Читать книгу Sag fluister my hart - Schalkie van Wyk - Страница 4
2
ОглавлениеAs die man nie so groot en dreigend voor haar lessenaar gestaan het nie, het sy in sy gesig uitgebars van die lag, dink Sandri onthuts. Glo die vent sowaar sy is ’n onverantwoordelike tiener wat Jean-Pierre sal help om ’n meisie te ontvoer en êrens te versteek? Sy laat sak haar swartraambril tot op die punt van haar fyn neus en ontmoet sy deurpriemende blik met die hooghartige minagting van ’n vorstin. “U is goed ingelig oor wie en wat ek is, meneer. Mag ek nou weet met wie ek praat?” vra sy neerbuigend, maar laat ’n treiterende tikkie spot deur haar woorde deurskemer.
“Ek is die meisie, Christiane Friskin, se voog. Weet jy nou na wie ek verwys, doktor Blanchet?” vra hy bruusk.
Sandri ignoreer hom, lig die gehoorbuis van haar foon op en versoek saaklik: “Paula, ons besoeker het sy naam en van vergeet. Bel asseblief die sekuriteit en vra die wagte watter naam ons besoeker in die besoekersboek ingevul het om toegang tot die skoolterrein te verkry. As die wagte die man nie kan eien nie, bel die polisie.” Sy plaas die gehoorbuis terug op die mikkie en kyk misnoeg na haar onwelkome besoeker.
“Donder … dag!” ontplof hy op ’n snakkende asemteug, en ’n donker gloed van ergernis kruip oor sy gelaat. “Dan smyt jy nog dreigemente rond ook! Ek waarsku jou, doktor Blanchet, as Christiane nie binne ’n uur veilig aan my uitgelewer is nie, sal ék die polisie en my eie sekuriteitsmense kry om met ’n ondersoek te begin. Jy sal beslis nie van die metodes van my sekuriteitsmanne hou nie – hulle doen enigiets om die waarheid uit hul slagoffers te kry.”
Sandri besef dat sy die man oopmond aanstaar, maak haar mond vinnig toe en vra nuuskierig: “Is u die leier van ’n kriminele sindikaat of sommer ’n doodgewone rampokker en ’n bendeleier? Of probeer u my net bang praat?”
Die vreemdeling druk met albei handpalms op die lessenaarblad voor hom en gluur dreigend in Sandri se oë, sy lippe in ’n dun lyn saamgepers.
“As jy dan móét weet … Ek is …”
“Ekskuus, doktor,” praat Poppie met die oopgaanslag van die kantoordeur, en steek haar kop om die deur. “Die besoeker se naam is meneer Marko Waalstra en sy identiteitsnommer is –”
“Sy naam is voldoende, dankie, Paula,” val Sandri haar met gedwonge kalmte in die rede.
“Is u seker u het nie hulp nodig nie, doktor Blanchet? Of wat van ’n koppie tee en lekker kaaskoek? Ons hou afskeid vir juffrou Simone en daar is skinkborde vol –”
“Dit sal al wees, dankie, Paula. Ek sal laat weet as ek meer inligting nodig het,” praat Sandri haar saaklik tot stilte en wag geduldig totdat Poppie ná ’n onsekere kykie na Marko Waalstra haar kop terugtrek en die kantoordeur toemaak.
“Sien, dit was toe glad nie so pynlik nie, meneer Waalstra. Ek weet wie u is en ek is gewillig om ’n verdere vyf minute na u te luister. Ek steek niemand weg nie. Ek ken nie u voogdogter nie. Ek het haar nog nooit gesien nie en ek weet nie waar sy woon nie. Jean-Pierre is my jonger halfbroer, maar hy het beslis ook nie vir Christiane ontvoer nie. Dit is glad nie in sy aard nie. Tensy hy hom skielik aan drank of dwelms oorgegee het – iets wat nog nooit in sy lewe gebeur het nie. Vir al wat ek weet, is dit Christiane wat die dwelmslaaf is en self weggeloop het. Hoekom beskuldig u my broer?” vra Sandri.
Marko som haar op deur geskreefde oë en waarsku dreigend: “Ek weet meneer Everard Blanchet is ’n man in sy sewentigs en ek wil hom nie ontstel deur hom te betrek nie. Maar ek sal, doktor Blanchet, as jy nie nou dadelik vir Jean-Pierre bel en hom vra om Christiane hierheen te bring nie.”
