Читать книгу Waar liefde begin - Schalkie van Wyk - Страница 4
2
ОглавлениеDank die hemel sy het tydens haar studentejare oorgenoeg selfversekerde mans ontmoet wat haar met vleitaal en slimpraatjies probeer oorrompel het. Lani betrag Jan-Erik en vra koel: “Skort iets met jou gehoor, Jan-Erik? Ek het gesê jy is die regte man – jy is die man wat deur oom Awie gestuur is, want jy lyk soos ’n gebore dorpenaar.”
“As ek soos ’n plaasjapie lyk …” Jan-Erik stoot sy vingers deur sy windverwaaide kuif en voel-voel aan die donker baardstoppels aan sy kake en ken. “Ek vra om verskoning, maar oom Awie se versoek was so onverwags dat daar nie tyd was om te skeer of ’n snyerspak aan te trek nie. En die suidooster was natuurlik in my hare.” ’n Glimlag plooi om sy lippe en versprei na sy staalgrys oë. “Gaan jy my nou met die hand groet of is dit iets wat net ons plaasjapies doen?”
“Ag, jammer, Jan-Erik. Ek dag jy hou jou hand uit met die hoop Danika deel haar skyfies met jou.” Sy steek haar hand uit en snak amper hardop na haar asem. Die aanraking stuur stuwende opwinding deur haar, warm en aangenaam en terselfdertyd verwarrend. Iets vreemds gebeur, besef sy, bewus van haar versnelde hartklop, die onbekende flikkering in haar maag, die wyse waarop haar hand tintel toe sy groot hand om hare sluit.
Sy, Lani Taljaard, wens haarself jare lank al geluk omdat geen man nog daarin kon slaag om haar gedissiplineerde emosies te versteur nie, maar Jan-Erik van Eeden is die bron van onbekend erotiese sensasies in haar, erken sy onthuts aan haarself.
Daar moet ’n wet wees teen mans wat so onweerstaanbaar sexy lyk.
Sy kyk op en verdrink dadelik in sy oë. ’n Sweem van ’n glimlag pluk aan sy mondhoeke. Wat ’n pragtige mond! Sy het nooit besef mans kan ook mooi lippe hê nie. Om net na hom te kyk, is pure sensuele genot, soos om ’n sappige, soet vrug te eet.
Die begeerte oorweldig haar byna om met haar vingers oor sy onderlip te streel en die tekstuur van sy vel te ontdek. Sy wil sy speelse glimlag deel maak van haar. Terselfdertyd vou ongelooflike warmte haar soos ’n kombers toe.
“Hoekom soen julle nie net en kry klaar nie?” vra Danika wrewelrig, die joos in vir die astrante duiwe wat haar vis en skyfies verslind het, en steeds te na aan haar kom vir haar gemoedsrus.
Selfbeheersing is haar enigste wapen, herinner die innerlike stemmetjie van Lani se trots haar. Sy laat Jan-Erik se hand tydsaam gaan en sê vertroulik aan hom: “Die magtige dreuning wat jy so pas gehoor het, voorspel nie ’n donderstorm nie – dis Danika se hongerpyne wat haar so laat lawaai. Danika, raak ontslae van die duiwe en groet die plaasjapie.”
“Die duiwe vertrap my al ’n halfuur lank, maar jy maak asof ek onsigbaar is. Hoekom jaag jy hulle nie weg nie? Hulle wil nie na my luister nie,” kla Danika terwyl sy haar verkyk aan Jan-Erik.
“Skoert, duiwe!” beveel Lani in haar strengste stem, maar word natuurlik deur Danika se geveerde gaste geïgnoreer.
“Skoert!” bulder Jan-Erik en klap sy groot hande vlak langs Danika se kop.
Danika wip van die skrik en gryp na haar regteroor, terwyl die duiwe protesterend na die naaste tafeltjie fladder om ander kliënte te loop irriteer. “Agge nee, man, wil jy nou my oortrom laat bars?” vra sy ergerlik, staar hom oomblikke lank gegrief aan en sug voordat sy vervolg: “Sjie … Lani het altyd ‘sjie’ gesê – sy sê dit eintlik steeds af en toe, maar haar ma sê sy wil eintlik ‘eish’ sê …” Sy byt haar onderlip vas en maak ’n ergerlike gebaar: “Nee, ek praat ’n klomp tjol! Dit is jou skuld, Jan-Erik. Jy lyk vreeslik aantreklik in jou plaasklere – is jeans en gholfhemde julle plaasjapies se amptelike drag? My pa sê toe my oupa jonk was, was safaripakke die amptelike drag van alle mans met gespierde bene – en die ouens met dun kuite het twee paar kniekouse gedra om beter te lyk.”
