Читать книгу Sag fluister my hart - Schalkie van Wyk - Страница 3
1
ОглавлениеSandri Blanchet sit voor die spieël en knipoog vir haar tannie Simone wat agter haar kom staan en bekommerd na haar kyk.
“Soms dink ek jy is te jonk en te mooi vir soveel verantwoordelikheid, my kindlief,” sê tant Simone met ’n spytige suggie en raak aan Sandri se skouer. Daar is darem nie net spore van kommer op haar tannie se gesig te sien nie. ’n Trotse bewondering straal ook deur.
Sandri glimlag onnutsig. “Ek is dankbaar tannie dink ses-en-twintig is jonk, maar hoe mooi ek kastig is …” Sandri kyk in die spieël na haar groen oë en swart hare wat oor haar skouers val. Sy haal haar skouers op. “Tannie is lief vir my en liefde maak enigiemand mooi.” Sandri lig haar hare van haar gesig af weg en begin dit vasmaak. “Om prinsipale te wees, ís ’n groot verantwoordelikheid, maar tannie het my mooi opgelei. Moenie so bekommerd wees nie.”
“Móét jy jou pragtige hare in so ’n onaantreklike bolla agter jou kop saamvat, Sandri?” vra tant Simone onthuts. “Glo my, kind, dit laat jou outyds, nie ouer of waardiger lyk nie. Dis ’n wonder die Blanchet-leerders het jou nog nie ’n bynaam soos ‘Oumatjie’ gegee nie!”
Sandri se laggie is onbesorg. “Ag, onnies en veral prinsipales kry altyd byname. Tannie het my self vertel toe groottante Alexandrie aan bewind was, is sy ‘Ou Giffie’ genoem omdat sy so streng was. Dalk noem ons leerders my ‘Klein Giffie’, tant Simone.”
“Dít glo ek darem nie, want die meisies hou van jou, Sandri. Maar jy hoef regtig nie elke dag donkerblou of grys tweestukpakkies en wit bloesies te dra nie. Jy is nie ’n kelnerin wat verplig is om ’n uniform werk toe te dra nie!”
“Tannie het van my bril vergeet,” koggel Sandri, tel ’n swart brilraam met groot, ronde lense van haar spieëltafel af op en sit dit op die punt van haar neusie. “Werklik waardig, nè, my tannie?” vra sy bedees en loer na tant Simone oor die raam van haar bril.
“Stuitig!” sê tant Simone kamtig vies en draai vinnig om, maar Sandri het klaar die effense glimlaggie gewaar. “Ja, toe, jou kamtige onskuld bedrieg die ouers en die leerders, maar ek weet jou oë spog met volmaakte twintig-twintig-visie. Skaam jy jou nie oor jou bedrog nie?” raas tant Simone.
“Nee, my knorrige tannie,” antwoord Sandri ongesteurd en kom orent. “Tannie was nou net besorg dat ek te jonk en mooi vir die verantwoordelikheid van prinsipale is. Met my bolla, bloesies en bril lyk ek darem al asof ek in die rol pas – en só is die helfte van die stryd reeds gewonne.” Sy sit haar arm om tant Simone se skouers en gee haar ’n bemoedigende drukkie.
Tant Simone sug. “Ek is nie werklik bekommerd oor jou bekwaamheid nie, Sandri. Jy het immers ’n doktorsgraad in Opvoedkunde en die skoolraad is beïndruk met jou inspirerende invloed op al die meisies. Dis jou oupa wat my weer laat twyfel oor my vakansieplanne terwyl jy die bestuur van die skool oorneem.”
Sandri bekyk haar tannie. Op sewe-en-veertig is tant Simone met haar donkerbruin hare, ligbruin, ambergoue oë en egalige gelaatstrekke nog besonder aantreklik. Die enkele lagplooitjies om haar oë is nouliks sigbaar en haar sonnige glimlag straal warmte en opregte belangstelling in haar medemens uit. Haar lang, slanke figuur lok selfs soms ’n tikkie afguns by die skoolmeisies uit.
“Wat kan oupa Everard nou eintlik doen? Hy het geen sê oor die Hoër Meisieskool Blanchet nie. Dit was nog altyd in die hande van die Blanchet-vroue, vandat Alexandrie die Eerste dit begin het. Hy het ook geen sê oor tannie nie. Oupa moet hom gerus by sy sakeryk bepaal.”
Sandri is lief vir haar oupa, maar hy kan vreeslik baasspelerig wees. Sedert haar ouma Heloïs drie jaar gelede oorlede is, is hy net erger. Eintlik kry sy hom jammer, want hy mis haar seker ontsettend. “Kom ons gaan eet nou ontbyt, my diep beswaarde tannie. Of is tannie te bedruk om te eet?” terg Sandri.