Sandri kyk hom afkeurend aan en haal haar slimfoon uit haar boonste lessenaarlaai. “Afperser!” sê sy verpletterend en skakel Jean-Pierre se selnommer.
“Ek sit in die personeelkamer en kou koeksistertjies dat die stroop spat, ousus. Wat soek jy?”
“Christiane Friskin se voog is in my kantoor,” verduidelik Sandri en tik die luidsprekerteken op haar slimfoon.
Jean-Pierre se reaksie is duidelik hoorbaar vir haar en Marko: “Wat het jy gerook, Sandri? Christiane het ’n voog, maar hy is tans vir sake in New York. Is jy seker die man in jou kantoor is werklik Christiane se voog? Is sy naam Markus … e … nee, Marko Waalstra? Dis haar oom. Hy’s ouerig, seker diep in sy dertigs, maar ek het hom nog nooit ontmoet nie. Christiane sê hy kan knorrig wees … Wie is die man daar by jou?”
“Die man hier in my kantoor sê hy is Marko Waalstra en hy is ongetwyfeld knorrig, want hy glo ons het Christiane so saam-saam êrens versteek. Ek pleit onskuldig, maar jy weet jy kan my met jou grootste sondes vertrou, my kleinboet. Het jy Christiane ontvoer of kuier sy net by jou in jou woonstel?” vra Sandri taktvol, en glimlag liefies vir Marko wat haar aangluur.
“Is jy laf, Sandri?” vra Jean-Pierre duidelik seergemaak oor die luidspreker van Sandri se selfoon. Sandri kyk vies na Marko en antwoord misnoeg: “Hoe laf dit ook al mag klink, Marko Waalstra sit in my kantoor en eis dat ek Christiane binne ’n uur aan hom uitlewer, anders bel hy sy bende rampokkers om die waarheid uit my te wurg … of so iets.”
“Maak jy ’n grap?” vra Jean-Pierre verbaas. “Nee, jy klink te vies om te lieg …” vervolg hy toegewend. “As die man by jou werklik Christiane se voog is, vertel hom sy en haar woonstelmaats, Leresa en Elani, is reeds gistermiddag weg saam met Leresa se ouers na hul wildplaas, net anderkant Rustenburg. Die oom en tannie het my saamgenooi, maar ek het verduidelik van tant Simone. Ek wil graag die naweek saam met haar kuier en haar Sondagaand lughawe toe neem. Hoekom bel daai oom Marko nie vir Christiane nie? As die man nie haar selfoonnommer het nie, is hy definitief ’n gangster wat hoop om Christiane te ontvoer. Vra hom vir sy identiteitskaart, Sandri. Dink jy hy’s gewapen? Moet ek liewer die sekuriteitswagte vra om jou te kom help?”
Sandri kyk vraend na Marko wat haar met uitdrukkinglose oë aanstaar en sy kop ontkennend skud. “Nee wat, dankie, ek het nie hulp nodig nie, Jean-Pierre. Hou ’n oomblik aan terwyl ek met my besoeker praat,” versoek sy en vra koud aan Marko: “Hoekom bel u nie u voogdogter nie, meneer Waalstra?”
“Ek het probeer, maar ek kom nie deur nie,” antwoord hy en lyk werklik bekommerd en desperaat. Sy kry hom so ampertjies jammer …
“Meneer Waalstra sê hy kom nie deur op Christiane se foon nie, Jean-Pierre.”
“Hm,” antwoord hy kouend in haar oor. “Ja, sy het gesê die sein gaan swak wees op die plaas. Ek het ’n landlynnommer, maar ek sal dit nie sonder haar uitdruklike toestemming aan haar oom Marko gee nie. Ek sal haar eers self moet bel en vra. En nou gaan ek en tant Simone verder saam kuier. Cheers vir eers!” groet Jean-Pierre lighartig en skakel sy selfoon af.
Marko ontspan merkbaar, sy grys oë nou meer blou as silwer. Sy groot mond, met ’n dun bolip en ’n voller onderlip, verraai sy sterk wilskrag, maar ontspanne soos nou, suggereer dit ’n subtiele sin vir humor. “Ek is opreg jammer, doktor Blanchet. Ek is geen rampokker of hoof van ’n kriminele sindikaat nie, maar as die situasie dit vereis, kan ek die rol van ’n bullebak speel.”
