Читать книгу Lokstem van die liefde - Schalkie van Wyk - Страница 4

Оглавление

2

Iets rym nie, dink Louise nog kortasem van skrik en sy betrag die twee kinders op die rusbank agterdogtig maar ook simpatiek. Wat het ’n nuwe tuiste vir hulle oom Lafras met hulle toekoms te doen, wonder sy verward. En nog belangriker, waarom glo die kinders dat sy, ’n ongetroude grade-onderwyseres, verblyfplek aan hulle oom Lafras sal gee? Is dít wat Eben Griesel haar aangedoen het? Lyk sy nou al soos ’n meisie wat huisvesting aan wildvreemde mans bied?

“Dis rêrig nie Oom Lafras se skuld dat hy vlooie het nie, tannie,” sê die seuntjie, ’n knapie van ongeveer agt, met dieselfde donker hare en oë as sy sussie. “As ons stiefma nie so lui was om haar hande in koue water te steek nie, kon sy lankal Oom Lafras in ’n warm bad geprop het.”

“Werklik?” vra Louise verbyster, besef dat haar stem soos die yl geblêr van ’n boklam klink, en sy kug voordat sy herhaal: “Werklik?”

Nie een van die twee reageer op haar vraag nie, en sy kyk byna verlig na die steekhaarbrakkie wat met hernude ywer ’n vlooi van agter sy een oor probeer afkrap.

“Daar doen hy dit al weer! Hy krap sy vlooie in my huis af. Vat asseblief julle hond hier uit,” beveel sy met haar onderwyseres-stem en sy voel al klaar dat sy begin jeuk.

“Dan is tannie ook ’n stiefma?” vra die dogter, haar stem vol bittere verwyt. “Wil tannie nie vir Oom Lafras hê nie?”

“Maar wat het julle oom Lafras … ?” begin Louise onthuts, maar word deur die seuntjie in die rede geval:

“As tannie net vir Oom Lafras bad, sal al sy vlooie versuip, en dan is hy ’n skoon hond. Ons wou hom bad, maar toe jaag ons stiefma ons uit die badkamer uit en sê honde mag nie in ons bad bad nie, en ons stiefpa sê dis waar, want hy sê alles wat ons stiefma sê. Nou gaan ons stiefpa ons seker weeshuis toe stuur, want tannie wil mos nie vir arme Oom Lafras bad nie.”

Louise luister met ’n gevoel van toenemende ongemak en verwarring na die seuntjie se uitlatinge oor sy gesinslewe, en wonder wat sy sal doen as die gevreesde stiefouers onverwags hulle opwagting maak.

“Dan is julle hond se naam Oom Lafras?” vra sy en slaag daarin om ’n afgewaterde glimlaggie op te roep terwyl sy eers haar nek en dan haar arm krap.

“Ja, tannie,” beaam die dogter. “Ons het hom drie dae gelede langs die pad gekry, maar ons het hom eers in ’n buitekamer toegesluit totdat ons ’n kans kon kry om hom te bad. Gister het die skool gesluit en ons stiefma het gesê sy gaan stad toe, want sy werk in die stad. Maar sy het gejok, want net toe ons Oom Lafras in die bad wou sit, toe kom sy binne en skree en raas asof Oom Lafras ’n padda in plaas van ’n hond is.”

“O,” sê Louise flou, nog nie seker wat om van die situasie of haar ongenooide besoekers te dink nie. Sy neem op die gestoffeerde stoel naaste aan haar plaas en blik belangstellend na die kinders.

Hulle is albei goed geklee hoewel nie een van hulle baie skoon is nie, en dit lyk byna asof hulle met mekaar meeding om die maerste te wees. Maar maer kinders is nie altyd verwaarloosde of ondervoede kinders nie – sy is self haar lewe lank ’n graat hoewel daar altyd oorgenoeg voedsame kos in haar ouerhuis was.

Elke kind hou van die dramatiese – dit het die drie jaar van onderwys haar geleer – en as ’n ouer weier om ’n optelhondjie te huisves, verg dit nie veel verbeelding van ’n kind om ’n doodnormale ouer in ’n stiefpa of stiefma te verander nie. In watter mate het die kinders die waarheid gepraat? wonder sy.

