Читать книгу Allegra op Maasdorp - Stella Blakemore - Страница 4
2
Оглавление_____________
’n Ongelukkige eerste dag
Die volgende oggend is die Maasdorp-meisies te opgewonde om laat te slaap. Baie vroeg is hulle op pad.
Die motor is vol gelaai. Allegra en Kobie sit voor by meneer Malan en die ander agter. Die hele pad hou die gebabbel nie ’n oomblik op nie en voor hulle Maasdorp bereik, weet Allegra al byna alles van haar nuwe maats en die skoollewe.
Eindelik sien hulle die skool voor hulle. Hulle kry eers ’n groot hek; dan ry hulle nog ’n hele ent langs ’n eikelaan en daar lê die yslike skoolgebou. Aan die regterkant is die tennisbane en die ander sportvelde. Die swembad se water blink en groen gras groei welig om die rand.
Dis alles so groot en mooi dat Allegra byna bang word. Haar vorige skool lyk glad nie so nie.
Die motor hou voor die groot deur stil en almal klim uit. “Ek wonder hoeveel maal het ek al hiernatoe gekom,” sê meneer Malan terwyl hulle die trap oploop. “Weet julle, kinders, dis meer as vyftien jaar gelede dat ek Diana gebring het. Sy was toe kleiner as jy, Heloise.”
Kobie en Heloise antwoord nie. Hulle begin nou al treurig voel omdat hulle van hul pa afskeid moet neem. Kobie hang aan sy arm en Heloise hou sy hand vas; so gaan hulle die gebou binne.
Binne is alles ruim en lig, met die skoon reuk van vloerpolitoer. ’n Groot trap lei na bo en daar is so baie deure dat Allegra skoon benoud voel.
“ ’n Mens raak baie gou gewoond aan alles,” sê Elsabe, wat hierdie gevoel van die eerste dag ken. Sy het toe sy die eerste maal hierheen gekom het net so benoud gevoel.
Allegra kyk haar met ’n verleë glimlag aan.
“Ja,” sê sy onseker, “maar op die oomblik voel ek snaaks. Dis asof ek g’n maag het nie. Ken jy die gevoel?”
“O ja. Dis ’n gekriewel en ’n mens voel ’n bietjie naar. Maar dit gaan gou oor.”
’n Koshuispersoneellid verskyn en meneer Malan word na die kantoor geneem om die hoof te gaan groet. Toe hy uitkom, neem hy vinnig van almal afskeid. Hy kry altyd swaar om sy dogters te laat agterbly.
Kobie en Heloise is nog met hul sakdoeke besig toe die personeellid kom sê dat die hoof hulle wil sien.
Almal gaan na die kantoor aan die sykant van die voorportaal.
Allegra dink dat “kantoor” nie die regte naam vir hierdie mooi kamer met die saggekleurde tapyt en gordyne is nie. Net die groot skryftafel, vol stapels briewe en papiere, wys dat hier gewerk word.
Agter die tafel sit ’n dame wat nou opstaan om hulle te groet. Sy is pragtig en elegant aangetrek. Haar helder oë kyk jou seker en beslis aan, en haar mooi bruin hare toon nie die geringste van grys nie. Sy verskil in baie opsigte van Allegra se vorige hoof.
Sy groet eers die nuwe meisie en toe die ander.
“Ons hoop dat jy gelukkig sal wees, Allegra,” sê sy goedig. “Die ander meisies sal nie voor vanmiddag hier wees nie, maar net langsaan by ons buurman, meneer Van Velde, is sy aangenome dogter, Santa du Toit. Sy is in jou klas, al is sy maar twaalf. Sy sal seker oorkom sodra sy weet dat van die meisies hier is. Intussen sal Kobie jou help. Kobie help in die laaste tyd baie mooi.”
Kobie lyk baie tevrede. Al is sy ook hartseer oor haar pa se vertrek, is sy bly om weer op Maasdorp te wees.
“En Elsabe, hoe gaan dit met jou? Het jy die vakansie geniet?”
“Ja, dankie, Juffrou.”
“En Carla? Hoe was dit op die plaas?”
“Dit was lekker, baie lekker,” sê Carla diep en warm en met meer lewe as gewoonlik. Haar liefde vir haar pa is opnuut gewek en sy straal nog met die gloed daarvan.