“Die spontane bekentenis van ’n eerlike bullebak? Hoe verrassend,” merk sy ironies op. Hm, ten minste kan die man om verskoning vra, dink sy heimlik.
“Jy moet verstaan, ek het my gisteraand asvaal geskrik toe ek by Christiane se woonstel opdaag en nie een van die bure my kon sê wat van haar geword het nie.”
Sandri voel ’n tikkie simpatie vir die man … maar hy was darem baie ongeskik. Sy sit haar slimfoon tydsaam terug in haar lessenaarlaai, leun ontspanne terug op haar stoel en skuif haar swartraambril op voor haar oë. Sy strengel haar vingers lossies saam op die lessenaarblad en kyk weer direk na Marko.
“Was daar enigiets anders, meneer Waalstra?” vra sy met ’n gemoedelikheid wat nie haar sarkasme kan bedek nie.
“Ek bewonder jou in jou suksesvolle rol as Alexandrie die Vierde, doktor Blanchet, maar ek stel meer in Jean-Pierre se ouer suster, Sandri, belang.”
Sandri trek haar asem in. Hoe het die man haar so gou opgesom? Hy sien deur haar rol as hooghartige prinsipale.
“Ek sal jou graag wil uitneem vir ete in ’n restaurant van jou keuse, om darem te probeer vergoed vir my ongemanierde optrede en al my onnodige dreigemente. Sien jy kans om my te vergewe en toe te laat om jou uit te neem?” versoek Marko, ’n flikkering van ’n glimlag verskuil in die glimmende grys van sy oë.
O so, die man kan nogal sjarmant wees as hy wil. Maar so maklik vergeet sy nie sy ongemanierde optrede van vroeër nie. En sy kan beswaarlik ’n man vertrou wat die sjarmekrane so maklik kan oop- en toedraai. “Ek reël nie my sosiale lewe uit my kantoor nie, meneer Waalstra. En ek het nou werk om te doen. Maar voordat u gaan: Ek ken u nie en ek het Christiane nog nooit ontmoet nie. Om watter rede het u my en Jean-Pierre van ontvoering verdink?”
Marko pers sy lippe hard saam en antwoord onwillig: “Sal dit belaglik klink as ek sê ek was nie myself nie ná ’n slapelose nag van kommer oor Christiane? Sy is my susterskind en ek beskou my rol as haar voog in ’n ernstige lig.”
Sy knik. Sy kommer oor sy voogdogter tel darem in sy guns. Sandri sal self enigiets vir Jean-Pierre, tant Simone en ja, selfs oupa Everard doen. Hulle is grootgemaak om familie hoog op die prys te stel.
“Jean-Pierre sê hy het jou nog nooit ontmoet nie. Hoe kom jy toe by die Hoër Meisieskool Blanchet uit?” vra sy nietemin streng. Hul skool is ’n spoginstelling en sy moet sy uitbarsting hier in ’n ernstige lig beskou.
“Nee, ons het nog nie ontmoet nie, maar ek weet van Jean-Pierre. Ek is ’n besige man en ek weet Christiane verkies haar eie vriendinne en vriende se geselskap, daarom nooi ek haar nie dikwels uit om tyd saam met my deur te bring nie. Maar ek en Christiane stuur gereeld e-posse aan mekaar of skype mekaar wanneer ek oorsee is. Sy skryf in elke e-pos oor hom en oorlaai dit met foto’s van hom of hulle twee saam. Christiane het met groot trots oor jou en jou oupa Everard in haar e-posse geskryf, daarom het ek geweet waar om na ’n antwoord op haar verdwyning te soek.” Hy frons en swyg.
“A,” kom dit van Sandri.
Dan blits sy oë en verander hy weer in die dominerende man van vroeër. “Genugtig, doktor Blanchet, dis nie nodig om soos ’n alwetende ma te klink nie! Ek het vanselfsprekend aanvaar Jean-Pierre het iets met Christiane se verdwyning te doen.”
“Ek begryp, meneer Waalstra. Wat ek nie begryp nie, is waarom u mý met die polisie, u rampokkerbende en ’n lang en pynlike marteling gedreig het?” vra Sandri belangstellend. Sy besef dat sy oordryf, maar geniet Marko se opsigtelike ongemak.
“Die vroumens in die kantoor – die lange met die rooi hare en groot oë – het my tot raserny gedryf toe ek gebel het.” Hy kug skuldig agter sy hand.
