Читать книгу Kobie en die wonderkind - Stella Blakemore - Страница 3

1

Оглавление

_____________

Kobie in die knyp

“Lena! Haai, Lena! Bring jy dan nooit vandag my koffer nie? O, eindelik! Hier … nee, op hierdie groot stoel. Ek word nou te oud om so krom te buig.”

“Ag wat, Kobie!” lag Lena. “So ’n klein meisietjie!”

“Klein meisietjie, watwou! Ek is glad nie klein nie. Ek is al vyftien en dis ’n baie hoë ouderdom, weet jy! Heloise!” skree sy vir haar klein sussie, wat net by die oop deur verbyloop.

“Wat is dit?” vra Heloise versigtig. As Kobie met iets besig is, moet almal altyd kom help.

“Het jy jou goed bymekaar gesit sodat Ruth dit kan inpak?”

“Ja, sy is nou daarmee besig.”

“En waar is my sakdoeke wat jy geleen het?”

“Ek … waar … sakdoeke …” sê Heloise verbouereerd. “Ja, sakdoeke!”

Kobie stoot haar krulle agtertoe en gaan staan streng voor haar sussie.

“Op Muizenberg was dit elke dag een. Ek wag nog dat jy hulle teruggee.”

“Het ek hulle dan nog nie teruggegee nie, Kobietjie?” vra Heloise verleë.

“Nee, jy het nie. Sorg net dat hulle nie ingepak word nie, jou klein dief!”

“Ek is nie ’n dief nie!”

Heloise word rooi van woede.

“Gee dan my sakdoeke!”

“Ek het hulle nie! Ek … ek het hulle verloor, of iets.”

“Of iets! Nou ja, gaan haal dan van joune vir my. Haal uit, of ek sal vir ma gaan sê.”

Heloise stamp met haar voet. Sy en Kobie is baie lief vir mekaar, tog kan hulle lekker baklei.

“Jy’s gemeen, Kobie! Verlede kwartaal het jy met jou slimstreke by Mammie witvoetjie gesoek en nou wil jy niks anders doen as om ons by haar te gaan verklik nie!”

“Ja, dis waar!” sê ’n derde stem.

Ruth, wat sewentien is, gaan oor ’n paar weke vir die eerste maal universiteit toe. Sy staan in die deur en kyk haar twee susters aan.

“Ma was verlede kwartaal baie in haar skik met jou. Jou gedrag het heelwat verbeter, maar die verskriklike manier waarop jy oor Heloise baasgespeel het, is net te erg.”

“Ja, jy kan maklik praat,” sê Kobie beledig. “Jy weet goed jy sou nooit die Joubertbeurs gewen het as ek nie agter jou gestaan het nie!”

“Al wat ek kan onthou, is dat jy vreeslik parmantig was,” sê Ruth uit die hoogte. “En die hele huisgesin word nou moeg daarvan dat jy met elke ou dingetjie wat Heloise of Fanie verkeerd doen na Ma hardloop. Ons het verlede kwartaal ’n ruk lank gedink dis snaaks toe jy gesê het dat jy die familie wil regeer; nou is dit te erg. Dis glad nie snaaks om ’n onderduimse klein verklikker te wees nie.”

Kobie is diep seergemaak.

“Jy is ’n mooi een om te praat! Jy weet net so goed as ek dat Ma genoeg van ons gehad het! Sy sou ons beslis van Maasdorp af weggeneem het as Heloise net iets verkeerds gedoen het en jy sou nie universiteit toe kon gaan nie. Ma het mos vir jou gesê jy moet ’n plan maak om ons in toom te hou, en jy weet goed jy sou dit nooit kon gedoen het nie. Ek het dit darem reggekry!”

“Ja, maar moenie vra hoe nie! Jy met jou ewige verklikkery!”

“Ja, jy het! Ou lang tong!” spot Heloise. Met Ruth aan haar kant voel sy dapper genoeg om Kobie te laat deurloop.

