Читать книгу Bruistablette vir die lewe - Susan Coetzer - Страница 83

Vitamien G

Оглавление

Goedheid

Net goedheid en guns sal my volg al die dae van my lewe …

– Psalm 23:6

Wat verstaan jy onder God se goedheid en guns? Is dit ’n nuwe motor? Dalk ’n oorsese vakansie? Is dit daardie verhoging in jou salaris? ’n Beter posisie by die werk? Of is dit meer innerlik? Vriende wat jou ondersteun? Mense wat jou koester? Mense wat jou liefhet?

Of dink jy goedheid en guns beteken jy sal nooit deur korrupsie, kapings en rooftogte, siektes, armoede of pyn geraak of beproef word nie? En al wat jy in ruil daarvoor moet doen, is om jou kant skoon te hou, opreg voor die Here te leef en ander mense goed en reg te behandel. Met ander woorde, as jy ’n soet en voorbeeldige kind van die Here is, sal die somme in jou guns klop.

Ongelukkig nie altyd nie.

Ek weet van opregte gelowiges wat deur rampe getref is. Dink maar aan Job. Slegte dinge gebeur ook met goeie mense. En goeie dinge gebeur met goddelose mense.

Ons verstaan nie altyd die Here se paaie nie – ook nie die paaie van mense vir wie ons met goedheid en guns oorlaai, maar wat ons nie met dieselfde goeie hand kaarte beloon nie.

Ek verkies om te glo soos ’n kind – om nie te veel vrae te vra nie. Ek bid vir sy beskerming en guns – en kies om goed te doen, om sy Naam ontwil. Ek glo sy goedheid en guns het ewigheidswaarde en strek verder en wyer as ons tydelike idee daarvan hier op aarde. Ek glo die Here se goeie en gunstige teenwoordigheid is altyd by my. Dit is ’n bruistablet vir my soms onstuimige gemoed.

Bruisgebed vir die gemoed: Almagtige Vader, ek glo u goedheid en guns is altyd in my en rondom my, in alle omstandighede. Dit strek tot in alle ewigheid. Help my om vas te hou hieraan, al verstaan ek dit nie altyd nie.

Bruistablette vir die lewe

Подняться наверх