’n Glimlag glip byna oor Sandri se lippe. Dis waar dat Poppie selfs Job se geduld kan beproef.
“Ek moes êrens stoom afblaas of ek sou ’n aartjie gebars het. Ongelukkig was jy die naaste slagoffer, doktor Blanchet. Ek verseker jou ek is nie altyd so onaangenaam en dominerend teenoor mense nie. Dit het in geen stadium gelyk asof jy enigsins bang was vir my nie, maar as ek jou –”
Sy lig haar hand op. “Mans maak my nie bang nie, meneer Waalstra. Ek is my lewe lank gewoond aan die teenwoordigheid van ’n dominerende man – my eie oupa, Everard Blanchet.” Sy kyk hom streng aan. “U vyf minute is lankal verstreke en u probleem is nou opgelos. Tot siens, meneer Waalstra.” Sy staan op, maar wend geen poging aan om met hom hand te skud nie.
“Daar is redes waarom ons mekaar beter moet leer ken, doktor. Ek sal graag Jean-Pierre wil ontmoet en as jy enigiets oor Christiane wil weet, kan ek al die inligting verstrek. Dis ons plig om ’n ogie oor die twee te hou,” verleng hy sy besoek en lyk ’n oomblik lank hoopvol voordat hy weer sy gevoelens agter ’n uitdrukkinglose klipmasker verberg.
“Ek het ’n ewige ertjie aan ou mense wat hul neus in die onskuldige romanse van jong verliefdes steek, en hulle ongevraag met raad en daad wil bystaan. ’n Eerste liefde is so skugter, so kwetsbaar. Ek is seker Christiane het al die nodige raad van haar eie ma gekry en Jean-Pierre is veels te jonk om te ernstig oor enige meisie te wees. Hy is besig met nagraadse studie en stel nie in ’n verlowing of ’n huwelik belang nie,” antwoord Sandri koel en beweeg om haar lessenaar en tydsaam na die deur.
Sy moet ontslae raak van die man, maan sy haar. Sy het sy ete-uitnodiging geïgnoreer, maar sy ooglopende aantreklikheid en die sterk manlike vitaliteit wat uit sy lenige liggaam straal, spel gevaar. Sy kan uiterlik die rol van die bekwame doktor Blanchet speel, maar in haar hart is en bly sy Sandri, ’n meisie met emosies. En Marko Waalstra laat daardie emosies wipplank ry. Die een oomblik maak die mansmens haar smoorkwaad en die volgende oomblik is hy sjarmant en sien sy net sy breë skouers en mooi mond raak …
Sy steek haar hand teësinnig na Marko uit in ’n finale poging om van hom ontslae te raak. “Tot siens, meneer Waalstra,” groet sy en gee hom ’n ferm handdruk, haar stemtoon ongewoon hees. Genade toggie! Sy klink soos ’n meisie van die nag, dink sy ontsteld en hou op asemhaal toe sy groot hand hare toevou. Sy aanraking stuur ’n ligte skokgolf deur haar vingers tot in haar tone en laat haar stom na hul hande staar.
“Tot weersiens, doktor Sandri,” groet hy.
Sy weet hy hou haar dop, sy oë waaksaam soos dié van ’n arend, en dit dwing haar om haar innerlike verwarring agter ’n uitdrukkinglose gesig te verskuil.
“Ek sal minder skuldig voel oor my optrede as jy instem om saam met my te gaan eet, doktor Sandri,” herhaal hy sy uitnodiging, die diep timbre van sy stem soos ’n sensuele streling oor haar vel.
Hy is ’n fassinerende man: die een oomblik koud en oorheersend, en die volgende oomblik ’n sjarmante verleier. Sy is vreemd bewus van die sensitiwiteit van haar vel. Moontlik is sy koorsig, dink sy, trek haar hand haastig uit syne en tree agteruit.
Uit die hoek van haar oog sien sy die flitsende glimlag om sy lippe. Sy kyk met uitgerafelde waardigheid sku in sy oë en besef sy uitdrukking sê hy weet presies watter uitwerking hy pas op haar gehad het. Hoe sien hierdie man deur haar skanse?
