Читать книгу Allegra op Maasdorp - Stella Blakemore - Страница 3
1
Оглавление_____________
’n Noue ontkoming
Allegra sit op haar bed en kyk na die stapels klere wat op die stoel, die tafeltjie en orals op die vloer rondlê. Eintlik behoort sy baie in haar skik daarmee te wees, want die klere is mooi. Tog lyk sy baie bedruk en mismoedig.
Haar nuwe skooluniform hang in die kas. Dis van donkerblou wolstof gemaak – nousluitend bo en onder swaai dit klokvormig uit. Dit het ’n sneeuwit kragie wat geborduur is met Maasdorp se kleure, blou en geel. Die wit Sondagrokke is net so gemaak. Verder lê daar twee baaikostuums, klere vir sport, ’n klomp pare skoene en stapels onderklere, alles volgens Maasdorp se prospektus.
In sulke klere behoort enige meisie mooi te lyk, en sy ís reeds mooi. Sy het ’n bos bruin hare wat in pragtige krulle op haar skouers hang en groot blou oë. ’n Mens sal verwag dat sy opgeruimd moet wees, maar haar gesigsuitdrukking bly bedruk.
As jy haar van nader beskou, sien jy dat dit nie net norsheid is nie. Sy is regtig ongelukkig en dit lyk of sy baie gehuil het.
Iemand roep na haar buitekant die slaapkamerdeur.
“Allegra!”
“Ja?” sê sy met ’n stywe, harde stem.
“Die tee is in die eetkamer.”
Allegra loop lusteloos agter haar suster aan.
Hester is tien jaar ouer as Allegra. Sy en haar man is die kind se enigste familie en hulle onderhou haar. Hulle probeer om goed te wees vir haar, maar sy weet dat sy in die pad is en dat dit vir jonggetroude mense baie swaar moet wees om die hele tyd ’n veertienjarige meisie in die huis te hê.
Hester is nie baie vriendelik nie. Allegra is al ’n lang ruk in die moeilikheid by haar suster.
“Het jy klaar ingepak?” vra Hester.
“Nee.”
“Hoeveel het jy gedoen?”
“Niks nie.”
Hester lyk ontevrede.
“Regtig! Dis ’n bietjie baie! Jy weet dat Jan jou om vyfuur Kaap toe moet neem. Daar is nie eens meer ’n uur oor nie.”
“Ek sal alles binne vyf minute kan ingooi,” sê Allegra.
Sy probeer om ’n stuk brood en botter te eet, maar dit gaan swaar in haar keel af.
“Ek wens dat jy ’n bietjie meer belang in die hele saak wil stel,” sê Hester vererg. “Almal is wonderlik goed vir jou en al wat jy doen, is om met ’n lang gesig rond te loop! Aangesien jy van jou ou skool weggestuur is, behoort jy die hemel te dank dat meneer Malan jou by ’n skool soos Maasdorp ingekry het. Ná wat jy gedoen het, sou hulle jou nooit sonder sy invloed daar ingeneem het nie. En nou nooi hy jou nog om die nag by sy eie dogters deur te bring, sodat jy saam met hulle skool toe kan gaan! En praat nie hoe dankbaar jy teenoor Jan behoort te wees dat hy bereid is om soveel skoolgeld te betaal nie.”
“Ek is dankbaar,” sê Allegra, terwyl die trane in haar oë brand.
Sy is nou al so moeg vir dankbaarheid dat sy dit nie meer kan voel nie.
“Jy mag dit wees, maar dit lyk nie so nie,” sê haar suster ontevrede.
Die voordeurklokkie lui. Hester gaan maak die deur oop.
Toe sy terugkom, is daar ’n meisie van Allegra se ouderdom by haar. Sy is ook baie aantreklik met kort ligte hare, soos ’n seun s’n. Die reguit blik in haar oë en besliste ken laat ook aan ’n seun dink. Sy bly skamerig by die deur staan en kyk Allegra onseker aan.
Allegra het uit haar stoel opgespring toe sy sien wie die besoeker is en haar blou oë brand soos twee kole van verontwaardiging en woede.
“Marguerite wil met jou praat,” sê Hester. “Neem haar na jou kamer as dit lank gaan duur.”
“Ons gaan nie lank praat nie. Ek gaan glad nie met haar praat nie,” sê Allegra hard en bitter. “Ek wil nie eens weet wat sy hier kom soek nie.”
“Hoe durf jy op so ’n manier met ’n gas praat?” sê Hester.
Marguerite Beyers is self maar veertien, maar haar ouers is van die rykste mense in die dorpie en Hester is glad nie bly dat Allegra haar beledig nie.
“Sy is nie my gas nie. Ek het haar gevra om nie weer hierheen te kom nie.”
Marguerite staan nader.
“Ek móét met jou praat,” sê sy beslis. “Ek gaan mos weg en voor ek gaan, wil ek vir jou sê …”
Maar Allegra wag nie om dit te hoor nie. Sy vlug voor haar suster haar kan keer.
In haar kamer sluit sy die deur en val op die bed neer, waar sy met ’n storm trane en snikke haar kop in die kussings druk.
Maar dit duur net ’n paar minute voor sy ’n swaar gehyg en geklouter hoor – en daar sit Marguerite in haar pragtige ligbruin jas op die vensterbank waarop sy met groot moeite en skade aan haar kouse geklouter het.
“Hoe durf jy! Gee pad daar!” vlam Allegra.
“Ek sal nie,” sê Marguerite beslis. “En as jy my hier kom afstoot, sal ek my nek breek en dan is jy ’n moordenaar.”
Sy is ook nie ver van trane nie.
“Ek wil net voor ek weggaan vir jou sê dat ek vreeslik jammer is oor wat gebeur het.”
Allegra steek weer haar gesig in die kussing weg.
“As jy regtig spyt is, moet jy gaan. Ek wil jou nooit weer sien nie.”
“Maar ek gaan kosskool toe en … ek wou gehad het dat ons weer vriende moet wees, want wie weet wanneer ons mekaar weer sal sien?”
“As ek jou nooit weer sien nie, sal dit baie goed wees,” sê Allegra terwyl sy penregop sit en ’n sakdoek soek. “Wat doen jy hier? Hoe kan ons ooit weer vriende wees nadat jy my laat wegstuur het en … ag, loop!”
“Ek het dit nie bedoel nie, Allegra, regtig nie! Maar ek het geweet dat jy die negentig rand vir Juffrou se present in jou laai gehad het en toe jy later die geld vir Jessie gegee het, het ek gesien dat daar tien rand te min was.”
“Ja, en jy moes dit natuurlik dadelik sê! Dis wat ’n mens van ’n beste vriendin verwag!”
“Maar luister tog! Ek het nie gedroom dat jy dit gevat het nie. Ek het net gedink dis ’n fout. As ek geweet het dat jy dit geneem het om jou sportgeld mee te betaal, sou ek natuurlik liewer self vir jou die geld gegee het as om jou te verraai.”
