Читать книгу Bruistablette vir die lewe - Susan Coetzer - Страница 69

Vitamien V

Оглавление

Voorbeeld

Omdat julle kinders van God is en Hy julle liefhet, moet julle sy voorbeeld volg.

– Efesiërs 5:1

Is jy bewus van die voorbeeld van genadige liefde wat Jesus gestel het toe Hy hier op die aarde was? Hoe lyk hierdie voorbeeld vir jou wanneer jy jou oë toemaak en ’n oomblik daaroor dink?

Wat is vir jou die belangrikste eienskappe van wat Jesus die mense geleer het? Wat sou jy sê as jy Jesus se gesindheid en hart kortliks moes opsom? Wat glo jy is die voorbeeld wat jý as ’n geliefde kind van die Here teenoor ander mense moet uitleef? En dink jy jy kry dit dikwels reg? Of dalk nie so dikwels nie?

Dink jy ooit hieroor na, of nie eintlik nie? Dalk is dit tyd dat ons weer stil raak en by die Meester self gaan aanklop. Daar is soveel voorbeelde van sy genadige en liefdevolle hantering van ongewone mense in die Nuwe Testament. Voorbeelde van sy opregte omgee teenoor die wêreld se vals beeld van omgee.

Natuurlik is dit makliker om Jesus se voorbeeld op papier uit te leef as in die praktyk. Dis soveel makliker om daaroor te filosofeer of dit as ’n goeie idee in jou kop te romantiseer as om dit werklik hands on in ’n ingewikkelde situasie uit te leef.

Ek self sukkel hiermee. Sekere mense is vir my ’n groter uitdaging om met genade en goedgesindheid te hanteer as ander. My kniereaksie in sulke high-maintenance gevalle is om ’n vuurvreter eerder as ’n vuurblusser te wees.

Daarom bid ek elke dag dat die Here sy Gees van liefde en genade in oorvloed in my hart sal uitstort. Dan sal ek ’n navolgenswaardige voorbeeld vir ander kan wees.

Bruisgebed vir voorbeeldigheid: Here Jesus, maak my oë en ore oop vir die voorbeeld van sagmoedigheid en liefde wat U op aarde kom stel het. Help my om u voorbeeld van ware genade en omgeeliefde elke dag uit te leef. Tot eer van u Naam.

Bruistablette vir die lewe

Подняться наверх