Hy maak haar kantoordeur oop, en trek dit toe agter hom terwyl sy ná enkele diep asemteue na haar lessenaar toe loop en op haar stoel neersak. Wat makeer haar? wonder sy geïrriteerd. Marko Waalstra is onbeskof, oorheersend, verwaand en … en so gretig om haar uit te neem vir ete om te vergoed vir sy ongegronde agterdog. Die arme man. Sy kan haar indink hoe ontsteld hy was toe hy Christiane laatnag nie kon opspoor nie. Sy verkwalik hom nie werklik nie – veral nie na sy herhaalde oproepe aan die onmoontlike Poppie nie.
Poppie weet nie hoe om ’n probleemsituasie te hanteer nie. Weier enigiemand om ’n naam en van te verstrek, word die gesprek summier beëindig. Arme Marko. Sy sal Poppie uiters diplomaties … Haar gedagtes stol toe haar kantoordeur na ’n haastige kloppie oopgaan en Poppie stralend die vertrek binnewals.
“Haai, doktor Blanchet, ek is nou so opgewonde oor doktor se date … e … afspraak, dat ek uit my vel kan bars! Dat doktor nou vir die onbeskofte vent kon val … dis soos iets uit ’n storie. In al die –”
“’n Afspraak met hóm?” val Sandri haar in ’n yskoue stemtoon in die rede. “As Marko Waalstra so iets gesê het, is die man ’n bullebak én ’n leuenaar. Poppie, lyk ek vir jou soos ’n gevalle … e … um! Ek val nie vir mans nie, Poppie. Ek het nog nooit vir enige man geval nie en ek is nie van plan om dit in die toekoms te doen nie. Verstaan ons mekaar?”
“Ja, doktor Blanchet, maar ek glo nie meneer Waalstra verstaan so mooi nie, want hy het uitdruklik gesê hy en doktor het ’n afspraak vir ete. Hy het skoon vergeet om doktor se foonnommer te vra en hy was te hoflik om doktor weer te pla, toe gee ek hom maar die nommer. Sal ek maar my goedjies en my African voilet inpak en huis toe gaan, doktor Blanchet?”
“Poppie, staak asseblief die ge-‘doktor’. Waar was ons laas? O ja, my foonnommer. Watter een het jy vir die mansmens gegee? Die nommer van my persoonlike slimfoon of die werk se selfoon?”
“Oe, u se vrae maak my verskriklik lam in my knietjies voel. Mag ek maar op een van u se stoele sit?” vra Poppie in ’n bewerige stemmetjie en klem haar hande angstig saam.
Sandri sug oorwonne. “Sit, my liewe Poppie, sit en ontspan. Vertel my wat jou pla en vergeet van my titel. Ek beloof jou ek sal jou nie afdank oor enigiets wat jy vir die Waalstra-man gesê het nie,” paai sy.
Sy weet sy moet kwaad wees omdat Poppie vir Marko haar foonnommer gegee het, maar om die een of ander rede maak dit haar opgewonde. Dit beteken dat sy weer met die aantreklike Marko Waalstra te doen gaan hê en dié keer sal hulle dalk op ’n beter voet afskop. Trouens, sy kan Poppie ’n klapsoen gee omdat sy so gretig was om Marko te help. Maar sy moet huigel, regverdig sy haar eie optrede, want as Poppie weet Marko is ’n man wat sy weer sal wil sien, weet die hele personeel en die meeste ouers dit voor die einde van die skooldag.
Nee, sy raak nou heeltemal laf. Sy sal Marko Waalstra vanselfsprekend binnekort vergeet. Hy is net ’n baasspelerige man wat haar eers gedreig het, en toe met sy onverwagte sjarme momenteel oorrompel het. Net onervare tieners raak verlief op dominerende mans wie se enigste bate hul aantreklikheid is.
“Ekskuus dat ek so lank dink, doktor Blanchet, maar dis verskriklik moeilik om die waarheid te praat as ’n mens ’n beswaarde gemoed het. Ek sal my oë styf toeknyp en dit vinnig sê: Ek het u landlynnommer vir meneer Waalstra gegee.”
Poppie hou haar asem op totdat sy rooi in haar gesig is, snak na asem en maak een groot oog versigtig oop. “Het u ’n toeval gekry, doktor Blanchet? Roer net u vingers sodat ek weet u het nie ’n aanval van beroerte gehad nie.”
’n Hulpelose laggie glip oor Sandri se lippe, maar dan is sy weer ernstig. “Die landlyn van ons skool of van my oupa se huis?”