“Gaan tannie die ou huis koop?” wil die seuntjie weet. “Anne­marié sê tant Ragie spook hier, maar ek het al gekyk en gekyk, en ek het haar nog nie een maal sien spook nie.”

“Aag, jy kyk altyd te vroeg, man. Spoke loop mos eers na twaalfuur, want dan is dit middernag,” sê Annemarié met ’n meerderwaardige glimlaggie en wend haar tot Louise. “Dawie is sommer nog ’n baba, al was hy Saterdag agt. Ons stiefma wou nie eens vir hom ’n partytjie gee nie, want sy is mos alewig in die stad besig, en ons word verwaarloos,” vertel sy selfbejammerend, swyg nadenkend en vra onverwags: “Is dit lekker in die weeshuis, tannie? Ek het vir my stiefma gesê ek wed dis lekkerder in die weeshuis as hier by haar, maar toe sê sy ek is ’n ondankbare snip. Was tannie al in ’n weeshuis?”

“Nee, ek was gelukkig om my eie ouers te hê. Dan is julle ouers albei dood?”

Annemarié knik bevestigend met haar kop en ’n halfvergete hartseer dryf soos ’n skadu deur haar oë en versomber die uitdrukking op haar hartvormige gesiggie.

“Op slag gedood – dit het in die koerant gestaan en ek het dit self gelees, al het ek toe nog al die woorde gespel. Ek kan nou al goed lees, want ek is in standerd een as die skool weer begin. Ek kan tog beter somme doen as ou Annemarié,” spog Dawie, en Louise besef die dood van sy ouers is vir hom net bysaak in die klein wêreldjie waarin somme ’n belangriker rol as oorlede ouers speel.

“Dawie is nog klein, daarom is hy nie meer hartseer oor Pappa en Mamma nie. En almal bederf hom, omdat hy die jongste is. Eintlik is dit lekker om die jongste te wees, want selfs Lizelle is nooit so naar met hom soos sy met my is nie,” vertel Annemarié, lees die onuitgesproke vraag op Louise se gesig, en verduidelik: “Lizelle is my groot sussie, want sy is volgende jaar in matriek.”

“Ons het ’n groot broer ook, maar hy is al stokoud, want hy is op universiteit en hy gaan ’n veearts word. Gerhard hou van honde, maar hy sê altyd ons moet na ons stiefma luister, daarom moet ons ’n nuwe huis vir Oom Lafras kry,” lig Dawie haar in en swyg betekenisvol, sy blik afwagtend op Louise.

Louise antwoord nie. Sy kyk oorwegend na die steekhaarbrak wat klaarblyklik besef dat hy die fokuspunt van hulle aandag is en skielik ophou krap. Hy draai sy kop effens skuins, spits sy ore en loer hoopvol na haar deur die weelderige boskasie wat oor sy oë groei.

Dis byna asof Oom Lafras weet dat sy toekoms in die spel is, en sy kop draai skewer en sy oë pleit harder, dink Louise. Kan honde met hulle oë bid? wonder sy en die pyn van haar eie verwerping en vernedering loop ’n hartseer paadjie deur haar binneste.

Sy en die steekhaarbrakkie het iets gemeen. Hulle ken verwerping, die pyn daarvan.

Gisteroggend was sy nog ’n jong, selfversekerde onderwyseres, seker van haar eie bekwaamhede, van haar aantreklikheid vir mans. ’n Meisie vasgevang in die silwer web wat liefdesdrome tussen die helder lig van die sterre en maanligstrale weef. Sy het geglo in ’n sonskynmôre, in die onfeilbare liefde van ’n man, in ’n immergeluk wat ’n huwelik bring. Sy het in haarself geglo.

Maar toe kom gister en die naakte realiteit van ’n vuil woonstelgebou wat modderspore in haar siel getrap en haar selfvertroue laat flikker het soos ’n kersvlam in die wind. Dis wat sy geword het, rank die skrynende besef in haar op, soos kerslig in die wind van realiteit, ’n onseker, minderwaardige mens wat vlug van ’n seer wat te groot vir haar is om nou al te verwerk.