“Jy is ’n opperste snip, Sandri Blanchet, selfs al lyk jy hooghartig genoeg om van adellike afkoms te wees,” sê tant Simone gemaak vies, maar haak glimlaggend by Sandri in toe hulle saam in die breë gang afstap na die bopunt van die trap.
Oupa Everard plak sy koffiekoppie hard op die piering neer en gluur na Sandri en tant Simone wat hom vriendelik ’n goeiemôre toewens en aan die lang ontbyttafel gaan sit.
“Goeiemôre!” herhaal hy hul groet bot en laat dit soos ’n skelwoord klink. “Ontbyt word stiptelik om halfsewe soggens voorgesit, maar julle daag ’n kwartier later op en probeer nie eens verskoning maak vir jul laksheid nie. Is my woord nie langer wet onder my eie dak nie?”
“Oupa, argumente is nie goed vir die spysvertering nie, veral nie vir mans van agt-en-sewentig nie,” sê Sandri streng en kyk na tant Simone. “Hoekom moet ons onder hierdie dak woon?” vervolg sy kamtig ernstig. “Kom ons koop ’n groot woonstel nader aan Pretoria sodra tannie terugkeer van die buiteland.”
Sandri sien hoe tant Simone haar oë toeknyp en haar kop haastig laat sak, asof sy hoop om die onvermydelike uitbarsting van oupa Everard te ontduik. Vreemd, toe haar tannie prinsipale was, het sy dissipline sonder moeite in die skool gehandhaaf, maar in oupa Everard se teenwoordigheid verkrummel sy tot ’n hopie onsekerheid.
“Sandri, moenie my uittart nie!” waarsku oupa Everard, sy stem ’n donker rammeling in sy bors. “Jy is nog ’n bogsnuiter wat allermins die nodige ervaring het om die prinsipale van ’n skool te wees.”
“Rêrig nie, Oupa? Ek is al sedert Januarie in die pos, onder tant Simone se mentorskap. Die afgelope vier maande was die ouers en die skoolraad doodtevrede met my rol as skoolhoof.”
“Omdat een en almal besef Simone kloek oor jou soos ’n moederhen!” bulder oupa Everard en slaan met sy vuis op die tafelblad sodat die eetgerei rinkel. “As jy die geringste probleem ondervind, is Simone maar altyd daar om jou hand te vat en te help. Gaan jy my probeer wysmaak dat jy al jou probleme self kan oplos?”
“Só verwaand is ek nie, Oupa,” antwoord Sandri rustig. “Maar selfs wanneer tant Simone oorsee is, sal ons onderhoof, juffrou Minnaar, altyd byderhand wees om my te help en raad te gee, as ek dalk ’n tweede mening nodig kry.”
“Presies! Waarom kan Johanna Minnaar nie waarneem as prinsipale terwyl Simone in die buiteland gaan rondjakker nie?”
Oupa Everard se donker wenkbroue vorm ’n skerp kontras met sy sneeuwit bos hare en waaksame, swartbruin oë. Sy aristokratiese neus en ferm ken verleen aan hom die voorkoms van ’n diktator wat gewoond is om sy wil in elke situasie te laat geld. Sandri sug. Sedert haar ouma se dood, glo hy niemand is in staat om die Hoër Meisieskool Blanchet sonder sy hulp te bestuur nie. Ja, haar ouma was ’n uitstekende prinsipale, maar tant Simone was ook en sy wat Sandri is, is vasberade om in hul voetspore te volg.
Tant Simone maak haar rug reguit. Sy het blykbaar haar stem teruggekry, want sy antwoord oupa Everard: “Dit was nog nooit in my aard om rond te jakker nie, nie eens dertig jaar gelede nie, Pa. Ek reis en leer ken die kultuur van elke land wat ek besoek.”
“Is dit nie genoeg dat ons elke Desember as familie oorsee gaan nie? Hoeveel keer het jy nie al by ons wynplaas in Frankryk gaan kuier nie?”
“Ek gaan die hele Europa platreis, Pa, nie net Frankryk nie. My toer begin boonop in Amsterdam. En dis anders om alleen te reis …”
“Jy kan wag tot ná jou aftrede op vyf-en-sestig!”
“Pa het op agt-en-sewentig nog nie afgetree nie. Wag ek so lank, sal ek dalk ’n rolstoel en ’n verpleegster nodig hê om my te vergesel. Gun Pa my nie net één keer ’n bietjie vryheid nie?”