“Daardie mooipraatjies kan jy hou, en sommer ook die hele besigheid van ‘neem’ en ‘verraai’. Ek het die nare geld nie gesteel nie, sommer net geleen. Ek sou dit dadelik gehad het, maar daardie oggend het ek hierdie venster met my krieketbal gebreek en Hester het toe geweier om my sakgeld te gee. Dis hoe dit gebeur het. Toe moes jy natuurlik gaan sê dat ek te min geld gegee het en die hoof, die nare ou bees, sê ek is ’n dief en stuur my van die skool af weg. En dis alles jou skuld.”
Dis ’n baie ernstige beskuldiging en Marguerite lyk diep ongelukkig waar sy op die vensterbank sit.
“En toe,” gaan Allegra voort, “toe dit uitkom, het jy my aangekyk asof ek vuil is, en dit voor die hele skool!”
“Maar dit was net aan die begin,” pleit Marguerite. “Ek kon dit nie glo dat jy ander mense se geld geneem het nie. Mammie het ook gesê dat my houding baie verkeerd was omdat ons sulke groot vriendinne was, en ek weet dit ook. Ek is regtig jammer!”
“Dis wonderlik. Dink jy nou dat dit gaan help? Want dan maak jy ’n groot fout. Weet jy hoe ek daardie dag gevoel het? Weet jy miskien hoe dit voel om van ’n skool weggestuur te word in hierdie ou klein plekkie waar almal dit weet? Ek kan nie op straat gaan nie, want almal kyk my snaaks aan!”
Die woorde kom tussen trane en snikke uit sodat Marguerite se eie hart wil breek as sy dink aan die weke van eensaamheid en kommer wat haar vriendin deurgemaak het. As sy maar net nie daardie oggend in die klaskamer was toe die skoolkaptein die presentgeld by Allegra kom haal het nie! Hoekom het sy so vinnig gepraat? Soos sy gesê het, sy het nooit gedroom dat haar vriendin van die gekollekteerde geld geneem het nie. Marguerite sou enigiets op aarde doen om dinge weer reg te maak, maar dis heeltemal hopeloos soos Allegra nou lyk.
“Ek gaan ook kosskool toe,” sê Allegra terwyl sy wild haar goed in die koffers gooi. “Ek bid net dat ek daar moet doodgaan of iets oorkom en hierdie vieslike plek met hierdie vieslike mense en alles nooit weer hoef te sien nie.”
“Wil jy dan nie eers …”
“Nee. Ag, loop tog. Loop! Ek haat almal en vir jou tienduisend maal meer as enigiemand anders! Loop!”
Die uitroep is byna ’n skreeu en Marguerite moet maar treurig van die vensterbank afklim en huis toe gaan. As sy langer aanhou, sal Allegra só histeries raak dat dit net weer moeilikheid met haar familie sal veroorsaak.
Terwyl hierdie gesprek aan die gang is, word Allegra se sake ook op ’n ander plek bespreek.
Meneer Malan is in sy vrou se sitkamer waar hy pas vir haar ’n groot tjek uitgeskryf het. ’n Mens stuur twee dogters nie sommer verniet na ’n skool soos Maasdorp nie!
“Sal dit genoeg wees, skat?” vra hy.
Meneer Malan is altyd sag en teer in sy manier van praat, veral teenoor sy vrou en kinders. Mevrou Malan is van taaier materiaal. Met so ’n sagte man sou sy nooit haar agt kinders kon grootmaak as sy nie ’n bietjie meer beslistheid van karakter as hul pa besit het nie.
“Dis vir dié keer genoeg, ja. Daar sal later seker nog onkoste wees. Regtig, as ek dink hoe baie geld ons al in Maasdorp gegiet het, wonder ek hoekom ons die meisies nie liewer tuis gehou het en na ’n dagskool laat gaan het nie.”
“Ag nee, tog! Dis ’n wonderlike skool. En die meisies het ons al baie plesier verskaf.”
“En ook baie moeite,” sê mevrou Malan streng. “Ten minste wat die twee jonger meisies betref. Met die grotes het ons min onaangenaamheid gehad, maar met Jakoba het dit begin en Heloise bring dit byna verder. Hulle kort ’n goeie pak slae, twee maal in ’n week, en op kosskool gebeur dit ongelukkig nie. In die vakansie wil jy weer nie hê dat hulle gestraf moet word nie.”
“Maar hulle is so min by die huis,” pleit meneer Malan.
Jakoba, of Kobie, soos sy deur almal behalwe haar ma genoem word, is sy vyfde dogter en sy oogappel. Hy kan nie verdra dat daar van slae gepraat moet word nie. Hy is baie bly dat Kobie nou vyftien is en dus min of meer uit daardie gevaar uit. Dit verg alreeds baie van sy energie om die elfjarige Heloise en die dertienjarige Fanie teen die gevolge van hul eie misdade te beskerm wanneer hulle tuis is.
Mevrou Malan trek haar neus op. Wat dissipline betref, het sy haar man al lankal as hopeloos opgegee.
“Hoe laat kom daardie ander kind? Wat is haar naam?” vra sy.
“Allegra Bredenkamp. Sy sal so teen aandete opdaag,” sê haar man. “Arme dingetjie!”
“Hoekom juis ‘arm’?” vra mevrou Malan sarkasties. “As sy ook Maasdorp toe gaan, sal sy net soos jou dogters bederf word.”
“Ag nee, my hart! Ek is regtig jammer vir haar. Sy het baie deurgemaak. Sy het moeilikheid by haar ou skool gehad en ek is bly dat ek die hoof sover gekry het om haar op Maasdorp in te neem sonder om te veel na die ander skool te vra.”
“O, is dít so! Ek kon geweet het dat dit maar ’n stout en onhebbelike kind is wat jy wil help. Wat het sy verkeerd gedoen?”
“Sy is nie onhebbelik nie, sy was maar net ongelukkig. Sy is ’n baie mooi en aantreklike kind, ek het haar gesien toe ek na ons takkantoor gegaan het. Pretorius, die bestuurder, het my vir ete genooi. Toe het ek haar vir die eerste maal gesien en sy het so bedroef gelyk dat ek na haar moes vra – natuurlik nadat sy uit die vertrek was.”
“En wat was eintlik die moeilikheid?’
“Iets in verband met geld. Die arme dingetjie het geld in haar lessenaar op skool gehou – die hele klas se geld, wat vir ’n present of so iets gekollekteer was. Toe moes sy haar sportgeld betaal en sy het sommer van die geld uit die lessenaar geneem omdat sy geweet het dat sy daardie middag haar maand se sakgeld sou kry. Maar toe word haar sakgeld vir straf agtergehou en iemand het uitgevind dat van die presentgeld weg is.”
“En toe?”
“Die hoof van daardie skool is besonder onsimpatiek. In plaas daarvan om te probeer verstaan hoe die saak inmekaarsteek, het sy die kind vir ’n dief uitgemaak en haar onmiddellik geskors.”
“Onsin!” sê mevrou Malan beslis. “Sy moes goed gestraf word om haar te leer om haar hande van ander mense se geld af te hou, maar sy het nie verdien dat haar toekoms verwoes moet word nie.”