Het sy Eben nog lief? vra sy haarself die soveelste maal af, maar krimp ineen voor sy beeld wat voor haar geestesoog opdoem. Sy kan nie aan hom dink nie, wil nie aan hom dink nie, want elke herinnering bring hernude vernedering en pyn, en sy kreun onwillekeurig terwyl sy haar gesig met haar hande bedek.

“Foei tog, is tannie siek?” vra Annemarié bedagsaam.

“Gerhard kan perde en koeie en mense dokter. Moet ek hom gaan roep, tannie?” bied Dawie gretig aan.

“Nee … nee, dis sommer niks,” antwoord Louise verskonend en voel ’n blos van verleentheid oor haar gesig stoot. “Ek het in oorlede tant Ragie se huis kom woon en … aangesien ek heeltemal alleen hier gaan wees, sal ek bly wees as Oom Lafras saam met my hier kan woon. Bly julle hier naby? Sal julle hom darem gereeld kan sien?”

“Sjie, tannie is darem goed vir ons en Oom Lafras!” bedank Annemarié haar met stralende opregtheid. “Ons sal sommer elke dag kom, want ons bly net hier langs tannie.” Sy beduie met haar hand na regs. “Dié kant, want agter die hoë muur is my stiefpa se werkwinkel en die werf waar al sy masjinerie gehou word. Tannie sal nog sien.”

“Sal ek?” vra Louise oorbluf, merk die bekommerde, verwonderde uitdrukking op Annemarié se gesig en glimlag gedwonge. “Ek meen maar net, ek het nie ’n motor nie en … as dit te ver is …”

“Maar tant Ragie het dan altyd daarheen geloop en sy was amper negentig toe sy dood is!” bars Dawie ongeduldig uit. “Anne­marié sê mos vir tannie die werf is net anderkant die muur! Gerhard sê ons dorpsgrens is tant Ragie se ringmuur, want anderkant die muur is die … die dustrie …”

“Industriële gebied,” help Annemarié hom en beklemtoon elke lettergreep. “Tant Ragie se man, oom Josef, het die hoë muur laat bou, want tant Ragie het gesê die lawaai van die stootskrapers en padskrapers en vragmotors maak haar stapelgek en doof. Maar tannie weet seker daarvan, want sy het mos die huis vir tannie gegee.”

“Nee … my ma het die huis geërf en ek kom … kom kuier sommer net ’n rukkie hier. Dan het julle tant Ragie goed geken?” vra Louise, merk uit die hoek van haar oog dat Oom Lafras weer begin krap het, en dadelik is daar ’n jeukerigheid aan haar skouer.

“Baie goed, want sy kon lekker koekies bak,” antwoord Dawie, staan op en drentel na die oop dubbeldeur. “Ek dink ons moet nou eers weer loop, tannie. Dis seker al amper tyd vir middagete, en ons stiefma laat ons sommer sonder kos bly as ons nie betyds vir ete is nie.”

“Dis waar, tannie,” beaam Annemarié terwyl sy ook orent kom. “Tant Ragie het altyd gesê my stiefma is ’n jesebel, en my stiefpa het nie ’n greintjie verstand in sy kop nie. Maar tannie sal self sien hoe naar hulle met my en arme Dawie is. Tannie …” Sy swyg onseker, kyk Louise oorwegend aan en vervolg vinnig: “As tannie wil, kan tannie maar die venster van die spens oop los, want dis waar ek en Dawie altyd inklim. Tannie moet net nie vir my stiefpa sê ons klim by die venster in nie.”

“Ek sal nie,” beloof Louise ernstig. “En dankie vir julle kuiertjie. Julle moet weer kom.”

“O, ons sal baie kom kuier, want my stiefma laat ons net ons vingers deurwerk as ons by die huis is,” verseker Annemarié haar, roep saam met Dawie ’n sorgelose “tot siens” en verdwyn saam met hulle voetstappe in die gang.

Louise kyk na Oom Lafras wat sy krappery staak en met stywe pote onseker op haar afstap terwyl hy sy kort stertjie hoopvol swaai.