“Dit lieg jy!” skree Kobie op ’n manier wat mens nie van haar sal verwag nie. “Ek het jou nooit verklik nie. Ek het net gesê ek sal!”

“Dis net so gemeen,” sê Ruth.

“Ja, dit is!” lag Heloise. “Ou lang tong! Ou lang tong!” Sy steek haar tong uit en spring op haar vet beentjies rond.

Kobie is rasend kwaad. Sy tel haar hand op om Heloise ’n klap te gee, maar voor sy iets kan doen, gryp Heloise ’n handvol van haar goue krulle.

“Eina! Los my, jou klein bees!”

Die twee rol naderhand op die vloer soos hulle stoei.

Ruth staan verstom.

“Kobie! Heloise!” pleit sy tevergeefs. “Hou tog op! Julle kry sowaar vandag pak! Is julle dan mal?”

Sy probeer om hulle van mekaar weg te trek, maar hulle klou soos twee tierkatjies vas.

Iemand kom die groot trap op, maar die drie meisies is te besig om iets te hoor. Dis eers toe hul ma se koue stem tot hulle deurdring dat hulle haar gewaar.

“Jakoba! Heloise! Wat beteken dit? Ruth, kan jy nie die twee keer nie?”

Daar het jy dit al weer! dink Ruth bitter. Ek wonder wie die klein duiweltjies sal kan keer!

Maar sy durf nie so iets vir haar ma sê nie.

“Dit spyt my baie, Ma,” sê sy verleë. “Ek … ek weet nie wat makeer hulle nie.”

Die twee staan nou ’n paar treë weg van mekaar, maar hulle lyk woedend. Kobie se kouse is vol gate en die soom van Heloise se kort rokkie is byna afgeskeur.

“Jakoba,” sê mevrou Malan. “Ek is bitter teleurgesteld! Bitter!”

Haar ma se diep stem en verwytende woorde laat Kobie besef dat sy vir die eerste keer in baie maande weer in die moeilikheid is.

“Ek het gehoop dat jou gedrag aan die verbeter is. Jy was in die laaste tyd regtig ’n groot plesier. Wat beteken dit dat ek jou en Heloise nou so kry?”

“Dis … dit was sommer … ons het gespeel,” mompel Kobie.

“Moet jy dan nog vir my jok, Jakoba? Ek het die bakleiery gehoor. Dit was beslis nie speletjies nie!”

“Nou ja … dit was …”

Vir die eerste keer tref dit Kobie hoe maklik sy die afgelope tyd iemand verklik. Sy was op die punt om vir haar ma te vertel wat gebeur het! Maar ná Ruth se woorde voel sy regtig ’n bietjie skaam.

“Heloise het my kwaad gemaak – dit was nie eintlik haar skuld nie – dit was ons albei s’n.”

“Of sy jou kwaad gemaak het of nie, waar het jy ooit gehoor dat meisies mekaar slaan en skop omdat die een die ander teëgaan? Hoe sal dit wees as ek en mevrou Bosman so maak wanneer ons oor een of ander saak verskil?” Mevrou Malan praat asof sy die voorsitter van ’n vergadering is.

Dit is net te veel vir die meisies. Mevrou Bosman is so groot soos hul ma en net so sedig en bedaard. As hulle twee so op die vloer sou rol … Eers begin Ruth, toe Kobie en dan, bang en half snikkend, Heloise onwillekeurig giggel.

“Kinders!” sê mevrou Malan kwaai. “Hoe durf julle lag terwyl ek met julle praat? Hou dadelik op!”

Een ná die ander hou die meisies op met lag.

“Dis maar ’n goeie ding dat julle twee kleintjies môre teruggaan skool toe. Maar dit lyk my daar word julle nog stouter!”