Oupa Everard beduie kwaai met sy hande om sy ergernis te beklemtoon. “Met alles wat jy van die Blanchet-vroue geërf het, was jy jou lewe lank vry om te kom en gaan soos jy wil. Jy het die onderwys as loopbaan gekies, Simone, daarom verwag ek dat die goeie naam en die toekomstige finansiële sukses van die skool altyd jou eerste prioriteit sal wees. Ek sê weer: Johanna Minnaar kan in jou afwesigheid as prinsipale waarneem, anders gaan julle leerders verloor.”
“Johanna is ’n uiters bekwame opvoeder, maar ‘onderhoof’ is in haar geval slegs ’n eretitel, Pa. Ek kan op haar staatmaak om Sandri met hulp en daad by te staan, maar die liewe Johanna sal ’n toeval kry as ek haar vra om die verantwoordelikheid van prinsipale op haar geboë skouers te neem. Waarom onderskat Pa Sandri se bekwaamheid? Sy is ’n Blanchet. In die afgelope vier maande was daar nog nooit ’n probleem nie. Ek vertrek Sondagaand oorsee, Pa – en dis finaal.”
Oupa Everard smyt sy gestyfde wit servet op die tafel neer, stamp sy stoel agteruit en sê bars: “Ek kan verstaan as ’n man en sy vrou oorsee wil reis, maar ’n oujongnooi wat stoksielalleen so ver van die huis af wil rinkink … Ek wonder wat Gunther Stark daarvan sal dink?”
Sandri kyk oupa Everard stilswyend agterna toe hy die eetkamer uitstorm en draai verslae na tant Simone. “Wat op aarde het oom Gunther Stark met tannie se vakansieplanne te make?”
“Alles.” Tant Simone glimlag sinies. “Het jy nog nie agtergekom hoe gereeld hy Saterdae by ons kom tennis speel nie? En twee aande per week speel hy en jou oupa saam skaak. Dis verstommend hoe gereeld Gunther hier kuier vandat sy vrou oorlede is.”
“Sê tannie dat …” begin Sandri oorbluf, laat haar sin onvoltooid en skud haar kop ongelowig. Sy frons en vervolg verontwaardig: “Oom Gunther is minstens sewentig! Dink tannie oupa Everard verwag dat tannie met oom Gunther moet trou? Is dit nie ’n misdaad om met so ’n stokou man te trou nie? Veral as hy jou eie pa se vriend is?”
Tant Simone lag spontaan. “Ek glo nie dis ’n kriminele oortreding nie, maar dis iets waaroor ek liewer lag, om te verhoed dat ek my konkelaar-pa met die naaste blompot disnis gooi! Ek het Gunther jare lank as ‘oom’ aangespreek. Na sy vrou se dood het hy daarop aangedring dat ek hom op sy voornaam noem. Dit was so ’n onbenullige versoek dat ek ingestem het, moontlik omdat ek hom jammer gekry het oor tant Magdel se lang siekte en dood. Ongelukkig het hy besluit ons is tydgenote en skielik het hy uiters galant teenoor my begin optree.”
“Is hy die rede vir tannie se lang reis deur Europa?” vra Sandri terwyl sy na die buffet loop om roereier in haar bord te skep. “Wat kan ek vir tannie inskep?”
“Net ’n snytjie roosterbrood, dankie,” antwoord tant Simone.“Wel, jou oupa se voortdurende skimpe dat ek te lank op die rak sit en dat Gunther nog so sterk en gesond is soos enige jong man, is miskien een van die redes waarom ek my vertrek oorsee met twee maande vervroeg het. Maar jou gemak om die leisels as prinsipale by my oor te neem, is die belangrikste rede. Ek wil nie heeltyd oor jou skouer loer om te sien of jy weet hoe om elke situasie met takt en insig te hanteer nie. Ek weet ek kan jou vertrou. Ek is veral dankbaar oor die meisies se spontane goedkeuring en aanvaarding van jou as hul nuwe prinsipale.”
Sandri kou aan ’n mondvol roereier en bekyk tant Simone peinsend. “Besef Oupa as tannie trou, gaan tannie nie meer in naam ’n Blanchet wees nie? Hy het dan selfs seker gemaak dat my ma ’n Blanchet bly deur haar met sy agterkleinneef se seun te laat trou. Ek het altyd gewonder … Het Oupa my pa by sy agterkleinneef gekoop? Dit sal my nie verbaas nie! Waarom anders het my pa hier saam met julle in die huis grootgeword?”
