Читать книгу 'n Lewe voor God - Stephan Joubert - Страница 9
6 JANUARIE Lees Miga 7:18
ОглавлениеWie is soos God?
Wie is ’n God soos U? (18).
Dié vraag waarmee Miga sy profetiese boek afsluit, is ’n vraag waarmee elke Christen net kan saamstem en waaroor elke gelowige vandag nog kan juig en jubel. God vergeef sonde. Dit beteken dat Hy dit ook vergeet omdat Hy dit in die diepsee gooi en nie weer daaraan terugdink nie (v 19). Anders as ons wat so sukkel om die slegte dinge te vergeet wat ander mense ons aangedoen het, vergeef en vergeet God. Hy ly aan geheueverlies as dit by verkeerde dinge kom wat voor Hom bely is. Daarom straf Hy nie mense wat hulle skuld in die Naam van Christus aan sy voete kom neersit het nie. Hy hou dit nie langer teen hulle nie.
God dink nooit weer aan ons sondes terug nie. Wat ’n ongelooflike troos! Daarom jubel ons nogeens saam met Miga dat daar regtig nie nog ’n God soos ons God is nie. Die dooie gode van die nasies se priesters onthou sondes vir altyd en straf en pynig mense. Hulle onthou om swaar laste op hulle volgelinge se skouers te lê en mense gedurig in vrees voor hulle dooie afgodsbeelde te laat leef. Maar die lewende God is die God wat liefde bewys. Hy strooi hande vol genade uit (v 18-19). En Hy maak sonde tot niet deur dit te laat ophou. Hy self gryp in in die lewe van almal wat Hom dien. Hy self gooi hulle sondes in die diepsee en dink nooit weer daaraan terug nie. Juig hieroor en leef!
Here Jesus, ek jubel omdat U sonde my vergeef en vergeet.