het al vier, vyf jaar die reputasie dat hy bejaarde pensionarisse of goedgelo­wige weduwees met sy gladde tong en sjarme oorreed om geld in sy skemas te belê. Die mense laat hulle maklik ’n gat in die kop praat, want die waarde van die rand daal en lewenskoste styg. Sommige is soos jy: gierig om met geleende geld te dobbel.”

“Dobbel? Dis ’n bietjie kras gestel, Sus. Barry maak soos Pa: hy ken die geldmarkte en belê in eiendom. Pa glo ek moet eers ’n graad kry voordat hy my meer oor die aandelemark leer, maar jy weet tog ek hou die pryse van aandele dop vandat ek twaalf of dertien was. Barry is bereid om my te leer, daarom beskou ek my verlies as skoolgeld wat ek moes betaal het.”

“Onnodige skoolgeld. Jy het meer kennis oor die aandelemark as Barry, Waldus,” sê Jana met nadruk.

Hy sit meer regop, ’n wakker lig skielik in sy oë. “Bedoel jy dit, Jana? Of paai jy net jou dom broer?”

“Ek kon nie in hierdie huis grootword sonder om iets oor aandele te leer nie. Jy het dikwels beter voorspellings as Pappa oor die styging of daling van verskeie aandele gemaak. Voordat jy Barry verder verryk, koop liewer self die aandele wat volgens jou mening gaan styg in prys.”

Waldus byt op sy onderlip en betrag Jana oomblikke lank oorwegend voordat hy teësinnig erken: “Ek sal dit nooit vir Pa sê nie, maar ek het al soms gewonder of ek ’n ingebore aanvoeling het vir aandelepryse – iets soos instink. Dink jy dis net my verbeelding, Jana?”

“Ek weet nie, my kleinboet, maar Mamma het my vertel haar pa het ’n soortgelyke talent gehad. Dalk is dit instink, maar kennis oor die aandelemark is ook uiters belangrik,” antwoord sy bemoedigend en vra gekweld: “Hoe gaan jy Barry terugbetaal? Kan jy nie werk by ’n restaurant kry nie?”

“Nee, ek kan nie. Ons vriende sal dink Pa is bankrot as ek skielik in ’n restaurant werk. Barry is nie ’n slegte ou nie, Jana. Ek bedoel, hy het nie my arm gedraai om geld in sy skema te belê of ekstra geld by hom te leen nie. Ek wou dit doen, want Pa is deesdae nie juis vrygewig nie. Hy het selfs geweier om vir my ’n voorskot op my toelae vir volgende maand te gee, daarom dat ek platsak is. Barry het vanmiddag weer gesê jy is die mooiste meisie wat hy ken en as . . .”

“Nee, Waldus. Ek wil niks van Barry Dreyer weet nie,” val sy hom beslis in die rede.

“Maar jy kan my help, Jana! Ek het Barry oorgenooi om vanaand by ons te kom kuier. As jy instem om saam met hom uit te gaan, sal hy al my skuld afskryf. Asseblief, Jana, help my uit die gemors.”

Dans van die sterre

Подняться наверх