Mevrou Malan dink nog altyd dat die dissipline op Maasdorp nie streng genoeg is nie. Al haar ouer dogters was ook daar op skool. Volgens haar word Kobie baie bederf. As meneer Malan hom nie oor hulle ontferm het nie, was Kobie en Heloise seker lankal daar weggeneem.

“Hoe julle julle ook al op skool mag gedra, julle doen dit nie in my huis nie! Ek hou nie daarvan om julle die dag voor julle teruggaan skool toe te straf nie, maar dit is my plig. Heloise, gaan was jou hande en gaan oefen vir twee uur! Stil en moenie teëpraat nie.”

Heloise wil glad nie praat nie. Sy is maar te bly dat alles so maklik afgeloop het. Sy gaan badkamer toe, was haar hande en kam haar hare. Dan hardloop sy so gou moontlik af na die sitkamer toe.

“En jy, Jakoba,” gaan mevrou Malan voort, “pak jou klere klaar in, en dan gaan jy reguit bed toe.”

Kobie gee ’n wilde gil.

“Maar, Ma … vanaand is mos die konsert!”

“Ek weet dit goed. Juis daarom stuur ek jou vroeg bed toe.”

“Haai, nee!”

Kobie vergeet van al haar vrees vir haar ma.

“Ma kan nie so iets doen nie! Ons was tog nie so stout nie! Ma kan my op enige ander manier straf, maar moet my tog net nie van die konsert weghou nie!”

Musiek is omtrent die enigste ding in die wêreld wat Kobie genoeg moed sal gee om so te praat.

Ruth ys as sy dink wat nou gaan gebeur. Sy mompel binnensmonds: “Nou is dit klaarpraat! Ma kry op die daad ’n beroerte!”

Mevrou Malan word rooi van woede, maar sy kry nie die verwagte beroerte nie, al is dit feitlik die eerste maal dat een van haar kinders dit waag om teë te praat.

“Stil jy, dadelik! Die dag dat een van julle vir my sê wat ek mag of nie mag doen nie, moet nog aanbreek. Gaan dadelik kamer toe en wees dankbaar dat ek jou nie ’n goeie pak gee nie!”

Kobie storm haar kamer binne en val op haar bed neer. Sy huil asof die wêreld vergaan. Ruth luister gehoorsaam na haar ma se laaste opdragte. Dan stap mevrou Malan die trap af na die sitkamer om te kyk of Heloise regtig oefen.

Heloise is glad nie musikaal nie. Dis eintlik snaaks, want al die Malans toon ’n besliste aanleg vir musiek. Kobie is volgens haar onderwyser, meneer Claudius de Villiers, een van die knapste leerlinge wat hy nog ooit gehad het. Almal weet hoe sy ’n jaar gelede, kort ná haar veertiende verjaardag, saam met ’n groot orkes gespeel het. Min mense sal glo dat die malkop Kobie ’n genie is, maar meneer De Villiers is daarvan oortuig dat die hele Suid-Afrika nog eendag van haar sal hoor. Dis daarom verstaanbaar dat sy nie van die konsert wil wegbly nie.

Toe Ruth die kamer binnekom, is Kobie in ’n jammerlike toestand.

“Haai, nee wat! Hou tog op! Jy sal stik!” soebat Ruth. “Ek is tog te bly ek gaan universiteit toe, want ek is nou siek en sat vir jou en Heloise se twak! Julle doen altyd die domste dinge en as julle gestraf word, moet ek regstaan om julle oë af te vee en salfies aan die wonde te smeer! Dis nou klaar! Wat help dit om te huil?”

Kobie kyk woedend op van haar nat kussing.

“Jy kan maklik praat! Jy begryp nie wat musiek vir my beteken nie! Jy weet goed dis Olga Willovitch, wat so wonderlik viool speel, se konsert! Sy kom so pas uit Europa en is maar vyftien, en … en … O, ek wens ek kan sommer op die plek doodgaan! Ek wil nie meer lewe nie!”