“Dis wat ek ook dink,” sê meneer Malan manhaftig. Hy het nog nooit een van sy kinders gestraf nie, maar praat is maklik.
“Weet juffrou Van der Westhuizen en die ander onderwyseresse wat gebeur het?” wil mevrou Malan weet.
“O nee, natuurlik nie! Ek het haar aanbeveel en juffrou Van der Westhuizen het dus nie verder gevra nie. Ek sou nie daarin geslaag het om die kind met ’n slegte naam toegang te laat kry nie. Sy het reeds swaar genoeg gekry. Haar suster en swaer – haar ouers is oorlede – het die hele saak op ’n verkeerde manier aangepak. Die kind voel nou dat sy ’n dief is en dat geen ordentlike mens met haar wil omgaan nie.”
“Ek hoop dat sy hierdie kans sal aangryp om ’n nuwe lewe te begin,” sê mevrou Malan streng. “En dat jy haar nie te veel aangemoedig het om haarself te bejammer nie. Sy moet verstaan dat haar gedrag baie verkeerd was, al word dit nie as diefstal beskou nie.”
“Nee, natuurlik het ek nie. Ek kon haar skaars sover kry om ’n woord met my te praat. Nou, baie dankie dat jy haar vir die nag inneem, skat.”
Meneer Malan verlaat op hierdie hoflike wyse sy vrou se pragtige sitkamer.
Van hom het sy vrou en kinders nog nooit ’n harde woord gehoor nie. Hy is gewoonlik, in die sakewêreld en onder sy vriende, goedgemanierd en effens stil, maar tuis is hy nog beskaafder. Hy dra sy vrou en kinders op die hande. Dis die rede waarom hierdie stil, skraal man met die grys hare en die oë met hul liefderyke uitdrukking deur sy kinders soos ’n heilige aanbid word.
Net buite die sitkamer ontmoet hy sy oogappel wat met dansende goue krulle en blosende rooi wange die gang afhuppel. Sy dra ’n langbroek en donkerblou trui, en op pad na die trap wat na die voorportaal van die groot huis gaan, oefen sy ’n danspassie. Toe sy hom sien, verander sy van rigting en hardloop na hom toe om haar arms om sy nek te slaan en hom byna te verwurg.
“Pappie! Ek het nie geweet Pappa is tuis nie!”
“Ja, my hartjie, ek het vandag ’n bietjie vroeër teruggekom. Ek het gehoop dat jy vir my sal speel. Jy gaan môre skool toe en ek sal jou maande lank nie hoor nie.”
“Natuurlik sal ek – kom gou, voor iemand ons kry en ophou.” Sy haak by hom in en hulle gaan saam af na die groot sitkamer waar die wonderlike vleuelklavier staan. Meneer Malan het dit vyf jaar gelede vir Kobie gekoop toe almal begin sien het dat sy nie net talentvol is nie, maar feitlik ’n genie.
Hulle bring ’n heerlike halfuur saam deur; sy voor die klavier en hy in ’n leunstoel voor die vuur, met sy oë op die pragtige kind wat daar met haar goue kop oor die klavier gebuk sit. Soos baie maal vantevore wonder hy waarom hy van al die mense in die wêreld so wonderlik gelukkig moet wees. Want daar is volgens hom en byna almal wat haar ken, maar net één Kobie.
Soos sy nou op vyftienjarige ouderdom lyk, is sy die lente self. Wanneer sy praat of lag, tril die lewe se lig en vreugde deur haar stem, en wanneer sy klavier speel, moet ’n mens erken dat ’n skitterende loopbaan op haar wag. Terwyl hy haar so aankyk, besef hy half met vreugde en half treurig dat sy nie net aan hom alleen nie, maar aan die hele wêreld behoort. Dis inderdaad haar plan om, sodra sy klaar is met universiteit, saam met haar vriendin Carla Willemse oor die hele wêreld konserte te gaan gee.
Niemand behalwe die Malans, die hoof van Maasdorp en ’n paar ander mense weet dat die stil Carla Willemse die wêreldberoemde wonderkind Olga Willovitch was nie. ’n Tydjie gelede het sy hier in Kaapstad aan ’n treurige senuwee-aandoening gely, sodat sy glad nie meer viool kon speel nie. Haar tante wat haar musiek laat leer het, was toe so kwaad dat sy haar sommer gelos het. Gelukkig is die kind darem ’n Suid-Afrikaner – Olga Willovitch is net die naam wat haar tante haar gegee het om die mense te laat dink dat sy Russies is.
Haar pa woon op sy plaas in die Kaap en hy het sy dogter met dankbaarheid teruggeneem en haar na Maasdorp gestuur sodat sy ’n normale kinderlewe kan hê. Kobie se vriendskap het gehelp om haar senuwees te herstel en Carla sal nooit vergeet dat sy haar gesondheid, en die feit dat sy weer kan speel, aan Kobie te danke het nie. Sy sal nou op skool bly, maar eendag wanneer hulle met hul opleiding klaar is, sal hulle saamwerk, en daar is geen twyfel dat die wêreld Olga Willovitch weer met hartlike toejuiging sal verwelkom nie.
Toe Kobie klaar gespeel het, kom sy op haar pa se skoot sit. Sy lê die sagte wangetjie met die diep kuiltjies teen syne en kyk met haar groot bruin oë in die vuur.
“Dit was baie mooi, my kind. Ek is baie trots op jou. Dankie tog.”
“Ag, nee. Pappa doen tog so baie vir ons. Dis maar min om ’n bietjie te speel om Pappa plesier te gee.”
Sy sug.
“Die vakansie gaan altyd so gou verby. Môre is ons weer op skool en nou, pleks dat ons vanaand mekaar se geselskap kan geniet, het die grotes die partytjie en Pappa moet dit bywoon, en ons sal mekaar nie sien nie!”
“Ek is tog te jammer dat dit nou so is, liefling.”
“Ek sien nie in hoekom ek en Elsabe en Carla nie ook na die partytjie mag kom nie!” smeek Kobie. “Ons is tog vyftien en ons behoort nie soos babas behandel te word nie!”
“Maar, my hartjie,” sê haar pa terwyl hy die goue krulle streel, “Pappa wil ook nie hê dat jy te gou groot moet word nie. Ek wil jou nie met groot mans sien dans nie.”
“Ek wil ook nie met hulle dans nie. Dis net so lekker om allerhande kostuums aan te trek en dan is daar sulke heerlike kos. Mammie sê mooi dat ons nie eens daarvan mag kry nie!”
Meneer Malan weet goed dat die klein stouterd nie by hom oor haar ma behoort te kla nie, maar hy is te sagmoedig om dit vir haar te sê.
“Wees maar soet en gehoorsaam en ek sal vir jou geld gee, my skatlam,” sê hy op ’n manier wat sy vrou haar hare sou laat uittrek het.
“O, baie dankie, Pappie!” gil sy.
Net toe kom Diana, een van haar ouer susters in, en dadelik begin die geveg weer oor die aand se partytjie.