“E … ja, doktor, van meneer Everard se huis. Ek weet die foonnommer is nie in die telefoongids nie, toe dag ek ek sal maar die arme meneer Waalstra help. Was dit ’n fatale fout, doktor Blanchet?” verneem Poppie en hou Sandri onseker dop.
“Nie ’n fout nie, Poppie, maar ’n ramp, want al staan ek op my knieë voor my hardvogtige oupa, sal hy nie ons huisnommer laat verander nie. Nee … nee, Poppie, toemaar, los jou snesies agter al die frilletjies van jou rokskraag. Jy hoef nie bewoë te raak nie, want ons huispersoneel skakel nooit ’n foonoproep na een van ons huismense deur mits hulle ons nie eers waarsku wie bel nie.” Sy swyg en luister hoe die klok vir pouse lui. “Kom ons gaan drink tee, Poppie. Ek sal juffrou Taljaard vra om die foonoproepe te beantwoord. Die goeie mens is weer op een van haar uithonger-diëte. Sy sal nie omgee om juffrou Simone se afskeidskoeke en -terte mis te loop nie.”
“Doktor is wonderlik goed vir my,” sug Poppie dankbaar. “Dis dalk beter dat u nie van meneer Waalstra hou nie. Hy was darem baie ongeskik oor die foon … al het hy in lewende lywe ’n glimlag wat ’n meisie se tone laat omkrul van die lekkerte. Sy identiteitskaart sê hy is vyf-en-dertig en hy lyk sommer soos ’n suksesvolle man … Ek het nie ’n ring aan sy vinger gesien nie. Ek wonder waarom hy nie getroud is nie? Dalk is hy van die tipe wat van die een meisie na die ander rondspring.” Sy klap haar hand oor haar mond toe Sandri haar kwaai aankyk.
“Of dalk is hy net te humeurig, Poppie. Maar vergeet nou van die mansmens,” sê Sandri en hoop sy sal self van Marko kan vergeet.
“Ja, ek weet ek praat te veel, doktor …” mompel sy van agter haar vingers en rek haar groot oë selfs groter.
Sandri gaan tant Simone se privaat sitkamer binne en hoor haar tannie uit die slaapkamer roep: “Kom binne, my kindlief, kom binne!” Toe Sandri by die kamer ingaan, kyk tant Simone nuuskierig op van die tas wat sy pak. “Waarom was jy nie tuis vir middagete nie? Was daar ’n skoolvergadering waarvan ek nie bewus was nie?”
“Nee, tannie. ’n Ouerpaar het my besoek om oor hul dogter te praat. Die man is ’n hardwerkende sakeman en sy vrou ’n sosiale vlinder. Naweke word verdeel tussen die gholfbaan, partytjies saam met vriende en besoeke aan die teater. Die ouers glo as hulle hul dogter in ons koshuis sit, sal daar toesig oor haar wees en dit sal haar uit die kloue van dwelmhandelaars hou,” vertel Sandri misnoeg. Sy skop haar skoene uit en strek haar vollengte op die bed langs die tas uit.
Tant Simone blaas afkeurend deur haar neus. “Gmf! Hoe tipies van die moderne ouers met te veel geld en te min tyd vir hul kinders.” Sy swyg met haar hand op haar mond en gaan sit langs haar tas. “Haai, Sandri, ek klink nes my eie tante! So goed en sondeloos dat ek die hele wêreld kan veroordeel en almal voorsê om so rein en vlekkeloos soos ek te wees. Ek kan goed onthou hoe my tant Alexandrie my tot in my sondige siel geïrriteer het. Ek dink sy is die oorsaak dat ek nog gereeld in my gedagtes vloekwoorde opsê as iemand my die joos in maak.”
“Tant Simone!” protesteer Sandri laggend. “Ek het nie geweet tannie ken enige vloekwoorde nie. Dat my saggeaarde, liefdevolle tant Simone rympies in haar gedagtes vloek … Wie het tannie al die vloekwoorde geleer?”
“Jou pa, Armand, en jou oupa staan nie terug vir hom as hy glo daar is geen vrou in die nabyheid nie …”
Tant Simone val weg met ’n ou storie oor die kattekwaad wat sy en Sandri se ma op onderwyskollege aangevang het en wat groottante Alexandrie daaroor te sê gehad het, maar Sandri luister net met ’n halwe oor. Sy hou haar hand op en staar daarna, onthou weer hoe dit getintel het nadat Marko Waalstra se groot hand dit omvou het.
