Читать книгу Bruistablette vir die lewe - Susan Coetzer - Страница 87

Vitamien K

Оглавление

Klei

U is tog ons Vader, Here. Ons is die klei waaraan U ’n vorm gegee het. U hande het ons almal gemaak.

– Jesaja 64:8

As kind was dit vir my heerlik om met bolle klei te speel. Ek kon my ure lank daarmee vermaak. Dit was wonderlik om te sien wat ek alles uit ’n stuk klei kon skep as ek dit sag in my hande brei. Mannetjies, blomme, diertjies. Dit wil sê, as die klei saamgespeel het.

As die klei hard was, het ek gesukkel om enige nuwe vorm daaraan te gee. Dit het verkrummel en gebreek onder my vingers. Ek kon niks moois maak nie.

Sien jouself as ’n stuk klei in die Skepper se hande. Ervaar hoe Hy jou innerlike en jou karakter in sy hande brei en aan jou ’n mooi, nuwe vorm gee. Een wat al meer soos Hy lyk.

Dikwels groei ons nie tot geestelike volwassenheid nie en ons kry nie dieper insig in God nie omdat ons so koppig is en teen die prikkels bly skop. Ons ekkerigheid en alwetendheid veroorsaak dat ons as klei nie kan verander nie. Ons kan nie die goddelike vorm aanneem wat die Here vir ons beplan nie. Ons bly ’n harde en opstandige bol klei in sy hande.

Watter soort klei is jy in die hande van die Pottebakker? Is jy oorgegee en sag en plooibaar in sy Vaderhand? Is jy nederig en bereid dat Hy jou harde hart verander? Is jy teachable? Is jy bereid dat Hy jou vernuwe en vir jou nuwe oë en ore gee? Raak bewus daarvan dat jy die klei en Hy die pottebakker is. Nie andersom nie.

Bruisgebed vir klei-wees: Vader, ek gee my oor in u hande, die hande van die Pottebakker. Vorm my en maak my, verander my om al meer soos U te lyk. Tot eer van u Naam.

Bruistablette vir die lewe

Подняться наверх