“Danika, wat wil jy nou eintlik vir Jan-Erik sê?” vra Lani diplomaties, bewus dat Danika nie kan ophou praat wanneer sy senuweeagtig is nie.
Danika verkyk haar nog ’n oomblik aan Jan-Erik en sug weer. “Ek het mos gesê: Dis Jan-Erik se skuld. Dink jy nie ook dis net ’n sonde en ’n versoeking vir ons arme meisies as ’n man so groot en gespierd en alles is wat Jan-Erik is nie?”
Jan-Erik se laggie is kort, sy uitdrukking ongelowig. “Vertel jy elke man wat jy ontmoet dat hy aantreklik is, of skeer jy die gek met my omdat ek byna jou oortrom laat bars het, Danika?”
“Ek was amper doof, maar my visie is twintig-twintig. Daardie man met die maer skouers en dun armpies en groot adamsappel, is nie aantreklik nie. Sy blonde haartjies is te yl en hy het amper nie ’n ken nie. Moontlik is hy van die Europese adelstand, want sommige van hulle het ook hul kenne weens ondertrouery verloor. Ek komplimenteer net mans wat werklik aantreklik is, want hulle stel tog nie belang in alledaagse meisies met moederliefde in hul harte nie. Maar ek het lankal geleer om nie oor die maan of ’n aantreklik man te huil nie.”
Jan-Erik kyk Danika oorbluf aan, kug ongemaklik agter sy hand en rig ’n onbegrypende blik op Lani. “Is sy altyd so?” vra hy gedemp.
“Ja, maar net as sy dink ’n man is uiters aantreklik, of as sy honger is,” verduidelik Lani ernstig en klap hard op die tafelblad toe ’n duif op haar skouer land.
“Is sy honger?” vra hy vertroulik, sy kop nader aan Lani wat stip na sy sonbrons vel bokant die oopgeknoopte kraag van sy gholfhemp staar.
“Ek dink so, want die duiwe het haar middagete verorber. Myne ook, maar ek is nie meer honger nie. Sal ons ry?” vra Lani oënskynlik opgewek, maar in werklikheid tam van haar stryd teen die lam gevoel in haar maag en bene, en haar begeerte om doodstil te bly sit en Jan-Erik vir die res van die dag net aan te staar.
“Is julle nie moeg na die lang rit nie? Ons kan rustig saam middagete geniet, ’n koppie tee of koffie drink en nog voor tweeuur in die pad val. Ons behoort dan teen vieruur tuis te wees as als goed gaan,” stel hy voor, trek ’n stoel nader en gaan sit langs Lani. “Vis en skyfies weer vir jou, Danika?”
Voordat Danika kan antwoord, val ’n onverwagte skadu oor Lani. Sy kyk op in Rikus se toornige gelaat en frons verbaas.
“Hoekom het jy vir my gelieg, Lani?” Rikus druk met sy linkerhand op die tafelblad, sy regterhand op die rugleuning van haar stoel, buig sy gesig dreigend tot digby hare, agterdog en woede in sy oë.
“Nog ’n ylende, honger mens,” sê Lani vies. “Hoekom draai jy hier rond, Rikus? Sou julle manne nie strand toe gegaan het nie?”
“Jou ma glo haar mooi, slim dogtertjie gaan by ’n liewe ou oom en tannie op Silwersee kuier, maar intussen het jy ’n geheime vakansie saam met ’n wildvreemde man gereël. Ek kan my eie oë nie glo nie! Dat jy so agterbaks en onbetroubaar kan wees, is erg genoeg, maar om boonop die onskuldige Danika te dwing om saam met jou te lieg, is verregaande! Of gaan jy nou vir my sê jou ma weet van al jou skelmstreke?”