Diana begin daarmee.
“Julle bly vanaand uit die pad uit, hoor jy?” sê sy beslis terwyl sy ’n plek naby haar pa inneem. “As ek die geringste geluid van jou, of Heloise, of één van jou vriende hoor, sal ek vir Ma sê.”
“Jy dink verniet dat ons na jou vrot ou partytjie wil kom!” sê Kobie vererg.
“Hulle sal tog nie pla nie, my kind!” sê meneer Malan verwytend. “Hoekom moet jy altyd so hard teenoor die kleintjies wees?”
“Omdat ek weet watter klein naarhede hulle kan wees as hulle wil. Onthou Pappie toe Kobie nog klein was en Pappie die parlementslede hier gehad het om iets te bespreek? Mammie wou Kobie daardie dag uit die huis stuur en Pappie wou nie, en wat was die gevolg daarvan? Dat hierdie engelkind van die balkon af ’n hele beker water op generaal Bok se kop uitgegooi het!”
Kobie skater van die lag.
“Dit was te heerlik om die ou se gesig te sien!” sê sy.
“Die pak slae wat jy daarna gekry het, was darem nie so heerlik nie,” spot Diana.
Sy hou haar nou maar so hard, maar wanneer een van die jong familielede regtig in die moeilikheid is, doen sy alles in haar vermoë om te help.
“Nee, maar dit was die moeite werd,” sê Kobie opgeruimd. “Want sien, die pak het ek al lankal vergeet, maar nie generaal Bok se gesig nie.”
“Nou ja, as jy weer vanaand so iets doen, klop ek jou self!” waarsku Diana.
En toe, omdat sy weet dat haar pa ’n stryery tussen sy kinders nie kan verdra nie en dat hy, met sy sagte natuur, skerpheid teenoor mekaar glad nie verstaan nie, gaan sy nader en trek Kobie aan die hand op.
“Komaan, jou klein ek-weet-nie-wat-nie. Kom kyk of my kostuum reg is.”
“Is dit die een van Vrede met die duif?” vra Kobie. “Dit pas jou uitstekend omdat jy ’n klassieke neus het en so ’n mooi figuur.”
“O land! Ek moet gou my geld gaan wegsluit!” spot Diana. Sy druk darem ’n ligte soen op haar stout sussie se goue kop.
Hulle verlaat die vertrek met hul arms om mekaar, terwyl hul pa hulle trots agternastaar.
Omtrent dieselfde tyd begin Allegra en haar swaer die lang rit Kaap toe. Sy het klaar ingepak, maar op ’n manier wat Matrone môre haar hande in die lug sal laat gooi. Voordat dit klaar was, het baie trane al op die mooi goed in die nuwe koffer gedrup.
Sy dra een van die blou rokke, met die dik jas en skoolhoed, en as sy geweet het hoe mooi sy daarin lyk, sou dit haar miskien ’n bietjie getroos het.
Haar suster en die baba gaan nie saam Kaap toe nie. Sy kom na die motor om van Allegra afskeid te neem.
Die kind lyk eensaam en verlate en ten spyte van haar afkeer, voel Hester bekommerd daaroor. Sy dink op hierdie oomblik aan haar ma. Haar ma was altyd baie lief en sag, en Hester het die ongemaklike gevoel dat sy nie nou met haar oudste dogter tevrede sou gewees het nie.
Sy weet egter nie hoekom sy so voel nie. Sy en haar man het die kind opgepas en haar alles gegee.
Hul ma het min geld agtergelaat. Baie vroeg moes Hester gaan werk om haarself en Allegra te onderhou. Toe die bestuurder van haar kantoor op haar verlief geraak en hulle getrou het, het hy belowe om alles wat moontlik is vir die kind te doen. Hy kom sy plig getrou na, al is hy nie ’n ryk man nie. Hoe en waar het hulle dan verkeerd opgetree?
Allegra kyk na haar suster en dan na haar swaer wat nou inklim.
“Julle is te goed vir my. Baie dankie vir alles,” sê sy.
Die woorde is reg, maar haat dring deur elke woord. Sy sal hulle hul afkeer en die koue, leë dae van die laaste paar weke nooit kan vergewe nie.
“Ek hoop tog dat jy op skool gelukkig sal wees,” sê haar suster, nog met daardie ongemaklike skuldgevoel. “Jan sal vir jou sakgeld gee wanneer julle by die Malans aankom.”
“Dankie,” sê Allegra asof die woord haar keel brand.
Omdat sy onrustig voel, sê haar suster nou die een ding wat sy nie moes gesê het nie.
“As jy geld nodig het, skryf tog en vra dit. Al gaan dit moeilik, sal Jan dit liewer vir jou wil gee as om weer soveel ellende deur te maak.”
Lank nadat hulle vertrek het, klop Allegra se hart nog vinnig van woede en skaamte.
Teen sewe-uur kom hulle in Kaapstad aan en hulle ry na Oranjezicht waar die Malans woon. Die huis is baie groot met breë balkonne en ’n mooi tuin, en toe die motor stilhou, is daar lig in elke venster asof daar ’n partytjie aan die gang is.
Meneer Pretorius, wat die hele tyd nie ’n woord gepraat het nie, klim saam met Allegra uit. Meneer Malan kom self te voorskyn. Hy groet hulle baie vriendelik en sit sy arm om die skouers van die kind wat hom met sulke miserabele oë aankyk.
Meneer Pretorius kan nie lank bly nie, hy moet na sy vrou en baba teruggaan. Hy groet meneer Malan en bedank hom herhaaldelik vir alles wat hy vir hulle gedoen het. Op pad na die motor gee hy vir Allegra geld en vertrek toe dadelik.
Hy steur hom nie aan die verwyt in haar oë nie. Hy het haar nie lief nie. Wat hy vir haar doen, is net om sy vrou se ontwil. Omdat hy ’n eerbare man is, wil hy sy woord aan sy vrou om die kind te onderhou nie breek nie.
“Laat weet as jy iets nodig het,” sê hy met ’n betekenisvolle blik wat weer Allegra se wange laat gloei. “Tot siens.”
Daarmee is hy weg.
Meneer Malan is jammer oor die uitdrukking op die kind se gesig. Hy dink dat sy regtig dankbaar behoort te wees oor wat haar familie vir haar doen en dat haar houding baie verkeerd is, maar hy verstaan ook dat daar nie dankbaarheid kan wees wanneer liefde ontbreek nie. In elk geval is dit nie nou die tyd om iets vir haar te sê nie.
Terwyl hulle nog daar in die voorportaal staan, vergeet Allegra inderdaad haar kommer, want die huis met die breë trap wat na bo voer, is regtig mooi en die deure wat oop staan, wys dat hulle na groot, vriendelike verligte kamers lei. Oral is blomme en sagte kleure, en bo klink vrolike meisiestemme op.
“Kobie! Waar is jy?” hoor sy.
’n Deur word oopgestamp.
“Hier,” roep ’n soet stem. “In Lulu se kamer. Ek kam haar hare.”