“Genade, kind, jou verbeelding hardloop met jou weg. Selfs jou oupa is nie so familienaambehep om ’n seun te koop nie! Jy weet tog jou pa se ouers is in ’n motorongeluk dood. Sy grootouers was oënskynlik dankbaar om van ’n ekstra kleinkind ontslae te raak, want hulle het na aan die broodlyn geleef. Hulle was trots genoeg om Oupa te laat verstaan hulle verkoop nie hul kleinseun aan hom nie, maar gee hom vrywillig. Ja, jou pa het byna soos ’n broer saam met my en jou ma grootgeword, maar hy het jou oupa altyd ‘Everard’ genoem en sy herkoms onthou.”
“O, wel, Oupa het my pa en ma sekerlik gedwing om te trou, want my pa is ’n Blanchet en Oupa wou natuurlik hê hulle moes vir hom ’n kleinseun gee om te verhoed dat die Blanchet-naam sal uitsterf. Ek weet mos hoe belangrik die familienaam vir hom is.” Sandri glimlag wrang. “Maar toe is ék gebore. Ek wonder, is Ma dood omdat sy bitter ongelukkig in haar huwelik was?”
“Haai, nee, kind!” Tant Simone lyk geskok. “Waar kom jy daaraan? Ek het nie geweet jy dink sulke dinge nie. Armand en Victoire het mekaar opreg liefgekry en is met jou oupa en ouma se goedkeuring getroud. Ja, die familienaam is vir jou oupa belangrik en hy was oorstelp toe Armand en Victoire besluit het om te trou, maar hy het hulle beslis nie gedwing nie.”
Tant Simone peusel aan haar roosterbrood en gaan mymerend voort: “Ek sou nooit toegelaat het dat my lieflingsuster gedwing word om met iemand te trou vir wie sy nie lief is nie. Al was sy vyftien maande ouer as ek, het ek altyd soos die beskermende ousus gevoel. Ek het jou mos vertel dat jou ma se gesondheid nooit uitstekend was nie. Sy was nie voortdurend siek nie, maar het soms nierprobleme gehad al het sy die beste mediese hulp gekry en ’n normale lewe gelei.” Tant Simone dink na. “Jou groottante Alexandrie die Derde was wel teen hul huwelik gekant. Teen daardie tyd het ek en Victoire onder haar valkoog by die Hoër Meisieskool Blanchet onderwys gegee. Tant Alexandrie het nie geskroom om te sê Victoire is te pieperig om die ma van kinders te wees nie. Jou groottante was byna twintig jaar ouer as haar broer, jou oupa Everard, en sy het geglo jou oupa het nie genoeg verstand om oor sy dogters se toekoms te besluit nie.”
“Dit klink asof oupa Everard na groottante Alexandrie aard,” skerts Sandri en probeer haar somber gedagtes afskud.
“Ongetwyfeld. Maar moenie jou kop breek nie: Jou ma was gelukkig getroud. Sy het kort na haar huwelik swanger geword en omdat Armand jou oupa se sakebelange in Europa behartig het, het Victoire hier by ons aangebly. Gedurende die lang maande toe Victoire op jou geboorte gewag het, was ek net so opgewonde soos sy. Ons het saam babaklere gebrei en gekoop,” vertel tant Simone en swyg, ’n uitdrukking van hartseer en heimwee in haar oë.
“En toe sterf Ma met my geboorte,” sê Sandri met die bekende tikkie skuldgevoel in haar stemtoon.
“Moenie, my kindlief,” maan tant Simone haar goedig en lê haar hand op dié van Sandri. “Ek het jou kleintyd reeds vertel dat jou geboorte so lank en uitputtend was dat selfs Victoire se ginekoloog getwyfel het of sy lank genoeg sou leef om lewe te skenk aan ’n gesonde baba. Ek glo dit was haar liefde vir jou wat haar die krag gegee het om so lank aan die lewe vas te klou. Sy wou jou só graag hê.”
Sandri knik begrypend. “Ek sal altyd skuldig voel omdat sy met my geboorte dood is, maar dit is ’n wonderwerk dat sy lewe aan ’n baba kon skenk toe almal gedink het dit is onmoontlik.”
“Slim kind,” sê tant Simone sag en skink vir hulle koffie in.
“Ek is nog slimmer,” sê Sandri met ’n skalkse glimlaggie. “Ek kan raai tannie het my ma beloof om my groot te maak. Nou is tannie eindelik oortuig ek kan op my eie voete staan, daarom gaan tannie met ’n ellelange vakansie.” Sy dink ’n oomblik na. “Tannie was ’n wonderlike pleegma. Maar ek wens soms my pa was meer betrokke in my lewe. Tog, ek kan begryp dat Pa nie kans gesien het om ’n pasgebore baba alleen groot te maak nie …” Sandri proe aan haar koffie, ’n ligte frons tussen haar wenkbroue. “Maar ek kan wraggies nie verstaan waarom my pa nie later saam met sy nuwe Franse vrou vir Jean-Pierre kon grootmaak nie. Hoekom het hulle hom hierheen ‘gepos’ soos my liewe halfbroer so lief is om te sê? Hoekom wou hulle nie hul eie seun grootmaak nie?”
