Читать книгу Bruistablette vir die lewe - Susan Coetzer - Страница 88

Vitamien N

Оглавление

Naby

Die Here is by my, ek sal nie bang wees nie. Wat kan ’n mens aan my doen?

– Psalm 118:6

Is jy bang, veral vir mense? Is jy bang vir wat hulle aan jou kan doen? Is jy bang vir boosaards met wapens? Vir invloedryke mense in gesagsposisies? Mense van wie jy afhanklik is en wat vir jou ’n deur oop of toe kan maak? Is jy bang om standpunt in te neem vir wat reg is? Bang dat mense jou sal dreig, verwerp of dat jy selfs jou werk sal verloor?

In ons land met soveel spanning en misdaad vrees baie mense elke dag vir hulle lewe. Hierdie vrees en angs dreineer ons energie. Dit perk ons in sodat ons nie met blydskap en dankbaarheid kan leef nie. Dit is soos om met jou motor met die handrem op te ry. Dit keer dat jy optimaal kan funksioneer.

Kom ons kyk vandag hoe Dawid sy vrees oorwin het. Hy het in God se oë opgekyk, nie in die oë van sy vyande wat sy vrees sou aanhits nie. Hy het ook in God se oë gekyk vir verheffing en oorwinning, nie in mense se oë nie.

Dawid was ’n man na God se hart. Nie omdat hy perfek was nie (hy het baie foute gemaak), maar omdat hy God se teenwoordigheid met sy hele hart gesoek het. Dawid se oortuiging dat God naby aan hom was, het hom in staat gestel om prontuit in die aangesig van sy vyande te sê: Die Here is naby my, ek ken geen vrees nie; wat kan ’n mens aan my doen?

Is jy, soos Dawid, diep bewus daarvan dat God naby aan jou is, in elke situasie en elke uitdaging? Dan is daar geen rede vir vrees nie.

Bruisgebed vir vreesbevange mense: Vader, ek bid dat U hierdie woorde in my hart sal vassement: Die almagtige Here is elke oomblik naby aan my. Wat kan ’n mens aan my doen?

Bruistablette vir die lewe

Подняться наверх