“Jou ma sê ons kos is op die tafel in die skoolkamer en jy moet nou kom.”
“Ag, nee, wag ’n bietjie! Ek sal nou-nou klaar wees.”
Toe kom ’n streng vrouestem.
“Jakoba! As ek jou laat roep, is daar g’n ‘nou-nou’ nie. Geen parmantigheid!”
Allegra merk dat meneer Malan meteens baie bekommerd lyk.
“O aarde!” sê die ondeunde stemmetjie. “Ek het nie geweet dat Mammie hier bo is nie. Ekskuus tog!”
“Dit maak nie saak of jy dit geweet het of nie. Gaan dadelik na die skoolkamer, voor ek regtig kwaad word.”
“Maar Mammie, ek het nog nie Lulu se hare gekam nie.”
“Sy kan dit self heeltemal goed doen. Gehoorsaam op die daad!”
“Mammie, sy kan nie! Sy trek dit alles terug en laat ’n kuifie voor hang sodat sy kompleet nes ’n okkerneut lyk! Mammie kan self sien!”
Meneer Malan loop vinnig na die trap en Allegra volg hom, omdat sy nie weet wat anders om te doen nie.
“As jy durf teëpraat, sal ek jou straf so groot soos jy is,” sê die streng stem.
Kobie verstaan nou dat haar ma nie speel nie. Allegra hoor ’n beleefde “Ja, Mammie” en die gehardloop van twee paar voete.
Meneer Malan slaak ’n sug van verligting.
“My groot dogters het vanaand ’n partytjie,” vertel hy. “En die kleintjies is ontevrede omdat hulle dit nie mag bywoon nie. Maar hul ma is bang dat hulle te gou gaan grootword.”
Nou is hulle bo waar hulle mevrou Malan ontmoet. Sy lyk wonderlik elegant in haar aandrok, maar sy het ’n sterk gesig en besliste oë wat enige stout kind bang sal maak.
“Hier is Allegra, skat,” sê haar man.
Mevrou Malan neem Allegra se hand.
“Hoe gaan dit?” vra sy.
Allegra is te sku en bang om te antwoord. Sy weet nie of mevrou Malan alles omtrent haar weet nie. Wat sy ook nie weet nie, is dat mevrou Malan op hierdie oomblik regtig hard probeer om ’n bietjie minder streng as gewoonlik te lyk, omdat sy werklik jammer voel vir hierdie mooi en blykbaar bang klein vreemdeling. Syself voed haar kinders streng op, maar sy is darem verstandig. Hulle word soms gestraf, maar hulle word nie aanhoudend ongelukkig gemaak nie. As hulle vir ’n bepaalde oortreding gestraf is, is die hele ding verby en niemand word toegelaat om weer daarvan te praat nie. En as een van haar kinders op skool so swaar soos Allegra gekry het, sou g’n steen van die skool bly staan het nie.
“Kom, ek sal jou na die ander kinders neem,” sê sy. “Hulle eet vanaand bo, sodat hulle uit die pad is. Hulle is al aan tafel. Twee van Jakoba se vriendinne is hier. Hulle gaan môre saam met jou skool toe.”
Die huis weergalm van vrolike geluide. Hoe streng die ma ook mag wees, het dit klaarblyklik nie die familie se lewenslus verminder nie. Van party kamers hoor jy ’n gesing en gelag waar die vier groot dogters aantrek. Elkeen het minstens een vriendin wat die nag by haar kom deurbring. Dis nie verniet dat meneer Malan ’n groot huis het nie!
Mevrou Malan maak ’n deur aan die agterkant van die huis oop. Dit lei na ’n groot kamer waar alles ’n bietjie oud lyk, soos ’n mens sal verwag nadat agt kinders dit jare lank as woonkamer gebruik het. Hier is die tafel gedek en drie meisies van ongeveer vyftien en ’n kleintjie van elf sit daar en eet met lus. Maar toe mevrou Malan die kamer binnekom, staan hulle almal op.
“Jakoba, hier is Allegra Bredenkamp,” sê sy.
Mevrou Malan vergeet nooit iemand se naam nie. Daarom is sy voorsitter van omtrent elke vereniging waarvan sy lid is!
Kobie is die mooiste meisie wat Allegra nog ooit gesien het.
Sy is ’n bietjie kleiner as Allegra, al is sy vyftien, en alles aan haar is lig en fyn. Haar hare bestaan uit ’n massa goue krulle, so kort soos ’n seun s’n. Sy het groot bruin fluweeloë met lang wimpers, en asof sy nie al bekoorlik genoeg is nie, is daar ’n diep kuiltjie in elke wang.
Sy kom vorentoe soos ’n prinses wat iemand in haar paleis verwelkom.
“Hallo,” sê sy vriendelik terwyl sy die nuwe meisie goedkeurend aankyk.
“Jy moet sorg dat Allegra tuis voel,” sê mevrou Malan.
Dis darem nie nodig om dit te sê nie. Kobie is die vriendelikste mens op aarde. Sy is ten spyte van haar talente en skoonheid glad nie verwaand nie.
“Nadat julle geëet het, mag julle nog ’n uur opbly en maak wat julle wil. Maar laat my hoor dat julle langer opbly, of vra om van die partytjie se kos in die hande te kry, en ek sal baie kwaad wees!”
Die kleintjie, ’n koddige mensie met ’n ernstige gesig en ’n krul op haar voorkop, praat senuweeagtig maar dapper: “Mag ons nie net ’n biétjie kry nie, Mammie?”
“Heloise, ek het eenmaal ‘nee’ gesê. Dis sleg vir julle om so baie ryk goed te eet.”
Heloise mompel en net “sien nie hoekom dit juis vir óns en nie vir die grotes sleg is nie” is hoorbaar.
Dis binnensmonds, maar na jare se ondervinding in die grootmaak van kinders is haar ma se gehoor baie fyn.
“As een van julle weer durf teëpraat, sal julle jammer wees,” sê sy dreigend. “Die grootmense mag die kos eet omdat hulle baie gaan dans.”
Heloise wil weer praat, maar een van die ander meisies, met ’n lewendige gesig en bruin krulhare, skop haar teen die been sodat sy betyds haar mond toemaak. Elsabe van den Heever bring ’n deel van elke vakansie by die Malans deur en sy is soos ’n kind in die huis. Sy weet al goed wat van hierdie teëpraat kom.
“Verstaan julle almal wat ek wil hê?” wil mevrou Malan weet.
“Ja, Ma” en “Ja, Mevrou” kom dit van die meisies en sy stap uit, met ’n laaste vermanende blik na Heloise.
“Jou klein esel, hoekom wil jy al weer vir Ma kwaad maak?” sê Kobie verwytend. “Weet jy dan nie wanneer om stil te bly nie?”
“Ek wou maar net geweet het …”
“Bly stil! Allegra, trek jou jas uit en kom eet. Lyk sy nie mooi in die nuwe uniform nie? Ek is so bly dat ons nie meer die ou rokke hoef te dra nie.”
Allegra sit haar jas en hoed op die ou rusbank neer en kom na die tafel waar sy die ander vir die eerste maal goed bekyk.
