Читать книгу Bruistablette vir die lewe - Susan Coetzer - Страница 86
Vitamien M
ОглавлениеMa
Maar die ma van die lewende kind roep toe uit: “Nee, my heer! Gee dan liewer die lewende kind vir haar, maar moenie hom doodmaak nie!”
– 1 Konings 3:26
Leef jou ma nog? Is jy dalk self ’n ma? Of dalk reeds ’n ouma?
Ek verstom my aan ma’s en het groot respek vir die wonderbaarlike verhale oor ma’s se liefde en opoffering. Dit is vir my snaaks dat daar nie meer ma’s in ons land ontvoer word nie, want ma’s is so kosbaar!
Dink maar aan al die skoene wat ’n ma elke dag aantrek: Sy is ’n dokter, ’n sielkundige, ’n onderwyseres, ’n taxibestuurder, ’n handyman, ’n bemoediger, ’n kitsbank, ’n koshuis, ’n wasmasjien, ’n trooster, ’n cheerleader, ’n Moeder Teresa – all in one.
’n Ma se hart is XXXXXL – baie groter as ’n Great Dane se hart. Groter as ’n kerkgebou. Groter as ’n sirkustent. Groter as Kilimanjaro of Mount Everest.
Jy kan ’n ma se hart nie in kilogramme of kilometers meet nie. Haar liefde het geen einde nie en ken geen perke nie. Sy is ’n voorbidder en ’n slaansak vir haar kinders deur al die stadiums van hulle lewe heen – van die nat, stink doeke tot by testosteroon en ander hormone wat handuit ruk.
Die woordeboek sê ’n mens spel ma só: m-a. Die regte spelling, dink ek, is egter: l-i-e-f-d-e. Onvoorwaardelike agape-liefde, omgeeliefde.
Bring eer aan jou ma terwyl sy nog leef. Koester jou herinneringe aan haar as sy nie meer leef nie. Haar liefde vir jou is waarskynlik die grootse voorbeeld van hoe Jesus se ewige en onvoorwaardelike omgeeliefde vir jou lyk.
Bruisgebed vir ma’s: Here Jesus, dankie vir die voorreg om ’n ma te kan wees. Laat my liefde vir elke kind en kleinkind ’n navolgenswaardige voorbeeld wees van hoe u onvoorwaardelike omgeeliefde vir ons lyk. Tot eer van u Naam.