“Nou, dis mooi. Heloise!” Die hoof stoot die krul liefderyk van die kleintjie se voorkop weg. “Gaan jy nou ’n soet dogter wees?”
“Ja, Juffrou,” belowe Heloise terwyl haar ernstige grys oë soet na die hoof opkyk.
“Ek hoop dit tog van harte! Jy en Breggie het alte veel moeilikheid die laaste tyd veroorsaak. Ek wil julle nie weer straf deur julle net twee dae van die vakansie tuis te laat deurbring nie.”
Allegra begin na Breggie se aankoms te verlang. Van gisteraand af het Heloise van niks anders gepraat nie, en Kobie het haar verseker dat die twee kleintjies, en veral Breggie, die twee “grootste klein duiwels” in die skool is. Maar sy sal tot laat die middag moet wag om Breggie te sien, want sy kom met die trein van die Kaap af.
Intussen het sy baie om te doen. Kobie neem haar eers na die graadneges se slaapkamer. Dis ruim en gerieflik met beddens, tafels en klerekaste. Langs elke bed is ’n wasbak met warm en koue water, en daar is gordyne wat toegetrek kan word as iemand ’n bietjie privaat wil wees.
“Ag, hierdie dierbare ou kamer!” sug Kobie. “Net verlede jaar was ek hierin! Toe was die lewe nog heerlik, sonder verantwoordelikhede en kommer. Nou is ’n mens so soet dat jy jouself byna nie meer ken nie.”
Met die gedagte aan wat die vorige aand gebeur het, kan Allegra nie glo dat Kobie regtig so soet is nie. Sy het haar hoed afgehaal en haar krulle staan van pure lewenslus regop, terwyl haar oë soos juwele vonkel.
Sy gaan sit op Allegra se bed.
“Dis nie ’n slegte spul in hierdie graad nie,” troos sy. “Susie en Santa en Salie Celliers is almal gaaf. Lona en Bettine Strydom ook. Natuurlik is hulle nie soos óns was nie! Ons was maar ’n kwartaal in die klas, maar ons het so baie pret gehad dat jy dit nie sal glo nie. Ek is eenkeer byna weggestuur.”
Allegra kyk haar verwonderd aan. Hoe kan ’n mens op so ’n onverantwoordelike manier van so iets vreesliks praat?
“Wat het jy gedoen?” vra sy.
“O, nie veel nie. Sommer in die nag uitgegaan om lekkers te koop.”
Allegra voel byna teleurgesteld.
“O. Jy het niks … niks oneerliks gedoen nie?’
“Nee, natuurlik nie,” sê Kobie so beslis dat Allegra sommer hopeloos voel. Wat sal Kobie sê as sy die waarheid weet?
“Ek het nie geweet ’n mens kan weggestuur word net omdat jy lekkers gaan koop nie,” sê sy.
“Nee, maar ek het in die nag gegaan en Wessie was vreeslik kwaad, want sy meen dis te gevaarlik. Ek moes belowe om dit nooit weer te doen nie.”
’n Meisie van so twaalf jaar, met kort swart hare en donker oë, kom die kamer binne.
“Hallo,” sê sy sku, maar sonder twyfel baie bly om Kobie te sien.
“Hallo, Santa. Kyk, hier het jy ’n nuwe maat, Allegra Bredenkamp. Sal jy haar ’n bietjie oppas terwyl ek na my eie kamer gaan?”
“Ja, natuurlik, Kobie.”
Santa sal enigiets doen wat Kobie wil hê. Totdat sy verlede jaar Maasdorp toe gekom het, was sy byna haar hele lewe lank in meneer Van Velde se weeshuis. Toe het hy haar aangeneem en hier op skool geplaas. Van die begin af was sy baie lief vir Kobie, en in ’n lewe wat nie baie ryk aan liefde was nie, was die gevoel vir haar iets kosbaars.
“Daar is nog ’n ander nuwe meisie,” sê sy. “Ek het haar in die voorportaal gesien. Sy lyk omtrent veertien, en as dit die geval is, sal sy seker na hierdie kamer moet kom.”
“Dan sal jy na die twee moet kyk,” sê Kobie. “Kom maar alleen reg, terwyl ek gaan kyk wat Carla maak. Heloise is hier iewers.”
“O, ek moet haar later gaan soek,” sê Santa opgeruimd.