Die meisie wat nog glad nie gepraat het nie, het asblonde hare en slanke hande. Sy is stil en afgetrokke. Carla begryp nog nie veel wat in die wêreld aangaan buiten musiek nie. Sy leef vir die paar uur op ’n dag wat sy aan haar viool mag bestee. Vir haar is wiskunde en party ander vakke baie vervelig, en sy kon eers nie verstaan hoekom sy op skool nie ’n kamerbediende mag roep om haar hare te kom borsel nie. Maar Kobie pas haar op en lei haar met takt en geduld deur die skoollewe.
“Pappie sê jy is veertien en in graad nege,” sê Kobie vriendelik vir Allegra. “Nou moet jy iets van óns hoor. Hierdie dame met die deurmekaar hare is Elsabe van den Heever. Om haar nou te sien, sal jy nooit kan glo dat sy vyftien maande gelede soos ’n outydse tannie skool toe gekom het nie. Sy het ’n lang vlegsel gehad en ’n massa olie op haar hare. Maar Maasdorp het van haar ’n mens gemaak en nou is sy die skitterendste versiersel van graad elf.”
Kobie bly ’n oomblik stil om asem te skep en Allegra kry dus ’n kans om te praat.
“Is julle al in graad elf?” vra sy verras. “Die graadelfs by my ou skool is almal groter.”
“Maar ons is baie slim,” sê Kobie, wat nie aan ’n minderwaardigheidskompleks ly nie. “Om jou die eerlike waarheid te vertel, ons was aan die begin van verlede jaar maar in graad nege, maar ons het ons so goddeloos gedra dat die hoof ons na die eerste kwartaal oorgeskuif het om ons onder Yskis se sorg te bring. O, ek het vergeet, jy ken nie vir Yskis nie. Dis ons dierbare juffrou Muller, die onderhoof en wiskunde-onderwyseres. Dis waar, sy kan dierbaar wees as sy wil, maar so nie, waai die tande en vere. Dis net Elsabe wat haar deur ’n rooskleurige bril bekyk.”
“Bog! Jy weet self dat sy altyd gaaf is, behalwe as ’n mens iets anders verdien,” sê Elsabe beslis.
“Sy het ’n effens afsnouende manier, maar ek vind haar oor die algemeen gaaf genoeg,” sê Carla afgetrokke.
“Ons moet dit vir Yskis sê. Sy sal jou goedkeuring seker hoog waardeer,” spot Kobie terwyl sy na die botter gryp.
“Ek en Breggie hou van haar,” sê Heloise beslis. “Sy is altyd baie goed vir ons.”
“Stil jy,” vermaan Kobie. “Jy mag nie saam met die grootmense praat nie. Wees maar bly dat ons jou saam aan tafel laat sit. Jy ken nog nie vir juffrou Muller nie. Wag tot jy groter is en sy jou regtig in die hande het, en praat dan.”
“Jy sal juffrou Viljoen as klasonderwyseres hê, Allegra,” sê Elsabe om haar weer in die gesprek te betrek. “Sy is gaaf genoeg, maar kwaai! Eenkeer het Kobie haar ’n poets gebak en sy het haar so byna pakgegee.”
“Doen hulle dit op skool?” vra Allegra verras.
“Natuurlik nie, maar hierdie juffrou het toe net van ’n seunskool gekom en sy het geen ander straf geken nie. Sy sal jóú nie pak gee nie. Moenie bang wees nie!”
“Is jy goed in sport?” vra Kobie.
“Taamlik. Nie wonderlik nie.”
“Jy móét wonderlik wees. Op Maasdorp is almal uitstekend. Ek is nou onderkaptein van sport en ons moet ’n goeie jaar hê.”
Allegra verwonder haar dat hierdie jong meisie al so ’n hoë posisie in die skool het. Sy begin voel dat Kobie regtig ’n wonderlike mens moet wees.
Skielik gaan die deur oop en daar staan ’n baie mooi jong man. Hy het Kobie se bruin oë en goue krulhare, en in sy aandklere lyk hy nes ’n model in ’n advertensie.
Met een beweging is Kobie uit haar stoel om hom te omhels.
“Jaap! Liefste, engelagtige, skatlike Jaap! Waar kom jy vandaan? Pappie het gesê jy sal nie vanaand kan kom nie.”
“Ek kon dit darem reël,” sê haar broer.
Hy steur hom nie daaraan dat sy kraag nou nie meer so netjies lyk nie. Hy hou meer van sy pragtige sussie as van enigiemand anders in die wêreld en hy gee nie om wie dit weet nie. Hy gee Heloise met ’n vlugtige soen darem ’n deel van sy broederlike liefde.
“Dis my broer,” sê Kobie trots vir die ander meisies. “Hy’s al ’n dokter! Waar is Fanie?”
Fanie, die dertienjarige broer, het ’n week by Jaap op Stellenbosch gebly.
“Hy is onder by Pa. Hy sal netnou kom.”
“Ag, gaan vra jy tog vir Ma of ons nie na die dans mag kom nie!” pleit Kobie. “Sy sal nie vir jou nee sê nie!”
“Dis hopeloos, ek het al probeer,” sê Jaap. “Ek het vir haar gesê dat ek die lawwe dans nie wil bywoon as ek jou nie daar kan hê nie, maar die antwoord is net ‘nee’.”
“Ag, dis vreeslik!” kla Kobie. “Nou sal jy die hele aand met ’n klomp vreemde vroumense gaan dans en glad nie aan my dink nie!”
“Nee, niks van dié aard nie. Ek sal maar hier by jou bly.”
“Jy kan nie, en jy weet dit goed. Ma sal dit nooit toelaat nie.”
“Nou, kom saam dans toe. Dis mos ’n kostuumdans. Kan jy jou nie so aantrek dat niemand jou ken nie?”
Dis bedoel as ’n grap, maar dis egter genoeg vir Kobie. Sy spring regop van geluk.
“O, wat ’n wonderlike idee!” jubel sy. “Ek het altyd gesê jy is die slimste mens op aarde!”
“Nee, wag!” sê Jaap bang. “Jy het mos nie ’n kostuum nie!”
“Wat? Weet jy nie dat ek al jare lank danslesse neem nie? Ek het omtrent ’n honderd kostuums hier in die huis!”
“O tyd! Wat het ek nou weer gemaak?” steun Jaap. “Ek kan dit nie toelaat nie. Ma sal jou doodmaak as sy dit agterkom.”
“Maar sy sal nie, want luister! Ek weet presies wat om te doen. Ek het ’n Pierrot-kostuum met masker en al! Dit het ’n swart kopdoek, sodat niemand my hare sal sien nie. Wat wil ons beter hê?”
“O, wêreld! Ek het die familie nou weer in die moeilikheid gebring!”
Jaap weet goed dat niks op aarde nou sy waaghalsige sussie sal kan keer nie.
“Ek sal jou as ’n vriendin aan Ma moet voorstel. Dan sal jy natuurlik begin lag en alles verbrou!”