“Alles reg, Oom Lafras. Jy is vir tyd en wyl ’n permanente inwoner van tant Ragie se huis. Maar ek en jy kort albei ’n bad, want ’n trein laat my altyd vuil voel. Ek wonder …” gesels Louise met die hond, swyg en byt ingedagte op haar onderlip voordat sy vervolg: “Rheedershoop is darem baie kleiner as Johannesburg, Oom Lafras. Dalk moet ek probeer om my bestuurderslisensie hier te kry … dalk.”

“Waf?” vra Oom Lafras toe sy ophou praat.

Louise lag en staan op, besef met opwellende bitterheid dat dit haar eerste lag is sedert haar en Eben se besoek aan die woonstelgebou.

Nee, sy gaan van gister vergeet en op die hede konsentreer, neem sy haar voor. Heel eerste gaan sy haar tasse uitpak, ’n slenter­broek aantrek en Oom Lafras ’n behoorlike bad gee. Hope­lik het haar ma onthou om vroegoggend haar prokureur te bel sodat hy kon toesien dat die elektrisiteit in tant Ragie se huis weer aangesluit word. Anders sal sy en Oom Lafras met ’n koue bad tevrede moet wees.

Louise spoel die steekhaarbrakkie in ’n sinkbad met louwarm water en dennegeurige ontsmetmiddel af, druk-druk die meeste water uit sy nat pels en lig hom dan op ’n groot verbleikte, pienk handdoek wat aan tant Ragie behoort het.

“Staan stil, Oom Lafras!” beveel sy en tel die naaste twee handdoekpunte op om die hond in die handdoek toe te wikkel.

Asof sy hondewaardigheid lank genoeg deur die goedbedoelende Louise geïgnoreer is, skud Oom Lafras die water van hom af en kyk haar verwonderd aan wanneer sy met ’n onderdrukte gilletjie agteruit deins.

“Oom Lafras, nee!” baklei sy en kyk na haar papnat klere en arms. “Kom hier, Oom Lafras. Ek moet jou afdroog.”

As antwoord skud die hond homself ’n tweede en ’n derde keer, loop na ’n sonkol voor die kombuiskas en strek hom op die vloer uit. Hy sug, werp haar ’n verwytende blik toe en loer met niksseggende oë deur die nat donse na die oorkantste kombuismuur.

“Wel, dis jou besluit. Moet net nie dink ek gaan vir jou hoesklontjies voer as jy verkoue kry nie,” gesels sy en glimlag tevrede.

Sy is bly oor haar impulsiewe besluit om na tant Ragie se huis te kom. Gisteraand, toe sy haar tasse gepak het, het sy haar die aankoms en verblyf hier veel anders voorgestel, maar Annemarié en Dawie en veral Oom Lafras se teenwoordigheid het van haar toevlugsoord ’n vakansieoord gemaak. Pleks daarvan om tyd te hê om haar wonde te lek en te treur oor ’n liefde wat nooit was nie, het haar nuwe vriende haar nog nie die tyd gegun om aan haarself te dink nie.

Hoe gaan sy die sinkbad met water by die agterdeur uitkry? Die eerste badvol water het sy met ’n emmer leeg geskep, maar om dit weer ’n keer te doen …

Die harde geklop aan haar voordeur verdring haar soeke na ’n moontlike oplossing om van die water ontslae te raak, en sy kom orent en stap vinnig in die gang af na die klein ontvangsportaaltjie.

’n Vlugtige kykie in die antieke spieël in die swaar houtraam teen die muur vertel haar dat haar voorkoms veel te wense oorlaat, want sy het nie ’n tikkie grimering aan haar gesig nie en haar hare is plek-plek nat en deurmekaar. Haar klere is druipnat, maar aangesien haar besoekers net Annemarié en Dawie kan wees, ontstel dit haar nie.

Sy maak die voordeur oop, wil vra waarom hulle nie sommer deur die spensvenster geklouter het nie, maar haar woorde stol op haar lippe wanneer sy die groot, tronende gestalte van ’n vreemdeling voor haar op die voorstoep sien staan.

Sy hare is donker, sy gelaat brons, asof hy ’n man is wat ’n lewe in die buitelug verkies. Sy wenkbroue vorm skerp, donker boë bokant oë wat ’n verrassende grysblou is en skerp teen sy donker gelaatskleur afsteek. Die Romeinse boog van sy neus gee ’n valkagtige uitdrukking aan sy gesig, en sy mond sluit in ’n ferm lyn bokant ’n ken wat hoekig uitstaan en van ’n onbuigbare wil spreek.