“Haai! Hou op, jong!” Danika pluk Rikus so hard aan die arm dat sy elmboog knak en hy verplig is om orent te kom en na haar te kyk. “Dit is beter,” sê sy selfvoldaan en glimlag innemend. “Ek wed jou honger maag het ook jou breinselle aangetas, daarom praat jy nes ek ’n klomp tjol. Oom Awie Badenhorst het dié gawe plaasjapie gestuur om ons na Silwersee te vergesel. Sy naam is Jan-Erik van Eeden. Jan-Erik, dis Rikus Vermaak. Hy het saam met ons grootgeword en dink hy is ons heeltydse lyfwag, maar eintlik is hy net lastig en ’n klikbek.” Sy draai na Rikus en dreig: “Waag om so ’n liegstorie oor Lani en hierdie Jan-Erik by haar ma aan te dra, en ek vertel jóú ma wat jy verlede Desember saam met Elize …”
“Danika!” val Lani haar gou in die rede. “En jy, Rikus, het juis oom Awie se selnommer. Bel hom en vra hom om ’n verduideliking. Ek weet nie of Jan-Erik sy vuiste gebruik wanneer ’n man hom irriteer nie, maar hy is na alles ’n plaasjapie en hulle kan, soos ons weet, humeurig wees.”
“Ja, ek kan dit duidelik sien: Jan-Erik lyk befoeterd,” merk Danika bekommerd op. “Jy kan maar nou loop, Rikus. Ons het jou nie –”
“Nee a, Danika! Ons help mekaar altyd, en ons is maats vandat ons saam in die kerk op ons doopdag gehuil het,” sê Lani partydig en glimlag paaiend vir Rikus. “Wil jy saam met ons ’n koppie tee of koffie drink, Rikus? Of wil jy oom Awie eers bel, my inmengerige vriend?”
“Ek maak altyd ’n gek van myself omdat ek … e … ek verantwoordelik voel vir julle twee meisies,” mompel hy en kyk skuldig na Jan-Erik. “Jammer oor die misverstand, Jan-Erik. As jy wil hand gee …”
“Bly te kenne, Rikus,” groet Jan-Erik ongesteurd en groet Rikus met die hand. “Ek is seker die meisies se ouers waardeer jou besorgdheid oor hulle. Ek verseker jou ek is bo verdenking, want ek is met my werk getroud, en veels te besig om meisies uit te neem. As dit jou meer gerus sal laat voel: Ek sal waghond speel en jou laat weet as Lani geheime vakansies met vreemde, onbetroubare mans reël.”
Lani merk Jan-Erik se veelseggende glimlag en vra belangstellend: “Moet ek gevlei of beledig voel?” Sy sien die ingenome uitdrukking op Rikus se gesig en sê ergerlik: “Jy is ’n wrak na jou eksamen, Rikus, want jy ly boonop blykbaar aan geheueverlies. Het jy vergeet ek gaan nooit meer as drie maal met dieselfde man uit nie? Wat op aarde laat jou dink ek het ineens in ’n sedelose flirt verander wat geheime vakansies met onbekende mans reël? Genade, man, kyk na my: Ek is nog Lani, nie ’n … e … verleidster nie.”
“E … ja. Ek bedoel, ek weet dit eintlik, maar noudat jy so lank weg gaan wees en seker nie gereeld huis toe sal kom nie … My pa is bereid om vir my ’n nuwe motortjie te koop wat ek dan oor ses-en-dertig maande teen ’n lae rentekoers van hom sal koop, maar brandstof en verblyf is duur. Ag, wat ek eintlik wil sê … Solank jy … en Danika, natuurlik, net sal onthou dat ek en die ander manne altyd bereid sal wees om julle te help.”
Danika klik met haar tong. “Rikus, as dit ’n liefdesverklaring aan Lani was, bars ek in trane uit. Jou arme man, lees jy nie liefdesromanses nie? Vra my ma om vir jou ’n paar van haar boeke te leen, want sy het hope. Moet net nie haar boeke met vuil hande lees nie, want dan gee sy jou ’n draaiknyp wat jy nie sou verwag nie.”
“Weet jy, ’n duif sit op jou kop, Danika?” Rikus klink nydig en staan op. “Ek waai nou. Tot siens, julle meisies … jy ook, Jan-Erik. Lani, ek sal nou en dan vir jou ’n boodskap stuur. Sien, julle!” groet hy en draf oor die grasperk weg.
Die drietal om die tafeltjie roep hom groetend agterna, kyk na mekaar en wag swyend dat iemand moet praat.
“Sien jy nou, Lani? Rikus het nie ontken dat hy jou liefhet nie,” kom dit met ’n selftevrede glimlaggie van Danika wat met ’n versigtige wysvinger steek-steek na ’n duif wat op die tafel sit.