Tant Simone is terug by die onderwerp van vloekwoorde. “Dit sal absurd wees as ’n man sy duimnael met ’n hamer raak slaan en ‘stoute kabouter’ sê. Of stem jy nie saam nie, kind?” Sy frons lig en kyk die stilswyende Sandri vraend aan. “Sandri? Sándri!”
Sandri ruk haar reg en gee haar volle aandag aan tant Simone. “E … tannie was besig om te sê …”
“Het jy aan die slaap geraak, my kind? Was dit ’n moeilike dag?” vra tant Simone besorg.
“Nee, glad nie, tannie. Ek … e … het sommer gedroom … e … gedink aan die ouerpaar w … wat … Wat is so snaaks? Tannie se glimlag laat my kriewelrig voel.”
“Kriewelrig of skuldig, Sandri? Hoekom deel jy nie jou groot geheim met my nie?” vra tant Simone, ’n tikkie verwyt in haar stem.
“Watter geheim? Ek het nie die vaagste benul waarna tannie verwys nie,” antwoord Sandri eerlik.
“Dan het Poppie soos gewoonlik die storie uit haar duim gesuig? Snaaks, sy was so opgewonde dat ek nie anders kon as om haar te glo nie.”
“Waaroor, my liewe tannie, was Poppie opgewonde?”
“Jou besoeker – die voog van Jean-Pierre se meisie, Christiane Friskin. Toe ek Jean-Pierre vertel Marko Waalstra gaan jou uitneem vir ete, het die stout seun my ’n klapsoen van blydskap gegee. Foei tog, een-en-twintig is nie werklik oud nie, veral nie vir ’n man nie. Jean-Pierre sal oneindig dankbaar wees as jy en Marko goed bevriend kan raak, want dan sal Marko makliker die erns van die kinders se verhouding aanvaar.” Tant Simone sug teleurgesteld en vervolg verwytend: “Maar as jy sê Poppie het die storie uit haar duim gesuig, is dit maar tot daarnatoe.”
Sandri sit regop op die bed en kyk tant Simone gekrenk aan. “Hoekom weet ek niks van die ernstige verhouding tussen Jean-Pierre en Christiane nie? Vanoggend in my kantoor het hy my vir die eerste keer van Christiane vertel. Ek het hom gevra hoe ernstig hul verhouding is, maar hy het nie my vraag beantwoord nie.” Sy frons afgehaal. “Ek en Jean-Pierre is nog altyd vertrouelinge, veral sedert hy matriek behaal het. Hy het my nog altyd van sy meisies vertel en my dan geterg omdat ek so selde saam met Henk Oosthuizen uitgaan. Dalk sou hy my meer vertel het as ek nie laat deurskemer het dat die man wat na hom soek moontlik Christiane se vorige kêrel kon wees nie. Dus is dit alles daardie ongeskikte vent se skuld.”
“Wat ’n ontaktvolle suggestie aan ’n jong man wat tot oor sy ore verlief is,” betig tant Simone, maar glimlag dan tog. “Is die ongeskikte man na wie jy verwys dalk Marko Waalstra?”
“Ja, tannie. Ek, Poppie en hy het ’n derde wêreldoorlog gevoer voordat Poppie by die sekuriteitswagte die knorrige en uiters onbeskofte man se naam en van gekry het.”
“Werklik?”
“Ja, hy het my kantoor binnegestorm en my daarvan beskuldig dat ek en Jean-Pierre sy hulpelose voogdogter ontvoer het en haar êrens versteek. Hy het my boonop met die polisie en sy sekuriteitswagte, selfs marteling, gedreig.” Sandri merk met genot die toenemende skok op tant Simone se gesig.
“Ek glo dit nie!”
“Dit was rêrig nie so erg nie, tannie. Ek gee toe, ek het meneer Waalstra ook met die polisie en ons sekuriteitswagte gedreig en gesê hy is die leier van ’n kriminele sindikaat, ’n rampokker en ’n bendeleier. Ek het selfs geïnsinueer dat sy voogdogter ’n dwelmslaaf en ’n slegte invloed op Jean-Pierre is. Noudat ek daaraan dink, moet ek erken: Ek het ons rusie terdeë geniet, want ek kon na hartelus beledigend en onbeskof wees, nes hy. Gewoonlik moet ek waardig en met die grootste respek teenoor die ouers optree, maak nie saak hoe irriterend hulle is nie. Toe nou, tant Simone, moenie my aangaap asof ek ’n rits vloekwoorde opgesê het nie.”