“Jong, as Armand dalk die moeite sou doen om Josette Castille aan ons te kom voorstel, sou ek dalk beter kon verstaan. Wie kan sê?” Tant Simone haal haar skouers op. “Al wat ek weet, is dat jou oupa alte gretig was om Jean-Pierre hier te hê. Jy kan jou indink hoe ingenome hy met Jean-Pierre se geboorte was. Dink net, die seun wat sou sorg dat sy tak van die Blanchets in Suid-Afrika nie uitsterf nie.” Tant Simone drink ook ’n slukkie koffie. “Jou oupa sal beter weet hoe Armand se sake staan. Hy en jou oupa Everard gesels voortdurend met mekaar oor Skype. Tog wonderlik wat die moderne tegnologie als moontlik maak.” Sy glimlag ironies. “Jou oupa se gereelde sakebesoeke aan Armand is bloot ’n goeie verskoning vir hom om in sy straalvliegtuig rond te rits.”
“Oupa sê hy kan sy reiskoste van SARS terugeis, maar ek weet nie hoe waar dit is nie,” sê Sandri glimlaggend. “Vir my sal Pa altyd maar net ’n gesig op ’n foto bly. Een van die talle foto’s wat Oupa neem as hy by hom gaan kuier. Hy stel tog nie belang om my te ken nie. En die kere dat Jean-Pierre saam met Oupa vir hom gaan kuier het, het hy my kleinboet glo heeltemal geïgnoreer.”
“Ai, my kind –” begin tant Simone.
“Ek gaan met my motor skool toe ry,” onderbreek Sandri haar. Sy wil aan vreugdevoller dinge dink. Sy mis haar pa tog nie regtig nie, want sy het hom nooit geken nie. “Tannie dink seker ek is lui gebore om nie die entjie te stap nie. Ek is nou energiek, maar teen middagete is ek kapot. Ry tannie saam?”
“Vanselfsprekend. Ek het nie veel energie oor na my oefensessie vanoggend nie,” antwoord tant Simone terwyl hulle by die eetkamer uitloop na die trap. “Weet jy of Jean-Pierre gisteraand huis toe gekom het?”
Sandri hoor die gekwelde ondertoon in tant Simone se stem en vra verwonderd: “Maak dit saak, tannie? Jean-Pierre besit tog ’n gerieflike woonstel naby die universiteit en hy’s reeds mondig. Hy kan seker kom en gaan soos hy wil?”
“Ja, maar hy het altyd twee of drie keer per week huis toe gekom en naweke was hy gewoonlik tuis. Is dit nie vir jou ook vreemd dat hy nou net op oupa Everard se aandrang ’n Saterdag of Sondag saam met ons deurbring nie?”
“Nie werklik nie. My kleinboet is aantreklik en hy het nog altyd van meisies gehou. Miskien het hy vir die soveelste keer verlief geraak op ’n medestudent.”
“Sedert sy eerste dag op kleuterskool is Jean-Pierre verlief, maar hy was nog altyd verknog aan sy eie mense. Dalk juis omdat sy pa en ma hom hierheen ‘gepos’ het – soos hy sê – toe hy maar net ’n paar maande oud was. Buitendien, een-en-twintig is so bitter jonk om in ’n ernstige verhouding met ’n meisie betrokke te raak. As hy na jul pa aard, Sandri … Ek is te oud om nog ’n kind groot te maak.”
“Genade, toggie … Jean-Pierre het nog nie eens sy meisie aan ons kom voorstel nie, maar tannie maak al kinders groot! Tannie het beslis ’n baie lang vakansie nodig!”
Sandri kyk gesteurd op van die dokument voor haar op haar lessenaar toe Paula van Zyl, haar persoonlike assistente, se stem skriller as gewoonlik deur die soliede houtdeur van haar kantoor hoorbaar word. Op sulke dae pas Paula se bynaam, Poppie, beter by haar, dink Sandri geamuseer. Sy weet die leerders noem vir Paula van Zyl “juffrou Poppie” … Paula is goed opgelei en volkome betroubaar, maar die liewe Poppie, wat Sandri heimlik as Paula se alter ego beskou, is ’n beproewing van gees en vlees.