Met Heloise en Breggie is sy groot maats, want dis aan hulle te danke dat sy uit die weeshuis geneem is. Meneer Van Velde is baie gek na die Maasdorp-meisies en veral na Breggie. Hy het eenkeer gevra of party van die kleintjies met die weeshuis se kinders mag gaan speel. Daar het Breggie en Heloise Santa leer ken en meneer Van Velde vertel hoe slim sy is en hoe sy ’n goeie opvoeding wil hê, sodat sy eendag ’n skrywer kan word.
’n Koshuispersoneellid verskyn met Allegra se bagasie.
“Dis gaaf,” sê Santa. “Ek sal jou help uitpak, met hierdie klein koffers ten minste. Jou groot trommel word na die linnekamer geneem en Matrone ondersoek dit daar. O, jy het mooi hare!”
Allegra het haar hoed afgehaal en haar krulle dans in die koel windjie wat deur die oop venster inkom.
“Hoekom het jy so vroeg al gekom?” vra Santa.
“Ek het die nag by die Malans deurgebring en meneer Malan moes vroeg inry om nie te lank uit sy kantoor weg te wees nie.”
“Jy’s gelukkig!” sug Santa. “Ek was in die Desembervakansie by hulle op Muizenberg en dit was heerlik! Is Kobie nie mooi nie?”
“O ja!”
“Sy’s die gewildste meisie in die skool en as sy van jou hou, sal jy ’n aangename tyd hê.”
Allegra is bly en dankbaar. Na so baie weke van verdriet, lyk dit regtig asof die wolke ’n bietjie wegtrek. Dis jammer dat al die onderwyseresse van haar oortreding weet, maar daaraan kan sy niks doen nie. Sy sal sorg dat sy so min moontlik met hulle in aanraking kom. Solank die meisies dit nie weet nie, sal sy seker gelukkig wees.
Sy het albei haar koffers oopgemaak en Santa help haar om alles op die regte manier te bêre terwyl sy haar van die skool en die meisies vertel. Allegra word al hoe opgeruimder. Dit lyk of dit ’n heerlike, vrolike lewe gaan wees.
Skielik gaan die deur oop en die ander nuwe meisie begelei deur Matrone kom die kamer binne.
“Santa, ek is bly om jou te sien,” sê Matrone. “Jy kan hierdie kinders alles mooi wys.”
Sy merk nie dat Allegra spierwit geword het en dat haar oë soos twee kole brand nie.
“Wat is jou naam, kind?” vra sy vir haar.
Allegra kyk Matrone aan asof sy nooit ’n woord sal kan uiter nie. Die ander nuwe meisie, wat ’n aantreklike gesig en kort ligte hare het, lyk byna nog meer in die nood.
“Dis Allegra Bredenkamp, Matrone,” sê Santa toe sy Allegra se gesigsuitdrukking sien.
“O ja. Nou, Allegra, jy moet leer om te antwoord, al voel jy aanvanklik skaam.”
Dis Matrone se gewoonte om ’n bietjie skerp te praat. Die meisies wat haar goed ken, weet al dat sy niks daarmee bedoel nie. Maar Allegra beskou dit as die manier van iemand wat van haar verlede weet. Die onderwyseresse weet mos almal daarvan. Haar suster het gesê dat meneer Malan hulle vertel het sodat hulle haar kan dophou.
Die meisies weet egter niks daarvan nie. Maar Marguerite sal hulle natuurlik vertel! In haar ontstelde toestand sien sy nie dat Marguerite ook geskrik het nie. Sy is seker dat die ander meisie opsetlik na hierdie skool gekom het om haar te verkleineer.
Die waarheid is dat Marguerite nooit aan so ’n moontlikheid gedink het nie. Sy deins terug voor die uitdrukking in Allegra se oë.
“Dis Marguerite Beyers,” sê Matrone, wat totaal onbewus is van die spanning tussen die twee nuwe leerders. “Hier kom jou goed nou, Marguerite. Pak gou uit en kom dan na die linnekamer sodat ons jul trommels kan ondersoek.”
Sy gaan uit en laat Santa staan by twee mense wat mekaar baie vyandig aankyk.
Allegra is natuurlik die woedendste. Marguerite lyk meer bang as kwaad. Ná ’n oomblik draai sy weg en gaan na die bed waarop haar koffers neergesit is. Sy haal haar hoed af en trek haar jas uit en omdat sy nie weet wat om te doen nie, begin sy haar hande was.