“Aag, jy’s verspot!” sê Ruth. “Ek word nou moeg van die ou doodgaan-storie van jou! Elke keer as jy stout is en gestraf word, dan wens jy jy’s dood!”

“Dis te vreeslik!” snik Kobie. “Pappie het al máánde gelede die kaartjies gekry en julle gaan almal! Sy gaan die Bach-concerto speel! Ma is verskriklik wreed!”

“Dis nie Ma wat wreed is nie! Dis jy wat jou nooit kan gedra nie! Hoekom gaan jy op jou ouderdom nog soos ’n ou babatjie te kere? Gaan vra ma om verskoning, dalk laat sy jou tog gaan.”

“Ek sal gaan probeer,” sê Kobie, “maar ek weet dit sal nie help nie. In al die jare het sy nog nooit haar woorde teruggetrek nie!”

Vandag is ook geen uitsondering nie. Kobie se snikke en trane het nie die minste uitwerking op haar ma nie, en sy moet verslae teruggaan kamer toe.

“Nou ja, dan kan dit nie anders nie!” sê Ruth. “Pak maar jou goed in en vergeet van die hele ding. Ek sal jou alles van die konsert kom vertel en buitendien, Olga Willovitch sal weer eendag speel.”

“Nee, sy sal nie! Sy speel net in Europa. Dis die eerste maal dat sy hier by ons optree.”

“Regtig? Ek weet darem nie. Ek het gehoor sy is ’n Suid-Afrikaner wat oorsee is toe sy nog baie jonk was – vier, of so iets. Sy kon toe al goed speel en sy is Duitsland toe om daar te studeer. Haar naam is glad nie Olga Willovitch nie. Dis … nee, ek het vergeet. Hulle het haar seker dié uitheemse naam gegee omdat die meeste groot violiste Russe is. Sy sal seker weer kom.”

“Nee, sy sal beslis nie. Miskien wanneer sy baie ouer is. Ag, ek is die ongelukkigste mens in die wêreld!”

“Onsin!” spot Ruth. “Ons is die gelukkigste gesin wat ek ken! Ons is al jare lank in die wonderlikste skool, en op die koop toe seker die duurste in die hele land. Dit het ma en pa al duisende rande gekos om ons daar te hou. Buitendien bly ons in ’n pragtige huis, ons het hope klere en meer sakgeld as al die ander meisies op skool. En weet jy, Kobie, Ma is na alles tog goed vir ons, al is sy so streng. Sy gee nie om hoeveel maats ons vakansietye huis toe bring nie. Kyk net die spul wat verlede maand hier was!”

“Aag, wat help dit my? Wie soek nou witvoetjie?” Kobie het glad nie lus om na mooipraatjies te luister nie. “Loop tog en laat my staan as ek dan so sleg is!”

“Dit help nie om met jou te praat solank jy in hierdie bui is nie!” sug Ruth.

Oplaas hou Kobie op met huil. Sy snik nog af en toe, maar dis nie lank nie of die twee diep kuiltjies verskyn weer in haar wange. Terwyl sy die stapels klere netjies in haar koffer pak, kom daar ’n ondeunde uitdrukking in haar oë wat haar maats op skool maar alte goed ken. Vir hulle voorspel dit gewoonlik groot pret, maar ook straf. Sy fluister saggies, maar die woorde is heeltemal onskuldig.

“Een … twee … drie … vier … ja, dis reg! En ’n dosyn paar kouse. So! Nou die klein koffertjie vir die eerste nag tandeborsel en seep. Die ander goed kan môreoggend inkom.”

Sy maak die koffer toe en kyk ’n oomblik by die venster uit.

“Hoekom nie?” vra sy vir Tafelbaai, wat haar in die warm middaglug toelag. “Kyk maar vir oulaas na die mooi toneel, Jakoba, my kind, want as jou plan nie slaag nie, sal daar net ’n nat kol op die vloer oorbly as bewys dat jy wel op die aarde gewoon het!”