Die kantoordeur swaai na ’n haastige klop oop en Poppie struikel oor haar eie voete in haar haas om Sandri se lessenaar te bereik.
Ja, dis vandag Poppie, besluit Sandri en leun op haar stoel terug. Poppie dra graag pienk rokke met frilletjies en valletjies, pienk oorbelle en vyf goue armbande wat soos windklokkies rinkel. Sy het nou ’n ontstelde uitdrukking op haar gesig en met haar vingers verander sy haar deftige haarkapsel in ’n wilde, vlamrooi boskasie.
“Sit, Paula,” nooi Sandri gemoedelik. “Ek waarsku jou elke keer jy moenie met jou hoë-hakskoene aan probeer hardloop nie. Niks kan so dringend wees dat jy ’n been of ’n arm breek as jy sou neerslaan nie.”
“Dis erger as dringend, doktor Blanchet!” verklaar Poppie kortasem van verontwaardiging en ergernis. “Hy …” Sy beduie met ’n kwaai wysvinger na die foon op die lessenaar en vervolg diep beledig: “Daai man het nou al drie keer gebel en gesê hy moet dringend met meneer Jean-Pierre se pa praat. Ek het hom al drie keer vertel Jean-Pierre se pa woon oorsee, vriendelik gegroet en die gehoorbuis neergesit. Nou het die onbeskofte man weer gebel en gesê hy wil met Jean-Pierre se ma of oupa of ouma of broer of suster praat. Ek het hoflik verduidelik Jean-Pierre se pa en ma is oorsee, sy oupa werk, sy ouma is dood en hy het nie ’n broer nie, net ’n ouer halfsuster. Toe wil die man met u praat, doktor Blanchet. Maar toe vra ek hom sy naam en van en verduidelik hy kan nie tydig en ontydig bel nie, want u is besig met belangrike werk en ek kan u nie steur nie. Ek dink hy het gevloek, maar ek kon nie mooi hoor nie. Toe skree hy my byna doof en … en toe hardloop ek weg … e … kom lig ek u in, doktor.”
Sy haal ’n spieëltjie agter die valletjies van haar rokhals uit en staar verdwaas na haar eie spieëlbeeld. “En kyk hoe lyk ek nou,” stamel sy oorstelp en vat aan haar deurmekaar haredos.
“Het die man geweier om sy naam te gee, Paula?”
“Ja, doktor. Of dalk het hy gesê wie hy is, maar hy het so hard geskree dat ek bang was my oortrom bars, toe los ek eers die gehoorbuis sommer net so,” antwoord Paula bedruk en wend wanhopige pogings aan om orde in haar weerbarstige boskasie te bring.
“Vergeet nou eers van jou hare en gaan vra die man weer wie hy is en waarom hy ’n afspraak met my wil maak, Paula. Bly te alle tye kalm en hoflik, asseblief.”
“Poppie, seblief, doktor. Ek lyk soos ’n Poppie en ek voel soos ’n Poppie. My ma sê in elk geval nog al die jare my pa was dronk toe hy my as Paula geregistreer het, want sy het uitdruklik gesê my naam is Petronella, soos haar ma. Moet ek rêrig weer met daardie ongeskikte man gaan praat, doktor Blanchet?”
“Asseblief, Poppie. As dit jou beter sal laat voel, sal ek by jou in jou kantoor kom staan terwyl jy met hom oor die foon praat,” troos Sandri.
“O, dit sal, dankie, doktor! Ek weet hoe om vroumense te hanteer, maar mans maak my altyd senuweeagtig, seker omdat my pa so ’n ou bullebak is.”
Dié storie oor Poppie se pa het sy ook al male sonder tal gehoor. Sandri sug en loop deur na Poppie se kantoor om te luister na die voortgesette foongesprek.
“Is meneer nog daar? Ek is baie jammer ek het meneer laat wag, maar ek het net gou gaan navraag doen oor hoe lank doktor Blanchet nog besig sal wees. As meneer net meneer se naam en van … Nee, meneer. Ek móét weet wie meneer is en wat die probleem is voordat ek doktor Blanchet kan vra om u te bel of ’n afspraak met …” Poppie kners hoorbaar op haar tande. “Ag, sies! Hoor net hoe vloek die mansmens, doktor! En toe plak hy sommer die foon in my oor neer. Die onbeskofte lummel! Ek wed hy mishandel sy vrou en kinders en skop die hond ook as die bure nie kyk nie.”
“Poppie, jy is ’n tonikum!” paai Sandri gerusstellend. “Jy het heeltemal reg opgetree, Paula. As die man nie gewillig is om te sê wie hy is of wat sy probleem is nie, laat ons die saak net daar. As jy wil, kan jy jou hare in die ruskamer gaan tem terwyl ek vir ons tee maak. Toe, weg is jy, Paula!”
