Читать книгу 'n Lewe voor God - Stephan Joubert - Страница 14

11 JANUARIE Lees 2 Kronieke 13:1-22

Оглавление

Oorwinning kom uit God se hand

Die Israeliete het vir Juda gevlug, want God het Israel in die mag van Juda oorgegee (16).

Oorlog tussen broers – dis die hartseer verhaal van 2 Kronieke 13. Ná die tragiese skeuring van die ryk van Israel was oorlog onvermydelik. Die nuwe koning van Juda, Abia, het Jerobeam van Israel aangedurf. Abia het 400 000 man na die oorlog gestuur, teenoor Jerobeam se 800 000 man. Maar God was by Abia. Toe hy en sy soldate omsingel is deur Jerobeam se troepe, het hulle ’n oorlogskreet aangehef en met God se krag meer as 500 000 soldate van die tien stamme van Israel laat sneuwel. Op hierdie manier is Jerobeam se mag dramaties ingekort.

Hoekom het Abia die oorwinning behaal? Ongetwyfeld omdat God daardie dag die aanvoerder van sy leër was en nie hy self nie. God is ’n groot kryger. Wanneer Hy dus die vyand in jou hande oorgee, kan jy maar weet dat ’n oorwinning in sig is. Dan maak ’n reuse-oormag voor jou en rondom jou glad nie meer saak nie. Wanneer God by jou is, is jy altyd in die meerderheid. Dan wink die oorwinning en tel die gevare rondom jou hoegenaamd nie.

Maak seker dat jy elke dag aan God se kant staan. Veg net in sy leër. Dra sy hemelse wapenrusting en staan sterk in die geveg. Die oorwinning is verseker. Jesus het die prys klaar betaal. Die uitslag van die geveg is reeds bekend. Moenie moed verloor nie. Bly op die voorpunt. Wees ’n vegter vir die saak van die Allerhoogste.

Jesus, gee aan my die regte onderskeidingsvermoë.

'n Lewe voor God

Подняться наверх