Die mense stroom die trappe van die Stadsaal op. Dis nie aldag dat hulle bevoorreg is om ’n wonderkind te sien optree nie.

Meneer en mevrou Malan en twee van hulle dogters, Lulu en Ruth, kom die trappe opgestap. Mevrou Malan, wat soos altyd pragtig aangetrek is, groet hier en daar ’n vriendin, terwyl haar man programme koop. Dan gaan hulle met die trappe op na die balkon.

Net toe kom ’n meisietjie versigtig agter ’n pilaar uit waar sy geskuil het.

“Foei! Hulle kon ook nie juis later gekom het nie,” kla sy.

Kobie sien daar vanaand bitter snaaks uit. Sy het ’n groot, lang jas aan. Haar hoed, wat al haar krulle platdruk, hang oor haar gesig. Daarby dra sy dik swart kouse en skoene wat soos ’n seun s’n lyk. Sy kyk nie links of regs nie, maar gaan reguit na een van die seuntjies wat programme verkoop. Sy gee vir hom geld.

“Vyf, asseblief.”

Sy neem die programme en hardloop daarmee straat toe om haar pa se motor tussen die lang rye motors te soek. Sy kry dit eindelik nie te ver van die saal af nie.

Gelukkig vergeet Pa soms om die motor te sluit! dink sy terwyl sy gou haar jas en hoed oprol en agter in die motor wegsteek. Ek moet in elk geval sorg dat ek vroeg genoeg uitkom om dit weer te kry, sodat ek voor hulle by die huis kan wees.

Uit die motor klim ’n seun van sowat twaalf jaar – Kobie is baie klein vir haar ouderdom – in ’n mooi blou pak klere met goue krulhare so plat soos mens dit met water en ’n borsel kan kry. Seuns hou mos nie van krulhare nie!

Kobie neem die vyf programme, sit hulle bo-op ’n klomp oues wat sy ná baie vorige konserte sorgvuldig bewaar het, en hardloop terug na die saal.

Sy gaan skuil weer agter ’n pilaar waar die ander programverkopers haar nie kan sien nie.

Advokaat en mevrou Lategan loop verby.

“Kom, ons is ’n bietjie laat,” sê sy. “Ons moenie die eerste stuk misloop nie. Wat? Ag, ja, natuurlik, ’n program.” Sy glimlag vriendelik vir die mooi seun wat haar so beskroomd ’n program aanbied.

Kobie is doodbenoud. Hoeveel maal het sy dan nie al ’n koekbord rondgeneem terwyl mevrou Lategan by haar ma tee gedrink het nie? Maar die gevaar gaan verby en die Lategans stap vinnig verder om hul plek in te neem.

Almal is nou binne en Kobie, wat al baie konserte in hierdie saal bygewoon het, weet presies wat om te doen. Die programverkopers mag agter op die balkon of in die onderste deel van die saal gaan staan en luister. Kobie hardloop vinnig daarheen. Sy sal liewer nie na die balkon gaan waar haar hele familie is nie.

Niemand dink daaraan om die seun met die stapel programme voor te keer nie. Kobie gaan staan agter teen die muur, want die saal is stampvol. Selfs die staanplekke is uitverkoop. Sy is baie opgewonde.

Die orkeslede is reeds besig om hulle instrumente te stem. Dis ’n betowerende geluid, dink Kobie, wat reeds saam met ’n groot orkes opgetree het. Sy sien al daarna uit om universiteit toe te gaan waar sy haar aandag heeltyds aan musiek sal kan wy. Haar ouers kon haar ook van jongs af laat optree het soos Olga Willovitch, maar gelukkig is hulle daarvoor te verstandig. Mevrou Malan glo ’n kind moet so lank as moontlik kind bly, en as sy kon hoor hoe dit vanaand in die jong kunstenares se kamer agter die verhoog gaan, sou sy nog meer beslis gewees het.