“Nee, jy sal nie, en ek sal nie! Ek sal onder haar oë uitbly.”
“Maar my liewe skepsel, jy is so klein! Niemand sal glo dat jy ’n grootmens is nie, al trek jy ’n honderd kostuums aan!”
“Ek sal van Erika se skoene leen met die yslike hoë hakke,” sê Kobie opgewonde. “Sy het die vreeslikste klein voete op aarde.”
“Jy gaan nie sonder dat jy belowe het om vir ons van die kos te bring nie,” sê Heloise beslis. “Of ek gaan vir Mammie sê!”
“Jou gemene klein bees …”
“Toe, toe! Ek sal sorg dat julle iets kry om te eet,” belowe Jaap. “Maar as Ma van hierdie nag se werk hoor, moet ek maar besluit om twee jaar lank van die huis af weg te bly.”
So gebeur dit dan dat ’n baie klein en fyn jong dame met ’n appelgroen Pierrot-kostuum en ’n masker kort daarna in die danskamer verskyn. Niemand anders dra ’n masker nie, maar vir elkeen wat daarmee spot, vertel sy dat dit ’n deel van haar kostuum is.
“Wie is daardie meisie?” vra mevrou Malan vir haar dogter Erika, wat net toe saam met ’n jong man verbyloop.
Erika is een van die briljantste meisies in die Kaap, maar sy is nie te slim om die geselskap van ’n bewonderende jong advokaat te geniet nie.
“Wie? O, daardie kleintjie met die masker? Dis seker Bettie Theron. Sy is die enigste wat so klein is.”
Gelukkig vir Kobie sit Bettie Theron op die oomblik saam met ’n vriend op een van die banke in die voorportaal en mevrou Malan kan dus nie ’n vergelyking tref nie. Sy is ook te besig om meer belang in die saak te stel, hoewel sy met moederlike gevoel ’n paar maal wonder hoekom Jaap dan die hele aand net met Bettie Theron wil dans. Ander jong mans kom haar nooi, want almal sien baie gou dat sy die beste danseres in die kamer is, maar Jaap is te bang om dit toe te laat, afgesien daarvan dat hy haar nie op haar ouderdom met vreemdelinge wil sien dans nie.
Die aand gaan vir Kobie te vinnig verby. Later neem sy en Jaap ’n groot skinkbord vol kos na die ander kinders.
Jaap voel dankbaar dat alles so goed afgeloop het en raai haar aan om nou maar bed toe te gaan terwyl sy dit nog veilig kan doen. Maar Kobie luister nie. Sy gryp sy hand en trek hom die trap af na waar die dansmusiek en vrolike stemme haar lok.
Maar net toe hulle die danskamer bereik, kom Bettie Theron by ’n ander deur in. Mevrou Malan, wat langs haar man sit, kyk nuuskierig na die ander klein figuurtjie.
“Wie is dan die meisie met wie Jaap hom die hele aand ophou?” vra sy ongeduldig. “Erika het gesê dis Bettie Theron en daar kom Bettie nou in.”
Meneer Malan bekyk Jaap se klein vriendin vir die eerste maal goed en sy hart wil gaan staan. Die manier waarop sy haar kop hou en ’n honderd maniertjies waarvan hy so baie hou, verraai die oortreder aan hom.
Hy staan vinnig op en hardloop byna na Diana en ’n vriend wat met die musiek besig is.
“Diana! ’n Oomblik, my kind!” sê hy so benoud dat hy byna nie die woorde kan uitkry nie.
“Ja, Pappie?”
“Kyk goed, liefling, en sê my die waarheid. Is dit nie Kobie wat met Jaap dans nie?”
Diana kyk gou.
“Nee, natuurlik nie – haai, hemel, ja! O liewe tyd! Het Mammie dit agtergekom?”
“Nog nie,” sê meneer Malan onrustig. “Maar as sy dit weet, sal sy …”
“Ja, sy sal! En dis wat die klein naarheid verdien.”
“Ag, nee, my kind. Dans jy en Rudolf tot by haar en sê vir haar dat ek haar herken het, en dat sy dadelik bed toe moet gaan.”
“Ek sal dit doen, omdat … ek weet regtig nie hoekom nie. Seker omdat Pappie dit wil hê. Sy behoort opgehang te word.”
Maar voor sy en haar laggende vriend die stouterd kan bereik, hou die musiek op en Kobie en Jaap bly reg voor mevrou Malan staan.
Mevrou Malan kom stadig vorentoe. Sy meen dis nou tyd om haar seun se vriendin te leer ken. Sy kan haar nie herinner dat die meisie vanaand aan haar voorgestel is nie.
Lulu en Erika is albei naby; die mooi, donkerharige Ruth is ’n entjie verder weg. ’n Wenk van Diana en ’n gefluister onder mekaar versprei die nuus dat die vreeslike klein Kobie al weer in die moeilikheid is, en op só ’n manier dat die hele huis enige oomblik kan ontplof.
“Jaap!” sê mevrou Malan op die koue toon van ’n ma wat sien dat haar oudste seun moontlik vir die eerste maal verlief is, “stel my asseblief aan hierdie jong dame voor!”
Jaap bly kalm, maar sy oë kyk vir redding na Erika, die intelligentste lid van die familie.
Die hele ding is te veel vir Kobie se senuwees.
Met ’n “O, liewe!” wat haar moet verraai, spring sy en vlug die kamer uit.
Meteens begin die hele familie gelyk praat.
“Stil!” beveel mevrou Malan so skerp dat hulle dadelik gehoorsaam. “Wat makeer julle?”
Lulu kyk senuweeagtig om om te sien of die gaste iets gemerk het.
Diana hardloop gou om nog musiek op te sit.
“E – niks nie, Ma. Ek het net gevra of Ma nie moeg is nie,” sê Erika.
“Kan ek vir Ma iets bring om te drink?” vra Jaap.
“Jy lyk regtig moeg, skat,” sê meneer Malan. “Gaan jy maar slaap; almal sal verstaan.”
“Wat sal hulle verstaan?” vra mevrou Malan minagtend. “Dat ek op die ouderdom van agt-en-veertig nie meer in staat is om tot middernag op te bly nie? Of dat ek nou al van my verstand af is?”
“Nee, nee, natuurlik is jy dit nie, skat!”
“Probeer jy en die kinders dan asseblief om my nie te behandel asof ek van lotjie getik is nie,” is die besliste antwoord. “Julle is meteens so verskrik omdat julle bang is ek sal agterkom wie daardie meisie is. As dit nie te veel is om te glo nie, sou ek byna seker kon wees dat dit Jakoba is, en ek gaan onmiddellik na haar kamer om die waarheid uit te vind. As sy regtig so ’n ding gedoen het, hoef niemand van julle vir haar ’n goeie woordjie te kom doen nie, want dit sal tevergeefs wees.”
Die kinders kyk mekaar verslae en radeloos aan toe hulle ma wegloop.
“Is jy mal, Jaap?” sê Erika ontsteld. “Wat makeer jou om die kind so iets te laat doen?”