“Poppie, doktor, Poppie,” pleit die rooikop. “Net my pa noem my Paula en ek hou net so min van hom as van daai naam. Ek en my arme ma het elke dag onder sy skerp tong deurgeloop. Die ou blikskottel! Haai, ekskuus, doktor, nou gebruik ek ook lelike woorde soos daardie onbeskofte lummel.”
“Toemaar wat, Poppie, ek verstaan volkome. Hoekom het jy my nie lankal vertel jy hou nie van jou doopnaam nie?”
“Ek wou eers die kat goed uit die boom kyk, doktor verstaan? Doktor lyk so … e … deftig, maar ek het al agtergekom doktor is net so gaaf soos juffrou Simone,” bloos Poppie verleë.
“Dankie, Poppie. Ek sal jou net as ‘Paula’ aanspreek as een van die ouers of lede van ons skoolraad teenwoordig is. As jou probleem oor jou naam opgelos is, kan jy nou iets met jou hare gaan aanvang.”
“Ja, voordat een van die meisies my sien. Doktor weet hoe hulle my siel kan uittrek,” kla Poppie selfbejammerend en drafstap die kantoor uit. “Ek gee nie om as hulle my juffrou Poppie noem nie, maar ek het al gehoor hoe die klein snippe vir my ‘Volstruisie’ sê!”
Volstruisie! herhaal Sandri in haar gedagtes, en kyk Poppie se lang, maer liggaam met die groot hande en voete agterna. Dit help natuurlik nie dat Poppie byna kenloos is met ’n lang, spits neus soos ’n snawel nie. Nogtans is sy op haar manier mooi. Sy het vol lippe wat sy graag helderrooi verf, gewoonlik dieselfde kleur as haar lang vingernaels. En haar babablou oë is opvallend, nie net danksy die kleur nie, maar ook die grootte wat aan tafeltennisballe herinner. Dis eintlik haar geaardheid wat haar werklik mooi maak. Sy is so ’n aangename, hulpvaardige vrou, nooit te moeg om lang ure te werk as die skoolraadvergaderings of oueraande dit van haar vereis nie.
“Wat ’n bedrywige ousus!” ruk Jean-Pierre se tergende stem Sandri tot die hede terug.
Hy staan skraal en lenig in die oop deur wat na Poppie se kantoor lei, ’n lui glimlag om sy vol lippe en ’n tergende uitdrukking in sy donkerbruin oë. Hy kom nader, vee sy swart kuif uit sy oë en soen haar op die wang. “Hallo, sus. Ek het nie besef dis deel van ’n prinsipale se pligte om vir haarself tee te maak nie. Wat het van die konsternasie van ’n Poppie geword?”
“Hallo, Jean-Pierre,” groet Sandri geamuseer. “Die arme Poppie lyk omtrent soos ’n konsternasie ná haar gesprek met ’n uiters ongemanierde man wat op soek is na jou pa, jou ma, jou oupa en ouma of jou broer of suster. Wat, my bleekgeskrikte kleinboet, het jy agter my rug aangevang? En moenie voorgee jy is onskuldig nie, want jy lyk soos ’n spook en jou oë is koeëlrond van skok. Ek is ’n ervare prinsipale en ek luister met die nodige empatie na jeugdige oortreders se skuldbekentenisse.”
Jean-Pierre se ore gloei selfbewus, maar hy pers sy lippe hard saam en kyk Sandri reguit in die oë. “Daar’s niks wat jy nie weet nie … Behalwe … e … ek het deesdae ’n meisie. Maar dit sal tog niks daarmee te doen hê nie.”
“’n Meisie? En jy sê ons niks!”
“Ek en Christiane gaan van die begin van die kwartaal gereeld saam uit.”
“Dan is dit dalk haar pa –”
“Nee, haar pa en ma woon in Nieu-Seeland. Haar ouers en hul twee jonger kinders het twee jaar gelede na Nieu-Seeland geëmigreer, maar Christiane het haar hart daarop gesit om matriek in ons land te behaal en dan hier verder te studeer,” vertel hy.
“’n Skoolmeisie? Goeiste, my boet, is jy nie bietjie te oud om met skoolmeisies uit te gaan nie?”
Hy maak ’n ergerlike handgebaar. “Moenie laf wees nie, Sandri. Christiane was in matriek toe haar ouers geëmigreer het. Sy het toe in ’n koshuis gaan bly totdat sy klaar was met skool. Vanjaar is sy ’n student. Haar ouers het vir haar ’n woonstel gekoop en sy deel dit met twee van haar vriendinne wat ook eerstejaartjies is.”