“Jy verbyster my, Sandri. Maar waar kom Poppie aan die storie dat jy en Marko saam gaan eet as julle sulke aaklige dinge vir mekaar gesê het?”
“Toe ek en meneer Waalstra eindelik die misverstand opgeklaar het, het hy my om verskoning gevra en my genooi vir ete,” vertel sy gelykmatig.
“O! So hy het darem om verskoning gevra.”
“Ja, tannie. Maar ek het vanselfsprekend die ete geweier. Ek wil nie nog ’n dominerende, befoeterde man in my lewe hê nie. Oupa Everard is reeds genoeg,” antwoord sy beslis. Sy kyk ’n rukkie hoe tant Simone werskaf en vra verstom: “Hoekom pak tannie weer die tas uit?”
“Ek doen dit die afgelope week, net om my te oortuig ek gaan werklik maande lank met vakansie. Maar dis nie nou belangrik nie. Ons eerste prioriteit is Jean-Pierre en Christiane se jong liefde vir mekaar.”
“My liewe tannie! Jean-Pierre is nog ’n bogkind en Christiane kan nie ouer as agtien wees nie. Hul liefde is soos die seisoene: vandag hier en môre weg. Ek weier om my breinselle of my tyd op net nog ’n meisie van Jean-Pierre te mors. Lees my lippe: Ek gaan nie saam met Marko Waalstra uit bloot om ’n goeie woordjie vir Jean-Pierre te doen nie. As hy glo hy is volwasse genoeg om aan trou te dink, kan hy daardie diktator persoonlik konfronteer.”
“Hy het,” sug tant Simone bedruk.
“Wát? Ekskuus. Het tannie gesê my kleinboet het reeds met meneer Waalstra gepraat?”
“Ja, Sandri. Op pad na die personeelkamer het Poppie hom vertel as hy gou maak, kan hy sien hoe lyk jou nuwe kêrel, meneer Marko Waalstra. Ek dag die seun gaan sy nek breek, so haastig is hy die trap af om Marko op die parkeerterrein voor te keer.”
“Ek begryp. En nou is my broer en meneer die voog boesemvriende,” sê Sandri kwaad, nie seker waarom sy eintlik kwaad is nie.
“Nie boesemvriende nie. Marko het verduidelik dat hy ten gunste van Jean-Pierre en Christiane se verhouding is, maar hy vermoed jy sal die kinders se liefde afkeur omdat jy nie van hom hou nie. Jy sal tog nie so gemeen wees nie, my kindlief?”
“Nee, tant Simone. Dit raak my nie hoeveel harte Jean-Pierre nog gaan breek nie, solank hy nie soos my pa met ’n meisie trou en sy kinders aan my pos nie. Tannie was lief genoeg om my en Jean-Pierre groot te maak, maar ek maak nie ander mense se kinders groot nie. Ek sal my lewe aan die onderwys toewy, maar ek stel nie belang in babas nie – nie syne óf myne nie.”
“My liewe kind, waarom sê jy so? Is dit oor wat met jou ma gebeur het? Jy het mos nie haar gesondheidsprobleme nie. Jy kan sonder vrees ma word. Of is jy nogtans bang jy sal nie die geboorte van ’n baba oorleef nie?”
“Ek … e … ek is nie seker nie, tant Simone. Ek het nog nooit regtig belanggestel om Henk se kinders te hê nie. As ek enigsins trou, sal dit tog met hom wees, want ek hou meer van hom as van enige ander man.”
O, ja, sy hou van Henk, sit Sandri haar gesprek in haar gedagtes voort, maar naas Marko lyk hy valerig en so opwindend soos haar ou teddiebeer. Marko is fassinerend en die vonke skiet tussen hulle. En tog sal ’n verhouding met Marko ook sinneloos wees, want hy sal haar sekerlik altyd wil domineer. Nee dankie, dít wil sy ook nie hê nie.
“Sandri? Sandri, ek praat met jou,” dring tant Simone se stem tot haar deur. “Jou oupa en Jean-Pierre speel vanmiddag saam met Marko gholf, en ek het Marko ter wille van jou vir aandete genooi. Is jy nou vies vir my?”