“My liewe mens, na al die jare besef Rikus jy is soos ’n druppende kraan wat nie ophou as jy jouself van iets oortuig het nie. Trou Rikus môre met Sanet of Janet, sal jy na tien jaar nog glo hy is verlief op my,” antwoord Lani onverskillig.
“Hoekom ken ek hulle nie? Rikus het niks oor Sanet en Janet vir my gesê nie. Was hulle saam met ons op varsity?” vra Danika.
Lani blik moedeloos na Jan-Erik en glimlag halfhartig.
“Is dit die duif of die hongerte, Danika? Iets tas jou logika aan,” sê Jan-Erik gemoedelik, staan op en tel die duif van die tafel af.
“Einaaa!” skree sy skril toe dit voel of die duif se kloue in haar hare gaan vashaak. “Deksels, man, ek het juis probeer om die duif sonder drama hier weg te kry, en nou mik die dier se kloue na my hare se kant toe!”
“Hou jou in, Danika!” fluister Lani blosend, bewus van die laggende kliënte aan die tafeltjies om hulle. “Goed, jy kan gerus maar bedaar. Die probleem is opgelos,” knor sy toe Jan-Erik die duif in die lug gooi.
Danika spring op: “Gaan koop asseblief vir ons lekker eier-en-kaastoebroodjies en koeldrank. Ek sal liewer in my motor eet, want hier in die Kaap is die duiwe lastiger as vlieë. Ek gaan nou dadelik loop en in my kar klim. Bring asseblief my kos en koeldrank soontoe, Lani. Baie kos. Ek is ekstra honger na my ure lange stryd teen die ongeskikte duiwe.”
“Natuurlike jogurt en fonteinwater, Danika. Jy het gesê jy begin ’n nuwe lewe met gesonde eetgewoontes,” terg Lani haar.
“Ons sal wel iets gesonds en lekker vir jou koop, Danika,” beloof Jan-Erik en staan saam met Lani op. “Kom ons loop,” nooi hy hoflik.
Sy knik en sluit by hom aan. Daar gebeur iets wonderliks in sy teenwoordigheid, want sy ervaar ’n gevoel van warmte en sekuriteit wat haar omring vanaf die oomblik toe sy die eerste maal in sy oë gekyk het, en sy stap saam met hom die restaurant binne.
Hulle dra hul pakkies na die toonbank, maar sy lang vingers sluit ferm om haar gewrig toe sy geld uit die toegeritste sakkie van haar jeans wil haal. “Oom Awie het my gevra om vir julle middagete te betaal. Ek betaal vir alles, hoor.”
Die warmte van sy hand stuur pyltjies van genot deur haar lyf, en sy praat met ’n ongewone ademloosheid toe sy protesteer: “Ons kan nie op die arme oom Awie teer nie!”
Hy hou nog haar hand vas, onbewus van die roekelose gepols van haar bloed deur haar are, en lag gerusstellend, sy kop digby hare. “Die arme oom Awie is skatryk en fiks en gesond op die ouderdom van byna sewentig. En as Danika gewig wil verloor: Oom Awie draf elke oggend tien kilometer om die rugbyveld – dis veiliger as die oop pad, want daar is ’n groepie wat gereeld soggens saamdraf.”
Sy geur vul haar longe, warm en anders, ’n aardse geur soos ’n man moet ruik, maar sy besef ook sy durf hom nie weerspreek nie, want haar stem sal haar emosies teenoor hom verraai. Sy knik net en hoop hy aanvaar haar gedwonge glimlag as ’n woordelose dankie.
“Waar het jy jou motor geparkeer?” vra sy toe hulle by die restaurant uitstap, dankbaar dat sy nie meer soos ’n uitasem bakvissie klink nie.
“Agter julle motors.”
Sy kyk verras en skepties na hom en besef hy hou haar dop, maar die uitdrukking op sy gelaat verraai niks meer as vriendelike belangstelling nie. “Hoe weet jy watter motors behoort aan ons?”
“Oom Awie het die registrasienommers en beskrywings van julle karre by jou ma gekry. Oom Awie sê jou ma is dokter Taljaard. Is sy ’n mediese dokter?”
“Nee – ’n doktor met ’n graad in finansiële bestuur of iets dergeliks oninteressant. Jy weet – ryk mense wat weet hoe om nog ryker te word.”
Jan-Erik knik instemmend.
