Читать книгу Bruistablette vir die lewe - Susan Coetzer - Страница 78
Vitamien V
ОглавлениеVerkwik
Hy verkwik my siel.
– Psalm 23:3
Wat verkwik jou siel?
Vir my is dit beslis dinge soos ’n mooi uitsig op my somertuin vol blomme. My swembad wat soos eilandwater lyk, en nie soos ertjiesop nie, verkwik ook my siel. So ook ’n paar jeans wat nog toezip ná die winter se bakke ryk poeding. En natuurlik ’n manuskrip wat uiteindelik ná harde werk voltooi word.
Eintlik het ek ’n lang lys dinge wat my siel laat dans: ’n Kuier saam met familie of goeie vriende oor ’n bottel yskoue sjampanje en lekker kos. Mooi musiek wanneer ek deur die land reis. ’n Duik deur die branders. Die geluid van die see wanneer ek ’n skulp teen my oor druk. ’n Opregte smile. My worshond se liefdevolle oë.
Die Here hou daarvan om sy kinders gelukkig te sien – omdat Hy vir ons lief is en ons belange op die hart dra. Tog sit baie van ons met hanggesigte en onvergenoegdheid in ons harte terwyl daar soveel gratis geskenke is wat ons kan verkwik. Staan op en kyk ’n slag met meer verwondering om jou rond.
Gaan stap ’n slag deur God se gratis kunsgalery. Kyk na die blomme, die bome, die kleure van die lug. Kyk hoe die son skadu- en ligpatrone maak. Verkwik jou oë. Luister na die gratis simfonie van die wind, die reën, die voëls se gekwetter. Verkwik jou ore. Eet die vrugte en groente wat uit sy apteek kom en nie uit ’n fabriek nie. Verkwik jou lyf.
Gaan besoek in die week alleen ’n kerkie iewers. Gaan sit daar en raak bewus van sy groot liefde vir jou. Verkwik jou siel in sy teenwoordigheid.
Bruisgebed vir verkwikking: Vader, dankie vir al die gratis geskenke wat U vir ons gegee het en waarin ek my kan verlustig. Dankie dat dit elke dag my siel verkwik.