Olga Willovitch, op wie die gehoor nou sit en wag, staan kop onderstebo en luister na ’n deftige dame in ’n rooi rok. Die kind in haar eenvoudige wit rok lyk jonger as vyftien. Sy is gans te skraal en haar gesig is bleek. Alles aan die beroemde kind is sonder kleur. Tot die lang hare wat byna soos ’n sluier om haar wange en skouers hang, is so lig van kleur dat dit amper wit lyk.

Die dame praat vlot Afrikaans en die klein Russiese genie verstaan dit maar alte goed. Natuurlik verstaan hulle mekaar goed, want albei is tog Suid-Afrikaners.

“Skrik nou wakker, Olga! Besef jy nie dis jou laaste kans nie? As jy vanaand iets op die verhoog oorkom, is dit klaar!”

Die kind kyk haar aan met moeë oë waarin iets tragies skuil, maar antwoord nie. Sy is blykbaar te gedaan om te begryp wat haar tante sê.

Die dirigent, wat naby staan, neem nou ook aan die gesprek deel.

“Laat haar tog staan, Mevrou! Sy sal niks oorkom nie! Sy het vanoggend skitterend gespeel – soos ons natuurlik verwag het!”

“Jy begryp nie!” sê mevrou Kruis ongeduldig. “Soos sy vanaand lyk, is sy kapabel om te maak soos sy ses weke gelede in Londen gemaak het! Ek sal nooit oor die skande kom nie! Sommer opgehou met speel en soos ’n mal mens daar gestaan. Verbeel jou, haar arms was kastig lam. En tog kon sy die volgende oggend heeltemal goed speel! So iets in die Albert Hall, met al die sitplekke uitverkoop! Almal was wonderlik goed vir haar, maar so iets net voor hierdie toer! Niemand sal ooit glo hoeveel dit my gekos het om die hele ding uit die Suid-Afrikaanse koerante te hou nie!”

’n Slanke, gryserige man met ’n intelligente gesig wat tot dusver nog nie aan die gesprek deelgeneem het nie, sê: “Mevrou, ek het al ’n paar maal my mening gegee en dit stem ooreen met dié van die dokters in Engeland en Duitsland. Hierdie kind is siek. Haar senuwees is gedaan. Sy moet minstens twee jaar rus as sy ooit weer iets wil beteken – en ek bedoel nie net wat haar vioolspel betref nie. Ek bedoel lewe in die ware sin van die woord. Sy mag nie vanaand speel nie!”

“Wat verstaan ’n dokter van sulke dinge!” sê mevrou Kruis spottend en half boos. “’n Kunstenares soos Olga behoort aan die wêreld. Sy mag nie haar bewonderaars in die steek laat nie. Al wat haar te doen staan, is om te speel.”

’n Groot, effens lomp geboude man met ’n baard en lieflike blou oë staan van sy stoel af op waar hy nog heeltyd doodstil gesit het.

“Regtig, Alie, ek verstaan jou nie, al is jy my eie suster! Het jy dan geen gevoel vir ’n kind nie? Gaan jy haar dwing om te speel al val sy ook dood neer?”

Sy suster kyk hom met minagting aan.

“Wat het jy ooit vir jou kind gedoen? As ek haar nie na Nettie se dood gevat het nie, sou sy sommer by jou op die platteland grootgeword het. In plaas daarvan het ek haar laat leer. Kyk hoe beroemd is sy nou!”