Sy skat hom in sy laat dertigerjare, wonder wat hy kom soek het, en kyk vraend op na hom. Eers dan besef sy dat hy haar met openlike belangstelling aanstaar en ’n warm blos van verleentheid vlek haar wange.

“Ek … is jammer, maar ek het Oom Lafras gebad,” maak sy verskoning vir haar uiterlike en vat-vat aan haar hare.

“So?” Die man klink geamuseer.

Sy waag ’n ongemaklike kykie na sy gesig en wonder of sy haar verbeel dat sy oë haar uitlag.

“Ja! Sommer in die sinkbad in die kombuis. Hy het my papnat gespat,” babbel sy en wens sy kan liewer stilbly, maar die man laat haar pynlik ongemaklik voel. Sy wag dat hy moet reageer, maar toe hy aanhou swyg, spring haar praatveertjie weer los. “Dit was eintlik ’n stoeigeveg, want Oom Lafras hou nie baie van water nie.”

“Dalk hou Oom Lafras nie daarvan dat ’n mooi meisiekind soos jy hom bad nie,” bespiegel die vreemdeling.

Net ’n man sal so ’n onsmaaklike opmerking maak, dink Louise gegrief en neem nog ’n tree agteruit. Waarom sal ’n hond omgee dat …

“O …” sê sy begrypend en weet sy bloos weer. “Jy dink Oom Lafras … Hy is ’n hond.”

Die man se regterwenkbrou lig vraend.

“Jy sê dit sonder om te blik of te bloos, daarom sal ek jou glo, meisie.” Hy snuif ’n paar keer en vra belangstellend: “Hou Oom Lafras van die dennegeur?”

Louise besnuif die lug onwillekeurig.

“Ek is jammer. Ek ruik seker ook na die ontsmettingsmiddel. Maar … wou u iets gehad het?” vra sy, neem ’n derde tree agteruit sodat haar besoeker haar nie kan ruik nie, en rek haar oë wanneer hy die huis binnekom.

“Ja, ek sal graag met jou ma wil gesels – as sy dié keer gaan instem om met my te praat.” Hy steek sy hand na haar uit. “Dawie en Annemarié het jou seker van my vertel. Ek is hulle oom Lafras de la Rey.”

“Hulle oom … wie?” vra Louise met ’n yl stemmetjie en sy kan sweer dat haar wange dié keer aan die brand gaan slaan van verleentheid. “Maar hulle het gesê die hond se naam is Oom Lafras en … meneer De la Rey, ek het niks van hulle oom Lafras geweet voordat u my vertel het nie.”

Hy glimlag en lyk ineens niks ouer as dertig nie, want daar is warmte in die lag wat uit sy blik en die diep lagplooitjies om sy oë straal.

“Ek ken toevallig vir Dawie en Annemarié baie goed, daarom twyfel ek nie eens aan jou storie nie. Dan het hulle die rondloperbrak na my vernoem? Dis nogal ’n eer, want hulle is lief vir die ding,” skerts hy, vat haar regterhand waarmee sy doelloos aan ’n lissie van haar slenterbroek peuter, en skud dit. “Bly te kenne, meisie. Barnard, nie waar nie? Jou ma was met oom Cornell Barnard getroud, as ek reg onthou.”

Sy knik met haar kop, verwonderd oor sy kennis.

“Ja, meneer De la Rey. Ek is Louise Barnard. Dan het u my pa geken?”

Sy uitdrukking verstrak en sy hoor ’n tikkie vyandigheid in sy stem wanneer hy antwoord: “Jare gelede, ja, want hy was tant Ragie se peetseun. Jou ma, Heleen, is sy hier?”

“Nee … nee, sy het nie saamgekom nie.” Sy wonder oor sy skielike stroefheid.

“Jy bedoel jy het alleen hierheen gekom?” ’n Frons van ongeloof keep tussen sy wenkbroue. “Het jou vriend jou gebring? Is julle net vir die dag hier?”