“Dit maak my senuweeagtig – of dalk voel ek net skuldig omdat ek nie in die eiendomsmark belang stel nie. Ek weet my ma sou oneindig dankbaar gewees het as ek haar eiendomsfirma eendag by haar sou kon oorneem. Orion Internasionale Eiendomme behoort al geslagte lank aan ons familie. Maar dis genoeg oor my. Boer jy op jul familieplaas?”
Jan-Erik glimlag wittand in die son en antwoord skertsend: “Het ek jou sowaar oortuig ek is ’n plaasjapie?”
“Wel …” Sy wikkel haar neus nadenkend. “Ek het aanvaar jy is ’n dorpenaar, maar jy het na jouself as ’n plaasjapie verwys. Dit lyk asof jy dikwels in die buitelug werk, want jy is so mooi bruingebrand dat ek soos ’n spook langs jou voel. Wat doen jy?”
“Help tant Ragie in haar yslike groentetuin of lê op die strand wanneer ek lui is. As jy lui raak, kan jy saam met my strand toe kom.”
“Sluit jou uitnodiging Danika in?” Sy kyk hom doodernstig aan.
Hy kreun gevoelvol. “Dink jy ons kan dit waag? Ek vermoed die seemeeue sal haar toesak as sy haar verskyning op die strand te maak. Seemeeue het groter pote en bekke as duiwe.”
“Arme Danika,” sê Lani simpatiek en glimlag met hom.
Die warmte in sy glimlag versterk die opwellende begeerte in haar om sy hand te vat, om weer die krag in sy vingers te voel wat haar so veilig én vreemd gelukkig laat voel het. Sy kyk na hom en haar oë rek verskrik toe sy besef haar gevoelens vou so sag soos die arms van ’n minnaar om haar.
Sy is beslis nie verlief op Jan-Erik nie, ontken sy heftig teenoor haarself. Sy hou nog altyd van groot mans wat vriendelik en hoflik is. Jan-Erik is nie ’n vleier wat haar met komplimente probeer oorweldig het nie; sy weet sy kan hom vertrou, hom as ’n vriend aanvaar. Haar ma sê dikwels sy het die teenwoordigheid van ’n pa in haar lewe gemis, maar al wil sy, kan sy met die beste wil in die wêreld nie aan Jan-Erik as ’n vaderfiguur dink nie, kwel sy haar.
“A, die yslike viertrek behoort aan my. Ek dink nie dit gaan moeilik wees om so ’n voertuig te volg nie,” onderbreek hy haar gedagtegang.
“Sjie … jy’s darem ’n leuenaar! Jy sal nooit ’n viertrek kan bekostig as jy net tant Ragie in haar groentetuin help nie. Of het jy ’n ryk pa?”
“Ryk ouers is gewoonlik suinig. Oom Awie het my vertel jou ma is ryk, maar jy ry nie die duurste motor op die mark nie. Ryk ouers kan vreeslik suinig wees, daarom werk ons vir ons eie geld.”
“By tant Ragie?” vra sy ongelowig.
Sy onnutsige glimlag laat haar hart onmoontlike toertjies in haar maag uitvoer, maar sy frons om haar agterdog te beklemtoon.
“Net naweke. Ek is ’n dokter – nie ’n slim doktor soos jou ma nie, maar ’n gewone dokter wat siek mense probeer gesond maak. Sommige vroue gril vir dokters. Gril jy ook nou vir my?”
“Nee, net vir jou werk, want bloeiende mense maak my naar. As jy nou ons pakkies kos en koeldrank …”
“Joei …!” skree Danika verstommend hard en hang by die linkervenster van haar motor uit. “Waar draai julle so? My kar is ’n sauna en ek is so gedehidreer dat my tong kurkdroog en geswel is. Kan julle nie hoor hoe sukkel ek om te praat nie? Lani, waar’s die koeldrank?”
“Vir ’n meisie wat in haar doodsnikke is, is jy wonderbaarlik energiek, Danika,” merk Jan-Erik droogweg op, en hy loop saam met Lani na Danika se motor toe en oorhandig ’n plastieksak aan haar. “Hier, vat. Dis propvol jogurt en fonteinwater. Jy het vyf minute tyd om te eet, want dan ry ek.”
Danika maak die plastieksak oop en hap na hom: “Leuenaar! As ek my ma was, het ek gesê jy is ’n liegbek. Ek haat bakkies slaai en pakkies maer, koue vleis, maar ek is dol oor biltong. Die fonteinwater is seker beter as niks nie. Dankie.”