“Jou goed is nou klaar, Allegra. Ek sal met Marguerite s’n begin,” sê Santa ewe behulpsaam.
Allegra is regtig in ’n moeilike posisie. Op die oomblik is sy geneig om alles as ’n belediging te beskou. Sy meen nou dat Santa skielik meer van Marguerite as van haar hou. Sy kyk Santa kwaad aan.
“Dis goed. Maak soos jy wil. Ek gee nie om nie.”
Marguerite hoor die woede in haar stem en kyk haar waarskuwend aan. Allegra sien dit en vererg haar opnuut.
“Ek sal maar loop, dan kan julle net soveel van my skinder soos julle wil,” hakkel sy en vlug die kamer uit. In die gang loop sy haar in ’n onderwyseres vas.
Dis ’n mooi vrou met ’n fyn gesig en kalm oë. Sy is verplig om Allegra vas te hou sodat hulle nie albei val nie.
“Dis gevaarlik om so te hardloop,” sê sy koud. “Het jy nooit geleer dat ’n mens in ’n huis op ’n fatsoenlike manier moet loop nie? Wat is jou naam?”
“Allegra Bredenkamp.”
Juffrou Muller verwonder haar aan die ontevrede meisie. Danksy jare se ondervinding ken sy kinders baie goed, en as ’n mens na hierdie een se voorkoms moet oordeel, behoort sy vrolik en vriendelik te wees. Sy hoop van harte dat dit nie weer ’n moeilike geval is nie. Die personeel het die vorige kwartaal genoeg moeite met Carla gehad.
Hierdie kind lyk inderdaad asof sy iets makeer. Haar hele uitdrukking is nors en bang.
“Waarheen wou jy gegaan het?” vra sy.
Allegra lyk verward.
“Ek … ek weet nie.” Sy onthou skielik. “Iemand – ek dink dis die matrone – het gesê dat ek na die linnekamer moet gaan.”
“Kom dan. Ek sal jou die pad wys.”
Terwyl hulle die gang afloop, bekyk die onderhoof die nuwe leerder sonder dat Allegra dit agterkom. Met daardie krulle en groot blou oë behoort die kind baie mooi te wees. Wat makeer haar dan dat sy met sulke swaar, slepende voete loop in plaas van lig en dansend soos ’n mens van haar sal verwag?”
Nadat hulle feitlik om die hele gebou geloop en nog ’n trap opgegaan het, maak juffrou Muller ’n deur oop.
“Hier is die linnekamer,” sê sy.
Matrone is besig om Marguerite se goed uit te pak.
Allegra wil ingaan toe die onderwyseres haar keer.
“Het niemand jou geleer om dankie te sê nie?” vra sy.
“Dankie,” mompel Allegra.
Juffrou Muller sug. Sy het nie lus om so vroeg in die kwartaal met dissipline te begin nie. Sy het darem haar plig.
“ ’n Mens praat nie so nie. Sê ‘dankie, Juffrou’.”
Allegra gehoorsaam, maar so nors en onwillig dat Matrone haar stip oor haar bril aankyk.
“Moet tog nie sê dat ons weer ’n parmantige, onopgevoede meisie ingeneem het nie! My hande is reeds vol. Wat makeer jou, kind?”
“Niks nie,” is die nors antwoord.
“Niks nie, Mevrou,” vermaan Matrone. “Ek het ’n goeie straf vir mense met slegte maniere. Dis om stoflappe om te soom. Ek het dit verlede kwartaal ontdek en dit gee baie goeie resultate.”
“Niks nie, Mevrou,” sê die kind op ’n manier wat byna ’n belediging is.
Die onderhoof laat die saak aan Matrone oor. Wat daardie dame nie van moeilike kinders weet nie, is nie die moeite werd om te leer nie.
Matrone is verstandig en sy sien dat hierdie kind meer ongelukkig as nors is.
“Kom,” sê sy sonder om verder oor parmantigheid te praat. “Ons sal met jou trommel begin, en die ander kind s’n laat staan tot sy kom.”
Toe sy Allegra se trommel oopmaak, staan sy verstom. Sy is gewoond dat die meisies se ma’s hul trommels pak sodat dit netjies is. Hierdie een lyk egter soos ’n hoendernes.
“Wat op aarde beteken dit? Wie het hierdie trommel gepak?”