“En wat help dit?” vra meneer Willemse bitter. “Ek is ’n eenvoudige man wat niks van musiek verstaan nie. Ek weet net dat ek ’n baie eensame mens is. Jy en jou man het hope geld uit die kind gemaak. O, ja, jy het ook goed vir haar gesorg en ek weet sy het baie geld in die bank. Maar wat help dit haar? Al die eer en roem kan haar nie haar gesondheid teruggee nie. Nee, dit help nie om my so aan te kyk nie! Ek is nog die kind se vader en ek het klaar besluit! Sy gaan nou ’n normale lewe lei. Sy gaan, soos ek gesê het, ophou speel. Ek en dokter Bauer het alles gereël. Ek neem haar nie huis toe nie. Dis beter vir haar om tussen ander meisies van haar ouderdom te wees as om alleen op die plaas te wees.”

“Jy is mal!” sê sy suster kortaf. “Olga Willovitch tussen meisies van haar ouderdom! Wie het nou ooit van so iets gehoor?”

“Nee, nie Olga Willovitch nie! Dis ’n verspotte naam ook! Haar naam is Carla Willemse, en daarmee gaan sy nou haar nuwe lewe in!”

“Ek sal jou in elke hof van die land beveg,” sê sy suster, blind van woede. “Nou kom jy, noudat die kind ryk is …”

“Jy kan maar al die geld vat! Ek kan self vir my dogter sorg!”

Die dirigent begin benoud word.

“Juffrou, ons moet nou optree,” sê hy vir die kind. “Is u gereed?”

“Ja … ek sal speel … ek moet speel!”

“Sê maar moet!” waarsku haar tante bitsig. “As jy my vanaand weer in die skande steek, is ek klaar met jou! Jou pa kan jou maar kry!”

Hemel, hierdie vroumens is ’n vreeslike skepsel! dink die dirigent.

Maar Olga Willovitch kyk haar tante sonder haat of liefde of skynbaar enige ander gevoel aan.

Sy neem haar viool en loop saam met die dirigent na die verhoog, waar die wagtende gehoor haar luid toejuig.

Kobie staan nog al die tyd teen die muur aangedruk. Haar oë is so groot soos pierings in haar spierwit gesig. Sy is meegevoer deur die wonderlike spel van die meisie wat net so oud soos sy is.

Maar dan kom die eerste vals noot, dan stilte, en die gehoor begin verleë hoes. Die wit figuurtjie op die verhoog lyk soos ’n gekweste voël. Haar viool is stil en die strykstok hang langs haar sy. Kobie druk haar vingers oor haar oë om niks meer te sien nie! Sy wil ook niks meer hoor nie!

Ver weg klink die dirigent se stem. Juffrou Willovitch is siek en die konsertgangers se geld sal teruggegee word. Die mense praat onderlangs en allerhande medelydende opmerkings kan gehoor word. Arme kind! Wat makeer dan? ’n Mens sal natuurlik nie jou geld gaan terugvra nie! Jy het tog meer as die helfte van die program gehoor en sy het so wonderlik gespeel! Wie het nou kon dink dat sy siek is …

Met ’n ruk skrik Kobie wakker. Almal is op pad uit haar mense seker ook!

“O, wêreld! Olga Willovitch is nie die enigste mens met sorge nie!”

Sy vlug die saal uit en storm in die straat af om gou by die motor te kom, maar sy is te laat! Daar klim die familie al in, haar ma en pa voor, en Lulu en Ruth agter. In die skaduwee twee tree weg hoor Kobie haar groot suster se helder stem.

“Wat op aarde is hier onder my voete? Waar kom dié goed vandaan? Het Ma dan ’n jas hier agter ingegooi?”

“Glad nie! Watter jas?”

En dan Ruth se stem! “Haai, dis Kobie se jas en haar ou hoed! Wat maak dit hier?”

“Dis snaaks!” sê meneer Malan ’n bietjie onrustig. Hy hoop nie sy oogappel het al weer iets onhebbeliks aangevang nie.

“Glad nie snaaks nie!” antwoord sy vrou dreigend. “Weet jy wat daardie onhebbelike meisiekind gedoen het? Sy het na die konsert gekom ten spyte van my bevel!”

“Haai, nee!” sê haar man verleë.