“Ek vermoed sy sal vriendeliker wees as haar magie vol is,” sê Jan-Erik skertsend aan Lani, gee ’n plastieksak vir haar en loop na sy viertrek toe.
“Hoekom staan jy daar asof jy nie kan onthou dat jou kar voor myne geparkeer is nie, Lani?” vra Danika terwyl sy ’n bakkie vrugteslaai eet, kop gedeeltelik by haar motorvenster uit. “Hoekom het jy nie vir my twee bakkies vrugteslaai gekoop nie? Ek is vreeslik honger.”
Lani diep ’n pakkie malvalekkers uit haar plastieksak op en prop dit in Danika se hande. “Eet en bly stil! Jan-Erik het vir als betaal. Onthou net, jy koop nie skelmpies sjokolade as jy dalk naby ’n winkel kom nie,” sê sy kwaai, storm na haar motor, sluit dit oop en skuif agter die stuurwiel in.
Sy kyk toevallig in haar truspieëltjie en sien Danika dankbaar wuif, haar kieste rond van die malvalekkers wat sy in haar mond geprop het. Sy glimlag halfhartig en wuif terug voordat sy ’n bottel water oopmaak en ’n slukkie drink.
Sy is nie honger of dors nie, maar sy vererg haar onnodig vir Danika wat so hard probeer het om tydens hulle lang rit Kaap toe, nie saam met die manne pakke skyfies, pasteie en droëwors te eet nie.
Wat makeer haar tog?
Sy hou haar blind toe die beeld van die lang, donker man met ’n hoekige gelaat, ’n sterk beenstruktuur onder sy sonbrons vel en silwergrys oë voor haar geestesoog verskyn. Nee, sy is oormoeg, want geen mens kan in ’n klein motortjie slaap nie, stel sy haarself gerus. Sy hoef nie voor te gee nie, want sy hou net van Jan-Erik. Hy is so ’n gemaklike mens om mee te gesels en selfs al praat hulle nie, steur die stilte nie. Maats. Hulle sal oor dertig jaar nog vriende wees, want hulle het spontaan van mekaar gehou, is haar gevolgtrekking.
O ja, die voertuig wat toetend stadig by haar verby ry, is natuurlik Jan-Erik se viertrek. Danika lê op die toeter van haar motor en swaai uit die parkeerplek agter Jan-Erik in terwyl Lani haar motorenjin inderhaas aanskakel.
Bykans twee uur later volg Jan-Erik die breë dorpstraat langs die strand van Silwersee in sy voertuig wat hy voor die ruim woning van die Badenhorsts tot stilstand bring. Met ’n armgeswaai beduie hy na die ingang tot die motorhuise links van die woning.
“Ons is hier!” skree Danika jubelend en parkeer haar motor voor die oop deur van een van die motorhuise. Sy klim uit haar kar en draf langs Lani se motorvenster nog voordat Lani haar kar tot stilstand gebring het. “Kyk net hoe na aan die strand is ons, Lani! Is dit nie fantasties nie? Ons loop net oor die teerpad en dan rol ons sommer af oor die sand tot in die branders. Ek wed ons gaan oor ’n maand net so bruin soos Jan-Erik wees.”
Lani skakel haar motorenjin af en kyk met innige simpatie op na Danika. “Ek wil jou nie ontnugter nie, my liewe maatjie, maar ons is hier om ons daaglikse brood te verdien, nie om saam met Jan-Erik in die son te lê nie.”
“Aag, man, ons sal seker naweke …” Danika onderbreek haar sin en draf na die voorstoep, toe ’n bejaarde vrou by die voordeur uitstap. “Tant Marcia! Tant Marcia, ons is hier! Hallo, tant Marcia! Ek’s so bly om tannie te sien,” groet sy verruk, storm in Marcia se arms in, druk ’n klapsoen op haar wang en gee haar ’n drukkie.
Daar is blydskap en warmte in Marcia se uitdrukking toe sy Danika nader trek. “Welkom, Danika, my kind. Ek is dankbaar julle is veilig hier by ons. ’n Mens wil nie ongelowig wees nie, maar dis baie ure en ’n lang pad wat agter julle lê. Ek kon nie anders as om maar kort-kort vir julle te bid nie.”
“Ek het net gebid wanneer Gustav bestuur het, want hy kan nogal roekeloos wees,” vertel Danika vertroulik.
Jan-Erik, wat by Lani aangesluit het, skud sy kop en sê gedemp: “Dis die malvaklekkers. Te veel suiker is nie goed vir ’n praatverslaafde soos Danika nie.”