Vriend? Die woord skrik deur haar. Weet hy van Eben? Waarom glo hy dat sy saam met haar vriend gekom het? Lyk sy soos ’n meisie wat saam met haar vriend alleen in ’n huis sal woon? Wat dink hy van haar? Sy lyk aaklig en nat en almal hou nie van meisies met ’n dennegeur nie, maar dis alles Oom Lafras se skuld … en Eben s’n. Sy voel meteens verraderlike trane agter haar ooglede brand.

Dis al wat sy moet doen om haar vernedering volkome te maak – om in trane voor ’n vreemdeling uit te bars omdat die man wat sy liefgehad het haar van elke tikkie selfvertroue en trots beroof het, dink sy en kug hard agter haar hand terwyl sy om selfbeheersing veg.

“Waf-waf!” blaf Oom Lafras onverwags agter haar, jaag ’n skokrilling langs haar ruggraat af, en gee haar die broodnodige afleiding vir haar troebel gedagtes.

“Dis Oom Lafras, meneer De la Rey,” sê sy terwyl sy afbuk en die klam hondjie in haar arms optel. “Ek het gemeen hy sal sommer ’n goeie waghond wees terwyl ek hier woon. En hy is darem geselskap.”

“Dan het jy sowaar alleen hierheen gekom?” herhaal Lafras ongelowig.

“Dis tog wat ek gesê het,” antwoord sy ergerlik, lees die wantroue op sy gesig en beklemtoon: “Heeltemal alleen. Ek hou skool en ek het ’n rustige vakansie op die platteland broodnodig.”

Hy kyk na haar asof hy haar die eerste maal behoorlik sien, kyk na haar selfs toe sy net so kriewelrig soos Oom Lafras in haar arms begin voel. Sy sit die hond neer en lig haar ken effens om haar valse moed te gee voordat sy dit waag om sy deurdringende blik te ontmoet.

“Ek kan my ma se foonnommer aan u gee, meneer De la Rey. Sy is ’n rekenmeesteres by –” begin sy formeel.

“Sy weier om telefonies of persoonlik oor die verkoop van hierdie perseel te praat, daarom sal haar foonnommer my nie help nie,” antwoord hy en swyg peinsend voordat hy vervolg: “Jy kan haar nie dalk oorreed om die plek aan my te verkwansel nie, juffrou Barnard? Of is jy van plan om die huis jou toekomstige woning te maak?”

“Ja … nee … ek weet nie, meneer.” Louise pluk-pluk weer met senuweeagtige vingers aan die lissie van haar slenterbroek en verwens die vreemdeling met sy nuuskierige vrae. “My ma het ’n prokureur hier op Rheedershoop – ’n meneer Delport of …”

“Marnus Dippenaar,” help hy haar reg. “Marnus kan my nie help nie, want jou ma is sy kliënt, daarom vra ek jou. Oorreed jou ma om die plek aan my te verkoop en ek maak dit vir jou die moeite werd.”

“Hoe?” wil Louise onmiddellik op haar hoede weet, en sy gluur hom agterdogtig aan. Sy merk dat Oom Lafras met ’n verveelde gaap opstaan en na die gangdeur beweeg. “Oom Lafras, bly hier!” roep sy skerp uit.

“Genugtig, meisiekind, jy hoef nie te skree nie, ek is mos hier,” spot hy en die lag in sy stem en oë maak hom weer jeugdig.

“Ek praat met Oom Lafras,” sê sy ergerlik.

“Ek is ongetwyfeld oud genoeg om jou oom te wees, want ek is vyf-en-dertig. En jy? As jy my dogter was, het ek jou nooit toegelaat om alleen op vreemde dorpe te gaan kuier nie,” sê hy, sy stem wisselend tussen skerts en erns.

“Ek is vier-en-twintig,” antwoord sy met ’n poging tot kille waardigheid wat skromelik deur haar beteuterde voorkoms verloën word.

“Sowaar? Ek sal jou glo en hoop jy oorreed jou ma om tant Ragie se grond aan my te verkoop. Dis ’n hele twee akker en ek het dit dringend nodig. Kom ons gaan ’n ooreenkoms aan. Jy praat jou ma om, en ek koop vir jou enige motor wat jy wil hê,” stel hy voor.