“Sy sal tog nooit so ’n ding doen nie!” pleit Ruth, wat nog nie geleer het om stil te bly nie.

“Wie, Kobie?” lag Lulu. “Wys my iets wat sy nié sal doen nie!”

Mevrou Malan kyk na haar twee dogters.

“Stil, Ruth! En jy, Lulu, lag jy daaroor?”

“Glad nie, Ma!” antwoord Lulu onderdanig.

“Ag, wat help dit!” sug Kobie. “Ek moet my maar oorgee om verskeur te word!”

Sy kom uit die skaduwee te voorskyn en groet haar familie beleef.

“Naand, Ma. Naand, Pappie.”

Haar ma kyk haar ’n oomblik sprakeloos aan. Sy kan nie glo dis haar dogter wat hier in seunsklere rondloop nie.

Meneer Malan is diep ongelukkig oor sy liefling se gedrag.

“Ag, nee, Kobietjie!” sê hy met ’n sluk. “Dis regtig baie stout van my kind om so iets te doen!”

Ruth lyk net verstom, maar Lulu verberg haar gesig agter haar sakdoek en snuit haar neus hard.

Mevrou Malan kry weer haar stem terug.

“Klim in, Jakoba!” sê sy sag, maar met iets in haar stem wat elke krul op Kobie se kop penorent laat staan.

“Ag, moet tog nie vir haar kwaad wees nie, Mammie!” soebat meneer Malan. Hy is baie geheg aan Kobie.

“Kwaad!” Mevrou Malan kyk hom minagtend aan. “Ry, asseblief, Niklaas!”

“Ag, moet haar tog nie hierdie keer straf nie!” soebat haar man. Maar hy besef dat Kobie hierdie keer werklik straf verdien. “Kobie, my liefie, hoekom het jy dan so iets gedoen?”

Kobie sit tussen haar twee susters. Haar gesiggie lyk meteens baie bleek en haar oë swem in trane.

“Ek … ek wou so graag die uitvoering hoor, Pappie, maar ma het my bed toe gestuur …”

“Maar hoekom tog daardie klere, hartjie?”

“Ek het nie geld gehad om in te gaan nie, Pappie. Ek het net genoeg gehad om ’n paar programme te koop om te maak asof ek een van die verkopers is, sodat ek verniet kon ingaan om te luister.”

“Maar dis mos nie mooi om seunsklere aan te trek nie. Waar het jy dit gekry?”

“Dis Stefanus se klere,” sê mevrou Malan koud. “Sy Sondagklere!”

“Het Fanie dit vir jou geleen? Ek sal hom goed straf,” sê meneer Malan. Hy kan nie onthou wanneer laas hy een van sy kinders gestraf het nie, maar die woorde klink goed.

Sy vrou kyk hom byna met afkeer aan.

“Ry, asseblief, Niklaas!” sê sy en vervolg binnensmonds: “Jy maak jou net verspot voor die kinders. Jy laat Stefaans asseblief staan. Dis nie sy skuld nie. En Kobie … ék sal weet wat om met háár te maak!”

Die toon van haar stem is ongelooflik streng en belowe niks goeds nie. Maar Kobie se goeie engel word net op hierdie oomblik wakker, al is dit op ’n manier wat ’n mens gewoonlik nie van ’n engel verwag nie. Hulle is net by die kerk toe ’n swak stemmetjie van agter praat.

“Asseblief, Pappie … hou tog stil … asseblief tog, gougou!”

“Hoekom, liefie?” Haar pa skrik.

“Ek … ek voel naar … o … gou … ag … ek hét naar geword!”

Ruth en Lulu gee ’n gil. Ja-nee, Kobie was te opgewonde oor die uitvoering. En die feit dat sy haar ma se bevel verontagsaam het, het nie juis daartoe bygedra om haar te kalmeer nie …

Kobie en die wonderkind

Подняться наверх