Danika ruk om, haar uitdrukking onstuimig. “Jy skinder al weer oor my, Jan-Erik! Ek het jou gesê ek is nie doof nie. Ek is nie ’n praatkous nie. Ek praat net baie omdat ek ’n borrelende persoonlikheid het.” Sy kyk na Marcia. “Tant Marcia weet mos ek borrel.”
Lani kyk met liefde in haar oë na Marcia wat groot en breed oor die korter Danika troon.
Marcia se silwerwit hare, groot donkerbruin oë, en ronde gelaat wat slegs plooie toon wanneer sy glimlag, vorm die volmaakte prentjie van ’n liewe ouma wat sy nooit geken het nie. Haar ouma Alexandra is ’n deftige vrou met ’n stywe haarkapsel, altyd op ’n bootreis om die wêreld of met vakansie by vriende in Europa, verkieslik in die suide van Frankryk of in die Alpe in Switserland.
“My ou kleinstetjie!” groet Marcia met deernis in haar glimlag en hou haar arms uit na Lani.
“Hallo, my tannie,” groet Lani en laat rus haar kop ’n oomblik lank op Marcia se bors. “Tannie voel rêrig so sag soos ’n verematras. My ma is kliphard van die spiere, want sy glo mos gereelde oefening gee haar energie en genoeg suurstof na die brein sodat skelm sakemanne haar nie kan verkul nie.”
“Jy skinder verniet oor jou ma, my Lani, want jou armpies is klaar ook al die ene spiere,” terg Marcia haar met ’n goedige laggie. Sy draai na Jan-Erik wat geduldig sy beurt afwag om te groet. “Dankie dat jy die kinders veilig hierheen gebring het, Jan-Erik. Oom Awie is kort na middagete weg om tant Ragie in haar tuin te help. Hy sal daar met jou gesels.”
“As tannie skielik haastig is om van my ontslae te raak? Tot siens, tant Marcia. Tot siens, Lani … Danika. Dalk loop ons mekaar op die strand raak,” antwoord hy en draai om na die tuinhekkie.
“Dankie vir al jou hulp, Jan-Erik! Tot siens,” roep Lani hom agterna, bewus van ’n gevoel van verlies wat ’n hol kol op haar maag vorm. Vreemd, hy praat net van die moontlikheid dat hulle mekaar op die strand sal raakloop. Sy het gedink hulle is vriende, maar haar spinnewebdrome is net die resultaat van haar ooraktiewe verbeelding wat met haar op loop gesit het. Dis die spanning van haar werkloosheid en die min slaap tydens die lang motorrit.
Jan-Erik is net so onbelangrik soos Rikus in haar lewe, behalwe dat Rikus altyd bereid is om haar te help. Sy sal probeer om nie gou weer oor Jan-Erik te praat of aan hom te dink nie, besluit sy afgehaal, net gedeeltelik bewus van Danika se lawaai.
“Jy kan weer malvalekkers koop en vir my bring. Tata, Jan-Erik!” skree Danika onnodig hard, bang dat hy haar nie sal hoor nie.
Hy druk sy hande oor sy ore, glimlag treiterend vir Danika, klim in sy voertuig en ry weg.
“Eindelik!” Marcia lyk skielik senuweeagtig en glimlag engelagtig onskuldig toe sy na Danika draai. “Danika, my poppie, loop deur die voorportaal en volg jou neus. Die eetkamerdeur is die laaste deur op regterhand aan die onderpunt van die lang gang. Ek het spesiaal vir jou klein melktertjies gebak en daar is ’n bottel tuisgemaakte gemmerbier. Maak dit versigtig oop, gehoor, kindjie?”
“Lekkerrr! Tannie is ’n skat! Dankie, tannie!” roep Danika uitgelate, reeds op pad deur die voorportaal.
“Hoekom wou tannie van Danika ontslae raak – of raai ek verkeerd?” vra Lani onkant.
Marcia gooi ’n dik arm om Lani se skouers en gee haar ’n vertroulike drukkie. “Jy is wonderlik oplettend en slim, nes jou dierbare ma wat moeilik kan raak as ’n mens agter haar rug konkel. Verstaan ons mekaar, Lani?” vra sy met grootoog-erns, haar stemtoon gedemp.
“E … ja, tannie. Konkel ons?”