Sy staar hom geskok aan. “Jy bedoel jy wil my omkoop?” vra sy verbyster.

“Genugtig, meisiekind, dis nie nodig om so ontstel te lyk nie,” sê hy onthuts. “Dis besigheid. Jy help my, en ek beloon jou. Dit gebeur elke dag in die sakewêreld. Stel jy belang in ’n splinternuwe motor van jou eie keuse?”

Vanselfsprekend stel sy belang in ’n eie motor – enige motor, solank dit kan loop. Hier op Rheedershoop gaan sy haar bestuurderslisensie kry en al haar meerderwaardige vriendinne wat al op agtien met ’n lisensie gespog het, op hulle neuse laat kyk. Maar sy sal haar eie motor met haar eie spaargeld koop, nie met die omkoopgeld wat die man hier voor haar vir haar wil gee nie. Sy kyk hom nou uitdagend aan, meer op haar gemak omdat sy weet dat hulle voortaan geswore vyande sal wees.

“Ek kan nie bestuur nie, daarom stel ek nie in ’n motor belang nie, meneer De la Rey,” sê sy kil.

“Ek kan jou leer. Ek het Gerhard en Lizelle geleer,” bied hy aan.

“Ek het al geleer, maar toe het ek ons ouderling omgery. Ek het agteruit gery en die ouderling het skielik om die hoek van die huis gekom, maar ek het hom nie gehoor nie,” vertel sy mismoedig.

“Foei tog,” simpatiseer hy met ’n breë grinnik.

“Hy was ’n maand lank in die hospitaal met ’n gebreekte been,” sê sy ergerlik en werp hom ’n vernietigende blik toe oor sy gevoelloosheid. “Dis waarom ek nooit weer bestuur het nie.”

“Arme kind – dit moes ’n groot skok gewees het.” Nou is daar simpatieke erns in sy stem, dog sy kyk hom nog wantrouig aan, oortuig daarvan dat hy haar in sy binneste uitlag. “Maar ’n mens kan nie aanhou weghardloop van ’n ouderling met ’n gebreekte been nie, daarom bied ek weer aan dat ek jou sal leer bestuur en ’n motor vir jou sal koop as jy jou ma kan ompraat.”

“Maar daar is seker ander grond,” vra sy.

“Ek wens daar was, maar daar is nie, want ons erf hier langsaan vorm die grens van die woonbuurt van Rheedershoop. Tant Ragie se oorlede man, oom Josef, het hierdie twee akker industriële grond gekoop en met sy dood, skaars ’n jaar gelede, het tant Ragie dit geërf. Ek het dit by haar probeer koop, maar sy het halsstarrig geweier – net soos jou ma nou weier om ’n stuk grond wat volkome nutteloos vir haar is aan my te verkoop. Begryp jy waarom ek by jou om hulp kom aanklop?”

“Ja, meneer De la Rey,” antwoord sy, wonder hoe en waar hy in die prentjie pas, wonder oor Dawie en Annemarié se stief­ouers. Sy vergeet egter haar onbeantwoorde vrae wanneer die voortuinhekkie kierend oop piep en ’n lang, skraal man met ’n tikkie koper in sy donkerbruin hare in die smal, geplaveide tuinpaadjie aangestap kom. “Hier … is nog ’n man,” stotter sy, ineens weer intens onseker van haarself, en kyk oor haar skouer. “Oom Lafras!”

“Toe nou maar, juffroutjie, ek is mos hier … en ek wens jy wil vir jou hond ’n ander naam gee. Dis maar net Marnus Dippenaar, jou ma se prokureur,” sê Lafras gerusstellend, draai om en skud hand met hulle besoeker. “Dag, Marnus. Ek sien jy het jou briewetas saamgebring. Heleen Barnard het nie dalk eindelik ingestem om die grond aan my te verkoop nie?” vra hy hoopvol.

“Nee, maar die grond behoort nou aan juffrou Louise Barnard – dalk kan jy dit by háár koop,” antwoord Marnus, merk Louise skuins agter Lafras staan en steek sy regterhand glimlaggend na haar uit.

Lokstem van die liefde

Подняться наверх