Читать книгу Bruistablette vir die lewe - Susan Coetzer - Страница 65
Vitamien B
ОглавлениеBedienings
En daar is ’n hele verskeidenheid bedienings, maar ons dien dieselfde Here.
– 1 Korintiërs 12:5
Ek was nog nooit lief daarvoor om in komitees te dien nie. Ek kon myself ook nog nooit in ’n bediening sien nie. Ek was skrikkerig vir die slaggate en magstryd.
Die Here het egter ander planne vir my gehad. Hy self het my in ’n bediening geplaas waarvan ek jare lank nie eens bewus was nie – totdat mense my aandag onlangs daarop gevestig het. Hulle het vir my gesê ek het ’n fantastiese bediening.
As ek my bediening sou moes beskryf, sou ek sê ek is ’n rondreisende apostel. Een wat die grond ’n bietjie loswoel waar sy opdaag, wat die Woord in ontvanklike harte saai en dan weer vertrek na die volgende plek waarheen ek genooi word. Ek glo iemand anders word geroep om die saadjies wat ek saai, nat te lei.
Ek gebruik ’n informele en ligte aanslag in my bediening, eie aan myself en my kreatiewe persoonlikheid. Ek probeer nie iemand naboots of iemand wees wat ek nie is nie. Ek besef ek is ’n baie onkonvensionele kandidaat – een met baie deernis en begrip, maar ook iemand met baie flaters agter haar naam.
Tog het die Here my, net soos vir Moses, met my tekortkomings gekies om vroue landwyd te bemoedig. Ek glo Hy wil jou ook, net soos jy is, nooi om deel te word van ’n bediening.
Die gospel beteken vir my Jesus se liefde in beweging. Jy hoef nie noodwendig Indië of Japan toe te vlieg om deel van ’n bediening te wees nie. Jy kan dalk sommer in jou eie kombuis begin. Net soos jy is en net daar waar jy geplant is.
Bruisgebed vir bediening: Vader, beweeg my hart om te blom en te bedien, net daar waar ek gepant is. Tot eer van u Naam.