“Asof dit uit die mode gaan! Het jy jou ma al gebel om haar te verseker julle is veilig hier by ons?”
“Nee, tannie, maar ek sal haar sommer nou dadelik …”
“Nee, sussie!” val Marcia haar luid in die rede, kyk bekommerd oor haar skouer, en vervolg sagter: “Jy sal maar die een of ander storie moet uitdink om te verhoed dat Danika haar ma-hulle van Jan-Erik vertel. Verstaan mooi, Lani: Hoor jou ma die man is hier, vlieg sy met haar eie straler hierheen, pak jou in een van haar tasse en emigreer na die Noordpool toe. Jy wil tog nie vir die res van jou lewe rou vis eet en velklere soos die Eskimo’s dra nie, Lani?”
“Nie as ek dit kan verhelp nie, tant Marcia. Hoekom haat my ma vir Jan-Erik? Ek het nie eens geweet sy ken hom nie.” Haar oë rek geskok. “Genade toggie, my ma is te oud om met hom ’n verhouding te hê! Ek weet sy is mooi en –”
“En jy praat te veel, hartjie. Ek kan nie verduidelik nie, maar een ding is so seker soos die sonsopkoms môreoggend: Jou ma kom haal jou as sy hoor Jan-Erik van Eeden is hier op Silwersee. Sy hou nie van die Van Eedens nie, verstaan, en ek meen dit sal haar ontstel as jy en Jan-Erik vriende word. Nee, moenie jou lippe tuit asof jy ‘hoekom?’ wil sê nie, Lani, want die hoekom kan net jou ma aan jou verduidelik. As jy nou net jou ma kan bel en sê oom Awie het jou en Danika in Kaapstad ontmoet en julle is tans veilig hier by ons, is die Kaap weer Hollands.”
“As ek eendag so oud soos tannie is, sal ek nie lieg en bedrieg nie. Ek bedoel, is tannie nie bang tannie gaan skielik dood nie? Dis mos veiliger om met ’n skoon gewete dood te gaan, nie waar nie?” mor Lani, ergerlik omdat Marcia haar nie in haar vertroue wil neem nie.
“Soek jy en Danika werk, of wil julle teruggaan huis toe, kind?”
Lani wik en weeg, en sug dan oorwonne. “Goed, tannie gaan my nie vertel waarom my ma nie van Jan-Erik en sy mense hou nie. My ma hou van almal, want sy is so sosiaal dat selfs die koerante oor haar skinder. Mag ek vir Jan-Erik vra hoekom my ma nie van hom hou nie, tannie?”
“Asseblief nie, my hartjie. Laat die jong man met rus, want dis erg genoeg dat die sedelose Alishia jag maak op die arme man, sonder om ’n verdere komplikasie in sy lewe te bewerkstellig. Luister jy na my, Lani? Bly weg van Jan-Erik, of ek stuur jou en Danika terug huis toe.”
“Dreig tannie my, of is dit afpersing?” vra Lani in ’n sedige stemtoon wat deur die vonkelende pret in haar oë weerspreek word.
Marcia gee haar weer ’n drukkie en antwoord goedig: “Dit is wonderlik hoe blind ek kan wees, my liefie. Sou jy en Jan-Erik mekaar op die strand raakloop, is dit iets wat jy nie kan verhoed nie. En om te groet en ’n bietjie te gesels, is ook nie sonde nie.”
“Solank my ma nie weet nie,” sê Lani begrypend.
“Dis reg, kindjie. Bel nou dadelik en laat Danika se ouers ook weet julle is veilig. Ek sal haar intussen geselskap hou,” sê Marcia, draai om en gaan die huis binne.
Lani stuur boodskappe met haar selfoon aan haar ma en die Retiefs, skop haar sandale uit en draf oor die teerpad na die strand toe. Sy bly staan op die nat sand, net buite die bereik van die branders, tuur uit oor die oneindigheid van golwende water tot waar dit op die gesigseinder met die wolklose hemelruim saamsmelt.
“Oom Awie sê ek het nie vir jou en Danika in Kaapstad ontmoet nie,” praat die stem wat sy die graagste wil hoor, saam met die eindelose geklots van die skuimende branders teen die enkele swart rotse.
“Hy sê ek moenie met jou praat nie, want julle Taljaards haat ons Van Eedens. Weet jy waaroor die vete gaan, Lani?”
Sy kyk op na hom toe hy haar hand vat. “Ek wil graag met jou praat, Lani. Wil jy ook met my praat?”