“Jy en Christiane … Hoe ernstig is jul verhouding? Ek is nie bloot nuuskierig nie, Jean-Pierre, maar dalk het jy kompetisie. Die man wat met een van jou mense wou praat, is moontlik Christiane se vorige kêrel of –”
“Nee!” val hy haar ferm in die rede. “Christiane is nie ’n flerrie met ’n string gebroke harte of jaloerse mans in haar verlede nie. Sy gesels gereeld met haar ma oor Skype en ek het ook al met haar gepraat. Christiane sê haar ma hou van my. Ek weet nie wie op soek is na my nie, maar ek skuld niemand geld nie en ek woon my klasse gereeld by.” Hy haal sy skouers op. “Ek gaan ’n draai maak by tant Simone, want Oupa sê sy waai Sondagaand oorsee. Ek dink ek gaan die ou tannie mis. Sien jou, Sandri!”
“Ou tannie!” herhaal Sandri onthuts, maar Jean-Pierre het hom reeds uit die voete gemaak. Sy stap na die deur wat haar kantoor met Poppie s’n verbind. Dink Jean-Pierre op sy jeugdige een-en-twintig aan haar as ’n stokou suster wat reeds saam met tant Simone op die rak sit? Al gaan sy nou en dan fliek of uiteet saam met Henk Oosthuizen, haar jare lange vriend, was sy nog altyd te besig om ernstig aan ’n huwelik met hom of enige ander man te dink. Haar groottante Alexandrie die Derde het nooit getrou nie en tant Simone ook nie. Hulle het hul lewe aan die skool toegewy. Dit is dalk wat sy wat Sandri is ook sal doen.
Sy gaan by haar kantoor in en wil net die deur agter haar toetrek toe Poppie se skril stem haar laat opkyk.
“Meneer! Ekskuus, meneer, maar dis mý kantoor!” protesteer Poppie verontwaardig. Dan retireer sy haar eie kantoor binne, gevolg deur ’n lang man, geklee in ’n donkergrys snyerspak.
“Jy het lank genoeg my tyd gemors, juffroutjie. Die sekuriteitswagte by die ingang van die skool het my verseker juffrou Blanchet is die skoolhoof. Ek wil nou onmiddellik met haar praat, met of sonder jou goedkeuring!”
“Sy is dóktor Alexandrie Blanchet,” sê Poppie in ’n ysige stemtoon, en vervolg met groter nadruk: “Doktor Alexandrie die Vierde.”
Sandri maak haar kantoordeur saggies toe en beweeg vinnig terug na haar lessenaar, gaan sit en raap haar bril op, vasbeslote om waardig te lyk.
Dis ’n Blanchet-legende dat groottante Alexandrie haar onsigbare mantel van waardigheid op elke prinsipale van die Hoër Meisieskool Blanchet laat val, juis in sulke oomblikke wanneer kalmte en selfbeheersing nodig is om ’n netelige situasie te hanteer. Sandri glo dit darem nie regtig nie, maar dit help om haar dié mantel om haar skouers te verbeel in krisistye en te onthou dat groottante Alexandrie se Blanchet-bloed ook deur haar are pols.
“A, dan is ek met die adelstand deurmekaar?” hoor Sandri die man sarkasties vra. “Is Alexandrie die Vierde in haar troonsaal? Nee, jy hoef nie te bel nie, juffroutjie. Ek sal self ondersoek instel.”
“Maar, meneer …!” protesteer Poppie toe Sandri se kantoordeur sonder meer oopswaai en ’n man, met die grasie van ’n heerser, inloop. Hy klap die deur in arme Poppie se gesig toe.
Sandri sit onwillekeurig orent. Die man loop nader, onmoontlik selfversekerd, onmoontlik beheers. Hy is lank en lenig, nie besonder gespierd nie, maar breedgeskouerd. Sy hoekige, uitgebeitelde gelaatstrekke wek die indruk van ’n uitdrukkinglose klipmasker. Sy hare is silwerblond en besonder dig en steek skerp af teen sy songebruinde gelaat. Sy gelaatstrekke is sterk met hoë wangbene, ’n Romeinse neus en ’n vasbeslote ken. Maar dis sy oë wat aan sy gesig ’n sensuele magnetisme verleen: Verskuil agter digte wimpers kan sy skielike blik enigiemand soos ’n staalpen deurboor.
“Waar, doktor Alexandrie die Vierde, versteek jy en jou broer my minderjarige voogdogter?” Sy stem sny, nes sy oë, soos vlymskerp staal.