“Ek, Mevrou.”
“Het niemand jou dan gehelp nie?”
“Nee, Mevrou.”
“So! Wat het jou ma dan gemaak?”
“Ek het nie ’n ma nie,” sê Allegra baie bitter.
“Wie sorg dan vir jou?”
“My suster en haar man, Mevrou.”
Matrone se handelswyse is altyd goed. In plaas van simpatie te wys, praat sy effens skerp.
“Dan moet jy jou beter as die ander meisies gedra – nie slegter en onmanierliker nie. Anders sal die mense sê dat jou suster en swaer nie behoorlik vir jou sorg nie en dit sou verkeerd wees, want dis baie goed van hulle om jou van alles te voorsien.”
Hier is die nare dankbaarheid al weer!
“Ja, Mevrou,” sê Allegra darem om verdere moeilikheid te vermy.
Sy glo dat al die onderwyseresse haar veroordeel. Noudat Marguerite hier is, sal dit nie te lank duur nie of die meisies sal dit seker ook begin doen. Die droom van geluk wat sy kort tevore gehad het, is dood. Sy staan mismoedig daar en luister sonder belangstelling terwyl Matrone nog met haar oor die slordigheid van die trommel raas.
Eindelik is alles klaar en kan sy die klere na haar kamer neem. Toe sy met die eerste stapel daar aankom, sit Santa en Marguerite op een van die beddens en gesels.
“Was jy al by Matrone, Allegra? Dan moet Marguerite ook gaan,” roep Santa en probeer om weer vriendelik te wees.
Allegra antwoord nie. Sy gooi haar goed op so ’n manier in ’n laai dat dit haar weer ’n streng berisping sal laat kry as Matrone die kaste later kom ondersoek.
Toe gaan sy, gevolg deur die ander twee, weer linnekamer toe. Hulle ontmoet mekaar net toe sy daar uitkom.
Santa gaan in, maar Marguerite bly ’n oomblik staan.
“Allegra!” sê sy benoud.
“Loop, ek praat nie met jou nie.”
“Maar luister! Dis dom om so aan te gaan. Jy sal self die hele ding weggee. Verstaan tog dat ek nooit vir iemand sal sê wat jy gedoen het nie.”
Marguerite bedoel dit goed, maar sy druk dit verkeerd uit. Haar grootste begeerte is om weer met Allegra vriende te wees. Sy is bitter jammer dat sy haar die eerste keer so met afkeer en verwyt aangekyk het, maar dit was omdat sy self so geskrik het. Maar dit lyk regtig of sy die vriendskap daarmee die doodsteek gegee het, want Allegra kyk haar net met die bitterste haat aan.
Allegra kan inderdaad niks meer verdra nie. Sy laat val alles wat sy in haar hande het en gee Marguerite ’n taai klap teen die gesig sodat sy struikel en byna val. Matrone kom vinnig uit die kamer gestap toe sy Marguerite se onwillekeurige uitroep hoor.
Die rooi merk op Marguerite se wang en Allegra se houding verraai wat gebeur het.
“Het jy hierdie meisie geslaan?” vra Matrone ontsteld.
“Ja, ek het,” sê Allegra deur haar tande.
“Jou onhebbelike meisiekind! Hoe durf jy so iets doen?”
“Hoe durf jy my so uitskel?” bars Allegra uit.
’n Paar maande gelede sou sy nooit so iets gesê het nie, maar op die oomblik is sy regtig nie heeltemal normaal nie.
“Kyk hier, juffroutjie,” sê Matrone, wat nou self baie kwaad is, “om so met ’n onderwyseres te praat, is genoeg rede om op die daad weggestuur te word. Juffrou Van der Westhuizen sal jou nie ’n dag hier hou nie. Jy kom dadelik saam na haar toe.”
Allegra kyk om haar asof sy nie regtig weet wat gebeur het nie. Sy besef nou dat dit te laat is, dat sy te ver gegaan het. Sal hulle haar regtig wegstuur? Dit mag tog nie! Na wat by haar ou skool gebeur het, sal sy die skande nie oorleef nie!
Sy word wild van vrees.
“Ek haat jou! Dis alles jou skuld!” skreeu sy vir Marguerite. “Ek het jou nog nooit iets aangedoen nie. Hoekom kon jy my nie met rus laat nie?”
Voor iemand haar kan keer, storm sy die gang af.