Jaap lyk inderdaad baie skuldig.
“Sy wou so graag kom en …”
“Ja, dis heerlik vir jou! Nou draai jy jou daaruit en gaan terug Stellenbosch toe en ons sit daarmee!”
“Dit was baie verkeerd, my seun. Baie verkeerd!” sê meneer Malan.
Dis die naaste aan verwyt wat hy ooit kom, maar sy uitdrukking is so ernstig dat Jaap regtig sleg voel.
“Ek is regtig jammer, Pa. Sal ek haar maar gaan red?”
Maar Kobie se goeie engel waak oor haar.
Toe sy die kamer soos ’n warrelwind instorm, is Allegra nog wakker. Die ander twee meisies slaap al vas. Elke Malan het ’n kamer groot genoeg om drie vriendinne by haar te laat slaap.
“Wat makeer?” vra Allegra toe Kobie die kamer so vinnig binnestorm.
“O maggies! Ek dink Mammie het my herken! En ek het reeds so ’n vreeslike hoofpyn dat ek tweehonderd aspiriene wil drink – of het mens tweeduisend nodig om jou dood te kry? O aarde, hier kom sy!”
Te verskrik om eens te weet wat sy doen, trek sy die kopdoek af en spring in die bed met kostuum, skoene en al.
Toe haar ma die deur oopgooi en die lig aanknip, is net ’n bondel krulle op haar kussing te sien. Maar Allegra sit nog penorent en dis te laat vir haar om te maak asof sy slaap.
Mevrou Malan kyk agterdogtig in die kamer rond.
“Was een van julle meisies uit die bed?” vra sy skerp.
“Mevrou?” sê Allegra so bewerig dat sy byna nie kan praat nie.
“Was Jakoba die hele tyd hier?”
Dit lyk of sy Kobie sommer net daar uit die bed wil sleep.
“M-mevrou …” stotter Allegra terwyl sy wonder waar sy die moed vandaan kry, “sy het … sy het gesê dat sy hoofpyn het en dat sy aspiriene gaan drink. Ek weet nie of dit twee of tweehonderd was nie.”
“Onsin! Sy sal nooit tweehonderd aspiriene drink nie,” sê mevrou Malan. “Sy het my nie gesê dat sy siek voel nie.”
“U was so besig, Mevrou,” sê arme Allegra verleë.
Mevrou Malan skakel die lig af en verlaat die kamer, bly dat sy nie op hierdie uur van die nag so ’n swaar oortreding met Kobie moet bespreek nie.
Toe sy onder kom en die familie meedeel dat die klein vreemdeling nie Kobie was nie, is hulle so verlig dat hulle byna flou val.
“Ma het my haar nie eens laat voorstel nie,” sê Jaap verwytend. “Dis ’n groot vriendin van my.”
“Ek wil glad nie weet wie dit is nie,” sê sy ma beslis. “Sy sit nooit weer ’n voet in hiérdie huis nie. So ’n onbeskofte, onopgevoede mens!”
“Goed, Ma,” sê Jaap onderdanig. “Ek sal nou moet ry. Ons het môre vroeg ’n operasie.”
Erika loop saam met hom deur toe waar sy pa wag om hom te groet.
“Jou karnallie!” sê sy nou heeltemal vrolik aangesien die gevaar verby is. “Hemel! Dit was nou naby! En jy moet ook weet dat ek vroeër die aand kombuis toe gegaan het en daar kry ek die ellendige klein Fanie besig om kos te steel. Ek het hom ’n paar goeie klappe teen die kop gegee en bed toe gestuur. Dis vreeslik hoe swaar ons onder die jonges kry.”
“Dis darem gelukkig dat dit so goed afgeloop het,” sê Jaap. Hy kyk sy pa ’n bietjie skaam aan. “Ek is regtig jammer, Pa. Dis was regtig simpel van my.”
“Toe maar, my seun. Moet tog nie weer so lank wag voor jy ons kom opsoek nie,” sê meneer Malan.
Hy skud Jaap se hand en stuur hom gelukkig weg.
Op die boonste verdieping is Kobie ook doodgelukkig terwyl sy gou die kostuum bêre en haar pajamas aantrek.
“Maggies, dit was nou amper!” sê sy. “Allegra, jy het wonderlik opgetree. ’n Mens sou sê dat jy jou lewe lank aan Ma gewoond is!”
Elsabe het wakker geword van die gepraat.
“Ék sou dit nooit reggekry het nie!” sê sy met bewondering. “Dit was regtig goed, Allegra.”
Allegra voel baie trots.
“Ag, dit was niks nie!” sê sy skamerig.
“Ja, dit was!” sê Kobie beslis. “Wag ’n bietjie! As dit eendag nodig is, sal ek jóú help. Moenie vergeet nie.”
Die deur gaan oop en vier verwytende groot susters staan daar.
“Jou miserabele klein dierasie!” sê Diana.
“Jou klein onkruid!” is Lulu se verwyt.
“Ek sal jou nou iets gee om jou te laat dink!” sê Erika beslis.
“Regtig, Kobie, dit was te erg van jou!” sê die sagmoedige Ruth, die jongste van die vier. Sy is tog te bly dat sy nie meer op Maasdorp is sodat sy vir Kobie en Heloise verantwoordelik is nie.
“Haai, nee, loop! Ek sal vir Pappie roep!” skree Kobie terwyl Erika skoen in die hand dreigend nader kom.
Lag-lag probeer sy haar verdedig, maar Erika trek die komberse af en kry dit reg om haar onder gelag en geskree ’n paar goeie houe te gee voordat mevrou Malan ontsteld die kamer binnekom.
“Meisies, wat makeer julle? Erika, wat maak jy daar?”
Erika laat die skoen val asof dit ’n vuurrooi stuk steenkool is.
“E … ons speel sommer, Mammie,” sê sy met ’n moorddadige kyk na Kobie.
“Skaam julle, om op julle ouderdom na die kleintjies se kamer te kom en hulle wakker te maak,” verwyt haar ma. “Dis kinderagtig, om die minste daarvan te sê. Gou hier uit, al vier van julle.”
Kobie lê agteroor en lag terwyl haar groot susters verleë die kamer verlaat.
Haar vreugde word gedemp toe haar ma die toestand van die kamer gewaar. Toe mevrou Malan vroeër ingekom het, was sy te verstrooid om dit te sien.
“Jakoba! Hoe durf jy bed toe gaan terwyl al jou goed nog op die vloer lê?” vra sy. “Dis verskriklik. Ek is hierdie gebrek aan netheid wel ná die lang vakansie gewoond, maar nie na skaars tien dae by die huis nie.”
“Maar Mammie, ons het mos ’n nuwe uniform,” sê Kobie. “Dis hoekom ons nou weer so baie het om te pak. Is dit tog nie gaaf van die hoof om ons ’n nuwe uniform te laat kry nie? Ons was almal so moeg vir die ou rokke.”
“Stil! Lê dadelik en slaap!” beveel mevrou Malan. “Julle sal môreoggend glad nie kan opstaan nie.”